Die gelowiges moet mekaar onderling vertroos

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Kolossense 4
Preek Inhoud: 

Ps 5: 1, 2, 3
Ps 5: 4, 6
Ps 42: 5, 6, 7
Ps 126: 1, 2, 3
Ps 146: 1, 2, 3
Lees: Kol. 4: 2 - 18
Teks: Kol. 4: 7 - 9

Broeders en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus,

Afgelope vrydagaand het ons 'n hele paar dinge kon hoor en sien oor die situasie van die kerk agter die Yster Gordyn. Ons het gehoor dat aan die gelowiges in Oos-Europa strenge beperkings opgelê word met betrekking tot die uitoefening van godsdiens. In die kerkdienste moet met groot versigtigheid opgetree word, dit is baie moeilik om katkisasie te hou, ja alles wat ons jeugwerk noem word amper onmoontlik gemaak.

As ons om daardie situasie te kenmerk die woorde van Paulus uit Kol. 4 wil gebruik, kan ons sê: In Oos-Europa is die kerk in boeie. Dat ons daaroor inligting ontvang is 'n baie goeie ding. Immers so kom weer heel konkreet ons voor oe, waarvoor ons bid as ons bid vir hulle wat vervolg word omwille van die evangelie. Daarby leer jy ook besef hoe bevoorreg jy is om vryheid te hê om jou godsdiens te belewe. Om as kerk te kan saamkom wanneer en waar jy maar wil.

Maar dis nog nie al nie. Graag sou ek nog wat dieper die ervaring onder woorde wil bring wat in jou omgaan as jy hoor van die broederskap agter die Yster Gordyn. Berigte daaroor het inderdaad iets skokkends, iets angsaanjaends en roep by jou verset op teen hulle wat dit die mense aandoen. Maar dit sal elke mens wel so ervaar.

Maar vir 'n gelowige kom daar nog iets by, n. l. iets vertroostends, iets bemoedigends. En daardie vertroosting kom hieruit voort dat jy besef: Selfs in daardie omstandighede werk die Here met sy Heilige Gees.

Selfs in 'n situasie van sterk beperkte godsdiensvryheid gee die Here aan mense die krag om hul geloof te bely. Daar kan jy sien hoe die Here altyd trou is.

En daardeur word ons getroos. Ons toekoms in hierdie land is vir ons in talle opsigte onseker, ook met betrekking tot godsdiensvryheid, maar kom ons laat ons bemoedig deur berigte oor christene wat in boeie is, en in wie die Here sy groot krag wys.

Oor hierdie onderlinge bemoediging en vertroosting gaan dit in vanoggend se teks, waaroor ons u die evangelie soos volg bedien:

DIE GELOWIGES MOET MEKAAR ONDERLING VERTROOS

Daarvoor moet ons

  1. ons oopstel vir die Woord van die God
  2. ons oopstel vir die toestand van die ander
  3. ons oopstel vir die persoon van die ander

Gemeente, vandag wil ons 'n serie van 8 preke oor die brief van Paulus aan die Kolossense afsluit. Nadat ons verlede week gevorder het t\m vs 6 van Kol. 4, lê dit voor die hand om nou uit die laaste paragraaf van die brief 'n gedeelte as teks te kies. Maar dis darem nie so eenvoudig nie. Dis alles name, en groete van mense waarvan ons skaars iets weet.

En dan voel mens: Hieruit kry jy nie opbouing van jou geloof nie. Kennisvermeerdering, ja dit kan 'n mens dalk nog optel uit die slotgroete van hierdie brief.

Maar wat help ons hierdie kennis van name van verder nie so belangrike mense nou?

En al die groete, dis nou mooi dat dit gedoen word, maar die groete is nie vir ons bestem nie. Vir die Kolossense seker maar waardevol, maar nie vir ons nie.

Daarom is ons maar geneig om so 'n slotparagraaf by die bybellesing maar verby te gaan. En ons soek daaroor seker nie 'n preek nie. En tog, gemeente, is al die gedagtes en besware wat ons nou opnoem wel reg?

Verraai ons daarmee eintlik nie 'n heel verkeerde instelling t. a. v. die lees van die Bybel nie? Ek bedoel dit: as ons so al van te vore begin selekteer wat in die bybel vir ons sinvol en wat nie sinvol is nie, dan gebruik ons die Bybel min of meer as 'n stuk gereedskap wat vir ons doel moet pas.

Soek ek bemoediging? blaai-blaai daar is hy. Die Bybel bemoedig my. Soek ek vermaning? Vir 'n ander byvoorbeeld? Daar staan dit. En daar staan jy! Soek ek 'n oplossing vir 'n probleem? Wat sê die Bybel? Dalk kan dit help!

