Die Here neem sy volk saam op pad na die beloofde erfenis

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2018-01-20
Teks: 
I Petrus 1
Preek Inhoud: 

Ps. 148: 1, 2
Ps. 148: 5
Ps. 33: 1, 2, 3
Ps. 73: 1, 1O
Ps. 73: 11, 12
Lees: 1 Petr. 1: 1 - 12
Teks: 1 Petr. 1: 13 - 16

Broeders en susters, gemeente van onse Here Jesus Christus,

As gelowiges is u 'n opvallende verskynsel in hierdie wêreld. Daarmee bedoel ek nie dat u opval as Nederlanders in 'n Afrikaanse samelewing nie. Dit mag natuurlik wel so wees, maar eintlik behoort u opgemerk te word as 'n gelowige, as 'n kind van die Here. U is anders as ander mense.

U belangstelling is anders.

U besteding van die Sondag is anders. U gaan nie na die kerk wat die naaste aan u huis is nie. U stuur u kinders na 'n ander skool. En probeer self nog meer voorbeelde te bedink waarin u as gelowige anders optree as 'n ander.

U val op.

En laat ons eerlik wees: Eintlik hou ons nie daarvan nie. Dis nie prettig om in allerhande dinge apart te staan nie. Veral as 'n mens jong is, is dit moeilik. Dis mos baie lekkerder om met al jou leeftydgenote dieselfde dinge te doen, na dieselfde musiek te luister, na dieselfde films te kyk, om dieselfde dinge te praat.

Nee, alleen staan is nie lekker nie.

Nou is ons nie die eerstes, broeders en susters, seuns en dogters, wat dit moeilik vind nie. Die apostel Petrus skryf 'n brief aan die vreemdelinge in die verstrooiing. Hulle is vreemdelinge - dit moet ons figuurlik verstaan. In die sin van: hulle hoort nie tuis in hierdie wêreld nie. As gelowiges in Jesus Christus is hulle anders as hul omgewing.

Daarby kom nog 'n ekstra moeilikheid. Hulle bly in die verstrooiing. Hulle woon nie as 'n groep by mekaar nie, maar hulle is verstrooi. Hier een, daar twee en op 'n ander plek 'n groepie van 3 mense wat die Here wil dien. In so 'n situasie ervaar jy die moeite van die vreemdelingskap ekstra swaar. Wel, aan sodanige mense stuur Petrus 'n brief: aan vreemdelinge in die verstrooiing.

Hulle gaan 'n moeilike weg, hulle voel hulself eensaam met hul geloof. In sy brief laat Petrus sien dat die weg van die vreemdelingskap nie 'n weg van armoede is nie, maar inteendeel, 'n weg van rykdom. Want dit is die weg wat die Here met jou gaan.

Hy gaan met jou op pad na die erfenis wat vir jou wag.

En as jy maar voortdurend let op daardie erfenis, ontvang jy ook krag om die pad enduit te loop.

Ek verkondig u vanmôre:

DIE HERE NEEM SY VOLK SAAM OP PAD NA DIE BELOOFDE ERFENIS.

Op daardie pad vra Hy van ons

  1. konsentrasie op die hoop
  2. gehoorsaamheid van die geloof
  3. volmaking van die liefde.

Die meeste van die briewe van die Nuwe Testament is geskryf aan 'n bepaalde gemeente of 'n bepaalde persoon.

Daarop is slegs 'n paar uitsonderings. Onder andere hierdie Petrus brief. Daar is maar net 'n globale aanduiding in hierdie brief. Pontus, Galasië, Kappadosië ens. Dit is almal provinsies in Klein-Asië, die hededaagse Turkye. Dus oor die eerste lesers van hierdie brief kan ek vir u nie baie vertel nie.

Net dit: Dit is mense wat hul eensaam gevoel het. Deur hul bekering het hul swaargekry. Hulle staan alleen in hul omgewing. Dalk het hul al allerhande moeilikheid ondervind.

Toe hulle vir Christus gekies het, het hulle gedink: die lewe lyk mooi vorentoe. Met blydskap het hulle die evangelie aanvaar.

Maar nou ervaar hulle ander dinge. Hulle het ou vriende verloor. Hulle is geignoreer. Soms selfs vervolg.

Groot beloftes het hulle ontvang, maar in hul lewe niks as narigheid nie. Hulle weet nie hoe om verder te gaan nie, daardie vreemdelinge in die verstrooiing. Wel, in hierdie situasie stuur Petrus vir hulle 'n brief. 'n Troosbrief. En nou moet u oplet, hoe dat Petrus hulle vertroos.

Hy kon gesê het: Ja mense, ek weet dis nou almal maar moeite en verdriet, dit hoort daar maar by, maar straks... later, ... as jy in die hemel kom dan is jy ryk.

