Die amen van God op die prediking van die lydensevangelie

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Johannes 12
Preek Inhoud: 

Voor diens: Psalm 64: 1-7
Ps 103: 1, 3
Ps 103: 2
Ps 6: 1, 2, 3, 4, 7
Skb 14: 1, 2 (doop)
Ps 32: 1, 2, 3, 4
Lees: Johannes 12: 20-36
Teks: Johannes 12: 30

Brs en srs, geliefde gemeente!

As christene glo ons dat ons d. m. v. ons gebed kontak kan maak met God in die hemel.

Ons kan in die gebed ons lofprysings en ons verlangens onder woorde bring.

Ons vertrou dat God ons woorde kan hoor en dat Hy daarop reageer. Dit is wat ons glo.

Maar ons ervarings kan dikwels so anders wees.

Ons vou ons hande tot 'n gebed, ons praat, maar die onaangename gevoel bekruip ons dat ons maar net onsself hoor praat.

Ons bid en bid, maar ons saai ons woorde uit as noodseine in die oneindigheid van die heelal. Niemand reageer nie.

Ons kry selfs nie bevestiging dat ons woorde aangekom het nie.

Daardie ervaring kan ons soms moedeloos maak.

So moeg dat twyfelgevoelens aan jou begin knaag.

Hoor die Here my eintlik wel?

Dring my gebed wel tot Hom deur?

Ag, as daar maar eens een keer 'n antwoord sou kom.

Een duidelike reaksie op my gebed.

'n Hoorbare stem uit die hemel.

Wat sou dit my help!

Die Here Jesus het eendag so'n stem gehoor.

As Hy sê: Vader verheerlik U Naam!, dan kom daar onmiddellik reaksie. 'n Stem uit die hemel.

Het Hy dit dan nodig gehad om bemoedig te word met 'n stem uit die hemel?

Nee, sê Hyself, nie om My het hierdie stem geklink nie, maar om julle.

Om julle Grieke wat graag Jesus wil sien.

Om julle Jode wat tekens van My verwag.

Om julle brs en srs, wat die evangelie van die kruis moet aanvaar.

Ek vat die boodskap van die teks soos volg vir julle saam:

Die Amen van God op die prediking van die lydensevangelie

Dit is voldoende

  1. vir Grieke wat wysheid soek
  2. vir Jode wat tekens soek
  3. vir Christene wat redding soek

Op sigwaarde geneem is dit glorieryke dae vir die Here Jesus in ons teks. Sy laaste groot teken, die opwekking van Lasarus het die mense diep beindruk. Almal praat daarvan. Hulle sien uit na Hom en sy dissipels.

Sal Hy ook die fees bywoon? En sal ons nog meer tekens te sien kry?

As hulle ontdek, Hy is ook by die feesgangers wat optrek na Jerusalem, dan organiseer hulle spontaan vir Hom 'n feestelike intog in die stad. Palmtakke word van die bome gekap en soos 'n vors word Hy ingehaal.

Die Fariseërs kyk somber toe: Kyk, die hele wêreld loop agter Hom aan! (vs19)

Hoe waar hierdie woord is dat die hele wêreld agter hom aanloop, blyk uit vers 20.

Selfs Grieke wat uit die buiteland gekom het, het van hom gehoor. Hulle wil hom graag 'n slag ontmoet.

"Ons wil Jesus graag sien. "

'n Gesprekkie met Hom behoort interessant te wees.

Grieke is nou maar mense wat belangstel in nuwe dinge. Hulle hou daarvan om met denkers van gedagte te wissel. Hulle het altyd tyd om wysheid te hoor.

En daarom soek hulle 'n kennimaking met Jesus.

Ons raak nuuskierig. Waaroor sal die gesprek gaan?

Dit behoort inderdaad die moeite werd te wees.

Maar ongelukkig kry ons van die gesprek nie 'n verslag nie. Ons weet selfs nie eens of die beplande interview wel plaasgevind het nie.

Al wat ons verneem is dit: as Filippus en Andreas die Here Jesus wil voorstel aan die Grieke, dan reageer Hy: Die uur het gekom dat die Seun van die Mens verheerlik moet word.

Inderdaad, daardie oomblik is naby.

