Moses as middelaar vir God se volk

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Handelinge 7
Preek Inhoud: 

Voor diens: Ps 114: 1-4
Ps 138: 1, 2, 3
Ps 138: 4
Skb 14: 1, 2
Skb 21: 1, 2, 3, 6
Lees: Hand 6: 8 -7: 16
Teks: Hand 7: 17-29

Geliefde gemeente,

Ons het verlede week Sondag stilgestaan by die figuur van Josef. Stefanus praat van hom.

Ons kan van die geskiedenis van Josef beslis iets leer.

En wel veral oor die slaggate waarin die volk van God sommer gou kan val.

Israel as volk van God het dit namelik in die loop van die tyd min of meer as vanselfsprekend gaan ervaar dat hulle God se volk is en dat daarmee hul vrede en veiligheid vir altyd gewaarborg is.

Soiets kan natuurlik gemaklik gebeur. Mense is namelik altyd geneig om net dit te hoor wat hulle graag wil hoor. Hulle hoor b. v. wel die beloftes van God maar die eis dat hulle lewe ook in ooreenstemming daarmee moet wees word sommer verbygegaan.

Die feit dat hulle sondaars is wie se sondes voortdurend versoen moet word, word ook sommer maklik vergeet.

Stefanus probeer die Jode van sy tyd weer wys op die basiese dinge van die Verbond. God se Verbond eis geloof en bekering. Dit is onmisbaar vir elkeen wat in die verbond opgeneem is.

Daar kom nog iets by. Vir sondes van God se volk moet versoening gedoen word. 'n Mens kan self aan die versoening niks bydra nie. Die Here self moet daarvoor sorg. Hy stuur daarom 'n Middelaar.

Die uiteindelike Middelaar war vir die versoening moet sorg is die Seun van God, Jesus Christus.

Maar Hy kom eers op die deur God bepaalde tyd. As God 'n nuwe verbond wil oprig.

Ter voorbereiding op die koms van God se seun die Middelaar Jesus Christus stuur God reeds onder die ou verbond nou en dan mense wat as 'n soort middelaar die volk van God moet uitred.

Deur middel van hierdie voorlopige middelaars wil God sy volk leer hoe Hy werk. Hoe Israel nie vanselfsprekend gered is nie, maar dat daar steeds weer 'n Middelaar tussen God en mense nodig is om die deur die mens verbroke verhouding te herstel. Josef was so'n voorlopige middelaar. Deur sy broers verag, maar deur God verkies as sy werktuig.

Josef mag in sy optrede al iets toon van die werk wat die Here Jesus later vir sy volk sal verrig.

Vandag hoor ons oor 'n ander middelaarsfiguur... Moses. Baie bekender as middelaar. Die middelaar van die Ou Verbond word hy dikwels genoem.

Moses is in Israel nog veel meer populer as Josef. Ook oor Moses wil Stefanus iets vertel. Ons tema vir vandag se preek is:

Moses as middelaar vir God se volk

  1. Moses en God
  2. God en Moses

Stefanus praat in sy verdedigingsrede uit Handelinge 7 uitvoerig oor die lewe en werke van Moses. Nou is dit ook nie so verwonderlik as ons let op die aanklag wat teen hom ingebring is nie.

Lees maar in vers 11 van die vorige hoofstuk: Ons het hom lasterlike dinge hoor praat teen Moses en God.

En in vers 14: Hierdie Stefanus het beweer dat Jesus die Nasarener, die sedes wat Moses aan ons oorgelewer het sal verander.

Moses is dus heel duidelik in die prentjie. Dit wat hulle as kritiek op Moses verstaan het, het hulle diep geraak.

Om goed te verstaan waarom Stefanus oor Moses vertel op die manier soos hy dit doen moet ons nog 'n slag na die beskul-diging kyk.

Wat beweer hulle presies?

vers 11: Ons het hom lasterlike dinge hoor praat teen Moses en God.

Let eens op die volgorde... Moses en God. Moses en God.

Dit is kenmerkend en ook onthullend vir die manier waarop hulle dink! Eers word Moses genoem en dan God.

Hier word die Heer weggeskuif agter sy dienskneg.

As u die vorige preke uit Stefanus' rede gehoor het, begryp u wel dat dit tipies Joods of miskien moet ons liewers se tipies menslik is. 'n Mens orienteer altyd liewers op iets wat sigbaar is of iemand wat tasbaar is, as op God self. Dit is ook waar die verleiding tot sonde teen die tweede gebod, die beeldediens vandaan kom.

