Wie sy broeder wil win, moet bereid wees om daarvoor iets prys te gee

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
I Korinthiërs 9
Preek Inhoud: 

PREEK OOR 1 KORINTH.9: 19-23

LITURGIE:
L. 1 Korinth. 9
Ps. 106: 1, 2
Ps. 106: 20
SB. 7: 1, 3, 4, 10
Ps. 18: 12
Ps. 22: 11, 12

Broeders en susters,

Ons kerkraad het verlede jaar 'n aantal prinsipe-uitsprake gedoen oor die implikasies van die opname van die sendinggemeente in Mamelodi as 'n selfstandige gemeente in ons kerkverband. As ons daarvoor bid en daaraan werk dat daar eendag 'n selfstandige gemeente in Mamelodi geïnstitueer kan word, moet ons ook daarop voorbereid wees dat ons byvoorbeeld afgevaardigdes van daardie gemeente in ons Sinodes sal ontmoet. Maar watter taal moet ons dan praat?

Die kerkraad het uitgespreek dat ons bereid moet wees om tydens ons Sinodes die Engelse taal as voertaal te gebruik as dit vir die oorbrugging van die taalverskil noodsaaklik sou wees.

Tydens die laaste Mini-kongres wat met die jeug van Mamelodi en Soshanguve gehou is, is ook alreeds die Engels as voertaal gebruik. Terwille van 'n goeie kommunikasie met ons jeugdige broeders en susters uit die sendinggemeente.

Maar.... is dit regtig nodig?? Moet ons ons bestaan as Afrikaantalige gemeente in die weegskaal stel terwille van 'n paar swart broeders en susters? Kan hulle nie bietje meer moeite doen om die Afrikaans te probeer verstaan nie?

Vanweë ons betrokkenheid by die sendingwerk het ons sendelinge kontak gesoek met die susters wat die jaarlikse Vroue Saamtrekdag organiseer om dié Saamtrek ook vir die susters van Mamelodi en Soshanguve meer aantreklik te maak. Kan daar ook liedere uit hul bundel Lifele tsa Sione gesing word? Kan daar nie 'n kort samevatting van die lesings wat gehou word, in Sotho gegee word nie? Is daar dalk nog ander aanpassings paslik?

Ek vra weereens: moet dit regtig? Is dit nie bietjie teveel gevra dat ons susters in húl Saamtrek in allerhande opsig moet rekening hou met daardie paar swart susters, wat die helfte van wat daar gesê en bespreek word, tog nie verstaan nie?

Toe ons op 27 Januarie 'n gemeenskaplike diens met die sendinggemeente gehad het ter geleentheid van die bevestiging van ons drie sendelinge, is daar op belangrike punte opofferings van u gevra. Ter wille van ons broeders en susters uit Mamelodi en Soshanguve is die grootste gedeelte van die diens getolk in Sotho. Daardeur moes u ekstra konsentreer om alles mooi te kan bly volg. Die prediking was ook as anders; en ter wille van die sendinggemeente bietjie eenvoudiger. En ons het behalwe ons eie Psalms ook 'n tweetal geestelike liedere uit hul Kerkboek gesing.

Ek vra nogmaals: was dit die moeite werd om ter wille van 'n gemeenskaplike erediens soveel tegemoetkomings aan ons swart broeders en susters te maak?

Ons teks van vanaand dwing ons om oor hierdie tipe van vrae -en ek sal in hierdie preek nog ander voorbeelde noem- na te dink. Want die apostel van Christus leer ons hier hoe dat ons houding moet wees in allerhande situasies waarin die Here swakker broeders en susters op ons pad geplaas het.

Die boodskap in ons teksverse is, as ek dit kortliks saamvat:

WIE SY BROEDER WIL WIN, MOET BEREID WEES OM DAARVOOR IETS PRYS TE GEE.

