Die christen wat vreemdeling wil wees, het waarde vir die wereld

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2018-01-21
Teks: 
I Petrus 1
Preek Inhoud: 

26-05-91

1 PETRUS 1:17-19

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 20 : 1, 2
Wetslesing
Sing: Ps. 20 : 5, 6
Skriflesing: 1 Petrus 1:1-16
Gebed
Kollekte
Sing: Ps. 87 : 1, 4, 5
Tekslesing : 1 Petrus 1:17-19 + art. 27 NGB
Preek
Sing: Ps.119 : 17, 19
Dankgebed
Sing: SB. 36 : 2, 4, 5
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

in die weke wat voorlê wil ek met u dink oor een spesiale woord uit die Bybel: dis die woord "vreemdelingskap". Jy vind die woord orals in die Bybel. Die buitelanders wat in die beloofde land by die volk Israël gewoon het, is met 'n spesiale woord in Israël se wetboek "vreemdelinge en bywoners" genoem. Dit lê die uitsonderingsposisie waarin sulke mense gebly het, vir altyd vas. Maar ook van God se eie mense word al in die Ou Testament gesê: hulle was vreemdelinge in Egipte. Of nog verder terug: Abraham het soos 'n vreemdeling in die land van die belofte geleef. Vir 'n aantal eeue het die volk van God 'n eie land gekry, die land van die belofte. Tot die ballingskap kom waaruit tien stamme nie teruggekom het nie: die verstrooiing. Net twee stamme het teruggekeer.

Totdat Jesus kom om die sonde van die wêreld te dra. Nie net die sonde van sy volk nie, ook van die wêreld. Kyk, sê Johannes die Doper, "die lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem" (Joh. 1:29). Die lam wat ook in ons teks genoem word (vs. 19). In die Nuwe Testament behou die woord "vreemdeling" sy betekenis. Die koms van die Gees het mos die betekenis: die kerk van die Here Jesus word in die hele wêreld gebou. Die een beloofde land het sy betekenis verloor. Die hele wêreld is die blyplek van God se mense. God se mense: dis die een volk waarvan die NGB sê dat "dit oor die hele wêreld versprei én verstrooi is". Versprei: dis die ruimtelike, wye aspek van God se werk. Verstrooi: is die bewaring van God in die duiwelse teenstand teen die kerk van Jesus Christus. Ons begin vanmôre by die apostel Petrus wat God se Woord so spreek: "wandel dan in vrese gedurende die tyd van julle vreemdelingskap". Die betekenis van die woorde is:

DIE CHRISTEN WAT VREEMDELING WIL WEES, HET WAARDE VIR DIE WERELD

Want hy of sy is daar

  1. vreemd sonder vaderland,
  2. vry deur Vader se seun,
  3. bevoorreg aan Vader se hand.

1. VREEMD SONDER VADERLAND

Om Petrus se aansporing in ons teks te kan verstaan, moet ons na die adres wat op die kouvert van hierdie brief gestaan het, kyk. Lees maar saam in vers 1. Eerste staan die afsender: "Petrus, 'n apostel van Jesus Christus". Dan kom die adressering: "aan die vreemdelinge van die verstrooiing in Pontus, Galasië, Kappadocië, Asië en Bithinië". As u nou met my agter in u Bybel kyk, vind u daar die landkaart (die laaste een) van die wêreld van die Nuwe Testament. Bô die land Israël sien u in groot letters die provinsies van Klein-Asië geskryf. Die vyf provinsies wat Petrus hier as die adres van sy brief noem. Dis dus nie 'n brief vir een spesifieke gemeente nie, maar 'n rondskrywe aan alle kerke daar. Daar is baie kerke in klein-Asië: almal moet in die een brief bereik word. Tog nóem die apostel nie die kerke as gemeentes nie. Hy noem die lidmate van Christus se een kerk met 'n spesiale omskrywing: "die vreemdelinge van die verstrooiing". Hoekom noem hy hulle so?