Moses was vir Israel eintlik geliefder as God self, want Moses kon hulle hanteer.

Wel hierdie dinkwyse is heeltemal in stryd met die Bybel. Ook met die O.T. Dit is dan ook hoekom Paulus se die Jode lees die O.T. met 'n bedekking oor hul gesig.

Moses en God.

Dit is kenmerkend vir die Jodedomom so met God en sy diens om te gaan. En daaruit wil Stefanus hulle baie graag bevry.

Daarin gaan Stefanus trouens heeltemal in die spoor van sy Heer.

Immers in die Bergrede doen die Here Jesus presies dieselfde. Hy probeer die sluier wegtrek wat die Jode self oor die Bybel gele het, wat hulle as, ek so kan se voor God gehang het. Jesus probeer dan die mense weer voor God self te stel.

Miskien is dit goed om daarvan een voorbeeld te noem. Die Here Jesus se bv in die bergrede: Julle het gehoor dat daar gese is: Jy moet jou naaste liefhe en jou vyand moet jy haat.

Wel, dit is so 'n mensgemaakte joodse reel. En daarteenoor stel die Here Jesus dan: Maar ek se vir julle.

En in wat dan volg gee die Here Jesus dan die eintlike bedoeling van die wet weer. Hy trek die mense by die letter van die wet (by wat hulle noem: Moses) vandaan en stel hulle voor die God van die wet. En dan lyk dinge skielik totaal anders.

Die Jode het met hul wet en met hul tradisie die God van Israel van die toneel verwyder. !

Hulle het gemeen dat huklle met die wet van Moses in die hand met God kon klaarkom. Die HERE kan ons niks maak nie want ons het mos die wet vervul.

Moses en God. Omdat hulle Moses voor God geplaas het, het hulle daarmee hulself ook die sig op Christus die Seun van God ontneem. Hulle het Hom nie as die deur God gestuurde Middelaar herken en aanvaar nie.

Kom ons kyk ook 'n slag na die tweede beskuldiging teen Stefanus. Wat se hulle: Hierdie man beweer dat Jesus hierdie plek sal afbreek en die sedes wat Moses aan ons oorgelewer het sal verander.

Die sedes wat Moses aan ons oorgelewer het! So dui hulle die O.T. aan! So praat hulle oor die wet van God! Die sedes wat Moses aan ons oorgelewer het.

Asof Moses 'n sedeleraar is! Asof Moses die stigter van 'n moraliteitsreligie is. Ja, so het hulle werklik gedink!Dit blyk uit die kritiek van die Here Jesus op hul omgang met die wet in die bergrede.

Watter ongelooflik oppervlakkige benadering van die Woord van God! Asof vir ons 'n aantal leefreels oorgelewer is waaraan 'n mens maar moet hou en dan kom dit wel reg.

Kom ons vergelyk hoe praat Stefanus self oor dit wat Moses oorgelewer het. Ons vind dit in vers 38 slot: Moses het die lewende woorde ontvang om aan ons te gee.

Let op twee dinge: Eers dit: Moses het dit self eers ontvang. Hy is nie die stigter van die Joodse religie nie. Hy was 'n middelaar, 'n dienskneg van God. Die Here het van Moses gebruik gemaak om die volk Israel te bereik. Daarom kon Moses dit wat hy se, slegs ontvang!

En tweedens: Moses het lewende woorde ontvang. Woorde wat kragtig is in hulleself, want dit is woorde van die lewende God. 'n Oorlewering is altyd kwesbaar. Die oorlewering is volledig afhanklik van die mense wat die oorlewering wil bewaar. En as iewers 'n breuk in die oorlewering ontstaan is die ketting vir altyd verbreek.

Daar kom by: allerhande sedes deur wie ook al oorgelewer verander in die loop van die tyd.

Maar die woord van God is 'n lewende woord. Dit bly altyd in staat om mense te bereik. Nie dat mense hulle daardeur altyd sal laat bereik, nee dit gebeur maar te maklik dat mense ook die lewende woord aanhoor met 'n bedekking oor hul hart en ore.

Dit gebeur daar waar b. v. die tradisie voor die lewende woord geplaas word.

Dan lees jy Moses en God, soos die Jode.

Maar onthou, dit is nie net 'n Joodse kwaal nie.

Met ons kan presies dieselfde gebeur.

Jy vorm nou maar 'n aantal gewoontes in jou lewe.

Ons kweek met mekaar 'n aantal tradisies in die kerk.

