Die apostel leer vir ons nugterheid met die oog op die komende dag van Christus

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
I Thessalonicense 5
Preek Inhoud: 

Ps. 85: 1, 2
Ps. 85: 3, 4
Ps. 90: 1, 7, 8, 9
SB. 50: 1 - 5
Ps. 75: 1, 2
Lees: 1 Thess. 5: 1 - 11
Teks: 1 Thess. 5: 8, 9

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Oujaarsaand..... Ons het vanaand as gemeente bymekaar gekom om saam die jaar af te sluit. Op so 'n oujaarsaand dink ons terug aan wat die afgelope jaar gebeur het. Ons maak die balans op.

Daar was mooi dinge, daar was moeilike dinge.

Daar was vreugde, maar daar was ook sorg.

Daar was blydskap oor kinders wat gebore is, daar was verdriet oor geliefdes wat gesterf het.

Maar hoe verskillend elkeen van ons vanuit eie omstandighede die afgelope jaar ook takseer, oor een ding sal ons almal saamstem: Wat het die jaar ongelooflik vinnig gegaan.

Skaars het daar 'n nuwe jaar aangebreek, en dit is alweer verby. En weer is ons almal 'n jaar ouer.

Dit is so 'n Oujaarsaandstemming, wat elkeen wat homself daarvoor kans gee deur rustig 'n bietjie te dink, sommer voel opkom.

Die lewe gaan vinnig verby. Ure, maande, dae, jare, soos 'n skaduwee gaan dit verby. As ons terugkyk is die verbye dae soos 'n wolk wat wegwaai. Dis sommer weg.

Dit is ons stemming. Die lewe glip deur ons vingers.

En nou maak ons vanaand ons Bybel oop, om te luister na wat die Here vir ons wil sê. En dan blyk dit dat Sy Woord vierkant teenoor ons stemming staan.

Immers, daardie Woord gaan nie saam met ons in ons stemming nie, maar die Woord bepaal ons veel meer by ons bestemming.

Ons moet nie in weemoed terug kyk na wat verby is nie, maar ons moet in nugterheid vooruit kyk na die lewe wat kom.

Ons is nie opgesluit in 'n deurgaande sirkel van jaarwisselinge waarin ons 'n aantal jare saamdraai, eendag uitval, en dan in die niet verdwyn nie.

Nee, ons is neergesit op 'n reguit lyn wat uitloop in die ewige lewe. Dit is ons lewensbestemming.

Ons is bestem om te lewe. Dit is die troos wat Paulus aan die gelowige voorhou as hy praat oor die komende dag van die Here.

Ek verkondig vir u vanaand God se Woord soos volg:

Die apostel leer vir ons nugterheid met die oog op die komende dag van Christus.

  1. In daardie nugterheid moet ons ons aan ons lewensroeping wy.
  2. In daardie nugterheid moet ons ons in ons lewensbestemming verbly.

1. Laat ons nugter wees, so kan ons die boodskap van ons teks wel saamvat. Maar binne die verband van die Skrifgedeelte klink dit tog alte oppervlakkig.

Paulus maak in vers 8 naamlik 'n sterk teenstelling.

Daar is mense op die wêreld wat glad nie nugter is nie. Paulus gee in die voorafgaande verse die skeiding aan wat daar deur die wêreld loop.

Jy kry mense van die dag, en jy kry mense van die nag.

Jy het kinders van die lig, en kinders van die duisternis.

Daar is mense wat wag op die koms van Christus, en mense wat daarmee glad nie rekening hou nie.

En uitgaande van daardie teenstelling wek Paulus die gelowige op om veral nugter te wees.

Met nugter wees, daarmee bedoel ons: jy moet die werklikheid onder oë sien. Jy moet jou nie deur allerhande fantasieë laat saamneem nie, maar jy moet met altwee bene op die grond staan. Dit is nugter.

Wel, as Paulus ons dus as gemeente opwek om nugter te wees, dan is dit seker maar 'n aansporing vir ons almal.

Dus nugterheid - werklikheidsin - moet ons soek in die kerk, en buitekant is daar geen nugterheid nie.

Daar leef mense in 'n fantasiewêreld.

Maar wag 'n bietjie. Is dit wel waar?

Verlede week het ons die Kersfees gevier: toe het ons gesing: Daar is vrede op aarde.

