Wie beproef word, moet bid

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Jakobus 1
Preek Inhoud: 

PREEK OOR JAKOBUS 1: 2-8

LITURGIE:
L. Jak. 1: 1-12 & Jak. 5: 7-20
Ps. 34: 2, 8
Ps. 34: 7
Ps. 66: 7, 8, 9
Ps. 81: 12
Ps. 40: 8

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons het die afgelope weke gekonsentreer op die boodskap van die boek Job.

Ek wil dié serie preke vandag afsluit met 'n preek oor 'n teks uit die brief van Jakobus.

Dit lyk 'n hele sprong: van Job na Jakobus.

Maar die sprong is darem nie te groot nie.

Die hooflyn regdeur die boek Job was mos dat God 'n mens swaar kan beproef en met moeite en verdriet oorlaai.

Maar die tema sny ook Jakbus aan in sy brief. Al dadelik in die eerste verse praat hy van beproewing en lydsaamheid.

Ons vertaling wissel die woord "beproewing" af met die woord "versoeking" Ons kan daardie twee woorde gebruik om te onderskei dat wanneer God ons lewe in die moeite bring om ons te beproef, die duiwel ook altyd daar is om ons te versoek; om ons opstandig en verbitterd te probeer maak sodat ons ons rug op God draai. Maar in die Griekse teks staan in albei gevalle dieselfde woord. Want dit is maar net twee kante van een en dieselfde saak.

As daar 'n krisis in 'n mens se lewe kom, is sowel God as die duiwel met daardie mens besig. Kyk na Job!

Jakobus het ongetwyfeld die voorbeeld van Job in gedagte gehad. Later in sy brief herinner hy mos met name aan Job se voorbeeld, soos ons gelees het.

Maar daarom durf Jakobus sommer te skrywe: "Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val" -kom ons vertaal liewer: beproewinge-. Jakobus glo beproewings is 'n goeie ding. Ons word nie minder daarvan nie. Ons word op die ou end maar net béter daarvan! Kyk na Job.

Dus kan jy bly wees as ook jou lewe in die krisis gebring word!

Dit lyk, gemeente asof Jakobus nie mooi weet waarvan hy praat nie. Hoe kan hy skrywe dat ons bly moet wees met beproewings??? Hoe kan hy skrywe: hoe meer, hoe beter??

Dit mag dan so wees dat vir my eie beswil is as God beproewings oor my lewe uitstort, maar weet Jakobus wel uit ondervinding hoe moeilik beproewings kan wees? Mens kan tog nie bly daarmee wees nie?

Ja, hy weet, broeders en susters. Hy weet dat 'n mens in sy kleingeloof en kortsigtigheid onder die swaarte van aanhoudende beproewing kan beswyk. En dat dit baie, baie moeilik kan wees om beproewings positief te aanvaar.

Hy roep dan ook nie net op om bly te wees met beproewings nie, maar hy adviseer ons ook om in so'n geval te bid.

Dit is iets wat in die boek Job nie eintlik spesiale aandag gekry het nie. Maar Jakobus lê daarop juis baie nadruk in sy brief. Dit is ook die hoofboodskap van ons teksverse. En na dié boodskap wil ik vanoggend nog met u luister.

Ek kan dit soos volg saamvat:

WIE BEPROEF WORD, MOET BID

  1. DAAR MAG IN ONS GEBED EGTER GEEN EIEBELANG WEES NIE
  2. MAAR DIT MOET 'N GEBED OM WYSHEID WEES
  3. EN DIT MOET 'N GEBED SONDER TWYFEL WEES.

1. Dit is wel belangrik dat ons ons teks nugter en sorgvuldig lees, gemeente. Want mens kán hierdie gedeelte sommer misverstaan.

Want wanneer Jakobus sê in vs. 5 dat die HERE "aan almal eenvoudig gee, sonder om te verwyt", mag ons nie die gevolgtrekking daaraan verbind dat ons dus enigiets van die HERE maar kan vra nie. Enigiets: of die HERE die ongeneeslike siekte wil wegneem, of die HERE alhoewel die dokters vasgestel het dat een vcan ons beide onvrugbaar is, ons nogtans kinders wil gee; of Hy dit so wil lei dat ons 'n groter en meer gerieflike huis vind.....

Wat ons ook al bid, sal die HERE gee.

U weet natuurlik dat veral gebedsgenesers van verskeie sektes op hierdie wyse Jakobus se woorde gebruik. Hulle bied aan om saam met jou te bid en hulle belowe jou jy kan van enige siekte of kwaal of ander beproewing ontslae raak.

