Die kragbron van 'n lewende gemeente

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
I Thessalonicense 1
Preek Inhoud: 

Ps. 35: 1, 4
Ps. 35: 8, 12
Ps. 16: 1, 2, 3, 4, 5
Lees: 1 Thess. 1
Teks: 1 Thess. 1: 4 en 5

Geliefde gemeente van die Here Jesus Christus.

Ons dank God altyd oor julle almal as ons aan julle dink. So het Paulus sy brief aan die gemeente van Thessalonicense begin. Hy is vol van dankbaarheid oor die feit wat duidelik is, dat Thessalonika 'n lewende gemeente is. Hulle vertoon mos die kenmerke van 'n lewende gemeente. Paulus wys die kenmerke in Thessalonika sommer aan: die werk van hul geloof is duidelik sigbaar. En verder: die inspanning van hul liefde is onmiskenbaar, en dat hulle volhardend is in die hoop, is ook vir elkeen aanwysbaar. Nou die Thessalonicense hierdie kenmerke vertoon, is dit duidelik, hulle is 'n lewende gemeente van die Here Jesus. En elke gemeente wat hierdie brief aan die Thessalonicense lees, moet hulleself maar toets of hulle ook net so die kenmerke van 'n lewende gemeente vertoon. Vandag wil ons verder lees oor wat Paulus-hulle aan die Thessalonicense te skryf het.

Hy bly nog by dieselfde tema. Hulle is 'n lewende gemeente, maar nou kom die vraag: waarvandaan kom dit? Waaruit kom die lewe in die gemeente voort? Hoe word die lewe in die gemeente in stand gehou?

Hieroor mag ons vir u vandag die Woord bedien:

DIE KRAGBRON VAN 'N LEWENDE GEMEENTE.

  1. Die wonder van die verkiesing.
  2. Die werking van die Heilige Gees.

1. Die wonder van die verkiesing.

Dit wil voorkom asof Paulus nie uitgepraat kan raak oor die toestand van die gemeente van Thessalonika nie. Hy en sy medewerkers ontvang gereëld goeie berigte uit Thessalonika. Dit gee vir hulle uit die aard van die saak rede tot vreugde. Elke keer as hulle weer iets hoor, dink hulle terug aan die wonderlike tyd wat hulle self daar was. Die eerste keer wat hulle in Thessalonicense gekom het, toe hulle op hul prediking so 'n dankbare reaksie gehad het. Dit is vir hulle as predikers van die Evangelie onvergeetlik. Dit gaan daarby soos mense wat 'n goeie liefdesverhouding het. Hulle kan tientalle jare later nog vir mekaar vertel: Onthou jy dat ek jou vir die eerste keer gesien het. Onthou jy dat ons vir die eerste keer saam was? Weet jy nog, ons eerste omhelsing? As jy daaroor praat, ervaar jy weer die opwinding van die begin.

Wel, as Paulus-hulle dink aan die ontstaan van die gemeente in Thessalonicense, dan is daar een herinnering wat uitstaan: Dat daar 'n gemeente van Christus in Thessalonika gekom het, is 'n reëlregte wonder van God. Ons weet daarvan uit die berig van Handelinge 17. Slegs drie weke kon Paulus en sy medewerkers in Thessalonicense oor Jesus Christus vertel.

En toe moes hulle vlug vir hul lewe.

Nou, wat kan 'n mens nou in drie weke Evangelie-verkondiging bereik? Dit is mos hopeloos te kort om bekeerlinge te maak, laat staan 'n gemeente te stig van nuwe gelowiges in Jesus Christus.

Nee, dit staan buite twyfel: Dat daar 'n gemeente van Christus in Thessalonicense ontstaan het, is 'n wonder van God!

En daarom begin Paulus in ons teksvers so vrolik met: Ons weet van julle verkiesing!

Die feit dat dit in Thessalonicense gegaan het soos dit gegaan het, daaroor is maar een verklaring: Verkiesing!

