Evangelieverkondiging vra aanvaarding met blydskap

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
I Thessalonicense 1
Preek Inhoud: 

Ps. 96: 1, 2, 3
Ps. 96: 1, 3
Ps. 33: 1, 2, 11
SB. 24: 1, 2, 3
Lees: Hand. 13: 38 - 52
Teks: 1 Thess. 1: 6 - 8

Geliefde gemeente,

Evangelie - blye boodskap beteken dit. Die Bybel is 'n boek vol evangelie, vol blye boodskap. Veral in die Nuwe Testament loop ons dit voortdurend raak. In die vier evangelies - Mattheus, Markus, Lukas en Johannes, word ons vertel van die koms van die Evangelie in eie persoon. God se Seun, Jesus Christus.

Waar Hy kom of waar oor Hom vertel word, ontstaan spontaan 'n atmosfeer van blydskap. Dit begin al met die aankondiging van die geboorte van Johannes die Doper in Lukas 1. Die engel sê: Hy sal blydskap en verheuging vir jou wees, en baie sal oor sy geboorte bly wees.

En in Lukas 2 sê die engel vir die herders: Kyk, ek bring julle 'n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees. En so lees ons dit dwarsdeur die evangelies. Waar Jesus verskyn, en Sy woord aanvaar word, daar kom ook die blydskap. Maar ook elke keer as Jesus deur die apostels verkondig word, sien ons steeds die woord 'blydskap' verskyn. 'n Voorbeeld: die hofdienaar uit Etiopië verstaan nie wat hy in die Bybel lees nie, totdat Jesus Christus vir hom verkondig word. Dan skielik sien hy dit, en dit staan daar ewe pragtig: en hy het sy weg met blydskap gereis.

Blykbaar is die blydskap baie nou met die evangelieprediking verbonde. 'n Mens kan selfs stel: Die blydskap is die antwoord op die evangelieverkondiging, 'n onmisbare antwoord.

As daardie antwoord wegbly, dan het iewers iets verkeerd gegaan, dan het die kern van die boodskap nie deurgedring nie.

Dit is baie opvallend watter groot rol die woord 'blydskap' in die brief van Paulus aan die Thessalonicense speel.

Blykbaar het die evangelie in Thessalonika inderdaad oorgekom. Die gemeente daar het die antwoord gegee wat by die boodskap pas, naamlik: blydskap.

Daarom wil ons as Suid-Afrikaanse gemeente van 1991 vandag kyk na hierdie Griekse gemeente uit die jaar 50, sodat ons bemoedig, maar ook vermaan kan word.

Ek verkondig vir u die evangelie soos volg:

EVANGELIEVERKONDIGING VRA AANVAARDING MET BLYDSKAP.

Dit is:

  1. 'n geïnspireerde blydskap
  2. 'n inspirerende blydskap.

1. Ons het in die vorige preke uit hierdie hoofstuk al gehoor, dat Paulus die gemeente van Thessalonika baie positief beoordeel. Hulle is duidelik 'n lewende gemeente. Die werk van hul geloof, die inspanning van hul liefde, die volharding van hul hoop. Dit alles noem Paulus as kenmerke van die gemeente van Thessalonicense.

'n Voortreflike getuienis.

Waarom gee Paulus eintlik so 'n getuienis? Probeer hy die gemeente met vleiende woorde oor te haal om simpatiek te wees met Paulus-hulle?

En.... is dit eintlik nie 'n bietjie gevaarlik om so positief oor die gemeente te praat nie? Miskien begin hulle nou dink: hulle is klaar goed genoeg!

Dalk sou dit verstandiger wees om eerder te vermaan, want dit is nie denkbaar dat die gemeente volmaak is nie. Nee, inderdaad die gemeente van Thessalonicense is nie volmaak nie, maar ons moet goed verstaan vanuit watter agtergrond Paulus hierdie dinge sê.

Paulus sien die ontstaan en die bestaan van die gemeente allereers as die eie werk van God. Die Here het mense geroep tot geloof in Jesus Christus. Christus self vergader, beskerm en onderhou Sy gemeente.

En daarom begin Paulus met dankbaarheid as hy oor die gemeente praat. En in sy dank rig hy hom tot God, die Heer en herder van die gemeente.

