Paulus voortdurende voorbidding vir die gemeente

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2018-01-21
Teks: 
Efésiërs 1
Preek Inhoud: 

Kaapstad 14 Junie '92 oggend

Voor diens: Ps 77: 1, 5, 6, 7
Ps 119: 1, 2, 3
Ps 119: 6, 7
Skb 28: 1-4
Ps 138: 1-4
Lees: Efese 1
Teks: Efese 1: 15-18

Brs en srs, geliefde gemeente van die HJC!

Verlede week het ons die Pinksterfees gevier. In die middagdiens het ons die Pinksterevangelie gehoor uit die verse wat vooraf gaan aan ons teks van vandag.

In vers 13 en 14 het Paulus die ontvangers van die brief daaraan herinner wat gebeur het toe hulle die evangelie van Jesus Christus in geloof aanvaar het. Hulle is verseël met die Heilige Gees. In Efese het hulle 'n sigbare en tasbare ervaring gehad van die koms van die Heilige Gees.

Maar nou is die vraag: is dit daarmee klaar?

Het hulle nou 'n topervaring gehad waarop hulle vir die res van hulle lewe kan teer?

Wel, dit lyk nie so nie.

Die koms van die Heilige Gees is nie die einde nie, maar is die begin.

Die Pinksterfees in Jerusalem met die oorweldigende tekens van die koms van die Heilige Gees is bedoel as die start van 'n nuwe bedeling, die Pinksterbedeling.

En daardie bedeling word nie gekenmerk deur vlammende vuurtonge op sommiges nie, maar deur volhardende gebed by al die gelowiges.

En daarom gaan Paulus onmiddellik na die herinnering aan die Pinkstertekens oor op die gebed van die Pinksterbedeling.

Want daar mag nie 'n misverstand ontstaan onder die gemeente in die sin van: eens gelowig, altyd gelowig; eens verseël, altyd verseël.

Nee geloof en verseëling met die Heilige Gees is wel 'n geskenk maar nie 'n onverliesbaar geskenk nie.

Deur genade het jy dit alles ontvang.

Deur gebed moet jy dit alles vashou.

Die apostel Paulus gaan ons daarin voor.

Ons tema vir die preek is:

Paulus voortdurende voorbidding vir die gemeente

Ons sien:

  1. waarvoor dank hy?
  2. waarvoor bid hy?

Daarom hou ek ook nie op om vir julle te dank nie!

Watter magtige sin, gemeente!

Paulus stel ons hier onmiddellik op 'n baie hoë vlak.

Ek hou nie op om te dank nie.

Ons vlak is gewoonlik meer: Ons hou nie op om te kla nie.

Ons het soveel probleme en probleempies dat ons meen, ons is geregtig om eindeloos te kla.

En as daar een van ons probleme opgelos is, dan dank ons dalk vinnig een keer en gaan vervolgens voort met ons klagtes. Die lys is nog so lank.

Maar Paulus nie. Hy dank en hy bly dank.

Waarvoor eintlik?

Wel, hy sê dit hier. Ek het gehoor van julle geloof in Jesus Christus. Dit is rede genoeg om te dank. Seker vir Paulus. Daarvoor leef hy mos en daarvoor span hy hom elke dag baie in om aan mense die rykdom van die geloof in Jesus Christus uit te kan deel. Wie dit as die groot doel van die lewe sien, het seker genoeg om hom oor te verbly.

Want dit gee vir ons tog vreugde, gemeente, as ons hoor dat mense by ons gemeente aangesluit het, hier of in Belhar, of op ander plekke. As mense breek met 'n lewe sonder God of breek met sondes in hul lewe dan het ons almal rede om dankbaar te wees.

Immers dan is daar nog 'n mond waarmee die Here geprys word. Wie sou hom daaroor nie kan verbly nie?

Paulus hou nie op om te dank nie. Hy hoor van hulle geloof. Hy hoor ook van hulle liefde tot die heiliges.

