Daar is vir mans en vrouens altwee 'n plek en 'n taak in die huis van God

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
I Timótheüs 2
Preek Inhoud: 

PREEK OOR 1 TIMÓTHEÜS 2: 11-3: 2

LITURGIE:
L. 1 Tim. 2: 18-3: 16
T. 1 Tim. 2: 11-3: 2a
Ps. 19: 1, 5
Ps. 19: 7
Ps. 128: 1, 2, 4
Ps. 93: 4
Ps. 40: 4

Broeders en susters,

Ons het vanoggend 'n aantal verse onder die loep geneem uit 'n Skrifgedeelte waarin die apostel Paulus 'n breë uiteensetting gee oor "hoe iemand hom moet gedra in die huis van God, wat die gemeente is van die lewende God". So omskryf die apostel dit mos self in die afsluitende verse 14 en 15 van hoofstuk 3.

Hy gee 'n hele aantal praktiese aanwysings met die oog op die lewe in die gemeente.

Want ons gedrag in die huis van God is baie belangrik. Nie net vir God en vir onsd broeders en susters nie. Maar ook vir die wêreld waarin ons lewe. Die venster van die huis van God staan aan alle kante na die wêreld toe oop.

Kyk hoe noem die apostel die gemeente van Christus ook in vs. 15: "'n Pyler en grondslag van die waarheid". Die kerk moet in hierdie wêreld die waarheid dra en uitdra. Dit hooghou en aan die wêreld voorhou. Hierdie waarheid: dat God die Lewende God is, en dat alleen by Hom die lewe weer leefbaar word. Die wêreld moet dit aan ons gedrag kan sien dat daar ook 'n ander lewe moontlik is as die selfsugtige en oppervlakkige lewe waarvan die wêreld vol is.

Dis dié dat die apostel tot in allerhande besonderhede voorskryf hoedat ons ons moet gedra as bewoners van die huis van God.

Daarby kom spesiaal ook man en vrou in die kollig, elkeen op sy onderskeie plek, met hulle verskillende roeping en taak.

Ons wil vanoggend op hierdie aanwysings vir mans en vrouens van die apostel konsentreer om te leer hoedat God mans en vrouens elkeen op hul eie plek en tog ook saam in die huis van die lewende God en so in sy wêreld wil gebruik.

Ek predik u:

DAAR IS VIR MANS EN VROUENS ALTWEE 'N PLEK EN 'N TAAK IN DIE HUIS VAN GOD

Ons sal agtereenvolgens aandag gee aan:

  1. DIE VERSKILLENDE WERKTOEWYSING
  2. DIE GELYKWAARDIGE WERKVERDELING
  3. DIE GEMEENSKAPLIKE WERKVLOER vir man en vrou.

1. As ons ons teksverse in mekaar se verlengde lees, broeders en susters, sodat hoofstuk 3 direk aansluit by die slot van hoofstuk 2, tref ons die opvallende teëstelling in die plek wat die apostel van Christus eerste aan die vrou en vervolgens aan die man toewys.

Die man mag 'n opsienerstaak verlang - die vrou moet onderdanig bly.

Die man mag gerus vorentoe kom - die vrou moet bewus op die agtergrond bly.

Die man moet daarna strewe dat hy bekwaam is om te onderrig - die vrou mag, al sou sy ook bekwaam daarvoor wees, nie onderrig wil gee nie.

Die man moet met gesag weet om op te tree - die vrou mag nie met gesag optree nie.

Ek vertel niks nuuts nie as ek sê dat hierdie so verskillende plaasaanwysing deur die apostel vandag deur baie mense nie meer word aanvaar nie. Hierdie tipe van bybelgedeeltes wat die vrou verkleineer, stam uit 'n volstrek verouderde en vandag verwerplike kultuurpatroon, so meen hulle. Ons lees hier 'n weerspieëling van 'n manlike kultuurfase wat gelukkig inmiddels verby is- 'n tyd waarin daar vir die vrou maar net 'n tweederangse rol toegedink was.

Vandag moet ons daarna strewe om die reste wat nog van dié verouderde rolverdeling oorgebly het, eindelik radikaal uit te roei. Die bevryding van die vrou het lank genoeg op hom laat wag.

