'n Huwelik is 'n gawe om dankbaar te aanvaar

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
I Timótheüs 4
Preek Inhoud: 

PREEK OOR 1 TIM.4: 4, 5

LITURGIE:
Ps. 128: 1, 2, 3
Gebed
L. 1 Tim. 4: 1-5
T. 1 Tim. 4: 4, 5
Preek
Ps. 89: 6
Geloofsbelydenis
Ps. 89: 3, 4
Huweliksformulier
Ps. 31: 1 voor die gebed
Gebed
Ps. 31: 15 na die gebed
Kollekte
Ps. 145: 2, 6, 9

Broeders en susters, bruidspaar,

'n Huwelik 'n 'n geskenk. As 'n seun en 'n dogter mekaar vind en mekaar liefkry en begeer om hulle lewe lank in 'n trouverbond saam te gaan, kry hulle mekaar as 'n wonderlike geskenk uit die hand van die HERE.

Maar dit is met hierdie geskenk wel soos met alle gawes wat ons van God ontvang: ons moet dit leer gebruik vir diè doel waarvoor God dit gegee het. Ons moet dit op die regte wyse hanteer en benut. En so moet ons hierdie mooie geskenk ook mooi hou.

Want anders verknoei ons al gou God se ryke gawe en word dit vir ons 'n ramp. 'n Huwelik wat as 'n fees begin het, kan al gou 'n verskrikking word as dit nie so ontvang en so gebruik is soos wat God van ons vra nie.

Ek het vir hierdie diens 'n Skrifgedeelte gekies wat ons leer hoe om die gawes van God soos 'n huwelik op die regte wyse uit sy hand te ontvang en te gebruik.

Ek het die boodskap wat ek u uit God se Woord mag voorhou soos volg saamgevat:

'N HUWELIK IS 'N GAWE OM DANKBAAR TE AANVAAR

  1. GOD HET DIT TOT SY EER GESKEP
  2. ONS MOET DIT TOT SY EER GEBRUIK.

1. Die woorde van ons teks is deur die apostel Paulus geskrywe in reaksie op 'n bepaalde dwaalleer, broeders en susters. Paulus berei sy medewerker Timotheus voor daarop dat hy in die gemeente waar hy tans werk met mense wat 'n ingrypende vorm van onthouding predik te make sal kry. Daar is mense wat leer dat 'n mens eintlik nie moet trou nie, dat jy jou so veel as moontlik van voedsel moet onthou........

Dit is vir ons vandag nie meer mooi duidelik nie watter tipe van mense dit was nie. Paulus gee in sy briewe nie 'n uitvoerige beskrywing van hulle agtergrond en opvattings nie.

Maar die uitleggers stem wel saam daaroor dat ons moet dink aan kerklede wat uit godsdienstige oortuigings 'n strenge vorm van askese aanbeveel het, die onthouding van enige lewensgenieting om jou heeltemal aan die "hoëre dinge" te kan wy. Hulle het selfs afstand gedoen, en hulle broeders en susters daartoe opgewek, van 'n huwelik en die heweliksverkeer met 'n lewensmaat. Hulle het slegs die mees noodsaaklike kos en drank gebruik, omdat hulle hierdie tipe van goed as 'n belemmering beskou het om heeltemal in "die geestelike dinge" te kan opgaan.

Wanneer die apostel Paulus Timotheus hiervoor waarsku, gebruik hy wel baie skerp uitlatings: hy praat van mense wat verleidende geeste en leringe van duiwels aanhang. Hy noem hulle leuenaars en huigelaars.

Is dit nodig?

Ons mag dan dalk nie met hulle sienings saamstem nie, vir ons mag hulle verreikende onthouding dalk bietjie oordoen wees, maar daar is mos wel dinge wat erger is. Is hulle strewe nie 'n goeie ding nie? Matigheid, selfbeheersing, sober wees- daarmee kan tog niks fout wees nie? Oordaad skaad, sê ons mos.

Is dit nie baie meer noodsaaklik om juis teen presies die teenoorgestelde te waarsku nie? Teen diè mense wat hulleself in alles wil uitlewe, wat hulle begeertes nie weet om te beteuel nie, wat in hebsug maar na alles gryp?

