God vra van ons geen kloostermentaliteit maar christelike nugterheid

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2018-01-21
Teks: 
I Korinthiërs 7
Preek Inhoud: 

PREEK OOR 1 KORINTH 7: 29-31

LITURGIE:
Ps 119: 6, 7
Gebed
L. Lukas 14: 15-33
Prediking
SB 50: 1, 4, 5
Huweliksformulier
Ps 61: 3, 4 voor die gebed
Gebed en seënbede
Ps 121: 2, 4

Ek is my daarvan bewus dat ek 'n teks gekies het wat op die eerste gesig nie so feestelik lyk vir 'n troudag nie: "die wat vroue het, moet wees asof hulle nie het nie".

Moet Peter en Fijma hiérdie woorde inraam en in hul slaapkamer ophang? !

Moet hulle so aan die getroude lewe begin: asof hulle nie getroud is nie?

Wat het die apostel Paulus bedoel met hierdie kriptiese woorde?

Eerder in hierdie hoofstuk het hy mos juis benadruk dat 'n mens die huwelik nie ligvaardig mag verbreek nie en dat man en vrou in die huwelik ook die huweliksverpligtings teenoor mekaar moet nakom - as u u Bybel saamgebring het: sien byv vs 5, en vs 10.

Hoe kan hy dan hier sê dat 'n man so met sy vrou moet saamleef asof daar geen band tussen hulle bestaan nie? !

Ja, ons begryp uit die motivering wat die apostel ook in ons teksverse gee, dat dit te make het met die tyd waarin ons leef. "Die gedaante van hierdie wêreld gaan verby" (vs31). Ons moet eendag -binnekort miskien al!- die dinge van hierdie lewe weer loslaat. Ook getroude mense moet mekaar as man en vrou eendag weer loslaat.

Wil Paulus daarom hê ons moet ons eintlik maar glad nie aan mekaar bind nie? Moet ons, moet Peter en Fijma probeer om so veel as moontlik innerlik los van mekaar te bly? Mag hulle nie teveel aan mekaar geheg raak nie?

En gee die apostel dieselfde advies met betrekking tot allerhande ander sake van hierdie lewe: jou werk, jou persoonlike besittings....?

Vra Paulus van ons 'n soort kloostermentaliteit: 'n afstandelike houding tot die lewe van hierdie wêreld omdat ons op pad is na 'n beter wêreld?

Maar hierdie einste Paulus het mos in 'n ander brief geskrywe, juis ook teenoor mense wat so 'n kloosterhouding aanbeveel het en hul broeders en susters verbied het om te trou: "Alles wat deur God geskape is, huwelik, voedsel, jou besigheid, is goed en niks is verwerplik as dit met danksegging ontvang word nie. " (1 Tim 4)

Hoe moet ons dan hierdie woorde in ons teks verstaan?

Kom ek vat dit so vir u saam:

GOD VRA VAN ONS GEEN KLOOSTERMENTALITEIT MAAR CHRISTELIKE NUGTERHEID

Ek kan dit ook so sê, en dit is dan die twee punte wat ek nader sal uitwerk:

OMS MOET ONS NIE LAAT LEI DEUR

  1. LEWENSVERAGTING NIE, MAAR DEUR
  2. TOEKOMSVERWAGTING

1. As ons Paulus se bedoeling in ons tekswoorde wil verstaan, sal ons eers 'n bietjie moet teruglees in hierdie hoofstuk.

Christus se apostel reageer hier op 'n stelling wat party lidmate van die Korinthiese gemeente blykbaar gemaak het en wat hulle in 'n brief aan Paulus voorgelê het. "Dit is goed vir 'n man om nie 'n vrou aan te raak nie", het hulle gesê, of, soos die Nuwe Vertaling mooier vertaal: "Dis goed vir 'n man om sonder 'n vrou te lewe". Kyk vs 1.

By hierdie absolute stelling begin Paulus direk 'n hele paar beperkings aanbring.

Ek stem op 'n manier wel saam, sê Paulus: dit kan vir 'n mens goed wees om ongetroud te bly, maar..... getroud is getroud! As jy nogtans getroud ís, moet jy ook trou wees. Dan mag jy in jou huwelik nie maak asof jy en jou huweliksmaat vreemdes vir mekaar is nie. Dan moet julle ook die liggaamlike kant van die getroude lewe aanvaar en die genot daarvan vir mekaar gun.

Dis ook teen die HERE se wil om wél van daardie liggaamlike genoeëns te wil proe, maar om nie te wil trou nie. 'n Huwelik is beter as hoerery.

En egskeiding is uit die bose. Selfs as jou man of vrou nie saam met jou tot geloof in Christus gekom en 'n kerklidmaat geword het, mag jy hom of haar nie sommer los nie. Die band van die huwelik is sterk en dalk wil God daardie band gebruik om later ook jou ongelowige lewensmaat tot Hom te bring.

