Paulus se dankgebed vir die mense van Filippi

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Filippense 1
Preek Inhoud: 

Ps. 92: 1, 2
Ps. 92: 3, 4
Ps. 144: 1, 2, 4, 6
Ps. 84: 1, 3
Ps. 84: 5, 6
Lees: 1 Kor. 13
Teks: Filip. 1: 3 - 6.

Broeders en susters, geliefde gemeente van Christus.

    Hoe gaan dit met jou?
    Met my gaan dit goed.
    Verder weet ek nie so baie om te skryf nie.
    Skryf terug. Groete.

U sal hierdie woorde of woorde van soortgelyke betekenis wel herken. Dit is kenmerkende pogings van 'n kind om sy eerste brief te skryf. "Hoe gaan dit? Met my gaan dit goed". Na hierdie vanselfsprekende begin, kou 'n kind 'n lang tyd op sy potlood, met die wanhopige gevoel: hoe nou verder? Die met entoesiasme begonne poging om 'n brief te skryf, blyk aansienlik moeiliker as wat eers gedink is.

Dit geld trouens nie net vir 'n kind nie, ook baie volwassenes kom in 'n brief dikwels nie verder as die "hoe gaan dit met jou - met ons gaan dit goed- vlak" nie.

Die geheim van 'n goeie brief skryf hang daarvan af, of die skrywer in staat is, om homself te gee aan 'n ander. Of jy jouself wil bloot-gee, deur 'n ander in jou hart te laat kyk. Dan eers kan daar werklik kommunikasie tot stand kom.

En anders bly dit maar net 'n uitwisseling van feite en gegewens. Dalk met interessante inligtings, maar die persoon self bly op die agtergrond. Hyself kom eintlik nie saam met die brief nie.

Dit is sy handskrif en sy verhale, maar hyself is nie daar nie. So kry 'n mens dus twee soorte briewe. Daar is briewe waarin die warmte van die skrywer amper tasbaar is, asof hy of sy by jou sit en praat, en briewe waarin dit glad nie die geval is nie. Die skrywer self bly net so ver weg as die afsender se adres.

Wel, broeders en susters, dit is nou nie my bedoeling om 'n kursus in briewe skryf te gee nie, maar dit gaan my daarom, dat ons die atmosfeer van die brief wat vanmôre onder ons aandag kom, sal proe. Dit is nou kenmerkend 'n brief waarin die pesoon van die skrywer heeltemal saamkom. Die brief straal 'n stuk warmte uit. Al vanaf die eerste reëls. Paulus vra nie uit die verte: "Hoe gaan dit daar by julle" nie. Maar Paulus is onmiddellik self daar: Ek dank my God elke maal as ek aan julle dink, en ek bid altyd in al my gebede vir julle almal, met blydskap.

Die vuur wat in hom brand as dienskneg van Jesus Christus, straal van sy warmte onmiddellik uit na al die lesers van hierdie brief.

Ons tema vir die Woordverkondiging is:

PAULUS SE DANKGEBED VIR DIE MENSE VAN FILIPPI.

Ons sien:

  1. Hoe hy sy dankbaarheid uitspreek.
  2. Waarop sy dankbaarheid berus.

As ons die brief lees, val dit op hoe persoonlik dit is. Warmte straal af. Dit is opvallend hoe persoonlik die apostel in hierdie brief is. Hy wys iets van homself. Die gemeente van Filippi mag 'n blik werp in Paulus se gebedslewe. Ek dank God elke maal as ek aan julle dink.... Hierdie benadering is ongelooflik belangrik vir die onderlinge verhoudinge. Die feit dat Paulus dit so doen, gee vir ons rede om daaroor 'n bietjie na te dink.

Want dit is nou maar so, dat ons dit nie so maklik doen nie. Wanneer sê ons nou byvoorbeeld vir iemand wat probleme het: Ek sal vanaand vir jou bid! Let wel, ek beweer nie dat ons nie vir mekaar bid nie, maar my vraag is: durf ons dit nog vir mekaar te sê: Ek sal vir jou bid!?

Of is ons skaam om ons gevoelens op die punt vir 'n ander te wys? Meestal sal ons dan sê: Ons is nou maar Hollanders. Dit is nie ons natuur nie. Dit is vanselfsprekend 'n gerieflike ekskuus. Aan 'n volksaard kan 'n mens maar min verander.

Ons kan ook nog 'n argument uit die Bybel byvoeg: As jy bid, bid in jou binnekamer. Dan het ons wel die teks verkeerd gebruik, maar goed, ons meen ons gebedslewe is nou maar privaat. Strik geheim. Top secret.