Die kerkraad het vandag meer sorg oor diè laastes as oor broeders en susters wat op meer as een punt vir geheelonthouding kies.

Maar het u in vs. 1 van 1 Tim. 4 gesien dat nie Paulus nie, maar die Heilige Gees so skerp teen daardie vorm van askese waarsku, broeders en susters? Dit is God se Gees self wat daardie predikers van onthouding in sulke skerpe bewoordings veroordeel. Want die Gees deursien dat daar by daardie mense, wat nie net self sober wil lewe nie maar ook aan ander die onthouding as 'n lewenswet predik, 'n diepliggende kwaad skuilgaan. Daar is by hulle naamlik 'n heeltemal verkeerde opvatting oor ons verlossing deur Jesus Christus.

Hoe dink hulle?

Hulle plaas die hoëre en die laere dinge teenoor mekaar.

Die hoëre dinge is die hemelse dinge, die laere is die aardse.

En dan trek hulle diè onderskeiding in hulle eie lewe deur: jy het 'n siel en 'n liggaam. Jou liggaam behoort by die aardse. laere dinge. Maar jou siel maak deel uit van die hoëre, hemelse dinge.

En nou is verlossing vir hulle dit: dat jy jou soseer konsentreer op die sake van jou siel, dat jy heeltemal van jou ligaamlike begeertes en behoeftes loskom. Jy moet as 'n geestelike mens bo die aardse genietinge uitstyg. Die gewone natuurlike lewe, van eet en drink, van trou en liefdespel, van kinders grootmaak en 'n besigheid beheer het hulle geminag. Hierdie tipe sake was vir hulle feitlik "verwerplik", die woord wat die apostel in ons teks gebruik. 'n Mens moet probeer om bo-uit te kom wat dit staan jou verlossing in die pad.

Hulle sal baie beslis nie die HERE vir hierdie tipe van goed dank nie. Hulle beskou dit juis as 'n bedreiging vir hulle toewyding aan die HERE. Dit trek jou aandag maar net van Hom af.

Dit alleen al is 'n groot misvatting, broeders en susters. Daar is in hulle denke 'n totaal verkeerde beoordeling van God se goeie skepping. Maar wat nog erger is: daaruit vloei ook 'n totaal verkeerde opvatting oor die mens self voort! Hierdie onthoudingsleer lei tot menslike hoogmoed en selfversekerdheid. Want wie so dink, erken feitlik nie meer dat die mens voor God dood deur misdade en sondes is nie. Immers, volgens hierdie leer sit die sonde nie eintlik in die mens sèlf nie, maar in die dinge waarmee hy daagliks te make kry. Die sonde is iets van die natuurlike, ligaamlike, aardse wêreld rondom jou. En dus moet die mens ook nie van die sonde wat in hom woon, verlos word nie, maar hy moet verlos word van die sondige wêreld waarin hy woon. Hoe meer hy afstand daarvan neem, homself daaraan ontworstel, hoe meer hy die sonde en ellende agter hom laat.

Maar, broeders en susters, dan is dit dus nie meer Christus wat ons van al ons sondes red nie, maar die mens self maak so.

Die een mens kom daarin dan ook verder as die ander een. Die een klim hoër as die ander. Want nie elkeen kry dit reg om die grootst moontlike onthouding te bereik nie. Dit blyk ook wel uit die voorbeelde wat Paulus hier noem: huwelik, voedsel... Dit is nou maar eenmaal die eerste lewensvoorwaardes, en daar is dan ook baie mense wat daaraan bly vassit. Net die meergevorderdes, die meergeoefendes, die regtig ingewydes bereik die ideaal.

Hierdie dwaalleer, waarvoor die Heilige Gees nadruklik gewaarsku het, was daar nie net in Paulus en Timotheüs se dae nie, broeders en susters. Dit is 'n ideaal wat telkens weer in die kerkgeskiedenis kop uitgesteek het: ons het dit teruggesien (in die Montanisme), by die kluisenaars in die eerste eeue na Christus, paalheiliges selfs wat hulle heeltemal uit die wêreld teruggetrek het en maar net op 'n paal in die woestyn gesit en mediteer het; later het die kloosters gekom, by die Wederdopers het die wêreldmyding 'n sentrale rol gespeel, en ek kan wys op die mystiek.