Miskien sien Jesus in die koms van hierdie Grieke al wel iets van vervulling van die profesie dat die evangelie aan al die volke van die aarde gebring sal moet word. Moontlik is hulle die eerstelinge van die skare wat sal kom uit alle volke en nasies.

Welkom vir hulle!

Maar, as hulle met My wil praat dan moet ons wel oor fundamentele sake praat.

"Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen. "

Wat 'n diep woord, brs en srs. Dit is nou lydensprediking, haarskerp toegepas op hierdie Grieke.

Voorwaar, ek sê vir julle as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen.

Wie is daardie koringkorrel? Dit is die Here Jesus self!

Op die oomblik nog sterk en gesond. Vol lewenskrag.

Op die glans daarvan het die Grieke afgekom.

Hulle hou mos van wysheid en skoonheid van mense. Hulle het goeie berigte van Jesus gehoor. Daarom wil hulle Hom graag sien.

Maar al wat hulle van Hom te hore kry is dit: Hierdie koringkorrel is bestem om gesaai te word.

Hierdie koringkorrel moet sterwe, anders kan hy nie vrugte dra nie.

Watter dwase verhaal in die ore van 'n Griek!

Hulle wil wysheid hoor. Hulle wil lewenskrag sien.

En hoe dink hulle 'n wyse moet vrugte dra?

Wel, deur sy mond oop te maak en sy wysheid bekend te stel.

Deur te vertel hoe 'n mens die meeste van sy lewe kan maak.

Maar hoor wat praat hierdie Jesus?

Wie sy lewe liefhet, hy sal dit verloor; maar wie sy lewe haat in hierdie wêreld sal dit bewaar vir die ewige lewe.

Nou, dit is nou groot nonsens in die ore van 'n Griek.

Jou lewe haat in hierdie wêreld, watter gesonddenkende mens sal dit doen?

Is hierdie Jesus eintlik wel normaal?

Met sy dwase prediking van lyde en sterwe?

En dan klink skielik 'n Stem van Bo. Op hierdie lydensevangelie van die sterwende koringkorrel, kom 'n antwoord uit die hemel.

Hier kom die Amen van God op Jesus' prediking.

Amen! Dit is waar! Hierdie woord is betroubaar! Dit is inderdaad die weg wat Jesus moet gaan.

Nee, Jesus is nie 'n interessante figuur vir mense wat wysheid soek nie. Hy spog nie met uiterlike skoonheid waarvan die Grieke so hou nie.

Maar Hy is die Middelaar van God en mense wat die dood sal ingaan.

Hy is die borg wat gekruisig moet word.

Hy moet onder die grond gebêre.

Soos 'n koringkorrel. Slegs so kan Hy vrugte dra.

Is daar nog iemand wat in Jesus Christus en sy woord belangstel?

Is daar nog heidene wat met Hom wil praat?

Hulle kan maar kom. Maar die gesprekstema staan vas. Die tema is: Jesus Christus en Hom as gekruisigde.

Daarmee moet hulle dit doen. Ook hierdie Grieke. Daarom staan hulle vir die keuse: Of jy aanvaar agter hierdie dwase lydensweg, wysheid van God. En jy laat jou daardeur red.

Of jy gee die voorkeur aan jou eie wysheid. Daardie wysheid sê vir jou om die lewe van hierdie wêreld lief te hê.

Dan is die kruis vir jou 'n dwaasheid.

Dan loop jy jou vas in Jesus Christus en sy evangelie.

2. Die Amen van God op Jesus' lydensprediking is voldoende vir Jode wat tekens soek.

"Hierdie stem het nie om My ontwil gekom nie, maar om julle ontwil"

Nee, die Here Jesus self het hierdie stem nie nodig gehad nie.

Hy weet watter pad Hy moet gaan. Die pad van die koringkorrel wat moet sterwe om vrugbaar te kan wees.

Nie vir hom klink hierdie stem nie.

Maar vir julle, vir julle Jode hier teenwoordig!

Hier staan julle Messias wat ingaan tot sy lyde!

Sy uur het nou gekom. Die uur van sy lyde en dood.

Hoe voel hy self daaroor?

Raak dit hom ook? Of kan hy sommer maklik sy lewe aflê?

O nee, laat ons dit nooit dink nie. Vir Homself was die pad wel duidelik, maar tegelykertyd was die pad verskriklik om te gaan.