Ons is dikwels maar geneig om net vas te kyk in die swakhede van die gemeente, die tekortkomings van die broeders en susters, ons sien sommer die gebrek aan ywer by 'n ander, die tekort aan liefde ens. Dit is regtig glad nie moeilik om 'n komp kritiek op die gemeente te lewer nie. En ons meen dat ons in ons eie maar daartoe geregtig is, want dit is mos so? !

Maar bedink een keer hoe 'n herder sal voel as jy alleen maar sê: Die skape lyk sleg. Aan elkeen makeer iets. Wel, dit is waaroor dit gaan as jy so krities staan teenoor die gemeente.

Let 'n slag op Paulus. Paulus weet beter dan wie ook, van die swakhede van die gemeente. Hy, met sy groot opofferende ywer in diens van die Here sien dit baie goed. Moontlik het dit hom dikwels gefrustreer.

Maar, vir hom is dit tog maar die gemeente van Jesus Christus.

En daarom bedink hy hom drie keer voor hy met kritiek kom, of liewers, hy begin altyd om te dank.

Laat ons dit van hom leer. Dit is moeiliker om te dank vir wat God gee in die gemeente en in jou eie lewe, as om aan te wys wat kortkom.

En wat is daar baie om voor te dank. Daar is soveel wat mooi is. Die Woord mag elke week verkondig word. Daar word geluister. Daar is trou, daar is offervaardigheid.

En so spreek Paulus in ons teks sy dank uit, aan God vir wat die evangelieverkondiging bereik het. 'Julle het navolgers geword van ons en van die Here'. Hulle het die Woord nie slegs aangehoor nie, maar hulle het aan die Woord gehoor gegee.

Van die hoor van die Woord het hulle gekom tot daders van die Woord. Want dit is wat die evangelie vra. Om aanvaar te word. Op so 'n manier dat dit 'n mag word in jou lewe, wat jou lewe in beweging bring.

Baie mense meen: dit is genoeg as jy gereeld kerk-toe gaan, as jy daagliks 'n paar bybelverse lees en bid vir jou behoeftes. Hulle beskou hulleself as gelowige christene.

Maar dit is tog nie aanvaarding van die evangelie nie. Om navolgers te wees van die Here, beteken dat jy bereid is om alles agter te laat om Jesus ontwil.

Om navolgers te wees van die Here, beteken dat jy baie krities gaan raak met betrekking tot jou eie leefgewoontes, jou geld besteding, jou omgang met jou medemense, jou omgaan met die skepping, jou tydsbesteding.

Al daardie dinge word geraak deur die evangelie.

Let wel, die evangelie. Daar is vir ons nie 'n wet gegee wat vir ons presies voorskryf wat ons wel of nie mag doen nie, waarvan ons wel mag geniet of waarvan ons moet weg bly nie.

Nee, vir ons is 'n evangelie verkondig, en dit beteken dat ons as verloste christene begin lewe. En dan leer ons vanuit die geloof dat ons 'nee' moet sê vir sekere vorme van vermaak.

Daar is nie 'n wet wat vir ons allerhande dinge verbied nie, maar as die geloof in Christus werklik sentraal staan in ons lewe, dan wil ons sekere films nie meer sien nie. Dan kan ons gemors programma's voor die T. V. nie meer verdra nie.

Jou belangstelling het mos verander. Want jy is navolger van Christus.

Jy gaan agter Hom aan. Jy wil weet waar Hy gaan. En hoe Hy te werk gaan in hierdie wêreld.

Wel, dan sal jy wel opval temidde van jou kollegas.

Die Thessalonicense het dit agtergekom. Hulle het navolgers geword van die apostels en die Here Jesus. Maar besef goed dit het beteken dat hulle hulle ook gevolg het in die lyde wat oor hulle gekom het.

Die verkondiger van die evangelie by uitstek, Jesus Christus Self, het onder moordenaarshand gesterf.

Die apostels, hulle is geslaan, gegesel, gevange gesit.

Die Thessalonicense kan saampraat daaroor. Ons teks sê: 'julle het die Woord in baie verdrukking ontvang'. Ongetwyfeld doel Paulus op die gebeurtenisse rond die huis van Jason, waarvan ons in Hand. 17 kan lees.