Eintlik is dit nogal opvallend hoe onbekommerd Paulus die woord "verkiesing" gebruik. Hy sê selfs: ons weet van julle verkiesing. As ons die woord 'verkiesing' hoor, dan dink ons onmiddellik: Ja, maar hoe werk dit dan? Ons weet van ons belydenis, die Dordtse Leerreëls, maar ons onthou ook dat dit onmiddellik talle moeilike vrae vir ons oproep. Hoe werk nou presies die verkiesing? En wat dan van die verwerping? Het iemand wat verwerp is dan glad nie 'n kans nie? Tog mag al die vrae wat by ons opkom, ons nooit daartoe bring om dan maar nie oor verkiesing te praat nie. Die Bybel praat mos steeds daaroor.

In die verkiesing gaan dit om die dade van die Lewende God! Wel, dit sal ons nooit in 'n vir ons denke passende sisteem kan indwing nie. Laat ons liewers let op die wonders van Sy genade, en Hom daarvoor prys!

Want as jy die wonder van Sy genade sien, dan besef jy skielik iets van die krag van God se verkiesing.

Kyk 'n keer na Thessalonika. 'n Hawestad waar mense en volke van allerhande soort mekaar ontmoet. Daar word geld verdien en uitgegee. Soos in enige hawestad vind sy daar 'n konsentrasie van bordele, smokkelary, diefstal, dronkenskap, liederlike taal en menslike ellende. Dit alles kan jy meemaak in die streke van Thessalonika, 'n poel van verderf, so kan jy dit maar rustig noem.

Wel, uit daardie stad roep God 'n gemeente van Christus. Uit al die duisende wek Hy sekere mense op om Jesus Christus te volg. Dit is nou verkiesing. Is dit nie 'n wonder dat hulle kom en hulle laat oorwin deur die Evnagelie nie? Dan vra jy nie: en wat van al die ander in die stad nie? Nee, dan kan jy jou enkel en alleen verbaas oor die feit dat God mense gered het uit die ellende.

Dan kan jy jou alleen maar vebly oor Sy liefde!

Want dit is waaroor dit gaan. Verkiesing is liefde. En liefde is mos verkiesing. God is nie 'n God van willekeur nie. Hy maak Sy liefdekeus. Vir jou. Dit is mos die Evangelie. Aanvaar dit tog. En besef dan maar dat jy baie bevoorreg is dat God uit genade jou verlos het.

So spreek Paulus die Thessalonicense aan: Ons weet van julle verkiesing broeders, wat deur God bemin word.

Broeders, wat deur God bemin word. Hoor u dit? Wat 'n pragtige warmhartige, vreugdevolle aanspraak.

In sy verkiesing rol God nie yskoud een of ander onveranderlike raadsbesluit af nie, maar kom in Sy liefde na julle toe. Julle is Sy bemindes. Dit is nou verkiesing!

Geliefde broeders en susters. Neem 'n slag die tyd om jou daaroor te verwonder. Dat God jou lief het. Ja jou. Jy met al jou gebreke, jou gebrek aan ywer in diens van God, jou aangebore egoïsme. Jy is 'n deur God beminde suster. 'n Deur God geliefde broeder.

Verbaas jou 'n keer daaroor. En verbly jou vervolgens daaroor.

En verbly jou dan maar saam met jou broeder en suster. Ook al hou jy nie so van hulle nie. Ook hulle is deur God bemin. Kyk so maar 'n slag na mekaar. Weet u, dit kan die atmosfeer in die gemeente totaal verander.

Want wees nou eerlik. Van onsself sal ons van 'n hele paar broeders of susters sê: Hulle ook? Ag nee!

Wel, as ons so dink, as ons vir 'n ander eintlik sy plek in die gemeente misgun, dan speel ons die duiwel in die kaart.

Hy sal dit geniet, en jou aanspoor om so te dink.

Maar die Here sê: Wees liewers bly met mekaar. Dank vir mekaar, en bid vir mekaar. Want dit gemeente, is God se werk.

