Die Pinkstergees verkondig dat Jesus tot Heer verhoog is

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Handelinge 2
Preek Inhoud: 

30 Mei 93 Pinksterfees

Voor diens: Gesange
Ps 87: 1, 2, 3
Ps 87: 4, 5
Ps110: 1, 2, 3, 4, 5
Ps 72: 10, 11
Lees: Hand 2: 14-36
Teks: Hand 2: 33-36

Brs en srs, kinders!

Vandag vier ons fees. 'n Verjaardagsfees. En daarmee kan ons mekaar gelukwens.

Dit is mos Pinksterfees vandag. En op die Pinksterfees gedenk ons die geboortedag van die kerk.

As N.T. kerk is ons gebore uit die Heilige Gees wat op die Pinksterdag uitgestort is.

Sal ons daarom die geboortedag nie met vreugde gedenk nie?

Met die Pinksterfees kom ons by die laaste van die christelike feesdae van die kerklike jaar. As ons die verskillende christelike feesdae met mekaar vergelyk kom ons af op 'n kenmerkende verskil. Immers dit wil voorkom dat vandag 'n ander Persoon in die middelpunt staan as by die ander feesdae.

Kersfees- is die fees van die geboorte van Jesus Christus;

Goeie Vrydag- die sterfdag van Jesus Christus;

Paasfees- die opstanding van Jesus Christus;

Hemelvaartdag- die hemelvaart van Jesus Christus;

en op die Pinksterfees: die uitstorting van die Heilige Gees.

Hoor u die verskil?

By elke feesdag gaan dit oor 'n feit uit die lewe van die Seun van God, Jesus Christus. Maar hier lyk dit asof dit veral gaan oor 'n ander Persoon van God se Drieëenheid. Die Heilige Gees.

Tog is dit slegs skyn.

Want as ons die Pinksterverhaal goed lees, dan staan ook daar die eer en die heerlikheid van Jesus Christus ons Heer en Heiland sentraal.

Want die Gees is tenslotte maar vir een doel aan die Kerk gegee hierdie doel dat ons Christus ons Heer nie sou vergeet nie.

Daaroor gaan dit in vanoggend se preek:

Die Pinkstergees verkondig dat Jesus tot Heer verhoog is

  1. Dit word deur die feite betuig
  2. Dit word deur die Skrifte bewys
  3. Dit moet deur die hoorders erken word

Ons het sopas al gesê, brs en srs, as ons aan die Pinksterfees dink, dink ons onmiddellik aan die Heilige Gees. Hoewel dit in sekere sin tereg is, sou dit tog 'n misverstand wees as ons daarby sou bly staan.

Ek sal vir u 'n voorbeeld gee.

Dink aan toneelverligting. Die bedoeling van die ligte is dat die persone op die verhoog goed sigbaar is. Nou skielik word daar nog 'n ekstra spotlight gerig op die hoofrolspeler. Jy onthou die oomblik, toe is die spesiale skynwerper ingeskakel. Maar dit is nie die bedoeling dat die mense vanaf die oomblik net na die skynwerper sou kyk nie. Dan sou hulle hul blindstaar. Die bedoeling van die skynwerper is slegs dat dat ons beter konsentreer op die hoofrolspeler.

Wel, op die Pinksterfees gaan 'n ekstra skynwerper brand. Die Heilige Gees. Moet ons nou almal na die Heilige Gees begin kyk?

Nee, hierdie skynwerper brand slegs om op die hoofrolspeler Jesus Christus meer lig te laat val.

Dit word al heel gou duidelik as ons na die toespraak luister wat Petrus op die Pinksterdag hou. Die omstanders het nuuskierig geraak oor die snaakse dinge wat daar op die dag in die kring van die apostels gebeur het. Die tonge van vuur en die spreek in tale.

Hulle weet nie mooi waaroor dit gaan nie.

Petrus gee daarom toeligting deur te verwys na die profesie van Joël. Dit is wat Joël geprofeteer het.

En eers daarna begin hy sy eintlike preek.

Dit is in vers 22: Israeliete, luister na hierdie woorde!

En oor Wie begin hy dan praat? Oor die Heilige Gees?

Nee, Hy gaan praat oor Jesus!

Israeliete as julle wil weet wat aangaan, dan moet julle die volgende weet oor Jesus: Hy is verhoog deur die regterhand van God!