In twee punte wil ek vir u wys:

  1. HOEDAT ONS ONS SWAKKER BROEDERS KAN TEGEMOETKOM
  2. HOEDAT ONS OOK ALLEEN SO SELF AAN DIE EVANGELIE KAN DEELHÊ

1. Paulus praat in ons tekshoofstuk nogal uitvoerig oor homself, broeders en susters. En dalk het party van u by eerste lesing die indruk gekry dat Paulus ook nogal selfingenome oor homself praat:

Kyk hoe 'n goeie mens is hy! Hy het ongetroud gebly om hom nog meer te kan inspan vir sy werk as apostel; hy vra nie eens 'n traktement nie, maar verdien met sy eie hande sy lewensonderhoud, hy pas hom aan by almal met wie hy in aanraking kom: vir die Jode word hy 'n Jood, by die Grieke gedra hy hom soos 'n Griek.....

Maar voordat u die apostel Paulus oor spoggerigheid veroordeel, moet u eers bietjie met my kyk na die verband waarin hierdie gedeelte staan.

Wanneer Paulus in vs 1 van hoofstuk 9 vra: "Is ek nie vry nie? ", is daardie vraag spesiaal bedoel vir party lidmate van die kerk te Korinthe wat hulleself as christen so vry gevoel het dat hulle sonder beswaar aan heidense offermaaltye in 'n afgodstempel deelgeneem het. Hulle argumentasie was heel eenvoudig: daar bestaan nie eintlik afgode nie. Daar is mos maar een God, die Vader van ons Here Jesus Christus. Afgode is blote fantasie van domme mense. Maar: wanneer daar geen afgode bestaan nie, bestaan daar mos ook nie 'n afgodstempel nie. Daardie gebou is vir 'n christen eenders met enige ander gebou. Daar bestaan ook nie afgodsvleis nie- daardie vleis mag dalk op die altaar van die afgod gelê het, maar ons glo nie daaraan nie; dis vir ons gewone vleis soos alle ander vleis.

In hoofstuk 8 het die apostel hierdie redenasie onder die loep geneem. En hy het vir sy Korinthiese broeders en susters geleer dat, al sou hul argumentasie ook heeltemal reg wees (maar in hoofstuk 10 sal hy duidelik maak dat hierdie argumentasie lewensgevaarlik is! Maar goed: )- al sou dit inderdaad hul christelike vryheid wees om afgodstempels te mag besoek, hoe staan hulle daarmee teenoor hul medebroeders?

Wat van jou swakker broeders en susters? , vra die apostel. Mag jy dit riskeer dat deur jou voorbeeld 'n broeder of suster wat nie so sterk staan nie, ook weer die afgodstempels begin besoek maar vervolgens heeltemal in die heidendom teruggesuig word en verlore gaan?

In daardie geval het jy nie maar net teen 'n broeder of suster gesondig nie, maar teen Christus!

Hoofstuk 9 is eenvoudig die vervolg oor hierdie kwessie. Want nou wil hy vir sy broeders en susters ook leer dat dit nie genoeg is om jou swakker broeder net te laat struikel nie. Jy moet hom probeer win.

Het u gesien hoe dikwels die apostel daardie woord in ons teksverse gebruik: 5 keer die woordjie win en in vs. 22 ook nog 'n keer die woordjie red.

Ons moet nie net dophou of ons swakker broeders en susters ons wel kan byhou op die pad waarop ons meen dat ons kan gaan nie. Ons moet ter wille van hulle bereid wees om uit ons pad te gaan sodat hulle die pad na Christus vind.

En in dié verband wys Paulus op sy eie voorbeeld. Hy het hoofstuk 8 afgesluit met 'n baie sterk uitdrukking: "As voedsel my broeder laat struikel, sal ek in der ewigheid geen vleis meer eet nie". Dit was maar nie groot woorde nie. Paulus se hele lewensstyl bewys dat hy bereid is om iets prys te gee as hy daarmee broeders en susters kan win. Hy sou hom as apostel van Jesus Christus heelwat vryhede mag veroorloof. Daarmee begin hy in vs. 1, en hy herhaal dit aan die begin van ons teksverse, vs. 19. Hy hoef feitlik met niemand anders as met sy Sender, Christus self, rekening te hou nie. Nogtans maak Paulus bewus van meerdere vryhede geen gebruik nie. Ja, meer nog, kyk hoe formuleer hy dit in vs. 19: Hy wat as dienskneg van Christus "van almal vry was" het hom "aan almal diensbaar gemaak". Hy het rekening gehou met die gevoelens en verlangens van ander. Hy was bereid om die minste te wees en homself op te offer. En dit alles ter wille van die groot doel: "om soveel as moontlik te win".

