Ons gebed het 'n kragtige effek as ons Gods verbond daarin betrek

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2017-12-20
Teks: 
Jakobus 5
Preek Inhoud: 

PREEK OOR JAKOBUS 5: 16B-18

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 105: 1, 2
Wetslesing
Ps. 105: 3
Doopsbediening
Ps. 105: 5
Gebed
Kollekte
Ps. 107: 16, 17, 18, 21
L. 1 Kon 17: 1-6
Prediking
Ps. 81: 9, 12
Gebed
Ps. 81: 15, 18
Seën

Hoe 'n uitwerking het 'n gebed eintlik, broeders en susters?

Orals in ons land word vandag met nog meer erns as anders gebid vir vrede: 'n vrede wat gestalte moet kry in die beëindiging van stryd en geweld en in die daarstelling van 'n regverdige samelewing vir almal in Suid-Afrika.

Ons hou vandag boonop ons jaarlikse gebedsdiens vir gewas en arbeid. Ons betrek vanoggend in ons gebede behalwe die vrede onder die mense ook die gewasse op die akkers, die vrugte aan die bome en struike en al die menslike arbeid wat nodig is om die wêreld van voedsel te voorsien.

Maar lewer ons gebed nou ook resultaat? Kan ons die HERE regtig verbid?

Kom ek stel dit konkreet: die toekoms lyk vir Suid-Afrika al hoe sorgwekkender; wat die onderhandelinge oor 'n nuwe staatsbestel sal oplewer, weet eintlik niemand, maar daar is maar min mense hoopvol gestem; die ekonomie in ons land verkeer in 'n absolute dieptepunt en solank as wat daar nie duidelikheid kom oor 'n nuwe grondwet en 'n nuwe regering sal die ekonomie ook wel nie verbeter nie; boonop het jare van droogte die landbou geknou en baie boere na 'n bankrot gedrywe; en dan is daar nog die toenemende geweld waardeur ons land geteister word - kan ons regtig deur massaal te bid vandag 'n verandering in dit alles teweegbring? ! Kan ons deur te bid die geweld laat ophou, nuwe droogte afwend, die ekonomie laat opleef en 'n nuwe Suid-Afrika tevoorskyn roep?

Het ons gebed soveel uitwerking?

En moet ons, indien daar hierdie jaar opnuut 'n verskroeiende droogte sou kom, indien die geweld nie sou ophou nie, en indien die onderhandelinge in Kempton Park sou misluk en ons in 'n burgeroorlog sou verseil raak- moet ons in daardie geval dan tot die slotsom kom dat ons verniet gebid het? Of moet ons onsself en mekaar dan verwyt dat ons blykbaar nie met die regte ingesteldheid, of nie kragtig genoeg gebid het nie?

Die teks wat ons vanoggend opgeslaan het, sê dat die gebed van 'n regverdige groot krag het. Die gebed van God se kinders word nie tevergeefs gebid nie. Dit kry 'n kragtige uitwerking.

Jakobus verwys daarvoor na die profeet Elia. Kyk 'n bietjie wat daardie man met sy gebed by God bewerk het! Die hele natuur is daardeur ontreël.

En moenie dink, sê Jakobus direk daarby, moenie dink dat Elia as 'n profeet natuurlik wat dit betref ver bo ons uittoring nie. Ons is sommer geneig om so te dink: Ja Elía! Wie is ons in vergelyking met daardie indrukwekkende kneg van God uit die Ou Testament?

Nee, sê Jakobus, dit wat Elia kon doen, kan u ook doen. Elia was 'n mens net soos ons. U kan by die HERE dieselfde kragte losbid as Elia. Want die krag van Elia se gebed was nie in sy persoon geleë nie.

Weet u, gemeente, waaraan Elia se gebed sy krag ontleen het? Aan die HERE se verbond. Elia het by die HERE op sy eie verbondswoorde gepleit. En dis dié dat sy gebed sulke groot gevolge gekry het.

As ons dus Elia dáárin navolg, kan ook ons gebed vandag 'n kragtige uitwerking kry.

