Die gevaar van smaakbederf

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2017-12-20
Teks: 
I Korinthiërs 10
Preek Inhoud: 

PREEK OOR 1 KORINTH.10: 6

LITURGIE:
L. 1 Korinth. 10: 1-22
Ps. 1: 1-3
Ps. 1: 4
Ps. 78: 15, 7, 8, 9, 10
Ps. 141: 4, 9
Ps. 16: 1, 2

Broeders en susters,

Mens kom dit by eerste lesing nie dadelik agter nie, maar in ons teksvers verwys die apostel Paulus na die geskiedenis van Num. 11. Almal ken daardie geskiedenis: as die volk Israel al 'n hele aantal weke deur die woestyn getrek het, raak hulle bietjie moeg vir die daaglikse kos wat hulle kry: die manna. Dis net manna wat hulle eet: manna-koeke, manna-pap.... Elke dag dieselfde. As hulle terugdink aan Egipte met sy lekker visse, sy komkommers, waatlemoene, prei en uie, kan hulle die manna al heeltemal nie meer deur hulle keel kry nie!

Hoekom gee die HERE nie 'n keer bietjie vleis vir hulle nie?

Aan dié geskiedenis herinner Paulus hier in 1 Korinth. 10.

Maar hy hou dit vervolgens ook as 'n waarskuwende voorbeeld aan ons voor. Want volgens Paulus was die Israeliete destyds "begerig na slegte dinge".

En dié gevaar kan ook ons sommer bedreig.

Maar broeders en susters, wat was dan so verkeerd met die verlange van die volk Israel na 'n keer 'n lappie vleis op hul bord? ! En wat het dit met ons vandag uit te waai?

Kom ons luister na die waarskuwing van Christus se apostel in hierdie Skrifgedeelte.

As ek dit probeer saamvat kan ek sê dat ons hier gewaarsku word vir:

DIE GEVAAR VAN SMAAKBEDERF

DAARDIE GEVAAR BEDREIG ONS

  1. AS ONS SMAAK IN DIE KWAAD KRY
  2. AS ONS DIE SMAAK VAN GOD SE GENADE KWYTRAAK

1. In ons tekshoofstuk is die apostel Paulus nog steeds besig om die saak te bespreek wat hy in hoofstuk 8 aangesny het. U onthou nog uit die vorige preke: die broeders en susters van die kerk te Korinthe het aan die apostel die vraag voorgelê of mens mag deelneem aan maaltye wat in die tempelgeboue van 'n afgod gehou word. In hul stad was sulke maaltye skering en inslag. Familie wat heidens gebly het, het 'n partytjie gereël. Plek: een van die sale by die tempel. Die besigheid het 'n aand vir die personeel belê. Plek: in die tempelgeboue.

Maar by sulke maaltye het daar altyd vleis op die tafel gekom, en ander kos, wat eers op die altaar van die afgod gelê het.

Moes jy jou gevolglik as christen van al daardie tipe van maaltye onthou? Moes jy maar van al sulke partytjies wegbly? Nie saamdoen nie? Kon mens prinsipiële besware inbring teen sulke feeste?

Daar was broeders en susters wat daarvan glad nie 'n probleem gemaak het nie. Hoekom sou jy as christen nie kan saamdoen nie? Hulle het hul beroep op hul kennis, hul geloofsinsig dat daar mos feitlik glad nie afgode bestaan nie. Daar is maar een God, die Vader van ons Here Jesus Christus. Dus bestaan daar ook geen afgodsvleis nie. En daardie gebou is 'n gebou soos alle ander geboue in Korinthe. Die heidene vereer wel 'n hele klomp afgode, maar 'n christen lag daaroor. Hy weet van beter. En as jy maar so christelik nugter bly, sal die deelneem aan sulke maaltye jou regtig geen kwaad doen nie. Jy eet darem gewone vleis!

Maar daar was ook ander lidmate in Korinthe se gemeente. Broeders en susters wat baie meer huiwerig gestaan het teenoor alles wat met die afgodsaltaar in aanraking was. Vir hulle was dit nie sommer vleis nie, maar iets waarmee hulle onlangs radikaal gebreek het en waarmee hulle voortaan niks meer te make wil hê nie.

Twee opvattings in die een gemeente. Teenoorgestelde menings. Menings wat tweespalt kon veroorsaak.

Baie sorgvuldig en pastoraal het Christus se apostel hierdie vraagstuk aangepak.