Ons ontmoet 'n soortgelyke adressering in Jakobus se brief. Jakobus skryf aan "die twaalf stamme wat in die verstrooiing is" (1:1). Daardie apostel rig homself tot alle Jode wat christen geword het. Na Pinkster het die kerk wonderbaarlik gegroei. Hulle het in eensgesindheid die Here gedien. Dan kom die dag waarop die vervolging losbreek. Ons lees in Handelinge 8: "en almal is verstrooi oor die streke van Judea en Samaria" (vs. 1). "En die wat verstrooi was, het die land deurgegaan en die woord van die evangelie verkondig" (vs. 4). Die een gemeente van Jerusalem is soos 'n saaddoos wat oopbarst: die saad word deur die wind van die Gees oor die land uitgestrooi word! Die brief van Jakobus is dus vir Jode geskryf: Jode wat christene is. Dis die volk wat bekend is met die begrip "verstrooiing". Dis mos die woord vir die ballingskap in sy gevolge: die ou straf dat die volk van God nie in hul vaderland mog bly nie en oor die breedte van die wêreld verstrooi is. Met Pinkster het 'n nuwe ballingskap oor hulle gekom. Maar dit is nie 'n straf nie, dis tot seën vir die stede, ja, vir die lande waar die christene kom.

Maar Petrus skryf in later tyd, lang na Pinkster. Die heilig Evangelie het al verder oor die wêreld gekom. Baie heidene het, net soos eerder die Jode, tot bekering gekom en christene geword. Hulle het nooit 'n ballingskap geken nie! Die woord verstrooiing is nie 'n skrikwekkende woord nie. Hulle het christene geword, en mog teselfdertyd in hul eie land bly woon! Hoekom sou hulle nou plotseling vreemdelinge wees? Ja, die evangelie wat hul verkondig is, het vir hulle gesê: volg die Here Jesus! Keer jou af van die ou pad van jou lewe, die pad wat jou net in sonde laat uitkom het. Julle word anderste, want julle behoord nou by God! Die heilig evangelie het, net soos vir ons, vir hulle gesê: julle moet nuwe mense word en ook ander mense uit die duisternis wegroep. Die lig het mos in julle lewe gekom! Dit almal maak jou anderste: dit maak dat jy 'n vreemdeling lyk vir die mense wat aan jou soos jy was, gewoond was. Jy het 'n ander vaderland van God gekry. Dit was dus inhoud van die verkondiging om vir hulle te sê: noudat jy die genade van die Here gevind het, sal jy vreemdelinge in eie land word!

Nee, die christene van heidense afkoms woon vir hul gevoel nie in die verstrooiing nie. Maar die broers en susters van Joodse afkoms kan hulle verduidelik: ons word "vreemdelinge van die verstrooiing" genoem, omdat hierdie wêreld nie eintlik 'n tuiste is nie. Nou skryf Petrus vir hulle: "wandel in vrees gedurende die tyd van jou vreemdelingskap" (1:17). Die tyd van jou vreemdeling wees: die tyd van lewe wat jy opnuut uit God se oneindige genade gekry het! Noudat u uit die geloof lewe mag, moet u ook aanvaar dat God u vreemdelinge noem. Sodat u besef dat u bande aan die wêreld nie meer lewende bande is nie. Die band van die lewe lê uitsluitend in Christus wat soos 'n vreemdeling beskou en uitgewerp is. U is geroep om Hom gedurende u hele lewe bewus na te volg.

Dit sou vir niemand makliker om te verstaan moes wees as vir 'n gemeente wat uit emigrante ontstaan het. Hulle weet uit ervaring wat dit is om jou ou land te verlaat en in 'n nuwe te gaan woon. Sommiges van u weet hoe dit voel om 'n vreemdeling te wees. Maar die sosiale verandering probeer ons tog te oorkom? Die VGK wil mos 'n gereformeerde kerk vir Afrikaanssprekendes wees! Nee, met die sosiale gesig van die kerk het u nog glad nie 'n christelike en 'n kerklike opstelling bereik nie. Dié opstelling as kerk en as christene is baie fundamenteel. Dit gaan oor God se vraag vir u: is julle bereid om nie na ekonomiese voorspoed te kyk nie, nie na sosiale aanpassing nie, maar eerste na die Evangelie wat jy mag glo en wat jy moet verkondig! Die Evangelie leer ons en almal dat ons nie eerste 'n vaderland hier soek nie. Die ekonomiese waarde van die vreemdeling (sy inkomste) en die sosiale (Afrikaans word) mag alleen diensbaar aan die eerste wees: die Evangelie van Christus te verkondig wat mense tot die lig roep. Die tyd van jou vreemdelingskap is die tyd dat jy christen mag wees. Dis 'n positiewe posisie!

