God se liefde vra om ons liefdediens

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Romeine 12
Preek Inhoud: 

PREEK OOR ROMEINE 12: 9-11

LITURGIE:
Seëngroet
SB. 24: 1, 2
Gebed
L. Rom. 12
T. Rom. 12: 9-11 prediking
Ps. 40: 4
Geloofsbelydenis
Ps. 40: 5
Huweliksformulier
Ps. 121: 1
Gebed
Ps. 121: 4
Kollekte
SB. 21: 1, 4, 5, 6

Broeders en susters,

Ons word in ons teksverse opgewek tot 'n lewe in liefde. Tot liefdediens aan God.

Maar daarby behoort ook liefdediens aan mekaar.

Die apostel van Christus haal die praktyk van ons lewe as kinders van God in die kollig: hoe is ons houding teenoor ons naaste? Hoe is ons ywer vir ons Here?

Konkreet word aan ons voorgehou hoe of dit behoort te wees.

Hierdie vermanings en aansporings is algemeen. Paulus rig hom hier nie net tot bruidspare nie. Maar tot almal in die gemeente van Christus. Almal moet in liefde lewe. Almal moet vir die Here lewe.

Maar dit wat in sy algemeenheid vir almal in die gemeente geld, geld wel besonderlik vir 'n man en 'n vrou in hulle huwelik.

Die Here het in die gemeente ons almal as broeders en susters aan mekaar gegee om in liefde saam te lewe.

Maar Hy het in die huwelik daardie een man en daardie een vrou heel spesiaal as broeder en suster aan mekaar verbind om saam van die liefde te lewe.

Die Here wil almal in die gemeente inskakel vir die opbouing van sy Koninkryk.

Maar Hy het spesiaal daarvoor die huwelik ingestel om aan sy Koninkryk saam te bou.

Ek bedien daarom vir u almal saam, maar spesiaal vir die bruidspaar van vandag, God se Woord uit hierdie Skrifgedeelte, onder die tema:

GOD SE LIEFDE VRA OM ONS LIEFDEDIENS

  1. AAN MEKAAR
  2. AAN DIE HERE

1. God se liefde vra om ons liefde. So was dit altyd al, broeders en susters, vanaf die dag wat die HERE die mense geskep en in hierdie wêreld geplaas het.

God het die liefde as diè omgangsnorm aangewys, alreeds vanaf die paradys. Vanaf die eerste mensedag het daar die gebod gelê: Jy moet die HERE jou God liefhê bo alles, en jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

My liefde vra om jou antwoord. Jou liefde moet soos vanselfsprekend die reaksie op my liefde wees. So alleen kan daar regtig lèwe wees, lewe deur die liefde vir God en vir mekaar.

Na daardie paradysklimaat van suiwere liefde wil God met ons terug. Daarom het Hy in liefde Homself oortref en het Hy tot die uiterste gegaan, deru die Seun van sy liefde te gee om ons sondes te versoen. Sodat ons weer sou lèwe. Dit is dus: sodat ons weer sou liefhê!

Paulus het in die vorige hoofstukke van sy brief uitvoerig oor die liefdesgeskenk van God: sy eie Seun as 'n versoening vir ons sondes, geskryf. En sy opwekking aan ons om weer in liefde te lewe vloei soos vanself daaruit voort. Kyk maar vs. 1 van hoofstuk 12: "Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God..... " Die NAB vertaal bietjie duideliker: "En nou doen ek 'n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God.... ". Met ander woorde: noudat God sy ontferming, sy liefde vir ons so oortuigend bewys het, soos ek in die voorgaande hoofstukke geskryf het, mag ek tog ook van julle vra om in liefde te lewe? Wie danksy God se liefde in Christus weer mag lewe, moet nou mos ook in liefde lewe? Diè moet in sy hele lewe nou ook wys dat hy weet wat liefde is.

Maar dit moet dan wel 'n liefde wees wat baie dieper sit as dit wat in die wêreld liefde genoem word.

Daar bestaan heelwat geveinsde liefde, skynheilige vriendelikheid wat maar net 'n uiterlike aangeleentheid bly. 'n Mooie voorgewel waaragter dit heelwat minder mooi is. 'n Vriendelike gesig en aangenaam klinkende woorde, waaragter 'n heelwat minder vriendelike en aangename hart verborge bly.

Mense is meesters in so'n toneelspel. Hulle wys vir mekaar meestal nie hul ware gesig nie, omdat hulle hul hart liewer vir mekaar verborge hou. Wie altyd presies sou sê wat hy dink, gee homself bloot en verswak daarmee sy eie posisie. Daar word in hierdie wêreld heelwat gehuigel. Mense bejeën mekaar met vriendelike pligplegings maar hulle het onderwyl hul harte vir mekaar toegesluit.

