Paulus vermaan 'n sondige gemeente tot 'n lewe in dankbaarheid

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Efésiërs 5
Preek Inhoud: 

Voor diens: Ps 145: 1, 2, 10, 11, 12
Ps 107: 1, 3
Ps 107: 10, 18, 21
Ps 135: 1, 2, 11
Ps 148: 1, 2, 5 (beurtsang)
Lees: Efese 4: 25 - 5: 21
Teks: Efese 5: 18a - 21

Brs en srs !

Sou u lid wil wees van 'n gemeente, waar 'n broer 'n ander bedrieg het?

En waar vervolgens die bedroë broer sweer om nooit meer met die bedrieër Nagmaal te wil vier nie?

Sou u kans sien om 'n suster as suster te aanvaar wat weens winkeldiefstal veroordeel is?

Sou u met broers kon bly omgaan wat gereëld vuil grappe vertel by geleenthede waar in elk geval veels te veel alkohol gedrink word?

Sou u kon tuisvoel in 'n gemeente waar ou rusies gaande is wat nooit opgelos kon word nie en waar mense mekaar maar noodgedwonge ontwyk omdat die bitterheid daaroor alle gevoel van saamhorigheid vernietig het?

Nogmaals sou u lid wil wees of lid wil bly van 'n gemeente waarin sulke dinge gebeur?

Wel, ek dink as u u gevoel sou laat spreek sou u hardwegloop by so'n gemeente vandaan. En u sou voel dat u daarmee heeltemal die regte ding doen. Want 'n gemeente waarin al hierdie goed gebeur kan nie werklik 'n gemeente van Jesus Christus wees nie.

Maar gemeente, as u so voel, bedink een ding. Jy kan wel so voel, maar die Here Jesus voel nie so nie. En sy dienskneg, die apostel Paulus ook nie.

Want die sondes wat ek sopas genoem het, het almal voorgekom in die gemeente van Efese.

Paulus spreek die sondes een vir een aan.

Hoor maar:

    4: 25 Lê die leuen af en spreek die waarheid! sê hy vir die bedrieglike broer.
    4: 28 Laat die suster wat steel nie meer steel nie!
    4: 29 Laat die broers wat hul vuil grappe so geniet hulle monde toemaak en hulle bekeer.
    4: 31 Die bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word
    5: 18 Moenie dronk word van wyn nie- daarin is losbandigheid.

Dit alles moes gesê word vir die broers en susters in Efese.

Ongelooflik eintlik!

En dit is dan dieselfde gemeente aan wie Paulus sulke wonderlike dinge geskryf het oor hul uitverkiesing van voor die grondlegging van die wêreld.

Nog ons gevoel, nog ons verstand kan hierdie dinge by mekaar kry nie.

Maar laat ons goed luister na die boodskap van die Skrif.

Want Paulus sien juis in hierdie gang van sake rede tot 'n loflied op die genade van God.

Daaroor gaan dit in vanoggend se preek.

Ons tema is:

Paulus vermaan 'n sondige gemeente tot 'n lewe in dankbaarheid

  1. Dit word moontlik gemaak deur die Heilige Gees
  2. Dit word hoorbaar gemaak in ons loflied
  3. Dit word sigbaar gemaak in ons diensbaarheid

Ons teks van vanoggend vorm die afsluiting van 'n kritiese deurligting van die gemeente van Efese. Daar het heel wat aan die lig gekom wat hom absoluut nie verdra met wat ons 'n christelike lewenstyl noem.

Vir Paulus self moet hierdie opsomming van aanwysbare sondes in die gemeente 'n tamelike teleurstelling wees.

Efese is namelik die gemeente waar hy die allerlangste persoonlik gewerk het.

Hy het vir seker drie jaar hierdie gemeente bedien.

Dan sou 'n mens verwag dat hy die gemeente nou heel negatief krities gaan aanspreek. Op 'n manier van: ek het seker die evangelie tevergeefs onder julle verkondig. As julle tog nie wil luister nie! Wat het al my inspanning dan gehelp?

Maar nee, Paulus kies nie vir 'n menslike benadering nie, maar vir 'n geestelike benadering.

Hy wys die sondes heel konkreet aan en sê duidelik: dit mag in die gemeente nie so wees nie.