Hy het nie direk na die kern van die probleem deurgestoot nie, maar hy het allereers gekonsentreer op die houding van die een teenoor die ander in Korinthe se gemeente. Want daardie selfversekerde broeders en susters wat met hul logiese redenering gou klaar was met hierdie saak, het bietjie geringskattend neergekyk op lidmate wat nie met 'n geruste gewete aan heidense tempelfeeste durf saamdoen het nie.

Dus moes hulle daar in Korinthe allereers leer dat ons nie in opgeblasenheid op mekaar mag neerkyk in die kerk nie, dat ons nie aan mekaar mag verbykyk nie; maar ons moet oppas dat ons nie deur ons voorbeeld 'n swakker broeder of suster saamsleep op 'n pad waarop hy of sy kan struikel en terugval in die heidendom nie.

Die apostel waarsku: besef jy wat jy doen as jy jou broeder voorgaan op 'n pad waarop die duiwel heelwat vatkans het?

Jy voel jouself dalk sterk in jou geloof. Jy reken jy kan daardie pad sonder gevaar loop. Maar wat van jou swakker broeders en susters? Mag jy dit riskeer dat deur jou voorbeeld jou swakker broeder of suster verlore gaan?

Dié les onderstreep Paulus vervolgens in hoofstuk 9 met sy eie voorbeeld. Ja, hy leer vir sy broeders en susters dat dit nie genoeg is om jou swakker broeder nie te laat struikel nie. Jy moet hom probeer win.

Ons moet nie net dophou of ons swakker broeders en susters ons wel kan byhou op die pad waarop ons meen dat ons kan gaan nie. Ons moet ter wille van hulle bereid wees om uit ons pad te gaan sodat hulle die pad na Christus vind.

Die Evangelie van Christus se offer vir ons vra van ons 'n offerbereidheid om ook ander te red.

Maar dan kom hoofstuk 10.

En nou gooi die apostel skielik die roer kragtig om. Tot nou toe het hy die redenasie van dié lidmate wat gedink het hulle staan sterk genoeg om aan heidense partytjies saam te doen, nie regtig aangeveg nie. Inteendeel, hy het hom selfs 'n oomblik in hul standpunt verplaas.

Maar nou moet die apostel tog vir hulle duidelik maak dat hul skynbaar logiese redenering: "daar bestaan geen afgode nie, dus.... ", darem nie kan standhou nie.

Nou moet hy waarsku: "Wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie". Kyk vs. 12. Ja, (vs. 14): "Vlug vir die afgodediens, my geliefdes".

Want daardie vleis mag dan gewone vleis wees, die tempelgebou mag 'n gebou soos enige ander gebou in Korinthe wees, maar jy stel jou daar wel bloot aan 'n verleidelike duiwelse invloedsfeer. En voor jy dit self weet, is jy teruggesuig in die ou heidendom.

Om dit vir sy broeders en susters duidelik te maak gryp Paulus dan na 'n aantal indringende voorbeelde uit die geskiedenis van God se ou verbondsvolk.

Kyk hoe het die HERE eendag die Israeliete uit Egipte uitgelei. Vol liefde en sorg het die God van die verbond hulle almal saamgeneem uit die doodloopstraat van die goddeloosheid in Egipte uit na die lewe in vryheid toe.

Maar, herinner Paulus, hoeveel van hulle het daarna in die woestyn gesterwe! Hoeveel is deur God se toorn neergeslaan omdat hulle feitlik in die heidendom teruggeval het?

En moet dan mooi kyk, gemeente, watter voorbeelde die apostel aanhaal om duidelik te maak hoedat hulle deur die duiwelse geeste na die heidendom teruggesuig is.

Hy herinner in vs. 7 aan die sonde met die goue bulkalf in die Sinaiwoestyn. Maar dan haal hy juis dié vers uit Exodus 32 aan wat die beste die afgodiese feessfeer van destyds tipeer: "Die volk het gaan sit om te eet en te drink en het opgestaan om te speel.. ". Die Israeliete wou met daardie bulkalf nie hul rug op die HERE draai nie. Inteendeel, hulle wou dat die HERE met hulle sou bly saamgaan deur die woestyn. Maar Moses het nie teruggekom van die berg af nie, en Moses was die verteenwoordiger van die HERE in hul midde. En dus moes daar 'n nuwe verteenwoordiger kom. En soos hulle dit in Egipte geleer het, het hulle daarvoor 'n goue beeld wat lewenskrag simboliseer, gemaak. Maar hoor wat roep Aäron as die kalf gemaak is: "Môre is daar 'n fees tot eer van die HERE!". Ja maar die fees wat toe georganiseer is, het heeltemal 'n heidense fees geword. Afgodery, sê Paulus. Hulle het die feesstyl van die Egiptiese afgodediens oorgeneem. En die sfeer van daardie fees was sodanig dat hulle weer heeltemal smaak in die afgodediens gekry het.

