Stefanus predik die noodsaak van 'n middelaar vir die volk van God

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Handelinge 7
Preek Inhoud: 

Voor diens: Skb32: 1, 2, 3, 4
Ps 84: 1, 2, 3
Ps 84: 4
Ps 135: 1, 2, 11
Skb 9: 1, 2, 3 Bevestiging
Ps 96: 1, 2, 3
Lees:
Teks: Hand 7: 9

Geliefde gemeente,

In verlede week se preek uit Hand 7 het ek gestel dat Stefanus in sy verdedigingtoespraak skerp die Joodse selfgenoegsaamheid kritiseer.

Na aanleiding daarvan vra iemand my: maar sou hulle dit self so gevoel het? Word Stefanus eintlik nie eers werklik skerp as hy aan die einde van sy woorde gekom het en dan die Jode aanspreek as: Hardnekkiges en onbesnedenes van hart en ore.

Julle weerstaan altyd die Heilige Gees!

Dit is waar natuurlik, in die einde van sy preek as ons dit so mag noem, raak Stefanus heel direk, dan pas hy sy verhaal uit die geskiedenis van Israel regstreeks toe op sy hoorders. En daarvan hou die mense gewoonlik glad nie.

Maar tog met die opmerking dat Stefanus die Joodse selfge-noegsaamheid gekritiseer het ek nie bedoel dat sy hele rede 'n aanval op die Jode is nie.

Nee, dit is eerder 'n poging om hulle oor hulself te leer nadink sodat hulle (en dit is Stefanus' se hartsbegeerte ) hul harte oopstel vir die evangelie van die lyde en sterwe van Jesus Christus.

En daarom begin hy met die hartlike aanspreekvorm: Broeders en vaders, luister!

Hy soek hulle met die liefde van God. Broeders, luister tog!

Die probleem is namelik dat die Jode vasgevang is in aller-hande vanselfsprekendhede. B.v. hierdie: hulle is die uitver-kore volk van God!

So'n oortuiging kan tot 'n verlammende teorie word en is dit in baie gevalle ook. As mense op grond van so'n oortuiging begin dink dat hulle dus klaar gered is, dan word hulle onbereikbaar vir die Woord van God.

Dit was mos die groot verdriet van die Seun van God toe Hy op aarde gewerk het. Die volk van God was in meerderheid totaal onbereikbaar vir sy prediking van bekering en geloof.

In sy prediking vanuit die O.T. probeer Stefanus sy broeders asnog bereik met die evangelie.

Waar het dit nou verkeerd gegaan met Israel? Waarom is hulle so onbereikbaar vir die evangelie?

Verlede week het ons al 'n deel van die antwoord gekry.

Hulle leef liewers by allerhande sigbare sekerhede as by die vastheid van God se beloftes. Hulle vertrou liewer op die sigbare vastheid van 'n tempel, 'n wetboek, 'n stad as op die woorde van die belowende God.

In ons teks gedeelte van vandag waarin Stefanus op geheel eie manier die geskiedenis van Josef vertel sny hy 'n ander probleem aan, namelik die probleem dat Israel dit verkies om homself te red. Hulle meen, hulle het geen helper nodig nie want hulle is 'n uitverkore volk.

Daarteenoor toon Stefanus met sy verhaal aan: Julle benodig terdee 'n helper. Julle kan nie oorleef sonder die figuur van 'n Middelaar nie.

En dit is die rede hoekom Stefanus vanoggend die figuur van Josef introduseer.

Stefanus predik die noodsaak van 'n middelaar vir die volk van God.

Ons sien

  1. Josef as 'n middelaar
  2. Christus as die Middelaar

Ons teks begin praat van die aartsvaders. Daarmee word die 12 seuns van Jakob bedoel. Die een seun van die belofte waarop Abraham gewag het, het dus inmiddels uitgegroei tot 'n hele familie. Veelmeer as 'n groot familie is dit nog nie. Vers 14 praat van 'n sieletal van 75.

