Paulus se gebed om deurwerking van die blydskap

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
I Thessalonicense 3
Preek Inhoud: 

Ps. 18: 1, 2
Ps. 18: 12, 13
Ps. 33: 1, 2, 3
Ps. 146: 1 - 4
Lees: 1 Thess. 2 en 3
Teks: 1 Thess. 3: 11 - 13

Broeders en susters, seuns en dogters,

In vorige preke uit hierdie brief van Paulus aan die Thessalonicense, het ons gesien hoe hulle die Woord wat vir hulle verkondig is, met blydskap aanvaar het. Hulle het in die prediking van Jesus Christus, 'n blye boodskap herken.

Vir daardie gang van sake is Paulus op sy beurt so dankbaar, dat hy die Here dank vir Sy wonderwerk in Thessalonika.

Daar het die Heilige Gees mense bly gemaak onder omstandighede waarvan ons sou dink, daar is min rede tot vreugde.

Groot dankbaarheid dus, by Paulus-hulle.

Maar dit is nie die einde van die saak nie. Daar is nou 'n gemeente, en daar is rede tot dankbaarheid, maar daarmee is dit nie klaar nie.

Immers, dankbaarheid vir wat ontvang is, laat jou ook die blik rig op wat vorentoe lê. En dan weet jy dat daar veel rede is om te bid. Om te bid om 'n voortgaande lewensheiliging.

Want blydskap en dankbaarheid kan in 'n christen nie slegs 'n gevoel bly nie. So 'n gevoel wil hom in dade uiter. Dit moet ook, want dan eers blyk dat die blydskap, 'n deur die geloof gestigte blydskap is, want die geloof is 'n werksame krag in 'n mens se lewe. Daarvoor bid Paulus in ons teks. Ek bedien u die Woord van die Here soos volg:

PAULUS SE GEBED OM DEURWERKING VAN DIE BLYDSKAP.

Dit is 'n gebed om:

  1. ruimte vir die saai van die evangelie
  2. groei van die vrug van die evangelie
  3. binnehaling van die oes van die evangelie.

1. Paulus se gebed om ruimte vir die saai van die evangelie.

Ons onthou dat Paulus slegs vir 3 weke die evangelie in Thessalonika kon verkondig. Dan moet hy vlug vir sy lewe. Ons kan die verhaal lees in Hand. 17. In daardie weke het egter 'n gemeente ontstaan. En deur die krag van die Heilige Gees, het daar groot dinge gebeur. Paulus het via-via daarvan berig ontvang, en nou kan ons verstaan hoe Paulus baie verlang om self na Thessalonicense te kom. Hy skryf daarom in vers 10: "nag en dag bid ons ernstig om julle aangesig te sien, en te voltooi wat aan julle geloof ontbreek. "

Dit klink vir ons 'n bietjie snaaks: voltooi wat aan julle geloof ontbreek. Wat ontbreek aan die geloof van die Thessalonicense? Hulle is tog duidelik gelowiges in Jesus Christus.

Paulus bedoel dit: hul geloof in die sin van geloofsvertroue is groot genoeg, maar wat hulle kortkom is kennis. Hulle weet nog hopeloos te min. En dit beteken vir die toekoms 'n gevaar. As hulle wil volhard in die geloof, dan moet hulle weet van die weg van God met Sy volk. Hulle moet weet van die hoe en waarom van die lyde en sterwe van die Here Jesus.

En hoe meer jy daarvan verstaan, hoe meer jy gaan sien van die enorme liefde van God vir Sy kinders, hoe meer jy ook liefde aan God wil betoon.

Probeer julle voorstel, kinders, dat julle moes klaarkom met 3 weke katkisasie in jul lewe. Wat sou jy dan geweet het van die Bybel? Dan het jy niks verstaan van hoekom Jesus moes gely het vir ons sondes nie. Ek dink dan sou daar van ons geloof nie baie tereg kom nie.

Die gevaar om in hande van dwaalleraars te val, sou dan ook baie groot wees. Ons is dan ook gelukkig dat ons jare katkisasie en vereniging kan gaan, en dat ons tuis en in die kerk en op skool, hoor van die Here en Sy Woord.

Dit alles het die Thessalonicense nie gehad nie. Dus nou verstaan julle hoe 'n groot wonder dit was, dat daar in Thessalonika tog 'n gemeente gekom het. En tegelyk is duidelik waarom Paulus so verskriklik graag na die gemeente toe wil gaan.

Immers, die gemeente sou kon dink terwyl hulle in die moeilikheid is: Hierdie Paulus het ons mooi alleen gelaat hier. Hy is daar veilig in Athene of Korinthe, maar ons het hier probleme.

