'n Ampsdraer moet sy genadegawe aanhoudend aanwakker

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
I Timótheüs 4
Preek Inhoud: 

PREEK OOR 1 TIMOTHEUS 4: 16

LITURGIE:
L. 1 Tim. 4: 9-16
5: 17-22
Ps. 25: 2, 3
Ps. 25: 6
Ps. 119: 1, 5, 14
Ps. 19: 6
Ps. 19: 7 na bevestiging ampsdraers
SB. 49: 3, 5, 6

Broeders en susters,

In dié diens ontvang ons weer 'n aantal nuwe ouderlinge en diakens. Hulle sal net-nou onder handoplegging in hul amp bevestig word.

Ja, onder handoplegging. Dit is al 'n baie oud gebruik onder God se volk. Moses het vir Josua die hande opgelê toe hy die verantwoordelikheid vir Israel aan Josua oorgedra het. Ons Here Jesus Christus self het sy hande seënend oor sy dissipels uitgebrei toe Hy na die hemel opgevaar het. Die apostels het die hande opgelê aan die 7 broeders wat in die gemeente van Jerusalem gekies is om die bediening van die tafels beter te reël. En blykens ons teks van vanoggend is ook Timotheüs onder handoplegging aangestel as helper van Paulus.

So'n handoplegging is 'n sigbare oordrag van die seën wat namens God self saamgegee mag word. Die handoplegging sê sigbaar dat die Here self jou sal bekwaammaak vir die taak waarvoor Hy jou geroep het. Die Heilige Gees van Christus wil sy kragte in jou lewe ontplooi om jou tot 'n bruikbare instrument in sy diens te maak.

Paulus praat in ons teks m. b. t. Timotheüs van 'n "genadegawe" wat onder handoplegging gegee wordt.

Feitlik moes nie net ek net-nou de hande aan die nuwe ampsdraers oplê nie, maar die hele kerkraad as die verteenwoordigers van die hele gemeente. So sou dit meer in ooreenstemming met die Skrif wees. Ook Timotheüs is in sy amp bevestig "onder handoplegging van die ouderlinge" (vs. 15). Letterlik vertaal staan daar: van die "raad van opsieners".

Ongelukkig het daar in die loop van die kerkgeskiedenis 'n versmalling opgetree, sodat nou nog alleen die predikant die hande oplê, waardeur die indruk gewek word asof die predikant 'n hoër amp as die ander kerkraadslede het.

Maar oor dié saak sal ek nie nou uitwei nie. Dalk kan ons binne ons kerkverband nog 'n keer daarop besin.

Want die genadegawe wat God aan sy knegte gee, is gelukkig nie van die aantal mense wat die hande oplê afhanklik nie. Dit is selfs glad nie van daardie handgebaar afhanklik nie. Die gawe kom uit Christus se hande, wat dit aan almal gee wat deur Homself tot 'n spesiale taak in sy kerk geroep word. Hy gee ook vanoggend sy Heilige Gees as 'n genadegawe aan die broeders wat net-nou bevestig sal word. Hy bemoedig mans wat van hulleself onbekwaam is in sy diens. Hy gee die gawes wat hulle benodig.

Maar -en dit is die les van ons teks van vanoggend- Christus se gawes werk nie outomaties nie. Ons moet met die gawes aan die werk. Ons moet hulle gebruik en ontwikkel. Sodat daar vooruitgang in ons ampsdiens sigbaar word (sien die vers voor ons teks).

In vs. 14 het die apostel Paulus vir Timotheüs geskrywe: "Verwaarloos nie die genadegawe wat in jou is nie.. ". Dit is negatief uitgedruk. In sy tweede brief aan Timotheüs sê die apostel dit veel positiewer (1: 6) Hy skryf daar dat Timotheüs sy genadegawe moet "aanwakker". Die vuur van die Gees word deur Christus in die lewe van sy ampsdraers gelê. Maar die vuur moet nie smeul nie. Dit moet tot 'n helder vlam aangewakker word waardeur baie ander mense aan die brand gesteek word.