"Vir die Jode het ek soos 'n Jood geword, om die Jode te win; vir die wat onder die wet is, soos een wat onder die wet is, om die wat onder die wet is, te win".

Paulus wás self 'n Jood. Op-en-top 'n Jood wat 'n deeglike leerskool in die Wette van Moses ondergaan het by die rabbi Gamaliël. Maar hy het na sy ontmoeting met onse Here Jesus Christus op die pad na Damaskus geleer dat die onderhouding van daardie wette jou nie kan saligmaak nie. Hulle was slegs padwysers na Christus wat jou aanhoudend daaraan herinner het om jou lewe nie in jou self te soek nie. En van toe af het Paulus al ditgene waarop hy hom vroeër beroem het, bewustelik oorboord gesit. Hy skryf in sy brief aan die Filippense: "Maar wat vir my wins was, het ek om Christus wil skade geag. Ja, ter wille van Christus Jesus het ek dit alles prysgegee en as drek beskou, om Christus asa wins te verkry, en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is". Heel sy Jood-wees het onbelangrik vir hom geword.

Nogtans: hy het bereid gebly om hom so veel as moontlik aan te pas by die Jode wat nog vasgesit het aan die Mosaiese wette. In alle plekke waar hy as apostel die eerste keer gekom het, het hy allereers aansluiting by die Jode gesoek, in hul synagoge gepreek en aangepas aan hul liturgie.

Toe hy Timotheüs leer ken het en hom wou saamneem op sy sendingsreise, het hy Timotheüs eers besny. Ter wille van die Jode met wie hulle in aanraking sou kom.

Hy het homself nog verbind tot die Nasireërgelofte en 'n hele ruk sy hoofhaar nie gesny nie. Toe hy in Jerusalem was en die broeders daar hom daarop wys dat die Jode wat hulle tot Christus bekeer het, nog moeilik kon verwerk dat Paulus van die christene uit die heidene nie verlang het om die seremoniële wette van

Moses na te leef nie, was Paulus direk bereid om op voorstel van die broeders met 'n paar ander na die tempel te gaan en hulle te help by die aflossing van hul gelofte.

So was die apostel van Christus bereid om vir die Jode 'n Jood te wees, om vir die wat nog onder die Mosaiese wet was, ook onder die wet te wees. Hy wou hom aanpas, vryhede prysgee, om daardeur moontlik ander vir Christus te win.

Maar aan die ander kant wou hy vir die heidene, wat sonder wet was, ook sonder die wet wees. Hy het nie van hulle geëis dat hulle nog al die Outestamentiese wette stiptelik moes nalewe nie. Hulle is mos in Christus vervul. Skuduwees van sy koms, maar hoekom sal jy nog na die skaduwee bly kyk as die persoon self in jou blikveld gekom het? Paulus het nie omgegee om hom rustig by hul eet- en leefgewoontes te moet aanpas nie. 'n Griek leef nou maar eenmaal anderste as 'n Jood, en 'n Romeinse stadsbewoner weer anderste as 'n Griekse boer van die platland. Maar die apostel van Christus het hom neergebuig en aangepas. In die diens van die evangelie. Sy een groot teiken het hom gedrywe: soveel van hulle as moontlik te win vir Christus.

Dalk sê u, gemeente: so'n aanpasbaarheid was nie baie prinsipieel van Paulus nie! Mens moet tog jouself bly! Ja, was dit feitlik nie onopreg nie? Jy kan mos nie met alle winde saamwaai nie. Dit is al nie reg in die wêreld nie, dit mag sekerlik nie in die kerk nie. Daar word vir ons wel ander goed gesê: mens moet vir die waarheid durf uitkom, al kos dit jou ook die liewe vrede en die rus. Want die waarheid gaan bowenal.