Maar dit is 'n gevaar wat ook ons nog bedreig: dat ons die sonde en die verkeerde in die dinge rondom ons soek en nie in ons eie hart en lewe nie. Ook by ons kan daar sommer die gedagte leef en dit kan die opvoeding van ons kinders beheers: as jy maar bepaalde sake uit jou lewe weghou: as jy maar nie fliek of disco toe gaan nie, as jy bepaalde boeke en blaaie maar nie lees nie, as jy die kontak met bepaalde mense vermy- dàn hou jy die sonde op 'n afstand en het jy jouself aan die goddeloosheid ontworstel.

In ons teks van vanaand word hierdie hele onthoudingsleer as 'n gevaarlike misleiding gekorrigeer. Egte gelowiges moet van beter weet! Hulle ken mos die waarheid, soos Paulus dit net voor ons teks uitdruk. Hulle het mos 'n oog vir die werklikheid, beteken dit. God se Heilige Gees het hulle daarvoor weer 'n oog gegee. Hierdie werklikheid: dat die wêreld tot in al sy onderdele God se wêreld is, sy Skepping, die kunswerk van sy hande wat Hy tot sy eer tevoorskyn geroep het. En waarop Hy selfs na die sondeval nie die rug gedraai het nie. Inteendeel, Hy het sy eie Seun in die wêreld gestuur om sy skepping te red. Om vir Homself 'n volk te verlos van mense wat Hom weer herken en erken in die ontelbare wonders van die Skepping en alles wat Hy geskape het met danksegging uit sy hand ontvang. Egte gelowiges keer hulle nie van nie natuurlike lewe in hierdie wêreld af nie. Hulle keer hulle juis weer daarnatoe, omdat hulle in alles die hand van hulle God en Vader ontdek. Die verlossing deur Jesus Christus trek ons nie uit hierdie wêreld los en uit hierdie wêreld weg nie, maar sit ons daar midde-in terug en leer ons om met ander oë as die ander mense rond te kyk.

Verwonderde oë wat ontdek: die kwaad sit nie in die dinge as sodanig nie. Alles wat deur God geskape is, is goed. Dit was mos die refrein in Genesis 1: "Toe sien God dat dit goed was", sodat daar aan die einde van die Skeppingsweek selfs kan staan: "Toe sien God alles wat Hy gemaak het en - dit was baie goed!" Alles is hierdie wêreld spreek van sy grootheid en majesteit.

Die sonde sit in ons! Ons wat God se goeie gawes tot ons eie eer en genoeë begin gebruik het. Wat die vloek oor die Skepping gehaal het. As daar iets fout is in God se Skepping, is ons mense self dit. En dit is nie God se skuld nie, maar ons eie skuld. As daar iets weg moet, is ons dit! As daar afstand geneem moet word, dan sou God van ons afstand moet neem.

Maar in plaas daarvan het God ons deur sy Seun teruggesoek. Ons kon self nooit meer bo die sonde wat ons lewe verwoes het, uitstyg en ons daaraan ontworstel nie. Maar Christus het die skuld by God versoen, uit genade alleen.

En wat is dit dan 'n wonder dat God nog soveel aan ons gee. Dat ons tog nog midde-in hierdie goeie Skepping van Hom mag verkeer.

'n Gelowige wat die waarheid leer ken het, leer om dankbaar albei sy hande op te hou en bly verwonderd te wees oor alles waarmee God hulle vul.

Pleks van om ons soveel as moontlik te onthou, moet ons juis dankbaar aanvaar alles wat God geskape het en waarmee ons ons lewe mag vul. Dit is alles geskenke van Hom waardeur Hy Homself in ons lewe wil grootmaak. Dat betref ons daaglikse kos en drinke, maar ook die borde en bekers, die vurke en messe, die panne en die stoof, die krag ens.

Die fabriek is 'n werkplaas in Gòd se wêreld; die kantoor en die skool en die universiteit nie minder as die boerdery nie. Maar hospitale, ouer-tehuise en verpleeginrigtings eweseer. Ek mag dankbaar gebruik maak van die moontlikhede van die boekdrukkuns, die radio en die televisie, ek mag werk en speel met my rekenaar, ek mag reise maak in my motor, in die trein of in die vliegtuig. Ek weet mos: die hele wêreld- sy gebied! Ek mag van musiek en skilderkuns geniet, bly wees met kernenergie, medisyne, as dit moet dankbaar gebruik maak van voorbehoedmiddels.

