Laat die Heilige Gees u Heilige Gids bly

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2017-12-20
Teks: 
Galásiërs 5
Preek Inhoud: 

PREEK OOR GALASIËRS 5: 25

LITURGIE:
L. Galasiërs 5
Ps. 143: 7, 8
Ps. 143: 9
Ps. 25: 2, 4, 6
Ps. 51: 5
Ps. 119: 2, 20

Broeders en susters,

De Bybel gebruik vir die Heilige Gees van God allerhande metafore. Die Gees word byvoorbeeld vergelyk met water wat God oor sy dorstige volk uitgiet, om die lewe weer te laat groei en bloei. Ons het die beeldspraak raakgeloop in ons teks van verlede sondag.

Die Gees word ook wel met die wind vergelyk. Die Here Jesus self het teenoor Nikodemus daardie beeldspraak gebruik: "Die wind waai waarheen hy wil en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So werk dit ook by elkeen wat uit die Gees gebore is".

Ons lees ook 'n vergelyking van die Heilige Gees met vuur: ons kan deur die Gees aan die brand gesteek word, maar ons kan die Gees ook uitblus.

In ons teks en die verband daaromheen word die Heilige Gees met 'n Gids vergelyk.

Ja, want al hierdie tipe van metafore sou ons sommer kon laat vergeet dat die Heilige Gees nie net 'n krag wat van God uitgaan is nie, maar dat die Heilige Gees God self is. Hy is 'n Persoon. 'n Persoon wat ons deur ons afkerige of gemaksugtige houding kan bedroef, soos die Skrif dit ook uitdruk. Die Gees is die derde Persoon in die goddelike Drieëenheid.

Hy het by ons, ja, in ons kom woon. En Hy wil ons saamneem, op die pad van die HERE, achter Christus aan na die ewige lewe toe. Hy ken die pad, Hy wys vir ons die pad, Hy gee vir ons alles wat ons benodig om op die regte pad te bly: geloof, hoop, volharding, liefde vir God en 'n afkeer van die sonde.

By Hom is ons lewe veilig. Deur Hom lê die koers vas.

En niemand van ons, broeders en susters, hoef bang te wees dat hy of sy nie sou mag saamgaan nie. Elkeen wat erken dat hy self nie op die pad van God kan bly nie, maar telkens verdwaal en daarom homself aan die Gees van die Here Jesus Christus toevertrou, mag saamgaan. En die Gees is bereid om ewig by u te bly.

Maar dan sal ons wel sy voetspore moet bly volg.

Wanneer daar in ons Bybelvertaling staan dat ons wat deur die Gees lewe ook "deur die Gees moet wandel" kan ons dit miskien beter so vertaal: ons moet "deur die Gees in die regte spoor bly". Die Kanttekeningen by die ou Hollandse Statenvertaling omskryf dit so: "ons moet in ons lewe die leiding van die Heilige Gees volg. Ons moet die pad wat Hy as ons Gids vir ons wys en waarop Hy self vooraangaan, agter Hom aan gaan. " Dié oproep kom vanoggend uit ons teks na ons toe.

En dit is nodig om mooi na hierdie oproep te luister, gemeente.

Want daar is nog altyd die gevaar dat ons die Heilige Gids wat Christus vir ons gegee het, uit die oog verloor en so die regte pad verloor. Met al die vreeslike gevolge daarvan!

Daarteen wil ons teks ons waarsku. Kom ons laat ons vanoggend weer waarsku en ons luister na die oproep in ons teks.

Dis saamgevat hierdie oproep:

LAAT DIE HEILIGE GEES U HEILIGE GIDS BLY

HY NEEM ONS SAAM:

  1. OP 'N PAD VAN VRYHEID
  2. OP 'N PAD VAN GEBONDENHEID

1. U het dit natuurlik al agtergekom, gemeente, dat die apostel Paulus die kerke in Galasië in hierdie brief nadruklik oor hul vryheid aangespreek het. Die gemeente van die Here Jesus Christus mag uit vrye mense bestaan -dit kenmerk die kerk- mense wat vrygemaak, vrygekoop is uit slawerny.

In ons tekshoofstuk bind Paulus tot twee keer toe dit die Galasiërs op die hart. Direk in vs. 1: "Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus julle vrygemaak het". En weereens in vs. 13: "Want julle is tot vryheid geroep, broeders!".

Hulle was vroeër slawe.

En u verstaan: slawe van die sónde, slawe van die dwaasheid van die heidendom.

Slawe van die duiwel.

So tipeer die Bybel dikwels die lewe sonder God en sonder Christus: slawerny!

Dit mag dalk lyk asof 'n mens dan eers vry is. Jy is nie gebind aan die presiese voorskrifte en reeëls van die Bybel nie. Daar is nie ouderlinge wat jou onophoudelik dophou nie. Jy kan maak soos jy self wil.

