In die kruis van Christus vind die gemeente sy eenheid

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2018-01-21
Teks: 
Efésiërs 2
Preek Inhoud: 

Voor diens: Ps 40: 1, 2, 5
Ps 65: 1, 4
Ps 65: 2, 3
Ps 122: 1, 2
Ps 46: 1, 4, 6
Lees: Efese 2
Teks: Efese 2: 14, 15

Brs en srs, gemeente van ons HJC!

Die Efesiërsbrief is 'n brief waarin die apostel Paulus wil werk aan die opbou van die gemeente. In die eerste plek natuurlik die opbou van die gemeente van Efese.

In die verband gee Paulus direk aan die begin van sy brief heel prinsipiële onderrig oor wat die gemeente eintlik is.

En dan hoor ons die wonderlikste dinge oor die kerk.

Die kerk is in Christus uitverkies!

Van voor die grondlegging van die wêreld het God die voorneme gehad om hulle te verlos!

En dit alles sodat die gemeente sou wees tot lof van die heerlikheid van God.

Is dit nie pragtig?

As jy dit alles lees dan besef jy: dit is 'n groot voorreg om aan die gemeente van Jesus Christus te mag behoort.

Maar, daar is ook 'n maar. Behalwe hierdie pragtige teorie oor die gemeente wat die bruid van Christus is, is daar ook nog 'n praktyk.

En daarvan lyk die prentjie minder fraai.

In die gemeente is daar nie altyd so 'n wonderlike eenheid nie. Nie in Efese nie.

Ook nie by ons hier in Kaapstad nie.

Oor die vraag waarnatoe ons as kerk moet beweeg is tamelike verskil van insig.

Sommige mense ervaar die gang van sake in die gemeente as hopeloos ouerwets en vreeslik konservatief.

Maar ander weer is nie gelukkig nie, omdat daar in die kerk voortdurend dinge verander.

Groot verskille dus. Nou is die verskille op sig moontlik nie so erg nie, maar die probleem is, verskille van insig word sommer gou 'n bron van konflik.

En 'n konflik is wel erg. Want by 'n konflik begin allerhande hgevoelens 'n rol te speel. Mense raak geirriteer. Mense raak kwaad vir mekaar. Daar tree allerhande ergenisse op.

En die einde van die verhaal is die gemeente as gemeente raak volstrek onvrugbaar.

Want om dan as gemeente te oorleef moet jy al jou energie in die onderlinge konflikte steek.

En dan kom van ons gesamentlike doel om as gemeente en as individue geheel en al tot lof van God te wees in elk geval niks meer tereg nie.

Blykbaar het die gemeente van Efese in so'n situasie gekom.

Paulus skryf vir hulle 'n brief, waarin hy hierdie sake aanspreek.

In ons teks vertel Paulus waarvandaan die eenheid van die gemeente moet kom.

Ons tema is:

In die kruis van Christus vind die gemeente sy eenheid

Want

  1. daar het Christus vrede gemaak
  2. daar word ons nuwe mense

In die inleiding het ek al genoem dat daar in 'n gemeente allerhande onderlinge verskille kan voorkom. Die verskille kan veroorsaak word deur 'n verskil in agtergrond.

Dit maak b. v. nogal verskil of jy in Suid Afrika of in Nederland grootgeword het.

Binne ons gemeente het ons ook tamelike verskille in opleiding wat mense geniet het. En daarmee gaan gewoonlik weer saam 'n verskil in belangstellinge wat jy het.

Hierdie soort verskille speel altyd 'n rol in die gemeente. Moontlik baie groter as wat ons bewus is.

Sulke verskille kan ook die bron word van allerhande konflikte in die gemeente.

Nou is die verskynsel glad nie nuut nie.

In die eerste gemeente in Jerusalem het hulle b. v. gesukkel met 'n taalverskil onder die lidmate. 'n Deel was Grieks-sprekend en 'n deel was Hebreeuws-sprekend.

Kort voor lank het die verskil in taal aanleiding gegee tot moeite in die gemeente. Daar ontstaan 'n gemor teenoor mekaar.

Om die probleem op te los is toe 'n sewetal ekstra ampsdraers ingeskakel.

In die gemeente van Efese het hulle ook van hierdie tipe probleme ondervind.

Die gemeente het namelik bestaan vir die helfte uit Jode en vir die helfte uit mense afkomstig uit die heidendom.

Laat ons nie gering dink oor die moeite wat dit gegee het nie.

Daar was 'n muur van onbegrip teenoor mekaar.

En hierdie muur het in die gemeente as 'n skeiding gewerk.

In ons teks praat Paulus van vyandskap. Dit moet ons nie verstaan as haatgevoelens in persoonlike sin nie, maar eerder in die vorm van apart gestel wees.