Paulus herinner ook aan die lis van Bileam wat Israel in opdrag van koning Balak van die Moabiete moes vervloek maar dit nie kon regkry nie. U onthou: toe het Bileam by sy smadelike aftog koning Balak tog nog 'n middel aan die hand gedoen om God se volk die seën te laat verspeel. Sy advies was: met geweld gaan u hierdie volk nooit onderkry nie, want God veg vir hulle. Nee, u moet 'n heeltemal ander plan probeer. Nooi hulle hartelik vir een van u offerfeeste; organiseer 'n partytjie, skakel julle mooi dogters in en jy sal sien dat hulle kom. En as hulle hul dan in 'n roes laat meesleep deur hul hartstogte, wel, dan sal tog God se vloek oor hulle losbreek. Want dan is hulle terug in die heidendom.

En so het dit gebeur: Israel het hom aan die Moabietiese feesroes oorgegee en die mans en seuns van God se verbondsvolk het hulle tot hoerery met heidende dogters laat verlei. En dieselfde dag het God in sy toorn 23. 000 Israeliete neergeslaan!

Israel se geskiedenis is alles voorbeelde vir ons, wys Paulus. En as Paulus hier van "voorbeelde" praat, bedoel hy: modelle, voorafbeeldings. In daardie verlossing uit Egipte het die HERE die verlossing uit die sonde alreeds aangedui. Die deurtog deur die Rooisee was reeds 'n voorafbeelding van die doop, die manna uit die hemel en die water uit die rots 'n voorafbeelding van die Nagmaal. Maar die verleidingstaktieke van die duiwel was ook alreeds modelle van sy strategie van alle eeue. Daarom het God dit in die heilige Skrif laat opskrywe. Ons moet dit reëlmatig lees en daarvan leer. Ons moet ons daardeur ook laat waarsku. Ons het reeds baie verder gekom as die volk Israel. "Die eindes van die eeue" het op ons gekom. Die modelle is inmiddels deur die werkelikheid wat God destyds beoog het, vervang. Ons ken ons Verbondsgod inmiddels baie beter as Israel. Ons ken Hom as die Vader van ons Here Jesus Christus, wat ons nie uit die slawerny van Egipte nie, maar uit die slawerny van die duiwel uitgehaal het. Ons ken die duiwel en sy gevaarlike taktieke inmiddels ook baie beter. En ons weet dat hy, na Christus se oorwinning en hemelvaart, met groot woede op die aarde rondgaan omdat hy weet dat hy min tyd meer het. Daarom moet ons ons des te meer deur Israel se geskiedenis laat waarsku.

Want die duiwel sal dit bly probeer om ons so ver te kry dat ons weer smaak in die heidendom kry.

Was die maaltye wat reëlmatig by 'n afgodstempel in Korinthe georganiseer is en waarvoor ook die christene genooi is, regtig so onskuldig? Wie meen dat hy staan moet oppas dat hy nie val nie! Want die sfeer wat sulke feeste omgewe het, was baie verleidelik. Natuurlik, daar bestaan nie eintlik afgode nie, en die vleis wat op die tafel gesit is, was gewone vleis. Maar die hele sfeer tydens so'n maaltyd, met opswepende musiek, sang en dans, dronkenskap- dit alles het gevloek met die heiligheid van die verbond met die HERE. Boonop het ook dié maaltye met hoerery gepaard gegaan. Sogenaamde tempelprostitute het hulself aangebied om in die diens van die afgod hulleself aan die vrugbaarheid te wy. En as jy eenmaal weer smaak in sulke byeenkomste gekry het, is jy verlore! Jy mag dalk meen jy is sterk genoeg om die verleidinge te weerstaan, jy glo nie in afgode nie, maar wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.

Die waarskuwing klink vandag ook nog aan ons adres, gemeente. Die waarskuwing teen smaakbederf. Ook ons kan sommer smaak in die kwaad kry. Ook vandag nog kan ons allerhande sake met 'n gedeë prinsipiële betoog "onskuldig" noem en onsself en mekaar wysmaak: "wat se kwaad steek daar eintlik in? "

Maar wee ons, as ons onderwyl die verleidelike invloede onderskap waaraan ons onsself onnodig blootstel. Dit mag miskien taamlik onskuldig lyk om so af en toe 'n keer te fliek as daar 'n fatsoenlike film gewys word. Maar as jy een keer smaak gekry het.....

