Redding uit genade laat 'n mens lewe

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2017-12-20
Teks: 
Efésiërs 2
Preek Inhoud: 

Voor diens: Ps 66: 1, 2, 7, 8
Ps 96: 1, 2, 3
Ps 96: 4, 5
Ps 91: 1, 5, 7, 8
Ps 32: 1, 2, 3a-6a
Lees: Efese 2: 1-10
Teks: Efese 2: 8-10

Brs en srs,

Die kerkraad het hierdie jaar vir die huisbesoeke as tema gekies "lewe van genade".

As gereformeerde kerk glo ons dat dit die mees sentrale boodskap van die Bybel is. Sola Gratia. Deur genade alleen word jy gered.

'n Gelowige moet sy lewe heeltemal bou op die genade van God.

Hy moet leer leef van genade.

Maar hoe eenvoudig daardie kernboodskap ook is, vir 'n mens is dit die moeilikste wat daar is.

Daarom sien ons by enige vorm van dwaalleer dat juis hierdie punt 'n verskuiwing ondergaan. Genade alleen is dan nie meer genoeg nie. Daar moet iets anders by kom. En dan vul elke ketter maar sy eie spesialiteit in wat hy dink belangrik is.

Maar laat ons nie meen dat die leerstuk 'alleen uit genade' slegs as leerstuk deur kettery bedreig word nie.

Nee die grootste probleem is dat hierdie boodskap in ons eie lewe, in ons eie hart soveel verset ontmoet.

Want eintlik wil ons dit nie. Eintlik kan ons dit nie.

Immers, ons weet wel, die genade van God is altyd in ruim mate beskikbaar. As jy daarvan kan leef kom jy nooit tekort nie.

Jy kan alleen maar dankbaar en bly wees.

So kan dit wees en behoort dit te wees in die lewe van 'n gelowige. Maar in die praktyk is dit dikwels anders. Ons is nie altyd dankbaar en bly nie.

Waarom nie?

Ek dink hierom. Die meeste van ons dankbaarheid en blydskap bou ons steeds weer op ons omstandighede.

B.v. Dit gaan goed in die lewe. Dit maak ons dankbaar en bly.

Maar dan gebeur daar skielik verdrietige dinge. Weg is ons blydskap.

Dan kan daar onsekerhede wees oor die toekoms wat 'n mens bevrees maak. Weg is ons dankbaarheid.

Dit gebeur elke keer weer met ons almal. En daarom is dit vir ons almal van lewensbelang om elke sondag in die kerk terug te keer na die basis van ons lewe. Die evangelie.

Die evangelie dat ons mag lewe van genade alleen.

Immers dit is ons ware rykdom wat niemand van ons kan afvat nie.

Ons tema vir die preek van vanoggend:

Redding uit genade laat 'n mens lewe

  1. Dit maak ons dankbaar
  2. Dit maak ons aktief

'sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus'

So rol die groot woorde van vers 7 uit Efese 2 oor ons koppe.

'die uitnemende rykdom van sy genade'--indrukwekkende terme, maar wat beteken dit nou vir ons?

Wat kan 'n mens hom daarby voorstel as hy dit lees?

Ek dink nie dat 'n mens enige tyd van die dag in staat is om hom die inhoud van sulke woorde enigsins reëel te kan voorstel nie. En dan rol sulke woorde inderdaad sommer oor ons koppe.

'die uitnemende rykdom van sy genade'

Wat is so ryk aan sy genade?

Wat is so groot daaraan dat dit al die dinge van die lewe in die skaduwee kan stel?

Kom ons kyk vinnig nog 'n paar verse terug.

Paulus skryf hier: Ons was dood deur die misdade.

Maar: Ons is lewend gemaak saam met Christus. En wat is die oorsaak daarvan?

Dit is die groot liefde van God wat ons nie in die dood wou laat bly nie, maar wat ons opgewek het om vir ons die lewe te gee.