Seuns en dogters in die kerk verkyk hulle dan ook dikwels op die skynbare vryheid wat daar buite die kerkmure is. Dan staan hulle dromerig voor die rame van die kerk en staar na die seuns en dogters van die wêreld. Het hulle nie veel meer vryheid nie? Is hul lewentjie nie baie aangenamer, vryer en vroliker nie? Want ín die kerk- daar mag jy amper niks nie!

En dis nie net seuns en dogters wat so staan en staar nie.

Maar moenie 'n fout maak nie, broeders en susters, seuns en dogters. Buite die kerk, sonder die HERE onse God is enige mens 'n jammerlike slaaf -al voel hy hom ook nog hoe vry.

Jy is 'n slaaf van jou eie hartsogte en begeertes: Jy moét daaraan gehoorsaam, hulle regeer jou lewe.

Jy is 'n slaaf van allerhande afgode aan wie jy jou lewe verloor het: alkohol, popmusiek, geld, sport...

Jy is 'n slaaf van die wêreld waarin jy leef: jy moet saamgaan met die groot menigte, jy moet aanpas aan hulle gewoontes en modes. En moet maar 'n slag daarop let: die wêreld ken sy harde groepskodes en as jy uit die toon val, laat almal jou val. Daar word 'n harde juk op jou lewe gelê.

En die ergste van hierdie slawerny is: die einde van jou skynbare vryheid is die ewige tronkstraf in die hel. Geen toegang tot die ewige vreugde en vryheid van die nuwe paradys. Vir altyd deur God en mense verlate.

Sulke slawe was ook die broeders en susters in die kerke van Galasië. Dwase, kortsigtige afgodsdienaars, slawe van die harde regime van die heidendom. Kyk hoe dat dit vir die Galasiërs was voordat Christus hulle kom verlos het; Paulus herinner daaraan in 4: 8 e. v.: toe hulle God nog nie geken het nie, het hulle dié gedien wat van nature geen gode is nie; hulle moes allerlei dae en maande en tye waarneem....

Maar toe het Jesus Christus in hul lewe gekom. Hy het sy apostel Paulus na Galasië gestuur met die evangelie dat Hy deur met losprys van sy bloed hulle uit die slawerny van die sonde en die dood wou vrykoop. Paulus het hulle in Christus se naam uit die slawerny kom wegroep. En toe hulle aan die oproep gehoor gegee het en hulle láát wegroep het, was hul lewe skielik op 'n heeltemal ander spoor gesit. Van jammerlike slawe het hulle vrye kinders geword. Ja, so mog Paulus vir hulle vertel (kyk 4: 7): "Jy is, noudat Jesus Christus jou vrygekoop het, nie meer dienskneg, slaaf, nie, maar kind. En as jy kind is, dan is jy ook erfgenaam van God deur Christus".

Die hele wêreld het weer vir hulle oopgelê. God wou weer hul Vader wees, sy wêreld het ook hul wêreld geword, en 'n geweldige toekoms het vor hulle oopgegaan.

Maar, gemeente, dit word in ons teks dan "lewe deur die Gees" genoem. Want hierdie vryheid van God se kinders is wel deur die Seun van God gekoop, maar word deur die Gees van God in ons lewe binnegedra. Hy maak tot ons eiendom wat Christus vir ons verdien het. Die Heilige Gees lê die kontak tussen Christus en ons. Hy kom met die evangelie van verlossing na ons toe en maak ons hart ontvankelik om dié evangelie gelowig te aanvaar. Hy bewerk en versterk in ons die geloof in Christus. En die Gees neem so sy intrek in ons lewe om ons saam te neme agter Christus aan op die pad van eindelose vryheid. Hy maak ons lewe: Christus.

Sonder die Gees sou ons die pad agter Christus aan direk weer verloor. Sonder die Gees van Christus sou ons ons nuwe vryheid direk weer verloor.

Moet dit nooit vergeet nie, broeders en susters, dat die lewe in die kerk van Christus 'n lewe deur die Gees is. Sonder die Gees van Christus sou daar geen kerk van Christus wees nie. Sonder die Heilige Gees sou ons die ware vryheid nooit leer ken het nie, en sou ons die ewige vryheid van die nuwe paradys nooit bereik nie.

Ons sou nog altyd gebuk gaan onder die slawerny aan die sonde.

Maar Christus het sy Gees as Gids aan ons gegee. Die Gees gaan vooraan. Hy kan ons bring daar waar ons self nie kan kom nie. Hy is 'n goeie Gids wat die reisroete, die gevare onderweg, die lengte van die pad ken. Hy ken ook ons, swak en sondige mense, aanhoudend geneig om weg te dwaal.

