Die verwondering oor die leer moet die lewe in die kerk regeer

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
I Timótheüs 3
Preek Inhoud: 

PREEK OOR 1 TIMÓTHEÜS 3: 15 EN 16

LITURGIE:
Ps. 98: 1, 3
L. Efesiërs 1
SB.24: 1, 2, 3
T. 1 Tim. 3: 15 en 16
Ps. 86: 6
Ps. 86: 5
SB.24: 4, 5, 6

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons lees aan die einde van 1 Tim. 3 een van die eerste geloofsbelydenisse van die christelike kerk. 'n Kernagtige samevatting van die leer van die kerk. 'n Kort en kragtige weergawe van die hart van die Evangelie.

Maar hierdie geloofsbelydenis het die vorm van 'n lied! Dit is geen droë opsomming van 'n aantal leerstukke nie. Want die leer van die kerk is allermins so taai soos leer. Jy kan van dié leer sing in 'n lied vol verwonderde klanke. Omdat jy van God se wonderwerk in sy Seun Jesus Christus sing.

Met hierdie lied sluit die apostel Paulus 'n hele aantal praktiese aanwysings m. b. t. die lewe in die kerk af. Sy brief aan Timotheüs is wel met 'n kerkorde vergelyk: allerhande bepalings oor die konkrete lewe in God se gemeente. Bepalings insake die verkliesing van ouderlinge, diakens en diakonesse, voorskrifte m. b. t tot die gebede van die gemeente, bepalings m. b. t. de gedrag van man en vrou in kerk en wêreld.....

Maar midde-in al daardie saaklike voorskrifte oor die lewe in die kerk klink daar dus skielik 'n lied oor die leer van die kerk.

Dis nie snaaks nie. Leer en lewe moet in die kerk mos ooreenstem. Ja, 'n verwonderde lied oor die leer van die kerk is die beste aansporing vir voorbeeldige 'n lewe in die kerk.

Daarom gaan ons vanaand luister na daardie lied; om ook ons tot die regte lewenstyl in die gemeente van die lewende God te laat aanspoor.

Want dit is die boodskap van ons teks:

DIE VERWONDERING OOR DIE LEER MOET DIE LEWE IN DIE KERK REGEER

  1. ONS IS IN 'N GROOT VERBORGENHEID INGEWY
  2. ONS MOET DAARDIE GROOT VERBORGENHEID UITDRA

1. In die lied van vs. 16 van ons teks, broeders en susters, is in 'n paar woorde die hele wonder van Christus se verlossingswerk saamgepers. Sy weg van vernedering en verhoging. Ons sing in daardie paar sinnetjies van Kersfees en Paasfees, van Hemelvaart en Pinkster. Ons kyk na hemel en aarde, engele en mense, na die hele wye wêreld van God wat met Christus se verlossingswerk te make het.

Ons het baie om aan mekaar en aan die wêreld te vertel. Maar as dit moet wees, kan ons dit dus in 'n paar woorde sê.

Woorde wat stuk vir stuk swaargelade en vol betekenis is.

Kom ons laat woord vir woord weereens op ons inwerk: "God is geopenbaar in die vlees". Daarmee het alles begin. God het mens geword. Die Seun van God, God uit God, Lig uit Lig, wat in ewigheid by die Vader in die hemel geleef het, het 33 jaar soos 'n mensekind op aarde geleef. Gebore uit 'n moeder soos ale die ander mense. Hy was baba, seun, man. Hy het geëet, gedrink, geslaap, gespeel soos ons almal. Hy het gepraat, gelag en gehuil soos ons almal. Hy was 'n mens van vlees en bloed soos ons almal.

Maar ons vlees en bloed het deur die sondeval 'n deur die dood aangetaste bestaan geword. 'n Lewe vol moeite en verdriet, vol eensaamheid en ellende, vol eiewysheid en selfsug, vol haat, nyd en doodslag.

En in dié lewe was Hy, die ewige Seun van God, mens met ons. Dié lewe wou Hy met ons deel. Om dié lewe vir ons te heel. Hy het ons vlees en bloed aangeneem om in ons plek die vloek oor ons sondige lewe te dra en ons daarvan te verlos.

Daarom het sy lewe aan 'n kruispaal geëindig.

Sy lewe en sterwe was so menslik dat die meeste mense in Hom ook nie meer as 'n mens nie gesien het. Dat in hierdie Mens God in hul midde was- wie het dit agtergekom?

Nogtans kón mens dit agterkom!