Maar gemeente, wat doen jy eintlik by so 'n vorm van bybellesing? Dan stel jy jouself en jou behoeftes bo die Bybel. Jy probeer uithaal wat jy toevallig soek.

Soos by 'n oorvolle supermark, daar trek jy net van die rakke wat jy soek. Wat jy nie soek nie kan maar bly lê. Dalk soek 'n ander dit.

Maar daarmee het jy jouself bo die Skrif gestel. Jy is dan besig om te bepaal wat jy as sinvol of as minder sinvol beskou. Maar so skeur jy eintlik groot stukke uit die Bybel uit. Jy doen dit wel nie letterlik nie. Jy sal dit ook seker nie vir 'n ander so sê nie. Daarvoor is jy te gereformeerd. Jy laat die Bybel die Bybel.... en tog maak jy jou seleksies.

Jy soek wat jy wil hoor en die res kan maar ongelese bly.

Maar hoe kan die Here dan tot jou spreek? Hy sal tog nie genoee neem om net te spreek in die stukkies wat jy vir jouself uitgesoek het nie. Dan word die Bybel waarskynlik 'n flenterdun boekie: 'Highlights of the Bible'. Dan word dit net so goedkoop en bestem vir die massapubliek as 'n grammofoonplaat met aan die een kant: hoogtepunte uit die Matteuspassion en aan die ander kant: hoogtepunte uit die Weinachtsoratorium van Bach. Dan hoor jy niet meer wat Bach jou wil laat hoor nie, maar slegs jy wat jy wil hoor.

Goed, dit is nou wel duidelik.

Laat ons dus maar liewers leer om te luister na wat die Here ons wil laat hoor ofwel ons moet ons oopstel vir heel die Bybel. Ook vir 'n skynbaar vir ons betekeningslose teks soos vanoggend.

Daarna moet jy goed luister. Jy moet klop op die deur van die Woord, en bid dat dit vir jou sal oopgaan.

Wat is nou die bedoeling van hierdie verse? Dit staan darem in God se Woord. Die Heilige Gees sal dit tog nie om dowe neute laat opneem het nie!

Hy gee tog nie vir ons allerhande onbelangrike inligting om daarmee ons tyd op te mors nie.

Wel, slegs by so 'n houding is dit moontlik dat die bybelgedeelte vir ons gaan spreek. Maar dan moet jy wel eers jouself en jou onmiddelike behoeftes 'n bietjie eenkant skuiwe om te luister.

Want soos ons in hierdie brief al 'n hele paar keer gehoor het. Dit gaan uiteindelik nie om jouself nie, dat jy so belangrik is, maar om Jesus Christus en die koms van Sy Ryk.

Dit kom ons ook agter as ons b. v. let op die plek van Paulus se opmerkings oor sy persoonlike omstandighede in hierdie brief. As ons 'n brief skryf en dit gaan nie so goed nie dan praat ons eers uitvoerig oor onsself en hoe dit gaan. En daarna is daar miskien nog plek vir ander sake. Maar Paulus stel sy persoonlike omstandighede eers aan die einde van die brief aan die orde en dan nog op 'n baie beskeie manier, maar daaroor verder in punt 2.

2. ONS MOET ONS OOPSTEL VIR DIE TOESTAND VAN DIE ANDER

Al my omstandighede sal Tichikus julle bekend maak.

Van daardie Tichikus weet ons nie te baie nie. Maar tog is hy 'n prominente medewerker van Paulus. In die N.T. word sy naam tot 5 keer genoem as een van Paulus se naaste medewerkers. Blykbaar was hy by Paulus in die gevangenis vir 'n taamlike lang ruk op besoek. Hy kon daar uitvoerig met Paulus praat en homself goed op hoogte stel van Paulus se omstandighede. En nou stuur Paulus Tichikus na Kolosse om ook hulle te vertel van Paulus se toestand.

Hoekom is dit dan belangrik? Hoekom moet hulle daarvan weet? Dit gaan tog nie oor die persoon van Paulus nie, dit gaan tog veel meer oor die evangelie van Christus? Seker, dis waar.

Dit kom ook onder christene al te veel voor dat mense eindeloos oor hulself kan loop en praat. Oor wat hulle alles moes ondergaan het, oor wat dokters met hulle gedoen het en vir hulle gesê het. Alle klagtes, kwale en pyne uit die verlede en wat nog kan kom vir die toekoms word breed uitgemeet.

Nou ja, so is ons maar as mense dat ons steeds baie aandag vra vir onsself. Vra uself maar 'n slag af of u dalk ook teveel oor uself en u eie situasie en klagtes praat. En as dit so is, bekeer u daarvan. Die wêreld draai nie om ons nie.