Dis reg, broeders en susters: die waarheid gaan bowenal. Maar dit het Paulus ook baie mooi geweet en in praktyk gebring. Hy was rêrig nie 'n slappe huigelaar wat nie vir sy eie mening durf uitkom het nie. Moet maar die brief aan die Galasiërs lees: openlik het Paulus sy medeapostel Petrus weerstaan, toe Petrus eers met christene uit die heidene aan een tafel geëet het, maar homself gou teruggetrek het toe daar christene uit die Jode gekom het. En bietjie verder in daardie brief aan die Galasiërs waarsku Paulus sy broeders en susters om hulleself beslis nie ter wille van die christene uit die Jode te laat besny nie, want daarmee sou hulle feitlik hul rug op Christus draai. En moet ook maar hierdie brief aan die Korinthiese gemeente lees. Paulus durf rêrig wel die waarheid te sê. As daar 'n sondige lewenshouding is, neem Christus se apostel geen blad voor die mond nie, al kos dit ook die liewe vrede.

Dan pas hy hom beslis nie aan nie!

Hy kan en mag dit nie. Want hy het wel gesê dat hy vir die wat sonder wet is, self ook soos een sonder wet wil word. Maar hy voeg -kyk maar vs. 21- dadelik toe: "al is ek nie sonder die wet van God nie, maar onder die wet van Christus".

Solank hy nie in stryd kom met die wet van Chrístus, is hy bereid om homself volledig weg te syfer, as hy daardeur ander mense met sy Evangelie kan red.

Sy bereidheid om homself by ander mense aan te pas, is dan ook nooit 'n verloëning van die norme van sy Here nie. Timotheüs se besnydenis ter wille van die Jode byvoorbeeld: het die apostel daarmee sy hele betoog in die brief aan die Galasiërs ontkrag? Glad nie. Want Timotheüs moes allank besny gewees het aangesien sy ma 'n Jodin was en sy hom ook 'n opvoeding as verbondskind gegee het. Maar blykbaar het Timotheüs se pa, 'n heiden, dit gekeer. Wanneer Paulus hierdie onbesnede Timotheüs as medewerker sou saamneem, sou hy by voorbaat op weerstand kon stuit by die Joodse gemeenskap. En die hindernis wou die apostel graag wegneem as dit diensbaar kon wees aan sy groot opdrag: mense red met die Evangelie van Christus.

Die apostel is nie oormoedig nie. Kyk hoe versigtig druk hy hom uit aan die einde van vs. 22: "Vir almal het ek alles geword om in alle geval sommige te red". Al sou hy daardeur ook maar twee of drie mense meer vir Christus en die ewige lewe kan win, ter wille van daardie twee of drie is hy bereid om alles wat maar moontlik is prys te gee.

Die apostel van Christus roep ons met sy voorbeeld tot navolging, gemeente. Ons sendelinge kry hier 'n belangrike raad: die wat Basoetho's en Zoeloes uit die duisternis van heidendom en sinkretisme na die lig van Christus wil roep, moet bereid wees om nie net aan hul taal nie, maar ook aan hul kultuur en gewoontes aan te pas so veel as maar moontlik is.

Predikante, ouderlinge en diakens ontvang hier 'n wyse les: 'n predikant wat in die stad grootgeword het, sal vir die boere in sy gemeente 'n boer moet wil wees as hy 'n goeie band met ook dié lidmate wil opbou. 'n Ouderling wat self 'n bouer is, moet hom inspan om in die leefwêreld van studente tuis te raak as hy sinvolle huisbesoeke by die studente in sy wyk wil bring.

U almal ontvang hier 'n waardevolle les, gemeente. 'n Les met betrekking tot die onderlinge verkeer met u broeders en susters wat in u oë in meer as een opsig nie so sterk staan soos u nie. Miskien onthou u nog dat ek in my preek oor die vorige hoofstuk gesê het dat ons die strydpunt in die gemeente van Korinthe of jy mag deelneem aan offermaaltye in 'n afgodstempel, kan vergelyk met strydpunte by ons soos: mag ons fliek? Watter programme en rolprente mag ons sien op die televisie? In hoe 'n mate is alkoholgebruik geoorloof vir 'n christen.