Is dit regtig so verkeerd om 'n keer 'n disko te besoek om gesellig bietjie te drink en met mekaar te gesels? Jy het jou mos klaar voorgeneem om nie te veel te drink nie en om die dansery maar te los. Ja, maar moet maar kyk: heelwat verbondskinders het op hierdie wyse algaande smaak gekry vir die disko. Hulle het toenemend in die ban van die sfeer daar geraak en toe het hulle al hoe meer in die disko en al hoe minder in die kerk gekom.

Steek daar nou regtig soveel kwaad in as jy ook boeke lees van goddelose skrywers? Boeke vol godslastering en seksuele losbandigheid, ja- maar jy wéét mos wel dat dit verkeerd is. Sulke boeke het dan op ons mos nie so veel invloed nie?

Maar as sulke lektuur een keer in die smaak begin val....

Ek kan dieselfde sê van daardie aantreklik blaaie soos Sarie, Huisgenoot, Rooiroos. Is ons sterk genoeg om die normloosheid wat openlik ons daaruit tegemoetkom, te weerstaan? Is ons regtig? !

Hoe dikwels het ook ook gehoor: "By ons is die televisie regtig wel in goeie hande. Jy kan daardie ding mos afskakel! Ek laat rêrig nie alles maar in my huis inkom nie... " Maar wat was die praktyk?

Wie meen dat hy staan...... ken hy homself wel in al sy kewsbaarheid? Ken hy die duiwel wel?

2. Maar hoekom word 'n hart van 'n kind van die HERE tog telkens deur sulke verleidelike en gevaarlike plekke en dinge getrek, broeders en susters?

Ja, waarom soek party kerkkinders die verleiding selfs willens en wetens op?

Om op die vraag 'n antwoord te kry, moet ons 'n slag na die geskiedenis van Numeri 11 kyk, waarna Paulus eerste verwys het.

Die Israeliete in die woestyn het na 'n aantal weke begin walg van die daaglikse manna en daarom begerig geword na vleis. Was dit nie bietjie verstaanbaar nie? Wie van ons hou dit vol om weke aanmekaar dieselfde kos te eet?

Ja maar, Israel het die smáák van die manna nie meer geken nie! Hulle het in die manna nie meer die smaak van God se genade geproe nie.

Want kyk wat het Paulus in vs. 1-4 van ons tekshoofstuk geskrywe: God het op 'n wonderbaarlike manier sy volk uit die ondergang van Egipte uitgehaal. Hy self het met hulle in 'n wolk saamgegaan. Saam met hul middelaar Moses is hulle dwarsdeur die water van die Rooisee uit die mag van die Farao van Egipte bevry. Toe het 'n reis deur die woestyn gevolg. En in 'n woestyn is daar geen weelde en oorvloed nie. Maar God het hulle daar geleer dat Hy by magte is om selfs in 'n woestyn vol liefde sy volk te versorg met alles wat hulle benodig. Hy het die kos sommer uit die hemel laat sneeu, en die water het sommer uit die rots gevloei.

"Geestelike spys" was dit, skryf Paulus. En "geestelike drank". Natuurlik was die manna egte kos, voedsel vir die maag, en die water wat uit 'n rots gestroom het, was gewone water om die dors te les. Maar terselfdertyd was dit voedsel en drank wat die Heilige Gees wou gebruik om die geloof van God se volk te versterk. Kyk hoe magtig versorg nie HERE sy kinders. Selfs in 'n droë woestyn kan almal volop eet en drink. En as God nou alreeds so sorg, hoe sal dit dan aanstonds in die beloofde land wees!

Dát God so vir hierdie volk wou sorg, was die ene genade, broeders en susters. Dit het hulle toe alreeds alleen aan Christus te danke gehad. Daarom skryf Paulus ook in vs. 5 van ons tekshoofstuk: " want hulle het gedrink uit 'n geestelike rots, en die rots was Christus". Daardie rots van klip was nie die eintlike bron waaruit hulle water ontvang het nie. Daar was 'n ander Rots, die betroubare fondament onder hulle bestaan, wat hierdie volkie deur die woestyn gedra het: Christus. Danksy Christus is hulle uit Egipte bevry, danksy Christus het God hulle deur die woestyn gedra, danksy Christus mog hulle na die lewe in die rus in die beloofde Kanaän reis.

