Redding deur Christus is 'n wonder van genade

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2018-01-20
Teks: 
Efésiërs 2
Preek Inhoud: 

Voor diens: Psalm 4
Ps 9: 1, 2, 3
Ps 9: 7-10
Skb 24: 1-3
Ps 90: 9 Doop Lieke Hoving
Ps 124: 1-4
Lees: Efese 1: 15-2: 10
Teks: Efese 2: 1-5

Brs en srs, gel gem van onse HJC !

Sending is 'n moeilike taak. Van die opdragte wat Christus sy kerk gegee het, is hierdie een die swaarste. So swaar dat ons dikwels maar liewers ander gebiede kies om ons inspannings in die Koninkryk van Christus te lewer.

Immers om die evangelie aan nie-gelowiges te verkondig is nie net moeilik nie, die resultate van die moeite is dikwels ook maar bitter maer. As jy sien wat deur die jare aan geld en aan mannekrag in sending- en evangelisasie werk gesteek is, lyk die opbrings daarvan in uitbreiding van die getal gelowiges maar bitter gering.

En tog gesien vanuit die Bybel self is hierdie teleurstellende oes op sendingwerk geen wonder nie. Dit moet verwag word.

Want wat is 'n wonder?

'n Wonder is 'n gebeurtenis wat plaasvind teen die verwagting in. 'n Wonder gebeur nie gereeld nie. Slegs nou en dan.

Wel, die Bybel leer vir ons dat 'n werklike bekering tot Jesus Christus 'n wonder is. 'n Wonder van genade.

'n Wonder wat maar net nou en dan plaasvind.

Hierdie wonders vind plaas op die sendingveld, waar ongelowiges tot geloof kom.

Hierdie wonder vind ook plaas in die kerk waar lidmate van die kerk wat Jesus Christus lankal ken, steeds weer tot geloof moet kom.

Ons tema vir vanoggend se preek is:

Redding deur Christus is 'n wonder van genade

  1. dooies word lewendgemaak
  2. gebondenes word vrygemaak

Gemeente, ons teks van vanoggend sny 'n fundamentele bybelse tema aan.

Hierdie: 'n Mens wat sonder Jesus Christus leef is dood.

Sonder reddende ingrype van God in 'n menselewe is daar nie lewe nie.

Vir ons, as mense wat bekend is met die boodskap van die Bybel is dit 'n vertroude beeld. Vir ons klink dit dan ook nie so heel besonder nie.

Maar Paulus sê dit reguit vir die Efesiërs: Julle was dood!

Eintlik is dit 'n vreeslik skokkende boodskap.

Sê dit maar eens 'n slag vir 'n bekende van jou wat nie in God glo nie: Jy is dood! Jy dink jy lewe, maar ongelukkig vergis jy jou. Jy is dood.

Hy sal jou vermoedelik netso uitlag.

Ook vir ons self is dit as ons 'n bietjie daaroor dink maar 'n moeilik verteerbare boodskap.

Al die ongelowiges dooies?

Maar daar is soveel mense, vriendelike mense, mense wat werklik die lewe waardeer en geniet, van wie ek ook kan hou, moet ek ook van hulle glo, hulle is dood?

En wat van klein kinders wat nog maar pas gebore is?

Springlewend, nog niks verkeerd gedoen nie.

Moet ek ook van sulke klein kinders sê, dood, tensy hulle lewendgemaak word deur Jesus Christus?

Jaseker sê die Bybel. Van nature 'n kind van die toorn.

'n Kind gebore om onder die toorn van God te vergaan, tensy die kind opnuut gebore word.

Natuurlik is dit vir 'n mens as hy dit op hom laat inwerk moeilik te aanvaar. Sou hierdie verdoemende oordeel ook geld vir onskuldige kindertjies?

Enige sekte sit vanuit hierdie aarseling wat ons wel kan saamvoel, sy aanval op die leer van die kerk in. En dan word al gou gesê, die mens is by sy geboorte nog reg, enige sonde kom eers later in. Daarvoor moet jy minstens volwasse wees en verantwoordelikheid kan dra.

Tog het die kerk vanaf die begin van haar bestaan die bybelse visie dat die mens vanaf sy geboorte of met die woorde van ons teks, van nature 'n kind van God se toorn is gehandhaaf. Die kind moet lewend gemaak word deur God self.

God Self moet die lewensreddende aksie onderneem en daarom moet die kind as kind al gedoop word.

Die kinderdoop is dan ook die treffendste getuienis van die kerk van alle tye: daar is geen lewe buite God om. Sonder die redding deur Jesus Christus is jy dood.

So spreek Paulus die ontvangers van hierdie Efesiërsbrief aan.

Julle was dood deur die misdade en sondes.