Wat julle hier kan sien is die tasbare bewys van die werk van die Gees van Christus.

Sien u dit ook, brs en srs?

Dit gaan Petrus nie daarom om te vertel dat nou eindelik die Gees gekom het na wie se koms hy so uitgesien het nie. Nee, hy wil veral verduidelik Wie se Gees gekom het. Die Gees van Jesus Christus het gekom.

Om Hom gaan dit op die Pinksterfees!

En so verduidelik Petrus: In die dinge wat hier vandag gebeur kan julle die profesie van Joël herken.

Dat Petrus hier na die profesie van Joël verwys moet die Jode sterk getref het. Dit was vir hulle 'n baie bekende en geliefde profesie.

Want op die tydperk van die Gees het die Jode al eeue gewag. Daarna het hulle vol verlange uitgesien. Na die dag dat die Gees moet kom.

Want dit is die dag waarop groot dinge sal gebeur.

Dieselfde profesie het ook vertel van die Nuwe Verbond wat dan gemaak sal word.

Die Gees sal alle dinge nuut maak. Tot en met die natuur toe.

Dan sal Israel weer verrys. Dit was die toekomsverwagting van Israel waarna hulle verlang het. Na die laaste dae waarop dit alles sal gebeur.

Dus as die Jode hier hoor praat oor die Gees en die laaste van die dae, dan gaan daar 'n wêreld oop vir hulle. Want dit is dan die groot tyd waaroor al die heerlike beloftes oor Sions heil gegaan het.

Probeer uself 'n slag indink wat dit dan beteken vir hulle as Petrus beweer: Nou is dit sover.

Ons is hier en nou in die laaste dae.

Nou het die Gees van God na hierdie wêreld neergedaal.

En waar het Hy dan neergekom? In Jerusalem. Seker. Maar by wie dan?

By hierdie Galileërs, by die volgelinge van Jesus van Nasaret.

Wat Petrus dus eintlik beweer is: Die weg van die beloofde Gees loop oor Jesus die Nasarener!

Hierdie Jesus die Nasarener onthou hulle nog wel in Jerusalem. Sewe weke terug het Pilatus hom so betitel.

'n Spotnaam vir 'n verdoemde.

Petrus roep nou dieselfde naam in herinnering. Hierdie Jesus!

Die Jesus wat julle omgebring het.

Hy is dit!

Hierdie Jesus is deur God opgewek uit die dood!

Hierdie Jesus is deur die regterhand van God verhoog!

En dit is Hy wat die belofte van die Heilige Gees van die Vader ontvang het.

Die groot geskenk waarvan heel die O.T. geprofeteer het, is in sy hande en daarvan deel hy vandag uit soos julle sien.

Watter kostelike Christusprediking, gemeente!

Al die heilsfeite uit die lewe van Jesus word deur Petrus op 'n ry gesit.

Hy het uit Nasaret gekom;

Hy het wondertekens gedoen;

Hy is gekruisig, het gesterf en is begrawe

Maar, gaan Petrus verder in vers 32: Daarna het dit Paasfees geword. Ons is getuies van sy opwekking deur God.

En in vers 33: Daarop het sy hemelvaart gevolg. Hy is deur die regterhand van God verhoog.

Hoor u die triomf in hierdie Pinksterpreek?

Die beloofde Gees het inderdaad gekom!

God het sy beloftes waargemaak!

Maar Hy het dit op 'n ander manier gedoen as wat enige Jood verwag het.

Hy het sy belofte van die Gees vervul in die vernedering en verhoging van Jesus Christus!

En wat mag hulle in Jerusalem daarvan sien?

Hoe kry hulle die verhoogde Christus te sien?

Hou hy 'n triomfantelike intog in Jerusalem na sy kruisiging en opstanding?

Kom daar 'n indrukwekkende verskyning vanuit die hemel bo Jerusalem?

Nee niks daarvan nie. En tog mag hulle die heerlikheid van Christus sien.

Maar hulle kry dit te sien in die vorm van 'n preek, 'n Pinksterpreek.

Nou Hy verhoog is, het Hy dit uitgestort wat julle nou sien en hoor, sê ons teks.

Wat is daar dan te sien?

Dit: 'n Eenvoudige en ongeleerde visterman staan en preek uit die Skrifte.

Wat is daar dan om te hoor?

