Druk jou afhanklikheid van die Here in jou planne maar saam uit!

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Jakobus 4
Preek Inhoud: 

31-12-92

JAKOBUS 4 : 13-17

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 90 : 1, 2
Gebed
Skriflesing: Psalm 90, Lukas 12 : 16-21
Sing: Ps. 49 : 3, 4, 6
Tekslesing: Jakobus 4 : 13-17
Prediking
Sing: Geloofsbelydenis
Dankgebed
Kollekte
Sing: Ps. 90 : 7, 8, 9
Seën

Gemeente van ons Here Jesus,

dit is die Bybelteks waar die betekende woorde "Deo volente" of "as die Here wil" wegkom. Jak. 4:15 leer ons om te sê: "as die Here wil en ons lewe, dán sal ons dit of dat doen". Dié "D.V.'s" het 'n bekende formule geword oral waar ons in die kerklike lewe planne bekendmaak. "D.V. dinsdagaand sal die kerkraad vergader". Dit is opreg bedoel, maar het ook 'n holruggeryde uitdrukking geword. Want ons sê dit minder maklik vir mekaar as dat ons dit in 'n offisiële afkondiging skryf.

Mense maak planne. Ons wil mos vorentoe werk. Op die laaste aand van die jaar 1992 maak dit sin om daaroor te dink hoe ons vir die komende jaar ons planne sal maak en hoe laasjaar se planne by ons geleef het. Daar is mos die landspolitiek wat vol is van planne maak en steun vir die beplanning win. Watter maatreëls moet geneem word om die geweld te beteuel? Hoe kan die veelpartye oorleg in bane gelei word? Daar is ook die kerklike lewe wat vir beplanning vra. Hoe moet die beroepingswerk opgeneem word? Is afstigting nog wel in die prentjie? En daar is elkeen se persoonlike lewe. Watter stappe moet daar gedoen word om die werk en die inkomste te verseker? Elkeen het sy eie vrae en maak sy eie beplanning.

Jakobus se brief staan midde-in die lewe. Die broer van ons Here Jesus het die gemeentes, die wêreld rondom hulle en die daelikse lewe van die jong christene mooi geken. Ek preek vir u vanaand oor:

DRUK JOU AFHANKLIKHEID VAN DIE HERE IN JOU PLANNE MAAR SAAM UIT!

  1. beplanning is nodig,
  2. planne kan verdamp,
  3. die Here het 'n plan,
  4. beplan met die Here.

1. BEPLANNING IN NODIG (vs 13)

Jakobus laat mense wat planne maak, praat. "Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan én 'n jaar lank daar bly én handel drywe én wins maak ...". En ... en ... en: soos trommelvuur word die verskillende gedagtes oor die toekoms afgevuur. Dit klink asof jy mense hoor praat, terwyl die een nog groter planne as die ander het. Op daardie wyse dryf Jakobus al die spot met sulke mense. Dit is ook hoekom hy begin met: "Kom nou, julle wat sê ...". Daarin klink 'n bietjie spot deur. "Kom nou", laat maar hoor wat sê julle! Hoor self wat julle sê!

Dit is natuurlik volkome normaal om jou sake te beplan. Dit is goed om 'n bietjie agter Jakobus se spot te kyk. Die mense wat hy beskrywe, is handelsreisigers: groothandelaars wat oor die wêreld getrek het. Vanouds was die karavane in die Ooste bekend. Op kamele, esels en ander lasdiere is die vragte vervoer. 'n Bekende voorbeeld van 'n ryk karavaan en 'n ver trek was Abraham s'n. Die handel wat in ons eeu met vragmotors, treine, skepe en vliegtuie vervoer word, moes in daardie tyd sonder meganiese krag gedoen word. Daar was bloot die krag van die diere om op die land en van die wind om oor die see jou vrag te vervoer. Dit was ook normaal om meer as 'n jaar op pad te wees, voordat jy weer huis toe kon terugkeer. 'n Voorbeeld uit die wêreld van die Nuwe Testament is Lydia uit die stad Thiatyra wat purper verhandel het. Of sy vir haar werk moes reis, weet ek nie. Die lang sakereise as sulks was egter normaal. Dit klink byna modern. Ook by ons word daar beplan om vir 'n jaar op 'n ander plek te werk. Of dit gebeur dat die bedryf jou na 'n ver plek uitstuur.