Geliefdes in die Here Jesus Christus! So spreek predikante nogal dikwels hul gemeente aan. Dit klink nou 'n bietjie outyds, maar eintlik is dit 'n pragtige uitdrukking. Geliefdes in die Here Jesus Christus. God se verkiesing sweef nie as 'n teorie bo die gemeente nie, maar dit word 'n konkrete geskiedenis op 'n bepaalde plek. En daarom moet ons almal die Here se verkiesingswerk opmerk. Jy sien Sy verkiesing as mense van ongeloof tot geloof kom. Jy sien Sy verkiesing as mense via allerhande weë in aanraking kom met die gemeente van Christus en daar Christus werklik ontmoet. Jy sien Sy verkiesing as gelowige ouers met 'n pasgebore kind in die kerk kom, om die kind te laat doop. Jy sien Sy verkiesing as 'n kind wat van kleins-af in die Bybel onderwys is, op volwasse ouderdom self sy geloof in die Here Jesus bely. Jy sien verkiesing as God iemand in die storms van die lewe tog vashou, en hom tenslotte in sy veilige hawe bring.

Dit is stuk vir stuk wonders van Sy liefde en genade. Anders nie.

Kom, verwonder julle mense.

Sien hoe God julle bemin!

2. Die werking van die Heilige Gees.

Ons weet van julle verkiesing, skryf Paulus. Hoe weet hulle dit? Het hulle in die boeke van God gekyk? Het Paulus 'n besondere openbaring van die Heilige Gees ontvang oor die Thessalonicense, dat hy so seker kan wees?

Nee, dit is iets anders. Ons weet dit, sê Paulus, want ons Evangelie het nie tot julle gekom in woord alleen nie, maar ook in krag.

Ons wil eers wys op die uitdrukking 'ons Evangelié. Dit is natuurlik nie Paulus se Evangelie of Timotheus se Evangelie nie. Dit is dieselfde wat gewoonlik aangedui word met 'Evangelie van Jesus Chrsitus'. En dit is waaroor dit gaan natuurlik. Paulus-hulle het die Blye Boodskap van Christus se verlossing gebring. Maar tog sê dit iets as Paulus dit 'ons Evangelié noem. Dit dui op hul sterk persoonlike betrokkenheid daarby.

Hulle het dit nie op afstandelike manier as 'n kennisgewing gebring nie; Hier het jy die boodskap, nou weet jy waaroor dit gaan, en jy moet maar kyk wat jy daarmee doen nie!

Nee, Paulus-hulle het hulle heeltemal vereenselwig met die boodskap. Hulle het self die blydskap daarvan ervaar en daarom het hul prediking ook effek gehad.

'n Prediker kan nog so 'n goeie en Bybelgetroue boodskap hê, hy kan dit pragtig voordra, en 'n goeie taalgebruik hê, maar as hy nie self geroer is deur die wonder van die Woord nie, dan kan dit tenslottte ook die harte van die hoorders nie raak nie.

Maar as die prediker self hom deur die Woord laat tref het, as hyself beïndruk is deur die majesteit van God, deur die ongelooflike diepte van Sy liefde, dan word die hoorders ook geraak.

Dan hoef die prediker ook nie lank na toepassings van die boodskap te soek nie. Dan is die prediking self toepaslik.

Dan is dit nie meer woorde en nog eens woorde nie, maar dan is dit krag.

Die Griekse woord vir krag wat Paulus hier gebruik is: 'dynamis'.

Daarvan is ons woord dinamiet afgelei. Die Evangelieprediking werk as dinamiet. Dit lê dinamiet onder 'n lewe vol afgodediens, 'n lewe vol eie diens, 'n lewe vol slawerny aan genot. Waar die Evangelie van Christus aanvaar word, daar spat so 'n ongeloofslewe uit mekaar. Maar tegelyk lê die dinamiet van die Evangelie die basis vir 'n nuwe lewe. 'n Lewe van geloof, hoop en liefde.

Dit is wat in Thessalonika gebeur het. Die Thessalonicense het gebreek met hul ou lewe. Hulle het hul laat vernuwe deur die Evangelie.