Maar hierdie tipies menselike toneelspel kan ook ons omgang met mekaar in die kerk begin beheers! Ook in die kerk kan die liefde al hoe meer uiterlike skyn word wat nie uit 'n liefdevolle hart voortkom nie. Minsame gesigte, welwillende geselsies, maar sonder werklike diepgang omdat die hart daarbuite bly. Sulke liefde is nie meer as 'n vriendelike vryblywendheid waarmee 'n mens nie regtig die ander een soek nie, maar maar net homself handhaaf.

Selfs in 'n huwelik kan die liefde so'n toneelspel word. 'n Skynheilige vertoning. Die een kan teenoor die ander en teenoor die buitewêreld 'n vriendelike masker aanneem waaragter hy of sy 'n wêreld van oneerlikheid of selfgesentreerdheid verberg. Man en vrou kan albei hulle huwelikomgang tot 'n huigelagtige aangeleentheid maak: hulle sal nie aanhoudend baklei nie, daar val dalk geen verkeerde woord nie, maar die harte staan nie meer oop vir mekaar nie. Elkeen gaan sy eie gang.

Dis hoekom in ons teks na ons hàrt deurgestoot word, as daar staan: "Laat die liefde ongeveins wees". By God se kinders wat almal van die liefde van God mag lewe, mag die liefde vir mekaar nooit toneelspel wees nie. Dit mag nooit 'n masker wees waaragter ons ons hart vir mekaar verborge hou nie. Die liefde moet by ons so diep sit dat ons altyd ons hart, en dus ook ons ware gesig vir mekaar wys.

Maar dit kan dan ook alleen as dit met ons hart goed gesteld is. Dit is vir ons alleen moontlik om ons hart vir mekaar te wys, as ons alles wat sleg is hartgrondig verafsku en die goeie aanhang. Ja, lettrelik: "hart-grondig", tot op die bpodem van ons hart moet daar geen plek vir kwade gedagtes en begeertes wees nie. Dan alleen kan ons met ons hele hart mekaar liefhê, sonder om ons mooier voor te gee as wat ons in werklikheid is.

U moet daardie sinnetjie uit ons teks: "verafsku wat sleg is, hang die goeie aan", dan ook is sy verband hier lees, broeders en susters. Dit is meer as maar net 'n los opwekking om dit wat sleg is te verafsku en om die goeie aan te hang. Hier word vir ons die weg gewys hoe om opreg, ongeveins, en van harte met mekaar te kan verkeer. Daar lê 'n direkte verband tussen dit wat daar in ons hart leef en hoe dat ons met mekaar saamleef. Want eers as iemand hartgrondig met alles wat sleg is, breek, alles wat hom weer by God kan wegtrek, verafsku- eers dan sal iemand ook volledig sy hart in die omgang met sy broeder en suster kan en wil blootgee. Alleen dan hoef hy homself nie mooier voor te gee as wat hy is. Net dan sal hy regtig oop-hartig kan wees, sonder om iets agter te hou, sonder om toneel te speel.

'n Afsku van die sonde breek die omgang met mekaar eers regtig oop, broeders en susters. Want dan ken ons mekaar in ons ware gedaante as sondaars voor God, wat van genade en liefde mag lewe, danksy Jesus Christus. En dan wil ons tog niks liewer as om mekaar by daardie liefde en genade ook te bewaar nie?

Dis hoekom alleen die afkeer van die kwade en die gehegtheid aan die goeie so'n diepgewortelde liefde by ons kan bewerk, dat ons ook teenoor mekaar eerlik die kwaad durf noem en konkreet aanwys.

Want dìt is eers egte, ongeveinsde liefde, wanneer iemand nie net die kwaad by homself haat nie, maar ook die kwaad by sy broeder of suster verafsku en dit daarom eerlik aanwys en daarvoor waarsku.

Baie mense ag dit juis glad nie liefdevol nie. Om 'n ander op sy sondes te wys, hom padlangs te waarsku of te vermaan- is dit nie koud en hard en onverdraagsaam nie? Breek dit nie juis die goeie verhoudinge met mekaar stukkend nie? Sê die apostel Paulus in 1 Korinth. 13 nie dat die liefde alles bedek, alles verdra nie? Getuig dit nie van liefde as jy jou maar tot jouself beperk en die sondes van die ander vir sy eie rekening laat nie?

Nee, broeders en susters, voordat Paulus in 1 Kor. 13 skryf dat die liefde alles verdra, het hy eers met betrekking tot die liefde gesê: "Dit is nie bly met die ongeregtigheid nie, maar dit is bly saam met die waarheid".

Egte liefde bedek en verdra nie die ongeregtigheid wat die lewe met God bedreig nie. Nee, dit sal dit nie deur skinderpraatjies in die hele gemeente en aan die buitewêreld uitbasuin nie. Maar die egte liefde dryf wel die een mens na die ander een toe om onder vier oë hom oor die ongeregtigheid te vermaan sodat daar bekering mag kom.