Ek het 'n nommer van die maandblad van so'n sekte in hande gekry, die organisasie "Johan Maasbach Wêreldsending". Die een wonder na die ander word daarin vertel: mense wat na gebed sommer van 'n vreeslike hoofpyn wat hulle jare lank gepla het, verlos is; 'n vrou wat aan 'n gevaarlike kankergeswel geopereer moes word en reeds teater toe gery is, maar toe het die gemeente so vir haar gebid dat die dokters in die teater die geswel nie meer kon vind nie: dit het op 'n wonderbaarlike wyse heeltemal verdwyn; daar was iemand met ernstige verlammingverskynsels wat na die gelowige gebed skielik weer alles kon doen; mense wat doof was, kon sommer weer hoor ernsovoort, ensovoort.

U kan dit ook hier in Pretoria raakloop. Daar is sektes wat 'n groot aantal voorbidders het. Vir omtrent elke probleem 'n gespesialiseerde voorbidder wat daaroor saam met jou kan bid. Een vir kanker, een vir moeite en spanning in jou huwelik, een vir probleme in die opvoeding van jou kinders.... En hulle waarborg: enige probleem kan weggebid word.

Dit alles lyk wonderlik, gemeente. Wie wil nie graag van sy siekte, of ander probleme verlos word nie? En watter weg is beter as die weg van die gebed tot die HERE?

Maar hierdie hooggespanne verwagting van die gebed ís in werklikheid 'n hoogs gevaarlike misleiding.

Want in die eerste plek: die voorwaarde waarop jou gebed alleen verhoor sal word, is dat jy absoluut nie mag twyfel nie. Die voorbidders beklemtoon dit baie sterk teenoor jou. So sê Jakobus dit mos: jy moet "in die geloof bid, sonder om te twyfel, want hy wat twyfel is soos 'n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word. Want dié mens moenie dink dat hy iets van die HERE sal ontvang nie".

Maar gevolglik veroorsaak hierdie hooggespanne verwagting van die gebed maar net 'n al hoe groter twyfel wanneer dit blyk dat die gebed nie verhoor word nie! Wanneer die beproewing nie weggeneem word nie.

En dit gebeur dikwels. U ken mos almal dié realiteit, broeders en susters. God kan ten spyte van ons vurige gebede 'n ongeneeslike kanker laat voortwoeker totdat ons broeder of suster sterf. Hoe ons ook al gebid het, ons kind het hom nie bekeer nie maar hom wel aan die kerk onttrek. En ons kon die egskeiding met ons gebede nie voorkom nie.

Moet ons daaruit die gevolgtrekking maak dat ons geloof dus nie reg is nie?? Moet ek u verwyt dat daar blykbaar te veel twyfel in u hart leef en dat die HERE dáárom u gebed nie verhoor het nie?

Moet ek by u op bekering aandring omdat u gebed nie opreg genoeg was nie?

Ek is seker ek sou die twyfel juis in u lewe sáái! Ek sou u tot vertwyfeling dryf en die ellende in u lewe nog groter maak.

Ja, ek weet, daar word spektakulêre gevalle van 'n wonderbaarlike genesing aan ons gewys. En ek sal nie probeer om te ontken dat sulke genesings kán plaasvind nie. Ek weet naamlik dat ook die duiwel 'n groot mag ontvang het om wonders te doen en om daarmee die mense te mislei. Die towenaars in Egipte was ook 'n hele ruk in staat om dieselfde wondertekens soos Moses en Aaron te verrig. En Paulus herinner in sy brief aan Timotheüs daaraan, hy noem selfs die name van twee wat klaarblyklik hulle leiers was: Jannes en Jambres. Paulus waarsku dat derglike duiwelse misleiding nog steeds kan voorkom.

Ook in die boek Openbaring word ons daarop voorberei: die duiwelse dier uit die see en sy profeet, die dier uit die aarde ontvang die mag om indrukwekkende wonders te verrig. Dit wek die indruk asof hulle oor góddelike kragte beskik. Maar in werklikheid is dit duiwels.

En dit mag u ook maar gerus sê van daardie wonderbaarlike genesings as gevolg van die gebed, gemeente.

Geen mens word daardeur digter tot God gebring nie. Inteendeel.