Slegs drie weke kan Paulus in Thessalonika preek. Toe was daar moeilikheid. 'n Deel van die gemeente is voor die stadsbestuur gesleep. Reken maar dat hulle nie juis sagsinnig behandel is nie.

Dus reken maar dat dit nie gemaklik was om by die gemeente van Christus in Thessalonika aan te sluit nie. Jy kon dan regtig op vervolging reken.

En tog het die Thessalonicense die keuse gemaak. Hulle het die evangelie gehoor en aanvaar met al die gevolge daarvan. Hulle het dit selfs met blydskap gedoen. Met die blydskap wat die verkondiging van die blye boodskap losmaak.

Paulus noem dit hier 'n blydskap van die Heilige Gees.

Tereg word die Heilige Gees hier genoem. Dit is 'n deur die Gees geïnspireerde blydskap. Want die Thessalonicense was nie sommer blye mense nie. Hul blydskap het nie voortgekom uit die feit dat dit so goed met hulle gaan nie. Dit het juis nie so goed gegaan nie.

Sinds hulle by die gemeente aangesluit het, was daar steeds 'n kans dat hulle allerhande probleme kon ondervind. Hulle verloor hul werk. Hulle huise word beskadig of wat ook maar.

Om dan met blydskap jou goed te herstel en met blydskap Christus te bly dien, is dan glad nie eenvoudig nie.

Daarvoor is baie genade nodig. Baie werking van die Heilige Gees van God.

Want dit is wat die Gees doen: Hy maak mense bly, temidde van verdrukking. Hy kan troos, waar net rede tot verdriet is.

Hy kan sekerheid gee, waar anders slegs onsekerheidd sou wees. Dit kan alleen die Heilige Gees. Hy inspireer tot die blydskap wat die evangelieprediking wil losmaak.

En waar die blydskap nie kom nie, daar word die werk van die Heilige Gees teëgestaan.

Hoe staan dit met daardie blydskap onder ons, gemeente? Kom daar ook by ons die blydskap as vir ons die evangelie verkondig word? Hoe reageer ons op die preek? 'n Goeie preek! Of 'n swak preek! en dan is ons weer klaar.

Is daar nog blydskap, die blydskap van die Heilige Gees by ons?

Weet u, dit hang af van hierdie vraag: Wat beteken vir ons die evangelie van Jesus Christus? Is dit maar net 'n deel van ons verpligtings in die lewe dat ons kerk-toe kom, of soek ons daar werklik die bron van ons lewe? Is die Here Jesus werklik ons groot rykdom in die lewe, of is Hy maar net 'n randfiguur?

Dink goed na oor daardie vraag. Sê nie te vinnig: Natuurlik, Jesus Christus is ons een en al in die lewe nie. Hy alleen gee sin aan my lewe. Want hoe sou u reageer op 'n situasie soos in Thessalonicense. As die navolging van Christus regtig offers van u gaan vra? As u môre nie meer welkom op u werk is, omdat u aan Jesus Christus glo nie?

Glo jy dan nog?

Sterker nog: Aanvaar jy nog steeds die Woord met blydskap? Met die blydskap van die Heilige Gees. Of sou ons verskriklik omgekrap raak, en sou elke vorm van vreugde uit ons lewe verdwyn.

Hierdie dinge kan gebeur, broeders en susters. Hierdie dinge het in elk geval in Thessalonika gebeur.

Hoekom het hulle tog die evangelie met blydskap aanvaar? Wel, dit was omdat hulle geglo het in die werklikheid van God se beloftes. Hulle het geweet van 'n skat in die hemel wat onaantasbaar was.

En so het hulle elke keer weer hul blydskap teruggevind.

Want wie die evangelie werklik gesien het, hy sal soos die koopman uit die gelykenis al sy besittings verkoop, om net die een pêrel te kan verkry. En hy sal al sy blydskap in die een pêrel vind.

2. Hierdie blydskap is inspirerend.

Dit blyk dat die blydskap waarmee die Thessalonicense die evangelie aanvaar het, 'n groot effek het. Paulus sê: so het julle 'n voorbeeld geword vir al die gelowiges in Macedonië en Achaje. (Dit is die twee provinsies waaruit Griekeland bestaan. )

Hulle het 'n voorbeeld geword. Juis vanweë die blydskap wat hulle getoon het onder verdrukking. Want dit spreek!