Ons lees dit alreeds so in Lev. 19: 17, waar die HERE sê: "Jy mag jou broeder in jou hart nie haat nie. Jy moet jou naaste vrymoedig berispe". Blykbaar behoort dit bymekaar: nie haat nie, maar liefhê en dùs: vrymoedig, reguit, ongeveins berispe as 'n broeder of suster die spoor van God dreig byster raak op die een of ander punt. Dit is eers liefde, wanneer jy ook jou broeder en suster in die regte spoor wil hou. Dit is my vriend wat vir my my feile wys, sê die wêreld. Ons in die kerk sê: dit is my broeder of suster wat vir my my sondes wys. Want dan soek hy my redding. Dan bewys hy hoe lief hy my het!

En dan sê ek maar weereens, broeders en susters, Klaas, Femke: dit wat in sy algemeenheid van ons almal in die gemeente geld, geld spesiaal ook vir die omgang van man en vrou in 'n huwelik. Die opregte liefde vir mekaar as man en vrou begin daarmee -en kan ook alleen standhou- as altwee verafsku wat voor die aangesig van die Here sleg is; en as altwee die goeie aanhang. As altwee ook die moed en die vrymoedigheid het om vir mekaar die waarheid te sê. As hulle nie om die liewe vrede maar teenoor mekaar swyg oor dit wat nie reg is nie, maar as hulle terwille van die egte vrede reguit praat en dit wat sonde is, ook sonde noem. As hulle mekaar by die liefde van God wil bewaar.

As hulle in die ander een nie maar net 'n medemens sien nie, maar 'n broeder of suster in die Here, wat ons by die gebooie van de Here moet bewaar. 'n Mede-erfgenaam van die genade van die lewe, soos die apostel Petrus dit in sy brief noem. Die huweliksformulier sal nou-nou daarop wys.

Dis hoekom ons teks vervolgens aandring op hartlike broederlike - en natuurlik ook susterlike- liefde.

Laat ons tog besef wat ons vir mekaar is. Broeders en susters van ons groot Broer, ons Here Jesus Christus. En daarom ook broeders en susters van mekaar. Saam kinders in God se een huisgesin.

Ook in 'n huwelik is man en vrou vir mekaar nie allereers 'n wese van die ander geslag nie, maar broeder en suster in Christus, kinders van dieselfde hemelse Vader.

Wie altyd bewus bly hiervan, sal mos soos vanself liefdevol met die ander omgaan? Liefdevol probeer om die ander by Christus te bewaar.

Ons moet mekaar nie net "broeders en susters" noém nie. Ons moet mekaar ook ten volle so beskou en so met mekaar omgaan. As ons ons geroepe voel om die ander te waarsku of tereg te wys. Maar ewe goed as die ander hom geroepe voel om jou te waarsku of tereg te wys. Ons eerste reaksie is meestal dat ons ons vervies. Ons voel ons in ons eer getas. Ons voel op ons tone getrap. Want ons het onsself so hoog en kritiek krenk ons gevoel van eiewaarde.

Dis meestal die reaksie as daar 'n broeder of suster uit die gemeente is wat ons kom berispe.

So kan 'n getroude man of 'n vrou selfs reageer op die kritiek of goedbedoelde waarskuwing van sy huweliksmaat. In plaas van om geduldig en eerlik te luister na die kritiek, omdat jou huweliksmaat jou na die norme van Vader in die hemel terugroep, vererg jy jou en reageer op 'n rusietoon. Jy verwyt die ander een bemoeisug.

Maar pleks van om so te reageer moes ins maar liewer die ander waardeer.

In diè rigting wys ons teks, wanneer daar in ons vertaling staan: "die een moet die ander voorgaan in eerbetoning". Die apostel gebruik 'n baie sterk uitdrukking: ons moet mekaar probeer oortref in respek vir mekaar. 'n Kompetisie in wie die ander een die meeste kan hoogag!

As ons almal aan hierdie opwekking sou begin gehoorsaam, broeders en susters, en sou ophou om ons gevoel van eiewaarde te koester om in plaas daarvan die ander baie hoog te ag- ek is seker baie moeites en spannings en rusies sou lankal nie meer bestaan nie.

In die gemeente nie. En in verskeie huwelike nie.

Maar dan moet daar wel sprake wees van 'n dieper en ander hoogagting as diè vir die algemene menslike waardigheid. Daar sal 'n eerbetoning vir mekaar moet wees as vir 'n broeder of 'n suster wat gekoop en betaal is met die kosbare bloed van God se eie Seun en geheilig deur God se eie Heilige Gees.

'n Kind van God wat die Here aan my gegee het om saam met my van sy liefde te lewe. Om my by sy liefde te bewaar. En om saam met my in liefde Hom te dien.

