Die lewe is 'n geskenk wat ons alleen uit Christus se hande kan ontvang

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
I Korinthiërs 15
Preek Inhoud: 

PREEK OOR 1 KORINT. 15: 32B EN 58

LITURGIE:
Votum en Seëngroet
Ps. 90: 2, 9
Gebed
L. 1 Kor. 15: 12-34
Prediking
Ps. 30: 8
Geloofsbelydenis
Ps. 115: 9
Huweliksformulier
Ps. 116: 8 voor die gebed
Gebed
Ps. 116: 7 na die gebed
Kollekte
Ps. 49: 1, 6
Seën

Broeders en susters, bruidspaar,

Die troudag van Johan en Lize val presies tussen Goeie Vrydag en Pase, tussen die dag waarop ons as volk van God die dood van ons Verlosser gedenk en die dag waarop ons sy opstanding vier.

Op die Goeie Vrydag moes ons Here Jesus Christus doodgaan om vir ons die lewe terug te verdien. Op Pase mog Hy weer opstaan om vir ons die lewe terug te gee.

Ons word dus in hierdie dae weer nadruklik daarby bepaal dat ons lewe 'n geskenk is wat ons alleen uit Christus se hande kan ontvang. Alleen deur Hom is ons lewe nie 'n voortdurende sterwe nie, maar 'n daaglikse voorbereiding op die ewige lewe op 'n nuwe aarde eendag.

Dis belangrik dat ons ook by die begin van 'n huwelik weereens spesiaal daarby stilstaan.

Julle, Johan en Lize, mag 'n nuwe lewe begin. Julle gaan nou saam die lewe in. En dalk mag daar uit julle huwelik nuwe lewe groei.

Maar dit alles het alleen moontlik en sinvol geword danksy Christus se dood en opstanding! Alleen daardeur is daar vir julle 'n toekoms, is daar vir julle kinders, as die HERE dié vir julle sal gee, 'n toekoms. Alleen danksy Christus se dood en opstanding het julle lewe, ook julle huwelikslewe sin en uitsig. Want dit eindig nou nie meer eendag in die dood en in 'n graf nie, maar dit lê onder die perspektief van die ewige lewe. En dit mag 'n daaglikse voorbereiding op daardie lewe wees.

Moet maar baie dankbaar daarvoor wees.

Die apostel Paulus teken in ons eerste teksvers hoedat die lewe word as so'n perspektief nie daar sou wees nie. Trefseker tipeer hy wat daar van die lewe word as ons nie verder sou kon kyk as dood en graf nie. Dan hou ons 'n leeg en oppervlakkige lewentjie oor: "laat ons eet en drink, want môre sterf ons".

Daar was in die gemeente te Korinthe blykbaar mense wat die gevaar geloop het om tot so'n leë lewensstyl te verval. Hulle het geglo dat die lewe van 'n mens eindig in die dood. Hulle het nog wel aanvaar dat ons Here Jesus Christus uit die dood opgestaan het, maar hulle het nie die gevolgtrekking daaraan verbind dat daar ook vir ons eendag 'n liggaamlike opstanding en 'n lewe op 'n vernieude aarde sal wees nie. Waarskynlik onder invloed van die Griekse filosofiese denkklimaat van daardie dae, het hulle geglo dat by die sterwe, danksy die oorwinning van Christus, die siel van die mens uit die tronk van die lewe in die liggaam hier op aarde verlos word om nooit weer daarna terug te keer nie. Die lewe in die liggaam op aarde is dus as nutteloos troosteloos beskou en die enigste uitsig wat ons sou hê, is dat ons danksy Jesus Christus eendag, as ons sterwe, vir goed ons rug daarop mag draai.

Die apostel van Christus het onmiddellik raakgesien dat hierdie verkeerde gedagtes 'n ernstige bedreiging vir ons lewe vandag hier op aarde vorm.

Hierdie dwaalleer maak die lewe leeg!

Want as daar vir ons geen liggaamlike terugkeer na hierdie aarde is nie, as ons dood die definitiewe afskeid van die lewe op aarde beteken- waarvoor leef ons vandag dan nog? ! Watter nut het ons bestaan vandag dan nog? Dan leef ons mos maar net om eendag te sterwe!