Want Hy wat geopenbaar is in die vlees "is geregverdig in die Gees", sing ons vervolgens. Alhoewel die Goddelikheid van ons Here Jesus Christus agter 'n menslike slawegestalte moes skuilgaan, het die Heilige Gees tog ook telkens sy goddelike majesteit laat deurbreek. Niemand kon sê hy het nie geweet dit was die Seun van God nie. Talle wonderbaarlike genesings het van die Mens Jesus se Godheid getuig. Hy het met een magswoord duiwelse geeste uitgedrywe. Hy het selfs met 'n eenvoudige bevel dooies in hierdie lewe teruggeroep. En watter mens kan sommer oor die water loop? Of vir die wind en die water bevele gee en hulle gehoorsaam hom?

Selfs nog in die nag waarin hulle Hom gevange geneem het, het die Heilige Gees sy goddelike majesteit gewys: wanneer sy vyande met stokke en swaarde kom om Hom gevange te neem, is dit asof 'n onsigbare hand hulle almal onderstebo gooi. Net omdat Christus vir hulle sê: "Dit is Ek vir Wie julle soek". En daarna maak Hy met een beweging die afgekapte oor van 'n kneg van die hoëpriester weer vas.

Maar die mees duidelike regverdiging het op die opstandingsmôre gekom. Toe het die Gees van God aan hierdie Kneg van God die lewe uit die dood weergegee en daarmee vir elkeen die bewys gelewer dat Hy die Seun van God is. Sy opstanding was die publieke regverdigverklaring van hierdie Mens wat as 'n godslasteraar die dood ingeja is. Hy het die dood nie verdien nie. Inteendeel, Hy het juis óns, wat almal die dood verdien het, van die dood verlos. Deur óns dood te sterwe. Hy het vir ons almal die nuwe, onverganklike lewe, die herstelde lewe met God, weer oopgesluit. Hy het God se skepping gered en 'n nuwe paradys moontlik gemaak.

Daarom was sy opstanding ook nie die einde van sy verlossingwerk nie. Dit het feitlik toe eers begin!

Want na sy opstanding het Hy engele en mense gemobliseer om saam met Hom die reste van die ryk van duiwel en dood, wat nog oorgebly het, heeltemal uit te roei.

Hy "het verskyn aan die engele": by sy glorieuse terugkeer in die hemel het hy sy opwagting gemaak by die engele en hulle in die stryd gewerp. Met as gevolg dat die engelaanvoerde Migael saam met 'n afdeling hemelse soldate die duiwel en sy bose geeste aangedurf en uit die hemel uitgegooi het.

Maar terselfdertyd het Hy apostele in die wêreld ingestuur om tot aan die uiterste van die aarde mense tot sy dissipels te maak. "Hy is verkondig onder die heidene". Mense wat deur die sonde en deur allerlei vorme van afgodediens slawe van die ryk van die duiwel geword het, is geroep om deur Christus op te staan in 'n nuwe lewe en om saam met Christus die slawejuk van die duiwel en die dood te verbreek.

Aardse en hemelse kragte is dus ingeskakel in 'n internasionale en kosmiese bevrydingsoffensief.

En met resultaat!

"Hy is geglo in die wêreld". Dis een van die grootste wonders in Christus se verlossingsoffensief. Kortsigtige heidene, in die sonde vasgevang, vyande van God, het 'n ope oor vir die Evangelie van die Seun van God gehad. Hulle het tot geloof en bekering gekom en hulle vrywillig laat invoeg in die leër van frontsoldate van die Koninkryk van God.

Dié beweging is steeds aan die gang. Ons is self ondermeer die bewys daarvan; en die seën op die sendingwerk orals in die wêreld. Christus ruk onstuitbaar op met sy bevrydingsoffensief op aarde.

Hyself is alreeds in die hemel. "Opgeneem in heerlikheid". Met dié woorde besluit ons ons lied. 'n Triomfantelike en hoopvolle besluit. Dit beteken mos nie dat Hy ons hier op aarde gelos het en ons alleen die stryd laat stry nie. Hy het ons slegs vooruitgegaan, om vanuit die hemelse regeringsentrum ons by te staan. En om ons vandaaruit te bemoedig: as Hy nou alreeds in hemelse heerlikheid mag verkeer, is dit die waarborg dat daar ook vir ons 'n plek berei is. Soos Hy in ons vernedering gedeel het, so mag ons eendag in sy heerlikheid deel. As ons vandag saam met Hom ly en stry, sal ons eendag ook saam met Hom verheerlik word.

Dit, broeders en susters, is kort en goed die leer van die kerk. Dit is wat ons glo en bely ten aansien van ons Verlosser Jesus Christus. So het die meeste van ons dit van kleinsaf geleer.

Maar juis omdat ons dit van kleinsaf geleer het, en dit dus heel vertroude klanke vir ons geword het, is die gevaar nie denkbeeldig nie dat ons die wónder in hierdie geloofsbelydenis nie meer hoor nie.

