Die ongelooflike paasnuus eis geloof

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2017-12-20
Teks: 
I Korinthiërs 15
Preek Inhoud: 

Voor diens: Paasliedere Gesang 144, (146)147, (148)
Ps 149: 1, 2
Ps 149: 3, 4
Ps 118: 11, 12, 13
Skb 43: 4, 5, 6
Lees: 1Korinte 15: 1-28
Teks: 1Korinte 15: 20

Brs en srs,

Dit is Paasfees vandag! Dit is 'n dag om mekaar geluk te wens. Immers hierdie fees is die grootste fees wat 'n mens kan indink. So 'n fees gaan bv ver uit bo 'n mens se verjaarsdag.

By 'n verjaarsdag vier jy dat jy weer 'n jaar volgemaak het. Dus eintlik vier jy iets wat verlede tyd geword het. En jy moet op die dag van jou verjaarsdag maar afwag of daar weer 'n nuwe jaar vir jou gaan voorle.

Maar die Paasfees gaan daar ver bo uit. Wie daardie fees in geloof tot 'n feesdag maak, vier iets wat voorle. Die lewe le voor. Vir die dood is nie meer plek nie. Vir jou is die lewe!

Dit is ongelooflik goeie nuus natuurlik.

Kom ons benadruk 'n bietjie die woord 'ongelooflik'. Ongelooflik goeie nuus.

Want dit is dit inderdaad. Ongelooflik.

Ons het hoop ek almal vanoggend een of ander paasverhaal uit een van die evangelies by die huis gelees.

En wat in die paasverhale altyd weer opval is dat dit vir God glad nie 'n probleem was om sy seun uit die dood op te wek nie. Al voordat iemand op die eerste Paasdag sy oe oopgemaak het, het Jesus klaar die grafkelder verlaat.

Maar die gesukkel het begin toe mense oortuig moes word van die werklikheid van die opstanding van die Here Jesus. Toe kom die probleme. Die Here Jesus moes volgens die evangelies 'n hele paar keer verskyn aan sy volgelinge om hulle werklik te oortuig van die realiteit van sy opstanding.

En blykbaar is die opsomming in die evangelies nie eens kompleet nie, want Paulus noem nog 'n hele aantal ekstra verskynings van Jesus na sy dood en opstanding.

Hy doen dit met presies dieselfde bedoelings as waarmee die evangeliste van die verskynings van die Here Jesus vertel: Mense moet oortuig word van die waarheid van die ongelooflike Paasnuus.

En dit is ook die doel van die prediking op hierdie Paasoggend.

Ek verkondig U die evangelie soos volg:

Die ongelooflike Paasnuus eis geloof
namelik

  1. in die opstanding as feit
  2. in die opstanding as kragbron

 

Maar nou, Christus is opgewek uit die dode!

So skryf die apostel Paulus met 'n onmiskenbaar triomfantelike toon. Hy roep dit die Korintiers toe: Mense so is dit: Christus is opgewek uit die dode!

Blykbaar is hierdie woord nodig. Want dit is inderdaad 'n ongelooflike boodskap. Vir alle mense. Ons ken mos die lewe en die werklikhede daarvan.

Waar lewe is daar is ook dood.

Dit is die ervaring van ons almal. Ons weet, as iemand doodgaan dan is hy weg. Nooit sien ons hom terug nie. Daar is geen enkele kontak meer moontlik nie.

Dit is al 'n heel algemene menslike ervaring.

En daarom is die boodskap van 'n opstanding uit die dood, inderdaad ongelooflike nuus.

Vir die Korintiers aan wie Paulus 'n brief skryf kom daar nog 'n ekstra moeilikheid by. Hulle is nou egte Grieke. Vir 'n Griek is opstanding van 'n liggaam iets totaal onaanvaarbaars. Hulle is sterk beinvloed deur die Griekse filosofie waarin die mens in twee dele opgedeel word. Die een deel is die liggaam, die ander deel is die siel. En van die twee is die siel die belangrikste. Die siel is beskou as die edelste deel van die mens. Eintlik is dit so dat die liggaam die siel soos in 'n gevangenis vashou. As die mens leef is sy siel opgesluit in sy liggaam, maar na sy dood kom daar bevryding vir die siel. Dan is die siel vry en kan dan in ewige geluksaligheid lewe. Die liggaam kan dan maar rustig wegegooi of verbrand word. Dit is dan glad nie meer belangrik nie.