U sal dit almal kan aanvoel: as die dood die die finale streep onder ons lewe hier op aarde vorm, is die sin van die bestaan maar heel betreklik meer. Mens kan hom inspan en druk maak- maar waarvoor sal hy so maak? Mens kan wel allerlei ideale najaag, maar by jou dood sal jy tog alles agterlaat. As ons lewe hier op aarde slegs uitmond in die graf of die krematorium, dan gaan 'n mens mos van die een dag in die ander lewe, vanuit 'n oppervlakkige mentaliteit dat jy maar moet geniet wat jy kan, want môre kan dit vir altyd verby wees.

As daar geen dooies opgewek word nie, laat ons dan eet en drink want môre sterf ons. Dit is die konsekwensie, sê Paulus: 'n sorgelose en goddelose lewenshouding. Jy kan dit vroom kamoefleer. Jy kan van die opstanding van Christus bly praat, jy kan jouself 'n christen noem....... Maar die lewe hier vandag het vir jou nie regtig sin meer nie as jy glo dat met die dood alles klaar verby is. Dan soek jy vandag in jou hele lewe nie God en sy Koninkryk nie, jy span jou nie in om voortaan weer van harte gewillig en bereid vir die HERE God te lewe nie, maar jy soek net jouself. Jy soek om so veel moontlik van die lewe vandag te profiteer, want as die dood jou eendag wegruk is jou kans verby.

Ons sal sulke gedagtes soos wat daar in die gemeente van Korinthe geleef het, vandag nie meer raakloop nie. Alhoewel, die Oosterse mistiek waarin dieselfde ideë aangehang word, ruk die laaste jare gevaarlik op! Maar die moderne teologie wat vandag orals in die wêreld sy duisende verslaan, gaan selfs nog 'n stappie verder as daardie dwaalleraars in Korinthe. Vandag is daar baie mense wat hulleself nog altyd christene, ja, dikwels Gereformeerdes noem, wat selfs nie meer glo dat ons Here Jesus Christus regtig uit die graf opgestaan het nie. Dit sou maar net versinsels van sy dissipels wat Hom na sy dood baie gemis het, gewees het. En dus glo hulle ook nie meer in óns opstanding uit die dood op die Jongste Dag nie. Hulle glo selfs nie, soos die broeders en susters in Korinthe, in 'n lewe vir ons siel na hierdie lewe nie.

Met die dood is alles klaar verby. Jesus is vir hulle nie meer nie as 'n goeie voorbeeld hoe om die lewe hier op aarde vandag meer leefbaar te maak.

Hierdie sogenaamde "teologie" lei tot presies dieselfde gevolge as waarvoor die apostel Paulus alreeds gewaarsku het in ons teks in sy brief aan die gemeente te Korinthe: 'n leë lewensstyl. Die lewe verloor vir die mense sy sin noudat hulle geen ander uitsig as die dood en 'n graf oorgehou het nie. Die lewe word 'n aaneenskakeling van partytjies en plesiertjies waarmee die mense soveel moontlik probeer verdoesel dat hulle feitlik geen perspektief in hulle lewe meer het nie. Met oppervlakkige en uitbundige vrolikheid probeer hulle vergeet dat die dood hul daagliks bedreig en dat die dood die onvermydelike einde beteken.

Maar aangesien jy tog telkens weer gedwing word om die bedreigende werklikheid onder die oë te sien is daar baie mense wat al hoe meer hul toevlug neem tot alkohol en dwelms om die realiteit te probeer ontvlug.

Mense wil nog maar net werk om geld te verdien -veral nie minder as 'n ander nie- geld wat bestee kan word aan luukse, liefhebberye, sport en vakansies. Die lewe is maar kort nè, dus laat ons soveel as moontlik daarvan geniet.

Daar word groot kapitale in die sport gesteek, want daarmee kan die lewe tenminste nog 'n bietjie aantreklik en spannend gehou word.

Maar die lewe bly leeg. Onbevredigend. En sommer een groot ellende.

