'n Doring in die vlees kan nodig wees

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2018-01-21
Teks: 
II Korinthiërs 12
Preek Inhoud: 

PREEK OOR 2 KORINTHIËRS 12: 7-10

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps 131: 1-3
Gebed
Skriflesing: 1 Korinth 9: 24-27 & 2 Korinth 11: 16-12: 10
Ps 147: 4
Prediking
Ps 89: 1, 6, 7
Gesonge Geloofsbelydenis
Gebed
Kollekte
Ps 90: 1, 9
Seën

Ons kan dit vanaand probeer onderdruk, broeders en susters, maar die vraag na die "waarom? " van hierdie afskeid speel tog nog altyd maar iewers in ons agterkoppe.

Waarom moet ons paaie nou al uit mekaar gaan?

Waarom moes die gesondheid van my vrou my dwing om my werk as predikant in u midde vroeër te beëindig as wat ek self graag wou gehad het, en na Nederland terug te gaan?

Waarom, terwyl ek en my gesin lief geword het vir hierdie land, vir u as gemeente en daar so veel werk is om te doen?

Waarom het die Here dit so gelei dat omtrent al die predikante wat daar in ons kerke was, in minder as twee jaar se tyd vertrek het, sodat daar vandag net twee sendelinge en 'n emeritus-predikant oorgebly het?

Ja, die broeders Bosman en Viljoen is nou ook daar en sal seker binnekort maar deur een of meer kerke beroep word. Maar ek en hulle wou so graag nog 'n ruk saamgewerk het, van mekaar geleer het, mekaar gestimuleer het.

Hoekom het die Here dit nie toegelaat nie?

Dié vrae is daar al probeer ons hulle ook onderdruk.

Maar hoekom sou ons hulle onderdruk?

Kom ons gaan met daardie vrae juis vanaand na die Here se Woord toe om daar die antwoorde te soek.

En dan hoor ons in die teks wat ek vir vanaand gekies het, hierdie boodskap:

'N DORING IN DIE VLEES KAN NODIG WEES

  1. ONS VOEL DAARDEUR WEL GEREM
  2. MAAR CHRISTUS HET DIT WELOORWOË BERAAM
  3. DUS KAN ONS ONS MET WELBEHAE DAAROP BEROEM

1. Dis 'n nogal bekende Skrifgedeelte, broeders en susters. Almal weet: die apostel Paulus het "'n doring in sy vlees" gehad. Hy beskryf dit in ons teks ook so: "'n engel van die satan het hom met vuiste geslaan".

Maar wat was daardie "doring"?

Daar is in die loop van die jare talle verklarings oorweeg.

Party uitleggers meen dat Paulus rumatiek of soiets gehad het. Ander dink eerder aan 'n oogsiekte. Dit sou dan die rede wees dat die apostel sommige van sy briewe aan 'n helper gedikteer het. Nog weer ander vermoed dat die apostel aan epilepsie-aanvalle gely het wat hom dikwels juis as hy besig was om te preek oorval het.

In elk geval dink baie uitleggers aan een of ander opsigtelike ligaamlike kwaal. Hulle sien naamlik 'n verbinding tussen die "doring in die vlees" waarvan Paulus in ons teks praat, en dit wat hy in sy brief aan die Galasiërs geskrywe het: hoofstuk 4: 13 en 14. Daar praat die apostel van 'n krankheid van die vlees, ja, 'n beproewing in sy vlees, waaroor die broeders en susters in Galasië hom egter nie verag of verfoei het nie.

Daar is egter ook uitleggers wat in 'n heeltemal ander rigting gaan. Hulle dink dat Paulus moeilike aanvegtings deur moes maak. Sommige meen dat hy met verkeerde seksuele begeertes geworstel het. Ander is oortuig daarvan dat Paulus nog steeds deur sy gewete gepla is dat het vroeër Christus se gemeente vervolg het en met instemming toegekyk het hoe Stefanus vermoor is.