Ons kan dit baie goed voorstel. Wel, om hierdie gedagtegang te voorkom, stuur Paulus vir hulle hierdie brief. 'n Brief te bemoediging. ons het in hoofstuk 2 gelees dat Paulus uitvoerig praat oor al die werk wat hy in Thessalonika gedoen het. Nag en dag het hy hom ingespan. Niemand van hulle het hy beswaar nie. Soos 'n pleegmoeder haar kinders koester, so was Paulus onder die Thessalonicense.

Dit lyk amper of hy homself 'n veer in die broek steek.

Miskien is dit nuttig om te ondersoek hoekom Paulus so praat, hoekom hy so nadruklik stel dat hy 'n apostel, 'n gesondene van die Here is.

Ons moet naamlik besef dat die koms van iemand wat 'n verlossignsboodskap verkondig in die Griekse stede van daardie tyd, glad nie 'n uitsondering was nie. Amper elke dag kon jy op die pleine van die stede wel iemand beluister wat een of ander religieuse of filosofiese boodskap verkondig. Hulle het dwarsdeur die land gereis in 'n poging om op hierdie wyse die kos te verdien. Hulle het dikwels leerlinge aangeneem wat dan hul leermeesters goed moet betaal.

U sal verstaan onder hulle was baie skelms, wat groot kursusgelde gevra het, onder allerhande fantastiese beloftes, en dan skielik na 'n paar dae of weke verdwyn, om elders hul geluk te beproef.

Wel, Paulus wil duidelik maak dat hy totaal anders is. En daarom herinner hy hulle breed aan die werk wat hy onder hulle gedoen het, en die manier waarop hy opgetree het. Hy wys eers daarop dat hulle vlak voor hulle in Thessalonicense aangekom het, in Filippi mishandel is. Hulle is daar gegesel en in die tronk opgesluit. Ons kan ons voorstel dat 'n mens na so 'n behandeling in die een stad, hom twee keer bedink voordat hy in die volgende stad begin preek. Tenminste ek sou min lus daarvoor gevoel het.

Maar nie so met Paulus en Timotheus nie. Die volgende dag preek hulle in Thessalonika. Omdat hulle geld nodig het? Nee, glad nie.

Hulle het gepreek as apostels. As gestuurdes van die Here.

Daarom kon Paulus nie swyg in Thessalonicense nie.

Hy is dan 'n totaal ander figuur as die godsdiensverkopers wat anders optree. Daarom weier Paulus ook beslis om geld van die Thessalonicense aan te neem.

Hy wil finansiëel onafhanklik wees, en verkondig in sy vrye tyd die evangelie. Elke skyn van ooreenkoms met ander godsdiensleraars wil hy vermy.

Maar na drie weke is hy weg uit Thessalonicense. En nou het hy ondanks alle voorsorge, tog nog weer die skyn teen hom. Van die buitekant lyk hy tog na so 'n profeet wat kom en gaan, en daarna nooit meer sy gesig wys nie.

Dat hy nog nie weer in Thessalonika was nie, lê nie aan Paulus self nie. Dit moet hulle goed verstaan. Daarom het Paulus eers 'n afgevaardigde, Timotheus gestuur, en nou Timotheus terug is, skryf hulle saam hierdie brief?

Baie graag wil ek by julle kom, maar die Satan het my verhinder (2: 18). Paulus wil alles doen om in Thessalonicense verder te gaan met die evangelieverkondiging. Dit is nie dat die Heilige Gees dit vir hom verbied nie, maar Paulus sien hierin Satan se hand. Satan, dit beteken teëstander. Satan is die groot teëstander van God. Hy sal alles probeer om verdere uitsaaiing van die evangelie te verhinder. Ons weet nie presies hoe Paulus die verhindering deur Satan konkreet bedoel het nie. Maar hy sien in elk geval tans geen moontlikheid om te gaan nie, en daarom lê hy hierdie saak in gebed aan die Here voor. Sodat God die weg mag oopmaak na Thessalonicence.

Want God die Vader regeer en lei ook die weg van Paulus. Biddend wil Paulus daardie weg gaan, en op daardie weg soek hy in die eerste plek die heil van die gemeente van Thessalonicense.

In ons teks word die Here Jesus in een asem genoem met God die Vader. Dit is die een God waarom alles gaan. Die God van die evangelie. Daardie God, Vader, Seun en Heilige Gees, maak ruimte vir die evangelieprediking. En daarom bid Paulus alle teenstand teen die evangelieverkondiging uit die pad. Sodat die Woord deurgang mag vind en die evangelie orals gesaai kan word.