Gemeente dit is nog steeds die groot saak waaroor dit in die geloof en in die kerk gaan.

God het vir julle sy genade betoon deur julle te red. Deur vir julle die lewe te gee!

En dit is nie 'n teorie nie, maar dit is 'n werklikheid!

Maar onthou, dit is nooit 'n werklikheid wat soos vanself jou eiendom bly nie.

Immers, genade is 'n geskenk. Jy kan dit nie koop nie.

Kyk, as jy iets koop, dan het jy dit. Dit is jou eiendom. Jou vaste besit.

Maar die genade van God is nie te koop nie. Daarom kan jy dit ook nooit as 'n vaste besit hê nie. Jy moet dit steeds weer ontvang. Elke dag opnuut.

Ek sou amper sê: Elke dag moet 'n mens weer deur die kostelike drieslag gaan van: ellende, verlossing en dankbaarheid.

Jy moet jou eie ellende besef.

Jy moet die verlossing in Christus in geloof aangryp.

En dan raak jy vanself dankbaar.

'die uitnemende rykdom van sy genade'

Jy sien dit slegs as jy bewus stilstaan by jou eie volstrekte verwerplikheid voor God. En as jy om watter rede ook al daardie weg nie wil gaan nie, dan sal jy nooit weet wat genade is nie.

Ook al hoor jy honderd preke.

Ook al sit jy jou lewe lank in die kerk.

Ui genade is julle gered, brs en srs!

Deur niks anders nie.

En daar is slegs een manier waarop jy deel kry aan hierdie genade. Dit is deur die woord van genade te glo.

Alles wat God vir die mens het om te gee, Hy wil dit maar net gee. So gou jy op 'n ander manier daarop aanspraak wil maak klop jy tevergeefs aan.

Jy kan daar maar net kom en gratis God se geskenk vir die mens afhaal. Geloof alleen.

En selfs die geloof is nie jou eie verdienste nie.

Geloof is slegs die ja-woord op God se belofte. Nie meer nie, en ook nie minder nie.

Dit is glad nie iets om jou op te beroem nie. Om te kan sê Maar ek het dan tog maar geglo.

Ag nee, selfs geloof is maar 'n geskenk. Dit word vir jou gegee om te glo. Soos ons teks sê: dit is 'n gawe van God.

Omdat geloof 'n saak van liefde tot God is, kan ons dit goed met 'n beeld verduidelik.

Die geloof van 'n mens is soos die ja-woord van die bruid op die vraag van die bruidegom. Met daardie ja-woord kan sy nie sy liefde verdien nie, die liefde was klaar daar. Dit is mos die rede dat hy haar vra.

En tog is die ja-woord in die verhouding onmisbaar. Want liefde moet beantwoord word. Anders kan dit nie voortbestaan nie.

Die ja-woord is nodig na die aard van die liefde.

Om met die Dordse Leerreëls te spreek: Alles is in God se eie hande, en tog is ons nie stokke en blokke nie.

Want in die liefde kan jy met stokke en blokke niks begin nie.

Ons word deur God sover gebring dat ons self antwoord begin gee op sy belofte.

God is die Eerste en die Laaste.

Alles kom van Bo.

Nie uit julle self nie, maar dit is 'n gawe van God.

Waarom benadruk Paulus tog so geweldig dat werklik alles uit God is?

Vers 9 gee die antwoord.

'sodat niemand mag roem nie. '

Kyk dit is waaroor dit gaan. Indien ons as mense ook maar iets aan ons redding moes toedoen, sou ons onmiddellik alle aandag daarvoor begin vra.

Kyk my, so gelowig is ek nou!

Kyk my, watter tekens ek kan doen!

Kyk my, hoe dikwels ek in die bybel lees!

Ongelukkig is ons maar so as mense. En die gevolg daaravn is dat ons al hoe meer God die eer begin onthou.