Meestal lees ons deesdae egter in Gereformeerde verklarings die eerlike erkenning: ons kan raai, maar ons weet nie presies wat daardie "doring" in Paulus se vlees was nie. Hy sê dit mos nie? Hy wei nie verder daaroor uit nie.

Daardie erkenning is wel eerlik en ook versigtig, maar sê die apostel regtig nie wat hy met daardie "doring" bedoel nie?

Kom kyk nog 'n bietjie saam met my in ons teks.

Paulus vertel eers in vs 7 van daardie "doring", daardie vuisslae van 'n satansengel. Hy het drie maal gebid of die Here hom daarvan wou verlos, maar die Here het gesê Hy gaan dit nie doen nie.

Want sy krag word die beste in swakheid volbring.

En dan sê die apostel: nou ja, maar dan sal ek dus maar roem in hierdie swakheid waarmee ek moet probeer saamleef. Dan kan ek selfs 'n behae hê in "swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek juis sterk!"

Met ander woorde: al die mishandelinge, al die kere wat hy in nood verkeer het, al die vervolginge wat hy deurstaan het, sy benoudhede - dít het vir hom gevoel soos 'n doring in sy vlees; hierin het hy die Satan raakgesien wat een van sy duiwelse engele gestuur het om hom te dwarsboom.

Hy het hiervan al gepraat in die vorige hoofstuk, vanaf vs 23.

"Ek het baie slae ontvang tydens my werk as Christus se apostel", het hy vertel. "Ek was dikwels in die tronk, in doodsgevaar, ek is met stokke geslaan, selfs eenmaal gestenig, ek hier die maal skipbreuk gely, 'n nag en 'n dag op die diepwater deurgebring, ek het aan allerhande gevare blootgestaan....... "

Aan al daardie dinge dink hy nog steeds wanneer hy nou in ons teks van daardie "doring" in sy vlees begin praat: al daardie moeites wat hy as apostel van Christus ondervind het.

Dis mos 'n treffende beeldspraak: Paulus wou hardloop in die Here se diens. Hy het self daardie beeld gebruik in sy eerste brief aan die gemeente te Korinthe. Dit was destyds my intreeteks.

Hy wou baie vir die Here doen, baie vir die kerke beteken. Baie mense nog tot bekering bring.

Maar dit het gevoel asof hy 'n doring êrens in sy liggaam gehad het: elke stap het seergemaak sodat hy meer kruppel geloop as gehardloop het.

Paulus wou soos 'n bokser raak klappe uitdeel in die Here se diens. Ook dié beeld het hy in sy eerste brief aan die Korinthiërs gebruik. Hy wou alle teenstand teen die Evangelie baasraak.

Maar inderwaarheid was dit hy wat veral die klappe moes inkasseer. Telkens het 'n engel van die satan hom amper met 'n uitklophou neergevel.

Dié prentjie teken Christus se apostel hier van homself: iemand wat alles wel vir sy Here wou doen, maar hom telkens daarin gerem gevoel het deur die een teëslag na die ander.

Is dit ook nie hoe ons enigsins voel vanaand nie?

Nog maar 'n paar jaar terug het dit so veelbelowend gelyk met die Vrye Gereformeerde Kerke. Vier predikante vir die die kerke, boonop drie sendelinge, moontlik die groei van 'n vierde gemeente in Pietersburg, 'n verrassende kontak met verontruste broeders en susters uit die NG Kerk waaronder ook teoloë....

En toe het die terugslag gekom. Ds EA de Boer terug na Nederland, Ds Van Hulst 'n beroep na Tasmanië, Ds De Vries en Kruizinga wat nie kans gesien het om hul werk hier te bly doen nie, en toe ook Ds Bijzet wat uiteindelik sy besluit om oor die gesondheid van sy vrou na Nederland te moet terugkeer, nie langer kon uitstel nie.

Voel dit nie soos 'n doring in ons vlees nie?

Steek hier nie duidelik die werk van die satan agter wat die voortgang van Christus se werk in hierdie land wil probeer keer nie?