Wel, u kan voorstel as jy so oor die liggaam dink, dat dan 'n boodskap oor opstanding van die liggaam, heeltemal snaaks is.

Dit is volkome onvoorstelbaar vir die Griekse Korintiers.

En daarom het hulle amper vanself begin om die werklikheid van die opstanding weg te redeneer. Allerhande teoriee daaroor doen die rondte in Korinte. Byvoorbeeld hierdie: die opstanding het al plaasgevind vir ons. Namelik in ons harte toe ons tot geloof gekom het.

En met Jesus se opwekking was dit ook 'n bietjie anders as dat Hy werklik uit die dood met 'n egte liggaam opgewek is.

As Paulus van hierdie teoriee hoor kom hy onmiddellik in verweer. Dit kan hy in die gemeente nie toelaat nie.

Immers die opstanding is die hart van die evangelie.

As jy die feitelikheid daarvan begin bevraagteken, dan kom hang heel die evangelie boodskap in die lug.

En daarom begin hy in hoofstuk 15 met 'n verwysing na die evangelie wat hy aanvanklik in Korinte begin verkondig het.

So het hy dit verkondig, en so moet jy dit aan vaar as jy gered wil word: Christus het vir ons sondes gesterwe, Hy is begrawe en Hy is op die derde dag weer opgewek.

Dit is al waaroor dit gaan.

As jy hierdie nuus glo dan is jy gered. As jy hierdie nuus verwerp dan is aan julle die evangelie tevergeefs verkondig.

Die feit van die opstanding is hierby onmisbaar.

Immers die feit van die opstanding bewys vir ons twee dinge.

Die eerste is dit: Jesus Christus het met sy middelaarswerk heeltemal klaargekom. Volgens die Skrifte moes die Middelaar sy lewe gee as 'n offer vir ons sondes.

Wel, as Christus dan daarvoor ondergaan in die dood, dan is die feit van sy opwekking deur God 'n onmiskenbare bewys dat God tevrede is met die betaling.

Alles is volbring, het Jesus gesug toe hy sy lewe gegee het.

Jaseker alles is volbring, het Sy Vader bevestig toe Hy Hom opwek uit die dood.

Die tweede rede hoekom die werklikheid van sy opstanding so belangrik is vir ons, is dat ons slegs verlos kan word deur 'n lewende Christus. Ons het niks aan 'n Middelaar wat sy lewe wel gewaag het, maar wat daarby sy lewe ook verloor het. Ons soek 'n lewende Verlosser.

En daarom vertel Paulus so uitvoerig oor die verskynings van Jesus.

So belangrik is dit om die opstanding as 'n werklike feit te aanvaar.

In veel moderne teologie kry ons vandag weer 'n bevraag-tekening van die feit van die opstanding.

Dan word gese: die feit kannie eg gebeur wees nie. Dit is vir 'n moderne mens onaanvaarbaar, maar se hulle dan verder, die geloof daarin het tog sy effek op mense en dit is waaroor dit tenslotte gaan.

As mense glo dat Christus opgestaan het, dan kom hulle in beweging en gaan iets doen met betrekking tot die koninkryk van God. Daarvoor is die feitelikheid van die opstanding glad nie tersake nie, dus ons hoef dit ook nie aan mense te laat glo nie.

Wel, dit is net soiets as wat jy 'n donkie wat nie wil stap nie iets lekkers voorhou, maar met dat hy vorentoe stap beweeg ook die kar wat hy trek vorentoe en daarmee die lekkers wat hom aangebied is. Hy kry dus niks nie, maar hy het darem wel in beweging gekom.