Ons is soos bergbeklimmers wat die eerste keer 'n baie moeilike voetslaanpad wil probeer en vervolgens 'n gevaarlike bergtop wil bereik. Ons gaan dit alleen nie regkry nie. Maar ons het 'n Gids wat bereid was om saam te gaan. Een wat die pad ken en ook die gevare. En soos dit dikwels by bergbeklimmers gebeur het ons Gids 'n tou waarmee Hy almal wat saamgaan aan Hom en aan mekaar vasbind. Dis veiliger. Want as daar nou iemand val, word die tou wat hom aan die Gids verbind, sy redding. So het die Gees ons aan Hom vasgebind. En Hy sal daarvoor sorg dat ons die reisdoel bereik: die huis van Vader waar ons as vrye kinders en erfgename vir ewig tuis mag wees. Ja, Hy laat almal wat Hom volg nou reeds so vry voel soos 'n voël voel.

Want waar die Gees van die HERE is, daar is vryheid, sê die Skrif.

2. Maar dis dié dat die apostel van Christus in ons teks met die oproep kom om nou ook in die spoor van die Gees te bly. Om agter die Gees as ons Gids aan te bly wandel.

Want ons kan die vryheid sommer weer verloor. 'n Mens kan die woord "vryheid" maklik misbruik. Dit "gebruik as 'n aanleiding vir die vlees", soos Paulus die uitdruk in vs. 13 van ons tekshoofstuk. En dan bedoel hy dat ons met 'n beroep op ons vryheid deur Christus die poort van ons lewe weer wawyd oopmaak vir die slawerny aan die sonde. As ons naamlik meen dat ons nou kan maak soos ons maar wil. Asof alles mag.

Die begrip "christelike vryheid" ís op hierdie wyse al talle male misbruik. As daar nie dadelik 'n deurslaggewende teks in die Skrif te vinde was oor 'n bepaalde saak nie, het mense al baie dikwels hulle direk op hul "vryheid in Christus" beroep. Lê die wêreld nie vir 'n kind van God weer oop nie? As dus die Skrif nie duidelik aanwysbaar iets verbied nie, waarom sou jy dit dan nie mag doen nie? Baie sonde is goedgepraat met 'n beroep op die sogenaamde "christelike vryheid".

Maar Christus se apostel lê ons christelike vryheid meteens weer aan bande, gemeente. Die pad waarop die Gees van Christus ons saamneem, ís die pad van die vryheid. Ons is verlos uit die heerskappy van die sonde, die duiwel en die dood.

Maar daarom is dié pad terselfdertyd 'n pad van gebondenheid! Want die pad waarop die Gees ons saamneem is 'n smal paadjie, met aan weerskante diep afgronde en puntige rotse. 'n Pad waarop ons sommer kan struikel en terugval in die arms van ons vroeëre tiran. Alleen al daarom is dit noodsaaklik dat ons die tou waarmee die Gees ons aan Hom, ons Gids, vasgebind het, baie mooi vashou en geen stap buite die roete wat die Gids aangee, doen nie.

Maar boonop is daar nie net die Gees nie, maar ook 'n ander krag wat aan ons trek. Ja daar is nog altyd 'n krag in ons wat nie met die Gees van Christus wil saamgaan nie. Ons eie sondige vlees. Die verkeerde begeertes en hartsogte wat daar nog in ons agtergebly het.

Paulus het 'n paar verse voor ons teks geskrywe (vs. 16 en 17): "Wandel deur die Gees, m. a. w. laat julle deur die Gees as Gids saamneem, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie. Want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees, want hulle staan teenoor mekaar".

Vlees en Gees staan in ons lewe teenoor mekaar. Albei trek hulle aan ons. Die

Gees wil vorentoe, langs die smal en steil paadjie na die vreugde by God toe. Hy wil ons by die vryheid wat Christus vir ons terugverdien het, bewaar.

Maar die sondige vlees trek ons agteruit, weer terug na die vroeëre lewe sonder God en sy gebod, terug na die slawerny aan die sonde; in elk geval trek dit om ons van die pad van die Gees af te kry. Die vlees wil nie mee op die weg van die Gees nie.

Dis belangrik dat ons daarvan bewus bly, broeders en susters. Ons vlees trek nog gevaarlik. Dit trek ons na owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid. Dit trek aan ons met gebruikmaking van die oogverblindende verleidelike t. v. - programme, rolprente, prikkelende illustrasies in allerhande sogenaamde onskuldige blaaie. En die trekkrag kan so sterk wees dat selfs mense wat in die kerk voorop geloop het, skielik wegval.

Die vlees trek ons na afgodery en towery toe. Met gebruikmaking van sporthelde, popsterre, en rubrieke soos "Die sterre voorspel".