So word dit ook gebruik b. v. in die moederbelofte: Ek sal vyandskap stel tussen jou en die slang, tussen jou saad en haar saad.

Hierdie vyandskap is 'n skerp skeiding. Die wêreld is verdeel in twee kampe. En daartussen loop die muur van vyandskap.

So het die volk Israel as God se eie volk vir eeuelank temidde van die heidene gelewe.

Geskei deur middel van 'n deur God gestelde vyandskap.

Ons is die volk van God. Die res, almal wat nie Jood is nie is heidene.

Wel so 'n tipe skeiding word later aan 'n tweede natuur, wat heel gerieflik voel.

Wat nou gebeur is dat Jode wat deur 'n proses van eeue geleer het om so te voel, nou skielik in een gemeente moet saamlewe met nie-Jode.

En dit het daar in Efese groot probleme gegee.

Want dit het net nie gewerk nie.

Die Joodse lidmate het streng die sabbatte onderhou. Maar vir die ander christene was die sabbat maar een van die dae van die week.

Die Jode het ver weg gebly van varkvleis en in elk geval baie streng reëls gehandhaaf wat hul gebruik van voedsel betref.

Die ander christene het onbekommerd net geëet wat hulle in hande kon kry.

En dan het daar nog tientalle vrae bygekom waarop die een heel ander antwoorde gegee het as die ander.

U kan hopelik voorstel dat dit dan maar moeilik is om in een gemeente saam te lewe.

En nou moet Paulus vir hulle skryf. Hy weet van al die spanning wat hulle met mekaar het. In sy brief moet hy baie van hulle probleme heel konkreet aan die orde stel.

Hy moet selfs 'n paar skerp vermanings aan hulle rig.

Maar tog begin hy nie daarmee nie.

Hy gaan eers 'n fondament lê voordat hy op allerhande praktiese sake ingaan.

Ons kan van hierdie aanpak leer, gemeente. As ons in die gemeente dinge sien wat nie reg is nie, dan moet ons nie onmiddellik begin hardloop om by allerhande persone allerhande sake reg te stel nie.

Nee, dan moet daar eers opbouwerk gedoen word.

As jy iets wil opbou sal jy die tyd moet neem om 'n fondament te lê. Anders stort enig bouwerk sommer weer inmekaar.

Noudat Paulus oor die groot spanning in die gemeente van Efese wil skryf, begin hy eers oor die fondament wat daar moet wees. Die fondament onder die gemeente, onder enige gemeente is, dat die christelike lewe 'n lewe van genade is.

Om te vertel hoe dit werk spreek hy sowel die Jode as die heidene aan.

Eers die heidene. In vers 11 -13.

Vir hulle sê hy: Kyk, julle was ver weg gewees van God. Julle het geen beloftes gehad, dus ook geen hoop nie. Maar nou het julle naby gekom deur die bloed van Christus.

Deur die bloed van Christus is julle hier waar julle nou is.

En julle Jode, julle was wel naby, maar julle het agter 'n muur geleef. Julle hele lewe was ingekapsel deur gebooie wat in insettinge bstaan. Daarmee bedoel Paulus die hele Mosaiese wetgewing wat vir 'n groot deel gehandel het oor seremonies wat die Jode as volk van God apart moes hou van die wêreld. Daardeur is die eerder genoemde 'vyandskap', ook wel antitese genoem gehandhaaf.

Maar nou het Jesus Christus gekom. Hy het sy bloed gestort om mense te red.

Ook julle Jode! Deur die bloed van Christus is julle waar julle nou is.

Hoor u, hoe Paulus die Jode en die nie-Jode op presies dieselfde manier aanspreek?

Deur die bloed van Christus is julle daar waar julle is.

By sy kruis het julle mekaar gevind.

En daarom is daar nie meer verskil tussen Jode en nie-Jode nie.

Albei moet leef van die offer van Christus aan die kruis.

In Christus is julle een!

Want Hy is ons vrede!

Die ou muur van vyandskap wat Jode en nie Jode uit mekaar gehou het is nie meer daar nie. Dit is in Christus opgehef.

Die ou skeiding was die wet met al sy insettinge.

Daar is nou 'n nuwe skeiding wat nie meer tussen Jood en nie-Jood loop nie. Maar die skeiding loop in die vervolg tussen hulle wat in Christus is en hulle wat nie in Christus is nie.

Maar julle as gemeente is saam in Christus. Julle leef almal van die bloed van die kruis.

En daarom is julle een in Christus.

Brs en srs, dit is nou gemeenteopbou.

Die gemeente van Christus met al hul onderlinge verskille wat daar mag wees word teruggebring na die kruis van Christus.

Daar aan die voet van die kruis moet ons almal in dieselfde rigting kyk. Ons moet opkyk na ons Here Jesus Christus wat aan die kruis sy lewe vir ons sondes gegee het.