Die boek Genesis vertel ons oor daardie familie. Ek moet se, nie juis opwekkende verhale nie. Die woord 'aartsvaders' wat Stefanus hier gebruik klink nogal indrukwekkend en eerbied-waardig, maar wat Genesis oor hulle vertel is verre van indrukwekkend en eerbiedwaardig. Hoerery, moord en roof, dit is die woorde waarmee ons die lewe en strewe van die aartsvaders moet tipeer. Lees maar eens 'n slag die verhaal oor Dina en die Sigemiete, of die toestand van Juda en Tamar. Ek neem aan die wereld van daardie tyd was maar so, maar dit bly tog maar 'n beskamende geskiedenis soos die familie van Jakob omgegaan het met hul heidense omgewing.

En dan praat ons nog nie eens oor die verhoudinge binne die gesin van Jakob nie.

Stefanus meld die jaloesie van die aartsvaders teenoor Josef.

Josef was heel duidelik die witbroodjie van sy vader. Hy was die seun van Jakobs liefste vrou Ragel. En Josef het daardie posisie maar al te graag gehandhaaf deur allerhande sondes van sy broers aan vader Jakob oor te brief. Nie juis frisse verhoudings dus binne die familie Jakob nie.

Daarby was Josef ook nog stom genoeg om as sewentien- jarige vol trots aan sy broers te vertel watter drome hy gedroom het oor buigende koringskowe en eerbetonende sterre met Josef as middelpunt. Met daardie dromestories het Josef dit selfs by Vader Jakob te bont gemaak.

Maar dit alles is maar net een kant, die menslike kant van die verhaal. Want uit dieselfde boek Genesis word ook duidelik dat die Here spesiale planne met Josef het. Want Hy gebruik die jaloesie en die irritasie van die broers om Josef in Egipte te bring. Hoe swaar Josef daar ook gekry het, die Here het hom nie uit die oog verloor nie en so hoor ons agteraf Josef teenoor sy broers se: Julle het wel bose planne gehad, maar die Here het dit gebruik om so 'n groot volk in die lewe te hou.

God was met Josef, Stefanus onderstreep dit.

Dit is nou tipies die Here om so te werk. Van die hele familie Jakob kies Hy sommer een uit, en nie in ons oe die mees simpatieke een nie, en met daardie een werk Hy sy plan uit.

Hy is dit wat Josef bo sy broers verhef en van hom 'n spesiale dienskneg maak. En deur die diens van die een persoon word 'n heel volk in lewe gehou.

Wat kan ons nou hiervan leer?

Waarom vertel Stefanus eintlik hierdie verhaal oor Josef?

Niemand het hom daarom gevra. Hy is beskuldig van gebrek aan eerbied vir Moses en vir die tempel en vir die stad Jerusalem. Dan moet hy seker maar praat oor Abraham, die eerste vader van Israel en hy moet vertel hoe hy die lewe en werke van Moses sien, maar wat moet hy nou met die figuuur van Josef?

Ek dink die antwoord is in die verhaal oor Josef self. Want uit hierdie geskiedenis blyk oorduidelik dat die volk van God nie op eie krag kan oorlewe nie.

Hulle is wel 'n verkore volk, maar ook sommer weer 'n verlore volk.

Kyk maar na die optrede van die aartsvaders. Uit jaloesie verkoop hulle 'n broer as slaaf!Hulle gee nie om as Josef moet omkom in Egipte nie. Aartsvaders van Israel!Moet so die volk van God gebou word?

Kyk se Stefanus hoe hulle hul opstel teenoor die Here: Hulle se: weg met hom! Maar daarteenoor staan: God was met hom!

God red hom uit, God verhoog hom, God maak hom selfs tot redder van die hele volk!

Het julle dit nie gelees nie? , vra Stefanus.

Julle wat julle so graag op die aartvaders beroem. Julle wat so trots is op julle afkoms.