2. VRY DEUR VADER SE SEUN

Die waarde van 'n christen wat homself of haarself vreemdeling weet, lê nie in homself nie. Dit lê in Christus! Dis nodig om oor ons waarde te praat. Want as jy jouself 'n vreemdeling moet noem, kan jy die gevoel kry dat daar niks oorbly nie. Losgesny van die land waarin jy probeer 'n tuiste op te bou, kan jy jouself heeltemal onseker gaan voel. Mense kom agter dat jy van Hollandse afkoms is. Kan jy 'n waardevolle mens vir jou naaste word?

Ja, dit kan. Want Petrus gee een rede, een vaste grond onder jou hele bestaan as vreemdeling. Hy doen dit met 'n uitvoerige sin wat net oor Christus gaan (vs. 18-19). Lewe gelowig: "julle weet mos dat julle nie deur vergankelike dinge, soos silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van 'n lam wat sonder gebrek en vlekkeloos is". Die wete is joune: dit word as 'n eienskap beskryf! As die Gees jou hart bewoon, weet jy mos tot in jou diepste wese hoe hoog die prys vir jou vrykoop was! Dink aan alles wat jy oor Christus mag weet. Hy is die lam, die volmaakte een: soos die ou wet van Moses net die mees volmaakte offerdiere vra. Hy is "die Lam wat die sonde van die wêreld wegneem", soos Johannes die Doper getuig het. Dit het Johannes gesê, toe hy sy eie dissipels geraai het om voortaan Jesus te volg. Volg liewerste Hom wat die sondes wegvat, wat die prys betaal om jou vir God die Vader los te koop. Dit was God se groot plan: die verlossing deur sy eie Seun. Lees maar in vers 20: "wat vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld, maar in hierdie laaste tye geopenbaar is om julle ontwil".

Christene is mense wat losgekoop is. Dit maak dat julle nou vreemdelinge geword het. Aanvaar jy dit? Dalk dink jy: maar moet ons dan heeltemal die wêreld vermy? Bly daar niks om te geniet? Kom ons kyk verder: waarvan is verdwaalde mense losgekoop? "Uit die ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is", sê vs. 18. Dié "lewenswandel" is dieselfde woord van vs. 17: "wandel, dit is lewe in ontsag vir God". Maar die ou lewe is "ydel": dit is sinneloos, dit het nie 'n doel nie, bring nie wins nie. Want die lewensstyl is "deur die vader oorgelewer": dit het heidenkinders by die huis geleer en op die dag dat hulle uit die huis uitgetrek het, saamgeneem. Daar is ook in hierdie land baie mense wat by die huis 'n sinnelose lewensstyl leer. 'n Lewe wat net hartseer vir hulself en toorn van God se kant sal bring. Dis die wêreld van vandag. Christene moenie in 'n "christelike nasie" glo nie, want daar bestaan nie so 'n ding nie. Vroeër nie en nou ook nie. Sê dat die nasie christelik is, gee jou 'n maklike gevoel. Maar christene mag 'n lig in die nasie wees. Dis die hoogste tyd dat hulle dit is. Dat ons so saam kerk is.

'n Christen mag weet: hy is vry, in watter land ook al, deur Vader se Seun. God het baie vir jou lewe oorgehad. Vir hierdie lewe: dit kry alreeds waarde. Nee, ons hoef nie uit die wêreld terug te trek nie. Dis die dwaling van die ou doperse: hulle verval in die teendeel van mense wat ons land 'n christelike nasie noem. Dopers is: sê dat die wêreld so sleg is dat jy liewerste maar nie moet omgee nie. Justisie, polisie, politiek, sê sulke mense, is nie vir christene nie. Maar daarby vergeet hulle om orals waar die Here ons lewe lei, 'n lig mag wees. Dat ons orals waarde vir die wêreld mag hê. Ja, bly bewus van jou uitsonderingsposisie. Die woorde "vreemdeling" of "bywoner" sê dat jy wel in die land woon, soos alle burgers, maar jy het nie regte nie. Nie die reg om hier te lewe soos jy wil nie. Jy bly 'n bywoner, 'n vreemdeling, solank as wat jy in die land lewe. Nie regte nie, maar jy het wel voorregte! Dis die derde:

