Die dienaar van Christus spreek streng oor misbruik van rykdom

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Jakobus 5
Preek Inhoud: 

03-01-93

JAKOBUS 5 : 1-6

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 82 : 1, 2
Gebed
Skriflesing: Mattheus 6:19-24, Jakobus 1:10-11; 2:1-8
Sing: SB. 16 : 1, 2, 3
Tekslesing : Jakobus 5:1-6
Prediking
Sing: SB. 16 : 4, 5
Geloofsbelydenis
Sing: Ps. 37 : 2, 3
Dankgebed
Kollekte
Sing: Ps. 37 : 4, 5
Seën

Gemeente van Christus,

wanneer 'n predikant hierdie teks kies, kan dit gebeur dat die mense 'n geïrriteerde gevoel omhoog voel kruip. Gaan dit nou weer oor apartheid? Die rykes sal wel die blankes wees wat hulleself ten koste van die armes, die swartmense verryk het. "Die loon van die arbeiders is ingehou". Vat dominee sy kans om nog 'n laaste keer 'n hou oor apartheid te gee?? Ek sê eerlik vir u dat ek graag ook oor hierdie Bybelgedeelte wou preek. Ek wou graag die hele brief van Jakobus deur te gaan. Ja, dit is 'n opvallende aanspraak wat skerp op omstandighede van onreg in die samelewing inpraat.

Hoekom kies ek so 'n teks op die eerste Sondag van die nuwe jaar? Ek het dié teks eenvoudig gekies omdat ek op Oudejaarsaand oor die slot van Jak 4 wou preek en op Sondag 10 Januarie my afskeidspreek oor Jak 5:7-11 wil hou. Ek het die teks van vanmôre vroeër eerder vermy. Hoekom vermy? Om nie op onverstandige wyse dinge te sê wat sekere gevolge van apartheid te algemeen oor die koppe van gewone mense weg veroordeel nie. Om nie in 'n preek te min te sê, omdat jy op die kansel nie die hele prentjie van die land en sy geskiedenis kan teken nie. Kom ons waag dit om nou saam óók dié gedeelte uit die Woord van die Here te hoor.

Ek preek vir u oor:

DIE DIENAAR VAN CHRISTUS SPREEK STRENG OOR MISBRUIK VAN RYKDOM

  1. tot elkeen wat God se wil ken,
  2. in elke moeite van die lewe,
  3. met die oog op die een gerig.

1. TOT ELKEEN WAT GOD SE WIL KEN

Voordat ons inhoudelik die teksverse saam sal lees, moet ons eers vra: watter mense word hier deur Jakobus aangespreek? Is dit die gemeentes waarvan die rykes lidmate was? Dit kan so wees dat daar ook in die jong kerke pynlike sosiale verskille was en dat daar onreg in die kerk geheers het. Uit hfd 1 en 2 het ons in elke geval geleer: arm en ryk mense het in die gemeente saamgekom. Maar: moet ons daaruit die gevolgtrekking maak dat Jakobus dus uiters skerp die rykes in die kerk aanspreek? En: moet ek dan nou ook julle as gemeente en die rykere lidmate veral vermaan? Ek wil eers op iets anders wys.

Vs 1 begin met die woorde: "Kom nou, julle ...". Dit is presies dieselfde aanspraak waarmee ook die voorafgaande stukkie begin het: 4:13. "Kom nou, julle wat sê: vandag of môre sal ons na dié of dié stad gaan en daar een jaar deurbring en handel drwye en wins maak". Ek dink, gemeente, dat Jakobus in altwee gedeeltes homself nie in die eerste plek tot die jong gemeentes rig nie. Ek dink ons moet mooi luister na die aanspreekvorme in sy brief. Die normale, liefdevolle aanspreekvorm is: broeders. Selfs as hy baie streng vermaan, sê hy nog: broeders (hfd. 3) of my broeders of my geliefde broeders (2:3). Die aanspreekvorm "Kom nou, julle ...!" val anders op die ore. Jakobus het, lyk vir my, hiermee veral die rykes buite die jong gemeentes op die oog.

In die verse oor "As die Here wil dat ons lewe ..." (4:13v) is die groothandelaars wat ver en lang reise gemaak het, aangespreek. Dit was rykes wat hulleself redelik onafhanklik van Gód geag het. Nou praat Jakobus teen rykes wat grootgrondbesitters is. Hulle sondig in die eerste plek teen hulle naaste, teen die arbeiders wat op hulle lande werk. Wanneer jy navorsings lees oor die samelewing in Palestina, kom jy agter: daar was in die dae 'n bolaag van grootgrondbesitters en daaronder 'n groot massa arme mense. Daar tussenin was 'n klein middeklasse van ambagsmanne, soos die houtbewerker Josef. Die ryke landeienaars was natuurlik Jode. Jakobus het gepreek en geskryf in die tyd waarin die kerke eers begin ontstaan. Die grense tussen die gemeente en die samelewing is nog nie duidelik nie. Die evangelie klink deur die land en roep almal tot geloof in die Here Jesus. Ons het in 2:1v gesien wat gebeur: tydens 'n samekoms van die gemeente kan sommer ook 'n mens instap wat sigbaar welvarend is. Daar kom ook armes in. Mense uit allerlei sosiale agtergronde kom tot bekering! En daar is dié wat hulle harte verhard en nie hulleself in geloof voor God wil buig nie.

