Ons troos in die pinksterbedeling

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2017-12-20
Teks: 
Efésiërs 1
Preek Inhoud: 

Pinkster 1992 Middagdiens

Ps 92: 1, 2, 3
Skb 13
Geloofsbelydenis
Ps 67: 1, 2, 3
Lees: Efese 1: 1-12
Teks: Efese 1: 13, 14

Brs en srs,

Onlangs het ons die Hemelvaartdag gevier.

Toe het ons daarby stilgestaan dat daar 'n oomblik gekom het dat die Here Jesus uit die gesig van sy dissipels verdwyn het. Maar dis nie dat Hy toe net uit die gesig van sy eerste dissipels verdwyn het nie, Hy verdwyn ook uit die gesig van almal wat Hom wil volg. Sê maar uit die direkte sig van die kerk.

Daarmee is die hemelvaart die begin van 'n spesiale periode in die geskiedenis van die kerk, namelik die periode van nie-sien. Tot vandag toe leef ons as kerk in daardie periode.

Dit gee 'n sekere probleem.

Want ons as mense is heeltemal gerig op sien.

As die Here Jesus weggaan is Hy blykbaar baie bewus daarvan.

Hy besef dat na sy heengaan by mense twyfel sal opkom oor sy werk, oor sy aanwesigheid, oor sy mag.

En daarom gee Hy sy dissipels voor sy hemelvaart 'n belofte.

Moenie hier weggaan nie. Wag. Wag op die dinge wat sal kom.

Johannes het julle gedoop met water, maar Ek sal vir julle 'n ander Doop gee. Die Doop met die Heilige Gees. Nie lank na vandag nie.

Hierdie belofte wat u kry in Handelinge 1: 5 is 'n duidelike verwysing na die ophande Pinkstergebeure.

Op die Pinksterdag sal die Heilige Gees kom op al die gelowiges. Daardie dag sal wonderlike dinge te sien gee. Die Gees sal Hom so sterk manifesteer dat daar geen twyfel moontlik is dat God self hier besig is met groot dinge.

Wel, vandag leef ons nog steeds in die tyd na die hemelvaart.

Die tyd dat ons ons Heiland nie met eie oë kan sien nie.

Maar ons leef ewe seker in die tyd na die Pinksterfees.

Die geskenk wat die Here Jesus op die Pinksterdag aan sy kerk beskikbaar gestel het is nog steeds daar. Die Heilihge Gees is daar nog steeds om ons in ons geloof te versterk en te verseker.

Dat hy dit doen mag ons weet uit die gebeurtenisse op die Pinksterdag.

Hoe hy dit doen mag ons steeds meer leer in die tyd van die Pinksterbedeling.

Ons tema vir vanaand se prediking is:

Ons troos in die Pinksterbedeling

  1. Ons ontvang die Heilige Gees as seël
  2. Ons ontvang die Heilige Gees as onderpand

Vanaand se teks is geneem uit die brief van Paulus aan die Efesiërs. In die gedeelte wat aan ons teks vooraf gaan het Paulus iets vertel oor die groot rykdom van die gelowiges.

Hulle mag weet dat hulle in 'n groot plan van God opgeneem is. Die Here het vir hulle uitverkies om sy eiendom te wees.

Nou moet ons besef, as dit gaan oor die uitverkore volk van God, dat die gedagtes dan amper vanself na Israel gaan. Hulle was die volk wat die Here aanvanklik as sy spesiale volk verkies het.

In vers 12 kan ons lees wat Paulus sien as die eintlike van die uitverkiesing van Israel.

Ons, en daarby sluit Paulus dus ook homself in, ons het van tevore reeds op Christus gehoop. Dit is die eintlike voorreg van die volk Israel. Hulle was die eerstes wat op Christus gehoop het.

Daaroor gaan mos die hele O.T. Dit is die boek van die verwagting van Jesus Christus. Elke Israeliet, elke Jood is in die opsig 'n bevoorregte mens. Dit het God behaag om eerste na hulle te kom met die evangelie.

Ons kan dit ook heel duidelik in die praktyk sien. Al die apostels was Jode. Die hele eerste christelike gemeente in Jerusalem het bestaan uit Jode. As Paulus, 'n Jood die wêreld intrek om die evangelie te verkondig, waar gaan hy eerste natoe?

Na die Joodse synagoge.

Ook die gemeente van Efese waaraan Paulus hier skryf het vir 'n goed deel bestaan uit Jode.

Maar tegelykertyd het daar ook 'n groot deel van die gemeente 'n heidense agtergrond gehad. Dit is hulle wat nou in ons teksvers aangespreek word.

