Slegs die Heilige Gees leer ons om die Skrif te verstaan

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Handelinge 7
Preek Inhoud: 

Voor diens: Ps 47
Ps 72: 1, 2
Ps 72: 10, 11
Ps 84: 1-4
Ps 43: 1-5
Lees: Hand6: 8-15
Teks: Hand7: 1-4

Geliefde gemeente,

Dit is enigsins teen my gewoonte in om in hierdie tyd van die jaar uit die N.T. te preek.

Gewoonlik hou ek my die laaste maande voor die Kersfees by O.T.-prediking. Immers ons glo dat die O.T. gelees moet word as 'n boek wat ons vertel oor die komende Christus. En dit maak juis allerhande profesiee uit die O.T. geskik as prediking vir die Adventstyd.

Deur nou 'n begin te maak met Handelinge 7 wyk ons egter min-der af van die gewoonte om in hierdie tyd aan die O.T. aandag te gee as wat ons dalk dink. Immers Handelinge 7 gaan by uitstek oor die O.T.

Jy sou kon se dit is 'n outestamentiese vertelling in die N.T.

Maar wat nou hierdie hoofstuk so besonder maak is dat hier die O.T. heel duidelik gelees word in die lig van die Christus wat gekom het.

Hier praat 'n man wat vervul is met die Heilige Gees en hy gee sy siening op die geskiedenis van die volk Israel. En daarmee is dit nie sy siening nie, maar is dit die siening van die Heilige Gees, die siening van die Gees van Jesus Christus.

In Handelinge 7 is 'n deur die Gees geinspireerde christen aan die woord wat die O.T. lees.

Deur goed na hom te luister kry ons vandag almal 'n les in lesing van die O.T.

Dit is nogal noodsaaklik omdat ons vandag oorspoel word met allerhande boeke wat die O.T. nie vanuit christelike standpunt lees nie, maar eerder uit die joodse oogpunt.

Dit het tot gevolg dat dan allerhande profesiee uit die O.T. gelees word buite Christus om.

Om 'n voorbeeld te noem wat ons onlangs nog in die prediking aandag gegee het, die profesie van Jesaja dat die volkere na Sion sal stroom, dat die Here hulle sal vergader op sy heilige berg, word vandag deur sommige verklaardes graag in verband gebring met die toestroom van die Jode na Jerusalem.

Dit is wat ek bedoel met 'n joodse lesing van die O.T.

Die gevolg van so'n joodse lesing van die O.T. is dan, dat allerhande profesiee uit die O.T. oor b. v. Jerusalem of oor Sion onmiddellik toegepas op die Jerusalem van vandag. Dan word aan die feit dat daar tans 'n staat Israel is, groot waarde toegeken asof God nou eers sy profesieë begin voltooi.

Daarmee gaan dan gepaard 'n oplewing van chiliastiese teoriee, of groot oplaesyfers van boeke van mense soos Hall Lindsey, of Bennie Kleynhans ens.

Omdat van ons mense ook wel eens van daardie tipe boeke in hande kry is dit nuttig om ons weer 'n slag grondig op ons manier van lesing van die O.T.te besin.

Want laat ons goed besef met die manier van lees van die Bybel staan of val die evangelie!

As ons begin toeegee aan die verleiding om op die Joodse manier die Bybel te lees en te verklaar, dan verloor ons een of ander dag Hom om wie dit alles gaan nl die Here Jesus Christus!

Hy is die Middelaar om wie die hele O.T. roep. En wanneer die lesing van die O.T. jou nie as smekeling by die voete van hierdie Middelaar bring nie, dan het die Middelaar vir jou tevergeefs gesterwe.

Ons tema is:

Slegs die Heilige Gees leer ons om die Skrif te verstaan

  1. In die O.T. gaan dit om Gods heerlikheid
  2. In die N.T. gaan dit om Christus heerlikheid.

As mens eens 'n slag die hele hoofstuk Handelinge 7 deurlees kan by jou aanvanklik enige verbasing ontstaan oor die feit dat die Jode oor hierdie rede van Stefanus so verskriklik kwaad geraak het, dat hulle hom maar net wil stenig.

Immers Stefanus hou hier sy verdedigingsrede in die Joodse Raad. So 'n amptelike instansie mag tog wel 'n bietjie nugterder reageer op dinge wat daar gese word.