Kyk, en dié smaak van die manna het die Israel al gou nie meer geproe nie. Die manna was vir hulle geen gééstelike spys meer nie. Hulle het God se goedheid en genade om Christus ontwil daarin nie meer geproe nie. En toe was hulle al gou sat van daardie kos. En die water uit die rots het hulle ook nie meer gesmaak nie.

So, gemeente het die terugglyding na die heidendom begin. Israel het God se genade nie meer gesmaak nie.

En daarom sal Paulus net nou vir die Korinthiërs op wie die eindes van die eeue gekom het, die Nagmaal ter sprake bring. Dit is vandag óns geestelike spys en drank. Die maaltyd van God se verregaande liefde vir ons, sondaars. Ons mag nog veel meer die genade van God proe as die Israeliete in die woestyn destyds. Ons eet en drink in die kerk die volkome vergewing van al ons sondes. Uit genade alleen, danksy Christus se hoogste opoffering vir ons.

Wie dié smaak geproe het en daarmee versadig is, is glad nie meer hongerig na die lekkernye van die wêreld rondom hom wat in die heidendom leef nie. Wie saam met sy broeders en susters in die kerk geëet en gedrink het aan die tafel van die Here, het hoegenaamd geen behoefde aan al die partytjies en plesiertjies waarvoor die wêreld hom nooi nie.

Maar wanneer kry 'n mens dus smaak vir slegte dinge? As die kos in die kerk nie meer as genadebrood gesmaak word nie. As die spys en drank van Christus se totale liefde ons nie meer in verrukking bring nie, maar ons begin verveel. As daar by ons gewenning optree oor die lewe in die kerk en in die gemeenskap van die heiliges.

Moet maar oplet: watter verbondsjeug voel die meeste aangetrek tot fliek, disko toe gaan en so meer? Dié wat nie daarvan hou om weekliks saam in die vereniging die blye boodskap van God se goedheid oor ons lewe te ondersoek nie; die wat hulle al 'n ruk eenkant gehou het in die gemeenskap van die heiliges en vriende en vriendinne buite die kerk gevind het, want "in die kerk is almal so saai en bekrompe".

Op watter kerklidmate het die televisie saans die meeste aantrekkingskrag? Op die wat jy in die mannevereniging nie sal sien nie; op dié wat nie daarvan hou om baie te lees nie en op die wat jy in 'n gemeentevergadering, of 'n sprekersaand, of 'n vergadering van die skoolvereniging nooit sal sien nie.

By watter broeders en susters word veral die oppervlakkige en gevaarlike blaaie soos Sarie, Huisgenoot ens. gevind? By die wat nie veel meer boeke oor die rykdom van die lewe in die verbond met die HERE het nie as dié wat hulle by hul openbare geloofsbelydenis gekry het.

Daarom roep die apostel van Christus ons hier in 1 Korinth. 10 na die smaak van die Nagmaal terug, gemeente. Na die feesvreugde van die gemeenskap met ons genadige God en met mekaar in die kerk.

Ons, op wie nog meer as op die Korinthiese gemeente destyds die eindes van die eeue gekom het, ons mag danksy Christus met God op pad wees na die ewige vreugde van die hemelse Kanaän. Dis nog altyd in 'n bepaalde opsig 'n woestynreis: heelwat genietinge van hierdie wêreld word aan ons ontsê. Maar ons staar ons tog nie blind op dit wat ons nié het nie? Ons ken mos die betekenis van ons doop en ontvang in die nagmaal telkens die voorsmaak op wat eendag gaan kom. Ja, vandag reeds oorlaai God ons dag aan dag met ryke seëninge.

Wie dit geproe het, moet daaraan genoeg hê.

Want ons kan nie deel hê aan die tafel van die HERE en ook aan die tafel van die duiwels nie. Dis by die HERE alles of niks. Wie by Hom en in sy kerk nie alles vind nie, en daarom ook daarbuiten sy plesiertjies soek, hou op die ou end niks oor.

O ja, die HERE kan jou 'n ruk laat swelg in daardie ekstra genoeëns wat jy gesoek het. Maar algaande ver-swelg dit jou. En die duiwel neem weer die beheer oor jou lewe oor.

Daarom, my geliefdes, ontvlug die afgodery. En smaak en sien hoe goed die HERE is.

AMEN.

(Pretoria, 17 Maart 1991)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)