Julle ook.

Dus, gemeente, ons wat hierdie brief lees, ons ook!

Immers die Pinksterdag was daar. Die Pinksterdag het die deur oopgemaak vir heidene uit Efese, maar ook vir ons, watter agtergrond ons ook al het, in elk geval nie Jode nie.

As ons nou heel kort wil omskryf, wat is die eintlike van die Pinkstergebeure?

Wat is die mees kenmerkende van die Pinksterdag?

Ek dink, dit is dit: op die dag is grense deurgebreek, deure oopgegooi.

B.v. die Heilige Gees, wat vroeër net op sekere persone gekom het is nou uitgestort op almal. Op die hele gemeente van gelowiges in Jesus Christus. Almal mag deel in die gawes van die Gees. Daar is geen beperkings tot sekere besondere persone nie. Elkeen ontvang die gawe van die Gees.

Ook in 'n ander sin is grense oopgemaak. Op die Pinksterdag het duidelik geword dat die evangelie nie net vir die Jode is nie, maar dat Jesus Christus veel verder wil gaan. Hy wil dat die hele wêreld die evangelie moet hoor. Die talewonder op die Pinksterdag spreek daarvan.

U sal kan verstaan hoop ek, dat dit vir die Jode nie so maklik was om dit te erken nie. Hulle het altyd geleer, en dit was ook so, hulle alleen is die uitverkore volk van God. Vir hulle alleen geld sy beloftes. Soos Hy met hulle gedoen het het Hy aan geen ander volk gedoen nie.

Kon dan nou ook heidene uitverkies word?

Kan dan ook heidene die Heilige Gees ontvang?

Dit het vir hulle baie onwaarskynlik voorgekom.

Kyk maar eens 'n slag in Handelinge 10. Daar gaan dit oor wat gebeur het met die heidense hoofman Cornelius. Petrus verkondig vir hom en sy gesin die evangelie en wat gebeur?

Terplekke kom die Heilige Gees oor hom en sy mense.

En nou lees ons die reaksie van die Jode in vers 45. Hand10: 45: "En die gelowiges uit die besnydenis, almal wat saam met Petrus gekom het, was verbaas dat die gawe van die Heilige Gees ook op die heidene uitgestort is. "

As Petrus later die geskiedenis in Jerusalem vertel, is daar aanvanklik baie protes dat hy ook aan heidene die evangelie vertel het. Maar as hulle hoor dat die Heilige Gees ook op die heidene gekom het verstom hul proteste en gaan oor in 'n lofprysing. Kom ons lees die verse, Hand. 11: 15-18:

    "En toe ek (Petrus) begin spreek, het die Heilige Gees op hulle geval soos ook op ons in die begin.
    En ek het die Woord van die Here onthou, hoe Hy gesê het: Johannes het met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word.
    As God dan aan hulle dieselfde gawe gegee het soos aan ons wat in die Here Jesus Christus geglo het, wie was ek dan, dat ek God kon verhinder?
    En toe hulle dit hoor, het hulle geswyg en God verheerlik en gesê: So het God dan ook aan die heidene die bekering tot die lewe geskenk. "

Wel na soiets verwys Paulus hier ook die ontvangers van die Efesiërs-brief. Julle ook is verseël met die Heilige Gees van die belofte.

Dit was vir hulle 'n gebeurtenis waarvan hulle nog onthou. Dit is nie noodsaaklik dat die Heilige Gees hom in Efese op presies dieselfde manier gemanifesteer het as op die Pinksterdag in Jerusalem nie. Want daar was die allereerste begin. Moontlik ook nie op dieselfde manier soos by Cornelius nie, want daar moes Petrus en die Jode oortuig word dat God die evangelie nie tot die Joodse volk wil beperk nie.

Maar tog ook in Efese onthou hulle hoe die Heilige Gees gekom het en hulle vervul het.

Wat hulle presies ervaar het kan ons tans nie meer nagaan en is ook nie so verskriklik belangrik nie. Wat wel belangrik is is die weg waarlangs dit oor hulle gekom het. Paulus beskryf die weg heel noukeurig.

Hulle het eerste die woord van die waarheid gehoor.

Daardie woord het hulle herken as boodskap van redding.

Die boodskap het hulle geglo. En vervolgens is hulle verseël met die Heilige Gees.

Vir ons is dit van belang om daardie weg stap vir stap te volg.

Eers dus die woord van die waarheid. Wel daar weet ons natuurlik alles van. Ons het die woord van die waarheid. Ons het dit in ons Bybel. Ons is 'n Gereformeerde Kerk. Dus ons besef terdeë die belang van die betroubaarheid van God se Woord.

