'n Apostoliese brief aan alle Christene

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Filippense 1
Preek Inhoud: 

Ps. 25: l, 2
Ps. 25: 3, 4
Ps. 96: 1, 2, 3
Ps. 133: 1, 2
Ps. 128: 1, 4
Lees: Hand. 15: 35-16: 23
Teks: Filip. 1: 1, 2

Broeders en susters, geliefde gemeente van Christus,

Vandag wil ons 'n begin maak met 'n aantal preke uit die brief van Paulus aan die Filippense. As 'n mens so 'n plan maak, is dit nuttig om eers 'n bietjie algemene voorstudie te doen, byvoorbeeld oor die skrywer van die brief, die mense aan wie dit eerste gestuur is, die omstandighede waaronder skrywer en lesers mekaar leer ken het, ens. Die algemene gegewens wat 'n mens so optel kan belangrik wees vir die verstaan van allerhande details in die teks, van die brief self. Wel, hierdie keer het ons ook so gedoen, en daarom het ons vir 'n eerste preek uit Fil. nie verder gekom as net die opskrif van die brief nie. Die opskrif bied voldoende materiaal om oor na te dink, en bied vir ons die geleentheid om 'n bietjie meer te vertel oor die verhouding tussen die skrywers en die eerste ontvangers van hierdie brief. Dus daarom vandag 'n kort teks, waarin vir ons gevoel, eintlik niks nuuts staan nie.

Ons het ons teks eintlik al saamgevat in die woord opskrif. Ons sou dit ook kon noem die aanhef of die aanspreekvorm. Soos in enige brief word begin met 'n aanspreekvorm. Soos ons almal sal besef, verraai 'n aanspreekvorm onmiddellik in watter verhouding jy tot iemand staan. As ek byvoorbeeld 'n brief stuur aan die Staatspresident, sal ek byvoorbeeld my brief moet begin met: Aan sy Hoogedele, die Staatspresident. Maar daar sal ook net mense wees wat 'n brief aan hom kan begin as: Beste.............

Duidelik is, dit word heeltemal bepaal deur die verhouding wat jy met so iemand het. Dus 'n opskrif is altyd veelseggend.

Verder moet ons besef dat ons hier met 'n brief te doen het. 'n Brief van 'n sekere persoon, aan sekere mense. Dit is iets wat ons gou vergeet. Ons ken mos die Bybel as 'n boek. Met allerhande hoofstukke. Filippense is een daarvan. Maar ons moet besef, die Bybel is nie as 'n boek geskryf nie. Paulus het nooit gedink dat sy brief in 'n Bybel 'n plek sou ontvang nie. Toe hy geskryf het, het hy maar net gedink aan die mense van Filippi. Dit bring ons op die gedagte dat dit 'n magtige werk van God is, dat ons vandag daardie brief nog kan lees. En dat dit tot ons nut en tot ons opbou is. Dit is eintlik ongelooflik. Dat soiets moontlik is. Wel dit is nou die werk van die Heilige Gees. Hy sien kans om so 'n heel persoonlike brief tot 'n heilsboodskap te maak, vir mense wat in 'n heel ander tyd en in 'n heel ander situasie lewe.

In ons Bybel staan daar bo ons teks: Die brief van die apostel Paulus aan die Filippense. Dit is saaklik beskou, korrek.

Maar as ons 'n bietjie nader toekyk sien ons in ons teks nog 'n bietjie meer: Die skrywer(s) presenteer hulself as diensknegte, en

die geadresseerdes word genoem: die heiliges. Dit sê iets van die atmosfeer, die toon van die brief. Knegte van Christus skryf aan heiliges in Christus. As ons so die opskrif lees, verstaan ons hoekom so 'n brief uit 'n ver verlede, vir ons van betekenis kan wees. Die skrywer leef nie meer nie, ook die ontvangers is lankal dood. Maar Christus is die Lewende. Hy is die Blywende. Hy is gister en vandag dieselfde.

En daarom het 'n woord van knegte van Christus aan heiliges in Christus, ook vir ons groot betekenis.

Tema: 'N APOSTOLIESE BRIEF AAN ALLE CHRISTENE.

Dit is:

  1. 'n Brief van knegte van Jesus Christus.
  2. 'n Brief aan heiliges in Jesus Christus.
  3. 'n Brief met 'n vredegroet van Jesus Christus.

1. Ons het nou gesê dit is 'n brief aan alle Christene. Maar dit neem nie weg dat ons eers baie aandag aan die eerste ontvangers moet gee nie. Eers nadat ons eers volledig hulle omstandighede in rekening gebring het, kan ons die woorde op 'n verantwoorde wyse in ons eie situasie toepas.