Tegelykertyd moet ons ook nie sê dat iemand se persoonlike situasie niks met die evangelie van Christus te doen het nie.

Ons onthou dat Paulus in hierdie brief al eerder op sy gevangenskap gesinspeel het ( 1: 24 ). Daar het hy gesê: ek verbly my in my lyding want so volbring ek my deel in die totaal aan lyde wat oor God se kinders in die wêreld moet kom.

Daaruit word duidelik dat die evangelie nie losstaan van die mense wat dit bring nie.

Paulus lê as verkondiger van die evangelie (die blye boodskap) steeds daarop nadruk, dat die gelowiges hulle moet verbly. Verbly julle in die Here! Wees dankbaar as christenmense!

Of as ons dink aan daardie bekende gedeelte uit Paulus' brief aan die Romeine. Rom 8. 'Wie sal ons skei van die liefde van Christus: verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard? '

Dis pragtige, moedige woorde.

Maar sê nou dat daar mense in die gevangenis by Paulus kom kuier en hulle sien daar net 'n verdrietige, angstige, opstandige, klaende apostel. Hy praat maar net oor sy verdrukking en benoudheid, sy vervolging en honger, sy naaktheid, die gevaar ja, die dood wat dreig.

Roem in julle verdrukking, dit is wat Paulus vir 'n ander skryf, of ek verbly my in my lyding, dit is wat hy vir die Kolossense laat weet het. Maar hoor nou. Hy klaag net!

Sien, dan is daar groot fout! Dan is die evangelie blykbaar tog nie in staat om werklik te vertroos as dan die nood aan die man kom nie. Dus die geloofwaardigheid van die evangelie as blye boodskap is hier in geding.

By Paulus, maar ook by ons natuurlik.

As ek beweer dat Christus my groot rykdom in die lewe is aan wie ek my lewe wil wy, maar inmiddels praat ek net oor myself, oor my probleempjies en my plesiertjies, dan is daar iets verkeerd! Dan sal ook 'n ander wat Christus nie ken nie sy skouers optrek oor die s. g. christelikheid van my. Dan beteken dit mos niks nie.

Die evangelie sê voortdurend: Die christelike lewe word gekenmerk deur blydskap in die Gees, maar as ek altyd maar kla, oor die swaarte van die werk, oor die duurte van die lewe, oor die drukte van die kinders, oor die sorge van die tye, waar is dan jou blydskap?

Waaruit blyk dan dat Christus regtig iets vir jou beteken?

So word die geloofwaardigheid van die evangelie aangetas deur mense wat wel daaroor praat, maar nie daarna lewe nie.

Wel, nou kan u ook verstaan hoekom Tichikus vir die Kolossense moet vertel oor al Paulus se omstandighede.

Paulus wil nie daaroor skryf nie, maar hulle moet wel daarvan weet. Dan kan Tichikus vir hulle vertel hoe dit met Paulus gaan onder die omstandighede. Dan kan Tichikus getuig van die krag van Christus wat in Paulus se lewe openbaar word. n. l. Dat Paulus hom kan verbly ondanks sy swaarkry. Tichikus kan vertel dat Paulus vrolik is in die Here, ook al val sy boeie hom swaar.

Want daarmee kan Tichikus vir die Kolossense ook vertroos. Dit kan hulle weer bemoedig dat die Heilige Gees soveel kragte gee in die moeilike situasie van die apostel. Want daardie selfde Gees is ook by hulle.

In die lewe ontmoet jy nou en dan mense wat in hulle lewe deur swaar verliese getref is. Hulle is nou maar swaar beproef. En tog hoor jy hulle nie kla nie. Inteendeel.

Jy sien hoe die evangelie van Christus hulle regtig gehelp het om die verdriet te verwerk. Hulle het daardeur maar net gegroei in vertroue vir die toekoms. As jy dit nou sien en daaroor nadink dan word jy daardeur geweldig bemoedig en vertroos. Jy kan daarmee ook weer 'n ander vertroos, as jy n. l. sê: Kyk hoe die Here in hulle lewe gehelp het! Sien tog watter kragte Christus wil gee as daar regtig probleme kom.

Dan praat jy dus nie oor menslike flinkheid nie, maar oor Christus se krag.

En daarom moet Tichikus na Kolosse gaan. Om te vertel van Paulus se omstandighede. En hoe die Here hom daarin bystaan. En hoe groot die krag van die Evangelie is. Daardeur kan die Kolossense werklik vertroos word. Die inligting is bedoel soos ons teks sê: om hulle harte te vertroos.

So praat 'n mens op 'n regte manier oor ander mense. Meestal is ons gesprekke oor ander mense nie so vertroostend nie. Maar dit kan dus wel, dat jy oor 'n ander praat en dat dit opbouend is vir hulle wat dit hoor.