En vir baie mense mag daardie tradisies en gewoontes deur die prediking gerus ondersteun word. Daarop reken hulle. Dan is dit 'n vertroude boodskap. Maar oei as die prediking soms die vaste gewoontes bevraagteken of bekritiseer, dan is die kerk te klein!

Gemeente, dit gaan nie help om met 'n glimlag te bekyk hoe Stefanus uit die krag van die Heilige Gees, die Jode van sy dae hekel nie.

As ons vanoggend so die kerk uit kom dan het die prediking bitter min bereik. Nee dit gaan daarom dat elkeen van ons weer eens 'n slag homself afvra hoe dik sy eie bedekking is as hy die woord van God lees of na die prediking luister.

Dit behoort jy jou elke preek weer af te vra: Is daar by my ook so 'n bedekking? Vra dit by jouself of vra dit van 'n broeder. Laat jou 'n spieel voorhou oor jouself.

Is jy nog bereikbaar met die lewende woord of nie.

Wil jy jou eintlik wel laat bereik?

Gemeente ek wil vir u 'n ervaring deurgee van hierdie week.

Daar kom iemand by my en vertel die volgende: Dominee, ek het u nou vir meer as sewe jare hoor preek. Uit pligsgevoel en uit gewoonte het ek homderde dienste bygewoon in ons kerk.

En verlede week Sondag het ek vir die eerste keer gehoor dat u 'n evangelie verkondig. Ek besef nou eers dat ek vir jare en jare met 'n bedekking voor my gesig geluister het. Want ek het alleen gewag om 'n aantal eie gewoontes en eie kerklike tradisies te hoor bevestig.

Meer wil ek daar hier nie van vertel nie, maar ons kan hier wel 'n les leer. Ons moet hier 'n les leer.

Want blykbaar kom dit voor in die kerk. Dat jy so na die prediking luister, dat jy regtig blind is vir die eintlike rykdom van die evangelie. Dat jy vir jare der jare kan luister sonder dat jy dit werklik as 'n blye boodskap hoor. Dit gebeur brs en srs! Hoe verdrietig dit ook is, maar dit kom voor onder ons!

Uit dieselfde gebeurtenis kan ons egter ook iets anders leer. Iets baie moedgewends. Namelik dit: Die woord is 'n lewende woord! En 'n lewende woord bly altyd in staat om deur vasgeroeste gewoontes heen te breek.

Moses en God.

So het die Jode gedink.

Ek en God. Is dit nie dikwels die bedekking wat voor ons gesig is nie?

Bid maar baie dat die Heilige Gees daardie bedekking voor jou gesig mag wegneem!

God spreek met 'n lewende woord.

Hy het deur die eeue heen gespreek deur die profete. En in die volheid van die tyd het Hy gespreek deur sy Seun, deur Jesus Christus.

Stefanus het so die Here hoor spreek. Hy het vir Christus in die O.T. raakgesien.

En daarom het vir hom Moses of die tradisie nie meer die laaste woord nie. Immers God het Homself heeltemal geopenbaar in Jesus Christus, die Heiland.

Om hom het dit alles gegaan. Ook die persoon van Moses was slegs 'n dienskneg van God. En Moses het geweet van die ander dienskneg wat nog moet kom. Die eintlike Middelaar van God en sy volk. Ook Moses was daarom alleen maar 'n adventsfiguur. Hy het met al sy woorde en dade maar net moet verwys na die persoon wat na hom kom. Die Middelaar wat groter is as hy. Die Middelaar wat self sonder sonde is sodat hy die volk van God na die ewige sabbatsrus kan lei.

2. God en Moses

Kom ons begin lees by vers 17: En namate die tyd van die belofte wat God aan Abraham met 'n eed beloof het, nader kom...

Let op hoe Stefanus weer heel nadruklik vanuit die Here formuleer. Hy begin nie praat oor die volk nie, maar oor die tyd van die beloftevervulling.

Wie het daarvan geweet? Alleen die Here self natuurlik!

En so vra Stefanus aandag vir die plan van God en vir die planmatige werkwyse van God. God het presies geweet wat hy doen toe hy die volk na Egipte laat gaan het.

Hy het ook voorkom dat Israel werklik in Egipte gaan tuisvoel.

Immers Hy laat toe dat Israel daar verdruk word. Hy laat toe dat Farao 'n geboortebeperking stel op die Hebreeuse seuntjies, wat uiteindelik 'n middel word waardeur Moses die uitverkore dienskneg van God in die paleis van die Farao beland.