Ook die huwelikslewe, Johan en Lize, word deur so'n kortsigtigheid, waarby aan 'n opstanding uit die dood nie meer geglo word, aanhoudend ondermyn. Die nut van 'n huwelik word dan mos ook maar baie betreklik. En jy soek ook in die huwe maar net jouself en jou eie plesier. Solank die vuur van die hartstog hoog oplaai, is getroud wees nog wel aantreklik, maar daardie vuur brand nie altyd ewe hoog nie. En dan kom daar dadelik verwydering, want jy wil mos in hierdie kort lewentjie soveel as moontlik geniet. Dus: owerspel, egkeiding en weer 'n nuwe lewensmaat. Kinders word ook nie meer gewens nie, hooguit 1 of 2 omdat daardie kleintjies so oulik is. Kom daar onbeplan nog enetjie, dan laat jy dit in die hospitaal vinnig weghaal: aborsie.

Kom daar moeites, spanning, teëslae, dan vlug sulke mense sommer uit die lewe weg. Hulle skiet hulself, of hul hele gesin, of hulle vergas hulself en hul kinders in hul motor.

Kom daar 'n ongeneeslike siekte, liggaamlike en geestelike aftakeling, dan vra hulle vir die dokter dat hul lewe beeindig word: genadedood. Hoekom sal jy nog langer in hierdie lewe bly as dit vir jou nie meer aangenaam is nie?

U ken hierdie leefklimaat, broeders en susters. Die koerante, Huisgenoot, Sarie ens. vertel onophoudelik daarvan. Die verhaal van mense sonder uitsig, sonder perspektief, omdat die dood en opstanding van ons Here Jesus Christus hul lewe nie meer beheers nie. Ons kan dié leë leefklimaat raakloop by ons bure en kennisse, selfs wel by familie van ons wat hulleself nog wel christelik noem, ook nog wel 'n enkel maal kerk toe gaan, maar nie meer lééf uit die evangelie van die opstanding uit die dood nie.

Daardie leefklimaat bedreig ook ons. "Slegte gesprekke bederf goeie sedes" skryf Paulus direk na ons teks, in vers 33. Ons sou sê: Wie met pik omgaan, word daarmee besmet. Wie dikwels met hierdie tipe mense verkeer, wie uit hierdie tipe mense sy vriende kies, kan self ook tot so'n leeg lewentjie verval. Want as jy jouself voortdurend aan hul invloed blootstel sonder om daarteenoor 'n beter boodskap te bied - as jy net soos hulle ook alleen nog maar kan gesels oor die t. v. programme van gisteraand, oor die rugbywedstryd van onlangs, oor motors en vakansies, en swyg oor die betekenis van Christus se opstanding vir ons lewe van vandag en môre, dan word jou lewe ewe leeg as dit van die mense om jou heen. Leeg en sonder perspektief.

Daarom is dit baie belangrik dat ons bewus bly daarvan dat ons lewe wél perspektief het.

Ons glo mos, en ons vier dit dié dae met Christus se kerk orals op aarde, dat die Seun van God die lewe vir ons terug verdien en terug gegee het. Nie net 'n lewe as siel in die hemel nie, maar ook 'n lewe as verloste mens op 'n vernieude aarde. Daarvoor het Christus in die dood ingegaan, maar ook weer daaruit opgestaan.

Ons perspektief is nie net: "môre sterf ons" nie. Maar ons perspektief is: "ewig leef ons". Die dood is nie meer die einde nie en die graf nie die afbraak nie. Daar kom nuwe liggame op 'n nuwe aarde waar die dood in die oorwinning verslind sal wees. Hierdie verganklike sal eendag met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike met onsterflikheid, sodat in die Koninkryk van God eendag alles ewig sal wees. Die lewe loop nie dood nie. Die graftes sal oopgaan.

En vir wie dit glo, standvastig, sonder om te wankel, word die lewe vandag al baie sinvol en waardevol. Dié weet: ons word nie gebore om te sterwe nie. En dit is nie so dat alles wat ons in hierdie lewe doen, by ons sterwe weer afgebreek word nie. Aangesien daar 'n opstanding uit die dood is en ons lewe op hierdie aarde sy vervolg kry op die nuwe aarde, daarom is ons lewe elke dag 'n sinvolle aangeleentheid. Nóu word daar geleef en gewerk vir stráks. Ons besig wees is nie tevergeefs nie, danksy ons Here wat ons uit die mag van die dood losgekoop het.