Dis as gevolg van so'n denke dat woorde soos van ons teks, oor die vrou wat haar rustig moet hou, eers so verklaar word dat dit maar net tot die kerk en die eredienste beperk word: u kan so'n verklaring lees in die Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling. Maar die gevolg daarvan is natuurlik dat die kerk 'n tipe van 'n museum word waarin nog 'n klompie verouderde gebruike gekonserveer word.

En op die ou end moet die kerk dan tog ook maar aan die moderne tyd aanpas en word woorde soos van ons teksverse heeltemal eenkant geskuif. En word ook vir vrouens die pad na die ouderlingebank en die preekstoel oopgesluit. Soos verlede week in die NG-kerk gebeur het.

Ons kan nie ontken, gemeente, dat Paulus in die plaasaanwysing vir man en vrou 'n ou patroon hanteer nie. Maar oud is nog nie dieselfde soos ver-ou-derd nie! Die patroon waarbinne die apostel man en vrou hulle taak en plek aanwys by die bou van God se huis is alreeds so oud soos die Skepping oud is. Dit dateer uit die eerste dae van hierdie wêreld en dit is die patroon wat God self vir alle eeue gekies het.

Daarom kan ons dit nie as verouderd eenkant toe skuif nie. Daarom mag ons nie geprikkeld ons daaraan ontworstel nie.

Paulus gryp in vs. 13 van hfst. 2 regstreeks terug op die skepping van man en vrou. In dié volgorde. "Want Adam is eerste gemaak, daarna Eva".

Adam was die eerste. En die naam Mens, Adam, wat aanvanklik in Genesis 1 die samevattende naam vir man en vrou altwee was, na God se beeld geskape, word die naam van die man. Terwyl die vrou die naam Man-nin ontvang, omdat sy uit die man geneem is.

Die HERE het die man eerste gemaak, van klei, leem uit die aardbodem waarin Hy die lewensasem geblaas het. Uit die aarde aards, en terselfdertyd lewend deur die Gees van God.

Toe vervolgens duidelik geword het dat die man-alleen hulpbehoewend is en die groot taak in God se skepping nie kon uitvoer nie, het die HERE die vrou gemaak. Op 'n ander wyse as die man. Uit een van die ribbebene van die man.

En hierdie verskillende oorsprong, die vrou ná die man en die vrou uít die man, onderstreep vanaf die begin die verskillende posisie wat God vir man en vrou in sy wêreldhuis toegedink het. Die begin bepaal die vervolg.

God het nie 'n tweeling geskape nie, maar eerste 'n man en daarna 'n vrou uit die man. As 'n hulp wat by hom pas. Daar kom geen tweemanskap nie, maar die vrou word as 'n hulp aan die man gegee. Die man is nie geskape om die vrou by te staan nie, maar die vrou is uit die man geformeer om die man te help.

Op diè oorspronklike werkplan van God beroep die apostel Paulus hom in ons teks, as hy mans en vroue elkeen hulle eie plek toewys. Niemand minder as God self het dit vanaf die begin so beplan.

Die apostel verbind hieraan direk die herinnering aan die gang van sake by die sondeval. Het die sonde hom nie in die menselewe baangebreek op die oomblik wat mannin en haar man die werkverhouding wat God opgelê het, uit die oog verloor het nie?

Die vrou het die leiding geneem en toé het daar verleiding ontstaan. Paulus wil maar sê: die kiem van die sonde het nog nie eers in die eet van die verbode boom van kennis van goed en kwaad gelê nie. Dit het al verkeerd gegaan toe mannin die voortou geneem het en sonder om haar man te raadpleeg. Toe sy besluit het om, teen die uitdruklike bevel van God in, die vrug van daardie boom te probeer.

Diè strewe na emansipasie het die slagboom vir die sonde oopgesit om die menselewe te oorspoel.

En daarin was rêrig ook die man nie sonder skuld nie. Ook hy het die verhoudings nie meer skerp gesien nie. Hy het darem maar die slegte leiding van sy vrou aanvaar en haar op die pad van klaarblyklike ongehoorsaamheid gevolg. Pleks van dat hy haar gekeer het en haar tot die orde geroep het. Die orde soos wat God dit wil hê.