Die aansporing moet ek vanoggend aan ons ampsdraers voorhou -die wat nuut bevestig word en die wat alreeds in die amp dien, en daartoe moet ek dus ook myself reken. Alhoewel die ampsdraers in ons teksvers spesiaal aangespreek word, mag die hele gemeente homself betrokke voel. In die aansporing van die ampsdraers blyk mos God se liefde en sorg vir sy gemeente.

Ek verkondig u:

'N AMPSDRAER MOET SY GENADEGAWE AANHOUDEND AANWAKKER

DEUR

  1. OP SY LEER EN LEWE TE LET
  2. EN SO HOMSELF EN ANDER TE RED

1. Om 'n ampsdraer in die huis van die lewende God te kan word, moet mens aan 'n hele aantal vereistes voldoen. Paulus gee 'n uitvoerige opsomming in hoofstuk 3 van sy brief aan Timotheüs. Dit is vereistes sowel m. b. t die leer as m. b. t die lewe.

'n Ampsdraer met bekwaam wees om te onderrig. Hy moet die leer van die Skrifte helder en indringend aan ander mense kan doorhou.

Hy moet ook in sy eie daaglike lewe onberispelik wees: trou in sy huwelik, 'n goeie pa vir sy kinders, gasvry, geen drinker, geen strydlustige, geen geldgierige....

Voordat iemand in die amp van ouderling of diaken kan dien, het ander mense noulettend na hom gekyk.

Maar wie eenkeer tot die amp geroep is, moet voortaan ook noulettend na homself kyk!

Want hy was blykbaar wel geskik om 'n ampsdraer te kan wórd. Maar hy moet ook 'n geskikte ampsdraer bly.

Hy het dalk daarna verlang om ouderling of diaken te mag word. En dan het hy 'n voortreflike werk begeer. Maar noudat hy die amp ontvang het, het hy sy doel nie bereik nie. Nou begin dit eers! Nou is daar 'n sware verantwoordelikheid op sy skouers gelê, en hy sal hom tot die uiterste moet inspan om die verantwoordelijkheid goed te vervul.

"Let op jouself en op die leer", skryf Paulus vir die ampsdraer Timotheüs. Op daardie twee, leer en lewe, wys hy in hierdie verse telkens.

Een van die eerste vereistes vir 'n ampsdraer is dat hy bekwaam is om te onderrig. Maar dit impliseer dat hy 'n grondige kennis van die Skrifte en van die belydenis van die kerk moet hê. Hy moet dwaalleer kan uitken en weerlê. Hy moet weet hoedat in die kerkgeskiedenis dieselfde tipe van dwaalleer in telkens 'n ander gewaad kop uitgesteek het.

Wanneer iemand as ampsdraer bevestig word, mag veronderstel word dat so'n kennis in voldoende mate by hom aanwesig is. Maar dié kennis moet op peil gehou word. Dit moet al hoe meer groei. Want daar is telkens nuwe situasies en ontwikkelinge in die kerklike lewe wat om nuwe antwoorde vra. Daar kom nuwe vorme van dwaalleer waarteen die gemeente gewapen moet word.

Daarom moet 'n ampsdraer homself dwing om in 'n vaste reëlmaat met God se Woord besig te bly. Daar moet in sy program tyd vrygemaak word vir Bybellees en besinning. Nie net 'n predikant moet 'n studeerkamer en 'n biblioteek hê nie. Ook ouderlinge en diakens benodig goed gevulde boekrakke en 'n binnekamer. Anders sal hulle al hoe meer soos bandopnemers word wat telkens dieselfde stigtelike sinne herhaal en dieselfde gedeeltes uit die Skrif voorlees, maar wat met die mond vol tande sit as daar onverwagte vrae aan hulle gevra word en as hulle met moeilike probleme gekonfronteer word.