Want wat as na verloop van tyd die siekte terugkeer? As die ou moeite opnuut kop uitsteek? En dit gebeur natuurlik! Dan kan die gevolgtrekking alleen maar wees, dat die sterk geloof wat daar eers was, seker maar besig is om te verdwyn. En as dan nuwe gebede nie meer help nie, draai mens op die ou end ontnugterd of selfs vertwyfeld sy rug op die HERE.

Maar daar is nog 'n tweede rede waarom so'n oorspanne verwagting van die gebed 'n duiwels misleiding is: as die gebed 'n maklike middel is om van al jou kwale en probleme verlos te word, wat is dan die diepste dryfveer van jou gebed? Soek jy in jou gebed regtig die HERE? Of soek jy feitlik maar net jou self??

Verstaan u dat die gebed, maar vervolgens ook die hele godsdiens op hierdie wyse soos vanself 'n saak van eiebelang word? Jy is bereid om die HERE te dien as jy daarmee die genesing van jou siekte kan verdien. Of die herstel van jou huwelik. Of die einde van jou aanhoudende finansiële sorge.

Dié wat die gebed aanprys as die vinnige oplossing vir al jou probleme, is instrumente van die duiwel wat nie godsvresende nie, maar selfsugtige mense kweek. Wat mense maak soos die satan Job graag wou hê! Mense wat die HERE alleen gebruik om self beter daarvan te word.

Wat die toppunt van vroomheid lyk, is dus in werklikheid 'n duiwelse misleiding.

2. Nee, gemeente, ons kan rêrig nie enige moeite, verdriet of siekte sommer wegbid nie. En Jakobus roep ons ook glad nie op om dít te probeer nie.

Juis nie. Hy roep ons op om bly te wees met allerhande beproewings. Ons het beproewings nodig. God laat dit juis opsetlik in ons lewe kom om ons ook dáárdeur op die vreugde van die nuwe paradys voor te berei. Teleurstelling en teëslag lewer vir ons maar net voordeel op. Beproewing hou 'n mens klein. Of maak 'n mens weer klein. Klein teenoor die groot God. Leer ons weer wat ons is: klei in die hand van die Pottebakker. Maar tog ook: saam met ons Here Jesus Christus kinders van ons hemelse Vader. Ons word deur beproewing herinner aan dit wat ons feitlik verdien het, vanweë ons sondes. En as ons weer klein voor God gemaak is, besef ons eers weer ten volle hoe groot die losprys was wat daar vir ons lewe betaal moes word: die dood van God se Seun. En so bring beproewing 'n mens nog digter by sy God.

Ons het dit alles gesien in Job se worsteling. Hy het baie swaargekry, maar die wins daarvan was groot.

Dit alles bedoel ook Jakobus in vs. 3 en 4 van ons teks.

En daarom kan hy ons natuurlik onmoontlik aanbeveel om die beproewing te probeer wegbid. Hy wil juis hê ons moet die beproewing met blydskap ondergaan.

Nogtans roep hy ons op om te bid.

Maar wát wil hy hê moet ons bid?

Jakobus skryf: "As iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt".

Wie deur God beproef word mag van God wel wysheid vra.

Wat bedoel Jakobus met "Wysheid"?

Wysheid is nie dieselfde soos "kennis", "'n goeie verstand" nie. Iemand kan 'n groot verstand hê en baie diploma's en grade behaal en nogtans nie wys nie, maar so dom soos 'n donkie wees.

In die Skrif word allereers die HERE self "wys" genoem. Paulus en Judas noem Hom

in hulle briewe selfs "die alleenwyse God". Job het van Hom bely: "By Hom is wysheid en mag; Hy het raad en verstand".

Dié wysheid van die HERE is vir almal sigbaar in sy skepping. Die digter van Psalm 104 sing: "Hoe talryk is u werke, o HERE, U het hulle almal met wysheid gemaak". U vind dit ook in Spreuke 3: 19: "Die HERE het deur wysheid die aarde gegrond, deur verstand die hemele vasgestel".

Maar sy wysheid blyk nie minder uit sy hérskeppingswerk nie. Paulus skryf in sy eerste brief aan die gemeente te Korinthe en loflied op die wysheid van God wat die wysheid van die mense dwaas gemaak het. In die gekruisigde Christus het die wysheid van God die mooiste op aarde geskitter.

Maar daarom behoort ook beproewings vir almal wat van Christus is, tot die wyse herskeppingsplan van God. God leer ons om dieselfde pad soos Christus te loop: deur lyding heen na die heerlikheid toe. Sodat ons al hoe duideliker sal leer hoeveel daar nodig was om vir ons die pad na die heerlikheid weer oop te maak.