Juis die geloof en die liefde saam gee vir hom rede tot dankbaarheid. Immers uit die liefde blyk dat die geloof eg is.

Soms dink mense dat dit wel van mekaar losgemaak kan word.

Geloof in God. En liefde tot die broeders.

Dan sê hulle byvoorbeeld. Broeder die-en-die, ek kan hom wel slaan. Ek sal nie 'n voet vir hom versit nie. Hy het my liefde grondig verbeur. Met my geloof in God is darem gelukkig alles reg.

Sr. so-en-so. Ek kyk haar nie meer aan nie. Ek wil ook glad nie meer met haar praat nie.

En so loop ons rond met ons teregte of tenonregte griewe en klagtes teen mekaar. En inmiddels dink ons dat met ons geloof niks verkeerd is nie.

Gemeente, ongelukkig moet ek dit vir u sê: dit is heeltemal onmoontlik.

'n Mens kan nie met sy mond God prys en met dieselfde mond gif spuit oor sy broeder nie.

Jou geloof is uitenuit bepalend vir jou houding teenoor jou broeder. As daar geen liefde is nie, dan kan daar ook geen geloof wees nie. Want geloof en liefdeloosheid kan nie in een hart saamwoon nie.

En as u dan meen dat u darem 'n hele paar broeders en susters liefhet, dan moet u net ook nog daarby lees dat Paulus hier skryf: ek dank vir julle liefde tot al die heiliges.

Jy is as kerklid nie veronderstel om slegs die mense lief te hê met wie jy heeltemal een voel nie. Of net diegenes te waardeer wat net so soos jy dink nie.

Nee as gelowige moet jy ook liefhê hulle wat anders is as jy. Om net jou gelykes lief te hê is nie moeilik nie, jy hou van hulle. Maar liefde is 'n opdrag.

En binne die gemeente nie eens so'n eenvoudige opdrag nie.

Kyk 'n slag na Efese.

Daardie gemeente was 'n gemeente wat deels uit Jode wat christen geword het en deels uit heidene wat tot geloof gekom het bestaan het. U kan hopelik indink watter enorme verskille dit binne die gemeente gegee het. Hulle agtergrond was heeltemal anders. En dit het 'n heel verskillende lewensuitkyk en ook 'n totaal verskillende lewenswyse opgelewer. Wat vir die een 'n geweldige probleem was, het vir die ander selfs nie 'n vraag opgeroep nie.

'n Deel van die gemeente het die sabbat nougeset onderhou. Geen werk op daardie dag nie. Maar vir 'n ander deel van die gemeente was die sabbat maar een van die dae van die week.

Die een het homself streng beperkings opgelê oor wat hy eet of drink. Die ander het net geëet sonder om vrae te vra.

Maar by al die groot en ingrypende verskille het hulle een saak gemeenskaplik gehad. Hul geloof in die Here Jesus Christus. En op grond van daardie geloof het hulle mekaar in liefde aanvaar.

Hulle het besef dat hulle almal lede is van een liggaam. namelik van die liggaam van die Here Jesus. Om al die verskillende lede saam op 'n goeie manier te laat funksionneer vra baie. Ek dink die Heilige Gees het baie werk gehad in daardie dae. Hulle moes leer om mekaar te aanvaar as medegelowiges in Jesus Christus.

Dit geld vandag nog netso. By ons is dit effens makliker. Die gemeente vorm 'n tamelik kulturele eenheid. Maar ons moet wel pasop dat ons ruimte hou vir kulturele verskille. Ons moet as gemeente altyd bereid wees om plek te maak vir mense wat van buite inkom. Ook al is hulle anders as ons. Ook al dink hulle nie netso nie.

Jy kan iemand wat van buite inkom nie sommer indwing in die vorm waarin ons almal is nie. En as jy dit tog wil probeer dan doen jy net skade.