Volhardende persoonlike Skrifstudie is nodig om vervul te bly met verwondering en diepe dankbaarheid oor die Evangelie van God, die betroubare Woord dat daar vergewing is vir sondaars. En vernuwing van hul lewe.

En daardie verwondering en diepe dankbaarheid is nodig om op die regte toonhoogte in die gemeente te kan spreek, te kan vertroos en vermaan en onderrig.

Dit sal vir hulle die noodsaaklike vrymoedigheid gee om die gesonde leer met gesag aan God se gemeente voor te hou.

Want God se Woord moét met gesag gebring word.

"Beveel en leer dit", het Paulus vir Timotheüs geskrywe in vs. 11 van ons tekshoofstuk. En die aksent lê op "beveel".

Die Evangelie moet nie aanbeveel word nie, dit moet as 'n bevel van God aan die mense voorgehou word.

'n Ampsdraer word nie geroep om te diskusseer, waarby hy dan sy siening gee nie. Hy hoef nie die gesonde leer met verkoopkuns probeer aanpraat nie. Hy hoef nie die mense met persoonlike belewenisse probeer oorreed nie. Dis sy taak om te beveel: "So sê die HERE! Glo dit en gehoorsaam daaraan"

Die Bybel praat ook nooit oor die 'bereidwilligheid om te glo' nie. Die Bybel praat van die 'gehoorsaamheid van die geloof'. Die geloof maak gehoorsaam. En dus moet die Evangelie ook met die oproep tot onvoorwaardelike onderwerping gebring word.

Dié tipering van die taak van ampsdraers is van belang, juis ook die tyd waarin ons lewe. Daar word wel baie gepráát oor en na aanleiding van die Bybel. Maar hoe dikwels klink daarby ook die erns van die bevél om te glo? Hoe dikwels klink die ernstige oproep tot bekering?

Ook binne die kerk dreig die gevaar dat die amp tot een van die vele vorme van menslike hulpverlening word en dat die lidmate ook slegs dít van hul ampsdraers verwag: betrokkenheid in siekte en verdriet, hulp by maatskaplike probleme, 'n kuiertjie op verjaarsdae of herdenkingsdae. Maar nie meer nie. In elk geval geen bevele nie. Ampsdraers wat hul amp trou bedien, moet daarop voorbereid wees dat hul werk nie by elkeen in die gemeente as 'help' ervaar sal word nie. Mense wil van nature self aan die woord wees en hulle wil dat daar eindeloos na hulle geluister word. Maar mense begeer feitlik nie dat hul mond gestop en dat hul verplig word om na Gods bevele te luister nie.

Daarom kan troue ampsdraers wel op verset en kritiek stuit. En dan gebeur dit dikwels -so is mense nou maar eenmaal: - dat die lewe van die ampsdraer aangegryp word om jou aan die die leer wat die ampsdraer bring, te onttrek. As 'n ampsdraer hom nie in 'n oewerlose gepraat laat vasvang nie, maar eenvoudig en padlangs namens die Here tot geloof en bekering oproep, kan dit sommer gebeur dat daar vir hom gesê word: En wie is jy nogal om dit vir my te kom sê? Wat van jouself? !

Daarom moet 'n ampsdraer nie net op die leer nie, maar ook op sy eie lewensstyl let.

Paulus beklemtoon in hierdie verse vir Timotheüs ook die belang daarvan.

Timotheüs was nog tamelik jonk. En juis ook die leeftyd van 'n ampsdraer kan 'n mooie verskoning wees om jou aan sy woorde te onttrek. 'n Jeugdige leeftyd van 'n ampsdraer kan inderdaad moeite vir die mense gee. Paulus kleineer nie die beswaar van die leeftyd nie. Dit is weliswaar geen onoorkoomlike beswaar nie, maar dit plaats 'n ampsdraer wel voor 'n ekstra opgawe. Dit vereis so'n gedrag dat mens soos vanself aan die leeftyd leer verbykyk en ook 'n jonkman as 'n ouderling aanvaar.