As iemand, voordat hulle tot geloof gekom het aan hulle sou gevra het: Leef julle eintlik wel? , sou hulle dit as 'n stomme vraag afgemaak het.

Hoe kan jy soiets vra? Natuurlik leef ons! Jy sien mos!

Ons geniet mos die lewe. Dan is dit tog duidelik?

En dan sê die Bybel tot ons verbasing: Nee. Julle dink julle lewe, maar julle is dood.

Sien u hier hoe totaal anders die Bybel na dinge kyk?

Wat vir 'n mens as 'n heel vanselfsprekende saak kan voorkom is vir die Bybel dikwels totaal andersom.

As mense b. v. sê: Onmoontlik, dan kan God sê: Moontlik.

As mense sê: Niks mee verkeerd, sê God: 'n Misdaad!

As mense dink: dit is wys, sê God: dit is dwaas.

As mense sê: dit is dwaas, sê God: Mis, dit is nou juis wys.

Die boodskap van die bybel is altyd anders.

Geloof in Christus maak jou dan ook heeltemal anders. Daarom word daarvoor die woord bekering gebruik. Bekering beteken, jy moet jou omkeer.

Jy het eers soontoe > geloop. Nou moet jy soontoe <.

Net die ander kant as wat jy sonder die woord van God gedink het. Dus bekering beteken nie so'n bietjie bystuur nie.

Nee, bekering gee 'n totaal ander rigting aan jou lewe.

Die bekering maak die verskil tussen skyn en werklikheid.

Dit is nodig om dit goed te besef. Van onsself gaan ons namelik sommer weer af op die skyn.

Die skyn sê: ek leef, ek geniet.

Maar die harde werklikheid is dit: jy is dood. Dood deur die sonde.

Paulus skryf hier: julle het gewandel in jul sonde en misdade.

Die woord wandel roep by ons 'n beeld op van jou rustig van die een plek na die ander begeef. Jy wandel. Jy kyk hier, jy kyk daar. Jy geniet van dit wat jy op jou pad ontmoet.

Sonder dat jy nadruklik na een of ander doel op pad is.

Wel dit is nou kenmerkend vir 'n lewe sonder God.

Jy wandel en wel in die sonde. Jy begeef jou van die een sonde na die ander. Asof niks verkeerd is nie.

Paulus noem dit hier: jy wandel volgens die loop van hierdie wêreld. Hy bedoel daarmee dit pas heeltemal by hierdie wêreld.

In hierdie wêreld is 'n lewe in die sonde 'n heel vanselfsprekende saak.

Sonde moet ons nie aanwys by hulle wat ons misdadigers noem nie. Nee, sonde is by almal wat hulle nie deur Christus laat red nie. Hulle is dood in hul misdade.

Want hulle laat hulle lei deur die owerste van die mag van die lug.

Hiermee word die Satan bedoel. Die teëstander van God wat daarop uit is om die lewe te laat vasloop. Hy is die heer van die dood. Die vors van die duisternis.

Jy hoef werklik nie 'n duiswelaanbidder te wees om jou tog volkome uit te lewer aan die mag van die Satan nie.

Want dit is maar die loop van hierdie wêreld. As jy nie deur Christus verlos word nie, dan is jy van nature onder die magsbereik van die Satan.

Jy is 'n kind van die ongehoorsaamheid, dit beteken jy leef in die ongehoorsaamheid. Jy is nie 'n keer ongehoorsaam nie, jy struikel nie nou en dan in 'n sonde nie, maar jy leef daarin. Dit is die gees waaruit jy leef.

En die ellendigste is, jy besef dit self glad nie.

Jy meen jy leef.

Jy dink jy is vry.

Maar inmiddels is jy dood en 'n slaaf van die Satan.

En hoe sal jy daaruit gered kan word?

Van jou uit is daar dan namelik geen enkele toegang na God nie.

Iemand wat besef, hy is in nood, hy soek nog hulp. Maar as jy nie die nood besef nie, leef jy maar rustig voort.

En jy is onbereikbaar.

Jy is namelik dood.

En dus onbereikbaar.

Laat ons die beeld wat Paulus hier gebruik nog skerper stel.

Jy is 'n lyk.

Teen 'n lyk kan jy praat wat jy wil. Verwag geen reaksie.

Jy kan hom skud wat jy wil, maar jy kry geen beweging.

Wel, so is die mens wat God nog nie gered het nie.

Vanuit homself is daar geen toegang oop na God nie.

En daarom praat Paulus hier van 'n groot wonder, gemeente.

'n Wonder van genade.

Maar God het julle lewend gemaak!

God het lyke aangespreek, en hulle het geluister en in beweging gekom. So groot is die wonder van genade.

Die wonder het God tot stand gebring by julle.

En hy doen dit ook by ander mense.