2. Gebed om groei van die vrug van die evangelie.

Nadat Paulus gebid het om geleentheid om self na Thessalonicense te kom, bid hy nou regstreeks vir die Thessalonicense.

Mag die Here julle ryk maak!

Hierdie oorgang van gebedsinhoud, is baie betekenisvol. Paulus wil wel graag na Thessalonika kom om verder te werk, maar dit beteken nie dat God sonder sy koms nie verder kan nie. Ook nie dat die mense van Thessalonika nou maar rustig moet sit en wag totdat Paulus kan kom nie. Nee, die Here Self moet groei in die gemeente gee. Van Hom moet jy dit verwag. Die gemeente mag nooit afhanklik word van 'n voorganger, 'n apostel, 'n predikant of sendeling nie.

'n Ampsdraer van sy kant mag die mense ook nooit aan sy persoon bind nie. Daar mag niemand om hom na die kerk of die katkisasie kom nie.

Jy moet nie belydenis doen om die dominee nie teleur te stel nie. Of omwille van jou ouers of jou vriende in die gemeente nie.

Nee, dit moet jou gaan om Jesus Christus. Die gemeente moet nie aanleun teen 'n ampsdraer nie, maar moet steun op Jesus Christus.

Daarom moet 'n ampsdraer die gemeente steeds aan Christus bind.

Dit is wat Paulus hier duidelik laat sien, en so betoon hy homself 'n ware dienskneg van Sy Heer.

Hy wil baie graag kom en hy bid ernstig daarom, maar tegelyk sê hy: Mense, julle moet nie op my sit en wag tot my gebed verhoor is nie, maar bid tot die Here. Mag Hy julle oorvloedig maak in liefde vir mekaar.

Bid of God verder groei van die vrug van die evangelie sal gee. 'n Eerste vrug van die evanglieprediking in Thessalonicense was die blydskap. Daaraan het ons genoeg aandag gee. Maar liefde is ook so 'n vrug van die prediking. En ook dit verdien ons sorgvuldige aandag.

Die liefde is een van die belangrikste kenmerke van die gemeente van Jesus Christus.

Immers, aan die gemeente is die liefde van God verkondig. 'n Liefde wat so groot is dat God Sy Eniggebore Seun in die wêreld gestuur het om te ly en te sterf, en so die lewe van Sy kinders te kan vrykoop.

God is liefde. Dit is die kenmerk van ons hemelse Vader. En daarom is ook die kenmerk van Sy kinders op aarde: die liefde.

Liefde is nie net 'n sekere gevoel nie, maar liefde beteken in die Bybel veral liefdebetoon.

Die liefde moet sigbaar word, anders is dit nie liefde nie.

'n Liefde wat hom nie met die daad bewys nie, verdien nie die naam liefde nie. Veral in die gemeente van Christus behoort dit so te wees. Daardie liefde is jy aan mekaar verplig.

Daardie liefdebetoon gaan nie sommer vanself nie. Dit vra baie inspanning en ywer. Veral in 'n gemeente soos Thessalonicense. Daar was mos sprake van vervolging. Sê nou jou broer is in die tronk vanweë sy belydenis van Christus. Wat gebeur met jou as jy hom daar besoek? In so 'n situasie sal gou jou eie belang die liefdebetoon verdring. Maar die gevaar is daar nie slegs by vervolging nie. In 'n gemeente wat volle vryheid geniet, gebeur dit ook maklik. Almal is baie besig met hul eie sake, hul eie sorge en hul eie ontspanning. Jou huis, jou tuin, jou gesin. Alles vra jou aandag. En dan gebeur dit sommer maklik dat jy totaal van 'n ander vergeet.

Jy kom daar net nie by uit om liefde te betoon nie. Daarom is gebed nodig. Hard nodig. Gebed dat jy mag groei in liefde.

Ja selfs dat jy oorvloedig raak in liefde. As ons as gemeente vir mekaar bid, dan sal ons oë ook vir mekaar se node oopgaan.

Dan sal ons vanself mekaar liefde bewys. Bid en werk gaan mos saam.

Daar is nog iets. Paulus bid ook dat ons sal groei in liefde vir almal. Liefde moet ook betoon word aan ons naaste buite die kerk.

Ja, selfs aan ons vyande. En dit is die allermoeilikste. Dink maar weer aan die Thessalonicense. Hulle moet selfs liefhê wie hulle vervolg.

Net soos die Here Jesus dit gedoen het.