Dit is teen hierdie besmeurde agtergrond dat die apostel van Christus so onverbiddelik moet sê: "Ek laat die vrou nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie. Sy moet haar stil, rustig hou".

Vrou en man word teruggeroep na die onderskeie taaktoewysing wat God vanaf die skepping voorgeskrywe het. Veral die vrou word hier, waarskynlik in reaksie op 'n rewolusionêre mentaliteit wat daar ook in diè dae al om hom heen gevreet het, op haar eie plek teruggesit. Ondergeskik gemaak.

En dan is dit die goeie verhouding: die man gee onderrig en die vrou volg diè onderrig. Die man kom vorentoe en het die leiding, die vrou bly op haar tweede plek en aanvaar diè leiding.

Die man moet homself ook bekwaam om onderrig te kan gee en moet vir die leiding nie wegskram nie. Ook as hy nie tot 'n opsiener in die gemeente geroep word nie, lê daar binne die gemeente en ook daarbuite nog genoeg ander sake waarin leiding gegee moet word. Daartoe roep God die man.

Hy het vir die vrou ander take.

"Sy sal gered word deur kinders te baar", skryf die apostel. Diè taak is spesiaal vir die vrou weggelê. Vir diè taak is die man nie geskik nie.

Die apostel bedoel natuurlik nie, dat die kry van kinders alleen die vrou nog kan red, sodat kinderlose vroue verlore sou gaan nie. Want ook die vrou word deur Christus se bloed alleen gered, soos die apostel daarna ook skryf: "as hulle bly in geloof en liefde en heiligmaking... ".

Maar Paulus wys watter taak die HERE besonderlik aan die vrou toegedink het: moeder word, kinders opvoed, in gesin versorg.

Ek weet, nie elke vrou ontvang nou ook kinders van die HERE nie. Ewemin as elke man tot leraar of ouderling geroep word. Maar hierdie werk mag enige vrou wèl begeer. Soos enige man na die opsienersamp mag verlang.

Die vrou oorskry met die begeerte om moeder te word nie die grense wat God ingestel het nie. Uit diè bewgeerte blyk dit juis dat sy haar taak in die huis van God verstaan. Die apostel wys vir ons hier die rigting, gemeente, waarin man en vrou hulle moet beweeg. Ook as die HERE 'n man nie tot ouderling roep nie, lê daar genoeg ander take waarin hy leiding kan en moet gee. En as 'n vrou geen kinders ontvang nie, omdat sy ongetroud gebly het of in haar huwelik die vreugde van eie kinders nie mog belewe nie, bly die norm rigtinggewend. Die uitsondering hef die reël nie op nie, maar bevestig dit juis.

'n Ongetroude of kinderlose vrou word nie skielik 'n man nie. Sy bly vir die HERE volop vrou wat nou moet soek hoe sy haar vroulike roeping en gawes op 'n ander wyse vir die opbou van God se gemeente vrugbaar kan maak.

2. Maar kan man en vrou by hierdie werkverdeling nog wel volop saamwerk in God se huis en wêreld??

Word die vrou nie goedeels weggestoot ten gunste van die man nie?

Het sy nie 'n duidelik minderwaardige posisie gekry nie?

Diè gedagte sou by sommiges hier in die kerk kan lewe, sekerlik na dit wat ek hiervoor gesê het.

Tog sou dit 'n misvatting wees, wat ons deur die wêreld om ons wel aanhoudend aangepraat word, maar waartoe God se Woord darem geen aanleiding gee nie.

Want al het God ook vir 'n verskillende taak vir man en vrou gekies, daarom is die taakverdeling nog nie ongelykwaardig nie!

Die HERE wil man en vrou altwee, elkeen op sy eie plek, eweseer gebruik. En daarby is die vrou nie minder as die man nie.

Die laste en die luste is gelykwaardig verdeel.

Die man mag na die opsienersamp verlang. En dit is 'n mooie, ja, 'n voortreflike werk, skryf Paulus reguit. Jy mag daarna verlang: predikant word, of ouderling of diaken.

Terloops: as iemand graag predikant wil word, vind elkeen in die gemeente dit 'n pragtige strewe. Maar as iemand graag ouderling wil wees, is daar baie mense wat dit maar snaaks of selfs verdag vind. Hoogmoedig.