Nee anders, hy begin presies aan die ander kant. Seker, julle is vreemdelinge, maar dis nie jul armoede nie, maar dit is jul rykdom. Lees maar vers l: Petrus, 'n apostel van Jesus Christus, aan die vreemdelinge in die verstrooiing in Pontus, Galasië ens. Uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader in die heiligmaking van die Gees.

Dit klink amper soos 'n gelukwensing.

Julle is uitverkore, gemeente. Daarmee is julle ryk! Ongelooflik ryk! God het u van te vore geken. Hy het u uitgeken. Uitverkies om geheilig te word deur die Heilige Gees.

Dus die situasie is nie: Nou alles armoede, wat 'n mens se meely opwek nie, en as troos... straks kom rykdom.

Nee, nou reeds is u ryk. Selfs in u vreemdeling-wees op hierdie wêreld. God het u uitgehaal en apart gestel. Wat 'n genade! Christus het Sy bloed vir u gestort! Wat 'n rykdom!

En wanneer ons die rykdom wat Petrus sy lesers voorhou, insien dan kan ons hom juigend naspreek.

Geseënd is die God en Vader van ons Here Jesus Christus, want hy het ons die nuwe lewe geskenk. Vir ons het daar 'n nuwe wêreld oopgegaan, toe ons gehoor het van Christus se opstanding. Ons is nie meer opgesluit in 'daaglikse sirkel van opstaan, werk en dan gaan slaap en weer het ons 'n dag ouer geword nie. Weer een dag nader aan ons dood'. Nee, daar het vir ons 'n nuwe wêreld oopgegaan, met ryk vergesigte. Daar is lewe. Nuwe lewe!

Vandag se lewe is oop na die toekoms. Die wedergeboorte deur die geloof gee ons deel aan die nuwe lewe. En dit begin nou reeds. En daarmee is u as gemeente anders as die wêreld. Laat ons daarom almal maar bly wees, broeders en susters, seuns en dogters, of met Petrus se woorde: Verheug julle jul daarin, al word julle nou 'n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge.

Wees maar bly dat julle anders is.

Verheug julle daarin dat julle vreemdelinge mag wees in hierdie wêreld. Immers wie nie 'n vreemdeling in hierdie wêreld is nie, maar in hierdie wêreld opgaan, sal eendag met die wêreld vergaan.

Maar wie die pad van die vreemdelingskap loop, loop die pad wat die Here met hom gaan.

Hy het vir u uitverkies om u die erfenis te gee. En daarom is u nou reeds ryk. U is ryk, nog ryker selfs as die profete van die Ou Testament. Vir hulle was dit 'n naspeuring, 'n raai na, 'n navorsing oor die dinge wat kom. Hulle kon van Christus profeteer, maar het die werklikheid nie gesien nie. Maar julle is baie ryker. Julle het vir Christus Self leer ken. Die lewende. Hy wat opgestaan het uit die dood. En so kom ons by ons teks: Daarom, omgord die lendene van julle verstand. Nou dat julle dit alles gehoor het, en julle rykdom gesien het, nou moet julle die lendene van julle verstand omgord. Nou moet daar dinge gebeur in julle lewe.

"Omgord die lendene van julle verstand". Dit is 'n merkwaardige uitdrukking in ons teks. As ons dit wil verstaan, moet ons dink aan die kleding van 'n Oosterling. 'n Israeliet het gewoonlik 'n nogal lang hemp gedra, met daaroor 'n lang mantel, wat tot op sy voete geval het. Nou is dit seker moontlik om met so 'n mantel te loop, maar dan moet jy dit baie versigtig doen, anders struikel jy oor jou eie kleding.

Maar wanneer 'n mens 'n slag wil hardloop, of as jy 'n reis gaan maak, meestal 'n voetreis, dan moet jy die mantel optrek. Verkieslik tot bo jou knieë, sodat jy nie deur jou kleding gehinder word nie.

Daarvoor het hulle 'n gordel gebruik, 'n soort riem. Jy trek die mantel op en trek die gordel bo die heup vas. Die hele handeling is aangedui met die uitdrukking: jou lendene omgord. Op die ou end het die uitdrukking die betekenis ontvang: jou gereedmaak vir 'n reis. Omgord jou lendene - maak jou reisklaar!