Daarom wil ek u, ter voorbereiding op ons gebed, uit God se Woord voorhou hoe kragtig die gebed kan wees as ons God se verbond daarin betrek. Kom ek vat my boodskap so saam:

ONS GEBED HET 'N KRAGTIGE EFFEK AS ONS GODS VERBOND DAARIN BETREK

OP SO 'N GEBED REAGEER DIE HERE

  1. MET SY VERBONDSVLOEK
  2. MET SY VERBONDSEËN

1. Ek laat vanoggend die verbánd waarin Jakobus Elia se gebed in herinnering roep, maar rus, broeders en susters. Ons konsentreer net op daardie gebed van Elia self.

Ons sou die gebed van Elia waaraan Jakobus in ons teksverse herinner, ook 'n gebed vir gewas en arbeid kon noem.

Jakobus vertel dat Elia eendag spesiaal op sy knieë gegaan het om die situasie van die landbou en die nywerheid aan die HERE voor te lê.

Dit was egter nie juis wat ons van 'n gebed vir gewas en arbeid verwag nie. Elia het nie gebid om God se seën oor gewas en arbeid in Israel nie, maar om God se vloek daaroor! "Hy het ernstig gebid dat dit nie moes reën nie, en dit het op die land drie jaar en ses maande lank nie gereën nie".

Ons lees van daardie gebed niks in die Ou Testament self nie. Elia val in die boek Konings sommer die Bybel binne, dié oomblik wat hy in die paleis van die goddelose koning Agab binnetrap met sy oordeelsprofesie: "So waar as die HERE, die God van Israel, leef, voor Wie se aangesig ek staan: daar sal geen dou of reën in hierdie jare wees nie, behalwe op my woord!"

In opdrag van die HERE verlam hy met een woord die hele lewe in Israel. Skielik staan hy daar in sy ruie profetemantel voor 'n verbaasde koning Agab. En wanneer hy weer ewe skielik verdwyn het as wat hy gekom het, blyk dit al gou dat sy oordeelsaankondiging nie om dowe neute gesê is nie.

Maar al kom Elia met sy onheilsprofesie ook skielik die Bybel binneval, het daardie oordeelswoord nie sommer uit die lug kom val nie. Dit maak ons teks vir ons duidelik.

Waar die boek Konings ons eers met Elia in aanraking bring in Agab se troonsaal, laat Jakobus ons sien wat hom daarvoor al afgespeel het in Elia se binnekamer. Voordat die profeet voor Agab se troon sy onheilsprofesie uitgespreek het, het hy voor God se troon op sy knieë gelê en sy kommer uitgespreek.

Elia was 'n kind van God wat met stygende ontsetting die afvalligheid onder God se verbondsvolk sien toeneem het. Immers: hoe was dit in daardie dae, in die Tien-stammeryk onder die goddelose koning Agab? In daardie tyd het die verbondsverlating 'n absolute dieptepunt bereik. Agab het meer kwaad gedoen in die oë van die HERE as al sy voorgangers!

As daar van Agab vertel word dat dit nog die minste was dat hy in die sondes van Jerobeam, die seun van Nebat gewandel het, kan u wel verstaan hoe goddeloos hierdie Agab was.

U weet natuurlik: daardie koning Jerobeam het brutaal die tweede gebod van God se verbondswet eenkant geskuif. Hy het twee gesnede beelde, twee goue bulkalwers, gemaak waarby God se volk voortaan maar erediens moes hou pleks van in Jerusalem. Jerobeam het nog nie so ver gegaan dat hy die diens aan Jahwe, aan die HERE wou afskaf nie; hy het slegs die plek en die vorm van die erediens verander in stryd met God se uitdruklike wetswoord.

Agab skuif egter ook die eerste gebod eenkant. Ja, Agab skuif die hele wet van God eenkant omdat Hy die God van die wet nou heeltemal eenkant skuif. Hy vervang die diens aan die HERE deur die diens aan die afgod van sy vrou Isebel: voortaan moet Israel buig voor Baäl, die god van die Sidoniërs.

Ja, almal moét van nou af voor hierdie afgod buig. Die Baäldiens word staatsgodsdiens. Agab laat bou 'n tempel vir Baäl in die hoofstad Samaria en plaas 'n enorme altaar daarby waarvoor almal moet kom aanbid en offer.