3. BEVOORREG AAN VADER SE HAND

Baie mooi begin vers 17: "En as julle Hom as Vader aanroep wat sonder aanneming van die persoon oordeel volgens elkeen sy werk, wandel dan is vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap". Julle bid tot God en noem Hom vertrouelik "vader". "Ons Vader wat in die hemel is ...". Maar besef jy Wie jy sommer so Vader noem? Dis Hy wat ook die Regter is. Ja, 'n christen mag God sy Vader noem: om Christus ontwil. Maar dit beteken dan: dus moet jy jou lewe in vreemdelingskap aanvaar! Jy mag nie meer 'n vaderland vooropstel nie: dat wil sê dat jy jouself nie mag aanpas aan die maatskaplike sondes nie. Petrus sê daarby: Hy is die God wat "sonder aansien van die persoon", dis onpartydig oordeel. As christen mag jy jou vry weet deur die Seun, die middelaar Jesus Christus. Jy ken die waarde van die losprys wat Hy vir jou lewe betaal het. Nee, dan gaan die Here nie afsonderlik jou werk beoordeel nie. Maar dit kan wees dat jou lewe uitwys dat jy eintlik nie 'n christen wil wees nie. Dat jy tevrede is, maar nie moeite vir die Here wil doen nie. Die lewe, die werk sal 'n spieël wees van die geloof! Dis mos wat die Gees wil bewerk. Tog staan daar die woorde dat God "onpartydig oordeel volgens elkeen se werk". Jy het in jou persoon nie regte wat jou 'n uitsonderingsposisie gee nie. Jy kan nie na jou lidmaatskap van die VGK-Pretoria verwys om te sê: HERE, maar die inskrywing was tog reg? Die HERE beoordeel of jou lewe en jou werk 'n spieël van die geloof is. Daarom sê Petrus in hoofstuk 2:11: "Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen jou siel". Dis 'n stryd in jouself: om die vrugte van die Gees te sien groei! Kyk vir groei in jou lewe! Kyk vir die genade dat jy mag groei. Want God beoordeel jou lewe. Dit doen Hy onpartydig: Hy het jou groot voorregte gegee om te gebruik, nie regte om jou op te beroep nie. Ja, net die reg om om Christus ontwil in genade aangeneem te word. Dis nie werkheiligheid nie, dis lewe volgens die vreemdelingskap waarvoor jy gekies het, toe jy "Vader" gaan sê het. Dis die voorreg om aan Vader se hand deur hierdie wêreld te gaan. Dus: as jy Hom jou Vader wil noem wat jou lewe in sy hand geneem het, "wandel in vrees tydens die jare van vreemdeling wees".

Voorafgaand aan ons teksverse staan die woorde: "Wees heilig omdat Ek heilig is" (vs. 16). As die Here die woord "heilig" vir Homself gebruik is dit duidelik: Hy is heilig, Hy is suiwer, so suiwer en sterk soos die son. Hy stoot alle onsuiwerheid, enige vorm van vuilheid af. As God die woord vir my gebruik, beteken dit: ek is apart gesit, afgesonder van die wêreld van die sonde. Want ek is aan sy kant gesit. Sy heilige hand het myne vasgevat. Hierdie woorde "heilig" en "Vader" sit jou aan God se kant en bepaal jou houding in hierdie lewe: as vreemdelinge. "As julle Hom as Vader aanroep wat onpartydig oordeel, wandel in vrees die tyd van jou vreemdelingskap".

Nee, vrees is nie angs nie. Ook die noem van God se beoordeling van jou werk wil jou nie angstig maak nie. Vrees is eerbied, ontsag vir God wat hoog en heilig is en teselfdertyd Homself nie skaam om jou hand in syne te vat en as te hou. Dis die houding teenoor 'n Vader wat gesag oor jou het, vir jou sorg en uit vrye wil lief vir jou is. Ontsag vir Hom: dit sal alleen kan maak dat jy die hand nie agteloos los nie. Jy benodig die houvas vir die hele tyd dat jy soos vreemdeling in hierdie wêreld 'n pad van suiwerheid en uitstraling soek. As vreemdeling het jy wel 'n Vader.

So is 'n christen wat só vreemdeling wil wees, van waarde vir die wêreld. Nee, jy mag nie agteroor gaan sit, want jy het hier nie 'n vaderland nie. Maar u is vrygekoop in Christus om 'n waardevolle mens te word. Dis u voorreg om die hand van die Vader self te voel en vir u naaste te wys.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)