Ek wou as u predikant nog so graag binne die Vrye Gereformeerde Kerke in Suid- Afrika bly werk. Ek het die gevoel dat ek nou juis baie meer kan doen as in die eerste jare. Ek het my voete hier gevind. Die taal het algaande minder 'n probleem geword, ek het geleidelik begin aanpas by die Suid-Afrikaanse samelewing, daar het kontakte gegroei met Christene buite ons kerke waaraan ek so graag sou wou verderwerk...

En nou moet ek afbreek. Weer heeltemaal van voor af aan begin in 'n nuwe gemeente waar ek omtrent niemand ken nie, in 'n kerkverband waaraan ek al in 'n mate ontgroei het...

Ook u as gemeente voel ongetwyfeld gerem dat daar nou glad nie meer 'n predikant aan hierdie gemeente verbonde is nie. Juis in hierdie tyd noudat daar gereeld gaste uit ander kerke aan ons eredienste deelneem en ons hoop dat dit nog gaan toeneem, is daar nie meer 'n eie predikant nie. Dikwels leesdienste.

En as u weer 'n predikant uit Nederland moet gaan beroep, sal daar noodgedwonge eers weer 'n hele ruk in Nederlands gepreek moet word.

Ook ons Sendeling Ds De Visser ervaar die vertrek van al sy kollegas as 'n gevoelige teenslag vir sy werk. Nou is daar nie meer kollegas met ervaring met wie hy gedagte kan wissel nie. Kan die Sendingkommissie en kerkraad alleen die groot verantwoordelikheid van die Sendingwerk bly dra? Boonop moet hy nou sommige take in die gemeente van Pretoria gaan verrig wat anders deur die eie predikante sou gedoen gewees het, sodat hy nog minder tyd in die Sendinggemeentes kan deurbring, terwyl hy deesdae al die verantwoordelikheid vir altwee terreine, Soshanguve én Mamelodi moet dra.

Ons hele kerkverband dra eintlik 'n doring in die vlees. Aldrie kerke sukkel met vakatures en weet nie mooi hoe om almal vervul te kry nie.

Daar is nou wel die vooruitsig dat daar binnekort twee nuwe, Afrikaanse predikante in ons kerke bevestig gaan word, die broeders Bosman en Viljoen, maar ek en u weet dat ook hulle die huidige situasie in ons kerke maar as 'n doring ook in hul eie vlees voel. Hoe graag wou hulle hul werk onder ons begin het, saam met 'n paar ervare, in Kampen opgeleide predikante.

Maar noudat hulle beroepbaar is, vertrek selfs die laaste predikant wat nie 'n sendeling is uit Suid-Afrika en moet hulle dadelik die voorste linies volstaan.

Hoekom rem die Here ons in so veel opsigte, terwyl ons juis so veel vir Hom wil doen?

2. Koms ons lees verder in ons teks:

Paulus het sy moeite met al die teëslae wat hy ondervind het, in 'n vurige gebed aan die Here voorgelê. Drie maal het hy gevra: Asseblief, Here, neem hierdie dinge wat my telkens rem in my ampswerk, weg. Trek daardie doring uit asseblief. Haal daardie engel van die satan uit my pad uit.

Dit was dus nie 'n selfsugtige gebed van 'n man wat graag 'n bietjie meer gesondheid en voorspoed in sy lewe wou geniet nie. Dit was die indringende gebed van 'n kneg wat graag meer vir sy Heer wou beteken.

En hy het aangehou bid, ook toe die Here nie direk gedoen het wat hy gevra het nie. Die Here kan mos jou geloof eers 'n ruk op die proef stel.

Het Elia ook nie drie maal moet bid voordat die HERE die lewe in die seuntjie van die weduwee in wie se huis Elia opgeneem was, laat terugkeer het nie?

Die Here het Paulus se gebed egter nie verhoor nie.

Hy het hom wel duidelik gemaak hoekom sy gebed nie sou verhoor word nie.