Onthou u nog wat ek in eerdere preke oor die brief van Jakobus vertel het? Dit is waarskynlik die eerste boek van die Nuwe Testament wat geskryf is. Dit onthul vir ons dus die omstandighede van die tyd waarin die jong kerk oor die hele Palestina en die noordelike lande soos Sirië verstrooi is. Oor die hele Israël is die eerste gemeentes geplant. Daar was arm én ryk mense wat deur die Evangelie van die Verlosser oortuig is. Die ryk en die arm lidmate was aanvanklik almal lede van die Joodse volk. Jy sien hoe in die vervolg, in Jakobus 5 die rykes opnuut spesiaal aangespreek word. Daar hoor ons dieselfde woorde: "Kom nou, julle". Dit is hier dus ook mense wat in 'n posisie is om vir werksdoeleindes verre reise te maak. Mense word tot geloof geroep, terwyl hulle in hul werk en beroep bly!

Ook al spreek Jakobus spesiaal die groothandelaars aan, dit het tog ook betrekking op ons: gewone mense wat op kleiner skaal planne moet maak. Jy moet jou skoolwerk vooruit beplan, sodat jy nie te laat begin werk nie. Jy moet sollisiteer en jouself bemark om werk te kan kry. Wanneer jou huis te klein is, dink jy oor die moontlikhede om 'n groter een te soek. 'n Besigheidsman moet vorentoe opdragte hê.

2. PLANNE KAN VERDAMP (vs 14)

Nee, beplanning as sulk word deur Jakobus nie bespot nie. Die reis en verblyf, handel dryf en wins maak is egter sonder 'n besef van afhanklikheid van die Here gedoen. Skerp sê Jakobus dan ook: julle wat so maak, "julle weet nie eers wat môre sal gebeur nie". Hoe lyk julle lewe môre? Dit kan jy mos nooit met sekerheid sê nie?! "Julle is maar 'n damp wat 'n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn" (vs 14). Die lewe word in die Bybel meer dikwels met 'n damp vergelyk. Of, soos in Psalm 90, met gras wat die een dag staan en die volgende een afgesny word. So kan jy planne ook sommer verdamp. Wanneer jy jou laaste asem uitblaas. Skielik val alles plat.

'n Mens dink by hierdie woorde van Jakobus aan die gelykenis uit Luk 12 wat die Here Jesus eendag vertel het. Die ryk man het al hoe groter voorraadskure gebou, totdat hy tevrede agteroor gesit het. Hy het vir homself kon sê: "Mens, hou op met werk: eet, drink en leef lekker". Baie kort besluit die Here Jesus deur God te laat praat: "Jy dwaas, vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word". Ter inleiding het die Here gesê: "die mens is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie". Jakobus voeg daaraan toe: die mens is selfs in sy beplanning nie seker nie. Jy moét weet jy is van die Here alleen afhanklik.

Ons dink by materialisme dikwels bloot aan: te groot liefde vir stoflike besittings. Materialisme is egter ook: dat die stoflike, tasbare dinge in jou lewe nie deur die Here geregeer word nie. Jy onttrek dan die werk, die soek van 'n huis, die werksopdragte, 'n kontrak ensovoorts aan die gebed, aan die soek van die seën en die leiding van die Here. Asof daar nie ook 'n geestelike dimensie aan dié dinge is nie. Asof die Here nie ook die tegniese en vakkundige dinge moet géé nie. Ja, alles wat stoflik is kan so maklik verdamp. Net soos jy wat stof is. Wanneer die Here jou wil laat lewe, is ook die planne van jou lewe - saam met jou - van Hom afhanklik.

3. DIE HERE HET OOK 'N PLAN (vs 15)

Daarteenoor stel Jakobus nou hoe ons wel moet praat: "As die Here wil en ons lewe, sal ons dit of dat doen" (:15). Jy kan self invul wat dit is wat jy beplan om onder die seën van die Here môre te doen. "As die Here wil ...": sal God saamstem met my planne? Planne maak is mos: doen wat ek wil, omdat ek meen dat dit verstandig of lekker of noodsaaklik is. Sal God saamstem?

Vers 15 kan op twee maniere vertaal word. Dit kan beteken: "as die Here wil dat ons lewe, sal ons ..." of "as die Here wil, sal ons lewe en ...". Die ou 1933/53-vertaling het die eerste, die NAB die tweede moontlike vertaling.

Dit maak nie eintlik 'n verskil nie. Of ons môre sal leef, hang alreeds van die wil, die planne van God af. Dit het ons alreeds besef toe Jakobus die lewe met 'n damp vergelyk het. Dit is 'n gawe te mag leef! Dus is dit 'n gawe om op basis daarvan te mag werk, te mag beplan. Dit is 'n gawe om jou kos te mag verdien en wins te maak.