En tog is dit een groot wonder, sê Christus se apostel in ons teks. "Onteenseglik, die verborgenheid van die godsaligheid is groot", skryf hy ter inleiding op sy lied van vs. 16.

Met ander woorde: U stem tog almal saam: ons praat en sing van wonderlike dinge. Ja, dit is vir ons vertroude klanke. Bekende feite. Hierdie feite beheers ons lewe in die kerk, ons omgang met God. Ons praat, lees en sing in ons Psalms en Gesange voortdurend daarvan.

Want so het God dit aan ons geopenbaar.

Maar hierdie openbaring bly nogtans 'n groot verborgenheid. Al ken ons ook die feite, dit gaan nog altyd ons verstand te bowe. Wie kan dit met sy verstand deurgrond: God het mens geword en tegelyk God gebly! Wie kan dit met menslike logika aanvaarbaar maak: die dood van die Seun van God het die redding van die wêreld geword!

Nooit raak ons hieroor klaar gepraat, klaar gedink en klaar gesing nie.

Ja, so is dit tog, gemeente?

Dit bly tog die groot verrassing in u lewe as kind van God? Die leer van die kerk is vir u tog meer as 'n taaie teorie?

Paulus noem in vs. 15 van ons teks ons geloofsbelydenis "die waarheid". Al kan ons met ons verstand ook nie daarby nie- dit is die 'n realiteit. Teenoor alle leuenreligies in die wêreld word hier alleen die werklikheid besing. Die lewe op aarde is weer terugverdien, en word nou daagliks oopgemaak deur die Seun van God wat 'n Mens soos ons geword het.

Ons sal dié wonder volgende week weer vier rondom die Nagmaalstafel. Heel eenvoudige herdenkingstekens sal ons weer aan die geheim van ons lewe herinner.

Kan mens daar koud en onverskillig onder bly?

Daarvan moet mens tog wel sing? Dié wonder wek tog soos vanself 'n lewe vol verwondering by ons? Maar dan ook 'n lewensstyl waarin ons ons geloofsbelydenis in praktyk bring?

2. Want so wil God dit graag hê. Vir Homself. Hy is bly as daar weer mense op aarde is wat sing van sy verlossingsdade. As mense weer sing van die wonder van sy genade. En as dit nie by woorde bly, maar ook gevolg word deur dade. Hy is bly as monde in verwondering oopgaan en mense dan ook in 'n nuwe gehoorsaamheid opstaan.

Maar God wil dit ook graag hê met die oog op hierdie wêreld waarin ons lewe.

Want aan óns is die groot verborgenheid van Christus geopenbaar. Ons is in Gods heilsgeheime ingewy. Maar daar is nog baie, baie mense wat hiervan niks weet nie; wat nog steeds in die duisternis van die heidendom ronddwaal. En God wil dat ook van dié mense nog talle tot erkentenis van die waarheid kom en gered word.

Hy is "die lewende God". Hy haat die doodloopspoor van 'n goddelose lewe. Sy haat daarteen is mos so groot dat Hy op die ou end sy Seun oorgegee het om van ons doodloopspoor weer 'n lewenspad te maak. Die lewe op aarde moét weer 'n lewe met en vir Hom wees!

In óns lewe word die gevolge daarvan alreeds op allerhande maniere sigbaar. Danksy Christus se lewendmakende Gees wat in en onder ons kom woon het. Die Heilige Gees het ons weer tot God kinders gemaak, tot sy huisgesin waarin die oorspronklike goeie paradyslewe weer opbloei.

Ons vorm saam "die huis van God", skryf Paulus in vs. 15.

Maar hierdie huis staan midde-in hierdie wêreld. En daarom is hierdie huis se venster is almal vertoonvensters! Want God wil in sy huis 'n uitstalling vir die wêreld hou van die lewe wat Hy, die lewende God, soek en skenk. In ons lewe demonstreer Hy hoedat Hy die Lewende God is, die enigste Egte God, in teenstelling tot al die afgode wat daar op aarde is. Hy demonstreer in en onder ons dat sy Evangeliewoord geen goedkope teorie is nie, geen opium vir lewensmoeë mense nie- nee, sy Woord is die waarheid! Sy Woord is 'n krag tot redding vir elkeen wat dit glo. Sy Woord van redding deur Jesus Christus is 'n lewendmakende Woord. Kyk na ons lewe: mense wat midde-in die dood gelê het, staan op in 'n nuwe lewe. 'n Leefbare lewe. Die voorsmaak van die ewige lewe.