Tog hoef dit glad nie verdag of snaaks te wees nie, sê Paulus. So'n broeder begeer 'n voortreflike werk. Hy verlang daarna om aan die kerk van Christus te mag saambou, deur die Woord van verlossing in die huise en in siekekamers te bring en deur in die kerkraadskamer die gemeente in die regte spoor te lei.

'n Man moet bereid wees om diè voorgangerstaak op hom te neem. Of hy ook daartoe geroep sal word, is 'n ander ding; dis God se saak. Maar alreeds vanaf die jeugvereniging moet die jong manne hulle daarvoor inspan dat hulle ampsdraer kàn word às God hulle roep. Die kerkraadsbanke moet mos beset bly. Diè mooie kerkbouwerk moet aangaan.

Maar diè mooie taak is terselfdertyd 'n baie moeilike taak. Die eise wat die HERE daaraan stel lê hoog! Ons het dit saam gelees. 'n Opsiener moet onberispelik wees. Hy mag namens die HERE spreek op aarde. Maar dan moet hy self wel onbesproke wees en daarvoor sorg dat hy nie in opspraak kom nie. Daar word baie selfbeheersing van hom gevra. Hy moet ook bekwaam wees om ander mense te onderrig. Hy sal dus baie moet studeer in die Skrifte en die belydenis om te kàn onderrig.

Sy lewe word ook nie makliker nie. Want 'n opsiener moet -die naam sê dit alreeds- soos 'n herder op die skape van God se kudde toesien. Na hulle omsien. En daardie skape is dikwels maar lastig en koppig, eiewys en ongehoorsaam. Die opsiener moet vir hulle siele waak as diegene wat rekenskap moet gee. En wee jou as die skape op dwaalweë gebring word en verongeluk!

Ook ander leidinggewende take lê 'n swaar las op die man se skouers. Hy moet verantwoordelikhede dra en dit kan hom partykeer slapelose nagte besorg.

'n Vrou hoef regtig nie jaloers te wees op die roeping van die man nie. Sy sou ook kan sê: gelukkig het die HERE diè swaar en verantwoordelike taak nie aan my opgedra nie! Want om leiding te màg gee lyk dalk mooi solank jy dit self nie mag nie. Maar om leiding te moèt gee is 'n moeilike opdrag vir elkeen wat daartoe geroep word.

Die vrou is in die eerste plek met die moederskap belas. En dit is ook in meerder opsigte geen maklike taak nie. Die laste in 'n swangerskap kan baie wees, 'n bevalling en die naweë uiters pynlik. Die sorg wat daarna kom, vir die kinders wat opgroei, in siekte, in die puberteit, as daar een is wat die rug vir God se verbond draai, kan vir 'n mà baie slapelose nagte en 'n betraande kopkussing besorg.

Nogtans is haar taak nie minderwaardig in vergelyking met die man nie. Sy hoef nie die mindere werk op te knap nie. Sy word nie na die agtergrond geskuif nie. Sy mag op haar eie plek vrymoedig vorentoe kom. Sy vervul 'n gelykwaardige deel van die werk in die kerk. En sy mag daar ook vir uitkom.

'n Vrou wat haarself vorentoe dring, omdat sy haarself in vergelyking met die man agtergestel voel, so'n vrou stoot af. Haar houding staan lelik, skryf die apostel êrens anders. 'n Vrou wat wil opval of altyd haar woordjie wil saampraat, word sommer 'n manwyf of 'n modepop.

As 'n vrou die aandag wil trek, moet sy dit nie doen deur uiterlike opsmuk nie, nie deur opvallende kleding en 'n oordrewe grimmering nie. Laat sy maar die aandag trek deur haar goeie werke, lees ons vlak voor ons teks. Laat sy maar opval deur haar godsvrug, haar liefde en heiligheid, met ingetoënheid.

So'n vrou sal ook die tye en geleenthede wel onderken waarop sy wel mag, en selfs moet praat of onderrig. So'n vrou kan agter haar man die stimulerende krag wees wat hom ook betyds vir dwaashede behoed. Baie mans sou sonder hulle vrou nie geword het wat hulle nou is nie!

So'n vrou kan in haar gesin 'n invloed uitoefen wat geslagte lank merkbaar bly. So'n vrou bou langs haar man volop mee aan God se huis.