Goed, om deur Stefanus aangespreek te word as 'hardnekkiges en onbesnedenes van hart en ore' is nou nie juis strelend vir hulle nie, maar om hom daaroor te stenig?

Immers wat doen Stefanus nou feitlik anders as die hele verhaal van Israels geskiedenis weer ophaal. As ons die oorbekende verhaal lees is ons selfs geneig om 'n bietjie verveeld te raak.

Wat het die hele geskiedenis van Israel te doen met die saak waaroor dit gaan?

Kom ons kyk 'n bietjie. Wat is die klag teen Stefanus?

Ons lees dit in Hoofstuk 6: 11 'Ons het hom lasterlike dinge hoor praat teen Moses en God. ' Vers 13 is soortgelyk: 'Die man hou nie op om lasterlike dinge te praat teen hierdie heilige plek en die wet nie. '

Wel, op die klag gaan Stefanus hier in. Hy sou laster praat oor Moses en die heilige tempel.

Sy verdediging klink egter voorlopig vir ons 'n bietjie snaaks. Waarom so 'n uitvoerige verhaal? Waarom nie meer regstreeks se wat hy bedoel nie?

Ek dink hier het Stefanus iets van die metodes van die Here Jesus geleer. Onthou U dat die Here Jesus toe Hy in Nasaret was iets soortgelyks gedoen het?

Hulle daar in Nasaret meen dat hulle as sy vaderstad reg het op 'n teken. Maar dan se Jesus: Ag, toe daar hongersnood in die land was het Elia slegs vir die buitelandse weduwee uit Sarfat 'n wonder gedoen.

Ander voorbeeld: Melaatses genoeg in Israel, maar Elisa genees slegs Naaman die Sirier.

Weet u wat die mense van Nasaret toe wou doen? Hulle wou Jesus vermoor deur hom van die afgrond te gooi.

So kwaad was hulle oor hierdie voorbeelde!

Waarom was hierdie voorbeelde juis so ergernis wekkend? Wel dit het regstreeks ingegaan teen hul gevoel van eiewaarde as Jode! Hulle alleen het reg op tekens en wonders !Hulle is die uitverkore volk ! Hulle bewoon die Heilige land!God is die God van hulle!

Die Jode was dan ook besonder trots op hul eie geskiedenis. Kyk, hoe klein is ons en waar is ons nou? Ons was verstrooi in ballingskap en kyk hoe vol is Jerusalem weer? Dit is die middelpunt van die wereld!

Wel dit is hierdie hoogmoed wat Stefanus aan die kaak gestel het, ongetwyfeld al eerder in sy prediking en daarom het hulle gese: hierdie man laster hierdie heilige plek!

Stefanus haal in Handelinge 7 op dieselfde manier as Jesus die O.T. aan, en daarmee lees hy die O.T. nie menselik nasionalis-ties nie, maar lees hy hom geestelik.

Laat ons geestelik hier maar rustig met 'n hoofletter skryf. Geesteljk. Stefanus lees die Bybel deur die Heilige Gees. Dit is nie verniet dat dit hier so sterk benadruk word: Stefanus is vervul met die Heilige Gees. (6: 3;5;8;10;8: 55)

Om so die O.T. Geestelik te lees is hom nie in dank afgeneem nie. Stefanus word die eerste martelaar van die christelike kerk!

Vandag hoef so 'n Geestelike lesing van die O.T. ook nie te reken op 'n geesdriftige ontvangs by die massa nie.

Ongelukkig word ook deur veel christene vandag op 'n manier Israel weer heilig verklaar. Die oë van 'n groot deel van die christenheid is opnuut op Jerusalem gerig. Asof daarvandaan ons heil moet kom. !En wie hom oor die moderne Israelbelangstelling krities uitlaat moet net as Stefanus vandag nie op die geesdrif van die hoorders reken nie.

Kom ons kyk na die inhoud van Stefanus verdedigingsrede: Broeders en vaders luister!

Die God van die heerlikheid het verskyn aan ons vader Abraham...

Dit is nie sonder betekenis dat Stefanus sy verhaal begin met die persoon waar alles om gaan. Die God van die heerlikheid!

Die God staan in die middelpunt.

Besef U hoe belangrik dit is, juis in Israel on dit so te se?