En die meeste mense aanvaar gedwee hierdie verandering van godsdiens. Voortaan is Baäl god.

Elia moes dit alles vol heilige verontwaardiging aansien. Hy moes dit aansien dat koning Agab in die kielwater van sy vrou Isebel voortgehol het op hierdie heilose weg en al hoe brutaler die HERE, die eintlike God in Israel, gekrenk het. Hy moes dit aansien hoe die meeste van sy volksgenote soos mak skape agter hul koning aan gehuppel het. Hy moes dit aansien dat daar amper nie meer 'n regverdige in die land oorgebly het nie.

En toe het daar in hierdie profeet 'n vurige ywer vir sy God opgevlam.

Hy het 'n pragtige naam gedra: Elia: My God is Jahwe beteken dit. Maar Hy wou die belydenis in daardie naam nie as 'n privaat mening huldig nie. Hy wou hê álmal in Israel moes weer leer besef dat nie Baäl nie, maar alleen Jahwe, die HERE, God is. Hy wou hê dat die HERE Sy Naam eer sou aandoen deur in Israel te toon dat niemand Hom kan doodverklaar of kan eenkant skuif nie. JAHWE: "Ek bestaan wel deeglik" beteken mos daardie Naam.

Hy kon dit nie langer aansien dat sy God, die enige ware God, so vertrap en geïgnoreer is deur sy verbondsvolk. Hy kon dit nie langer aansien nie, maar hy was van mening dat God sélf dit ook nie langer mog aansien nie.

Waarom het die HERE dit so ver laat kom? Waarom het die HERE dit nie voorkom nie?

Dít het toe die worsteling in Elia se gebede geword, broeders en susters: kon God so 'n brutale verbondsveragting werkeloos aansien? Moes Hy sy heilige verbond straffeloos laat vertrap?

Daar bestaan mos behalwe die seën van die verbond ook 'n vloek van die verbond? Ook hierdie verbond bestaan mos, soos alle verbonde, uit twee dele: 'n belofte en 'n eis!

En so het Elia se gebede algaande 'n roep tot die HERE geword om in Israel te wys dat Hy alleen God is.

    Hoe lank, o God, sal nog die teenparty
    U smaad en tart? Sal dan in ewighede
    u Naam beskimp word in hul lasterrede?
    Wat toef U nog en hou u hand tersy?

Só het Elia begin bid om droogte, om 'n verskroeiende hitte wat onomstootlik die almag van die HERE en die onmag van Baäl sou bewys.

U sal Elia se gebed nog des te beter begryp, gemeente, as u weet dat daardie afgod Baäl 'n tipiese natuurgod was. Die Kanaäniete het Baäl vereer as die god van die vrugbaarheid, die god wat reën bring en sonwarmte, die god wat alles laat groei en vrugdra.

Baäl was volgens die mense die god wat sy majesteit in donderstorms gedemonstreer het.

En die hulp wat by hom gepas het was die godin Astarte.

Van hierdie Baäl en Astarte het Israel in Agab se dae hul voorspoed en welvaart, gesondheid en vrugbaarheid ens begin verwag.

Dis dié dat Elia juis om droogte en as gevolg daarvan: misoes en onvrugbaarheid begin bid het.

Laat die HERE maar wys dat Baäl bedrieg; dat Hy, die God van die verbond, alleen lewe, voorspoed en vrede kan waarborg.

Laat die HERE die hele lewe maar verlam en daarin duidelik maak dat slegs as Hy in alles die eer ontvang, by vors en volk, in politiek en ekonomie, in landbou en handel, die lewe nie in 'n chaos doodloop nie.

En daarby kon Elia die HERE hou aan sy eie verbondswoorde: die HERE het mos self al in Moses se dae in sy wetboek laat vaslê wat sal gebeur as sy volk die verbond met Hom verbreek?

Kom ons kyk saam in die boek Deuteronomium, hoofstuk 28:

LEES: DEUT 28: 15-18, 23, 24, 45, 46

Om die vervulling van hierdie verbondvloek het Elia gebid, voordat hy in Agab se paleis ingebars het met sy oordeelsprofesie.