Maar as dit van die aartsvaders afgehang het het heel die familie van honger omgekom. Slegs omdat God met Josef was het die geskiedenis van die volk Israel nie toe en daar opgehou nie. Deur die een het God die volk gered!

Die uitverkore volk kon nie die lewe behou sonder dat God een van hulle verkies het tot 'n taak as middelaar nie.

Die steen wat die bouers verag het, het God tot 'n hoeksteen gemaak ! So werk die Here. Altyd.

Nou dink u inmiddels aan die persoon van Jesus Christus. Stefanus natuurlik ook, maar hy se dit nie. Want hy wil graag dat die Jode hom laat uitpraat. Daarom bly hy 'n bietjie staan by die figuur van 'n middelaar soos Josef.

God was met hom, se Stefanus.

Dit is nie 'n konstatering van Stefanus self nie. Dit staan 'n hele paar keer met nadruk in Genesis 39 (vers2, 3, 21).

God was met hom. Herken u die woorde?

God was met hom. God is met hom. Dit is die bekende Immanuel motief!

Immanuel, dit is: God is met ons.

Die naam van die kind wat God in die wereld sal bring om die wereld van die sonde te verlos is ook: Immanuel. (Jes 7+Luk2)

God was met Josef en via Josef is God ook met sy volk.

Maar daarvoor moes die volk dan wel eers na Egipte kom en sy kniee buig vir hierdie Immanuel!

Dus met die hele verhaal oor Josef maak Stefanus duidelik dat die volk van God 'n middelaar benodig om die lewe te kan behou.

Die volk moet sy afhanklikheid van 'n deur God gegewe middelaar wil bely, dan is daar redding. En nie eerder nie. Jy kan 'n uitverkore volk wees maar dit verskaf op sig nie 'n waarborg vir jou redding nie.

Stefanus bereik nog 'n tweede ding met hierdie ten tonele-voering van Josef.

Immers Josef was nie net die redder van Israel nie. Genesis vertel ons dat die hongersnood van daardie jare oor die hele bewoonde wereld gekom het. Baie volke van rondom moes in die jare 'n beroep doen op die voorrade van Egipte.

En so het die middelaar wat God gebruik het om sy volk te laat oorlewe 'n veel verder reikende betekenis. Al die volke is afhanklik van die Redder in nood wat God op die regte tyd ter beskikking gestel het.

In sy internasionale betekenis is Josef daarom 'n pragtige beeld van die Heiland.

God het vir Hom een volk op die aarde uitverkies, en binne die een volk stel Hy weer een aan as 'n middelaar en redder en die persoon word weer tot 'n seen gestel oor almal.

En is dit tenslotte nie die kern van die belofte aan Abraham nie, dat die Here vir hom se: In jou sal al die geslagte van die aarde geseen word.

Gemeente, sien u wel hoe wonderlik die werk van die Here is?

Sien u wel die pragtige eenheid van handele oor al die eeue heen?

Sien u in Josef nie die werk van Christus nie?

Deur eie broers die dood ingejaag, hy is verdruk en verneder, hoewel hy regverdig was, maar God was met hom. God skenk hom genade en wysheid voor Farao. Soos God Jesus laat toeneem het in guns en wysheid onder die mense.

Sien tog die werke van die Here en wees getroos. Hy is met jou as jy jou deur Hom laat lei. Ook al word die lewe swaar en lyk die pad maar duister. God is getrou. Sy planne sal nie faal nie.

2. Ons sien Christus as die Middelaar

In vers 11 laat val Stefanus vir die eerste keer die naam Kanaan. As 'n Israeliet die naam Kanaan hoor voeg hy amper vanself by: die land wat oorvloei van melk en heuning.

Maar Stefanus bring Kanaan hier ter sprake as die land van die hongersnood. Ons vaders kon geen voedsel kry nie.

Weer voel ons wat Stefanus wil se: broers, die land op sig is nie 'n waarborg vir voedsel en veiligheid nie.