Hoor maar vers 27: Nou is my siel ontsteld, en wat sal ek sê?

Vader red my uit hierdie uur?

"Nou is my siel ontsteld".

Die Jode wat hul psalmboek goed geken het het hierdie woorde ongetwyfeld herken.

Dit is 'n bekende woord van Dawid uit Psalm 6.

Daar in Psalm 6 roep Dawid in doodsnood tot God.

En dan sê hy (vs 4): My siel is baie verskrik.

Dit is presies dieselfde woorde as wat Jesus gebruik in ons teks!

Dus in hierdie uur van benoudheid kom Dawids woorde van doodsangs Hom in gedagte.

Maar as Dawid in doodsangs tot God roep dan vervolg hy sy woorde met: Here red my siel! (vs5)

Dit wil sê: Red my lewe! Verlos my, om u goedertierenheid ontwil. So roep Dawid.

My siel is baie ontsteld!, roep die Here Jesus saam met Dawid.

Maar dan gaan hy verder: En wat sal ek sê?

Sal ek ook saam met Dawid bid: Vader, red my uit hierdie uur?

Sal ek net soos Dawid bid om behoud van my lewe?

Nee dit kan nie. Dit mag Ek nie!

Dawid kon nog geroep het: Here red my, want wie sal u loof in die doderyk?

Wie kan in sy dood God nog verheerlik? Niemand nie. Vir Dawid is die keus duidelik. Red my van die dood. Dan kan ek u Naam verheerlik.

Maar nou kom die Seun van Dawid. Ook Hy staar die dood reg in die oë.

Kan hy ook sê: Vader red my, want wie kan in die dood u Naam verheerlik?

Nee, nie Hy nie. Nie die Messias nie.

Want dit is juis wat Hy moet doen.

Hy is bestem vir die dood om daarin die Naam van sy Vader te verheerlik!

En op hierdie Skrifverklaring, op hierdie toepassing van Dawid se doodsangspsalm klink nou die goddelike Amen.

Dawid het gesê: Vader, U Naam moet ek verheerlik. Laat my daarom nie die dood sterwe mie.

Maar Christus sê: Vader U Naam moet ek verheerlik. Laat daarom die dood oor my kom.

Want slegs deur my dood kan daar 'n ontelbare skare die lewe ingaan om U Naam, ewig te loof en te prys.

En daarvoor wil Ek my lewe gee.

Ag Jode, kan julle dit nie verstaan nie? Of wil julle nie?

Sien julle nie dat hier die Lydende Kneg van die Here voor julle staan nie?

Herken julle nie die Man van Smarte uit Jesaja 53 nie?

Waarom wil julle net meer tekens?

Die beslissing vir of teen Jesus hang tenslotte nie van tekens af nie. 'n Teken kan mos as jy wil altyd anders verklaar word.

Maar die beslissing hang af van die vraag of jy sy woord aanvaar.

Daar is die probleem.

Die kern van die probleem is vervolgens dat sy woorde en sy dade ergerniswekkend is vir 'n denkende mens.

Vir die Grieke was die lydensevangelie 'n dwaasheid.

Maar vir die Jode is dit 'n ergernis. Dat iemand wat sulke tekens kan doen, praat oor sy lewe gee om vrug te kan dra.

Dit is die laaste wat hulle van 'n Messias verwag.

Tekens het hulle nou genoeg gehad!

Selfs hierdie stem uit die hemel wat hulle gehoor het.

'n Teken van die Messias?

Nee, sê hulle, watter geluid was dit eintlik? O, seker maar 'n skielike donderslag! Of dalk 'n engel.

Daarmee doen hulle die stem af.

Die Jode het meer geweet as die Grieke.

Die Grieke moes dit net doen met 'n woord van Jesus.

'n Raaiselspreuk. Die koringkorrel moet sterwe om vrug te kan voortbring.

Hulle is regstreeks gekonfronteer met die dwaasheid van die kruis.

Maar die Jode het geweet van Jesaja 53.

Hulle kon met die Skrifte in die hand die Messias herken het.

Maar hulle het hul geërger aan die woord van die kruis.

So 'n Messias soek hulle nie.