En dit is dan te danke aan die krag van die Heilige Gees! Sy goddelike krag het die lewensverandering by die Thessalonicense in gang gesit. Deur Sy krag het Thessalonika 'n lewende gemeente geword.

Sonder die werk van die Heilige Gees, is die ontstaan en die bestaan van 'n gemeente van Christus nie denkbaar nie.

Slegs waar die Heilige Gees werksaam is, kan daar 'n lewende gemeente van Christus wees.

Ons moet dit van die werk van die Gees verwag, en dus daarom ook steeds weer vra om die Heilige Gees. Ons kan nie sonder Hom nie. Ons kan nie sonder die werk van die Heilige Gees in Belhar nie. Ons kan nie buite Hom hier in Bellville nie.

Want alleen die Heilige Gees kan mense tot geloof bring. Alleen die Heilige Gees kan vir ons sekerheid in die geloof gee.

En juis dit het ons nodig as ons ander mense wil bereik.

Die wêreld is so vol van onsekerheid, daar is soveel dinge wat gerelativeer word, dat 'n mens hom vertwyfeld begin afvra, maar wat is dan wel seker? Ook baie kerke weet dit nie meer nie. Wat is waarheid? Koms ons soek daarna, word dan dikwels gesê; Meer kan ons nie doen nie.

Maar nie so met Paulus in Thessalonika nie! Hulle het opgetree in volle versekerdheid.

'n Sekerheid wat die Heilige Gees vir hulle gegee het.

En juis daardie sekerheid is baie produktief. So 'n sekerheid het oortuigingskrag. Jy bereik 'n ander daarmee. 'n Getuie moet mos seker wees ten aansien van sy saak. As hy onseker is, dan is hy as getuie waardeloos. Ook as getuie van Jesus Christus. Dus hoe ontvang 'n mens so 'n sekerheid? Die antwoord is: Van die Heilige Gees. Vra daar maar baie om.

Maar tegelyk moet ek nog iets toevoeg. Weet u, hoe meer u self as 'n getuie van Jesus Christus optree, hoe meer u eie sekerheid sal groei.

As jy self alleen maar ontvanger van die Evangelie boodskap is, dus as jy altyd in die kerk sit en luister, maar nooit moeite doen om aan 'n ander van die Evangelie van Christus te vertel nie, dan raak jy nooit seker nie. Dan kan twyfels jou altyd bly pla.

Maar as jy begin om die Evangelie aan 'n ander te vertel; as jy 'n poging doen om vir jou kollega te verduidelik wat die Woord van Christus vir jou beteken, dan sal jy sien, dan groei jy in oortuiging. Jy raak al hoe meer versekerd. Probeer maar!

Veral as jy daarby ook jou lewe heeltemal aanpas. As jy ook met jou dade wys wat Jesus Christus vir jou beteken.

Paulus verwys daar nadruklik na. Julle onthou wel hoe ons onder julle opgetree het.

Julle weet nog wel dat ons dade by ons woorde aangeslut het. Juis omdat onsself so diep beïndruk was deur Christus se Evangelie, het ons ons onder julle baie moeite getroos.

Paulus-hulle was getuies van Jesus Christus met heel hul persoon. En so is dit te sien aan ons omgang met mekaar.

Dan is dit merkbaar aan ons optrede na buite.

Want ons woord en ons boodskap kan nog so pragtig wees, maar as dit nie ons eie lewe in beweging gebring het nie, dan is dit nooit oortuigend nie!

En daarom, laat ons asseblief die Heilige Gees nie in die pad gaan staan nie.

Hy wil met ons werk. Hy wil deur ons werk. En daarom is dit so belangrik dat ons leer en lewe een is.

Dat ons inderdaad merkbaar die saak van Jesus Christus in ons lewe vooropstel. Dat ons sigbaar eers Sy Koninkryk soek, en dan eers aandag gee aan ons eie belange.

Wel, van so 'n lewe gaan krag uit.

Dan kan die Heilige Gees inderdaad verder. Waar 'n lewende gemeente is, word ook steeds nuwe lewe verwek.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)