Opsetlik het Hy Self daardie doring in Paulus se vlees ingesteek. Hy Self het toegelaat dat daardie satansengel vir sy apostel die lewe kom suur maak het. Immers: "ook die duiwels word deur die Here in toom gehou, sodat hulle ons sonder sy toelating en wil geen skade kan aandoen nie" (Art 13 NGB).

Weloorwoë het die Here dit beraam dat sy apostel tydens sy ampsuitoefening baie moes swaarkry.

Hoekom?

Wel, "My genade is vir jou genoeg", het die Here vir Paulus gesê. As jy baie vir My wil beteken, benodig jy net genade. Nie meer nie.

Om dié woorde van die Here Jesus presies te verstaan, moet ons miskien nou eers 'n oomblik kyk na die breëre verband waarin ons teksverse staan, broeders en susters.

Paulus het in hierdie brief die stryd aangebind met 'n paar manne wat hulself as leiers in die gemeente van Korinthe opgewerp het, maar 'n baie gevaarlike invloed op die gemeente gehad het.

Hulle het hulleself ook apostels beskou, maar Paulus noem hulle padlangs "valse apostels". Kyk maar hoofstuk 11: 13.

Hierdie manne het naamlik die gemeente probeer beïndruk deur 'n spoggerige uiterlike vertoon.

Hulle het die gemeente aangepraat dat die apostel Paulus eintlik tog maar 'n onaansienlike mannetjie was wat wel gewigtige briewe kon skryf, maar in persoonlike ontmoetings nogal teëgeval het. Daardie man het eintlik niks spesiaals gehad nie.

Maar hulle- hulle kon hul beroem op heel besondere werkings van die Heilige Gees in hulle. Hulle het spesiale openbarings gekry, visioene gesien...

Daarteenoor was Paulus maar 'n gewone vleeslike aposteltjie, het hulle gesê.

Dis basies maar dieselfde hoogmoed as wat ons deesdae nog steeds raakloop. byvoorbeeld by die AGS en ander Pinkstersektes, wat hulle met hul sogenaamde visioene en engeletale ook baie geesteliker as ons beskou.

In hierdie brief probeer Paulus sy broeders en susters in Korinthe nou dus weer van daardie gevaarlike geesdrywers loswikkel.

Hy doen dit egter nie deur die negatiewe beeld wat daardie valse apostels van hom geskilder het, te probeer verbeter nie.

Nee, hy ontken nie dat hy wat Paulus is inderdaad nie so veel het waarop hy hom kan beroem nie. As hy moet probeer spog oor wat hom in sy apostelskap alles wedervaar het, kan hy eintlik maar net vertel van die een teëslag na die ander. Gevangenskap, geseling, steniging, skipbreuk ensomeer.

Dit is inderdaad nie so heel indrukwekkend nie.

Ja, hy het óók wel 'n paar baie spesiale openbarings van die Here gehad, hy is selfs een keer (hy onthou nog presies wanneer dit was: veertien jaar gelede) tot in die derde hemel opgeneem, bo wolkelug en sterrehemel tot in die hemelse paleis, die hemelse Paradys.

Maar daar het hy woorde gehoor wat onuitspreeklike is.

Hy kan inhoudelik dus niks daarvan vertel nie.

Hy sou natuurlik wel kon probeer om indruk te maak met hierdie baie besondere gebeure as sulks in sy apostelskap. Ook hy het darem iets waaroor hy kan spog.

Maar -en nou is ons by ons teks terug, vs 7- Paulus weet inmiddels dat dit juis hiéroor is dat die Here hom die doring in die vlees gegee het, die vuishoue van daardie engel van die satan, die een teenslag en beproewing na die ander:

Christus wou nie hê Paulus moet die mense probeer beïndruk omdat hy so 'n spesiale openbaring gehad het nie. Sy apostel mag nie mense trek deur die aandag op sy eie belangrikheid te vestig nie.

Ons sou dink hy kon daarmee dalk baie meer mense vir Christus wen.

Maar Christus Self sê: "My genade is vir jou genoeg". Dit is die enigste ding waarop jy jou kan en mag beroem. Dis alles waarmee jy die mense mag beïndruk.

