Hemelvaartsgeloof, beteken 'n kragtige aansporing

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
I Thessalonicense 1
Preek Inhoud: 

HEMELVAARTDAG 9 MEI 1991.

Ps. 47: 1, 2
Ps. 47: 3, 4
SB. 9: 1, 2, 3
Ps. 138
Lees: Hand. 1: 1 - 14
Teks: 1 Thess. 1: 9, 10

Broeders en susters.

Vandag vier ons die Hemelvaartdag. Een van die christelike feesdae. As ek op my eie gevoel afgaan, is die Hemelvaartdag nie 'n fees wat sterk tot ons verbeelding spreek nie. Want watter feestelike gevoel kan jy ervaar op 'n Hemelvaartdag?

Tog is dit 'n goeie saak dat ons elke jaar Hemelvaartdag vier. En dan nie as 'n dag waarop ons net stilstaan en terukyk na 'n gebeurtenis in die verlede nie, maar veral as 'n herinnering om as christelike gemeente steeds vorentoe te bly kyk.

Want ook die feit van die Hemelvaart bevat Evangelie, 'n blye boodskap. Die blydskap skuil nie alleen in die feit dat die Hemelvaart plaasgevind het nie, maar veral in die belofte wat aan Jesus se Hemelvaart verbind is. Daardie belofte word onder woorde gebring deur twee manne wat by die dissipels kom staan, en vir hulle sê: "Galilese manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het".

Die Evangelie van die Hemelvaartdag is dus eintlik die belofte van die Wederkoms. En daardie Evangelie kan mense in beweging bring. Dit is ook wat gebeur as daardie Evangelie vir die eerste keer verkondig word. By die Hemelvaart van Jesus het die dissipels vasgenael bly staan. Maar as hulle die belofte aanvaar, kom hulle in beweging. Hulle keer om en gaan op pad. Wel, dit is wat die geloof in die Hemelvaart tot stand wil bring.

Dat ons ons bekeer tot God, en die belofte van terugkoms aanvaar en uit daardie verwagting elke dag leef.

Dit is dan ook die tema van vandag se Evangelieverkondiging.

HEMELVAARTSGELOOF, BETEKEN 'N KRAGTIGE AANSPORING TOT

  1. bekering tot die Lewende God
  2. verwagting van die reddende Jesus.

1. Bekering tot die Lewende God.

Die wonder van Thessalonika. So mag ons gerus die ontstaan van die gemeente van Thessalonicense noem. Dat hulle onder 'n harde verdrukking, met soveel blydskap die evangelie aanvaar het, dit het orals in Griekeland bekend geword. Die verhale oor die wonder van Thessalonicense het Paulus-hulle al vooruit gereis. Daardeur het hulle op baie plekke 'n oop oor vir die evangelie gevind.

In ons teks hoor ons nog 'n bietjie meer oor die bronne van die blydskap van die Thessalonicense. Hul blydskap het diep wortels. Dit is met blydskap nie altyd so nie. Daar kan ook 'n vorm van blydskap wees wat uit oppervlakkigheid voorkom. Jy kan byvoorbeeld heel bewus jou oë sluit vir probleme van die wêreld. Jy wil die nood van 'n ander glad nie sien nie. Jy leef in jou eie wêreld, en jy sluit jou bewustelik af van die harde werklikheid. So 'n blydskap is baie oppervlakkig, en ook verskriklik kwesbaar.

Immers, die rus wat jy in jou klein wêreldjie geniet, kan sommer maklik verbreek word.

En dan kan blyk dat jou blydskap op dryfsand gebou is. 'n Goedkope halleluja-geroep kan vinnig omslaan in 'n dure vloek. Maar in Thessalonicense was dit anders. Paulus vertel in ons teks oor die bron van die blydskap van die Thessalonicense.

Die bron lê in hulle bekering. Bekering, dit is die woord wat in ons teks sentraal staan. Oor die bekering van die Thessalonicense is ook gepraat. Lees maar: want hulle vertel self aangaande ons, watter ingang ons by julle gehad het, en hoe julle jul van die afgode bekeer het tot God.

Daarop wil ons eers u aandag hier vestig. Daar word oor die Thessalonicense vertel hoe hulle hul bekeer het. Blykbaar was die bekering iets wat jy baie goed kon sien. Anders kan 'n ander daarvan mos niks vertel nie.