So het die volk Israel deur die woestyn getrek. Met die lendene omgord. Want hulle is op pad. Hulle gaan nie tuis in die woestyn nie. Nee hulle is daar vreemdelinge en is op pad na die beloofde land. Wel dit alles klink saam as Petrus vir ons sê: Daarom, omgord die lendene van julle verstand. Julle moet op reis wees. Jul lewe moet vaart kry. Sorg dat julle nie struikel nie, maar bly die reisdoel in gedagte hou. Omgord die lendene van julle verstand, beteken dan in die verband van ons hoofstuk: laat jou nie langer aflei deur bygedagtes nie. Wie gedurigdeur loop dink: Ag, ek kry tog maar swaar as 'n gelowige. Die wêreld geniet van allerhande dinge wat vir my ook lekker lyk, maar ek mag nie vanweë my geloof nie. As 'n ander strand toe gaan, moet ek kerk toe. Wat moet ek baie mis!

Kyk, by sodanige gedagtes loop jy vas.

Dan sien jy nie meer jou rykdom nie, maar jy bly vassit in jou gevoel van armoede. En dit is wat Petrus nou juis ontken. Dink vanuit jou rykdom! Konsentreer op dit waar dit omgaan. Sien op Christus!

Jy is klaar verlos uit die dienshuis van die sonde. Jy is op pad na die erfenis. Moenie stilstaan nie, maar vorentoe kyk en beweeg. Omgord die lendene van julle verstand, wees nugter. Wees nugter - dit is weer so 'n uitdrukking wat opval. Die wêreld kan soms die kerk verwyt: Julle christene praat maar net oor 'n God in die hemel wat vol liefde is en oor Christus wat die ewige lewe gee. Maar wat sien 'n mens in die wêreld? Oorlog, honger en ellende, en elkeen sterf of hy gelowig of nie gelowig is nie. Wees 'n bietjie nugter, sê hulle dan: dit is tog die werklikheid! En dan sê Petrus: Nee. Dit is die werklikheid. Julle is wedergebore tot 'n lewende hoop. Julle is verlos. Julle is ryk. Wees nugter. Let op hierdie werklikheid. Julle is op pad na 'n erfenis wat klaarlê. Christus is besig om te kom. Maak jou oë oop en kyk so na die wêrelgeskiedenis, en lees so die koerant. Christus is besig om te kom! Dit is die werklikheid. Wees nugter en hoop volkome op die genade. Konsentreer daarop jou hoop!

Sit alles maar rustig op die een kaart van die geloof, van die genade van Jesus Christus. Want dan het u 'n lewende hoop! En let veral hierop. Christus het reeds met julle begin. Hy kom al met Sy genade na julle toe. Maar ook julle moet in beweging bly. Julle moet na Hom toe. Hoop volkome op Hom en laat jou nie aflei nie.

2. Op pad na die beloofde erfenis, vra God van ons: gehoorsaamheid van die geloof.

Ons het al gesien dat God vir ons saam neem op pad na die erfenis.

Hy het met ons begin. Hy het ons op Sy weg saamgeneem. Maar nou moet ons ons op daardie weg ook deur Hom laat lei. Soos gehoorsame kinders. Besef wat die Here met jou begin het. Besef jou rykdom!

Gaan leef uit die toekomsverwagting wat Hy jou voorhou. Laat jou deur Hom lei. Maak dan jou bybel maar oop. In hierdie selfde brief waarsku Petrus: die duiwel, julle teenstander loop rond soos 'n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind. Laat niemand sê: Dit val alles 'n bietjie mee. Die Bybel sê: dit val nie mee nie, en dit kan al hoe erger word. Laat jou daarom onderrig uit die Woord. In die gehoorsaamheid van die geloof. Julle moet nie julle lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie.

Petrus bedoel daarmee in die tyd dat hulle God nog nie geken het nie, maar net geleef het soos hulle self wou leef. Toe het die begeertes die lewensstyl bepaal.

Die styl van die wêreld!

Laat ons eet en drink en vrolik wees, want môre sal ons sterf. Maar nou het dit anders geword. Die Here het ons lewe op 'n ander vlak gestel. Laat ons eet en drink en dankbaar wees, want môre kom die Here! U mag nie meer lewe in die beperkte horison van elke mens nie. U horison het baie ruimer geword. Christus is besig om te kom en Sy Koninkryk te vestig. Daarnaar moet u uitsien en in ooreenstemming met die verwagting lewe. Die begeertes mag nie nou u lewe bepaal nie. U is mos nie meer onwetend nie. U het nou vir Christus leer ken. U weet van die nuwe lewe. En daarom het u wel anders geword gemeente.

U het die eiendom van 'n ander geword. En dit moet uit u lewe sigbaar word. En dan sal u maar opval. U rig u lewe anders in as u buurman. U bestee u geld aan ander dinge as hy. Ja, u verdien u geld selfs anders as u buurman. U bly weg van oneerlike manipulasies met geld. U gee die keiser wat aan die keiser toekom.