Die mense mag nie na 'n Paulus met sy indrukwekkende ervarings opkyk nie, maar moet deur Paulus leer om voor 'n genadige God neer te kniel.

Vir dié doel het Christus Paulus tot sy apostel gemaak. Daarvoor het Hy aan hierdie voormalige vervolger van sy gemeente self ook genade bewys.

"Genade"- beteken daardie woord nie: ons almal verdien die ergste, die mees vreeslike ewige dood. As God ons dus desondanks spaar en selfs vir die herstel van sy Koninkryk inskakel, is dit loutere genade.

"Genade" beteken: God kan en mag met ons maak soos Hy wil en dan het niemand van ons die reg om te kla en opstandig te wees nie.

Ons het slegs rede om die ene verwondering te wees dat God ons nie lankal van Hom af in die hel weggestoot het nie, maar juis met wonderlike beloftes 'n nuwe lewe in die vooruitsig gestel het. Hy gee op sy tyd en op sy wyse 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde aan sondaars.

Dié genade van God moes Paulus as apostel onder die volkere verkondig.

Maar Christus wou hê hy moes daardie genade nie net met woorde aan ander mense voorhou nie. Hy moes dit ook met sy eie lewe aan hulle voorlééf.

Daarom het Christus Paulus self ook swak en kwesbaar gemaak, meer as een keer op sterwe na dood. Want in dergelike situasies kon dit die beste blyk of Paulus nie net teenoor ander oor genade gepráát het nie, maar ook self van genade gelééf het.

"My krag word in swakheid volbring, Paulus", het Christus vir sy kneg gesê.

Jy meen jy kan nie soveel vir My beteken as jy die een teëslag na die ander moet verduur nie. Inderwaarheid beteken jy as prediker van my genade egter die meeste vir My as as jy in jou eie oë so onbetekenend lyk.

Hoe kleiner en kwesbaarder jy in jouself is, des te groter is jou betekenis as my apostel.

Want nou kan die mense beslis nie van jou sê: "Daardie man praat wel baie vroom oor God se genade ensomeer, maar toe maar, wag net tot hy self so swaarkry soos ons!"

Die mense sal juis van jou moet sê: "Hoe 's dit moontlik dat daardie man met soveel moeite en teenslag nog steeds met soveel verwondering oor God se genade praat? 'n Mens sou verwag dat hy sy God lankal sou vervloek het. "

Dus juis in jou swakheid kom die krag van my genade die beste tot sy reg, Paulus. Hoe swakker jy in jouself is, hoe duideliker straal my krag in jou uit.

En so kan Ek jou die beste gebruik om my kerk te vergader van mense wat hulle nie vergaap aan allerhande spesiale belewenisse nie, maar wat hulle saam uitlewer aan my genade. 'n Kerk van mense wat weet dat hulle self niks spesiaals het nie, maar dat hulle God baie spesiaal is!

Dié les, broeders en susters, wat Paulus moes leer, moet ons ook vanaand van Christus wil leer.

'n Doring in die vlees kan dus nodig wees!

Ons moet vanaand nie sug oor die ongelukkige sameloop van omstandighede nie. Ons moet wil insien dat Christus hierdie sameloop van omstandighede blykbaar weloorwoë so beraam het. Dit is blykbaar beter so.

Ek sal moet leer dat dit vir my as predikant beter is om nou Pretoria en Suid-Afrika te verlaat. Sodat ek my nie verhef nie. Juis as daar 'n situasie ontstaan dat ek kan begin dink die voortgang van die Here se werk hier is nou veral van my en my gawes afhanklik, stuur die Here my weg. Ek sou my sommer kon begin verbeel dat die broeders Bosman en Viljoen en dalk nog ander NG- predikante wat hul voetspore kan volg, sonder my hulp en begeleiding nie sal regkom nie; dat my kennis en ervaring onmisbaar is vir die Sendingwerk, dat die groeiende kontak met mense buite ons kerke sonder my waarskynlik weer sal platval...