Ons het dus te doen met 'n brief aan die gemeente van Filippense. Filippi is die eerste stad in Europa wat deur die prediking van Paulus in aanraking kom met die Evangelie van Jesus Christus.

Dit is eintlik 'n baie interessante verhaal, hoe Paulus in Filippi uitgekom het.

Ons het ons Skriflesing in Handelinge begin by die wegspringplek van die tweede sendingreis van Paulus. Volgens Hand. l5: 36 was dit oorspronklik die bedoeling om slegs opnuut die plekke te besoek waar tydens die eerste sendingreis, gemeentes ontstaan het, om daar die broeders en susters te versterk.

Maar tydens die tog, maak Paulus planne om ook in Asië die Evangelie te verkondig. Asië is 'n kleinerige provinsie aan die Suidkus van Klein-Asië (Turkye). Maar die plan val deur die mat, immers daar staan: die Heilige Gees het hulle verhinder om in Asië die Evangelie te verkondig. Dan maak hulle 'n nuwe plan hoofstuk l6: 37. Hulle wil in Bitinië die Evangelie verkondig. Dit is aan die noordkus van die teenswoordige Turkye. Maar weer is dit die Heilige Gees wat hulle op een of ander wyse keer.

Nie na Bitinië nie.

Dan stap hulle nog 'n 500 kilometer verder, en kom af na Troas.

'n Plek aan die Weskus. En daar kry Paulus dan 'n droomgesig van 'n man, 'n Macedoniër wat roep: Kom oor na Macedonië, en help ons! Paulus en sy metgeselle besluit dan dat dit 'n aanwysing van die Here is, en vaar dan per skip na Europa.

Die eerste plek waar hulle 'n langer tyd bly is dan Filippi. Op die Sabbatdag gaan hulle buitekant die stad, langs die rivier, na 'n bidplek, en daar maak hulle die eerste kontak met mense. Daar was 'n groep vroue wat daar bymekaar gekom het. Met hulle begin Paulus en sy manne 'n gesprek.

Hulle praat ongetwyfeld oor die Evangelie van Jesus Christus.

Ons moet hier oplet, dat hulle met vroue praat. Ons lees daar sommer aan verby. Vir ons is dit heel gewoon. Manne praat met vroue oor allerhande goed. Ook oor geloofsake.

Maar vir Jode is dit glad nie gewoon nie. Die Joodse mans het almal opgegroei by die les: Moenie teveel met vroue praat nie. Nie met jou eie vrou nie, en seker nie met ander vroue nie. En heeltemal nie oor godsdienssake nie. Van een van Paulus se leraars is byvoorbeeld die volgende uitspraak bekend: Dit is nog beter dat die Thora verbrand as dat dit in hande van 'n vrou val.

Wel, so het die Jode die plek van die vrou gesien. Eintlik: Jy moet 'n vrou nie ernstig neem nie. Hier het Paulus dus baie van die Here Jesus geleer, wat ook met vroue oor die Evangelie gepraat het.

In Christus is daar nie onderskeid tussen man of vrou nie. Die evangelie bring duidelik die bevryding van die vrou.

Dit is daarom ook betekenisvol dat die eerste bekeerling in Europa, juis 'n vrou is, naamlik Lidia die purperverkoopster.

Die Here open haar hart om as eerste die blye boodskap te aanvaar.

Oor die verhouding van Paulus met vroue, en wel spesiaal met hierdie Lidia wil ons nog iets vertel. Immers sy is die oorsaak daarvan dat Paulus in 'n heel unieke verhouding met die gemeente van Filippi te staan kom. In die brief aan die Filippense word naamlik duidelik dat Paulus vanuit Filippi geldelike ondersteuning ontvang. Hulle het selfs voedselpakkette aangestuur as Paulus in die gevangenis is.

Die verhouding is daarom uniek, omdat Paulus altyd prinsipieel geweier het om van mense geld vir lewensonderhoud, aan te neem. Hy het altyd self sy brood verdien. Hy wil heeltemal vrystaan teenoor die mense aan wie hy die Evangelie verkondig.

Hy wil selfs die skyn voorkom dat dit hom om geldelike voordeel te doen is. In die Griekse wêreld van sy tyd was daar naamlik talle rondtrekkende wysheidsleraars, wat hulle vir hul dienste goed laat betaal het. Hulle het ook die mense dikwels na die mond gepraat om nog meer voordeel te behaal.