En julle, bruidspaar, mag intens gelukkig wees op julle troudag, vreugde beleef aan mekaar maar ook aan die trourok en die bruidsruiker en later aan die troufotós. Julle mag die huweliksbed en die liefdespel aanvaar as 'n geskenk van God. En dalk na verloop van tyd die wieg en babakleertjies.

God wil selfs dat ons dankbaar dit alles ontvang en nie minagtend ons neus daarvoor optrek asof dit sake van minder allooi sou wees nie. Dit alles behoort tot sy goeie skepping, wat Christus vir ons met sy bloed teruggekoop het en waardeur ons Hom nou weer kan eer. En watter mensie durf dan so hoogmoedig en eiewys te wees om die rug daarop te draai?

2. Maar.... ons moet ons teks nou wel verder lees. Want ons het nog maar die helfte gehoor. En die wat dink hy het aan die helfte genoeg, sal met God se goeie gawes darem vasbrand. Want soos ek in die begin van my preek alreeds gesê het: God se gawes ontvang is nog maar die begin. Maar hoe gebruik ons vervolgens diè gawes? Wat maak ons daarmee?

Dit kan gebeur dat dit wat as 'n mooie geskenk begin het, al gou glad nie meer mooi en wonderlik is die. Omdat ons dit verwaarloos of selfs misbruik het.

As ons die geskenke van God wel aanneem maar nie op die regte wyse gebruik nie, kan hulle vir ons in 'n vloek verander! Maar dit lê dan nie aan diè geskenke nie, maar louter en alleen aan onsself.

Paulus skryf in ons teks: God se skeppingsgawes moet "geheilig" word. En "geheilig" beteken: ons moet dit nie net vir ons eie plesier en lustebevrediging gebruik nie, maar tot God se eer. Dit moet in sy diens en tot verheerliking van Hom aangewend en bestee word. God wil die meeste plesier uit ons gebruik van sy geskenke hê!

Maar dit is nou juis die moeilikste vir ons. Want ons kan van onsself heeltemal niks meer heilig, tot God se eer gebruik nie. Ons is onheilig. En alles wat ons aanvat, maak ons onheilig. Ons bederf dit wat God goed geskape het so gou as wat ons met ons vuile vingers en vuile voete en vertroebelde harsings daaraan raak. So gou as wat mense vir hulle eie eer en hulle eie belang dit wat God goed geskape het, gaan gebruik, word dit juis ontheilig.

Daar is net een smal paadjie waarop God se goeie Skepping in ons lewe darem sy oorspronklike bestemming kan kry. En dis die pad wat God se eie Seun vir ons oopgesluit het waarop sy Heilige Gees ons bring en saamneem moet: die pad van die lewendige omgang met God en die aanhoudende oorleg met God. Die pad waarop ons voortdurend bewus daarvan is en weer bewus daarvan gemaak word dat alles wat ons kry, van God afkomstig is en daarom ook alleen tot sy eer gebruik mag word. En dit is die pad waarop ons luister na die Woord van God en spreek in die gebed tot God, soos Paulus in ons teks aanwys.

Net daardie twee kan maak dat God se geskenke sowel vir Homself as vir ons 'n vreugde is.

God se Woord waarin Hy tot ons spreek. En ons gebed waarin ons vervolgens tot Hom spreek.

God se Woord kom eerste. Want in sy Woord gee Hy sêmaar die grbruiksaanwysing by sy presente. Hy self leer ons hoe om sy gawes op die regte wyse te gebruik.

Kom ek beperk my nou maar tot die huwelik. Kry ons in die Bybel nie baie aanwysings m. b. t. die regte gebruik daarvan nie? Dit begin al daarmee dat nie elkeen sommer 'n goeie huweliksmaat kan wees nie. 'n Man of vrou wat die HERE vrees en met jou in sy kerk die HERE wil dien, daarmee alleen kan jy regtig gelukkig word. Die Bybel leer ons wat die regte verhouding in die huwelik: hy hoof, sy hulp. Die Bybel leer hoedat ons met mekaar moet omgaan, veral as daar stryery kom: geduldig, verdraagsaam, vergewingsgesind. Die Bybel leer ons om trou te wees, juis ook as daar baie meilikheid in ons huwelik gekom het. Die Bybel leer hoe om die wonderlike gawe van die seksualiteit in die huwelik te gebruik: met selfbeheersing, ingetoë aangesien ons liggaam 'n tempel van die Heilige Gees is. Die Bybel leer ons om nie net kinders vir ons eie plesier te ontvang en groot te maak nie, nie om self daarmee te kan spog nie, maar sodat God daarmee kan spog. Ons moet in ons huwelik ook bereid wees 'n groot gesin op te voed en om die offers wat dit vra, blymoedig te bring.