Die feit dat mense anders is en anders dink gee juis sy kleur aan die gemeente. Dan het ons dinge om oor te praat. Dan kan ons leer van mekaar en mekaar se sieninge. Dit gee vir ons almal 'n geleentheid om te groei. En by dit alles gaan dit maar om een ding, dit gaan om die liefde tot die Here Jesus Christus. Lewend in die liefde en lewend van die liefde kan die liggaamsdele van Christus' liggaam na mekaar toegroei.

In Efese het dit so gewerk.

Dit is 'n hele kuns om so met mekaar om te gaan.

En wat doen Paulus dan?

Maak hy vir die gemeente 'n kompliment dat hulle daarin geslaag het om in die liefde van Christus die verskille te oorwin?

Nee, Paulus prys nie die gemeente nie, maar hy dank God.

Immers om Hom gaan dit alles. Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge.

Dit is baie mooier dat God hier geprys word as dat die gemeente hier 'n kompliment sou ontvang.

Vir ons ook baie bemoedigender. Immers as die gemeente van Efese geprys sou word, staan ons daarby, ons is ongelukkig nie in staat tot wat hulle kan nie.

Maar onthou, dit is nie Efese wat geprys word nie. Dit is God wat die eer ontvang.

Dieselfde God wat die gemeente van Efese hiertoe in staat gestel het is vandag by ons om ons by te staan. Laat ons daardie God voortdurend prys.

Laat ons hom dank vir die mooi dinge in die gemeente. Daarin sien ons sy grootheid.

Laat ons Hom ook dank vir die probleme in die gemeente, want daardeur kan ons as gemeente leer om as kinders van God in liefde met mekaar om te gaan. So kan ons wys dat ons almal van genade wil lewe.

2. waarvoor bid Paulus?

Paulus hou dus nie op te dank nie. Daar is baie om te dank.

Maar Paulus hou ook nie op om te bid nie.

Daar is ook baie om te bid.

Seker as dit gaan om voorbede vir ander mense. En dit is wat Paulus hier doen. Paulus maak in sy lewe 'n punt daarvan om baie voorbidding vir ander mense te doen.

Ons voel dikwels dat ons nie tyd het vir soiets nie. Ons is te besig. Of te moeg. Of self gepla deur soveel worries dat ons nie kans sien vir voorbidding vir ander mense nie.

En so skuif ons die punt om werklik tyd vir gebed en voorbidding in ons program op te neem vorentoe. As ons eers maar hierdie probleem opgelos het. As ek eers maar daardie saak agter die rug het. As eers maar die omstandighede verbeter het, dan sal ek...

Ongelukkig bly dit dikwels daarby.

En so kom ons nie 'n stap verder nie. Al ons probleme bly maar daar en daar is steeds nuwes.

Gemeente, hier moet ons iets wil leer. En dit ook in praktyk bring.

Paulus bid dus baie. En dit is ongetwyfeld dit wat hom so produktief gemaak het.

Wat bid hy presies?

Ons lees: dat... God... aan julle die Gees van wysheid en openbaring mag gee.

Omdat ons vertaling die woord Gees hier afdruk met 'n hoofletter is ons geneig om hier aan die Heilige Gees as gawe te dink, maar dit is nie nodig nie. Ons kan ook lees: dat God vir julle 'n gees van wysheid sal gee.

Die woord gees is hier onmiddellik verbonde aan kennis van God.

Die eerste wat 'n mens dus nodig het is 'n gees van wysheid om God te ken. Om insig te hê in wat Hy vir ons beteken.

Wel, om so die Here te leer ken, is nie iets wat jy sommer uit 'n boekie kan leer nie.

Dit is iets wat vir jou gegee moet word. Maar dit word vir jou ook nie sommer outomaties gegee nie. Jy moet dit soek.

Hierdie kennis van God is iets wat 'n mens eers oor 'n lang tyd kan opbou. Daarvoor is 'n intensiewe relasie nodig.

