Jesus wil as lewensredder sterwe deur Malgus se oor te genees

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Lukas 22
Preek Inhoud: 

PREEK OOR LUKAS 22: 49-51

LITURGIE:
Votum en seëngroet
SB 7: 1, 3, 5
Wetslesing
SB 7: 4
Gebed
Skriflesing: Lukas 22: 31-53
Ps 109: 1, 9, 10
Prediking
SB 7: 8
Doopsformulier
Ps 105: 5
Gebed
Kollekte
Ps 18: 3, 10, 11
Seën

Gemeente van die Here Jesus Christus,

In ons teks verrig die Here Jesus die laaste wonderteken voor sy dood.

As 'n klomp gewapende manne Hom wil gevange neem, flits daar skielik 'n swaard in die hand van een van sy dissipels wat vir Hom in die bres spring en gryp 'n kneg van Kajafas verskrik na sy regteroor: dit hang nog net aan 'n klein velletjie terwyl die bloed uit oor sy hand stroom.

Dadelik is egter ook Christus se hand daar wat die oor op sy plek terugsit en die bloeding stelp asof daar niks gebeur het nie.

As 'n mens hierdie wonderteken vergelyk met dié wat Christus ongeveer 'n week eerder gedoen het: toe hy sy vriend Lasarus uit die graf in die lewe teruggeroep het, is die genesing van hierdie oor nie so heel indrukwekkend nie.

Natuurlik, dit was 'n wonder. Geen dokter kan dit Jesus nadoen nie.

Maar by Lasarus se opwekking het die Here 'n hele mens uit die dood in die lewe weergebring.

By Malgus, want dit was die naam van daardie slaaf, is dit net een oor wat weer op sy plek gesit word.

As ons na die wonder kyk, ja, broeders en susters, dan was die opwekking van Lasarus groter as die genesing van Malgus se oor.

Maar ons moet by 'n wonderteken nooit net na die wonder kyk nie, maar na die teken in daardie wonder! So dikwels as wat Christus 'n wonder gedoen het, het dit 'n betekenis gehad.

En as ons dan nogmaals 'n vergelyking maak, is die genesing van Malgus se oor minstens so indrukwekkend as die opwekking van Lasarus.

Toe Lasarus uit die graf teruggeroep is, het Jesus vir vriend en vyand gewys: Hy is sterker as die dood!

Maar toe Malgus se oor weer aangesit is, het Jesus met daardie teken gewys:

Hy is Self bereid tot die dood!

Hy wat ander uit die dood kan terugroep, is bereid om Self die dood in te gaan om sodoende vir sy volk die lewe terug te verdien.

Dit is die boodskap in die teken in ons teks. Kom ek vat dit so saam:

JESUS WIL AS LEWENSREDDER STERWE DEUR MALGUS SE OOR TE GENEES

  1. ONTNEEM HY SY VYANDE HUL REGSGROND OM HOM TE VONNIS
  2. ONTNEEM HY SY VYANDE HUL REGSGROND OM SY VOLGELINGE TE VONNIS
  3. AANVAAR HY GOD SE REGSGROND OM HOM TE VONNIS

1. Ja, ons Here wou sterwe, broeders en susters. So teken die Skrif ons sy hele lewensgang. So teken die Evangeliste veral ook sy lydensgang van Getsemane na Golgotha.

U weet: dit het Hom wel baie stryd gekos.

Lukas het vir ons die worsteling beskrywe in die hof van Getsemane.

Christus het in die stof gekruip in daardie tuin. "Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem!"

Sy sweet het soos dik bloeddruppels van sy gesig af op die grond gedrup.

Want Hy was 'n mens soos u en ek, 'n mens wat gehuiwer het vir die helse verskrikking waarin sy Vader Hom wou binneskuif.

Hy het egter ook geweet: "Nie my wil nie, maar u wil moet geskied, Vader. As hierdie lydensbeker nie kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied. "

En Hy het aanvaar: daar is nie 'n ander pad nie. Hy sal die weg dwardeur die hel end-uit moet oop.

Christus was bereid om die ewige dood te sterwe, as daar geen ander pad was om ons van die helse benoudheid en pyn te verlos nie.

En so sien ons Hom nou in ons teks die vyand tegemoet tree.

Bereid om die beker wat God Hom aangereik het ad fundum leeg te drink.