Wanneer die apostel daarom vir Timotheüs sê (vs. 12): "Laat niemand jou jonkheid verag nie", beteken dit nie: Moenie omgee as hulle jou oor jou jonkheid verag nie. Maar Paulus spoor sy jeugdige helper aan om sélf hom geen minagting op die hals te haal nie. Timotheüs moet self daarvoor sorg dat die mense sy leeftyd nie teen hom kan gebruik nie.

Daarom vervolg die apostel ook met: "... maar wees 'n voorbeeld vir die gelowiges in woord, in wandel, in liefde, in gees, in geloof, in reinheid". 'n Kneg van die Here moet in alle opsigte 'n voorbeeldige lewe lei. Sy eie lewe moet 'n kragtige aanbeveling van sy bevele wees.

Konkreet wys die apostel aan in watter opsig 'n ampsdraer se lewe 'n voorbeeld moet wees: "in woord"- die wat die heilige Woord van God aan ander mense mag voorhou, moet in sy eie woorde, ook wanneer hy nie as ampsdraer optree nie, met daardie heilige Woord in ooreenstemming bly. 'n Ampsdraer wat by sy werk en by partytjies 'n heel ander taalgebruik besig as tydens die besoeke wat hy bring, moet nie op 'n ontvanklike gehoor reken nie.

Daarnaas noem Paulus die "wandel". En daarmee bedoel hy die hele lewe. Die ampsdraer se lewe moet in alle opsigte 'n duidelike en vaste koers hê. Hy moet die weg van die HERE nie net wys nie, maar dié self ook loop. Dis nie genoeg om in bepaalde opsigte 'n loflike gedrag te vertoon nie. As jou lewensstyl in ander opsigte vloek met God se Woord, gee jy vir die mense 'n pragtige verskoning om na jou nie te luister nie.

Die apostel noem ook die "liefde". 'n Ampsdraer kry met soveel uiteenlopende mense te make, ook met minder aangename mense, en hy stuit op soveel sonde, dat daar baie liefde nodig is om hulle almal as jou broeders en susters in die Here Jesus Christus te bly beskou. Die liefde is lankmoedig. Die liefde leer om te vergewe. Die liefde leer om nie verbitterd te raak nie.

"Wees 'n voorbeeld in Gees", skryf Paulus. Die vernuwende werking van die Heilige Gees moet allereers in 'n ampsdraer sigbaar en merkbaar wees.

Ook in "geloof" moet 'n ampsdraer 'n voorbeeld wees. Hy moet nie sy werk verrig met die selfversekerde houding van 'n mens wat meen dat hy die kerk tot bloei sal bring nie. Hy mag ook nie sy amp bedien met die krampagtige houding van 'n mens wat meen dat hy die kerk moet bewaar en bekeer nie. Maar hy moet homself in alles afhanklik weet van sy Here in die hemel en sy ampswerk gelowig aan Hom toevertrou. 'n Gelowige ampsdraer is 'n biddende ampsdraer. Hy soek sy krag bo en weet homself klein.

As laaste noem die apostel "reinheid". Ampsdraers kom met allerlei mense in aanraking. Hulle moet partymaal heel vertroulike gesprekke voer en heel intieme skuldbelydenisse aanhoor. Dan is daar altyd die gevaar van onreinheid. Onsuiwere, wellustige gedagtes. Daarna ook verkeerde woorde en gebare. En tenslotte die daad. Hoeveel ampsdraers het nie alreeds in die sonde teen die Sewende Gebod geval nie?

Dit is dus nie maklik om 'n voorbeeldige ampsdraer te wees nie. Daarvoor is veel oefening en veel volharding nodig. Mens moet jou daarop toelê.