Wel, Paulus was daarvoor baie skrikkerig. Dit moet volstrek duidelik wees, dat dit hom nie om geld te doen is nie, maar dat hy net in opdrag van Christus die Woord verkondig. Daarom sorg Paulus vir sy eie lewensonderhoud. Dit was so gesê sy prinsipe: Laat jou nooit by mense onthaal nie. Aanvaar nimmer geld vir jouself nie.

Maar in Filippi kan Paulus sy prinsipe nie volhou nie. Die oorsaak daarvan is Lidia. Soos gesê: sy is die eerste wat in Filippi tot geloof gekom het. Wel, nadat sy met haar huisgesin gedoop is, nooi sy vir Paulus en sy metgeselle om by haar te kom eet. En sy het vir almal wel 'n plekkie om te slaap. Hoofstuk 16: 15.

Natuurlik het Paulus toe gesê: "Baie dankie Lidia, vir die vriendelike uitnodiging, maar ek is jammer, dit is teen ons prinsipe, om gratis by ander mense in huis te bly".

Maar so maklik kom Paulus met Lidia nie klaar nie. Onthou sy is 'n purperverkoopster, 'n sakevrou wat haar mondjie kan roer. Sy dring verder aan: "As u oordeel dat ek in die Here glo, kom dan in my huis en bly daar!"

En daarmee is Paulus vasgetrek. As hy nog bly weier sal sy sê: Dus jy twyfel aan my geloof? Op so 'n vroue logika het Paulus nie meer 'n antwoord nie. Dus gaan hulle maar. Lukas teken by die gebeurtenis nog in 16: 15 veelbetekend aan: En sy het ons gedwing.

In elk geval, vanaf daardie tyd word (dalk wel onder leiding van Lidia) in die gemeente van Filippi, fondse ingesamel, ten behoewe van die voortgang van die Evangelie in heel Griekeland. Hulle stuur gereeld ondersteuning aan Paulus en sy metgeselle, sodat hulle alle tyd kan gebruik vir Evangelie verkondiging. Uniek.

Ons wil nou nog kort noem die gebeurtenis met die meisie met die waarseggende gees. Die bevryding van daardie slavin deur Paulus, in naam van Jesus Christus, lewer vir hulle almal gèselslae en 'n halwe nag in die tronk op. As hulle op wonderlike wyse bevry word, kom ook die tronkbewaarder met sy gesin tot geloof, en so groei daar 'n gemeente.

Ek dink ons mag sê: die hele rumoerige wyse van ontstaan van die gemeente in Filippi verklaar baie van die besondere verhouding wat Paulus met juis hierdie gemeente het. Met geen van die gemeentes wat hy gestig het, het hy so 'n emosioneel gekleurde en persoonlike verbintenis gehad as juis met die gemeente van Filippi nie.

Wel, ons het nou voldoende agtergrondinligting om na die brief self te kyk. Daar word twee afsenders vermeld. Paulus en Timotheus.

Ons weet nou, hulle was altwee bekendes vir die mense in Filippi: Timotheus was al by die eerste ontmoeting met Lidia. Dit is die bedoeling dat Timotheus later alleen na Filippi sal kom. Dan kan hy as medeskrywer nog met hulle verder praat oor die brief.

Daar is nog 'n element wat ons moet raaksien. Ongetwyfeld was

Paulus die leier van 'n groepie manne wat eerder Filippi besoek het, maar tog is Paulus nie 'n man wat alle aandag vir homself opeis nie.

Paulus hou nie van 'n 'one-man-show' nie. Dit gaan hom nie daarom om deur middel van sy briewe sy eie naam 'n groot bekendheid te gee nie, asof hy die groot denker is, wat sy oorspronklike gedagtes net met sy eie naam wil onderteken nie. Nee, hulle is saam diensknegte van Jesus Christus. Slawe van Jesus Christus, kan ons ook vertaal. Hierdie presentasie is kenmerkend vir heel hul lewe en werke. Hulle is self diensknegte van Jesus Christus, nie meer en ook nie minder nie. Die is belangrik vir almal wat in die Evangelie-diens werksaam is. Die gevaar is altyd groot dat mense wil heers oor die kudde van Christus. Dat hulle graag baas wil speel oor die gemeente. Wel, dit pas 'n ampsdraer glad nie. Hulle is nie baas nie, maar knegte. Knegte van Christus, wel te verstane. Dit beteken dit is Christus wat hul opdrag bepaal.

Kyk, daar is ook mense wat ampsdraers beskou en behandel as hul kneggies. Hulle fluit, en die ampsdraer kan maar kom. En wee, die ampsdraer wat na hul oordeel nie vinnig genoeg hardloop, of nie presies aan hul eise voldoen nie.