In hoofstuk 8 het die apostel van Christus geleer: al meen jy ook jy doen 'n geoorloofde ding- as jou swakker broeder of suster daardeur op 'n verkeerde pad gebring word en teruggly in die wêreld, staan jy skuldig, nie net teenoor hom of haar nie, maar ook teenoor jou Here in die hemel.

In ons teks uit hoofstuk 10 leer u vanoggend: as jy deur uit die fliek of die disko weg te bly en in stede daarvan jou skoolmaat saam te neem na die jeugvereniging of 'n sprekersaand, hom of haar vir Christus kan win, het jy self niks armer geword nie en het jou skoolmaat 'n ewige lewe ryker geword.

As u deur die televisie af te skakel of selfs uit u huis te verwyder om in plaas daarvan eindelik weer eens diepgaand te gesels met u kinders, 'n kind wat reeds besig was om onverskillig te raak vir God se Koninkryk kan terugwin- hoe groot is dan dié wins in vergelyking met die offer wat u daarvoor gebring het.

As u besluit om ter wille van u vriend en broeder waarvan u weet dat hy met drank geen maat kan hou nie, self ook glad nie meer te drink nie, om hom te help in sy moeisame stryd teen die dranksug- en mee deur u hulp verloor die drankduiwel sy slagoffer, dan was die prys wat u daarvoor moes betaal niks in vergelyking met die wins wat Christus kon boek.

En kom ons kyk nou ook nog 'n slag na die vrae wat ek in die inleiding op hierdie preek gevra het. Per slot van rekening het Paulus sy brief ook allereers gerig aan 'n gemeente in 'n sendingsituasie. En het hy tegemoetkomendheid gevra juis ook met betrekking tot broeders en susters wat swakker was omdat hulle nog nie so heel lank met die heidendom gebreek het nie.

Ons kan heelwat vir ons broeders en susters uit Mamelodi en Soshanguve beteken. Die Here het hulle deur die sendingarbeid waarmee ons self eendag begin het, op ons weg geplaas. In baie opsigte kan mens hulle nog "swak" noem. Ons kan hulle help om sterker te word. Ons moét dit ook. Dit het niks met politieke ideale uit te waai nie, dit is ons Skriftuurlike roeping in die gemeenskap van die heiliges wat breër is as net ons eie gemeente.

Is dit dan so'n groot offer as ons in ons Sinodes en tydens kongresse die Engelse taal inskakel as dit kan help om beter met mekaar te kommunikeer? Kom ons daardeur in stryd met die wet van Christus? Of handel ons dan juis volgens die wet van Christus?

En as ons susters by die opstel van die program van hul Saamtrekdag 'n aantal tegemoetkomings maak aan die susters uit die sendinggemeente, sodat hulle ook so veel as moontlik hul wins kan doen met so'n dag- moet hulle dan 'n onoorkoomlike offer bring, of word daar maar net van hulle gevra om net soos Paulus vir die swakkes soos 'n swakke te word om die swakkes te win?

In hierdie maande word van u 'n offer gevra vir die kerkbou in Mamelodi. Gesien hul eie taal en kultuur is die sendingsbeleid daarop gemik dat ons broeders en susters daar 'n selfstandige swart gemeente word, met hul eie kerkgebou.

In verhouding met daardie broeders en susters is ons almal ryk. Ook ons kerklike lewe is ryk. Ons eie kerkgebou is pragtig. Is ons bereid om iets van ons rykdom prys te gee sodat nie al dadelik die groot verskil in vergaderruimte 'n belemmering vir ons swakker broeders en susters gaan wees om met ons een te wees in geloof, hoop en liefde nie?