Maar om dit te leer, om dit al hoe duideliker raak te sien, om die beproewings waarin God ons onderdompel positief te aanvaar, ja, om daarmee self te kan bly wees- daarvoor moet 'n mens nou ook veel wysheid ontvang. Daar is wysheid van bo voor nodig om te aanvaar: God pla my nie, Hy speel nie 'n wrede spel met my nie, maar hy volg 'n wyse beleid met my lewe. Dit gebeur vir my eie beswil.

En Jakobus spoor ons aan: dié wysheid mag julle altyd van die HERE vra. "As iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid". En wie van ons het van homself voldoende wysheid om die beproewings blymoedig te kan verduur, broeders en susters? Daarom sê Jakobus: moet maar baie bid!

As u swaarkry, as die "waaroms" u uit die slaap hou- moenie u vuiste bal nie, maar u hande vou. Moenie opstandig vloek nie, maar gelowig bid.

In die beproewing is altyd ook die duiwel daar om u verbitterd en onverskillig te maak. Gee vir hom geen enkele inkomplek nie. Maar bid: "Vader, lei my nie in versoeking nie, maar verlos my van die Bose. " Gee aan my u Heilige Gees, die Gees van wysheid wat ook my wys kan maak. Wat my kan leer om die bedoeling van u beproewings beter raak te sien. Wat my leer om nie selfgesentreerd te bid nie. Dalk is hierdie siekte baie beter vir my as gesondheid. Dalk wil God hierdie verdriet gebruik om my geloofsblydskap te verdiep. Dalk is daardie oorlog en die economiese krisis ten gevolge daarvan nodig om ons van die gevaarlike materialisme te verlos. Dalk moet ons deur hierdie kerkstryd heen om gelouter daaruit tevoorskyn te kom.

As mens midde-in die moeite is, raak jy sommer kortsigtig, broeders en susters. Maar dan mag ons die wysheid van die HERE vra wat ons van ons kortsigtigheid verlos.

En dít sal ons altyd van die HERE ontvang. Dit gee Hy dan ook rojaal. Eenvoudig, dus sonder om later daarop terug te kom en sonder om 'n teëprestasie te verlang. En sonder om te verwyt. Hy is juis bly as ons dít van Hom vra!

Dit is die mooiste wat ons kan vra. Want so gou as wat ons dit begin vra ís ons al besig om sy wyse beleid met ons lewe te aanvaar en te eerbiedig.

3. Maar dan moet ons wel "in die geloof bid", sonder om te twyfel. Jakobus voeg dit wel heel nadruklik toe. En hy gebruik krasse bewoordings vir die mens wat twyfel as Hy van God die wysheid vra.

Hy vergelyk hom met 'n seegolf wat deur die wind opgejaag en heen en weer gedrywe word. U verstaan daardie beeld? So'n golf het geen enkele vastigheid nie. Dit lê op niks vas nie. Dit word alle kante opgejaag soos die wind waai. 'n Golf is die teenoorgestelde van 'n rots, die ander beeld wat in die Bybel dikwels gebruik word, juis om die vastigheid van die geloof aan te dui.

Jakobus noem 'n twyfelaar ook 'n "dubbelhartige man".

Is Jakobus nie bietje te hard is sy veroordeling nie, gemeente? Wie van ons word nooit deur twyfelvrae gepla nie? Is ons dan almal soos seegolwe? Is ons almal dubbelhartige mense? !

Maar ons moet Jakobus mooi verstaan. Die twyfel wat hy veroordeel is nie soseer die worsteling -wat ons almal wel ken- met die "waarom? " van God se weg met ons nie. Jakobus veroordeel nie ons worsteling om te aanvaar dat God se weg met ons rég is nie. Hy weet dat sulke vrae by ons sommer opkom. Omdat ons nog wysheid kortkom. Daarom juis leer hy ons om te bid.

Maar die twyfel wat hy hier veroordeel is 'n vorm van ongeloof. Moet maar kyk: Jakobus plaas dié twee teenoor mekaar in vs. 6: wie wysheid kortkom moet bid "in geloof, sonder om te twyfel".

'n Twyfelaar wonder of daar regtig wel 'n God bestaan. En of dit regtig so is dat alles, ja: álles uit die hand van God ons toekom.