Die soldate saam met die verraaier kan maar kom! Hy sal Hom nie versit nie.

Hulle hoef Hom eintlik nie eers gevange te néém nie, Hy sal Homself gevange géé.

So sien ons Christus staan in ons teks.

Maar hierdie houding van bereidheid, die houding van 'n lam wat Hom gewillig na die slagbank laat lei - hiervan verstaan sy dissipels niks nie.

Hulle interpreteer dit in elk geval heeltemal verkeerd.

Misskien het hulle so pas iets van Christus se doodsangs gesien, toe Hy in die stof gekruip het, voordat hulle aan die slaap geraak het.

Misskien het hulle, toe Hy hulle wakker gemaak het, die groot sweetdruppe op sy voorkop gesien.

Hulle voel hul in elk geval meer as tevore aan Hom verbonde in hierdie nag en spring dapper vir Hom in die bres wanneer daardie spul soldate en tempelknegte op Hom toesak. "Here, moet ons met die swaard slaan? " roep hulle moedig.

Die dissipels het niks verstaan van dit wat Christus hulle die afgelope ure nog, in die Pasgasaal, wou geleer het nie.

"Dit is my liggaam wat vir julle gegee word", het Hy hulle gewys aan die tafel deur die brood voor hul oë te breek. "Gegéé word", nie: "genéém word" nie.

Hy het hulle wééreens daaraan herinner dat Hy, die Seun van die mens, moet heengaan "volgens wat bepaal is". Sy gevangeneming en dood nie onverwags en as 'n oorrompeling kom nie - God het dit te vore so bepaal.

Maar daarvan het hulle blykbaar niks verstaan.

Eers toe die Here oor 'n swaard begin praat het, het hulle hul ore gespits:

Tot dusver het dit met julle as my dissipels veilig en voorspoedig gegaan, het Christus gesê. Julle het nie eers 'n beurs of 'n reissak nodig gehad nie.

Maar dit word nou anders: julle kan nie meer sonder 'n beurs of reissak nie, en dalk is dit selfs goed om maar jou kleed te verkoop sodat jy 'n swaard kan aanskaf!

Daardie woord was (soos so dikwels; dink maar aan die woord dat 'n mens jou hand of voet liewer moet afkap of jou oog uitruk as dit jou tot sonde verlei)- dit was 'n sterk uitdrukking waarmee Christus sy volgelinge maar net wou waarsku dat in die komende ure die veiligheid en rus verby sou wees. Vyandskap en gevaar staan hulle te wagte. Hulle sal moet vlug en hul verdedig.

Die dissipels het daardie woord oor 'n swaard egter letterlik opgevat en direk gereageer: "Here, kyk hier is twee swaarde".

Hulle het gedink hulle moet Hom verdedig pleks van hulleself.

Toe het Christus hul kortsigtigheid maar kortgevat deur net te sê: "Genoeg gepraat". As hulle nie hoor wil, moet hulle maar voel.

Ook dit het die dissipels egter nie aangevoel nie. Want nou pluk hulle direk hul swaarde uit en begin daarmee woes rondswaai om die vyand af te weer. Hulle laat hul geliefde Here nie sommer vasvat nie!

En die impulsiewe Petrus, so weet ons uit Johannes se beskrywing, wag die antwoord van sy Here nie eers af nie, maar slaan direk 'n gerigte hou na een van die voorste manne: Malgus. Malgus kan nog net voorkom dat sy kop afgekap word deur te koes, maar die flitsende swaard sny wel sy oor raak.

Petrus wil dapper langs sy Meester staan, broeders en susters, maar hy gaan juis lastig in Christus se pad staan.

Petrus word hier opnuut 'n satan wat Christus wil laat verongeluk op sy pad om sy volk van hul sondes te verlos.

Petrus gee met hierdie gewelddadige optrede aan die vyand presies die regsgrond wat hulle soek om Jesus as die leier van 'n bende misdadigers te vonnis.

Christus wil saam met die misdadigers gereken word. Ook in daardie opsig moet die Skrif aan Hom vervul word.

Maar Hy wil nie 'n misdadiger wees nie. Hy wil juis met 'n skone kriminele rekord vir óns misdade sterwe.

Die Sanhedrin het 'n klomp gewapende manne na Hom toe stuur asof Hy 'n rower is; iemand wat ander mense hul goed ontsteel en nie aarsel om daarby geweld te gebruik nie.