Dit: 'n Opsomming van die feite uit Jesus se lewe.

En dit is vir hulle in Jerusalem en vir ons in die Kaap voldoende. Dit is die laaste wat Christus voor sy wederkoms laat sien. Namelik dat die evangelie van sy dood en opstanding verkondig word.

Dit word verkondig oor die hele aarde.

Elkeen kan dit in sy eie taal hoor.

Die Heilige Gees neem alle menslike tale in diens om die heerlikheid van Christus te verkondig. Hy gebruik daarvoor heel gewone mense.

Hy neem ampsdraers in diens om die groot dade uit Jesus se lewe te verkondig.

Dit is wat ons vandag ook kan sien. 'n Prediker op 'n preekstoel en hy vertel oor die werk van Jesus Christus.

Hy is die deur God verhoogde Middelaar.

Hierdie feite behoort vir u voldoende bewys te wees van wat in die hemel gebeur het namelik dat Christus gaan sit het aan die regterhand van God. Hy deel vanaf sy troon uit allles wat u vandag sien en hoor.

2. Christus verhoging word uit die Skrifte bewys

Ons het nou gesien hoe Christus' verhoging met die feite aangewys is. Daar is iets om te hoor en te sien op die Pinksterdag. Maar feite alleen is nie voldoende nie.

Immers feite kan altyd op verskillende maniere verklaar word.

Dit gebeur ook met die pinksterfeite.

Nadat mense gesien en gehoor het wat daar gebeur verklaar hulle dit so: Hierdie mense is dronk.

Ander mense vra hulle af: Wat kan dit tog wees?

Feite alleen is dus nie voldoende nie. Dit gaan daarom dat ons in die feite die dade van God opmerk.

En daarvoor het ons die Skrif nodig.

Slegs die Skrif kan die feite verklaar.

Daarom maak Petrus die Skrif oop in sy preek.

Nou sou dit kon wees, brs en srs, dat u voel: Dit is eintlik maar 'n taai verhaal wat Petrus hier vertel.

Dit gaan net oor feite wat gebeur het, en oor eksegese van 'n paar woorde van Dawid.

Wat doen ons daarmee?

Pas by die Pinksterfees nie eerder 'n vlot toespraak oor hoe bly die dissipels nou is dat die Gees gekom het nie?

Moet hulle nie liewers 'n spontane getuienis lewer oor hoe hulle voel oor die krag van die Gees nie?

Moontlik voel ons so, maar tog dit is nie die pad wat op die Pinksterdag gekies is nie.

Ons stel mos eintlik nie belang in die gevoelens van die dissipels van Jesus op daardie dag nie.

Wat gaan dit ons help?

Nee, ons kom slegs verder met die woorde van God. Met sy beloftes soos hy dit in die Skrifte laat vaslê het.

Daarin moet ons insig kry en daaraan moet ons gehoorsaam wees.

Dit is hoekom Petrus sy Bybel oopmaak.

Hy wys op wat Dawid gesê het. Sê Dawid dit van homself?

Nee onmoontlik!

Dawid praat van sy Heer. Hy praat van Jesus Christus!

Hy is verhoog deur God se hand en het hom aan die regterhand van God gesit.

Israeliete, moenie langer sê: hemelvaart, verhoging, sit aan die regterhand van God... ons het nooit daarvan gehoor nie!

Want die Skrifte bewys dit. Dit alles moes gebeur het!

En daarom moet in hierdie pinksterpreek die Skrif oopgemaak word.

Ja, ook die O.T.!

Ons kry vandag tallose bewegings wat hulle graag noem na die Pinksterfees. Pinkstergroepe.

Hulle beroem hulle daar op allerhande besondere geestesgawes.

Die prediking van die Woord alleen is vir hulle te armoedig.

Hulle meen daarvoor is die Gees veels te vry om hom aan die Woord te laat bind.

Van die O.T. wil hulle gewoonlik glad niks weeet nie.

Hulle sê, dit was net vir Israel. Dit gaan slegs oor die wet. Dit is nou heeltemal verby. Die Heilige Gees was in die O.T. nie daar nie en daarom stel ons in die deel van die Bybel nie belang nie.

Hoe kan 'n mens so sê?

Wie so daaroor dink het nog nooit die Pinksterpreek van Petrus gelees nie.