Vervolgens leer die Bybel ook hoe gevaarlik dit in hierdie wêreld geword het. Want die duiwel het hom van soveel op sigself skitterende skeppingsgawes meester gemaak, om dit nou juis teen sy oorspronklike bedoeling in te gebruik. Sodat ons dit nie meer kan gebruik nie. Die Bybel leer dat die duiwel, met behulp van die wêreld rondom ons, aanhoudend probeer om christelike huwelike te ondergrawe. Ja, die Bybel leer ons hoe swak ons eie vlees is: ons kan sommer die geweldige geskenk van huwelik en seksualiteit vermors en dit wat so mooi kon wees tot iets verskrikliks maak.

Die Bybel leer ons ook dat alleen die krag van die Heilige Gees ons staande kan hou. En daarom sal daar op ons luister na die Woord van God ook altyd 'n spreke in gebed tot God moet volg, die tweede ding wat Paulus in vs. 5 noem. Ons sal nou ook moet vrà om die regte gebruik van alles wat ons van God ontvang: HERE, laat U Naam ook deur my huwelikslewe geheilig word, laat u Koninkryk ook deur ons huwelik naderby kom, gee dat ons nie maak soos onsself wil nie maar laat U wil geskied, lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.... Help my, HERE, om geen egois te wees nie, om nie net myself, my genoeëns, my eer en so meer te soek nie.

Ek kan van myself u geskenke nie beheer en mooi hou nie, HERE. Hulle vorm 'n gevaar vir my. Dit lê nie aan U en aan dit wat U gee nie, dit lê aan myself, aan die sonde wat nog in my woon.

Sal U deur U Heilige Gees maak dat dit wat mooi is, ook mooi mag bly asseblief? Om Christus ontwil.

As ons so leef, in 'n voortdurende verbondsomgang met die HERE, dan alleen kan God se geskenke suiwer vir ons bly. Want dan sal ons leer om dit baie sorgvuldig en versigtig te gebruik. Dan sal ons liewer ongetroud bly as om met een te trou met wie ons ons nooit werklik een in geloof en gehoorsaamheid aan die HERE sal voel. Dan sal ons in rusie en onenigheid die minste wil wees om die vrede in die huwelik te herwin. Ons sal van die wettige moontlikheid van 'n egskeiding afsien, omdat die HERe die egskeiding haat. Ons sal voorbehoedmiddels of 'n sterilisasie eers as 'n geoorloofde middel aanvaar as ons baie seker gemaak het dat daar uit mediese oorsake regtigwaar geen kinders meer mag of kan kom nie.

Want ons soek nie onsself nie. Ons soek saam die eer van die HERE en die koms van sy Koninkryk.

Broeders en susters, bruidspaar, hoe belangrik is dus 'n lewendige omgang met God. Sonder diè omgang word alles op aarde gevaarlik vir ons. Daar is mos niks in hierdie wêreld nie, of dit kom uit God se skeppershande na ons toe. Maar as dit nie in 'n lewende verbondsomgang met God gebruik en geheilig word nie, sal ons ons daaraan verbrand.

God gee baie.

Om dit dankbaar te aanvaar.

Maar die vraag is dus telkens: hoe aanvaar ons dit?

Alleen in 'n lewende verkeer met God sal sy gawes geen gevaar vir ons word.

Maar so'n lewende verkeer sal ons steeds weer moet leer. Een kerkdiens op die troudag is daarvoor baie beslis nie genoeg nie. Daarvoor is 'n erediens aldag onmisbaar.

AMEN.

(Pretoria, 2 Junie 1989. Bevestiging van die huwelik van Paul en Maartje Bouwman)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)