Maar kan juis dan die ongelowige wêreld nie vir ons sê: Wees nugter. Dit is dan nie die realiteit nie. Vrede op aarde, dit is slegs 'n droombeeld.

God het in mense 'n welbehae, het die engele gesing. Maar wees nou nugter: Miljoene mense sterf van honger. Honderdduisende deur oorlogsgeweld. Tienduisende deur aardbewing.

Is dit wel behae van God in mense?

Maar daar kom 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde, so bely die Kerk.

Sprokies, fantasiebeelde, opium vir mense wat hul graag laat bedrieg, sê die wêreld.

Wees liewer nugter. Lees liewer wat in die koerant staan, as wat in die Bybel staan. Kyk watter probleme en ellende die jaar..... ook op die wêreld gebring het. Dit is die werklikheid. Die nugtere werklikheid.

En dit is waar, broeders en susters. Ons moet dit toegee. Dit is vandag se werklikheid.

In ons land lyk die spanning tussen die bevolkingsgroepe slegs te groei in plaas van dat dit afneem. En waar op die wêreld is dit regtig vrede? Is daar nie orals dreiging, geweld, onvrede terrorisme ens. nie.

Dit is tog ontnugterende werklikheid, ondanks alle drome oor 'n beter wêreld. En tog sê Paulus: Laat ons (in die kerk) veral nugter wees. Laat ons die realiteit onder oë sien.

Want bo en behalwe die werklikheid van 'n wêreld vol ellende, is daar ook nog 'n ander werklikheid. Ook daarvoor moet ons die oë oophou, naamlik die werklikheid van die komende dag van Christus.

Wie daardie werklikheid nie sien of nie wil sien nie, hy is nie nugter nie, maar hy is blind. Hy leef in die duisternis. Hy is 'n kind van die nag.

Hy meen hy sien die werklikheid, maar hy is blind.

Hy meen hy is nugter, maar hy verkeer in 'n roes.

Want hy sien nie dat Christus besig is om te kom nie.

Die gelowige weet uit die Woord: daar sal hongersnode, aardbewings, oorloë, gerugte van oorloë en dodelike siektes kom.

As die ongelowige dit alles sien, sê hy: Sien jy, daar is nie 'n God nie!

Maar die gelowige in sy nugterheid sien dit, en sê: Sien jy, Christus is inderdaad besig om te kom.

Die ongelowiges, hulle roep: Ons wil lewe. Lewe op hierdie wêreld. Ons wil lewe in 'n wêreld sonder oorlog en sonder wapens en met 'n welvaart wat eerlik verdeel is. Dit moet moontlik wees. Ons is mos almal verantwoordelike mense.

Wel, van so 'n lewenshouding se Paulus: Dit is onwerklike ideale!

Want die wêreld hou nie rekening met die realiteit van die sonde nie. En ook nie met die realiteit van die toorn van God oor die sonde nie. En ewemin met die realiteit van die naderende koms van Jesus Christus.

En daarom: Laat ons dan nugter wees.

O nee, dit beteken nie dat ons glimlaggend aan die nood van die wêreld verbygaan nie. Ons het hier op Oujaarsaand nie by mekaar gekom om hier agter die veilige beslotenheid van die kerkmure ons skouers op te haal oor die ellende van die wêreld, deur te sê: Nou ja, daardie probleme maak eintlik nie saak nie. Hoekom moet ons ons daaroor besorgd maak?

Ons lewe mos slegs vir later, vir die nuwe aarde.

En daarom kan die probleme van hierdie aarde ons nie regtig raak nie.

Wel, so 'n vroomheid is slegs skynvroomheid.

Boonop is dit 'n vlug. 'n Vlug uit die wêreld na 'n hoekie waar jou siel verlig is.

Maar dan ontvlug jy jou lewensoreping.

Dan gaan sit jy midde-in die oorlogsgeweld in'n skuilplek, met jou oë toe en vingers in jou ore. Dit is dan 'n ontkenning van die werklikheid.

Maar nugterheid, het ons gesê, is dat jy die werklikheid onder oë sien.

Ons moet besef dat ons tans nog leef in die periode van die stryd.

Die stryd om die Koms van die Koninkryk.

Ons kan ons nog nie beklee met die feeskleed van die nuwe Jerusalem nie.