En dis as gevolg van hierdie gebed waarin 'n verbondskind sy God aan sy eie verbondswoorde herinner het, dat daar in die ryk van Agab drie en 'n halwe jaar geen druppel reen meer geval het nie en die son elke dag verskroeiend aan die hemel gestaan het.

Omdat Elia God se verbond in sy gebed betrek het, het sy gebed 'n geweldige effek gekry. Hy was slegs 'n mens net soos u en ek. Maar as 'n mens die HERE hou aan sy verbond, kry jou gebed 'n groot krag.

Ek het so pas die vraag gevra, broeders en susters, of ons gebede, vir vrede, vir die gewasse op die akkers en die arbeid van ons hoof en hande wel sal help. Kan ons die HERE verbid? Lewer ons gebede resultaat? Sal daardeur iets verander?

Miskien verstaan u dan nou dat dit heeltemal daarvan afhang hoé ons bid; wát ons vra in ons gebede.

Ons kan vanoggend die HERE vra vir vrede vir Suid-Afrika en daarby slegs dink aan rus en voorspoed, aan die beëindiging van geweld en misdaad en die oplewing van die ekonomie. Ek is seker: in baie kerke sal daar vandag so gebid word.

Ons kan vanoggend die HERE bid of ons 'n goeie jaar vir die landbou mag kry, of daar baie reën mag val en nie hael nie.

Ons kan bid of daar goeie studie moontlikhede vir ons kinders mag bly in hierdie land en goeie moontlikhede vir werk daarna. Ons kan bid of die werkloosheid mag verminder sodat dit nie nodig is dat nog meer broeders en susters die land moet verlaat nie.

Maar ons kan baie selfsugtig wees as ons so bid! Ons kan baie selfsugtig maar net vir onsself en ons kinders 'n rustige en welvarende lewentjie begeer, sonder dreiging en spanning.

Hoe anders het dan Elia gebid!

Elia was nie met sy eie belange besig in sy gebede nie. Hy het nie allereers 'n aangename lewe vir homself gesoek nie.

Want Agab hét aanvanklik voorspoed en welvaart gebring. Hy was in politieke en ekonomiese opsig beslis 'n bekwame koning. Wat dit aanbetref was daar vir Israel regtig geen rede om te kla nie.

Maar Elia het iets anders gesoek.

Hy het allereers die regte van sy God gesoek in sy gebede. Hy het daarvoor geworstel dat God weer alles in almal sou wees en dat God se Naam weer die eer sou ontvang wat Hy verdien. Al moes dit ook die einde van alle weelde en welvaart beteken. Al moes dit ook beteken dat almal jare aanmekaar honger en dors moes ly, ook Hy wat Elia is.

Elia wou liewer honger ly en straatarm wees as om te moet aansien dat God se regte vertrap word.

Elia was 'n mens net soos ons. Is u wat dit betref 'n mens net soos Elia, broeder en suster?

Ek weet, ons kan vandag, in die tyd van die Nuwe Verbond, Suid-Afrika nie sommer gelykstel met Israel in Elia se dae nie. In Agab se tyd het kerk en volk saamgeval. Die koning op die troon was ook die ampsdraer in die kerk. Vandag moet ons kerk en volk duidelik onderskei. Staatspresident en predikant het vandag elkeen sy eie terrein.

God het vandag nie sy verbond gesluit met die bevolking van Suid-Afrika nie, maar met sy kerkvolk in Suid-Afrika.

Ons mag egter wel sê dat daar baie kerkvolk in Suid-Afrika is; en dat daardie kerkvolk ook 'n belangrike rol speel binne die regering en die landsbevolking.

Ons moet ook sê dat daar baie verbondsontrou en verbondsverlating onder God se kerkvolk in hierdie land gevind word.

Ons regering bestaan vir die merendeel uit Christene, maar gee nie meer 'n kragtige leiding aan die lewe na God se gebooie nie. Die sabbatsrus word nie meer gehandhaaf nie, daar word nie meer walgegooi teen toe toenemende sedeverwildering deur flieks en lektuur nie, die moord op ongewenste ongebore babas word oogluikend toegestaan....