Ons ervaring by sending en evangelisasie werk is dat dit dikwels so teleurstellend en frustrerend is. Mense is so moeilik te bereik met die evangelie.

Veral die mense met wie dit na die mens gesproke goed gaan.

Dan ontdek jy dat daar vanuit die mens nie 'n oop toegang na God is nie. Mense dink almal hulle kan sonder God ook wel klaarkom in die lewe.

En omdat ons van onsself dikwels ook wel so voel is ons geneig om ons maar nie teveel in te span om ander mense met die evangelie te bereik nie. Dit werk tog nie.

Maar dan roep Paulus ons toe. Mense julle is reg daar! Dit werk inderdaad nie so nie. Om 'n dooie tot lewe te roep gaan jy nie regkry nie, al kan jy hoe ook argumenteer.

Maar dit is nie waaroor dit gaan nie. God doen wonders van lewensverwekking in die wêreld en Hy roep jou daarby om namens Hom die woord te voer.

Dit is uit grenselose liefde dat Hy jou nie in die dood gelaat het nie, maar vir jou die lewe gegee het.

En daarom moet jy glo dat wat die Bybel sê eenvoudig waar is: mense sonder God is dood.

Ek vrees dat veel gebrek aan geesdrif vir evangelisasiewerk voortkom uit ons eie gebrek aan oortuiging dat mense sonder God werklik dood is.

As dit meer tot ons sou deurdring dan sou ons ongetwyfeld harder loop om mense te red. Dus hier is by onsself bekering nodig, gemeente.

2. gebondenes word vrygemaak

Dit is opvallend dat Paulus in vers 3 van ons teks oorgaan van die tweede na die eerste persoon. Eers praat hy van julle, maar in vers 3 skielik van ons.

Julle was dood, maar julle is lewendgemaak.

Maar dan sluit Paulus skielik ook homself in. Ons ook. Met ons was dit maar dieselfde.

Wie is die 'ons'?

Wel, daarmee bedoel Paulus homself maar met hom ook al die Jode.

Ek het eerder vertel dat die eerste christelike gemeentes vir 'n deel uit Joodse christene en vir 'n deel uit christene van heidense afkoms bestaan het.

Ons daarmee bedoel Paulus dus die hele Joodse volk waaraan hy self ook behoort. Daarvan sê hy dit: ons het almal vroeër gewandel in die begeerlikhede van die vlees. Ook ons was kinders van die toorn net soos die ander.

Wat bedoel Paulus?

Het die Jode sonder God geleef? Nee dit nie.

Het die Jode sonder wet van God probeer klaarkom? Ook nie.

Het hulle hulself opofferings getroos in diens van God? O ja, beslis.

En tog, sê Paulus as hy terugkyk in sy lewe: Vroeër het ons almal gewandel in die begeerlikhede van ons vlees.

Ons vlees. Die Nuwe Vertaling gee hier: Ons is deur ons sondige begeertes oorheers.

Vlees word daar dus vertaal met sondige begeertes. Dit is tereg.

Daarmee word namelik 'n vergissing voorkom wat in die geskiedenis dikwels gemaak is. Namelik dat mense dink dat as Paulus oor 'vlees' praat dat hy dan die liggaam van die mens bedoel. En dan word dit spesifiek in verband gebring met liggaamlike begeertes. Met voedsel en met seksualiteit dus.

En as daar dan in die Bybel staan dat ons teen ons vlees moet stry dan is gedink dan moet ons dus ons onthou van seksuele uitings en soveel moontlik ook van voedsel. Jy mag voedsel wel gebruik maar dit nie geniet nie. Jy mag dit net gebruik om in lewe te bly. Idem met seksualiteit in die huwelik. Eintlik moet jy dit probeer uitsny, dan is jy 'n goeie gelowige. En as daar sprake is van seksuele omgang in die huwelik dan is dit slegs ten behoewe van die noodsaaklike voortplanting, maar dit moet so moontlik afgehandel word sonder daarvan te geniet.

Wel hierdie opvatting van 'begeertes van die vlees' het baie skade gedoen in die geskiedenis van die christelike kerk. Die opvatting is dan ook nie bybels nie, veelmeer heidens.

Paulus wys die opvatting selfs heel nadruklik af in sy brief aan Timoteus (1 Tim 4: 3: 'daar sal mense leringe van duiwels begin aanhang en hulle sal mense verbied om te trou en gebied dat mense hulle moet onthou van voedsel wat God geskape het om daarvan te geniet.')

Duiwelse leringe noem Paulus dit.

Wat bedoel hy dan met 'vlees'?

wel, by Paulus staan die vlees teenoor die Gees.

Of liewer 'n wandel in die vlees teenoor 'n wandel deur die Gees.