Eers moet ons nog die borswapen dra.

Die harnas van die geloof. Die geloof dat Christus kom, en dat Sy Woord betroubaar is.

Beklee jou verder met die skild van die liefde. Dit beteken: betoon barmhartigheid.

Barmhartigheid waar jy maar kan met ellendiges, vlugtelinge, hongeriges, met mense wat in hul lewe vasgeloop het.

Maar liefde is meer as net iets doen. 'n Kerk wat die wêreld liefhet, moet spreek. Sy moet spreek oor die werklikheid van God se toorn. Sy moet waarsku dat Christus besig is om te kom. Sy moet die pad wys, hoe daar ontkoming aan die toorn is.

Dra verder die helm van die hoop op die saligheid.

Daar is hoop. Seker, maar nie die hoop dat dit in die toekoms sommer beter sal gaan nie.

Nee, daar is 'n ander hoop. Want eendag het Jesus Christus gekom as die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. Op Hom hoop ons. Op Hom bou ons.

Want Hy is die lig wat skyn in die duisternis.

Laat daardie lig ons eie lewe verlig, sodat dit wat nog tot die werk van die duisternis behoort, weggedoen word.

Laat daardie lig ook in die wêreld skyn. Julle is tog kinders van die lig?

En as die kinders van die lig daardie lig nie hooghou in die wêreld nie, wie sal dit dan doen?

As u temidde van kollegas en kennisse nooit daardie lig noem wat u leer ken het nie, hoe sal hulle behou kan word?

Wees nugter, en as u dalk in slaap geval het, word wakker. Want die dag van Christus kom!

2. In nugterheid moet ons ons in ons lewensbetemming verbly.

Paulus het ons tot nugterheid opgeroep. Ons moet die realiteit in oënskou neem om te sien wat ons moet doen.

Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus.

God het ons nie bestem tot toorn nie. Daar is toorn van God oor hierdie wêreld. En dan kom toorn van Christus in die dag van die Oordeel.

Maar dit is nie ons bestemming nie. Ons is nie daartoe bestem om onder te gaan in die toorn van God nie. Want ons is deur God bestem om te lewe, om te oorlewe.

Vir vandag se wêreld is die groot vraag: Sal daar menslike lewe op die aarde oorbly? Is daar nog hoop om te oorlewe temidde van 'n wêreld van haat en wantroue, en besoedeling van lug en water?

Ons kan daardie vraag goed verstaan. Want dit is 'n beangstigende lewensvraag.

Hoe sal die toekoms lyk vir ons, en veral vir ons kinders?

Daardie vraag laat ons die gewig besef van die verantwoordelikheid van mense wat in die wêreld politieke mag het. Die vraag onderstreep die noodsaak van die voortdurende gebed vir die owerheid.

En tog: die groot vraag van die wêreld: Sal daar in die toekoms nog lewe moontlik wees? is vir die Kerk lankal nie meer 'n vraag nie.

Ons is bestem om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus, sodat ons aam met Hom kan lewe (vers 10).

Dit is ons bestemming. 'n lewensbestemming dus.

En daardie boodskap moet ons in die wêreld laat hoor.

God het ons bestem om te lewe. Die Kerk weet dit al eeue lank.

Die wêreld gaan uit van die veronderstelling dat elke mens reg het om te lewe. Dat hy reg het op gesondheid en welvaart.

Maar God het vir sy gemeente dit geleer: Alle lewe wat daar is, is lewe by die grasie van God. Daarop het jy nie reg nie, maar jy ontvang dit as genade van God.

Dit het die Here mos al duidelik gemaak in die nag van die uittog uit Egipte.

Toe het daar toorn van God oor Egipteland gekom. God het die lewe van mens en dier geslaan. In Sy toorn het Hy met 'n ongelooflike noukeurigheid die lewe van alle eersgeborenes getref.

Maar aan die huise van Israel het Hy verbygegaan.

Sinds daardie gebeurtenis was die lewe vir 'n Israeliet nie meer 'n vanselfsprekendheid nie. Hy beskou die lewe nie as 'n mensereg nie, maar as 'n genade geskenk van God.

God het in Sy toorn Israel verbygegaan, omdat Hy daardie volk nie vir die toorn nie, maar vir die lewe bestem het.