Ek dink dis pragtig om te sien hoe die jong kerk en sy prediking haarself óók tot die Jode, die volksgenote bly rig het. Jakobus praat met die woorde van ons Here Jesus. Hy praat soos die profete van die Ou verbond gedoen het. Dit sê vir ons om nie, om nooit te vergeet om ook die mense tot bekering terug te roep wat nog iets van God se gebooie ken! Dit is die eerste wat ek vir u duidelik wil maak: God se Woord gaan van die gemeente uit. Dit is, sê ons dan, die profetiese taak van die kerk. Dit is om van God se gebooie, van sy oordeel en sy genade te getuig. Om mense tot bekering, tot omkeer te roep: mense wat mooi weet wat sê die Here in sy Woord, maar wat dié Woord ignoreer. Soos Jakobus in die laaste vers van hfd. 4 gesê het: "As iemand wéét om goed te doen en dit nie doen nie, vir hom is dit alreeds sonde".

Dus het die Gereformeerde kerk in Suid-Afrika iets om te sê vir sy volksgenote: vir hulle wat ook 'n kerklike, gereformeerde agtergrond het. Hulle weet wat sê jy wanneer jy op die gebooie van God wys. Die kerk mag vooropgaan en die Woord van God aanwys as die bron van ons lewe, ook vir die sosiale lewe. Ja, Jakobus spreek hier eerste die rykes buite die gemeente aan. Die ryk lidmate is ook aangespreek wanneer hulle hul rykdom op onregverdige wyse sou gebruik. Dit spreek tot elkeen wat God se wil nog ken. Gelukkig maar dat die HERE ons besit en ons werksverhoudings as sy saak beskou. Hy spreek jou naaste én jou aan in goeie dae en ook:

2. IN ELKE MOEITE VAN DIE LEWE (vs 4-6)

Die beskuldigings wat Jakobus hier uiter, is glashelder. Vs 4 sê: "kyk, die loon van die arbeiders wat julle lande afgeoes het, wat deur julle agtergehou is, roep uit". Dié arbeiders was betrokke by die oes. Dit beteken dat dit dagloners was: mense wat net vir die oestyd ingehuur is. Ons ken die figuur van die dagloner baie goed uit die gelykenisse van ons Here Jesus. Vroeg in die môre het hulle hulself aangebied vir werk en is opgelaai, nadat die dag se verdienste ooreengekom is. Die HERE God is in sy wette ook hieroor baie duidelik. Dit sê: die HERE gee om hoe die werk en die betaling geskied. Luister na Lev 19:13: "Jy mag nie jou naaste uitbuit of beroof nie. Jy mag nie 'n dagloner se loon terughou tot die volgende dag nie". Dit word nog duideliker in Deut 24:14-15. Lees met my saam:

"Jy mag 'n arm en behoeftige dagloner uit jou broers óf uit jou vreemdelinge ... nie verdruk nie. Op die dag self moet jy sy loon gee, voordat die son [oor hom] ondergaan - want hy is arm en sy siel verlang daarna -dat hy nie teen jou tot die HERE roep en dit sonde in jou word nie".

In Jakobus se dae het die maaiers wél tot die HERE geroep. Dit het gekom "tot in die ore van die HERE van die leërmagte". Dit is die HERE in sy mag: sy mag om op te tree en te stry teen dié wat kwaad doen. Die loon is wel agtergehou. Dit het die ellende van die armes net nog vergroot.

Daarteenoor staan: "Julle het op die aarde 'n weelderige en losbandige lewe gelei". Die rykes het bo hulle besit ook nog die gebruik van die lone en die rente daarop geniet. Hulle oorvloed is verkeerd, omdat daar onnodige en onregverdige armoede teenoor staan. Hulle het aan die ellende van hulle mense verbygekyk. Dit het hulle gedoen, terwyl die Woord van die HERE tot betrokkeheid en eerlikheid aangespoor het. Nee, dit is in die Bybel nie barmhartigheid om jou dagloner te betaal nie. Dit is regverdigheid: die arme het van die HERE regte gekry. Dit is regte in die verbond. In die verbond: dit geld vir die broeder in die geloof én vir die vreemdeling in hulle midde. So ver strek die sëen van God homself uit.