Aartsvader Jakob moes die heilige land verlaat om let wel in Egipte, die naam wat by Israel slegs haatgevoelens oproep voedsel te gaan haal om te oorleef met sy familie. Hulle moes buite Kanaan vir redding gaan soek.

En na hulle dood, waar is die liggame van die aartsvaders gebere?

Juis, in Sigem, die gehate Sigem, onheilige grond vir 'n Jood, die woonplek van die diep veragte Samaritane.

Dit is die feite broers.

Besef dit, nie Kanaan nie, maar Egipte het die volk van God laat oorleef!

As God sy volk te hulp wil kom dan kan hy dit doen op enige plek, met die hulp van enige persoon, Daarvoor het Hy werklik nie die heilige land nodig nie.

Wat beroem julle jul so in hierdie heilige plek? Vir God het dit mos nie betekenis nie.

Kom liewers los daarvan. Aanbid die Here waar Hy tans aanbid wil word, by die troon waarop Sy middelaar gaan sit het, die troon van Jesus Christus.

Soos Farao Josef oor sy hele ryk aangestel het, so het God Jesus Christus oor sy ryk as heerser gestel. Kom buig julle voor sy troon en ontvang die brood van die lewe. Want slegs so kan julle as volk van God die lewe behou.

En so wys Stefanus van die middelaar Josef wat God eendag in die geskiedenis van Israel gebruik het, na die Middelaar Jesus Christus. Sonder Hom kan niemand gered word nie.

Israel het gemeen dat hul verkiesing op sig genoegsaam was om gered te wees. En daarom het hulle hul ook dikwels in hul verkiesing beroem. Ons is die uitverkore volk.

Dikwels het hulle daarby nog die rede vir hul verkiesing in hulself gesoek.

Maar 'n christen kan nooit buite Christus om oor sy verkiesing praat nie. Hy weet hy is slegs in Christus uitverkies.

God verkies in die eerste plek Jesus Christus, en in Hom kan Hy ook ons in genade aansien.

Ons kan van ons verkiesing nie sinvol praat sonder om Jesus Christus daarby onmiddellik te betrek nie.

Ons kan van ons verkiesing niks verstaan sonder dat ons ons beroep op die bloed van Jesus Christus aan die kruis nie.

Dus daarom kan jou verkiesing deur God nooit en te nimmer 'n rede wees om jouself op te beroem nie.

Oor jou verkiesing kan jy maar net in groot verwondering praat.

As jy op jouself let kan jy eintlik maar net se: Here gaan uit van my, ek is 'n sondige mens!

En tog mag jy tegelykertyd tot jou vertroosting glo: Maar die Here het my uitverkies. Hy het my by die Naam gereop.

Vir die vlees bly dit altyd 'n ergernis, dat ons steeds van 'n middelaar afhanklik is.

Maar dit is tog ons enigste redding. Ons moet altyd weer trug na Jesus Christus.

Want God het die hele heil in Christus hande gele. En daarvan wil Hy aan almal uitdeel.

Met daardie boodskap kan ons in die wereld staan. Met daardie boodskap moet ons ook steeds weer die gemeente in.

Ook u verkose ampsdraers, wat vandag bevestig word. U kry verskillende take wat u moet uitvoer in verskillende omstandighede.

Maar of u taak meer is om met mense om te gaan wat onlangs Jesus Christus leer ken het of dat u taak is om mense te begelei wat al sinds hul geboorte tot die volk van God behoort, een ding is presies dieselfde. U moet by almal kom met dieselfde evangelie. Nl dat niemand gered word omdat hy lid van die kerk is nie of omdat hy gedoop is nie, of omdat hy getrou die kerkdienste besoek nie.

Nee daar is alleen maar redding as jy heeltemal afsien van jouself, as jy maar net kan se: Here, U genade is al wat ek nodig het.

Laat al my sekerhede my maar ontval behalwe hierdie een, dat ek gered is in die enigste middelaar Jesus Christus.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)