Maar om te voorkom dat ek myself al hoe belangriker begin voel, en al hoe meer van sy genade begin vergeet, dwing die Here my om op 'n ander plek weer heel van voor af te begin.

U as gemeente moet leer aanvaar dat dit ook vir u beter kan wees om in hierdie tyd weer klein en afhanklik gemaak te word. Ook u kan u mos al hoe belangriker begin voel, veral noudat dit blyk dat ons die laaste jare 'n onverwagse aantrekkingskrag blyk te hê. U voel mos gevlei dat juis hier in Pretoria ons dienste gereeld deur mense van buite besoek word. Ons het daarvoor al spesiale aanpassings gemaak: nie meer rook op die kerkplein nie, 'n verwelkoming van die gaste deur die Evangelisasiekommissie...

Juis nou wil u so graag kan spog met goeie predikante wat ordentelike Afrikaans praat, met 'n bloeiende gemeentelewe, 'n groeiende Sendingwerk, ons eie Kleuter- en laerskool.

Maar juis nou maak die Here u weer al hoe kleiner en afhankliker van sy genade.

En sou ook vir die broeders Bosman en Viljoen hierdie doring in die vlees nie heilsaam kan wees nie? Hulle wil natuurlik juis nou, noudat hulle in ons kerke predikant mag word, aan hul familie en vriende wat nog in die NG-kerk agtergebly het, graag bloeiende Vrye Gereformeerde Kerke wys, met predikante wat deeglike preke lewer... En juis nou kom hulle alleen te staan. En daar het nie so veel uiterlike aantrekkingskrag oorgebly by die Vrye Gereformeerde Kerke nie.

Ons gevoel sê: hoekom doen die Here dit? As Hy dit nie so sou laat gebeur het nie, sou ons so veel meer vir Hom kon beteken het.

Maar Hy sê vanaand tot ons almal: dis beter so. Dis die beste so.

Want ook by julle word my krag die beste sigbaar as julle swak is. Ek neem julle alles af waardeur julle op julself en op uiterlikhede sou kon roem. Julle hou slegs my genade oor. En dit behoort genoeg te wees. As julle daarin roem, kan julle die meeste vir My beteken.

3. Daarom gaan ons vanaand nie treur oor die doring in ons vlees nie. Ons laat ons daardeur ook nie moedeloos of opstandig maak nie.

Ek gaan u selfs nie oproep om dus maar daarin te berus nie.

Maar ek roep u, en myself, op om, soos Paulus, te roem in ons swakhede.

Ons voel gekortwiek vanaand.

Ons ís ook gekortwiek.

Maar dit is Christus Self wat dit gedoen het. Opsetlik. Om ons nog meer bruikbaar te maak in sy genadediens.

Hy het ons in onsself swak en klein gemaak. Sodat sy krag des te meer in ons kan woon.

Hoe kleiner en afhankliker van God se genade ek gemaak is, des te meer sal ek in my nuwe gemeente en in die Nederlandse kerkverband kan beteken.

Hoe swakker en afhankliker br Bosman en br Viljoen hulleself voel, des te kragtiger predikers van God se genade sal hulle onder u kan word.

Hoe kleiner en afhankliker u as gemeente en as drie Vrye Gereformeerde Kerke saam gemaak is, des te meer sal u God se genade in hierdie land kan grootmaak.

Hoe meer die Sendingwerk in Mamelodi en Soshanguve beproef en gekortwiek word, des te duideliker sal dit wees dat die voortgaande groei enkel en alleen aan God se genade te danke is.

Dus het ons 'n behae in die noodgedwonge aanvaarding van 'n beroep na 'n nuwe gemeente, in vakatures, in die gemis van kollegas met ervaring, in ons eie swakheid en afhanklikheid.

Ons voel nie nie langer behoefte om te kla oor dorings in ons vlees en oor satansengele wat gemene vuishou uitdeel nie. Ons gee nie meer om nie.

Ons beroem ons juis met welbehae daarop.

Want ons weet nou: as ons swak is, dan is ons juis sterk.

Dan maak God se genade ons sterk.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)