Wel dit is net so goed 'n omkering van die verhoudings.

'n Ampsdraer is 'n dienskneg van Jesus Christus. Dit beteken Jesus Christus bepaal wat hulle moet, of wat hulle nie moet doen nie.

Slawe van Christus. Dit is nie 'n erenaam wat Paulus en Timotheus op hulself toepas nie. In die Grieks-Romeinse wêreld was 'n slaaf nie in tel nie. Hy was 'n voorwerp van minagting. Wat 'n slaaf dink of voel, was glad nie van belang nie, hy is na willekeur gediskrimineer. En tog presenteer hulle hul as slawe. Slawe van Christus. Christus is ons Heer. Hy moet groter word, laat ons maar minder word.

Dit behoort kenmerk te wees van enige ampsdraer. So iemand vra nie aandag vir eie belangrikheid nie, maar net vir sy Heer, Jesus Christus.

2. Brief aan die heiliges in Jesus Christus.

Ons kyk nou na die adres waarnatoe hulle hul brief stuur. 'Aan al die heiliges in Christus Jesus wat in Filippi is'.

Aan al die heiliges. Die woord moet ons goed verstaan. Dikwels bedoel mense met 'n heilige, iemand wat in sy gedrag of sy optrede ver bo 'n ander uitsteek.

Soms word dit ook so gebruik: ja maar, hy of sy is so 'n heilige een! Dan is dit meer negatief bedoel. Ons vertrou die sogenaamde heiligheid nie heeltemal nie, en vermoed dat dit meer skynheiligheid is.

Maar in elk geval: ons is geneig om die woord heilig, toe te ken aan iemand, as gevolg van sy gedrag.

Maar in die Bybel is dit wel anders. Die toekenning van die woord heilig, is nie in die eerste plek gebaseer op gedrag nie, maar op 'n daad van God. Iets of iemand is heilig deur God se ingrype.

Heilig beteken in die Bybel dat iets of iemand deur God in beslag geneem word, en apart gestel word vir Sy diens. So word in die Ou Testament die priesterkleding byvoorbeeld heilige klere genoem, en is daar sprake van heilige skottels en panne.

Dit is nie vanweë hul vorm of eienskappe nie, maar uitsluitlik vanweë die diens wat hulle moet verrig. Dit mag nie vir alledaagse gebruik, gebruik word nie, maar is vir die diens aan God gereserveer. Wel, net so is ook die volk Israel heilig. 'n Heilige nasie. Dit is nie aan eienskappe van Israeliete te danke nie. Asof hulle in alles onberispelik was. Inteendeel, hoe dikwels word hulle nie 'n hardnekkige en weerspannige volk genoem nie!

Dat hulle heilig is, is nie te danke aan Israel self nie, maar net hieraan, dat die Here beslag gelê het op daardie volk. Hulle is bestem vir Sy diens!

Dus samevattend: Heilig wees is nie 'n gevolg van gedrag nie, maar gevolg van ingrype van God! Julle is 'n heilige volk!

Alleen nou moet ons wel bedink. So 'n heilig wees as gevolg van apartstelling, deur die Here, het wel gevolge vir jou lewenspraktyk. Wees heilig, want Ek is heilig!

Jou lewe moet nou ook in ooreenstemming wees met jou afgesonderd wees deur die Here.

Dit beteken dat jy afstand moet neem van alles wat jou in stryd met die Here en Sy wette bring. So ook Israel.

Wel op soortgelyke wyse word hier die Filippense heiliges genoem. Hulle is heilige in Christus Jesus.

Dit beteken hulle is deur Hom in beslag geneem. Hulle staan in Sy diens. Hy het hulle geheilig deur Sy bloed. Dit is natuurlik 'n erenaam. Heiliges in Jesus Christus. Maar tegelyk is dit ook 'n roeping.

Vanuit hierdie 'heiligverklaring' as ons dit so mag noem, sal Paulus later ook kragtig kan vermaan en oproep tot 'n lewenstyl in ooreenstemming met hul roeping.

En so is die woord ook aan ons gerig. Ons is heiliges, nie uit onsself nie, maar heiliges in Christus Jesus. Dit is om dit so maar te sê: die posisie waarin ons deur Christus gestel is.

Maar dit is dan daarmee ook ons roeping. Om nou ook werklik ons lewe te heilig tot eer van Hom wat ons geroep het, Jesus Christus.

So skryf Paulus aan die heiliges, saam met hul opsieners en diakens.