Wanneer daar 'n nuwe jaar begin, mag jy besef: ons mag lewe! Die Here het 'n plan vir ons. Nee, jy ken die plan wat die Here met jou lewe het, nie heeltemal nie. Jou taak is om in afhanklikheid van Hom self verantwoordelik te wees. In die raamwerk mag ons begin werk en beplan. Hy gee met die lewe 'n opdrag. Dan sal ons vorentoe ook besef dat Hy elke stap moet seën. Dan sal Hy dit in sy groot plan opneem en gebruik. "As die Here wil ...". Sulke woorde vind ons dikwels in die Nuwe Testament, veral: wanneer die apostel Paulus oor sy reise in diens van die Here praat. Dan sê hy elke keer: as God wil. Selfs die mens wat oortuig is hy werk vir die Here in spesiale diens, moet nog daeliks sy afhanklikheid besef.

4. BEPLAN MET DIE HERE (vs 16-17)

Spreek dit maar uit wanneer jy 'n plan bekend maak: "As die Here wil dat ons lewe, sal ons ...". As jy dit uitspreek, maak jy duidelik hoe afhanklik jy is. Jy noem God se naam, sodat die ander daarin mag deel dat jy in voorlopigheid beplan. In Christus se gemeente mag ons dit vir mekaar laat weet. Want almal is op dieselfde wyse afhanklik. Dié besef maak dit ook maklik om dit te waag om jou planne met 'n ander, jou broer of suster in die Here, te bespreek. Ons ken mos die geopenbaarde wil van God saam. Daaraan sal ek al my planne toets. Op dié wyse vermy ons grootpratery, asof ek sommer my plan bekend maak. Beplan met die Here! Dit wil sê: jy het dit eers in gebed aan Hom, aan sy seën en aan sy leiding opgedra. Vervolgens waag jy dit ook om die voorlopigheid van jou plan uit te spreek. Dan kan jy saam met jou geloofsgenote wag op die daadwerklike goedkeuring van God.

Bid ook altyd of Hy jou só wil behoed: dat Hy jou nie in jou eiewysheid laat slaag, terwyl dit tot jou skade sal wees nie. Dit kan gebeur, wanneer jy teen God se duidelike wil in handel. Laat dit 'n skrikbeeld vir jou wees: dat die Here jou laat beplan en so laat dwaal. Jy weet tog van beter. Jy weet wat goed is in die oë van God. Die laaste vers van Jakobus 4 is dan ook: "Wie dan weet om goed te doen en dit nie doen nie, vir hom is dit sonde". Jy kan baie weet oor God se wil, maar as jy dit nie in jou planne saamneem nie, sal dit jou tot sonde word. Wanneer jy nie oor die belangrike of gewone dinge bid nie, laat jy na wat goed en nodig is. Dan is dit sonde. Wanneer ons nie meer ons afhanklikheid van die Here uitspreek nie, word ons omgang oppervlakkig. Druk jou afhanklikheid maar saam uit!

Ja, die Here het planne laat geluk. Daar was voortgang in ons lewe. Daar was ook planne wat platgeval het. Dan moet ons vra: hoekom? Het ons die planne te weinig aan die Here opgedra? Het ons te min ons afhanklikheid hardop uitgespreek en dit saam te min besef? Kom ons leer vorentoe hoe, veral ook in die lewe as gemeente, die Here se wil gesoek word. Ja, wat die Here geopenbaar het, ken ons saam en sal ons saam verwerk. Wanneer ons egter die pad vorentoe soek, sal ons saamstaan en saam baie bid oor die dinge wat ons met oortuiging beplan het. Na die plan, moet altyd die gebed volg. En terwyl ons oor die ding bly bid, herinner ons mekaar aan die wysheid: as die Here wil dat ons lewe, sal ons die dinge doen.

Dié afhanklikheid sal ons as gemeente kan begelei. Om ook in die beplanning gemeente van Christus te wees. Hoe sal ons die beroepingswerk hanteer? Eers sal daar in die eensgesindheid van die geloof en met wysheid beplan moet word. Watter pad wys die Here? Is Hy besig om 'n predikant op ons pad te lei? Na dié beplanning kom die gebed. En by die gebed die besef: as die Here wil, sal ons lewe! Met die geskenk van die lewe sal ons aangaan met elke werk van die geloof! Laat ons dié besef steeds uitspreek. Tot eer van God, tot opbouing van mekaar se geloof en tot 'n getuienis vir die wat dit mag hoor.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)