Dit beteken dus, die bekering was nie 'n teoretiese saak nie. Hulle het nie slegs by hulleself tot 'n ander oortuiging gekom nie, nee, hul bekering het 'n sigbare verandering in hul lewe bewerk. Almal kon dit sien. So het die verandering aan buitestaanders opgeval. Tot in Korinte is daaroor gepraat.

Hier sien ons: 'n bekering wat in jou lewe sigbaar word, is altyd die beste evangelisasie metode. Die omgekeerde is dan ook waar: As die geloof in Jesus Christus en die weeklike kerkgang geen sigbare veranderings by mense tot stand bring nie, is enige evangelisasie arbeid by voorbaat gedoem om te misluk.

By bekering behoort dus lewensverandering. Want jou lewensdoel het deur jou bekering verander. Kom ons wil die verband tussen die twee, tussen bekering en lewensgedrag nog ekstra toelig. Juis in verband met evangelisasie werk. Het u ooit probeer om aan 'n ongelowige wat glad niks van Jesus Christus en Sy Woord weet nie, te verduidelik wat presies die betekenis van die evangelie is? Jy sal dan moet praat oor vergewing van sondes. En as jy wil vertel wat sonde is, dan sal jy vermoedelik praat oor sondes soos doodslag, egbreuk, diefstal, leuens ens. Dus oor sondes teen die tweede tafel van die wet.

Dus dan praat jy oor sigbare sondes waarin 'n sigbare bekering moet plaasvind. Maar heel dikwels sal mense dan reageer met: Maar dan het ek nie bekering nodig nie.

Immers, ook ongelowiges kan baie netjiese mense wees. Hulle probeer in hul lewe elkeen te gee wat aan hom behoort. Nou ja, hulle het hul tekorte, maar dit het christene seker ook maar. Hulle het genoeg christene gesien. Nee, hulle het dus eintlik nie bekering nodig nie.

Hulle gee vir elkeen wat hom toekom... en as daar 'n God is wat hul lewe beoordeel, dan sal Hy nie veel fout vind nie.

Hulle het mos elkeen gegee wat hom toekom... ja, behalwe dan aan God. Hulle het Hom die eer onthou waarop Hy reg het.

En dit is nou juis waarom dit in die bekering gaan!

Bekering is tog in die eerste plek dat jy jou tot God bekeer. Van nou af aan rig jy jou lewe op God. Jou lewensdoel verander mos. Jy leef nou vir die Here. En van hieruit kom ook die gevolge vir jou lewenswyse.

Dit is wat in Thessalonicense gebeur het. Hulle het hulle tot God bekeer. Hulle het hul omgekeer na God toe.

En dit is so 'n diep ingrypende verandering, dit kan niemand van homself nie. Dit kan alleen as God reddend in jou lewe ingryp. En Hy doen dit. Vandag ook nog. Met Sy Heilige Gees.

In die Dordtse Leerreëls wat uiteensit wat by die bekering gebeur, word vertel dat dit 'n wonder van God is, so groot soos die Skepping of die opwekking van 'n dooie. Dus God sit groot kragte in werking by bekering van mense. Paulus dui die bekering nader aan as 'n bekering van die afgode tot God. 'n Mens kan by die afgode dink aan die verskillende Griekse gode, soos Zeus en Hermes aan wie ook in Thessalonicense eer bewys is. Maar ons moet dit nie daartoe beperk nie. Immers wat Paulus hier sê het meer algemene geldigheid. 'n Mens kan sê dat elke bekering tot die lewende God 'n bevryding van afgodediens is.

Mense wat die Here nie dien nie, meen dikwels dat hulle heeltemal vry is. Dat hulle niks en niemand dien nie.

Maar dis nie waar nie. Iemand wat die Lewende God nie dien nie, is klaar 'n afgode dienaar.

Die teenstelling is nie: Jy dien God of jy dien Hom nie.

Nee, die teenstelling is: Jy dien God, of jy is 'n slaaf van 'n afgod.

Ware bekering beteken dan ook altyd bevryding van slawerny aan afgode. Ons, mense van die twintigste eeu dink soms dat afgodediens iets van die verlede is. Heidense gode soos Baäl, Astarte en Molog, wat ons in die Ou-Testament ontmoet, spreek ons glad nie meer aan nie. Die Griekse gode is vir ons slegs name uit 'n geskiedenisboek.