Maar die gevolg daarvan is wel, dat dit in die kerk alles so yskoud, so volstrek afstandelik gaan word. As mense vir 'n ander nie meer hul gevoelens wil wys nie, as hulle nie meer wil laat sien, wat hulle ten diepste beweeg nie, dan kan dit selfs in die kerk onbehaaglik word. Soos op 'n koue winteraand. Elkeen kruip weg in sy eie jas of kombers. Daar is nog wel warmte, daar kan selfs aan die binnekant nog 'n vuur brand, maar dit is vir 'n ander nie merkbaar nie. Die vuur wat daarin is, is so deeglik afgeskerm, dat dit nie kans kry om iets aan die ontdooiing van die onderlinge verhoudings te doen nie.

Wel gemeente, by Paulus is dit glad nie die geval nie. Daar brand in hom 'n vuur. Die vuur van die liefde vir Christus. Maar hy doen geen moeite om die vuur af te skerm nie. En almal wat in sy nabyheid kom mag deel in die warmte wat dit uitstraal.

Origens moet ons nou nie dink dat Paulus sentimenteel of soiets was nie. Daardie tipe mense kry jy ook wel. Geen enkele nugterheid, maar net oordrewenheid. Die onegtheid straal daarvan af. Daarvandaan loop 'n mens grillende weg.

Nee, so 'n vorm van sentimentele oordrewenheid is Paulus vreemd. Maar tog laat hy duidelik sy gevoelens sien. Gevoelens van liefde en dankbaarheid en blydskap.

En daarom kom daar op die diepste vlak 'n verbinding tot stand. So kan daar 'n werklik pastorale kontak tot stand kom. As daar van twee kante bereidheid is om op die vlak te kommunikeer. En hoe kan daar so 'n relasie ontstaan? Natuurlik wel op verskillende maniere, maar die belangrikste is tog wel die gebed.

In die gebed vir mekaar kan jy mekaar opdra aan die sorg van die Here. Die gebed as sodanig skep reeds 'n band. Maar ook deur die gebed leer jy om aan mekaar te dink, en daaruit vloei weer voort 'n intensivering van die meelewe met mekaar.

As Paulus in sy gebed aandag bestee aan die Filippense begin hy steeds om te dank. Dit is belangrik om te benadruk. Hy begin om te dank. Ek vermoed dat dit juis hier is waar mense altyd tekortskiet. Ook ampsdraers. Dalk wel juis hulle.

'n Ampsdraer wat nie meer weet om te dank nie, vergeet die belangrikste. Nou is dit vir Paulus nie so moeilik om vir die mense van Filippi te dank nie. Hulle vorm 'n lewende, 'n aktiewe gemeente van Christus.

Maar ook as dit anders sou wees, sou Paulus nog steeds begin om te dank, byvoorbeeld in die gemeente van Korinte was baie probleme, hulle het as gemeente in baie opsigte ver afgewyk van die Woord van die Here. Allerhande growwe sondes word skynbaar maar toegelaat (1Kor. 5: 1 v. v. ).

En tog begin hy ook in daardie brief met 'n dankgebed vir die genade wat God onder die Korintiërs gegee het. (1Kor. 1: 4 v. v)

En dit is 'n goeie ding. Deur steeds te dank, bly jou oë oop vir die goeie wat daar is, selfs as daar probleme is.

'n Ampsdraer het maar die neiging om net die tekortkomings van die gemeente raak te sien. Al die swakhede en gebreke wat daar is, in die kerk van Christus.

Die gevaar is groot dat 'n mens dan wegsak in negatiwiteit. Dit kan sommer maklik 'n lewenshouding word, en dan is daar niks en niemand meer goed nie. Op die ou end word so 'n persoon volstrek onbereikbaar vir enige vorm van menslike kontak. Maar wie bly dank, vir die genade wat God aan die gemeente betoon, en vir die goeie wat daar is, hy bly bewaar vir die suigkrag en die vernietigende werking van negatiwiteit.

Laat ons almal hier van Paulus maar leer, gemeente, en altyd begin met die dank aan God, vir die goeie dinge wat Hy gee.

Ons wil ook nog oplet dat Paulus hier sê: Ek dank my God. Dit mag 'n gelowige so sê: my God. Dit wil natuurlik nie sê dat ons die beskikking oor God het nie. So kan ek wel praat van my pen, of my pyp. Dit is myne. Ek het die alleenreg op die dinge.

Natuurlik mag ons so nie oor God beskik nie.