Tichikus moet dit heel persoonlik in Kolosse kan doen, want so kan hy ook hul omstandighede leer ken. Jy moet weet van 'n ander se omstandighede. Jy moet jou oopstel vir sy situasie - sy probleme. Dan eers kan jy ook 'n vertroostende woord spreek, wat regtig help. Christene behoort daarom in mekaar se omstandighede belang te stel. Want juis in die heel konkrete menslike omstandighede wys die evangelie van Christus sy krag.

Juis daarom moet ons ons ook oopstel vir 'n ander se toestand, en moet ons hoor wat Christus in allerhande situasies gedoen het, sodat ons mekaar gerig kan bemoedig en die Here vanwee sy sigbare dade prys.

3. ONS MOET ONS OOPSTEL VIR DIE PERSOON VAN DIE ANDER

Ons kan ons wel voorstel dat nie sonder meer alle mense uit Kolosse in Paulus se omstandighede belanggestel het nie. Daar was natuurlik mense wat Paulus simpatiek gevind het, en hulle het vanselfsprekend belanggestel in Tichikus se berigte. Maar daar was ook mense wat minder simpatiek teenoor Paulus as persoon gestaan het, en hulle sal wel sê: Ek stel nie so belang in Paulus se omstandighede nie.

Maar as dit gaan oor simpatiek of nie-simpatiek, (wat vanselfsprekend 'n gedugte realiteit in die lewe is), maar tog is dit slegs 'n beoordeling vanuit die vlees sal ons maar sê. Maar dit gaan hier nie oor simpatie teenoor Paulus nie, maar dit gaan oor wat Christus in hom gedoen het. En daaruit kan enig iemand troos ontvang.

Maar ons wil hier nog iets sê oor die tweede persoon wat in ons teks genoem word. Onesimus. Ons ken vir hom as die bekende slaaf van Filemon. As slaaf het hy by Filemon uit Kolosse weggevlug, maar Onesimus het deur Paulus van Jesus Christus gehoor en het blykbaar vir Paulus baie beteken. Hy word hier genoem die 'getroue en geliefde broeder'. En nou stuur Paulus hom vanuit Rome terug na Kolosse.

Ek dink dit moet vir Onesimus bra moeilik gewees het om terug te keer. Wat sal hom daar wag? En hoe sal hy behandel word?

Maar nou stuur Paulus vir Onesimus op pad as sy boodskapper. En uitgerekend hy ontvang die opdrag om vir die Kolossense te vertroos. Laat ons goed besef wat dit beteken (ek dink Onesimus was nie swart nie, maar laat ons hom maar as 'n swartman voorstel om te verstaan wat hier gebeur. )

Paulus stuur vir hierdie Onesimus. Hy is van julle mense! sê hy daarby! Hy is 'n gelowige christen uit Kolosse. 'n Broeder.... vir julle.

Wat Paulus daarmee doen is dit: Hy deurbreek die hele sosiale dinkpatroon van sy tyd. Hy kyk nie na iemand se sosiale of maatskaplike status nie. Hy ken die mense nie na die vlees, soos mense nou maar doen nie, maar hy ken vir hulle in Jesus Christus.

In Christus is die slaaf Onesimus 'n broeder. En as sodanig moet hulle hom dan ook aanvaar. Hoe moeilik hulle dit dalk ook vind, om hulle deur 'n slaaf (en dan nog wel 'n weggelope een) te laat vertel oor die apostel Paulus en wat die Here in sy lewe gedoen het.

'n Slaaf op die voorbank in die kerk en almal na hom luister, i. p. v. op die slawebankie agterin waar hy tuishoort. Dit klink na revolusie!

Laat ons hiervan maar weer leer, gemeente. Christus gebruik mense van alle range en stande in sy diens. Vir ons is wat die vlees betref nie almal ewe aanvaarbaar nie.

Jy kry soms van die predikante, a nee a.

En daar is ouderlinge! Moet ek hom op huisbesoek ontvang? En diakens. Wel, as so iemand diaken moet wees, dan maar liewer geen hulp nie.

Ag, laat ons ons maar liewers oopstel vir mekaar, broeders en susters. As gemeente vir die deur Christus geroepe ampsdraers. As ampsdraers vir al die lidmate wat aan jou sorg toevertrou is.

Want dan eers kan ons mekaar vertroos. Ons ontvang vertroosting as ons hoor van Christus se groot werk in die lewe van 'n ander. En ons kan self 'n vertroosting wees vir 'n ander as ons Christus en Sy Gees in ons laat werk en ons onder al ons omstandighede as blymoedige gelowiges gedra.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)