Maar bedink goed dat al die gode bedinksels was van mense. Van sondige mense soos ons. Ons hart is nog altyd geneig tot afgodediens, ook al noem ons die gode nie meer gode nie, maar gee ons ander name.

As ons ons nie steeds weer bekeer tot die Lewende God nie, raak ons sommer vas in afgodediens.

'n Paar voorbeelde: Jy kry mense wat maar vir een ding belangsteling het, naamlik om so goed as moontlik te eet en te drink, en soveel as moontlik welvaart vir hulleself binne te haal. Afgodediens!

Jy kry mense wat uitsluitlik belangstelling het vir hulleself. Hulle sien 'n ander skaars raak in hul egosentrisme. Afgodediens!

Moet ek nog meer noeem? Die afgod van die seks, die afgod van geldgierigheid, die afgod van drankmisbruik?

Afgodediens is baie meer naby as wat ons dink. Ons moet ook nie meen dat as ons ons eenmaal bekeer het, dat ons dan klaar is met die afgodediens nie. Dit bly 'n voortdurende bedreiging en daarom is elke keer weer bekering tot God nodig.

Die Here en Sy diens moet in die middelpunt van ons lewe staan. Daarom roep die Here ons elke dag terug as ons weer 'n paar treë op die pad van afgodediens gegaan het. Hy roep ons terug na Sy diens. Alleen daardie diens is werklik bevrydend.

Alleen daardie diens kan ons bewaar vir die leegheid van die lewe van 'n mens wat alleen homself en sy eie genot soek.

Die diens van die Here gee doel aan ons lewe. Alleen by Hom kan daar werklik lewensbloei kom.

Sondag 19 wat die troos van die Hemelvaart omskryf, sê dit so: Deurdat Christus ons Sy Heilige Gees gee, leer ons soek wat daarbo is, waar Christus is, aan die regterhand van God. Ons soek nie meer wat op aarde is nie.

Ons uitsluitlike belangstelling is nie meer die aardse lewe nie, maar ons het ons bekeer tot belangstelling vir die Koninkryk van die hemele. En juis dit gee ons aardse lewe vandag sy betekenis.

Ons weet nou van die doel van dit alles, en daarom kan ons ons steeds weer verbly as ons sien hoe die Koninkryk van Christus vordering maak.

2. Hemelvaartsgeloof is 'n kragtige aansporing tot verwagting van die reddende Jesus.

In die rede van die Here Jesus wat ons vind in Mattheus 24, sê Hy: Die evangelie sal in die hele wêreld verkondig word, tot 'n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom. Dit beteken aan die evangelieverkondiging op die aarde is 'n termyn gestel.

Eendag sal in die kerk vir die laaste keer die Woord bedien word. En dan kom die einde.

Maar tog die einde kom nie soos byvoorbeeld 'n besigheid sy werksaamhede op 'n sekere oomblik kan beëindig nie. 'Gesluit weens opheffing'.

Nee, die koms van die einde is inhoud van die prediking. Dit neem selfs 'n sentrale plek in die verkondiging in. Jesus kom om te oordeel, die lewendes en die dooies.

Hoe belangrik die verkondiging van die wederkoms is, ontdek ons die vinnigste as ons in gedagte die wederkoms van Christus uitsluit. Watter sin het dan die evangelieverkondiging nog? Jy kan dan nie meer doen as 'n moraliserende praatjie, oor hoe jy die beste hier en nou jou lewe kan inrig nie. En as daar geen wederkoms om te oordeel sal wees nie, watter klem is daar dan nog om die boodskap van redding deur Jesus Christus te aanvaar? Waarvan moet jy dan eintlik gered word? 'n Kerk wat nie meer leef uit die verwagting van die koms van haar Heer nie, hou op om bruid van Jesus Christus te wees.

Wel, in Thessalonicense is wel uit die verwagting geleef. Paulus het oor hulle hoor vertel hoe hulle die Seun van God uit die hemel verwag.

Nou is die opvallende van ons teks, dat die verwagting van die Here Jesus in direkte verband staan met die vermelding van hul bekering. Lees maar: Julle het jul bekeer om die lewende God te dien en Sy Seun uit die hemel te verwag.

