Jesus Christus maak Sy mense in Sy gemeente vry

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2018-01-22
Teks: 
Jakobus 2
Preek Inhoud: 

05-01-92

JAKOBUS 2 : 1-5

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 19 : 1, 2
Wetslesing: Levitikus 19 : 1-5, 9-18
Sing: Ps. 19 : 5, 7
Skriflesing: Jakobus 2 : 1-13
Gebed
Kollekte
Sing: Ps. 37 : 2, 3, 10, 11
Tekslesing: Jakobus 2 : 1-5
Prediking
Sing: Ps. 37 : 15, 16, 21
Dankgebed
Sing: SB. 44 : 2, 3
Seën

Gemeente van ons Here Jesus,

as daar voor die begin van dié diens 'n mens binnestap wat u nie ken nie, sal u vir hom 'n sitplek vrymaak? Of laat u hom soek totdat hy êrens vooraan 'n plekkie vind? Ag, ons hoop dat die ergernisse oor die mense wat dink hulle het 'n reg op hul eie plek, verby is, nou dat ons in die môre wykdienste het. Die kerk is tog 'n vryplek in hierdie wêreld? Vir "vryplek" gee my woordeboek die verklaring: dit is 'n plek waar gevry word, ja. Ek wou dié woord eintlik vermy, maar dit het nog 'n tweede, 'n pragtige betekenis. 'n Vryplek is veral 'n sitplek waarvir nie betaal behoef te word nie. Die kerk: vryplek, plek van vryheid by God in die wêreld. En ons het altyd nog ons gesamentlike aanddienste.

Kom ek vra anders: hoe voel jy, wat maak u, wanneer onverwags die staatspresident instap? Hy is op hoogte van die VGK, dus sou dit kon gebeur. Hy is Dopper, dit weet ons. Ons sal tog plek máák vir hom? En wat sal u dink, wanneer sommer so 'n lidmaat van Mamelodi in ons erediens instap en vir 'n plek langs u soek? Dit kan ook sommer iemand anders wees, iemand wat sigbaar nie tot ons sosiale klasse behoord nie. Jy kan sien hy is anders as wat jy is. Hoe welkom is hy? Hoe verwelkom ons mekáár in die kerkdiens?

Dit is 'n situasie soos Jakobus in sy brief beskryf. Hy ken die situasie in die groeiende gemeentes. Daar kom mense van baie verskillende agtergrond by mekaar. Mense wat "anders" is, is nou plotseling my broers en susters. Die punt wat Jakobus wil maak is: daar mag nooit "aanneming van die persoon" in die kerk wees nie. Dit wil sê: ons mag nie langer op bloot uiterlike dinge die mense beoordeel nie. En nie sulkes bevoordeel nie. Ek preek in opdrag van Christus oor:

JESUS CHRISTUS MAAK SY MENSE IN SY GEMEENTE VRY

want julle kry

  1. vryheid in die verstrooiing
  2. 'n vryplek teen voorregte.

1. JY KRY VRYHEID IN DIE VERSTROOIING

My vorige serie van preke het gehandel oor die "vreemdelingskap" van die christene in hierdie wêreld. Op die jeugkongres mog ek 'n lesing daaroor hou. In altwee gevalle het ons ook Jak. 1:1, die opskrif van hierdie brief bekyk. "Jakobus, 'n dienskneg van God en die Here Jesus Christus, aan die twaalf stamme wat in die verstrooiing is". Laat my 'n paar dinge in u herinnering terugroep. Hierdie brief is waarskynlik die eerste van al die briewe wat in die Nuwe Testament geskryf is. Dit het nog nie sover gekom dat daar gemeentes in die wêreld ontstaan het. Paulus het nog nie of hy het skaars met sy sendingreise begin en nog nie een van sy briewe geskryf nie. Ons is in die tyd na die verstrooiing van die kerk van Jerusalem oor die land Israël.

In Hand. 8 lees ons: "en daar het 'n groot vervolging teen die gemeente ontstaan, en almal is verstrooi oor die streke van Judea en Samaria, behalwe die apostels" (8:1). "En die wat verstrooi was, het die land deurgegaan en die woord van die evangelie verkondig" (:4). Ons hoor dan een voorbeeld: die prediking in Samaria deur die evangelis Filippus. Later, in Hand. 9, hoor ons dat die vervolging afgeneem het: "In die hele Judea, Galilea en Samaria het die kerk 'n tyd van rus en vrede belewe. Dit het gevestig geraak en in gehoorsaamheid aan die Here gelewe. Die kerk is deur die Heilige Gees gesterk, en die ledetal het toegeneem" (9:31). Daar is nou nie net een kerk in Jerusalem meer nie, daar het orals gemeentes ontstaan! Jesus Christus is sigbaar besig om mense vry te maak en in sy gemeente 'n vaste plek te gee.