'Dit is nie waar nie, maar dit werk wel. '

Ek sou nie graag met so'n boodskap die preekstoel op Paasdag wil beklim nie.

Want, se Paulus, wat se evangelie bly dan oor?

As Christus nie opgewek is nie, dan word ons ook nie opgewek nie.

As Christus in die dood gebly het dan is daar vir ons nie lewe nie. Dan gaan ons netso in die dood onder.

Maar nou, Christus is opgewek uit die dode!

Dit is die heuglike feit waarvoor ons vandag by mekaar is en wat ons vandag mag vier.

Christus is opgewek uit die dode.

Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het.

Die Heilige Gees gee hier vir Paulus 'n pragtige beeld in die pen. Christus as eersteling.

Die woord 'eersteling' moet ons in verband bring met die oes. In Israel is altyd die allereerste opbrings van die oes met groot vreugdebetoon verwelkom.

Die eerste bos koring wat gesny is, is in triomf huistoe gebring, daar was selfs 'n spesiale fees. Die eersteling fees.

Die eersteling van die oes is beskou as 'n waarborg dat die res van die oes ook wel in orde sal kom. Die eersteling was dus deel van 'n geheel. Nie iets wat op hom self staan nie. Want as die een garwe al oes was, dan was daar niks om te vier nie.

Met hierdie pragtige beeld wil Paulus se: Die opstanding van die Here Jesus is nie 'n losstaande feit nie.

Ons opstanding is daaraan onlosmaaklik verbonde.

Juis daarmee het hulle in Korinte 'n probleem gehad.

Want hulle het blykbaar die opstanding van Jesus verklaar as 'n op sig self staande gebeurtenis.

Hulle het daar gese: Hierdie Jesus is so uniek, met Hom gebeur dinge wat verder met niemand gebeur nie. Hy is die Seun van God en daarom kon die dood Hom nie werklik vashou nie. God kan mos nie sterf nie. Dus Jesus is 'n heel uitsonderlike persoon. Uit wat met Hom gebeur kan 'n mens geen enkele konklusie trek nie.

Wel teen hierdie tipe redenerings in roep Paulus: Nee! Nee!

Jesus Christus is 'n eersteling!

En op 'n eersteling volg noodwendig 'n hele oes. Dit is die begin, daar kom meer!

Die opstanding van Jesus uit die dood is nie 'n eensame uitsondering nie, maar sy opstanding is die begin van 'n nuwe reel. Hierdie nuwe reel: hulle wat aan Jesus toebehoort sal ook opstaan uit die graf.

By die een feit behoort die ander.

Glo in die feit van Jesus se opstanding, dan is daar vir jou ook 'n opstanding.

Verwerp jy die feit van die opstanding van Jesus, dan sal die graf jou liggaam eenmaal opneem en nooit meer afstaan nie.

2. geloof in die opstanding as kragbron

 

Ons het sopas die siening aangehaal dat die feit van die opstanding nie so belangrik is nie. Dan word byvoorbeeld gese: dit gaan maar net daarom dat Christus in jou hart opstaan. Of dat jy jou deur die Paasboodskap in beweging laat bring. Donkie-filosofie is dit natuurlik.

Immers sonder die waarheid van die feit geld dit wat Paulus in vers 14 se: As Christus nie opgewek is nie, dan is ook ons prediking vergeef en vergeefs is julle geloof!

Dus dit is duidelik. As ons hier vanoggend staan en beweer dat Jesus nie werklik uit die dood opgestaan het nie, dan kon ons ewesogoed huistoe gaan. Dan sit ons mekaar se tyd hier op te mors.

Maar tog is in die siening dat dit in die Paasboodskap gaan om die verandering wat dit in mense teweeg bring terdee 'n element van waarheid.

Want dit gaan vanoggend inderdaad daarom dat u almal u deur die boodskap van Pase in beweging laat bring.

Die korte inhoud van die evangelie is volgens vers 3 dit: Christus het vir ons sondes gesterf, Hy is begrawe en Hy is weer opgewek.