Blykbaar is die verwagting van die Here Jesus nie 'n vanselfsprekendheid in die lewe van die gelowiges nie. Ook dit is 'n saak waarvoor bekering nodig is. Jy moet jou bekeer om Jesus Christus uit die hemel te verwag.

Daarom is die Hemelvaartprediking ook so belangrik. Om ons weer te laat besef dat ons moet leef uit die verwagting van die koms van Christus.

Ons weet wel, en ons bely ook wel dat Hy sal kom, maar in ons ervaring van die lewe is ons maar geneig om Sy wederkom steeds vorentoe te skuif. Dit gaan met ons mos nie so sleg nie. Ons smeek werklik nie elke dag: Ag Here, kom asseblief tog vinnig, ons hou amper nie meer uit nie!

Kyk, vir die christene wat nou swaarkry in die wêreld, is dit natuurlik anders. Of vir mense wat nou baie oud raak, of steeds siekte en teenslag ondervind, of mense wat vanweë hul geloof verdruk word.

Dan kan ons voorstel dat hulle daagliks uitskree na die hemel: Ag Here, kom tog haastig!

Ook van die Thessalonicense kan ons voorstel dat hulle uitgesien het na die koms van die Here Jesus. Daardie koms sou vir hulle 'n bevryding van hul onderdrukkers beteken. En tog maak ons ons 'n verkeerde voorstelling van die roep om die koms van Jesus.

Immers, as net ons omstandighede aanleiding sou wees om te bid vir die wederkoms, sou ons gebed nie meer wees as 'n vlug uit die werklikheid nie. 'n Manier om te deserteer uit die stryd waarin God ons op hierdie wêrel gestel het.

Maar dit is nie die bedoeling nie. Paulus wys vir ons dat die verwagting van Christus se koms, regstreeks voortkom uit hul bekering. Deur hul bekering het hul lewe totaal verander. God en Sy Koninkryk het in die middelpumnt kom staan. En juis daarom het hulle leer besef dat die huidige situasie so verskriklik onvolmaak is. Deur die sonde is daar soveel in die wêreld wat die Naam van God onteer.

Die lewende God word deur 'n groot deel van die wêreld geïgnoreer. Die waaragtige God word deur mense eenvoudig doodverklaar.

Die Naam van Jesus Christus word deur die modder gehaal.

En dit pla 'n ware gelowige vreeslik. In sy liefde vir sy Heer, kan hy dit nie aanhoor nie, en kan hy dit nie sien nie.

En nie alleen die sondes van ander mense nie, ook die sondes en gebreke wat hy by homself opmerk, leer hom vol verlange uitsien na die dag van die wederkoms.

Immers, dan eers word ons verlossing volkome. Dan is God alles in almal.

Seker, 'n konkrete noodsituasie in jou lewe, leer jou die gebrokenheid van die aardse bestaan ekstra besef, en laat ons met ekstra krag roep om die voltooiing van die verlossing.

Maar die aksent in die verwagting van die wederkoms lê tog op 'n ander punt. Dit gaan nie daarom dat ek nou eindelik verlos word nie, maar dit gaan daarom, dat die waaragtige God eindelik al die lof ontvang waarop Hy reg het. Ook van my.

U sal verstaan, vir so 'n Hemelvaartgeloof is bekering nodig. Bekering ook tot 'n intensiewe gebed om die koms van Christus. Dit het niemand uit homself nie. Dit kan alleen die Heilige Gees gee. En Hy doen dit ook.

Met die middele van Woordverkondiging en Sakramentsbediening.

Die Heilige Gees is vir ons gestuur toe Jesus Christus na die hemel gegaan het. Daardie Gees sal ons voortdurend die beloftes van Christus in herinnering bring. Die Gees het gewerk in Thessalonicense waar Hy die mense tot groot blydskap geïnspireer het. In blydskap het hulle volhard om Jesus Christus uit die hemel te verwag.

Die Gees wat hierdie verwagting onder die Thessalonicense gewerk het, is nog altyd Dieselfde. Die bruidegom waarna die kerk as bruid verlang, leef nog altyd in die hemel. Laat ons as gemeente bly roep om Sy koms. Om die koms van Jesus wat ons van die komende toorn verlos.

Juis op hierdie Hemelvaartdag mag ons weer na die hemel leer kyk en bid: Kom Here Jesus. Kom spoedig!

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)