"My God", dit beteken: God self kom na my toe. Met Sy verbondswoord: "Ek is die Here jou God. Met jou wil Ek 'n relasie aangaan". En binne die relasie (verbondsrelasie) mag die mens ook praat van "My God". Nogmaals: dit beteken nooit dat ons 'n alleenreg op God het nie. Daarom het die Here Jesus ons ook leer bid tot ons Vader. Hy is die God van ons almal. Maar binne die totaal van die gelowiges is Hy tog jou God! Hy stel in jou belang. Ook dit is 'n troosryke gedagte. Veral as 'n mens twyfel aan sy eie waarde. Jy voel jou niks werd nie. Jy doen alles verkeerd. Wat jy onderneem breek jou altyd by die hande af. En dan tog is daar 'n God wat vir jou sê: Ek is jou God! Praat tot my as "My God, Ek stel mos in jou belang".

Paulus dank nie net vir die gemeente, hy bid ook vir hulle. "Ek bid altyd in al my gebede vir julle almal".

Hier word duidelik dat die belangrikste in Paulus se verhouding tot die gemeente, die voorbede is. Hy bid voortdurend vir hulle. 'n Mens kan as ampsdraer nog so hardloop, hy kan hier vermaninings uitdeel, en daar trooswoorde spreek, maar dit alles beteken niks sonder 'n gedurige voorbede nie.

Paulus doen dit selfs met blydskap.

Dit is nie 'n sware las vir hom waartoe hy homself voortdurend dwing nie. Nee, juis omdat hy eers sy God gedank het vir die gawes wat God in Filippi gee, word Paulus bly as hy sien wat in Filippi gebeur.

Hier ontdek ons hoeveel liefde daar by die apostel is. Want net iemand wat baie liefde het kan so skrywe. Die liefde kan hom verbly oor wat 'n ander ontvang. As dit goed gaan met mense wat jy liefhet, dan word jy self bly. In ons teks verskyn die eerste keer die woord blydskap wat so kenmerkend is vir heel die brief aan die Filipense. Ons sal die woord later nog wel 'n keer raakloop.

Maar laat ons hier reeds vasstel dat Paulus se blydskap, en die blydskap in die gemeente, alles te doen het met die liefde. Die liefde wat God aan sy gemeente bewys. Van daardie liefde leef heel die gemeente. En daarom kan hulle ook mekaar van die liefde laat lewe. Die liefde is mos 'n permanente warmtebron, waaraan elke lidmaat van die gemeente hom kan warm.

2. Die grond van Paulus se dankbaarheid.

Nie net die feit van Paulus se dankbaarheid en die wyse waarop hy dit uitspreek, maar ook die rede vir sy dankbaarheid, verdien ons sorgvuldige aandag.

Waarvoor dank Paulus eintlik, en waarom is hy so bly? Hy sê dit in vers 5 so: ek is dankbaar oor julle gemeenskap aan die evangelie van die eerste dag af tot nou toe.

Die Filippense het dus gemeenskap aan die Evangelie.

Gemeenskap te hê aan die Evangelie kan twee dinge beteken. Die eerste is: Hulle het deel aan die Evangelie in die sin, dat hulle die Evangelie ontvang het. Hulle het die Woord wat Paulus en sy metgeselle in die tyd gebring het, herken as die Woord van God. As 'n blye boodskap van verlossing. So het hulle dit aanvaar.

Maar daar is nog 'n tweede betekenis van gemeenskap hê aan die Evangelie. En dit is hier die belangrikste naamlik in die sin, dat hulle deelneem aan die voortgang van die Evangelie. Hulle dra die blye booodskap uit in hul omgewing, en verder ook dra hulle by, (deur middel van geldelike ondersteuning aan Paulus) aan die voortgang van die Evangelie in geheel Griekeland.

U onthou uit Hand. 16 dat die Here die hart van die Lidia oopgemaak het vir die Evangelie. En onmiddellik daarna het Lidia haar hart oopgemaak vir die apostel en sy manne. Die gemeente van Filippi het as 'n huisgemeente begin, waarskynlik in die huis van Lidia!

Sonder twyfel is die sterkste kant van die gemeente in Filippi, hul groot betrokkenheid by die voortgang van die Evangelie. Juis dit laaste maak 'n gemeente tot 'n lewende gemeente van Christus!! Immers 'n gemeente wat maar net ontvang, daar is iets verkeerd. So 'n gemeente raak vasgevang in 'n konsumpsie mentaliteit. Hulle sluk die ene preek na die ander, maar daar gaan niks van hulle uit nie. Dan is daar groot fout.