Sola Skriptura. Alleen deur die Woord!

Skrif en belydenis, daarvoor staan ons en ons is strydvaardig om dit te verdedig. Want dit is mos die grond waarop ons as kerk staan.

Maar laat ons wel bedink, met dit alles praat ons net oor die objektiewe waarheid van die Woord.

Maar wil die Woord werklik tot sy reg kom dan moet dit ook 'n subjektiewe waarheid vir ons word. Dan moet dit vir onsself en ons eie lewensuitsig 'n beslissende betekenis hê.

Kom ons gebruik nog 'n voorbeeld.

Onthou u van die mooi motor uit verlede week se preek?

Ons het toe gesê, dit gaan nie help om 'n motor te koop en hom nie te gebruik vir die doel waarvoor hy gemaak is nie. Laat ons nou sê: die Bybel is so'n mooi motor.

Ons is oortuig daarvan dat hy goed kan ry.

Ons beveel vir die hele wêreld aan om in so'n motor te ry.

En as iemand sê dat hy nie glo dat die motor self kan ry nie, dan sal ons heftig met hom argumenteer, want ons is baie seker daarvan, hy kan wel ry.

Sommige christene gaan so met die Bybel om. Hulle stry vir die betroubaarheid daarvan, maar om nou self in te klim en daarmee voort te beweeg dit doen hulle skaars. Hulle argumenteer liewer oor die Bybel as dat hulle leef uit die Bybel.

En dan maak jy 'n groot fout.

Dan het jy wel die woord as waarheid aanvaar, maar in die woorde van ons teks: jy het dit nie as 'n evangelie van jou redding gehoor nie.

En dit is tenslotte waaroor dit gaan. Die evangelie is 'n boodskap van redding! Redding van die ondergang. Redding van jou ondergang!

En dit sal 'n mens moet glo!

Dit doen jy nie sommer vanself nie. Van jouself voel jy dat jy in die lewe ook wel sonder God 'n hele end kan spring. Maar die Bybel sê: Onmoontlik! As jy jou nie deur Jesus Christus laat red nie, dan is jy verlore! Vir altyd!

Die evangelie moet geglo word!

Dit moet vir jou word soos die kosbare pêrel uit die gelykenis, jy sal alles wil verloor om net daardie kosbare pêrel in hande te kry.

Die probleem is dat ons hart so gou verdeel is. Ons wil maar liewers 'n paar meer ysters in die vuur hou. Ja, geloof en kerk en die bybel is ook deel van ons lewe, maar nou ook nie juis so nadruklik nie. Dit staan nou maar 'n bietjie aan die rand van ons lewe, want daar is nog soveel meer waaraan ons ook aandag wil gee.

Wel, gemeente as dit die stand van sake in u lewe is, dan moet die Pinksterfees 'n teleurstelling vir u inhou.

Want die Heilige Gees neem nie genoeë met 'n klein plekkie in u lewe nie. Hy word uitgestort. Dit gaan dus met 'n royaal gebaar. As jy onder so'n stort deurloop dan val daar nie net droppels nie, maar dan is jy deurweek.

Dan word die Heilige Gees 'n oorweldigende krag in jou lewe.

So het hulle dit in Efese ervaar.

Toe Paulus vir hulle die hande opgelê het en om die Gees gebid het, het twaalf manne in Efese in tonge begin spreek.

Daardie gebeurtenis onthou hulle as hul verseëling met die Heilige Gees. 'n Seël is 'n middel om sekerheid te gee. Wel dit het hulle ontvang nadat hulle die woord van die waarheid van harte aangeneem het as die boodskap van hul redding.

En daardie verseëling, Paulus sê dit nadruklik, het plaasgevind 'in Christus'.

Hulle is ingelyf in Christus. Hy die Hoof. Die gelowiges die lede.

Nou is dit 'n saak van geloof natuurlik. Jy is ingelyf in Christus as gelowige. Dit word vir jou onderstreep met die teken van die Heilige Doop.

Maar dan nog kan daar by ons steeds weer onsekerheid opkom. Ons is nou maar mense wat wil sien. En wat ons nie kan sien nie, kan ons maar moeilik glo. Steeds weer sal by ons die vraag kan opkom: maar is ek werklik deel van Christus?

Is die woord inderdaad 'n woord van waarheid?

Of wil ek dit maar net graag glo? Beeld ek dit myself dalk in?

Omdat hierdie tipe vrae steeds weer sal opkom het God sy Heilige Gees geskenk.

Hierdie Heilige Gees maak jou seker.