Ons het weens die uitsonderlike gebeure dat drie sendelinge bevestig is, 'n gemeenskaplike erediens met die sendinggemeente gehou. Daar is lidmate wat geweier het om daardie diens by te woon omdat hulle groot besware gehad het teen die aanpassings wat in daardie diens noodsaaklik was. Ek kan dit maar weer reguit noem, want hulle praat self openlik daaroor. En hulle het hul protes publiek gemaak deur uit daardie kerkdiens weg te bly.

Sommige van daardie broeders en susters het gemeen dat die kerkraad 'n onoorkoomlike struikelblok op hul pad gelê het. Maar moet hierdie lidmate nie hulself die vraag afvra: in hoeverre is ek bereid om my swart broeders en susters tegemoet te kom, nie net deur 'n enkele keer 'n diens in hul eie armoedige skoollokaal by te woon nie, maar deur hulle ook 'n keer in ons eie ryke kerkgebou te ontvang en saam met hulle die Here te dank vir die voortgang van sy kerkvergadering in hierdie land en hierdie stad? Sondig ons teen die wet van Christus as ons saam met ons broeders en susters ook uit hul kerkboek probeer sing? Sondig ons teen die wet van Christus as ons die prediking ook in hul eie taal hoorbaar maak? Of sondig ons juis teen die wet van Christus as ons nog nie eens bereid is tot sulke aanpassing slegs 'n enkele maal?

As ons nie eens tot sulke tegemoetkomings bereid sou wees nie, sou ons dit nie werd wees om sendende kerk te wees nie!

2. Ja, dan is ons die Evangelie nie eens werd nie. Want dit is my tweede aandagspunt in hierdie preek waaroor ek nog baie kort iets wil sê.

Het u gelees hoedat die apostel sy oproep tot offerbereidheid in die diens van die Evangelie afsluit in ons teksvers? : "En ek doen dit ter wille van die Evangelie, dat ook ek 'n deelgenoot daarvan kan word". Paulus soek sy swakker broeders en susters. Hy wil alles doen om hulle te win vir God se Koninkryk. Maar hy moét ook tot so'n selfverloëning in die diens van die Evangelie bereid wees, as Hy saam met sy swakker broeders en susters gered wil word. Hy moet hom nie so gedra dat hy (kyk vs. 27) terwyl hy vir ander gepreek het, self verwerpelik sou wees.

En jy is verwerpelik vir God as jy wel die Evangelie met mooie woorde aan ander mense voorhou, maar jou dade reëlreg in stryd is met die hele gees van die Evangelie.

Die Evangelie is mos die blye boodskap dat God se eie Seun Homself totaal opgeoffer het vir ons. Hy, wat die hoogste heerlikheid in die hemel besit het, Goddelike majesteit, het van dit alles afstand gedoen en vir die mense 'n mens geword. Hy was Kind onder die kinders, het geëet met hoere en tollenaars, Hy het sy hande uitgesteek en melaatse mense, uitgestotenes, aangeraak. Hy het Hom ontferm oor afstootlike besetenes. Ja, op die ou end het Hy Hom selfs ter wille van ons, mense, en ons saligheid tot in die dood opgeoffer.

Ons word, gemeente, in ons teks dan ook feitlik nie opgeroep om Paúlus na te volg nie. Maar die apostel roep ons op om saam met hom Chrístus na te volg. Kyk ook maar hoe hy hierdie gedeelte van sy brief afsluit in hoofstuk 11: 1: "Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is".

Wie die boodskap van Christus se offer aan ander mense voorhou, maar daarby self geen enkele offerbereidheid toon nie, maak die boodskap van God ongeloofwaardig. So'n kerklid, so'n evangelieprediker, maar ek kan ook sê: so'n sendende kerk sal nie veel mense vir Christus win nie. Maar, en dié waarskuwing klink saam in ons laaste teksvers: so'n kerklid, so'n evangelieprediker, en dus ook: so'n sendende kerk het ook self nie regtig deel aan die Evangelie nie. Alles wys mos dat die hart nie regtig daardeur geraak is nie.

Wie nie bereid is om swakker broeders en susters tegemoet te kom nie, het Christus blykbaar nog nooit ontmoet nie.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)