'n Wandel in die vlees is 'n lewe waar God buitegesluit word.

Dit kan wees dat jy glad nie aan God dink nie, soos 'n heiden moontlik onbewus God buite sy lewe sluit. Maar dit kan ook gebeur dat jy God wel ken, maar dat jy deur jou manier van God dien op 'n heel subtiele manier God tog buite die deur hou.

Dan doen jy jou eie sin. Jy bepaal self wat jy belangrik vind. Ook in jou geestelike lewe.

En dit is nou presies wat Paulus raaksien in die Joodse manier van omgaan met God. Hulle het deur hul manier van omgaan met die wet, die wet van God eintlik kragteloos gemaak.

Hulle het God vervang deur 'n wetsreël. As jy voldoen aan die reël kan God jou niks verwyt nie. Jy het mos jou deel gedoen?

Jy was mos gehoorsaam?

Niks verkeerd met jou lewe nie. Al die gebooie het jy onderhou en nog 'n hele paar meer.

As jy die lewe van die Jode moet kenmerk dan kan jy sê Hulle is nou regtig kinders van die gehoorsaamheid, soos die heidene maar kinders van die ongehoorsaamheid was.

Maar Paulus takseer hier anders.

Ons was almal van nature kinders van die toorn. !

En dit terwyl hulle gedink het hulle was kinders van die gehoorsaamheid!

Kinders van die toorn dus.

Hul lewe was vol eie bedinksels. Vol selfvertroue. Vlees!

Hulle het die mond vol oor die Here, maar leef inmiddels uit die begeertes van die vlees.

Hulle het God uit hul lewe buitegesluit.

Dit is 'n vreeslike moontlikheid maar dit kan blykbaar gebeur gemeente.

Dat jy baie besig is met sake van godsdiens en dat jy tog God uit jou lewe uitsluit.

Om 'n voorbeeld te noem iemand sou baie besig kon wees met organisasie van tal van sake in die gemeente. Hy is betrokke by enige ding in die kerk. Hy is kerklik uiters aktief.

Maar dit kom nie voort uit 'n geestelike motief nie. Hy doen dit net omdat hy b. v. daarvan hou. Of omdat die kerk vir hom 'n goeie geleentheid verskaf om homself uit te leef. Hy kry daardeur 'n posisie wat vir hom 'n sekere mag verskaf en dit streel hom.

Dit is nou tipies vlees. Verstaan u wat ek bedoel?

'n Koster kan so wees, of 'n orrelis, of 'n ouderling, of 'n predikant. Dit kan met enigiemand gebeur.

Dat jy net om redene van die vlees betrokke is en dus ook op 'n vleeslike manier met die sake van die gemeente omgaan.

Mense kan kerklik sterk betrokke wees, em tog geestelik leeg wees.

Dan word godsdiens bevrediging van die vlees.

Soos dit met die Jode maar gebeur het.

Soos dit aanvanklik ook met Paulus met al sy ywer vir God gebeur het. Ook in so'n situasie, miskien moet ek liewers sê juis in so'n situasie is jy bitter moeilik bereikbaar vir die evangelie van genade.

Want jy meen werklik, jy het die genade nie nodig nie.

Maar God. En hier kom nou die groot maar van ons teks. Maar God, wat ryk is in barmhartigheid.

As hierdie maar daar nie was nie, dan was die mensheid verlore.

Maar nie nou nie. Want God is 'n barmhartige God.

Hy het dooie heidene lewendgemaak.

Hy het ook gebonde Jode vrygemaak.

Hy skenk bekering aan mense wat in hul kerklike ywer moontlik Christus verbygesien het.

Hy het ons liefgehad en in sy liefde het vir ons sy seun gestuur. En met Hom, met Christus ontvang ons die lewe.

Uit genade is julle gered.

En gemeente hier spreek Paulus elkeen aan.

Niemand kan homself red nie. Almal is dood deur hul sondes.

Ook deur 'n lewe vol godsdienstigheid kan jy jouself nie red nie. Jy moet gered word.

Deur genade. Anders niks.

Alleen genade maak vry.

Alleen genade kan ook bly maak.

Elkeen wat dink dat hy homself moet verlos, of elkeen wat meen dat hy dit redelik goed doen ken nie die blydskap van 'n verloste kind van God nie.

Hy weet nie van die bevryding wat redding deur Jesus Christus bring nie.

Gemeente, hierdie woord geld ook vir julle. Die woord moet u indrink.

Uit genade is julle gered.

Hou daardie twee woorde by mekaar as 'n kosbare stel.

Genade en gered.

Die een is nie sonder die ander nie.

As jy nie van genade wil lewe nie, dan is daar nie redding vir jou nie. As jy weet jy is gered dan kan jy alleen maar sê dit is genade. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)