Jy bly weg van plekke waar daar gevaarlike verleidings vir jou is. Jy het voor jou huwelik nie geslagsgemeenskap met jou vriend of vriendin nie, al sou almal in jou omgewing sê: wat is verkeerd daarmee? Dink daarom. Jy het anders geword as 'n kind van die Here. Moenie dink dat dit maklik is nie. Moenie sê: Daardie dinge sal my nie oorkom nie.

Want die begeerte sit diep in ons hart en die begeerte kan jou sommer maklik aftrek van die pad waarop die Here jou gesit het. Die begeertes is lewensgevaarlik. Kyk asseblief in die volgende hoofstuk. 2: ll. Daar staan: Geliefdes ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes, wat stryd voer teen die siel. Stryd voer teen die siel - dit is: hulle doen 'n aanslag op jou lewe.

Vleeslike begeertes - die duiwel sal hulle maar alte graag gebruik om jou van God af weg te trek. As 'n mens sy gewete wat hom aanvanklik pla begin sus met allerhande redenerings en allerhande gebooie van God so interpreteer dat dit jou pas, dan bly daar op die ou end niks oor nie. Dan laat jy die Here sommer maklik los.

Daarom: Wees nugter, ken jou tyd en die gevare van hierdie tyd, en wees waaksaam: laat jou nie deur eie begeertes meeneem op die verkeerde pad nie.

3. God vra op pad na die erfenis: volmaking van die liefde. Nadat in vs. l4 gepraat is oor ons begeertes, sê Petrus in vs l5 met 'n skerp teestelling: wees heilig, soos God self heilig is. God het julle mos weggeroep uit 'n vroeëre lewe wat gekenmerk is deur onheilige begeertes.

Julle het 'n nuwe lewe begin.

Wel hierdie lewe eis 'n nuwe gehoorsaamheid. Is daar nog sondes in jou lewe wat jy nie bely het nie? Breek daarmee! Sondes wat jy nie bely nie word vir jou ook nie vergewe nie. Dikwels gebeur dit dat ons 'n bepaalde sonde koester. Ons weet dis eintlik nie reg nie. Eintlik moes ons daarmee breek. Eintlik moes ons lewe verander. Eintlik, eintlik, maar uiteindelik doen ons dit nie. Maar laat ons besef, ons is geroep deur 'n heilige God. 'n Mens kan voor Sy aangesig nie verskyn sonder 'n opregte berou oor sy sondes nie. Of sonder die werklike begeerte om met die sonde te breek nie. "Wees heilig, want Ek is heilig". Petrus haal hier die grondwet van die Ou Testamentiese boek Levitikus aan. Die boek waarin die Here heel die omgang van Hom met Sy volk gereël het. Die boek bevat voorskrifte oor die offers, die priesterdiens en allerhande reinheids wette. Kortom, die boek gee allerhande reëlings oor die omgang van 'n sondige volk met 'n heilige God. Elke slag weer moet die sonde gereinig, die onheiligheid versoen, en die onreinheid weggeneem word.

Maar daar is nog meer in die boek Levitikus. Dit bevat ook aanwysings hoe die Here gedien wil word. Naamlik deur middel van feesvierings, van danksegging en lofprysings. Jou lewe heilig vir die heilige God beteken nie net dat sondes versoen moet word nie, maar ook dat jy God moet verheerlik in jou lewe.

Sy Naam moet alle eer ontvang.

Hy soek 'n volk wat Hom in liefde dien en wat die liefde laat blyk deur vir Hom te sing, deur tot Hom te bid, deur te praat oor die grootheid van Sy werk.

Hy soek ons liefdediens.

En daardie liefde moet alhoemeer volmaak word, omdat God Self volmaak is.

Hom dien uit liefde en Hom al die eer gee.

Wie dit in praktyk bring in sy lewe, sal opval in die wêreld. As 'n vreemdeling.

Dit is nie 'n wonder nie, as jy God se heiligheid vooropstel temidde van 'n wêreld vol onheiligheid.

Dan kan 'n mens hom soms eensaam voel. As mense jou bevreemd aankyk. Arme christen, wat mag julle maar min, en wat moet julle baie. Dit kan soms seermaak.

Maar kom, laat julle troos deur hierdie Petrus brief. Ryke gelowiges, wat het julle baie ontvang!

Daarom dan, omgord julle lendene en loop die pad wat die Here vir julle baan.

Laat niemand van julle agterbly op daardie pad nie. Want dit is die pad na die lewe.

En deur die pad gaan julle onder leiding van die lewende Christus. Uitsluitlik as julle daardie reisleier volg sal julle die einddoel bereik. Die volle erfenis wat Christus vir julle verdien het.

Die ewige lewe.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)