Immers, daaruit blyk watter enorme krag die evangeliewoord besit. Die evangelieverkondiging is nog in staat om blydskap op te wek, terwyl daar menslikerwys slegs rede tot bittere teleurstelling is. Dus van die blydskap van die Thessalonicense gaan 'n groot krag uit.

Dit is 'n geweldige inspirerende blydskap. Paulus het dit tot sy groot vreugde gemerk by sy verdere werk in Griekeland.

Die verbasingwekkende blydskap van die Thessalonicense het 'n wye effek. 'Van julle uit het die woord van die Here weeklink', sê Paulus. Daarmee bedoel Paulus hier nie dat al die Thessalonicense op pad gegaan het om die evangelie te verkondig nie. Daarvoor het hulle nog te min onderwys ontvang. Paulus bedoel: Toe ons verder getrek het met die evangelie, het die blydskap van die Thessalonicense heel Griekeland as versterker van die boodskap gewerk.

Dit het weerklink. Dit klink weer. Soos 'n eggo. Dit is eintlik die woord wat hier staan. By 'n eggo word 'n roep van verskillende kante weerkaats.

Wel, dit het gebeur met die blydskap van Thessalonika. Hul blye reaksie op die prediking van Jesus Christus het in heel Griekeland 'n eggo gekry.

En dit het Paulus-hulle baie gehelp om in ander stede ingang te vind. Almal wou graag hoor watter boodskap hulle het, want hulle het gehoor wat daar in Thessalonicense gebeur het. So het hulle geloof uitgegaan oor die hele land.

So is die Thessalonicense 'n voorbeeld vir al die gelowiges. Hulle word ook aan ons as 'n voorbeeld gestel.

En daarom kom vandag die vraag na ons. Gaan ook van ons gemeente so 'n kragtige klank uit?

Versterk ons ook die evangelie wat vanaf die preekstoel verkondig word deur die blydskap waarmee ons dit aanvaar? Of ontneem ons daaraan die krag deur ons gebrek aan blydskap?

Dit is 'n verksriklik belangrike saak, broeders en susters, seuns en dogters.

Watter indruk maak jy as gemeente op ander mense. Wat is jou uitstraling as gemeente?

Is dit so dat die mense van buite kan sê: Nee maar, ek raak nuuskierig na die prediking van die Vrye Gereformeerde Kerk. As jy na die mense kyk moet hulle daar wel 'n besonder verblydende boodskap hoor!

Of sê mense: Nou, hulle hoor daar maar net donderpreke, die mense kyk almal so bedruk. Of hulle hoor vervelige verhale, want hulle lyk almal taamlik ongeïnteresseerd.

Kyk, as jou houding in die kerk onverskilligheid uitstraal, dan staan jy 'n ander in die pad om die evangelie te vind. Terwyl dit juis andersom behoort te wees!

Ons hele omgang met die erediens is van groot belang. Na buitestaanders toe, maar ook na ons kinders toe.

As jy tuis nie laat merk dat jy geraak is deur die evangelie deur met blydskap te reageer nie, dan sal jy vroeër of later agterkom dat die evangelieprediking vir jou kinders glad niks beteken nie.

Dit geld ook vir die gemeente as geheel. As jy in die wêreld bekend staan as die kerk waar die mense mekaar om die minste of geringste verketter, dan is jou positiewe uitstraling daarmee heen.

Wel, so was dit nie in Thessalonika nie. Daar kan Paulus dank vir die werk van die geloof, die inspanning van die liefde en die volharding in die hoop.

As die gemeente daarop konsentreer en in alles die eer van Jesus Christus voorp stel, deur met blydskap die evangelie te aanvaar, dan sal God wel seën gee. In die gemeente, deur 'n voortgaande groei in geloof, van buite die gemeente deur 'n groei in getal. So het dit tenminste in Thessalonicense gegaan. Vanuit 'n blye boodskap wat met blydskap ontvang word, gaan 'n groot krag uit. Daar agter werk die Heilige Gees. Die Gees van Christus wat Sy gemeente vergader van die begin tot aan die einde van die wêreld.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)