3. God se Amen op Jesus' lydenspreek in voldoende vir christene wat redding soek.

"Nie om My ontwil het die stem gekom nie, maar om julle ontwil. "

Ja, ook om julle ontwil, brs en srs, wat u Bybel oopmaak en die verhaal lees van 'n Heiland wat 'n smadelike dood moes sterwe.

Die Grieke het nie in so 'n Messias belanggestel nie.

Die Jode het nie so'n Messias gesoek nie.

Maar julle?

Wat soek julle in Jesus Christus?

Wat verwag julle van Hom?

Is Hy 'n interssante mens wat baie knap gelykenisse kan vertel?

Is Hy 'n man wat ons bewonder vanweë sy diep insig in menslike verhoudinge?

Is Hy 'n mens van wie ons kan leer wat egte liefde is?

Maar dan sê Jesus: Bespaar my dit asseblief.

Bespaar my die bewondering van jou verstand.

Bespaar my die gevoel van jou hart.

Kom na My toe, maar kom in geloof. Geloof in My as borg wat gesterf het vir jou sondes.

Belangstelling in Jesus beteken mos niks nie.

Dit gaan om geloof in die Christus.

Dit gaan daaarom dat jy buig vir die dwaasheid van die kruis.

Wie eers tekens wil, wie steeds bewyse wil sien van sy mag en majesteit, is op soek na die verkeerde Messias. Hy soek na 'n Messias wat kom in heerlikheid.

Seker die Messias Jesus Christus sal kom in heerlikheid, maar daardie heerlikheid kom langs 'n snaakse pad. Die pad van die kruis. Die pad van dood en ondergang. Die pad van smaad en spot.

Die pad van jou lewe verloor om Christus' wil.

Daardie pad moet ons eers gaan.

Want Jesus Christus het self daardie pad gegaan.

Die pad kan jy slegs bewandel in geloof.

En nou kom ons terug op wat ons in die inleiding gesê het.

Ons sou soms so graag iets van God wil hoor. 'n Stem uit die hemel.

'n Teken.

Waarom eintlik? Wat sou daardie stem vir ons moet sê?

Ek vermoed iets soos dit: Ek sien jou wel. Ek sal jou die ewige lewe gee.

Baie mense wag op so'n teken.

Maar maak jy dan nie eintlik net soos die Jode nie?

Wil jy eers persoonlik 'n teken ontvang voordat jy jou in geloof aan die beloftes van Christus toevertrou?

Wil jy eers 'n waarborg oor die einde van die pad, voordat jy jou lewe waag op die pad van die kruis?

Maar dit sou 'n heimelike vorm van ongeloof wees!

Immers dan stap jy aan die kruis verby.

Want jy hou nie van 'n Messias wat soiets van jou vra nie.

Maar dan word jy terugverwys na die preek van Jesus oor die koringkorrel wat eers moet sterf en dan eers vrug kan dra.

Ons sal hierdie woord van Jesus gelowig moet aanvaar.

Ons moet Hom volg op Sy weg.

Maar wees gewaarsku: Jy volg Hom op 'n kruisweg.

As jou eie eer en goeie naam in die wêreld belangriker vir jou is as die eer van die Naam van Christus kan jy Hom nie volg op hierdie pad nie.

Dan moet jy maar die breeë pad volg. Maak dan maar van die lewe wat jy daarvan kan maak.

Maar onthou net: die breeë pad was nog altyd 'n doodloop-pad.

Dit eindig daarmee dat jy deur God alleen gelaat word.

Wie die ander pad wil gaan, die pad van navolging van Christus word ook gewaarsku. Dit is 'n smal pad.

'n Pad van selfverloëning en vernedering.

Maar die einde van die pad is: My Vader sal jou verheerlik!

Dit is die prediking van die lydensevangelie van Jesus Christus.

Sy Vader onderstreep dit met groot geluid.

Nie om my ontwil het die stem gekom nie, maar om julle ontwil.

Kies die pad wat jy wil gaan.

Christus wys vir jou 'n pad!

Vind jy dit 'n dwase pad? Bekeer jou dan, want so dink mense wat verlore gaan.

Of sien jy hier wysheid? Loof dan die Naam van God.

Want dit het God behaag deur die dwaasheid van die prediking van die kruis die wat glo, te red.

Amen.

(21 Maart 1993)

Liturgie: 

(kyk in preek)