Kerkelike "leiers" het politieke aktiviste geword. Teologiese professore het 'n knieval vir die moderne teologie gemaak en is besig om die leer van die Skrif al hoe meer los te laat. Kerklike vergaderings het hulleself 'n ongeestelike mag toegeëien en werk daaraan saam dat allerlei dwaalleer in die kerk kan insluip. Talle Christene het naamchristene geword wat nog slegs kerk toe kom wanneer hulle daaraan "behoefte" het en wat in hul lewenspraktyk al hoe minder verskil van nie-christene.

Daar is mense wat met 'n beroep op die Bybel rassistiese uitsprake doen en geheel in stryd met die Bybel die reg in eie hande neem.

Wat moet ons dan bid vandag? Of die HERE ons rus en vrede in ons samelewing wil gee?

Of moet ons bid of die HERE aan almal in ons land weer wil leer, indien nodig deur aanhoudende politieke onrus en nog meer misdaad, dat die egte vrede nie gevind word as mense mekáár meer liefde bewys nie, maar as die liefde vir Hom weer ons almal se harte regeer?

Wat moet ons bid vandag? Of die HERE goeie oeste, 'n herstel van die ekonomie en 'n welvarende bestaan vir almal in Suid-Afrika wil skenk?

Of moet ons liewer bid of die HERE aan sy afvallige kerkvolk in Suid-Afrika, indien nodig deur nuwe droogte en 'n nog dieper ekonomiese krisis, weer wil leer dat 'n mens nie leef by brood alleen nie, maar by alles wat uit die mond van die HERE uitgaan?

Ek weet, baie mense dink nie juis dááraan as hulle vir vrede, vir gewas en arbeid bid nie. Maar ons moet leer om daaraan te dink.

Die vurige gebed van 'n regverdige het 'n groot krag. Maar eers as ons nie selfsugtig bid nie, maar God se verbond eerste maak. En ja, dan kan ons met ons gebed die vloek van die HERE oor afvallige verbondskinders losbid.

Dit is vandag in tyd van die Nuwe Verbond nog presies eenders as in die tyd van die Ou Verbond. Nie net Jakobus sê dit in ons teks nie. U kan ook maar saam met my kyk in die Openbaring wat Johannes van Christus ontvang het, hoofstuk 11:

LEES: OPENB 11: 3 EN 6

Daardie twee getuies verteenwoordig in hierdie visioen die kerk van Christus. Die mag van Elia word dus vandag aan die kerk toegeskrywe. Nog steeds het die gebed van kinders van die HERE 'n enorme effek as hulle God se verbond daarin betrek. Nog steeds kan die kerk deur middel van sy gebede ingryp in die politiek en die natuurgebeure. Die visioene wat Johannes gesien het was vol gerigte waarmee God vir sy eer op aarde opgekom het; maar hulle is losgemaak deur 'n biddende kerk.

Sal u nie selfsugtig bid nie, broeders en susters? U moet besef dat ons met ons gebede van vanoggend die politieke onsekerheid nog groter kan maak, en die misdaad nog bedreigender. U moet daarmee rekening hou dat, nie ten spyte van, maar juis danksy ons gebede die oes volgende jaar misluk en ons welvaart nog

verder afneem. Ons moet weet dat dit nodig kan wees. Ons ken mos God se oordele as 'n laaste blyk van sy genade. Dit is 'n laaste beroep op sy afvallige verbondskinders om na Hom toe terug te keer en die lewe en vrede weer alleen by Hom te soek.

2. Maar is dit dan nog wel raadsaam om te bid, gemeente? As ons miskien God se vloek losroep met ons gebede, durf ons dan nog wel te bid vanoggend? Roep ons dan nie terselfdertyd ook oor ons eie lewe die vloek los nie?

Of sal die HERE óns, net soos Elia, uitsonder van die oordele waarmee hy die lewe op aarde kan teister? Immers: toe almal honger en dors gely het, het die HERE sy profeet gevoed met kos wat deur die voëls uit die lug aangevlieg is.

Sal God óns ook op so 'n wonderbaarlike manier aan die lewe hou as ander mense omkom van die honger? Sal Hy óns rus en welvaart gee terwyl die ander mense in spanning en armoede verkeer? Sal Hy ons beveilig teen misdaad en geweld?