Die Evangelie hoor en dit verder uitdra, dit hoort by mekaar. Dit is nou gemeenskap hê aan die Evangelie.

So het dit in Filippi gegaan. Vanaf die allereerste dag tot aan die oomblik dat Paulus hierdie brief skryf.

Om in 'n vlaag van entoesiasme Evangelisasie werk te begin, maar dit na die eerste teleurstellings maar vinnig aan ander mense oor te laat, is nie 'n goeie ding nie.

Gemeenskap hê aan die Evangelie vra: trou en volharding. Daarvoor is entoesiasme nie voldoende nie, maar daarvoor is liefde nodig. Liefde wat weet om te volhard.

Paulus weet ook waar die liefde wat daar is vandaan gekom het, en daarom kan hy ook vertrou dat dit so sal bly.

Want die deelname aan die Evangelie verkondiging deur die Filippense is nie bloot 'n menslike aangeleentheid nie. Immers menslike belangstellings kan sommer vinnig verander. Jy kry mense wat met groot entoesiasme 'n stokperdjie beoefen, en op 'n sekere oomblik verdwyn skielik hul belangstelling. Die viool verdwyn in 'n kis, en die posseëlversameling word weggesluit in 'n kas, en die parkiete kwyn in hul koutjies. Maar die gemeente wat deel het aan die Evangelie verkondiging beoefen nie 'n stokperdjie nie, maar God is daarin met hulle besig. Hy maak van hulle gebruik. Dit weet Paulus en daarom is hy met betrekking tot die Filippense vol vertroue. God wat 'n goeie werk in hulle begin het, sal dit voleindig. God sal Sy eendag begonne werk voltooi. Mense kan op 'n sekere oomblik afhaak. Maar nie God nie. Hy gaan verder.

Soos Paulus op 'n ander plek sê: God se genadegawe en roeping is onberoulik (Rom. 11: 29). Daarom sal Hy definitief tot 'n afronding van Sy werk kom.

Kan ons dit dan so toepas, dat iemand wat eendag tot geloof gekom het, en hom by die gemeente aangesluit het, nooit sy geloof kan verloor nie? Nee, Paulus weet dat dit anders is. Allerhande mense kan afvallig word. Daarvan het Paulus in sy nabye omgewing genoeg voorbeelde meegemaak. Mense wat eers saamgedoen het, maar later hul belangstelling verloor het.

Omdat hulle tog die geloof as 'n soort stokperdjie beoefen het.

As daar dan teëslae kom, of as daar vervolging kom, dan kan hulle nie volhard nie. Dan kan die verleiding om vir hierdie wêreld te kies vir hulle te groot word.

Dus dat mense van die aanvanklike goeie pad kan afdwaal, daar weet Paulus alles van.

Maar Paulus wil hier sê: Dit lê nooit aan God nie! Dit is nie Hy wat Hom afkeer nie. Hy sal Sy werk nie loslaat nie.

As Paulus sien hoe sterk die Filippense deur die Evangelie gegryp is, dan weet hy dat hulle ook deel sal hê aan die voltooiing van alles, naamlik die dag van Christus.

Die dag wanneer Hy sal kom, om alles te volmaak wat hier nog swak en sondig is. Ondanks die swakheid van die gemeente, sal God dit nooit sover laat kom, dat die dag van Christus maar afgestel word, omdat daarop niemand meer wag nie.

En so bemoedig Paulus die gemeente van Filippi. Hou vol tot op die dag. Die dag van Christus. Besef dat God met julle besig is, en besig sal bly. Vat moed en gaan voort op die pad waarop julle nou gaan.

En daarmee bemoedig hy ook ons. As ons twyfel aan die dag van Christus, sal dit ooit nog kom? Sal ons volhard tot op die dag? En wat van ons nageslag? Dan sê die Here: Hou vol. Ek het met julle begin. Ek sal julle nie loslaat nie.

Daardie belofte is kragtig. Dit gee vir ons ook kragte wat ons nodig het. As dit van ons afhang, nee, dan sal ons nie kan volhard tot die dag van Christus nie. Maar moenie twyfel nie. Wees dankbaar vir die werk wat God begin het, en kom vanuit die dankbaarheid tot blydskap. Tot 'n blye verwagting van die koms van die Here.

Bly veral dank vir wat God gegee het. In Sy gemeente. In u lewe.

En bly veral bid vir uself, vir u kinders, vir u broeders en susters. Ja vir heel die volk van God.

Want die beloofde volharding kan maar net in die weg van die voortdurende gebed gegee word.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)