Stefanus vertel van Moses dat hy opgelei is in al die wysheid van die Egiptenare.

Dit is eintlik maar 'n bietjie pynlik vir hulle wat Moses self as die groot man beskou, die stigter van die Joodse religie. Waarvandaan het Moses dan sy kennis? vra Stefanus. Uit Egipte.

Vir iemand wat glo dat God Moses as 'n dienskneg gebruik het is dit glad nie pynlik nie. Moses is mos alleen maar 'n middel in die hand van God. En God gebruik altyd allerhande middele om sy diensknegte voor te berei op die taak wat Hy vir hulle wil gee.

En so het Stefanus al van die allereerste begin van sy vertelling oor Moses die volgorde omgekeer. Dis nie Moses en God nie. Maar dit is: God en Moses!

Die verlossing kom nie van Moses nie, maar kom van die Here! Hy het vir Moses raakgesien in sy biesiemandjie. God self berei die redding van sy volk uit Egipte voor.

Dit word nog onderstreep deur die verhaal wat volg oor die tyd dat Moses veertig jaar oud is. Immers op daardie leeftyd wil 'n mens mos wel een iets gaan doen.

Wel, Moses probeer dit, maar sy poging misluk jammerlik.

En juis van daardie mislukte poging van Moses gaan 'n sterk prediking uit.

'n Mens kan nie sommer as dienskneg van God begin optree op 'n tyd en in 'n situasie wanneer jy meen dis die regte ding om te doen nie. Nee, daarvoor is 'n besondere roeping nodig. God laat Moses nog eens veertig jaar, 'n menselewe amper wag, voordat Hy hom kan gebruik. Die onstuimige Moses wat self wel sal optree om die volk van God te bevry kan die Here nie gebruik nie.

Soos die profeet Sagaria se: Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees!

Veertig jaar voorbereiding as herder in 'n woestyn moet Moses deurmaak. Ek dink ons besef nie half wat dit beteken vir 'n man wat opgelei is in al die wysheid van die Egiptenare nie!

Maar alleen so kon God hom gebruik. Moses moes eers heel klein gemaak word. So klein dat hy homself nie meer vir die taak geskik ag nie. En toe eers stuur die Here hom.

God gee sy beloftes, maar 'n mens mag nooit self na die realisering van die beloftes gryp nie.

Onthou maar hoe iemand soos Dawid ook vir jare moes gewag het voordat die beloftes van die Here aan hom vervul is.

Ons het van dieselfde God wat Israel sy beloftes gegee het en Israel se beloftes vervul het ook beloftes ontvang.

Ons het die belofte van die koms van Jesus Christus.

Sy ryk sal kom! Dit duur al lang. Ek weet.

Maar ons sal die verleiding moet weerstaan om self sy koninkryk naderby te dwing. Ons moet die verleiding keer om van 'n adventsteologie oor te gaan op 'n bevrydingsteologie.

Moses op sy veertigste verjaarsdag is die bewys daarvan dat dit so nie werk nie.

Sy inisiatief het daarop uitgeloop dat hy moes vlug. Daarmee sluit ons teks af. Hy word vader van twee seuns. Pragtig. Maar vir 'n man van die formaat van Moses 'n bitter moeilike weg. Hy noem sy seun Gersom. Vreemdeling in 'n vreemd land beteken dit.

Weg van die eie volk. Weg van die God van die belofte.

God kan my nie gebruik nie. So het Moses toe gevoel.

Moses moes leer om op God te wag.

En so sit Stefanus Moses neer waar hy behoort, agter God.

God en Moses dit is die volgorde.

En as jy dit omkeer tot Moses en God dan verloor jy op die ou end altwee. Dan verloor jy sowel Moses as God.

As jy leef uit die volgorde Ek en dan God, dan sal jy eendag tot die ontdekking kom dat jy altwee verloor het. Want wie sy lewe sal wil behou, hy sal dit verloor, se die Here Jesus, maar wie sy lewe wil verloor om My ontwil hy sal dit behou.

Ek en dan God, so praat iemand wat sy lewe wil red, maar hy verloor dit.

God en dan ek. Om so te praat moet jy jou lewe eers uit hande gee. Gee dit aan God dan sal jy dit altwee behou God en die lewe.

Maar om so jou lewe uit hande te kan gee bly 'n geskenk.

'n Genadegeskenk wat slegs die Heilige Gees kan gee.

Bid maar baie daarom. Vir jouself en vir heel die gemeente.

Sodat ons almal die rykdom van die evangelie mag sien en ervaar.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)