Aan daardie gemeentes skryf Jakobus sy brief. Wie is hy?? Daar is twee bekende manne wat met net die naam "Jakobus" genoegsaam bekend was. Van die apostel Jakobus seun van Alpheus is niks meer bekend nie; hy kan dus ons skrywer nie wees nie. Daar is egter nog die ander apostel: Jakobus, broer van Johannes, een van die twee seuns van Sebedeüs. Van hom weet ons dat hy slagoffer van die voortsetting van die vervolgings in Jerusalem geword het. In Hand. lees ons: "in dié tyd het koning Herodes (Agrippa) party van die gemeentelede laat vang en hulle mishandel. Hy het vir Jakobus, die broer van Johannes, met die swaard laat doodmaak" (12: 1-2). Dit is moontlik dat die apostel Jakobus in die kort tyd sedert die begin van die vervolging ons brief geskryf het: hy wat 'n bloedgetuie van Christus geword het, in die jaar 44 onthoof.

Daar is nog 'n ander Jakobus wat baie bekend geword het. Dit was Jakobus, een van Jesus se broers. Hy het "die oudste", die erkende leier van die gemeente in Jerusalem geword. Ons hoor hom praat in Handelinge 15 en ook in Paulus se briewe word sy naam partykeer genoem. Judas, die skrywer van die klein briefjie, noem homself: "die broer van Jakobus". Altwee was broers van ons Here Jesus. Dit is moontlik dat hulle hulself beskeie tog net "diensknegte van die Here Jesus Christus" noem. Ook die oudste van Jerusalem het slagoffer van die vervolgings geword. Die Joodse geskiedkundige Josefus vertel dat in die jaar 62 deur die hoëpriester hom laat stenig het. Jakobus, die bloedbroer van die Here, is ook 'n bloedgetuie. Ek dink hy is die skrywer van ons brief. Jakobus die apostel is al so spoedig vermoor. Daar was vir die kerke in Israel meer tyd nodig om te groei.

Hy skryf vir "die twaalf stamme in die verstrooiing". Dit is 'n mooi naam vir die kerk wat uit die Jode, uit die twaalf stamme van Jakob wat Israel genoem is, opgebou is. Jakob: Jakobus dra die naam van die aartsvader. Soos Jakob op 'n dag sy twaalf seuns toegespreek het, so skryf Jakobus vir sy broers en susters, die christene wat die 12 stamme in die geloof in Christus mag verteenwoordig. Jode wat christene geword het, bly nogtans Jode. Die ou volk mag egter nie meer hul bestaan bepaal nie. Binne die ou grense van die beloofde land het daar 'n nuwe ballingskapstyd gekom, die "verstrooiing". Dit is sekerlik geen straf nie, dit is 'n groot seën vir almal. Die doel van ons brief is: hoe sal die gemeentes hulself onderskei van hul volksgenote? Hoe is christene andere mense, christene, in hul eie land? Ek wil in die weke wat voorlê, met u die hele brief ondersoek met hierdie vraag: hoe werk Jakobus die opskrif van sy brief in die inhoud van sy brief uit?

Die kerk: daar mag jy vry wees en vrede met God geniet. Die kerke in die hele Israel het 'n tyd van rus en vrede gekry, het ons gehoor. Die vervolginge het tydelik afgeneem. Dit is heerlik. Hoe is egter die kerke in hulle interne lewe? Jy kan darem mooi van voorspoed geniet, maar dit maak die voorspoed nog nie tot 'n gesonde ding nie. Weet u nog hoe om vry te wees in die verstrooiing: u wat ook 'n gemeente temidde van die wêreld en dus in die verstrooiing is?

Vryheid: dit is identies met die geloof en die erfgenaam van die koninkryk wees. Soos Paulus sê: "staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het" (Gal. 5:1). Ons het barmhartigheid by God gevind. Dit is geestelike rykdom. Dit is egter nie ongrypbare vryheid nie. Nee, Jakobus het ook van "die wet van die vryheid" gepraat. Dit is die gebooie van ons Here Jesus Christus wat jou in die vrede met God wil bewaar. Vrygespreek van sonde sê ook: God wil jou lewe vry hou van dinge wat jou beskadig. Dus mag jy in die gemeente van Christus ook verwag: ek sal hier door my broer of suster nooit beskadig word nie. Want in die kerk kry ek rus van dinge wat my in die wêreld pla. Dit is ook: die voorregte waaroor ek struikel. Kom ons hoor in die tweede plek:

2. JY KRY 'N VRYPLEK TEEN VOORREGTE

Nou kom Jakobus met die voorbeeld van die ryk man wat in die samekoms instap. Mens kan sien hy is welvarend. Ek dink dit gaan oor mense wat van buite die kerk kom, wat aangetrek is deur wat hulle oor die christlike kerk gehoor het. Die voorganger wat op 'n hoër gedeelte sit, sien die ryk man instap. Hy is bly en nooi hom om op 'n goeie plek te kom sit. Dis moontlik 'n aanwins vir die gemeente (minstens vir die VVB)! Daar stap ook ander mense in wat nog nie lidmaat is nie. Byvoorbeeld: 'n man aan wie jy sien kan hy is arm. Sy klere is vuil, dalk stink hy. Daar word vir hom nie 'n plek vrygemaak nie. Nee, hy mag êrens bly staan of op die grond sit, by die verhoging waarop die voorganger sit. Hy mag sy voete ruik, ag wat, hy stink self ook.