Slegs as hy of sy jou los, is jy vry.

U sien: Christus se apostel staan dus nie so negatief teenoor die getroude lewe soos party broeders en susters in Korinthe nie. Dit blyk ook nog vlak voor ons teks, vs 28: "As jy tog trou, sondig jy nie, en as 'n meisie trou, is dit regtig nie sonde nie. "

Ook in ons teksverse veroordeel die apostel nie die huwelikslewe nie. Hy gaan daarvan uit dat manne en vroue trou.

Want Paulus ken die agtergrond vanwaaruit daardie broeders en susters in Korinthe so negatief oor die huwelikslewe praat. Hul stelling het uit 'n oorgeestlike, maar daarom juis ongeestlike houding voortgekom. Na hul bekering tot Christus en hul intree in die kerk het by hulle die gedagte ontstaan dat die huwelikslewe met sy hartstogte tot die sondige verlede gereken moet word waarmee hulle nou moes breek. Hulle het nou te goed vir die huwelik geword.

Ons wat ons huwelike in die kerk laat bevestig, kan so 'n gedagtegang miskien nie meer mooi verstaan nie. Maar dan moet u u probeer verplaas in daardie mense se lewe. Paulus skryf nog in die sendingsituasie. Dié dag toe daardie mense hul huwelik begin het, was hulle nog heidene. En wie sal sê op watter wyse hul huwelike tot stand gekom het: voorhuwelikse seks met verskeie mense, voorhuwelikse swangerskappe, geen troue uit 'n diepe liefde nie, maar as gevolg van blote hartstog.

Kan u verstaan dat daardie mense na hul bekering met skaamte op die totstandkoming van hul huwelik en die vroeëre jare van hul huweliklewe teruggekyk het?

Kan u verstaan dat by hulle die gedagte kon opkom dat dit vir 'n bekeerde Christen beter is om voortaan van die huwelikslewe af te sien? 'n Christen moet mos die vlees en sy slegte begeertes kruisig!

Boonop: het die Here Jesus nie self gesê dat dié wat waardig geag is om deel te hê aan die opstanding uit die dood, nie meer trou nie?

Ek het sopas gesê: ons vandag kan so 'n gedagtegang nie meer mooi begryp nie. Maar ken ons tog op 'n manier nie nog steeds wel soortgelyke situasies nie?

In die Roomse Kerk het hierdie selfde gedagtes gelei tot die selibaat: 'n monnik en 'n non trou nie, want hulle wy hul lewe aan die Here. Hulle is te hoog vir die huwelikslewe. Om jou aan die Here wy en om getroud te wees - daardie twee pas nie mooi bymekaar nie.

Maar daar was (en is?) ook wel Gereformeerde mense wat as 't ware in twee wêrelde leef. Hulle is getroud en ken ook die liggaamlike kant van die huwelikslewe, maar hulle beskou dit tog eintlik as iets wat sleg en vleeslik is en wat deur die HERE oogluikend toegelaat, maar nie goedgekeur word nie.

"Hulle knyp die kat in die donker" sê die mense van die wêreld dan.

En die kinders ervaar dat pa en ma wel oor die geloof en die kerk en alles kan praat, maar heeltemal toe is oor alles wat te make het met huwelik en seksualiteit. Daardie dinge is nie geïntegreer in hul lewe nie.

Nou ja, dit was ook die geval met daardie broeders en susters in Korinthe se gemeente: hulle kon huwelik en seksualiteit nie inpas in 'n lewe met de Here, 'n lewe deur die Heilige Gees nie.

En hulle was radikaal: 'n christenmens behoort nie te trou nie.

Uit dit wat Paulus skryf, lees ons wel tussen die reëls dat daar in Korinthe se gemeente klaar mense was wat hul huwelik ontbind het na hul bekering.

Teenoor daardie oor-geestlikheid handhaaf Christus se apostel dat 'n huwelik en seksualiteit as sodanig glad nie verkeerd is nie.

Hy verdedig die goeie reg van 'n christelike huwelik.

Paulus adviseer ons nie 'n kloostermentaliteit nie. Ons hoef ons rêrig nie uit hierdie wêreld terug te trek en van die natuurlike lewe afstand te neem nie.

Julle, Peter en Fijma, mag vandag intens gelukkig wees en mekaar dankbaar as man en vrou ontvang. Julle mag met familie en vriende 'n vrolike fees vier.

Julle mag vanaand die huweliksbed en die liefdespel aanvaar as 'n geskenk van God. Julle mog die goedjies koop waarmee julle jul huis ingerig het, en ook die mooie bruidsrok en bruidsruiker.