Dis dié dat die apostel Paulus sy lank betoog in 1 Korinth. 15, waarin hy aan ons voorhou dat daar wel deeglik 'n opstanding uit die dood is, en hoe ons Here Jesus Christus ons vernederde liggame aan sy verheerlikte liggaam gelyk sal maak en on svir altyd by Hom sal neem- Paulus besluit hierdie hoofstuk met die woorde: "Daarom, my geliefde broeders (en daarby is die susters natuurlik ingesluit): wees standvastig, onbeweeglik (die Nuwe Vertaling het, en dis duideliker: onwankelbaar), altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie". Die apostel van die Here roep ons op om ons geloof in die lewe nie te verloor nie.

Die leë lewensklimaat rondom ons bedreig ook ons aanhoudend. En ook ons kan sommer kortsigting raak. Aan die sin van die lewe begin twyfel. Ook ons lewe word van tyd tot tyd deur golwe van twyfel oorspoel. As daar moeite en kommernisse in ons lewe kom. As onenigheid en gebaklei ons uitmekaar dryf. As siekte en ouderdom ons kragte begin sloop. As die dood, die laaste vyand wat nog vernietig moet word, sy mag laat voel.

Dan word ook ons soms bekruip deur die gevoel: waarvoor leef ons feitlik nog? Watter sin het ons lewe feitlik nog? Dan begin ons geloof wankel.

Maar dan roep die Woord van die Here ons terug na die sekerheid dat danksy Christus se oorwinning op die dood elke dag wat God vir ons hier op aarde gee om te leef, ewigheidwaarde het. Al verstaan ons die sin van ons lewe ook nie altyd dadelik nie. Ons moet dan maar net daaraan bly vashou dat die Here Jesus Christus nie sonder sin sy lewe vir ons gegee het nie. Hy het ons lewe weer sinvol gemaak.

As ons lewe maar in Christus se diens staan (ons tweede teksvers sê dat ons "oorvloedig moet wees in die werk van die Here!")- dan is dit sinvol. As ons in hierdie lewe nie onsself soek nie, maar, omdat Jesus Christus ons weer tot kinders van sy hemelse Vader gemaak het, God se Koninkryk en sy toekoms, dan is dit sinvol om jou daaglikse werk met ywer te verrig. Dan is dit sinvol om jou in te span in 'n veeleisende studie. Dan is dit ook sinvol om saam in 'n huwelik jou kragte te gee vir kerk en maatskappy, om kinders te verwek en te ontvang. Dan is die taak in die huishouding en in die opvoeding van kinders 'n uiters sinvolle besigheid. Dan is dit belangrik om nie by die eerste die beste onenigeheid en teleurstelling in jou huwelik mekaar te los nie, maar om ook dan trou te bly aan jou "ja"-woord op jou troudag.

Dan het selfs ongeneeslik siek enhoogbejaarde lewens hul betekenis nie verloor nie.

Want niemand van ons leef vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. As ons lewe en as ons sterwe, is dit tot eer van die Here wat ons vandag al op die pad van die lewe sonder einde geplaas het.

Moet maar aan dié geloof bly vashou, broeders en susters, Johan en Lize. Dan sal u lewe nooit leeg wees nie. Dan sal dit altyd vol wees. Daar sal 'n oorvloed van sinvolle aktiwiteit in die diens van ons Here en Heiland wees. Dan is elke dag 'n dag van voorbereiding op die nuwe aarde.

Dit beteken eenvoudig: dan span ons ons in geloof in op die plekkie waarop God ons in hierdie wêreld geplaas het, in die kerk, in die maatskappy, in die huwelik, om saam te bou aan God se toekoms: die nuwe hemel, maar ook 'n vernieuwde aarde.

Broeders en susters, bruidspaar: tot so'n sinvolle lewe roep die Woord van die Here ons vanmiddag op. 'n Vól lewe, ook 'n vol huwelikslewe, dat hom daagliks uitstrek na die vol-maakte lewe.

Want so'n vol lewe is alleen 'n sin-vol lewe. So'n lewe is ook alleen 'n troosvol lewe!

AMEN.

(Pretoria, 14 April 1990 Huweliksbevestiging van Johaen en Lize Kampman)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)