Vs 6 sê met die uiterste skerpte: "Veroordeel, vermoor het julle die regverdige". Sommige uitleggers sê dis 'n beskuldiging aan die Joodse leiers, die magtiges dat hulle Jesus vermoor het. Die Regverdige met 'n hoofletter! Dan beteken die laaste woorde: Hy het homself nie teen julle verweer nie. Dit sou dan 'n herinnering aan hul hoogste misdaad wees: die veroordeling en moord op die Here Jesus. Ek weet nie mooi of dit as uitleg reg is nie. 'n Verwysing na die Here Jesus se dood pas nie mooi in die verband nie. Die "regverdige" kan in die taal van die Ou Testament ook wees: die eenvoudige mens wat op God vertrou. Dan het die rykes hulle arme medeburgers ook nog met verdraaiing van die regspraak gepla. Dit is dieselfde gedagte wat ons in 2:6 kry: "Is dit nie juis die rykes wat julle voor die regbanke sleep nie?", sê Jakobus daar. Hoe dan ook: die moeites van die lewe word nog erger, as die mag en die reg ook nog teen jou misbruik kan word. As jy nie op regverdige hulp en op hoër gesag kan vertrou nie.

Kyk, dit is die hardheid van 'n samelewing waarin daar geen hulp vir die arme is nie. Met jou posisie verloor jy ook sommer jou kans om gehelp te word. Ons mag getroos weet: die HERE gee om. Die HERE gee om in die moeites van die daelikse lewe. Hy gee ook rede om self te dink en saam te praat oor regverdige lone om aan ons werkers uit te betaal. As gelowige ondernemers het julle rede om saam te praat: wat is 'n regverdige loon? Op watter vlak is ons verantwoordelik vir ons mense? Die HERE sê mos Hy gee om, selfs al gaan dit oor die mens wat 'n vreemdeling in jou midde is. Ons hoor hoe die dienaar van die Here streng spreek oor misbruik van jou posisie.

Vs 5 praat oor die voorspoed lewe met onheilspellend woorde. "Julle het jul harte vet gevoer soos op 'n slagdag". Eintlik is die dag waarop daar geslag word, 'n mooi dag: dan is daar groot oorvloed en dit word uit tradisie geniet. Dit klink egter onheilspellend. Want dit gaan nie oor die lywe nie, maar oor die harte. 'n Vet hart sê in die OT: 'n gevoellose hart. Dit is 'n mens wat nie meer vir die HERE kan luister omdat hy traag geword het nie. Soos op 'n slagdag: dit klink temeer onheilspellend omdat dit die uitdrukking is waarmee die HERE die dag van sy oordeel kan vergelyk. Dié dag sal onder die ongehoorsames 'n slagting aanrig. En daarmee is ons by die laaste gedagte. Die dienaar van die Here spreek so skerp:

3. MET DIE OOG OP DIE EEN GERIG (vs 1-3)

Die hele gedeelte staan al in dié lig. Vs 1 roep die rykes op tot rou, want daar sal seker ellende oor húlle kom. Die volgende verse kondig die waardeloosheid van hulle rykdom aan: die pragtigste klere word deur die motte bedorwe. Ek dink dis alles beeldspraak. Want edelmetale roes nie werklik nie. Tog moet die beelde van bederf, slytasie, roes en vuur sê: alles wat jy het, sal eendag vergaan. Dit kan alles teen jou getuig. Dink maar so asof die verval van jou rykdom al voor die gerig intree! Skrik maar asof jy die bederf al in jou klere sien, asof daar roes op jou silwer en jou goud gekom het, asof jou liggaam al deur vuur aangetas word! Jakobus maak die woorde van ons Here net skerper. Jesus het al gesê: "Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel nie" (Mt 6:17).

"Julle het skatte vergader in die laaste dae". Die laaste dae: dit rig jou aandag opnuut op die verganklikheid van die lewe en die genieting. Daar is iets wat baie dringender is: dit is dat jy 'n skat in die hemel het, dat jou hart op Christus gerig is. In die wete mag ons ook in die jaar wat voorlê, werk én geniet. Ons mag werk en sorg. Ons mag ons naaste dien en vir hom sorg. Dié goeddoen is ook met die oog op Jesus se koms. Hy wil mos weet wat het jy met jou talente gedoen. Luister mooi: die dienaar van Christus spreek skerp oor misbruik van rykdom. 1. Vir elkeen wat God se wil ken, 2. in elke moeite van die lewe en 3. met die oog op die een gerig.

Wie is die dienaar van Christus? Dit is natuurlik Jakobus. Hy noem homself 'n "dienskneg", letterlik 'n slaaf van Jesus Christus. Vandag is dié dienaar nie in die eerste plek die dienaar van die Woord nie. Dit is eerstens die kerk waaraan die bediening van die Woord toevertrou is. Dit is die kerk wat in die Woord en in die onderhouding van God se gebooie geoefen is. Dit is die gemeente waar ryker en armer mense saamleef en geoefen is in die daadwerklike liefde ten opsigte van mekaar. Daar lê 'n bemoediging in dié sig op die eie gemeente: met die oog op 'n tyd waarin armoede begin toeneem. Ons weet hoe om mekaar en ons naaste te dien: met ons stoflike en geestelike rykdom. As dienaars, slawe van die Here. Ons weet: op die dag van sy koms sal Hy jou as sy dagloner uitbetaal.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)