Die vlees trek ons na jaloersheid, twis, partyskap, haat en nyd. En hoe maklik beswyk vrygekoopte christene vir die drifte van die vlees. ook in die kerk bestaan daar soms jarelange rusies, familietwis. Kerkmense kan bekend staan oor hul opvliëndheid, hul onbuigsame nie vergewingsgesinde houding.

Die vlees trek na dronkenskap, brassery en derglike dinge, 'n gevaar dat ons ewemin moet onderskat. Ons braaipartye kan sommer in braspartye ontaard waarby die alkohol al te ryklik vloei. Met al die gevolge daarvan.

Ons teks waarsku: die wat aan die begeertes van die vlees toegee, sny die tou wat hom aan die Gees verbind, deur! En deursny van die tou word jou dood. Jy verloor direk die reguit spoor, raak aan die dwaal en dit duur nie lank meer nie of jy val in die afgrond te pletter. Op die oomblik wat jy die tou wat jou aan die Gees verbind het, deursny, mag dit vir jou lyk asof jy nou baie vryer is. Maar daardie vryheid word jou ondergang. Die wat sulke dinge doen, sal die Koninkryk van God nie beërwe nie.

Moet dus nie die tou van die Gees losmaak of deursny nie. Wie deur die Gees van Christus die ware vryheid en die lewe weergevind het, moet hom ook deur die Gees by die vryheid en die lewe laat bewaar. Die Heilige Gees moet sy Heilige Gids bly. Dis selfs al gevaarlik om die tou van die Gees 'n bietjie losser te maak omdat jy die gevoel het dat dit maar baie strak sit.

Broeders en susters, die Heilige Gees het baie geduld met ons swakhede waardeur ons so dikwels nog struikel en val. Hy is 'n geduldige Gids. Maar Hy kan dit nie aanvaar nie, as ons onwillig is om uit die sonde en swakheid op te staan om weer met Hom verder te gaan. Hy haat dit by ons as ons Hom nie van harte volg nie, maar alleen saamgaan uit gewoonte, tradisie, of omdat ons ouers dit nou maar eenmaal van ons verwag.

Dan bedroef ons ons Gids.

Hy trek, maar ons moet saam.

Dit gaan in die kerk nooit soos vanself nie.

Die Gees trék ons wel saam, maar ons moet dan ook saamgáán. Hy gaan wel as Gids voorop. maar ons moet Hom nou ook gehoorsaam volg.

U merk dit mos dat Hy aanhoudend in u lewe trek, broeders en susters? U leef in die kerk, waar u die Woord van die Gees hoor en leer om te lees. Daardie Woord is die tou. Deur daardie Woord verbind Hy u aan Hom en verbind Hy Homself aan u. Deur daardie Woord trek Hy u saam. Daardie Woord is vol pragtige beloftes. Daardie Woord leer ons terselfdertyd om die bedrieglike van die sogenaamde vryheid van die wêreld raak te sien.

So dikwels die Gees van Christus met die Woord van Christus na u toe kom, is dit soos 'n ruk aan die tou wat u wil vashou en saamtrek. Dan trek die Heilige Gees aan u lewe. U Heilige Gids wys sy aanwesigheid in u lewe.

Ontrek u nie aan sy getrek nie. Moenie dat sy Woord by u die een oor in en die ander weer uitgaan nie. Maar luister daarna en leef daarna. Bind u daaraan. As u onseker raak, as die pad vorentoe onduidelik is, as die toekoms u angstig maak- soek die tou wat u aan u Gids verbind en vind daarby rus.

Dit veroorsaak onvermydelik 'n stryd in u lewe. Want wie homself deur die Gees laat meetrek, moet hom aan die vlees onttrek. Wie die tou van die Gees styf bly vashou, moet al die strikke van die vlees telkens weer losmaak. Dan moet ons veel wegdoen. Ons rug draai op sake wat heel verleidelik kan wees. Ons moet dikwels sny in ons eie vlees, om die Gees te bly volg.

Maar moet dan nooit sê, broeders en susters, seuns en dogters: dis in die kerk so moeilik! Daar word jou lewe so gebind, daar hou 'n mens g'n vryheid oor nie!!

Want dan sou u baie kortsigtig wees.

Ons word inderdaad gebind in die kerk.

Maar aan die Gees van ons goeie God en Vader, en van ons Bevryder Jesus Christus. En Hy wil ons saamneem langs daardie smal en steil paadjie vol stryd en aanvegtings na die ware vryheid toe. en gelukkig is elkeen wat hom láát bind, en wat deur die Gees in die regte spoor bly. Die einddoel sal mos heerlik wees.

AMEN.

(Pretoria, 10 Junie 1990)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)