Maar hy sluit sy balans van die gemeente in Efese nie af met 'n negatiewe saldo nie: Kyk, so groot is julle skuld nou!

Julle is nog ver verwyder van 'n ware christelike gemeente.

Nee, Paulus sluit af met 'n loflied op God en 'n opwekking tot dankbaarheid in Jesus Christus.

Gemeente, hier moet ons iets leer.

As ons na ons eie gemeentelike lewe kyk, is dit glad nie moeilik om allerhande tekortkomings aan te wys nie.

Die een sien onderlinge stryery as 'n droewige tekort.

Die ander maak hom boos oor swakheid in kerkgang van 'n ander.

Weer 'n ander vererg hom aan die rookverslawing van broeders.

En nog een is boos omdat sommiges hulle so gemaklik aan die finansiële laste van kerk en skool onttrek.

En dit alles by mekaar is 'n groot frustrasie omdat dit die getuienis van die gemeente na buite belemmer.

Al die kritiekoefenaars is reg. Daar kom ergerniswekkende swakhede in die gemeente voor. Dit is glad nie moeilik aanwysbaar nie.

Maar luister net hoe Paulus daarmee omgaan. Hy het hom in die gevangenis laat opsluit vir hierdie swak broers en susters.

Hy het hom laat gesel om vir hulle die evangelie te kan verkondig. Hy het alles vir hulle oorgehad.

Maar hy maak hom nie kwaad oor anderman se sondes nie, maar staan net verwonderd oor die genade van Jesus Christus.

En daarom roep hy op tot dankbaarheid.

Die les wat ons hier moet leer is dit: Daar is niks gevaarliker vir jou innerlike lewe as om steeds met mekaar te praat oor wat by 'n ander in die gemeente nog nie is soos dit behoort te wees nie.

Dit is absoluut dodelik vir jou eie geestelike lewe.

En ook vir die regte sig op die werk van Jesus Christus.

Want dit vat die loflied op Christus werk in die gemeente weg.

Onthou hoe Petrus toe hy net op Jesus Christus gelet het, selfs op die water kon loop. Maar toe hy rondom hom kyk en in die groot golwe vaskyk sink hy onmiddellik weg.

In die gemeente is dit absoluut noodsaaklik dat ons almal die oog op Christus gerig hou. En dan kan ons die sondes maar aanspreek en by die naam noem wat verkeerd is.

Want ons kan nie leef in die skaduwee van ons eie tekortkomings nie. Ons kan slegs verder in die lig van God se genade.

En daarom stel Paulus teenoor al die sondes een ding.

Hy het maar een boodskap:

Word met die Heilige Gees vervul!

Dit moet gebeur in die gemeente!

Dit is die enigste wat 'n gemeente kan reghelp.

Immers die Heilige Gees is die persoon wat werk aan die heiliging van die gemeente tot eer van Christus.

Slegs waar almal met Hom vervul raak kom 'n verandering in die lewe van die gemeente. Maar dan moet elkeen dit ook doen.

Elkeen moet hom laat vervul met die Heilige Gees.

Nou kom daar 'n vraag op. Kan Paulus dit van die lesers van sy brief eis? Word vervul met die Gees!

Die Gees waai tog waarheen Hy wil. Jy kan tog as mens nie sommer beslag op die Gees lê nie?

Maar tog wel!

Onthou dit: Die Heilige Gees is aan die gemeente toegesê.

En daarby: Jy is gedoop mee in die naam van die Heilige Gees.

Hy het persoonlik vir jou belowe om jou lewe te vernuwe en aan Christus toe te wy.

En daarom mag jy, moet jy 'n beroep doen op die Gees.

Jy moet leef vanuit die Verbond!

En juis dit gee vir jou die reg en die plig om te vra om die Gees!

'n Onbekeerde mens sal daarom nie vra nie. Hy is tevrede met sy lewe soos dit gaan. En God moet ook maar tevrede wees.

Kyk as in die gemeente so geleef en gedink word, kan ons maar baie sondes verwag.

En juis daarom doen Paulus hierdie dringende beroep op sy lesers: Word met die Gees vervul! Dit is waaroor dit gaan!

Dit is die beste geneesmiddel teen die swakhede in die gemeente.