Pleks van om ons soveel as moontlik te onthou, mag ons juis dankbaar aanvaar alles wat God geskape het en waarmee ons ons lewe mag vul. Dit is alles geskenke van Hom waardeur Hy Homself in ons lewe wil grootmaak.

Die Here soek nie almal kloosterlinge nie, maar lewenslustige mense wat midde- in hierdie lewe staan.

God wil selfs dat ons dankbaar dit alles ontvang en nie minagtend ons neus daarvoor optrek asof dit sake van minder allooi sou wees nie. Dit alles behoort tot sy goeie skepping, wat Christus vir ons met sy bloed teruggekoop het en waardeur ons Hom nou weer kan eer. En watter mensie durf dan so hoogmoedig en eiewys te wees om die rug daarop te draai?

2. Paulus verwerp dus die gedagtegang van sy broeders en susters in Korinthe hartgrondig.

Tog lyk dit egter voortdurend asof Paulus op twee gedagtes hink. Hy maak wel allerhande aanmerkings op die stelling van daardie Korinthiese broeders en susters wat geleer het dat 'n mens liewer nie moet trou nie; maar terselfdertyd wys hy hul stelling darem ook nie radikaal af nie.

Dit lyk eerder, veral in ons teksverse, asof die apostel daardie mense in Korinthe tog op 'n manier ook gelyk gee.

En dis reg. Alhoewel Paulus met hul motivering glad nie saamstem nie, stem hy nogtans wel saam met hul stelling dat dit goed vir 'n mens kan wees om nie te trou nie. Dit kán inderdaad goed vir 'n mens wees om af te sien van die huwelikslewe en as 'n alleenloper deur die lewe te gaan.

Niemand van ons mag effens meewarig neerkyk op ongetroude mense nie! Ons maak 'n groot fout as ons spottend van 'n oujongnooi of 'n oujongkêrel praat.

Hoekom? Meen Paulus ook 'n Christen is te goed, te hoog vir die huwelik?

Nee, Paulus is juis bang dat ons dalk te swak vir die huwelik blyk te wees!

Kyk wat skryf hy vlak voor die begin van ons teks, in vs 28: "Ek wil julle spaar"

Want "die tyd is kort". In die oorspronklike Grieks gebruik Paulus 'n woord wat dikwels vir die seile van 'n skip gebruik word: "saamgebondel, opgerol".

Dit is wat gedoen word as die skip die hawe nader: die seil word gestryk: ons is amper tuis!

So word ook die seil van die tyd al opgerol omdat ons reeds besig is om die hawe van God se Koninkryk binne te vaar.

Wanneer 'n skip die hawe nader, kom almal aan dek. Die lewe op die water is byna verby en op die vaste land wag daar 'n ander wêreld. As die seile al gereef word, word alle aandag gerig op die aanlê in die hawe.

Dis dié dat Paulus daardie kriptiese woorde in ons teks geskryf het: "Van nou af moet ook die wat vroue het, wees asof hulle nie het nie; en die wat ween, asof hulle nie ween nie; en die wat bly is asof hulle nie bly is nie; en die wat koop, asof hulle nie besit nie... "

Ons mág trou en van mekaar hou, ons mág koop en besit, ons mág geniet en op sy tyd verdrietig wees. Dit behoort by hierdie lewe; by "die gedaante van hierdie wêreld" soos Paulus dit in vs 31 uitdruk.

Maar ons moenie vergeet dat dit alles dinge is wat al klaar besig is om verby te gaan nie.

Huwelike wat vandag groot vreugde kan gee of soms ook groot kommer en verdriet, is nie ewig nie: hulle loop uit op die bruilof van die Lam.

Dinge wat ons vandag baie verdriet besorg, sal binnekort verby wees as God alle trane van ons oë afvee. Mooi dinge waarmee ons vandag verskriklik bly is, verbleik net-nou by die ewige vreugde in die nuwe Jerusalem.

Alles wat ons vandag koop en besit, word dan vervang deur die skatte van die hemel.

Hiervan behoort God se kinders bewus te wees, in Christelike nugterheid. Hierdie toekomsverwagting behoort ons lewe van vandag te beheers.

Die wat op see vaar, moet op 'n skip lewe. So 'n lewe is tydelik en geen eindbestemming nie. Die vaste wal wink. 'n Mens kan geniet van die tydelike seelewe wat sy eie bekoring het, maar jy bou nie 'n groot huis op die skip se dek nie.

So moet ons ook nie so besig wees met vandag se dinge, so opgaan in ons troue en ons huwelik, in ons partytjies, maar ook in ons verdriet oor iets of iemand, in ons werk en ons besittings, dat ons met volle seile die tuishawe verbyvaar en êrens ander skipbreuk ly.