Ja, die wonder van die verkondiging van die Evangelie is dat dit almal wil bereik. God kies nie op grond van uiterlike sake nie. Hy soek en sien die harte. Vir ons, lidmate van 'n kerk wat al 'n lang bestaansgeskiedenis het, is die gemeente 'n vaste geheel. Daar is min mense wat sommer instap, omdat die verkondiging hulle genooi het. Ons ken mekaar. Daar is mense wat ryk is, maar hulle wys dit nie in die erediens nie. Ons weet dit, omdat ons oor mekaar praat. Daar is ook mense wat betreklik arm geword het, as ons dit met die jare van voorspoed vergelyk. Uiterlik is daar egter min verskille. Ons behoort almal tot 'n spesifieke groep in die samelewing. En tog: ook in 'n gemeente wat 'n hegte en sterke gemeente sou kon wees, word mense maklik op grond van uiterlike sake beoordeel. Wat gehoor word, is dikwels nie wat jy sê nie, maar wie dit is wat iets sê. Wat jy sê word beoordeel op wat ek van jou weet. En dit is baie in ons gemeente. In Jakobus 2 kom ons opnuut agter: die kerk moet 'n vryplek teen voorregte wees. Jou "standing" in die kerk is vir die Here totaal onbelangrik. Hoe die geloof van jou hart is en hoe jy dit wys: dit is wat elkeen waardevol maak.

Die kerke in Israel het nog nie vaste patrone bereik nie. Daar was groei en dus verandering. Rykes en armes het tot geloof gekom en saam 'n gemeente begin vorm. As julle nou, sê Jakobus, mekaar op uiterlike gronde of op hoorsê gaan beoordeel, "het julle onderskeid gemaak en het regters geword met verkeerde oorlegginge" (vs. 4). Vir almal is daar in die kerk van Christus die een voorreg: dat God julle uitverkies het "as rykes in die geloof en erfgename van die koninkryk wat Hy beloof het aan die wat Hom liefhet" (vs. 5). Dit is die enigste voorreg wat tel. Verder sal die kerk 'n vryplek teen voorregte wees. Die rykdom wat elkeen mag wys is: die uitverkiesing tot die geloof in ons Here Jesus Christus.

Armes en rykes is die een samelewing van die kerk is 'n ding wat daar altyd sal wees. Die evangelie praat nie teen rykdom as sulk nie. Tog is dit die armes wat spesiaal genoem word. God het veral: "die armes van hierdie wêreld uitverkies as rykes in die geloof". Net so is die armes deur die HERE in sy wette altyd beskerm. Jesus Christus sê: "salig is julle, armes, want aan julle behoort die koninkryk van God" (Lk. 6:20). Nee, die arme mens is in die Bybel die behoeftige wat hulp by die HERE soek, terwyl die ryke maklik op homself vertrou. Die arme wat hulp soek: hy vind dit by die HERE op 'n spesiale wyse. Mens moet dikwels arm word om sy nood te leer ken. Die HERE kan hom mos ryk in wonderlike dinge maak. Hulle kry van God die reg op 'n volle plek in die kerk.

Dit sê ook: in die kerk kry almal rus. Die daaglikse lewe is vol van beoordeling en voorregte. Invloedryke mense word gestreel en armes besteel. Gewone mense stamp hulle kop, magtige mense dra hul koppe hoog. In die kerk is jy deur die Here in genade aanvaar en mag daarom verwag deur sy broers en susters voluit aanvaar te word. Dit gee rus aan sterke en aan swakke mense. 'n Vryplek: 'n plek waarvir nie hoef betaal te word nie. Jesus Christus maak sy mense in sy gemeente vry: om sonder verhindering sy Woord te kom hoor, om sonder angs hul koppe te buig en te bid, om sonder skaam te voel te lag en te huil.

Broers en susters, waar Jakobus oor die armes praat leer ons ook dat daar nie 'n teenstelling tussen die denke oor die kerk en die denke oor die samelewing mag wees nie. Die sosiale lewe is vir die HERE altyd al baie belangrik. Sy wette beskerm die arme en die vreemdeling, almal wat anders lyk as wat ek is. Dit wil sê dat die God van die verbond die werklikheid van die lewe in sy genade omsluit. Die verbond van God omsluit die lewe. Dit is die lewe waarin die Evangelie van genade mense kom soek en vind: die mense wat in die week so verskillend was, is in die kerk een in die vryheid van Christus. Die verbond van God: dit is in Ou en Nuwe verbond dieselfde. Die HERE verkies in die eerste plek jou tot geloof en tot die beloftes. Jesus Christus maak jou vry: om in die geloof te lewe en sy beloftes as jou rykdom te aanvaar. En geen mag jou die ander daarin hinder nie. Inteendeel, as daar by God nie "aanneming" van jou persoon was nie, maar jou inteendeel as sy kind aangeneem het, sou ons dan nie haastig elkeen en mekaar aanvaar? Elkeen wat arm en anders is en ryk mog word!

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)