Want 'n geesvervulde gemeente is 'n dankbare gemeente. En waar dankbaarheid heers daar is ook krag om teen sondes en swakhede te stry.

In vers 20 sê Paulus dit so: Dank God die Vader altyd vir alles!

Altyd vir alles! Dit beteken dankbaarheid moet iets blywends wees. Dank altyd vir alles.

Om net vir die goeie en mooie te dank is nie so moeilik nie. Maar die probleem is natuurlik om ook by teleurstellings jou dankbaarheid nie te verloor nie.

Paulus is 'n man wat heel wat teleurstellings in sy lewe ondervind het.

Veral ook in die gemeente van Efese. Hy het hulle so goed leer ken. En hy het dit hulle so onvermoeibaar voorgehou.

Laat julle tog vervul met die Heilige Gees.

En toe dit nie altyd so gerealiseer het nie, het Paulus nie kwaad geword of op moedverloor se vlakte gaan sit nie.

Nee, Hy het gedank vir God se genade. Vir die grootheid van Jesus Christus verlossingswerk dat Hy met hierdie mense 'n plan gemaak het.

2. Ons dankbaarheid word hoorbaar gemaak in ons loflied

Spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere.

Dit is nou 'n spesiale teks hierdie. Wat sou bedoel word?

Tog nie dat ons mekaar net 'n psalmwoord mag toevoeg? Of dat ons soos in 'n opera alleen singend met mekaar kommunikeer?

Ek sou dit so wil sê: Paulus praat hier oor die vlak van onderlinge omgang.

Dit gaan om die vraag hoe onderling gepraat word.

Kan julle net met mekaar oor wêreldse goed praat? Oor besigheid, oor karre, oor vakansieplanne, oor die koers van die Rand? Dit is geen verbode onderwerpe om oor te praat nie, maar as die gesprek tussen broeders nooit bo daardie vlak uitkom nie, is daar iets grondig verkeerd.

En as met mekaar oor kerklike sake gepraat word, hoe doen julle dit?

In 'n gees van kritisisme? Hier tekort en daar te lank?

Of praat julle dalk vanuit 'n verborge hoogmoed met sommiges oor die gebrek aan geestelike lewe by die ander broers en susters?

Dit gebeur sommer gemaklik hoor!

Maar Paulus roep ons almal toe: Mense word tog meer geestelik.

Praat geestelik oor die dinge van die dag!

En praat veral op die vlak van die loflied.

Immers 'n christelik loflied sing van die genade en die liefde van onse Here Jesus Christus vir sy gemeente. Geestelike liedere bring ons blydskap onder woorde oor die werk van Christus aan die kruis, oor die uitsig op die nuwe lewe wat Hy vir ons gee!

Waar ons kommunikasie met mekaar op hierdie toonhoogte plaasvind groei ons dankbaarheid as verloste mense.

Daar groei ook ons behoefte om ons lewe steeds meer deur die Gees te laat vernuwe.

Immers daar kan ons met blydskap praat oor die vordering van die werk van Christus onder ons. Daar kan ons ons saam verheug dat ook op die sendingveld die evangelie ingang vind by mense.

En waar ons ons werklik verbly oor hierdie dinge daar wil ons ook graag met mekaar sing en bly wees in die Here.

Daar is niks wat geloofsgemeenskap so bevorder as om saam te sing van die werk van die Here nie.

Daarom dink ek ook dat ons met mekaar meer plek moet maak vir gesamentlike sang.

Omdat die meeste van ons van nature tamelik geremde mense is, kan ons ons gevoelens, ook ons geloofsgevoelens moeilik uiter. Om te praat oor jou geloof in Christus die Heiland is vir mense soms maar moeilik. Om iets te sê soos: Ek is bly in die Here! wil by sommiges maar bitter moeilik oor die tong kom.

En daarom is sang so'n wonderlike middel.

Wat jy nie kan sê nie, kan jy sing.

Vind jy dit moeilik om jou geloof te bely?

Leer dan jou geloofsbelydenis saam met jou broers en susters sing. Dan sal jy sien dit gaan sommer vanself. Dan kan jy jou geloof uitsing. Doen dit want jy het dit so nodig.