Dié waarskuwing word nog klemmender as ons besef dat ons lewensskip met die hawe in sig nog deur swaar storms getref kan word. Die Here het ons dikwels daarop voorberei in sy Woord.

En ook die apostel Paulus benadruk dit in hierdie gedeelte. Hy praat in vs 26 van die "aanstaande" (dis beter om te vertaal: die "bestaande, die huidige) nood". Die Nuwe Vertaling gee dit mooi en duidelik weer met: "die swaarkry van die eindtyd". En in vs 28 berei Paulus ons voor op "verdrukking vir die vlees".

Die duiwel sal die wêreldsee nog hoog opsweep om ons, voordat ons veilig kan aanlê, te laat verongeluk.

Ons moet voorberei wees op vervolging en gevangenskap, beproewing en aanvegting. Paulus kan self daaroor saampraat. Hy rammel in sy briewe dikwels met sy boeie: dink aan my gevangenskap!

As die storm die skip oorval, word die hele bemanning en ook al die passasiers aan dek geroep. Almal moet saamhelp om die skip deur die storm heen te kry.

In daardie angstige drukte kan 'n man en 'n vrou mekaar soms vir 'n rukkie of selfs vir langer tyd uit die oog verloor. Hulle het dan ook nie tyd om met hul persoonlike besittings besig te wees nie. Daar staan belangriker sake op die spel.

So kan dit in hierdie lewe met ons gebeur dat mekaar as man en vrou 'n tydlank kwytraak in tye van vervolging en verdrukking. En ons moet daarop by voorbaat voorbereid wees.

As 'n man en 'n vrou die geweld van die storm en die gewerskaf aan dek totaal en al aan hulle laat verbygaan omdat hulle maar net 'n oog en 'n oor vir mekaar het in die tweepersoonshut, mag dit wees dat hulletwee in die storm omkom terwyl die ander gered word.

Of as 'n man en 'n vrou in die gehuil van die orkaanwind aan niks anders kan dink nie as aan die moontlikheid dat hulle mekaar kan verloor, en daarom maar net vreesbevange aan mekaar vaskou, kan hulle nie nugter meer dink en saamhelp om die skip in die nabye hawe binne te loods nie. Dan is die kans groot dat juis hulletwee verdrink.

Kyk, dis wat Paulus in hierdie teksverse bedoel. En daarom kan hy sê dat 'n huwelik nie net sonskynkante het nie, maar ook 'n verswaring van jou moeite kan beteken. 'n Alleenloper kan hom ten volle konsentreer op die veilige aankoms in die hawe, veral ook as ons lewensskip die laaste stukkie nog gevaarlike storms moet trotseer. Hy het ook die hande vry om ander in die kritieke oomblikke by te staan.

Maar iemand wat deur 'n huwelik sy lewe aan 'n ander verbind het, kan ekstra swaarkry. Dié moet in kritieke oomblikke sy aandag verdeel.

Dit is 'n bemoediging vir almal wat tot dusver geen huweliksmaat kon vind nie, en ook vir almal wat na 'n huwelik weer alleen deur die lewe moet gaan. Sulke mense in nie beklaenswaardig nie. Daar kan oomblikke kom dat hulle benydenswaardig is!

Plaas hierdie Skrifwoorde vanmiddag nou nie 'n bietjie van 'n domper op jul troudag nie, Peter en Fijma? Moet julle uit my preek dalk aflei dat jullie beter nie kon getrou het nie?

Nee wat. "Elkeen het sy eie genadegawe van God" het Paulus eerder in 1 Kor 7 geskrywe. En daarmee het hy bedoel: God gee dit aan die een om te trou en aan die ander een om ongetroud te bly. Dit is sy leiding in ons lewe.

Daarom kan die Bybel ook wonderlike dinge sê m. b. t. die huwelikslewe.

Hierdie trouteks wil julle maar net help om uit die staanspoor julle huwelikslewe in die regte perspektief te plaas: moenie vandag en môre so opgaan in mekaar dat julle eendag nie sal ingaan in God se Koninkryk nie. Moenie wees soos daardie mense van wie die Here Jesus vertel het in daardie gelykenis wat ons so pas saam gelees het: almal was so besig met hul eie dinge, een ook met die huwelik wat hy sopas gesluit het, dat hulle God se bruilofsfees nie kon bywoon nie.

Ons is besig om die hawe van God se Koninkryk binne te seil. As julle Kaap die Goeie Hoop voor oê hou en dit in julle huwelik die belangrikste doelwit bly om saam, dalk ook met die kinders wat julle mag ontvang, dáár eendag aan te kom, kan ons julle vandag, ook ondanks die storms wat miskien nog voorlê, 'n "goeie huweliksreis" toewens.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)