Bedink hoeveel tyd jy nodig het om 'n mens wat maar ongeveer soos jyself is, werklik te leer ken. Dan moet jy baie gepraat het. Jy moet hom meegemaak het in vrolike situasies, maar jy moet hom ook meegemaak het in krisissituasies. Wel, dit is 'n kennismakingsproses wat sommer jare vat.

Hoe dink jy dat jy die Here leer ken?

Dit is nie 'n kwessie van in jou jeug 'n aantal kategismus-antwoorde leer en klaar is jy. Nou ken jy die Here.

Seker die Kategismusantwoorde is belangrik. Maar dit is slegs 'n eerste kennismaking. Dit mag egter nie by so'n eerste kennismaking bly nie.

Met jou lewensmaat het jy seker ook eendag vir die eerste keer kennisgemaak. Maar toe wil jy meer van hom of haar weet. Die liefde het jou gedwing om meer te wil weet.

En in die verhouding het julle mekaar steeds beter leer ken. Hoe langer die verhouding duur en hoe intensiewer jy met mekaar omgaan, hoe meer jy weet van mekaar. Tenslotte hoef jy baie dinge nie eens meer te vra nie. Jy weet al hoe die ander daaroor dink. Of in sekere situasies kan jy van sy gesig aflees hoe hy voel.

Wel so'n verhouding moet ons ook met die Here ontwikkel. En dit kan alleen deur baie met Hom te praat en baie na Hom te luister. Ofwel deur te bid en deur in jou Bybel te lees.

Dan groei jy steeds meer in insig sodat jy kan onderskei waarop dit aankom in die lewe.

Jy kry soos Paulus dit in vers 18 noem: verligte oë van die verstand.

Met heel jou hart is jy op dieselfde golflengte met God dat jy hom steeds beter gaan verstaan.

Jy kan dan ook al hoe meer leef uit die hoop wat voorlê.

Want jy gaan nou reeds besef wat dit is. Die toekomstige erfdeel is nie meer iets vaags en onsekers vir jou nie.

Maar jy kan die toekomsverwagting steeds meer invul. Dit is 'n lewe waarin jy altyd naby die Here kan wees. Daar is geen probleme meer wat vir jou die pad versper nie. Immers dit is wat ons steeds weer hinder.

Brs en srs, ek benadruk nou wel om in navolging van Paulus steeds in gebede te volhard, maar dit is so moeilik om vol te hou.

Jy neem jou voor om meer aandag te gee aan voorbidding vir die gemeente of vir die voortgang van die sending, of vir die koms van God se Koninkryk, maar sommer trek ander sake jou aandag. En dit werk nie meer nie.

Of jy is besig om te bid, maar jou gedagtes dwaal af na die dinge wat jou verder so besig hou.

Ek weet, ek weet en tog dit is die pad wat die Here ons voortdurend wys.

As ons Hom wil leer ken, dan moet daar 'n intensiewe omgang wees.

As ons wil besef wat die erfdeel is wat aan ons belowe is, dan moet ons nou reeds ons met die erfenis besig hou.

Wie leef uit die hoop wat ons hier voorgehou word is 'n ryk mens.

Hy het verligte oë ontvang.

Wie verligte oë wil ontvang sal sy oë eers moet toemaak in gebed. Dan gaan hy sy eintlike rykdom sien.

Maar wie sy oë oophou en nie tyd het om te bid nie, hy sien net die dinge van hierdie wêreld.

Soms verlokkend sodat jy jou daaraan oorgee en tenslotte God verloor.

Soms angsaanjaend, sodat jy maar net wil vlug en jou blydskap verloor.

Maar wie sy oë toemaak om te bid, sien uitkoms. Hy ontvang verligte oë en kan verder kyk. Hy sien die heerlikheid van God. En die wonderlike rykdom van die beloofde erfenis.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)