Hierdie Gees laat jou jou twyfels oorwin.

Maar jy moet wel steeds om die Gees vra. Onthou dat God sy genade en Heilige Gees slegs wil skenk aan hulle wat sonder ophou daarom bid en daarvoor vra.

As jy in jou lewe nie tyd maak vir persoonlike omgang met die Bybel nie, dan gee jy die Gees nie die kans om jou te verseker in jou geloof nie.

As jy in jou lewe nie die moeite neem om ernstig en aanhoudend te bid om versterking van jou geloof nie, hoe verwag jy dan dat jy jou twyfels gaan oorwin?

Om nog een keer op ons motor voorbeeld terug te kom, as jy die ding op die pad wil hou sal jy gereeld petrol moet tenk. Want die Heilige Gees is energie. As jy van sy energie wil gebruik, sal jy steeds moet bytenk. Daarvoor is maar een manier:

Lees in jou bybel.

Bid tot die Here.

En prys die Naam van God.

Ons ontvang die Heilige Gees as 'n onderpand

Ons het nou gesien hoe die Heilige Gees 'n seël is. Hierdie seël bevestig dus wat klaar agter die rug is. Ons aanvaar die woord van die waarheid as die boodskap van ons redding. En wie dit werklik doen, word deur die Heilige Gees verseël. Die Heilige Gees bevestig hom al hoe meer in die geloof in sy redding.

Maar die geskenk van die Gees is ook iets wat ons help vorentoe.

Paulus sê dit so: Hy is die onderpand van ons erfdeel, namelik die volkome verlossing.

Die gelowiges sal 'n erfenis kry, die erfenis van die ewige lewe. Maar in hul lewe van vandag kan hulle daarop reeds 'n voorskot kry.

En wat is dan die toekoms?

Dit is 'n lewe waarin ons deur niks gehinder die Here kan prys!

Ons lofprysing in die lewe bly dikwels maar agterweë. Hoekom?

Ons het probleme. Dit is so moeilik om God te prys as jy self nie gelukkig is nie. Jy het allerhande verwagtings van die lewe, maar om een of ander rede werk dit nie so uit nie.

Jy sit jouself in die pad, jy kan net nie doen wat jy sou wil doen nie. Of ander mense werk nie saam nie. Of die planne wat jy het kos geld wat nie daar is nie, ensovoort.

Die probleme van die lewe kan ons so bedruk dat daar nie meer 'n lofprysing oor ons tong wil kom nie.

Ek verstaan, heeltemal. As dit met jy goed gaan dan kan jy die hele dag wel loop sing.

As jy hard gewerk het vir 'n eksamen en jy is deur, dan is daar stof om te sing.

As jy lank gesoek het vir werk en jy vind iets, dan kan jy God prys!

Maar ongelukkig slaag jy nie elke dag 'n eksamen nie. Die lewe ken sy hoogtepunte maar ook sy dieptepunte. En dan is dit maar moeilik om God te prys.

Maar gemeente, tog is dit julle roeping. En God self maak dit moontlik. Lees maar in vers 12: sodat ons tot lof kan wees van sy heerlikheid.

Lees vers 14: Ons moet wees tot lof van sy heerlikheid!

Daarvoor gee die Here ons juis sy Gees.

Daardie Gees leer ons om die groot dade van God raak te sien.

Daardie Gees maak dit vir ons moontlik om God te prys ook as die uiterlike lewensomstandighede nie so wonderlik is nie.

Die Gees kan ons laat sing ook al is die vooruitsigte vir die toekoms na die mens gesproke maar somber.

Gemeente dit is die boodskap van die Pinksterfees.

Die Heilige Gees is uitgestort oor die gemeente. Oor almal.

Niemand het 'n verskoning nie. Ons almal is geroep om God se groot dade te verkondig.

En as ons in daardie lof agterbly dan raak dit dringend tyd om weer 'n slag dringend na onsself en ons lewenspatroon te kyk.

Ons moet ons tenk gevul hou. Want die lewe van 'n christen loop nie sonder die Heilige Gees nie. Daarom moet ons gereeld bytenk.

Elkeen vir homself maar ook met mekaar.

Want daar is niks so vertroostend en so bemoedigend as om saam met jou broers en jou susters te sing van ons geloof in die Here Jesus Christus.

Want dit is Pinksterfees!

So'n fees vier jy nie op jou eie nie. Dit vier jy met mekaar. Want in die kerk is ons by een van die belangrikste vulstasies van die Heilige Gees.

Sorg dat jy met 'n welgevulde tenk hiervandaan gaan.

Dan het jy 'n heerlike Pinksterseën ontvang.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)