Die lewe is 'n genade geskenk. Ons is gered van die toorn van God.

Die Kerk gedenk dit by die Doopvont in haar gebed: Toe God se toorn oor die ongelowige en onboetvaardige wêreld gegaan het, het Hy in Sy groot barmhartigheid die gelowigess Noag met Sy gesin, gered en bewaar - God het hulle vir die lewe bestem. Rooi See: Farao verdrink. Israel lewe. God het hulle vir die lewe bestem.

Ons bely dit by die viering van die Heilige Nagmaal: Daar was toorn van God op aarde (Golgota), maar ons is gered, daarom is daar lewe vir ons. Sing en verbly.

Is so, broeders en susters, elke dag wat ons vanjaar ontvang het, nie 'n dag van God se genade nie?

Wel, dit is die boodskap wat die Kerk in die wêreld moet verkondig.

Die Kerk mag nie swyg oor die toorn wat al sigbaar is, en die toorn wat sal kom nie. Die Kerk mag ook nie swyg oor die redding wat daar is vir elkeen wat glo nie.

Daar is lewe, lewe in Jesus Christus.

Wie glo, ontvang daardie lewe. Hy mag hom verbly, want hy weet hy is bestem vir die ewige lewe.

O nee, hierdie blydskap is nie 'n roes nie. Dit is nie 'n kunsmatige vrolikheid wat jou van die probleme laat vergeet nie.

Ook ons kan maar baie angstig word as ons sien hoe die wêreld met 'n sneltreinvaart hom na die afgrond beweeg. Ons leef in hierdie wêreld met ons kinders. Dit is benouend om te sien hoe menslike lewe vermors word in geweldpleging, in oorloë, by aborsie of euthanasie. Dit het in 19... nie baie beter geword nie. Hoekom? Waarnatoe? Hoe lank nog? Almal oop vrae. Beangstigende vrae.

Maar tog mag die angs ons nie oorheers nie. Want ons weet van heil, van heil wat vir die gelowiges beplan is.

Eendag het die Lam van God na hierdie wêreld gekom om die sonde weg te dra. En eendag sal Hy terugkom om alle sonde en verdriet en angs en spanning weg te doen. Solank as die dag van Sy koms nog nie daar is nie, mag ons ons jare tel as jare van God se goedheid en geduld.

Ons weet dat eendag, op die dag van die Here, die elemente deur vuur sal vergaan. En dat daar dan behoud sal wees vir almal wat die Naam van die Here aanroep.

En daarom kan ons ons nou reeds verbly.

Ons kan 'n loflied sing teen alle klaagsang van die wêreld in.

Ons sing die lied van die geloof, van mense wat weet hulle sal lewe deur Jesus Christus.

As mense wat glo dat hulle bestem is om te lewe met Jesus Christus.

Die God wat Noag-hulle gered het toe God se toorn oor die aarde gekom het, leef mos vandag nog. Hy is gister en vandag Dieselfde.

Die God van Israel, wat Sy volk deur die Rooi See gelei het en die lewe geskenk het, daardie God is onse God.

Daardie God is die Vader van ons Here Jesus Christus, die Heiland.

In daardie Seun is die lewe, en daardie lewe is die lig van die mense. Daardie lig skyn in die duisternis as die waaragtige lig. Daardie lig was aan kom in die wêreld.

Ons lewe is nie 'n lewe tussen hoop en vrees nie.

Maar ons lewe tussen die Kersfees en die Wederkoms.

En ons tel ons jare as jare waarin ons van God se genade mag lewe. Ook as jare waarin ons die Blye Boodskap van die vrede van God mag verkondig.

En so kan ons verder. Ook nou dat hierdie jaar tot 'n afsluiting kom.

Ons laat ons nie dryf op 'n weemoedige stemming wat slegs kan treur oor wat verby is nie.

Maar ons laat ook oor hierdie dag die lig val van die groot lig van die wêreld.

En dan weet ons, daar is lewe.

Lewe by God wat Hy in Sy welbehae vir die mense bestem.

Ons leef uit 'n belofte: Christus is besig om te kom.

Hy sal kom met 'n oordeel, seker, maar tegelyk weet ons dit: Op daardie dag sal daar redding wees vir almal wat die Naam van die Here aanroep.

Kyrie Eleison!

Heer ontferm u oor ons!

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)