Immers, 'n gemeente waar mense maar net oog vir mekaar het, en alle liefde en alle energie binnekant investeer, voldoen nie aan die beeld wat die Bybel ons van Christus se gemeente teken nie.

Immers, ook na buite toe het jy 'n taak. Ook na 'n ander moet jy liefde bewys. Met die woord en met die daad. Dit kan nie kwaad om iemand van buite die gemeente te bemoedig met 'n woord uit die Bybel nie. Ek weet ons doen dit nie so maklik nie. Ons het dit nooit geleer nie. Die ergste is ons vind dit selfs al moeilik binne die gemeente om vir 'n broer of suster te sê: Ek bid vir jou. Ons vertrou die Here sal kragte gee. Laat ons daar maar begin. Laat ons dit maar vir mekaar leer. Sodat ons dit ook vir 'n ander met vrymoedigheid kan sê.

Paulus self het mos ook so gedoen. Hy wys daarop in ons teks. Toe hy vir die eerste keer in Thessalonicense kom, was dit mos vir hom ook nie broers of susters nie. Hy het aan vreemdelinge die evangelie verkondig.

Hy het aan onbekendes liefde betoon. So moet ons ook met ander mense leer omgaan. Noudat ons die groot liefde van Christus vir Sy gemeente gesien het, nou moet ons van die liefde begin uitstraal. Oorvloedig selfs.

Gee maar baie van daardie liefde broeders en susters. Jy sal merk, jy word daarvan nie armer nie. Eerder ryker.

Dit is die wonderlike effek van 'n oorvloedige liefdebetoon. Hoe meer liefde jy gee, hoe meer jy self versterk word.

Jy raak naamlik al hoe meer oortuig van die krag van die evangliewoord. Maar die omgekeerde gebeur net so goed. As jy agterbly in liefdebetoon aan 'n ander, sal jou liefde tot God steeds meer verkil en tenslotte verdwyn.

3. 'n Gebed om binnehaling van die oes van die evangelie.

In die laaste deel van hierdie gebed gaan 'n groot perspektief oop. Paulus plaas heel die gebed in die lig van die koms van Jesus Christus. Die Thessalonicense is op pad na die dag van Sy koms. En die besef daarvang beïnvloed hul lewe nou reeds.

Die wederkoms van Christus is 'n belangrike tema in hierdie brief (sien 1 Thess. 1: 10 hoofstuk 2: 12 en 19)

Alles wat Paulus sê, sy dankbetuigings, sy aanmoedigings, sy voorbede, dit alles staan in die teken van die koms van die Here Jesus.

Daar is gesaai in Thessalonicense. Daar is groei en ryping van vrugte in Thessalonicense. Maar in dit alles gaan dit natuurlik om die uiteindelike oes. Eendag sal Jesus Christus hulle onberispelik in heiligheid voor Sy Vader stel.

Daarnatoe is die gemeente op pad. Vir daardie doel is vir hulle die evangelie verkondig.

En daarom moet die doel, die ontvang van onberispelike heiligheid, hul lewe gaan bepaal.

As jy weet dat dit jou bestemming is, dat jy daartoe deur Chrsitus geroep is, dan kan dit nie utibly dat jy alles wat by daardie bestemming nie pas nie, uit jou lewe wegdoen nie.

Seker, daardie onberispelike heiligheid kan jy in hierdie lewe nie bereik nie, dit is ook nie wat hier staan nie, maar dit gaan om die rigting, waarin jou lewe beweeg.

Of soos die Heidelbergse Kategismus dit sê: Daar kom 'n begin van 'n nuwe gehoorsaamheid. Op pad na die volkome heiligheid sal ons nog dikwels struikel.

Daarvoor sal ons elke dag vergewing moet vra.

Maar eendag sal dit nie meer nodig wees om vergewing te vra nie. As die Here Jesus gekom het, sal Hy die sonde vir altyd van ons wegdoen. En wat dan oorbly is 'n ewige blydskap. Ons blydskap wat nou nog so kwesbaar is, sal 'n eindelose vreugde word.

Die begin daarvan kan ons ervaar in die omgang met Jesus Christus. In die feestelike viering van die Heilige Nagmaal. In die vreugde wat ons beleef in die sondagse eredienste.

Maar die vreugde kan slegs kom en greoi in die weg van voortdurende gebed. Ons wil bid dat ons lewe steeds meer aan die doel wat God met ons het, sal beantwoord.

Sodat Christus op Sy dag 'n ryk oes mag binnehaal.

Ook in Belhar/Kaapstad/.....

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)