Dit is tog die Gees wat Petrus op hierdie dag laat spreek het?

Dit is die Gees wat vir hom die Skrifgedeeltes ( uit die O.T.!) gee om van daaruit Christus te verkondig.

En wie is die Auteur van die Psalms van Dawid? Dit is tog ook die Heilige Gees?

Wel dan is die Heilige Gees hier dus besig om sy eie psalms te verklaar. Wie sou dan nie vol belangstelling luister nie?

Dit is die Gees wat uit die Skrifte verkondig dat Jesus van Nasaret deur God tot Heer en tot Christus gemaak is.

Wie dink dan eintlik te gering van die Heilige Gees?

Is dit die kerk, wat weet van die wêreldomvattende werk van die Gees, van die Gees van Ou en Nuwe Verbond, die Gees van heel die Skrif?

Of is dit die Pinksterbeweging wat roem in tongetaal en gebedsgenesings?

Laat dit nie langer 'n vraag wees nie.

Die vraag waar die ware Pinksterfees gevier word, word nie bepaal deur die aanwesigheid van tekens nie, maar in die eerste plek deur die bewyskrag van die Skrifte.

3. Christus' verhoging moet deur alle hoorders erken word.

Het u nou die groot gawe van Pinkster gesien? Het u nou verstaan Wie se Gees hier spreek en watter geskenke met Pinkster beskikbaar kom?

Wel, dan kan nou niemand meer wegskram nie.

Die feite lê vas. Hoorbaar en signaar is betuig dat Christus die Gees oor die gemeente uitstort.

Uit die Skrifte is bewys dat Jesus Christus die Verhoogde is.

Nou kan niemand van die slotkonklusie wegkom nie.

'n Mens moet nou kies. Voor of teen Christus!

'n Pinksterpreek is maar nie 'n interessante verhaal nie. Ook nie 'n welgemeende raad hoe 'n mens die beste kan lewe nie.

Nee Pinksterprediking is 'n bekendmaking van feite.

Maar dan so dat die feite tot 'n keuse dwing.

Pinksterprediking maak skeiding.

Jy aanvaar die feite soos verkondig en jy onderwerp jou aan die verhoogde Heer.

Of jy bly die feite ontken. Maar daarmee maak jy jouself tot 'n vyand van Christus.

Die aangehaalde Psalm 110 maak duidelik wat met daardie vyande gebeur. Hul word verpletter.

Gemaak tot 'n voetbank vir 'n verhoogde Heer.

En so besluit Petrus sy preek met 'n kragtige 'dan'.

Laat dan, laat daarom die hele huis van Israel sekerlik weet dat God Jesus en tot Here en tot Christus gemaak het.

Dit is 'n bevel wat niemand kan ignoreer nie.

Jesus is Heer. Hy is die Kurios. Die Heer van hemel en aarde en alle skepsels daarop. Buig u daarom tans, nou dit nog moontlik is, anders sal Hy kom as 'n Regter wat jou veroordeel.

Jesus is ook die Christus.

Die Gesalfde van God.

Hy kom julle red van sondes.

Hierdie feit is op die Pinksterfees bewys.

En daarom moet die hele huis van Israel die feite erken.

Die hele huis van Israel. Dit is 'n pragtige aanduiding van Petrus hier.

In die eerste plek spreek hy daarmee die Jode aan. Hulle is van oudsher die huis van Israel.

Maar die huis sal baie groter word.

Want die beloftes uit die Skrifte wat vervul is op die Pinksterdag praat ook van die nasies wat na Sion sal kom.

Hulle sal hul eenheid vind in die aanroeping van die Naam van Jesus.

En dit mag ons vandag vier op hierdie Pinksterdag.

Ons het in die begin gesê: Ons vier vandag die Verjaarsdag van die Kerk.

Inderdaad, die N.T.-gemeente mag vandag haar geboortedag met groot vreugde vier.

Ons is tot lewe geroep deur die lewende Christus wat na die Skrifte opgestaan het uit die dood, opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van die Vader.

Sinds die dag leef die gemeente van die Here Jesus.

Sy leef van sy Woord en beloftes.

En ons het 'n magtige vriend wat ons aan ons verhoogde Heer verbonde hou. Die Heilige Gees.

Hy het gekom om te bly.

Totdat die Koninkryk van Jesus Christus in volle glorie gekom het.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)