Ons roem dan in onsself, in ons eie werke, in ons eie geloof, in ons eie gehoorsaamheid.

Maar God kry nie meer die eer wat Hom toekom nie.

Dit is dan ook die agtergrond van ons geloof dat alles genade is. Waar alles genade is kan daar uitsluitlik geroem word in God en in Jesus Christus. En verder in niks of niemand anders nie. En daarvoor is ons nou op die wêreld, om die roem van God te laat hoor.

Dit kan jy alleen doen wanneer jy heel nadruklik begin om dankbaar te wees.

En om vervolgens die dankbaarheid uit te spreek in jou dankgebede. Dan ontvang God die eer.

Jy dank Hom vir Sy genade. En as jy dit doen vra jy tegelyk om nuwe genade. En jy ontvang weer. So kan 'n mens groei in die lewe van genade.

Maar as jy nie dankbaar is vir genade wat jy ontvang nie, dan word dit van jou afgevat. Dan raak jy steeds minder dankbaar.

Jou ontvanklikheid vir 'n boodskap van genade neem dan ook steeds meer af. Onthou gemeente dit is die wet van die Koninkryk van die hemele: Vir hom wat het sal meer gegee word, maar vir hom wat nie het nie sal afgeneem word wat hy het.

Genade ontvang jy slegs op gebed. Hoe meer jy vra hoe meer behoefte jy aan nog genade het.

Hoe minder jy meen nodig te hê, hoe minder jy dit vra, hoe minder jy kry.

Dus gemeente, bly die werk van die Here goed sien.

Besef jou eie sondigheid. En dink dan aan die werk van die Here Jesus Christus vir jou. Staan stil by die groot liefde van God wat daar agter werk. En laat jou dan vervul met gevoelens van dankbaarheid. God is die God van alle genade. En dan kan elkeen van ons verder.

Elkeen het sy eie probleme en sorge. Dit kan mens soms in die nag uit die slaap hou. Maar onthou watter groot genade die Here julle dag vir dag bewys, en dan weet jy weer daar is 'n loflied om te sing. God is groot en goed. Hy dra ons deur die lewe.

2 dit maak ons aktief.

Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus.

Hier gaan dit oor ons, gemeente. En dan nie in die algemeen as skepsels van God nie. Immers alle mense is skepsels van God.

Maar hier word gesê: ons as gelowiges is in Jesus Christus geskape.

Let veral op die woord skepping hier.

Dit is nie ons werk nie. Skepping is God se eie werk. Hy maak iets wat nie daar was nie.

Sy skeppingswerk is veel meer as vorming van bestaande materiale. God kan iets maak uit niets.

Hoor u hoe ook hier die boodskap van alles is genade baie naby is?

God maak dus nuwe skepsels in Jesus Christus.

En met daardie skepsels het Hy 'n spesiale bedoeling.

Hy het werk vir daardie nuwe skepsels van Hom.

Hy het die werk al klaarlê. Goeie werke moet hulle gaan doen.

Hy het klaar die werke voorberei. Ons moet net daarin wandel.

Dit is 'n wonderlike gedagte.

Ook hier kan jy alleen maar ontvang. Wie kan hier nog praat van verdienstelikheid van goeie werke?

Dit is mos glad nie waaroor dit gaan nie.

Jy hoef nie op soek te gaan na geleenthede om goeie werke te doen nie.

God het hulle klaar voorberei. Hy lê die geleenthede netso voor jou neer. Jy kan vir hulle sommer optel en begin.

Dit doen jy as jy so 'n nuwe skepsel is.

Dan kan jy nie anders nie.

Jy wil ook nie anders nie.

Want jy is mos 'n nuwe skepping.

Jy is in Christus Jesus geskape. En daarom is daar maar een ding vir jou belangrik, dit is om te doen wat die Here Jesus van jou vra.

Jy wil nie anders nie.