Immers hulle het hulself beskou as die volk van die heerlikheid. Hulle bly in die land van die heerlikheid. Hulle woon in die stad van die heerlikheid, Jerusalem!

Nee se Stefanus dis nie waaroor dit gaan in Israels se geskiedenis nie. Die geskiedenis gaan oor die God van die heerlikheid. Hy staan sentraal.

As ons dan ook die Bybel lees en daarin die geskiedenis van die volk Israel, dan moet ons vashou dit gaan hier oor die Here, dit gaan hier oor sy weg met die volk Israel.

En op daardie weg gaan dit steeds oor die heerlikheid van sy Naam. As die Here Israel uit Egypte roep, dan is dit nie vanweë die voortreflikheid van die volk nie, maar vanweë die Here se trou aan sy beloftes.

As die Here na al die teleurstellings in die woestyn tog nog Israel in die land Kanaan bring dan is dit nie vanweë die geloofskrag van die volk nie maar dan is dit uitsluitlik terwille van die Naam van die Here.

As God na tientalle jare van ballingskap tog weer 'n deel van die volk terugvoer na Jerusalem is dit nie omdat die volk Israel dit verdien nie, maar dan doen die Here dit enkel terwille van sy Naam.

Kyk na die geskiedenis van die volk Israel!

Sien jy dan enige heerlikheid van die volk?

Nee eerder die teendeel, 'n beskamende geskiedenis van ontrou en afval.

Bo die geskiedenis van die volk straal maar een lig, die lig van die God van die heerlikheid.

Wel, so lees Stefanus in Hand 7 die geskiedenis van Israel.

As dit van die volk afgehang het dan was die land lankal ondergegaan in die smeltpot van die nasies.

Maar waarom kon die volk bly bestaan? Waarom het die Here steeds weer 'n nuwe begin gemaak?

Daarvoor was maar een rede: God se belofte. Sy belofte oor die komende Christus!

Dus as daar geroem moet word oor die geskiedenis van Israel, waaroor kan dan geroem word? Slegs oor een ding, oor die trou van die Here!

En daarmee haal Stefanus 'n radikale streep deur die hoogmoed van die volk Israel.

Trouens nie net deur die hoogmoed van Israel nie. Ook deur ons eie hoogmoedigheid. Lesing van die O.T. moet ook ons op die knieë bring. Want in die gang van sake met betrekking tot die ou volk van God moet ons leer om ons eie swakheid te besef.

Lesing van die O.T. maak ons heel klein.

Wat het ons vir Jesus Christus as Middelaar verskriklik hard nodig!

Hoe moes dit gaan as dit van ons afgehang het?

Dus wat staan uit as ons die geskiedenis van Israel lees?

Net een ding: Hoe groot is die heerlikheid van die Here.

Alleen sy naam moet geprys word.

2. In die N.T. gaan dit om Christus heerlikheid

In die geskiedenis vertelling van Stefanus tref ons onmiddel-lik in die begin 'n heel merkwaardige formulering.

Die God van die heerlikheid het verskyn aan ons vader Abraham toe hy nog in Mesopotamie was, voordat hy in Haran gewoon het.

Sover ons onthou het die Here Abraham in Haran geroep. Vandaar trek hy saam met sy neef Lot in westelike rigting na die beloofde land.

Maar as ons Stefanus woorde kontroleer on Genesis 11 en 12 dan blyk dat Stefanus hier tog reg is. Aan die roeping om uit Haran na die beloofde land te trek moet nog 'n ander roeping vooraf gegaan het. God het nl eers die groter familie van Abraham uit Ur geroep. En as gevolg van die roeping trek die familie stam waaraan Abraham behoort inderdaad na Haran.

Na Haran, nie na Kanaan nie. Daarop wil Stefanus nadrukkelik die aandag vestig. As God Abraham roep dan roep Hy hom eers na Haran. Stefanus onderstreep dit nog 'n keer in vers 4: Toe het hy getrek uit die land van die Chaldeers en in Haran gaan woon.

Sien u wat Stefanus met hierdie vertelling bereik?

Hy trek daarmee die land Kanaan uit die middelpunt van die belangstelling!

Die roeping van God is baie belangriker as die plek waarnatoe hulle gegaan het!

Seker hulle het tenslotte in die land Kanaan gekom, maar Stefanus noem dit nie eers nie. Hy sê net: die land waar julle nou woon.