Ook hier moet ons oplet dat die ampsdraers in Filippi maar 'n beskeie plek inneem. Hulle word meer aangespreek as deel van die gemeente, dan as mense wat bo die gemeente staan.

Ons sou dit ook so kon sê: Hulle is eers lid van die gemeente, en daarna pas leiers in die gemeente.

So spreek die diensknegte van Christus hul medediensknegte aan, om vanuit 'n beskeie posisie 'n groot taak te verrig, om diensbaar te wees aan die opbou van Christus gemeente, want om Hom gaan dit altyd in die gemeente. Sy Naam moet alle eer ontvang. Van die gemeente as 'n geheel, en van alle lidmate afsonderlik.

3. 'n Brief met vredegroete van Christus.

Genade vir julle en vrede van God ons Vader in die Here Jesus Christus!

Dit mag nuttig wees om van hierdie bekende vredegroet, waarmee ons dikwels die erediens begin, iets meer te sê.

Daar word dikwels gevra: is dit nou 'n wens wat jy aan 'n ander toewens, of is dit 'n seën waarin werklik iets gebeur?

Ons kan die vraag ook so stel: Sê jy net: Mag die genade en vrede van God met jou wees!? Of kan jy sê: die genade en vrede van God sal met jou wees!?

Ek dink dat die twee mekaar nie uitsluit nie. Die genade en vrede van God is in elk geval iets wat die een mens aan die ander kan toewens.

Maar hier tog wel baie meer as net 'n wens (byvoorbeeld soos: 'goeie môre' - mens weet nie of die ander wel werklik 'n goeie môre sal hê nie).

Hier word dit naamlik gesê tot die gemeente van Christus. Dit maak alle verskil. Daardie gemeente moet weet: die genade en vrede van Christus is met hulle. Ons sal dit verstaan as ons let op die inhoud van die groet:

Genade - dit beteken 'n mens kan by God tereg. Daar is genade by Hom. Dit is: God wil met jou te doen hê, ondanks die feit dat jy daarop nie reg het nie. Vanweë jou sonde en onheiligheid sou God jou kon wegstuur. Maar tog mag jy by Hom kom en kom Hy na jou toe. Dit is genade.

Vrede - dit is oook 'n pragtige woord. 'n Woord wat vandag trouens baie meer populêr is as genade. Genade, daar hou ons eintlik nie van nie. Genade beteken afhanklikheid. Niemand wil graag genadebrood eet nie. Dit druis in teen jou hele natuur. Maar vrede, dit is wat almal wel wens.

Dat daar by mense meer belangstelling is vir vrede as vir genade, word verkeerdelik hierdeur veroorsaak, dat vrede dikwels in baie beperkte sin gebruik word. Dan dink mense aan 'n situasie waarin geen oorlog is nie, 'n situasie sonder nodelose bloedvergieting, sonder motorbomme en kleefmyne.

Maar in die Bybel is vrede 'n baie dieper woord. Vrede, beteken daar in die eerste plek dat die verhouding met God herstel is. Die mens staan weer voor God, soos hy behoort te staan.

Wel, in daardie Vrede stel 'n groot deel van die mensheid glad nie belang nie.

En tog is juis daardie Vrede fundamenteel vir alle andere vorme van vrede. Immers eers waar daardie Vrede heers, kry 'n mens vrede in homself, vrede in sy gesin, vrede met sy medemense.

En solank daardie Vrede van God daar nie is nie, bly alle menslike hoop op vrede maar net 'n onbereikbare ideaal.

Ons moet begin by die begin. By die vrede wat God gemaak het. Christus is ons Vrede sê Paulus op 'n ander plek. Deur die versoening aan die kruis het Hy Vrede gemaak. Met God, maar ook met die naaste. Want Sy Vrede het die skeidingsmuur weggehaal, wat mense altyd maar weer optrek tussen hulself en hul naaste.

Wel, deur die Vredewerk van Christus word ons in staat gestel om die skeidingsmure van onbegrip en liefdeloosheid in die verhouding met ons naaste af te breek.

Die Vrede van Christus gaan uitstraal na alle menslike verhoudings. Dit moet in die kerk begin. Juis daar word mos vir almal die Vrede van Christus verkondig.

As 'n bestaande geskenk. Die genade en vrede van Jesus Christus is met julle. Dit mag vir die gemeente as 'n vasstaande feit gesê word. Maar ons weet ook te goed, dat deur ons sonde, aan daardie Vrede wat God gee, en wat in die onderlinge verhoudings moet deurwerk, dikwels baie ontbreeek.

En daarom, bly dan ook steeds iets om te wens:

Mag die genade en vrede van Jesus Christus met julle wees!

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)