Dié belangrike rol vervul ons in hierdie wêreld, broeders en susters: om die verborgenheid van Christus se verlossingswerk as 'n werklikheid in hierdie wêreld uit te dra. Deur ons aldagse konkrete lewe. Dié rol vervul ons as die huis van God op aarde.

Daarom noem die apostel in ons teks die kerk ook "'n pilaar en grondslag van die waarheid". Ons leef self van die waarheid, van die realiteit van Christus se verlossingswerk. Maar dié waarheid moet verder die wêreld in. God wil met dié waarheid die hele wêreld terugverower. Die leuenprofesie moet ontmasker en die mond gesnoer word.

En daarvoor gebruik God sy gemeente. Ons. Die twee woorde wat Paulus gebruik, "pilaar en grondslag", beteken dat die kerk die waarheid in hierdie wêreld dra en uitdra. Ons hou die waarheid in die wêreld hoog en ons hou die waarheid aan die wêreld voor. En ons doen dit nie net met woorde nie. Ons doen dit nie minder met die daad. Ons doen dit behalwe in sending- en evangelisasieaktiwiteite ook deur dit heel konkreet in ons eie lewe aan ander mense voor te lewe hoedat die Evangelie van Jesus Christus die lewe weer leefbaar maak.

Verstaan u nou, gemeente, hoekom die apostel sy opsomming van allerhande praktiese leefreëls in die huis van God onderstreep met daardie lied van verwondering oor God se verlossingswerk in Jesus Christus? Leer en lewe moet saamgaan in die kerk!

Die leer van die kerk moet in ons aldagse lewe tot uiting kom.

In ons konkrete lewe moet sigbaar word dat die Woord van God die waarheid is. Elkeen moet dit aan ons lewensstyl kan agterkom dat ons God, die Vader van die Here Jesus Christus, inderdaad die Lewende God is. Is ons lewe nie vol bewyse dat daar ook 'n ander lewe moontlik is as die lewe van eiewysheid en hoogmoed, die lewe van selfgesentreerdheid en selfsug, van wreedheid en onverskilligheid nie?

Die wêreld moet in ons lewe sien hoedat die Woord van die waarheid óns leer om ons hande te vouw in plaas van om ons vuiste te bal. Hulle moet sien dat die Woord van die waarheid ons leer om te kniel in plaas van om tot opstand op te roep. God se Woord leer ons om selfs vir ons vyande te bid en om wrede maghebbers en tiranne in ons gebed nie te vergeet nie. As óns wil protesteer en demonstreer teen onreg en magsmisbruik, gebruik ons daarvoor die middel van 'n rustige en stil lewe, in alle godsvrug en waardigheid.

Die wêreld moet in ons lewe kan sien dat ons nie net bid nie, maar ook werk. Toorn en twis- ons aanvaar dit nie langer as iets wat nou maar eenmaal by die lewe behoort nie, maar ons doen alles daarvoor om dit op te ruim. Sodat ons in 'n egte eensgesindheid saam rondom die tafel van die Here kan sit.

Die wêreld moet dit in ons lewe kan sien dat ons weer die oorspronklike paradysroeping vir man en vrou aanvaar: die man hoof, die vrou hulp. Sodat vroue hulself nie op die voorgrond dring en deur opvallende kleding of grimering die aandag probeer trek nie. Maar ryk is met hul roeping om vrou en moeder te wees.

Veral dié wat in die gemeente tot 'n vooraanstaande posisie geroep word: ouderlinge, diakens, maar ook diakonesse, moet in hul lewe 'n toonbeeld wees van die lewe soos God dit begeer: trou in hul huwelik, gasvry teenoor ander, geen drinkers, geen vegters, nie hebsugtig, geen skindermonde nie, maar nugter, ingetoë, fatsoenlik, vriendelik, gasvry teenoor ander.

Kyk 3: 9: Veral hulle moet mense wees "wat die verborgenheid van die geloof - daardie wonderlike geloofsbelydenis van die kerk waarvan Paulus in ons teks sing- in 'n rein gewete hou". Dit beteken heel eenvoudig: die praktyk van die daaglike lewe mag nie in stryd wees met dit wat die hart glo nie. Hul lewe moet die leer van die kerk weerspieël.

Maar dit vra God natuurlik nie net van die voorgangers in die kerk nie, broeders en susters. So'n lewe begeer Hy by u almal.

En u verstaan nou ook waarom:

Want dit hang mee van ons gedrag af, of ander mense die lied op ons Verlosser sal begin saamsing.

Ons kan met ons konkrete christelike lewe 'n middel wees om ander mense van die dood te red.

Maar wat kan ons dus beter tot so'n voorbeeldige 'n christelike lewe stimuleer as die loflied op die christelike leer?

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)