Daar is ons almal dieselfde.

Daar leer ons almal dieselfde les.

Hierdie: 'n Mens kan slegs van genade lewe.

By die kruis van Christus is nie plek vir enige vorm van hoogmoed nie.

Daar pas slegs ootmoed.

In die ootmoed kan ons hande vat en mekaar vind.

Want by die kruis word ons ander mense.

Daaroor in punt twee:

By die kruis word ons nuwe mense

Christus het aan die kruis vrede gemaak. Dit klink vir ons baie positief. Ons hou van so'n boodskap.

Hy het die middelmuur van skeiding afgebreek.

Hoe klink dit? Hou ons eintlik wel daarvan?

Kyk, Jode verkies gewoonlik maar om Jode te bly.

En nie-Jode het geen behoefte om baie met Jode om te gaan nie.

Hulle gaan maar liewers om met hul soortgenote.

Immers so gaan dit tog in die lewe. Ook in 'n gemeente.

Daarin soek jy veral kontak met jou soortgenote.

B.V. Mense met 'n vergelykbare intellektuele vlak.

Of: Progressiewe mense soek mekaar se geselskap.

Em konserwatief ingesteldes orienteer ook op mekaar.

Jong mense praat net met jong mense want die ou mense is mos nie interessant nie.

En jy gesels nou maar die lekkerste met gelykgesindes.

En so vorm ons met mekaar allerhande clubs in die gemeente.

Maar vir die eenheid van die gemeente is dit baie gevaarlik.

Om vriende binne die gemeente te maak, daarmee is niks verkeerd nie. Maar kyk in die kerk tog asseblief verder as jou naaste vriendekring.

Want anders is ons binne die gemeente sommer weer besig met allerhande muurtjies en heininkies te bou.

Elkeen is gelukkig agter sy eie muurtjie en het in die beslotenheid van sy club heel wat te sê oor die ander groep oor die heining.

Nou sou ek kon sê: Pasop daar julle met mekaar!

Breek gou die muurtjies weer af wat julle gebou het.

Gaan luister ook ander kant die heining.

Maar liewers sê ek met Paulus: Brs en srs, leef tog in Christus.

Dan is daar nie sulke mure van skeiding nie.

Julle het tog almal deel aan dieselfde heil.

Vir elkeen van julle is dieselfde versoening bewerk.

Want Hy het wat twee was, een gemaak.

Tot 'n nuwe mens, sê ons teks.

Julle is 'n nuwe skepping in Jesus Christus.

Dit kan nie anders beteken as dat julle anders geword het. Julle laat julle nie meer lei net deur julle gevoel nie of net deur jul eie begeertes nie, maar julle het die werk van Christus op die oog.

Hy soek die eenheid van die gemeente.

'n Eenheid wat daarin gevind word dat ons almal saam tot lof van God is.

As ons dit altyd voor oë staan dan word ons 'n vrugbare gemeente.

Dan soek ons nie elkeen meer ons eie sin en mening nie, maar ons vra ons voortdurend af; Hoe kan ons bydra aan die lof op Jesus Christus wat uit die gemeente gehoor moet word?

As dit altyd ons eerste en belangrikste oorweging is: Hoe kry Christus lof vanuit die gemeente, dan is al ons probleme in 'n handomdraai opgelos.

Maar daarvoor is dit wel nodig dat ons almal ons tot nuwe mense moet laat maak by die kruis van Christus.

Dan sal ons almal op pad moet gaan.

Na die kruis van Christus toe.

Daar by die kruis kan jy leer dat jy net van genade kan lewe.

En ook jou broer moet jy dan van die genade laat lewe.

Ek weet dit is moeilik. Veral as jyself 'n groot inspanning wil lewer in die kerk. As jy graag wil dat dinge moet verander en ander mense net nie wil saamkom nie. As jy jou uiterste bes doen om jou deel in die verantwoordelikhede van kerkwees wil dra, dan vererg jy jou so dikwels aan allerhande slapgattery in die gemeente.

Pasop dat hierdie ergernis nie sommer verwydering van mekaar gee nie.

Want dan word die gemeenskap opgebreek.

Dus almal terug na die kruis.

Jy yweraar wat jou vererg aan jou slap broer.

Onthou weer dit is genade waarvan jy moet lewe.

Gaan jy ook terug na die kruis, jy broer, wat alles maar gemaklik neem in die kerk. Wat meer aan jouself en jou eie gerief dink as aan die sake van God se Koninkryk.

Gaan terug na die kruis van Christus.

Ontdek dat dit 'n magtige vreugde is om daar aan die voet van die kruis broers en susters raak te loop wat 'n kostelike eenheid daarin vind om saam tot lof en heerlikheid van God te wees.

Amen.

29/8/93

Liturgie: 

(kyk in preek)