Daar in niks vertroostender as om jou verdriet met 'n bekende psalmreël onder woorde te bring.

Daar is niks heerliker as om jou blydskap uit te sing in 'n kerklike loflied.

Daar is niks bemoedigender as om met mekaar geestelike liedere te sing. Ek vrees dat ons van hierdie wonderlike middel nog veels te min gebruik maak.

As ons dink aan geestelike liedere dink ons teveel aan ons kerksang. Seker daar mag en daar moet gesing word.

Maar wat van by die huis?

Het ons deur die week ook nie vertroosting nodig nie?

Daar is soveel mooi liedere beskikbaar wat ons kan sing. Dit vra net 'n bietjie moeite om 'n paar bundels in hande te kry.

Dit gaan dan werklik nie daarom of ons al dan nie mooi stemme het nie.

Nee, in die loflied kan ons hart spreek.

En van wat uit die hart van sy kinders opkom wil die Here eer ontvang.

Dit is sy eer as Drieënige God om van sondige mense lof te ontvang.

3. Ons dankbaarheid word sigbaar in onderlinge diensbaarheid

Met hierdie opwekking om aan mekaar onderdanig te wees sluit Paulus af.

In hierdie verband is dit 'n ontsaglik belangrike vermaning.

Kyk, Paulus het die gemeente opgewek om met die Gess vervul te raak.

Maar binne die gemeente sal die een eerder hierdie vermaning aanvaar en hom inderdaad met die Gees laat vervul as die ander.

Die een sal makliker sy gesprek op die toonhoogte van die lof op God kan bring as die ander.

Die een het veel meer insig in waarom dit eintlik gaan in die kerk as die ander. Ons tempo van geestelike groei is by almal verskillend.

Dit hou natuurlik 'n gevaar in. Immers daardeur kan die eenheid van die gemeente maklik bedreig word.

Onthou hoe ek in die begin van die preek genoem het watter sondes in die gemeente van Efese voorgekom het. Diefstal, toorn, hoerery, drankmisbruik.

Het almal hulle daaraan skuldig gemaak?

Nee natuurlik nie.

Daar was binne die gemeente 'n meerderheid van mense wat met hul lewensheiliging erns gemaak het. Wat elke dag gebid het dat almal geesetlik sal groei na Jesus Christus toe.

Hoe moet hulle gevoel het oor hulle wat daarin agterbly?

Gefrustreer? Moedeloos? Bitter? Kwaad?

Enige reaksie is moontlik. En wat van die ouderlinge van Efese wat hulle so ingespan het om hierdie sondes aan te spreek?

Hoe moet hulle voel oor die mense wat na hulle gevoel nie reklame vir die gemeente is nie?

Die gevaar is groot dat hulle die ander mense oorlaat aan hulleself. Dat hulle begin sê: Ag hierdie gemeente, ek soek maar liewers 'n paar mense met wie ek heeltemal eenvoel.

Ek laat die gemeente hier maar agter.

Juis teen hulle sê Paulus: Nee! Wees mekaar onderdanig!

Onderdanig wees is in hierdie verband dat jy jou nie bo 'n ander stel nie, maar dat jy jou vir hom beskikbaar stel.

Omdat die gemeente nie die mense van jou keuse is nie, maar die keuse van Christus is jy bereid om jou in te span vir die ander wat so agterbly. Terwille van Christus.

Dit kan so maklik gebeur dat jy jou self bo 'n ander verhef. Maar as jy werklik vervul raak met die Heilige Gees, dan is jy bereid om mekaar onderdanig te wees.

Om mekaar op die sondes te bly aanspreek.

Om mekaar die voete te was, soos die Here Jesus eendag sy dissipels die voorbeeld gegee het.

Wees mekaar onderdanig in die vrees van God.

Die vrees van God. In hierdie vrees besef ons wat die gemeente eintlik is.

Dit is die bruid van Christus.

Definitief nog lank nie volmaak nie, maar tog sy bruid.

En daarom moet ons onsself vir mekaar beskikbaar hou.

As daar sondes is, help mekaar reg.

As daar ergernisse is, bid vir mekaar.

As daar blydskap is sing met mekaar.

Wat die Here is goed.

Die Naam van Jesus Christus moet geprys word.

Deur ons almal! Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)