Dit is die evangelie. Maar nou moet ons iets toevoeg. Dit: as jy die boodskap in geloof aanvaar, dan gebeur dieselfde met jou!

Paulus skryf op 'n ander plek: Ons het met Christus gesterf, ons is met Hom begrawe, ons is met Hom opgewek.

En wat is dan paasgeloof?

Dit is dat ons leef uit hierdie feit. Dat ons reeds gesterf het, begrawe was en opgewek is.

Ek weet, dit is 'n beeld van Paulus, maar maak hierdie beeld tot 'n werklikheid in u lewe.

Se vir uself: ek was klaar in die graf, ek is klaar opgewek uit die dood.

Weet u wat dit beteken?

Dit beteken dat jy totaal anders aankyk teen hierdie lewe.

Jy mag jouself voorstel. Jy het reeds gesterf. Toe het jy na die hemel gegaan. Daar het jy die Here Jesus sien sit op sy troon aan die regterhand van sy Vader. Jy het Hom in sy heerlikheid gesien. Soos byvoorbeeld eens Stefanus die Here in sy heerlikheid gesien het.

En toe, nadat jy dit alles gesien het, het jy teruggekeer na die aarde.

Besef jy dat daarmee die hele lewe op aarde in 'n totaal nuwe perspektief kom?

Immers as jy die heerlikheid van God gesien het, as jy sy troon aanskou het, en dan kom jy weer hier, wat beteken dan vir jou eer van mense?

Wat se vir jou die besit van baie geld?

Hoe belangrik is dit om 'n magsposisie te besit?

In vergelyking met die hemelse heerlikheid wat jy gesien het is dit mos almal klatergoud, onbetekenende sake, nie die moeite werd om jou werklik vir in te span nie. Jy weet mos van soveel meer? Iets wat soveel groter is.

Wel dit bedoel ons as ons die geloof in die opstanding 'n kragbron noem.

Die geloof gee jou lewe 'n heeltemal ander perspektief.

Ek het dikwels meegemaak dat mense wat skielik besef, hul aardse lewe is nou amper op 'n einde dat hulle dan insig kry in talle dinge. Dan eers vra hulle hulself af, wat het ek in die lewe nou eintlik nagejaag?

Waarmee was ek so verskriklik besig?

Watter opofferings het ek my getroos vir talle dinge, en nou besef ek die was najaag van wind.

Perspektief. Mense kry dit dikwels as dit te laat is om nog iets aan hul lewensloop te verander.

Maar gemeente, vir julle is dit vandag nie te laat nie. Dit kan nog. Die Paasevangelie gee vir julle almal 'n wonderlike geleentheid tot hersiening van julle perspektief.

Vra jou af in die lig van die opstanding van Jesus Christus en in die lig van jou deel daarin of jy jou werklik besig hou met die dinge wat saak maak, of dat jy eintlik ook maar net wind najaag.

Vir wat leef jy eintlik?

Om ryk te word?

Om eer van mense te ontvang?

Om 'n belangrike posisie te kry?

Of: wil jy leef vir jou roeping?

God het jou mos met Christus opgewek.

Jy is dood vir die sonde. En jy is lewend vir God.

Gemeente, laat die boodskap van Pase vir u 'n kragbron laat wees. 'n Kragbron vir lewensvernuwing.

Besef wie u eintlike Heer is. Bedink hoe u hom kan behaag. Dan word u lewe ryk.

Ek weet, 'n mens kan gepla word deur baie sorge en probleme.

Dit is maar deel van die lewe op aarde. Niemand sal dit vryspring nie.

Maar hou die regte perspektief!

As daar probleme is waarin u nie onmiddellik 'n oplossing sien nie, se dan die woord van ons teks vir mekaar: Maar nou, Christus is opgewek uit die dode!

Dit maak tog alles anders?

Baie geluk broeder! Baie geluk, suster! Dit is paasfees vandag!

Kom ons spoor mekaar aan tot 'n groot Paasvreugde.

Die Heer het werklik opgestaan. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)