Petrus se impulsiewe swaardhou speel hulle presies in die kaart.

Maar só wil en mag Christus nie gearresteer en ter dood veroordeel word nie.

Daarom keer Hy onmiddelik sy agressiewe dissipels en genees dadewlik die afgesnyde oor wat nog aan 'n velletjie langs Malgus se bloedende kop hang.

Ja, dit was 'n bomenselike wonder, gemeente. Sonder steke, in een handgebaar, word die oor weer op sy plek gesit en die bloeding gestelp.

Maar verstaan u die teken in hierdie wonder?

Wil hulle Jesus as 'n gewelddadige misdadiger vasvat?

As 'n bewoë menseredder mag hulle Hom saamneem!

Wil hulle Hom as 'n rower vonnis?

Hy gee selfs aan 'n onbetekenende kneg nog sy oor terug!

Só mag hulle Hom vonnis. Soos Hy sy hele lewe hier op aarde gelewe het: as die Redder van mense.

As hulle net-nou sy hande sal vanbind, sal die hande met bloed besmeer wees.

Maar dis nie omdat Hy 'n medemens se bloed gewelddadig genéém het nie; dis juis omdat Hy 'n medemens genéés het.

Hy sal die komende ure ook nie meer die kans kry om sy hande te was nie. Met die bloed van Malgus nog aan sy hand sal hulle Hom môreoggend aan die kruis spyker. Dit sal 'n teken wees: hier word 'n Dokter doodgemaak!

En Malgus met sy vasgemaakte oor sal die komende ure vir Kajafas 'n irriterende herinnering wees: hierdie Jesus verdien nie die dood nie. Hy red mos ander mense se lewens!

2. Dit is die eerste ding wat ek kan sê oor die betekenis van hierdie genesingswonder in Getsemane.

Maar daar is nog 'n tweede ding:

Petrus se onbesonne swaardhou het ook die Christus se volgelinge sélf 'n gevaar veroorsaak.

Daarmee is naamlik aan die Sanhedrin genoeg regsgrond gegee om nie net Jesus nie, maar ook al sy volgelinge vas te vat en as misdadigers te vonnis.

Waarskynlik was dit aanvanklik nie net die bedoeling nie. Hulle wou net vir Jesus hê.

Maar wanneer sy dissipels so gewelddadig te kere gaan, is hulle wel genoodsaak om hulle almal te laat gryp. En al sal hulle dan ook miskien met 'n ligte straf kan wegkom, sal hulle voortaan die wêreld moet ingaan as mense met 'n kriminele rekord. Ja, wat sal die wêreld sê? "So die Heer, so die kneg!"

U verstaan, ook dit is die Satan se opset. Die duiwel wil Christus se kerkvergaderende werk uit die staanspoor laat struikel. Saam met Christus moet sy kerk te gronde gaan.

Die apostel Johannes vertel ons dat Christus vlak voordat Petrus sy swaard uitgepluk het, nog vir die spul gewapende manne gesê het: "As julle My dan soek, laat hierdie manne weggaan".

Christus wou nie saam met sy dissipels net-nou voor die Sanhedrin staan nie.

Hy wou nie dat hulle saam met Hom gevange geneem moes word nie. Hy wou en Hy moes net-nou alléén voor sy regters staan. Hoe sou die wêreld anders die "Een uit duisend" in Hom kan herken? Hoe sou ons Hom kan herken as die een Lam van God wat alleen die straf op die sondes van almal wil dra?

Dit moet nou baie duidelik wees dat Hy alleen, sonder iemand anders, die beker wat God Hom aangereik het, moet drink.

Christus soek vir sy dissipels ook 'n vrywaring om hulle vry te hou vir hul groot werk net-nou, na sy opstanding op Pase. Hulle self besef dit op hierdie oomblik nog glad nie, nogtans is Christus reeds daarmee besig. Hulle moet vry bly om na Pase die lewe wat Hy nou vir hulle gaan verdien, in ontvangs te neem; en om dit vanaf Pinkster ook uit te dra in die hele wêreld. Daarvoor het Hy hulle uitgekies.