Dit is eintlik dieselfde as wat op ander plekke na die werk van die Heilige Gees verwys word. God gee Sy Heilige Gees vir jou. Dit is sy groot genadegeskenk.

En daardie Gees bring jou in beweging om die werke te doen wat God van jou vra. Die heilige Gees maak jou vrugbaar om as kind van God te kan lewe.

Dit is die groot belofte van die Verbond.

Dit is tegelyk die groot rykdom van die Verbond.

In hierdie verband wil ons nog wys op 'n misverstand wat by baie mense leef as dit gaan oor die Verbond en hoe om daarin te leef.

Jy kry mense wat so redeneer.

In die Verbond is 'n belofte, maar, daar is ook 'n eis in die verbond. En dan word die eis so benadruk dat dit wil voorkom of daarmee die belofte eintlik 'n voorwaardelike belofte word.

Dan word ges ê: Seker daar is 'n belofte, maar daar is ook 'n eis. En die belofte verval as jy nie aan die eis voldoen nie.

Wel, dit is nou die misverstand wat ek bedoel.

Want so word tog stiekem die hele leer van verdienstelikheid van goeie werke weer ingehaal. En die geloof in die evangelie uit genade alleen word eenkant geskuif.

En dit mag nooit gebeur nie.

Kyk die Verbond is so ryk en die belofte so groot, dat daarby die eis heeltemal ingesluit is.

Goid belowe jou in die Verbond dat jy na die eis van die verbond sal kan lewe.

God belowe jou om van jou 'n nuwe mens te maak.

God belowe jou om sy Heilige Gees so in jou te laat werk dat jy vol word van vrugte van Sy Gees. Vrugte soos: geloof, liefde, vrede, vergewingsgesindheid, geduld, getrouheid ens.

Dit is nie eise wat jy moet voldoen nie, maar dit is vrugte wat vir jou gegee word. As jy maar net glo en daarom bid.

As jy maar net pleit op die belofte wat in die opsig aan jou gegee is. Dan word jy so!

Dan leef jy werklik van genade!

Dan verdwyn dorheid en doodsheid uit jou lewe.

Jou lewe begin opbloei soos 'n woestynland wat skielik met blomme bedek word.

Gemeente, as elkeen van ons dit sou begryp, en dit in praktyk sou bring, wat sou dit 'n vreugde wees!

Ons hoef maar net te aanvaar wat die Here vir ons gee!

Die werke lê klaar. God het hulle voorberei.

Wandel daar net in.

Wandel is 'n pragtige woord hier.

Wandel is so'n ontspanne besigheid.

Ons hoef nie te hardloop nie. Ons hoef mekaar nie op te jaag nie. Ons moet net glo in die genade. Dan gaan ons daarin wandel.

En dan wandel ons saam as gemeente. Ons kan ook mekaar aanspoor as iemand agter bly. Dan mag ons mekaar weer wys op die genade.

Die heerlike genade wat vir elkeen van ons as 'n geskenk belowe word. Al wat ons hoef te doen is om dit aan te neem met 'n dankbare hart.

Dan is ons almal sommer ryk mense.

Nogmaals gemeente, om van genade alleen te lewe is nie so eenvoudig soos dit lyk nie. Daar is in ons almal verset teen so'n boodskap. Maar dit is die enigste boodskap wat werklik ryk kan maak.

Ons beleef tye waarin ons almal bekommerd is oor die toekoms.

Hoe sal dit gaan met ons werk?

Hoe moet dit met die verpligtinge wat elkeen op hom geneem het?

Is daar nog 'n lewe in vrede in die toekoms moontlik?

Daardie vrae pla en maak ons soms maar krapperig en gespanne.

Maar dan roep die Here ons om terug te sit en weer te dink en te glo: Ek die Here is daar vir jou. Ek het jou geskape in Jesus Christus. My genade is vir jou genoeg. Meer het jy tenslotte nie nodig nie. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)