Dis ook hoekom Jakobus hom 'n dubbelhartige mens noem. Feitlik moes ons vertaal met "'n mens met 'n gesplete siel". Hy vertrou nie op die HERE met sy héle hart en sy héle siel nie. Omdat hy nie met sy hele verstand op die HERE en op sy Woord vertrou nie maar plek gee aan allerhande kritiese vrae. Is siekte nie maar gewoon die gevolg van 'n natuurlike gebeure nie, veroorsaak deur bakteries, virusse ens.? Daardie aardbewing, of daardie tyfoon- ons weet mos hoedat dergelike natuurrampe ontstaan? En daardie padongeluk- kan ons die skuld daarvan op 'n God afskuif?

Maar dan kyk Jakobus nie na Ateïste nie, nie na volslae ongelowige mense nie. Nee, hulle sal in elk geval nie bid nie. Maar Jakobus kyk na ons, wat deur die Evangelie geroep en saamgeneem is. Wat geleer het om te bid en te vertrou.

Ook by ons kan die twyfelvrae 'n al hoe groter plek in ons hart begin inneem.

En dan bid ons nog wel. Dit is 'n gewoonte wat jy nie sommer los nie. Maar ons bid al hoe meer "op hoop van seën", in plaas van in die rotsvaste sekerheid dat ons nie tevergeefs bid nie. Ons sluit ons gebed gewoontegetrou nog wel af met "Amen", maar of dit wat ons gebid het, regtig wel so waar en seker is- ons is nie meer oortuig daarvan nie.

Ons gebed het 'n probeer geword: dalk help dit. Dalk is daar tog 'n God. En: Baat dit nie, skaad dit nie.

Die gebed het een van 'n aantal moontlikhede geword wat ons probeer om bo ons ellende uit te groei.

Maar dié mens moenie dink dat hy iets van die HERE sal ontvang nie, sê Jakobus. En hy waarsku dat so'n mens nooit rus sal vind nie. Die wat in sy hart en siel ruimte bied aan die twyfel, sal ervaar dat die twyfel hom al hoe meer in beslag begin neem. Daar kom maar net al hoe meer vrae.

Daar is moderne filosofe vandag wat beweer twyfel is iets noodsaakliks. Dis die leer wat ons omhoogneem na die toppe van die waarheid toe. Ander mense reken, geloof is nou maar eenmaal iets onvermydeliks. 'n Tonnel waar elke mens met 'n gesonde verstand deurheen moet om in die land van die lig te kom. Maar Jakobus waarsku: twyfel is 'n moeras waarin jy al hoe dieper wegsink. As jy nie met God wandel nie, verloor jy op al jou weë die sekerheid. Nie net in tye van beproewing nie, maar ook in dae van voorspoed. Jy begin al hoe meer vraagtekens plaas: Wat is reg en wat is verkeerd? Wie bepaal dit? Wie waarborg my dat dit wat my oë sien die werklikheid is? Wat is feitlik die sin van ons bestaan?

En die twyfel lei tot vertwyfeling, wanhoop, eensaamheid.

Dis dié dat God se Woord ons oproep om sulke twyfel uit ons hart en uit ons denke uit te ban. En om daarenteen eenvoudig te glo.

Geloof is: nie aan jou eie "gesonde verstand" die laaste woord gee nie, maar aan die HERE die eerste en die laaste Woord gun. Onvoorwaardelik buig voor sy openbaring. Jou daarop verlaat al is daar ook heelwat wat jou verstand te bowe gaan.

Geloof is: ophou om te redeneer. Redeneer met jouself, redeneer met ander. Want dan is ons mense wat ons self aan ons eie hare uit die moeras uit probeer optrek.

Ons moet die tou wat God ons toegooi, gryp: sy Woord vol beloftes. En dan maar vol vertroue vra of die HERE ons na Hom toe wil trek. Ons veral ook in die beproewing wil vashou.

As ons so bid, in geloof, as ons so ons hande slaan om die tou van God, broeders en susters, bly daar in ons lewe nog wel veel verdriet, teleurstelling, pyn ens.

Maar dan groei daar terselfdertyd 'n al hoe groter blydskap dat ons Hemelse Vader selfs teëslag laat meewerk ten goede vir die wat Hom liefhet.

Dan sal geen beproewing, hoe swaar ook al, ondraaglik wees nie.

En dan sal ons eendag, as ons die toets deurstaan het, die kroon van die sal ontvang wat die HERE beloof het aan die wat Hom liefhet.

Ongetwyfeld.

AMEN.

(Pretoria, 26 Augustus 1990)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)