Maar elke ampsdraer wat so maak, wat vlytig in hierdie dinge is sodat dit vir almal duidelik is dat hy vooruitgaan- na hom sal geluister word. Sulke ampsdraers is kragtige ampsdraers. Hulle is kragtige instrumente in diens van die Gees van Christus tot redding van hulself en van die wat hulle hoor.

2. Dit is mos die doel van die ampsdiens in Christus se gemeente: dat die lewe gered word.

Waarom moet 'n ampsdraer 'n voorbeeld in leer en lewe wees?

Sodat die mense hom sal eer as 'n troue ouderling of 'n gewaardeerde diaken? Sodat hy die geliefde leraar sal wees?

Nee, God het hom geroep om sondaars te red. De swaard van die Heilige Gees is aan hom gegee om daarmee die sonde in die lewe van God se kinders te bestry en weg te sny. Hy moet verlore sondaars weghaal uit die heerskappy van die duiwel en die dood, en hulle in die Koninkryk van God binnelei. En al die skatte van dié Koninkryk vir hulle ontsluit: die herstelde vrede met God, die troos selfs in die ergste verdriet, die vernuwing van die lewe, die voorbereiding op die nuwe paradys.

'n Ampsdraer moet die nuwe volk van God op aarde help daarstel.

Dié drang moet daar agter sy ampswerk wees.

Dít moet die hartstog van sy woorde wees: "Die liefde van Christus dring my. Laat julle met God versoen!" Dit moet ook in sy mees kragtige vermanings en waarskuwings bly deurklink: "Pas tog op dat julle Hom wat spreek nie afwys nie. Kyk, nóu is dit die tyd van die welbehae, nóu is dit die dag van heil! Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God. Want onse God is 'n verterende vuur".

Die begeerte om almal vir God te red moet die dryfveer by elke huisbesoek wees. Dit mag nie die verpligte jaarlikse kuier wees nie. Maar dit moet die aanhoudende worsteling wees om die verlossing deur Christus in die lewens in te dra en tot volle bloei te bring. Sodat in heelwat gevalle een besoek jaarliks beslis nie voldoende is nie.

Dáárom moet ampsdraers volhardend met die gesonde leer besig bly.

Dáárom ook moet hulle hul daarop toelê dat hul lewe 'n kragtige onderstreping van hul leer is. Hulle moet dit in hul eie lewe wys hoedat gehoorsaamheid aan die Woord van die waarheid die hele lewe verander. Verlos.

"Want deur dit te doen sal hulle die wat hulle hoor -en sien!- red". Sulke ampsdraers is reddende ampsdraers vir talle mense.

Maar "deur dit te doen, sal sulke ampsdraers ook hullesélf red".

Want 'n ampsdraer moet hom allereers self onderwerp aan die Evangelie wat hy met die bevel tot bekering en geloof aan ander mense voorhou. Die swaard van die Gees sny allereers in sy eie lewe.

'n Ampsdraer is geen afrigter wat maar net langs die veld sy aanwysings gee nie. Hy is 'n voorganger wat self in die voorste geledere die wedloop van die geloof moet loop. En wat hom daarvoor moet beywer dat hy nie miskien, terwyl hy vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie.

Daarom beteken die ampsdiens van 'n troue en ywerige ampsdraer veel vir talle mense. Sy voorbeeld is aanmoedigend, meeslepend. Maar dit beteken nie minder vir homself nie. Dit bring ook sy eie lewe digter by God.

Wee dié ampsdraer wat die genadegawe wat hy gekry het, verwaarloos het en mee skuldig staan aan die ewige dood van mense wat aan sy sorge toevertroud was. God sal hul bloed van sy hand eis.

Maar vir elke goeie en getroue dienskneg sal die Here eendag sê: "Mooi so, oor weinig was jy getrou, oor veel sal Ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou Heer".

AMEN.

(Pretoria, 18 November 1990)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)