Let spesiaal op die woordjie 'nou'. Julle woon nou (toevallig) hier, miskien later weer op 'n ander plek. Maak nie saak nie. Net waar die Here maar roep.

Begryp u nou die aanklag teen Stefanus: Hierdie man spreek lasterlike woorde teen hierdie heilige plek!

Immers heel die manier waarop Stefanus praat maak een ding duidelik: daar bestaan nie iets soos 'n heilige plek nie!

Haran of Kanaän, wat is die verskil?

Dien die Here maar daar waar julle nou woon.

So leer ons van Stefanus om die O.T. christelik te lees. Soos ons trouens ook van Christus self dit geleer het. Weet U wat Hy van die tempel waarop die Jode hulself so voorgestaan het gesê het? Meer as die tempel is hier! En dan wys Hy op Homself!

Later as Stefanus uitgepraat is sal hy dit nog onderstreep deur sy oë na die hemel op te slaan en daar die heerlikheid van Jesus Christus aan te wys.

Sinds Jesus Christus opgestaan het uit die dood en opgevaar het na die hemel is daar nie meer iets soos 'n heilige plek nie.

Vir die eerste gemeente in Jerusalem was dit volstrek duidelik. Daarom het hulle in die begin ook sonder aarseling hul stukke grond in Jerusalem verkoop om daarmee die armes te ondersteun. Baie Jode het in Jerusalem 'n paar vierkante meter grond in eiendom gehad om vir hulle later as 'n begraafplek te kon dien. Daar in die heilige grond wou hulle na hul dood begrawe word om deel te kan hê aan die beloftes van die toekoms.

Maar die eerste christene het sommer maklik daardie stukkies grond verkoop as 'n getuienis: noudat ons Christus in die hemel het nou het ons nie meer nodig om in Jerusalem 'n plekkie vir na ons dood te hê nie. Die besondere betekenis van land en stad en tempel is definitief verby.

Het die land Israel vandag dan geen enkele betekenis meer nie en sê die stad Jerusalem vir 'n christen dan glad niks nie? Die antwoord daarop is 'n duidelike 'nee', as dit gaan om 'n geestelike betekenis.

Al waarde wat Jerusalem vir 'n christen vandag kan hê is die blywende herinnering aan die feit dat die Here daar met sy reddingswerk van die wêreld begin het. Dit het 'n heel eie waarde. Ek stel my voor dat jy dit as christen ook so sal ervaar as jy in die Israel van vandag rondkyk.

Hier het die Here sy werk begin.

En van hieruit het die evangelie sy tog oor die aarde begin.

Maar wat vandag dikwels gebeur is dat die oë op Jerusalem gerig word asof daar die groot dinge nog moet gebeur! Asof God daar eers sy beloftes uit die O.T. begin waarmaak en vervul.

Wel, waar so gedink en geskryf word begin die afgodery, afgodery met 'n heilig land en 'n heilige plek.

En reken maar dat mense hierdie afgodery van hulle met fanatisme sal verdedig. Stefanus het dit nie oorleef nie!

Hy is gestenig omdat hy die O.T. vanuit Jesus Christus gelees het.

Hy is gedood omdat hy die sionsprofesieë op die koms van Jesus Christus toegepas het.

Hy moes sterwe omdat hy die heerlikheid van die Vader en sy Seun Jesus Christus in die hemel verwag het en gesien het. Daar en daar alleen moet God aanbid word. Dit was die boodskap van Stefanus.

Dit is ook sy boodskap vir ons. Dien die Here op die plek waar God jou geroep het. Of jy in Suid Afrika woon, of in Amerika of in Europa of in Israel, dit maak niks verskil nie.

Dien die Here soos Hy in sy woord uitwys, nl deur jou onvoorwaardelik te buig voor die Messias wat Hy gestuur het Jesus Christus.

In die Bybel gaan dit nie om jou eer en heerlikheid nie, dit gaan nie in die eerste plek oor jou voorspoed in die lewe nie, maar dit gaan eers en veral om die heerlikheid van God.

Om die heerlikheid van die Vader, die Seun en die Heilige Gees.

Wie hom in sy lewe inspan om daardie heerlikheid aan die Here toe te bring sal self daardeur baie verryk word.

Want 'n lewe waarin die Naam van Jesus Christus in die middelpunt staan word vanself 'n geseënde lewe.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)