Ons moenie te gou daardie spesiale sorg van God vir Elia op ook ons toepas nie, broeders en susters. Elia was nie die enigste getroue verbondskind wat in daardie dae oorgebly het nie. Later sal dit blyk dat daar nog 7000 was wat hul knieë nie voor Baäl gebuig het nie. Daar was ook nog 100 ander profete van die HERE wat deur Agab se paleisheer Obadja in 'n spelonk weggesteek en met brood en water onderhou is. Daardie mense is nie deur die voëls uit die lug gevoed nie, maar het net soos almal baie swaargekry onder die aanhoudende droogte.

Ook hulle is direk geraak deur die gevolge van Elia se gebed.

Trouens, Elia het wel van God sy kos gekry in daardie drie-en-'n-halwe jaar, maar hy het nie 'n maklike lewe gehad in daardie tyd nie. Sy skuilplek by die spruit Krit moet af en toe soos 'n tronk vir hom gevoel het, want hy kon dit nie waag om daardie plekkie te verlaat nie. Hy was 'n vlugteling vir Agab. Later moes hy selfs uit die land uitvlug na Sarfat by Sidon toe.

Dit moet God se kinders egter wil verduur as hulle die eer van hul Verbondsgod eerste gemaak het in hul lewe.

Hulle moet blymoedig aanvaar dat dit nou maar eenmaal nodig is om ander mense tot inkeer te bring en om te bewerk dat God weer alles in almal sal word.

Maar as ons ons daarom geduldig buig onder die geweld van God se gerigte wat ons self deur ons gebede opgeroep het, mag ons in alle ellende tog seker wees van God se seën oor óns lewe.

Want wat ís seën, gemeente? Vir ons is seën meestal dieselfde soos voorspoed en welvaart. Maar ons dink daarin veels te beperk en te kortsigtig. Voorspoed en welvaart kan ewe goed 'n straf van God wees! Die digter van Psalm 73 het dit baie mooi agtergekom. Hy het leer verstaan dat dít God se verbondseën is: as die HERE jou regterhand gevat het en jy altyddeur by Hom mag wees; as Hy jou lewe lei deur sy raad en jou daarna in sy heerlikheid opneem.

Vandag kan ons dit só sê: dit is God se seën as niks ons kan skei van die liefde van God wat daar is in Christus Jesus, onse Here, al moet ons ook verdrukking en benoudheid, vervolging of honger deurstaan (Rom 8).

As ons die HERE se verbond eerste maak in ons lewe, sal God ons in sy veilige vaderhande hou, wat ook al gebeur.

Daarop mag ons staatmaak. Daarop mag ons in ons gebede terselfdertyd pleit.

Ja, dan mag ons in ons gebede ook vra dat die HERE ons wel aan die lewe sal hou solank as wat Hy vir ons hier 'n taak het.

Waarom het Hy Elia op 'n wonderbaarlike manier voorsien van kos? Omdat Elia na drie-en-'n-halwe jaar weer sy Woord aan Israel moes voorhou. Omdat Elia op sy aankondiging van God se oordeel 'n oproep tot bekering moes laat volg en die volk moes voorgaan in 'n nuwe gehoorsaamheid aan die God van die verbond.

Dié taak wag daar ook vir ons vandag. Dis nie genoeg om te bid om God se oordeel oor die verbondsverlating nie. God wil ook dat ons sy volk na sy verbond terugroep en dat ons in ons lewe aan die ander mense wys dat sy seën alleen die lewe ryk maak.

Met die oog op daardie taak mag ons wél om kos en klere, om die voldoende lewensmiddele vra. Met die oog daarop mag ons vra of die HERE sy kerk in hierdie land in stand wil hou en nog die ruimte wil gee om sy Woord uit te dra.

Met die oog op daardie taak mag ons selfs vra om weer 'n situasie van rus en vrede sodat ons aan die talle mense wat in hierdie land geheel en al van God se verbond vervreemd geraak het, of nog nooit van Hom gehoor het nie, sy verbondsbeloftes mag bring.

Maar dan vra ons dus nie voorspoed vir onsself nie. Dan vra ons om die voortgang van God se werk op aarde. En so 'n gebed word nooit tevergeefs gebid nie! AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)