Die vrou het eendag die dood in die wêreld ingebring- toe sy haar plek nie geken het nie. Nou mag sy, danksy Christus, saambou aan die gemeente van die lewende God, deur nuwe lewe te dra en te baar en te versorg. As sy haar plek weer wil ken.

En dan is die moederskap in die kerk nie minder belangrik as die ouderlingskap nie. Want die kerkraadskamer kan nie sonder die kraamkamer nie. Die oudstes van vandag was almal eendag die jongstes by moeder tuis.

En ook vroue wat self nie kinders ontvang nie, kan nogtans moeders in die gemeente wees: as 'n onderwyseres op skool, as 'n leidster van die dogtersvereniging, as 'n hulp by siekes en bejaardes en op nog baie ander maniere.

So het God vir 'n gelykwaardige werkverdeling gesorg. En 'n onlosmaaklike samehang tussen die taak van die man en die taak van die vrou. Want hulletwee kan nie sonder mekaar nie.

Hy wat leiding moet gee, kan aan waarde wen deur die vrou wat God vir hom as 'n hulp gegee het.

En andersom mag 'n man, en sekerlik 'n opsiener, die opvoeding van 'n gesin nie heeltemal aan die vrou oorlaat nie. Is ook dit nie een van die vereistes vir 'n ampsdraer nie, dat hy sy eie huis goed moet regeer en sy kinders met alle waardigheid in onderdanigheid hou? Want as iemand nie weet om sy eie huis te regeer nie, hoe sal hy vir die gemeente van God sorg kan dra?

So kan man en vrou dus alleen in 'n goeie samewerking elkeen op sy eie plek in die huis en die wêreld van God saamwerk.

3. Daar is een sinnetjie uit ons teksverse wat nog nie ons aandag gekry het nie. Ek bedoel die begin van hfst. 3: "Dit is 'n betroubare woord".

Daar staan eintlik: "Betroubaar is die Woord!". En dan moet ons daarna nie die dubbelpunt lees, soos in ons vertaling nie. Maar hierdie sinnetjie is 'n los uitroep van die apostel. Hy maak met hierdie uitroep die oorgang van sy aanwysings vir die vrou in die kerk na diè vir die man. Met die stellige versekering dat die Woord betroubaar is, verbind hy albei die taakaanwysings aan mekaar.

Paulus dink nie uitsluitend aan die woord wat nou volg nie. Hy dink ook aan die voorafgaande. Hy dink aan die Woord van God in sy algemeenheid, die Evangelie wat hy mag bring.

Die uitroep in ons teks vorm 'n kort herinnering aan wat hy eerder in hfst. 1: 15 geskrywe het: "Die Woord is betroubaar en werd om ten volle aangeneem te word, naamlik die evangelie dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red".

Met daardie Woord van redding vir sondaars het God na ons toe gekom. Diè betroubare Woord.

Op daardie Woord baseer die apostel nou ook sy aanwysings vir mans en vroue in die kerk met die oog op hulle plek in die wêreld. Op hierdie werkvloer mag man en vrou saamstaan: die Evangelie van God se ontferming oor sondaars. Op hierdie werkvloer, waarop God sy gemeente bou, kry man en vrou elkeen weer hulle taak aangewys. En dit word hulle behoud as hulle diè taak van harte aanvaar, elkeen vir homself en saam.

Op hierdie basis maak God sondaars weer bruikbaar vir die bou van sy gemeente en vir die afbou van sy nuwe wêreld.

Die werkvloer wat die apostel wys, moet ons klein en verwonderd maak, broeders en susters. Dis God se genade dat ons màg saambou!

Ons kàn nou ook alleen op hierdie basis aan die bou van God se huis diensbaar wees. God se betroubare Woord moet ons telkens weer ons plek wys.

Hierdie werkvloer nooi ons om veelvuldig te kniel. Dit is dan ook beter as 'n vrou haar man ootmoedig daarin voorgaan om te kniel as wat sy hoogmoedig teen hom opstaan.

Mans en vroue wat op hierdie basis wil lewe en saamlewe, het vanaf die begin vaste grond onder hul voete.

God se Woord is betroubaar.

'n Bodem wat dit uithou.

Wat behou!

AMEN.

(Pretoria, 21 Oktober 1990)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)