En dan moet die wêreld inderdaad kan sê: "So die Heer, so die kneg!" Omdat die knegte in die voetspore van hul Heer volg: "Toe Hy beledig is, het Hy nie terug beledig nie. Toe Hy moes ly, het Hy nie gedreig nie, maar alles oorgelaat an Hom wat regverdig oordeel. " (1 Pet 2: 23) Só moet ook die knegte wees.

Die swaard waarmee hulle moet swaai, mag geen ore afsny of harte deurboor nie. Hul swaard moet die swaard van die Gees wees waarmee hulle juis ore oopsny en harte ontvanklik maak vir die Evangelie van die gekruisigde Christus.

Dié belangrike toekoms staan op die spel wanneer Petrus met 'n driftige swaardhou Malgus se oor van sy kop skei.

Dalk het Petrus self gedink, Hy moet Christus se kerkvergaderingsgwerk red deur hierdie dapper daad. In der waarheid bring hy juis Christus se verlossingswerk in gevaar.

En ook dáárom moes Christus dadelik ingryp en Malgus se oor weer aansit.

Hy moes dadelik aan die vyand elke regsgrond ontneem om ook sy volgelinge te kan vonnis. Sy kerk moes vry bly.

Christus het reeds aan u en aan my gedink, broeders en susters, toe Hy daardie kneg van Kajafas nie in die middel van die nag met 'n wond waaraan hy sou kon doodbloei in paniek na 'n dokter laat soek het nie.

Christus het nie net daardie Malgus jammer gekry nie. Hy het nie net genesing aan daardie een man wil skenk nie.

Hy het die genesing van ons almal gesoek. Die vergewing van óns sonde en so ook die genesing van al ons wonde.

3. Petrus moet sy swaard terugsit in sy skede. En Malgus kan maar aangaan met sy arrestasie. Sonder pyn, sonder 'n kop wat bloei, sonder gevaar vir 'n ontsteking.

Christus stel Self sy vyand in staat om Hom ongehinderd in hegtenis te neem.

Hy is bereid om te sterwe.

Ja, eintlik is dit nie so dat Hy met hulle saam gaan nie; hulle moet nou met Hom saamgaan - as almal knegte van die allerhoogste Hoëpriester. Hulle gaan die Lam na die slagplek lei.

Malgus staan op die oomblik van ons teks tussen twee hoëpriesters, gemeente. Die een, Kajafas, het hom gestuur om Jesus as 'n lam na die slagbank te lei.

Hierdie Lam wat Homself sonder om te protesteer na die slagbank láát lei, blyk egter Self ook 'n Hoëpriester te wees. Hy wórd nie geoffer deur Kajafas-hulle nie. Hy offer Homself tot 'n volkome versoening van die sondes van God se hele volk.

Want so wil sy Vader dit hê.

God wil die dood van hierdie Seun van 'n mens.

God het bepaal dat dit voordeliger is dat dat een Man vir die volk sterwe en nie die hele volk omkom nie.

God het besluit om die ongeregtigheid van ons almal op Hom te laat neerkom, ja, om Hom ter wille van ons oortredinge te deurboor en Hom ter wille van ons ongeregtighede te verbrysel.

Die straf wat vir ons die vrede aanbring, moes op Hom wees.

Dié vonnis van God wou Jesus aanvaar.

Malgus se bloed moes dadelik gestelp word, sodat Christus se bloed kon vloei.

En Christus se bloed moes vloei om die bloed van ontelbaar baie kinders van God, dalk ook die bloed van daardie Malgus, vir ewig te red.

So veral moet u Christus in ons teks vanoggend sien staan, broeders en susters.

As u Hoëpriester wat die vonnis wat God oor óns almal moes vel: die ewige dood, wou ondergaan.

So moet u Hom ken en daagliks u toevlug tot Hom neem met al u sondes.

Vandag is sy hande nie meer gebonde nie.

Sy hande is vandag weer vry om u en my hoëpriesterlik te seën met die genade en vrede van God onse Vader.

Sy hande is vandag weer vry om ons lyde te verlig, ons pyne te bestry, maar veral en alleereers: ons sondes te versoen by God.

Sy hande is nou ook weer vry om elkeen wat nou nog sy vyand durf te wees, om elkeen wat nou nog sy kerkvergadering durf te versteur, om elkeen wat nie nou die vrede by Hom alleen soek nie, te slaan met heilige en priesterlike toorn.

En as Hy slaan is daar niemand wat kan genees nie.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)