2. Ook daarvan praat ons teks: "dien die Here". Want ons liefde vir mekaar moet uiteindelik diensbaar wees aan ons gesamentlike liefdediens aan Hom. Saam mag ons deur Jesus Christus die Here weer dien by die bou van sy Koninkryk. Verlos van die heerskappy van die sonde mag en kan ons ons weer beywer vir die eer van sy Naam.

Maar dan verwag die Here ook ons volle ywer. En dus klink daar in ons teks die opvallende bevel: "wees nie traag in die ywer nie!".

Opnuut gebruik die apostel 'n sterk uitdrukking. Letterlik staan hier mos twee woorde wat mekaar uitsluit: "ywer" en "traag-wees". Wie ywerig is kan mos nie traag wees nie. En andersom: die wat traag is, is nie ywerig nie.

Maar deur so te formuleer, wil Paulus vir ons duidelik maak dat dit regtig die een of die ander is. God vra die vollédige inspanning vir die opbouing van sy kerk. Die volledige ywer wat alle slapheid en traagheid en ongeinteresseerdheid uitsluit.

Daar lê baie werk. Elkeen het gawes ontvang wat God wil gebruik tot opbouing van die liggaam van Christus. Paulus het daarop gewys in die verse wat aan ons teks voorafgaan: "Ons besit genadegawes wat verskil volgens die genade wat aan ons gegee is. Gawes om te leer en te profeteer, maar ook gawes om leiding te gee of om barmhartigheid te bewys".

Maar die praktyk is meestal dat die vele werk maar deur weinig skouers gedra word, omdat die ander lidmate hulle afsydig hou. Hoe moeilik is dit telkens weer om mense te vind wat bereid is en bekwaam is om verantwoordelikhede in die gemeente te dra: ampsdraers, bestuurslede vir die verenigings, lede vir die skoolbestuur, redaksielede vir ons kerklike blaaie.....

Daar is onder ons 'n kategorie mense wat aande kortkom om alle sake waarvoor hulle tereg mee verantwoordelikheid voel, te kan behartig. Daardie mense is orals by betrokke, ons loop hulle raak by enige belangrike vergadering.

Maar hoeveel mense sien ons vrywel nêrens behalwe sondags in die kerk nie? Hoeveel mense laat die dra van verantwoordelikhede maar aan ander oor? Ja, hulle skryf betyds hulle tjeks vir kerk en skool en so meer. Maar verder bly hulle by die huis, is druk met hulle eie besigheid en ontspanning. Hulle het genoeg aan hulleself. Of het genoeg aan mekaar as man en vrou in hulle huwelik. Pleks van dat hulle vanaf hul troudag saam des te yweriger hulle gee aan die diens van die Here in die midde van sy gemeente, word hulle huwelik al hoe meer 'n eilandjie waarop hulle hul saam selfgenoegsaam terugtrek.

Ons teks het vir sulke kinders van God net een remedie: "wees vurig van Gees". En dan moet ons "Gees" maar met 'n hoofletter skrywe, broeders en susters. Die vuur van die Heilige Gees moet hulle in vuur en vlam sit. Louheid verdwyn slegs as daar regtig geluister word na die bevele van die Gees. Met ander woorde: as daar nie vryblywend na die bediening van God se Woord, sondags in die kerk en deur die ouderlinge by die huis, geluister word nie, maar as dit ingedrink word as die lewenwekkende Woord van onse God. As hulle ook by die huis die Skrifte ondersoek, die kerklike ontwikkelinge volg. Dan sal soos vanself die vuur van die Gees hulle aan die brand steek en hulle toenemend yweriger maak om hulle met die gawes wat ook hulle ontvang het, saam te werk aan die koms van sy Koninkryk. In hartlike liefdediens.

Dan kry hulle weer 'n oog daarvoor, vir Wie ons feitlik besig is.

"Dien die Here!", lui mos die slotwoorde van ons teks.

Ons dien dan in die kerk nie mekaar allereers nie, of 'n kerkraad wat sonder ons hulp nie kan klaarkom nie. Ons dien daar die Here wat ons met sy bloed gekoop het en ons tot sy eiedom gemaak het. Hy soek die voltooiing van sy Koninkryk. Hy het sy lewe daarvoor opgeoffer.

Sou dit vir ons dan te veel wees om ons tyd en ons kragte, ons huwelik daaraan op te offer?

In die wêreld word gewerk om te verdien.

In die kerk word gewerk omdat daar so veel vir ons verdien is!

Wie God se liefde in Jesus Christus gesien het- hy vind wederliefde, ook met die daad, tog 'n vanselfsprekende saak? !

AMEN.

(Pretoria, 18 November 1989. Bevestiging van die huwelik van Klaas Pouwels en Femke De jong)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)