'n Lawwe Christen is soos laf sout

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Lukas 14
Preek Inhoud: 

PREEK OOR LUKAS 14: 34, 35

LITURGIE:
Seëngroet
Ps 71: 1, 9, 12
Wetslesing
Ps 79: 5, 9
Gebed
L. Lukas 14: 25-35
Ps 119: 7
Prediking
Ps 119: 13, 14, 28
Doopsformulier
SB 24: 3, 7
Gebed
Kollekte
Ps 9: 7
Seën

Broeders en susters,

Die kerkraad het ook vir hierdie jaar weer 'n sogenaamde "Jaartema" gekies.

Ons wil hierdie jaar in die prediking en huisbesoeke, in wykaande en Bybelstudie, ja in ons hele gemeentlike lewe besig wees met die tema:

"Gereformeerd wees in 'n veranderende Suid-Afrika. "

In 'n bylae by ons Mededelingsblad wat vandag weer verskyn, word dit nader toegelig.

Dat ons in 'n veranderende Suid-Afrika leef, kan niemand ontken nie. Daar verander deesdae baie: in die politiek en in die samelewing, in die besef van norme en waardes; en ook kerklik is daar beweging en verskuiwing.

In dié aktuele situasie vandag het die HERE ons 'n plek gegee. En 'n taak.

Ons moet Christen wees, Gereformeerd wees in hierdie veranderende Suid-Afrika, op so 'n wyse dat ander mense dit raaksien; sodat ons vir daardie mense 'n voorbeeld kan wees; sodat ons op daardie mense aantrekkingskrag het.

Om die verantwoordelike taak goed te kan uitvoer, is dit nodig dat ons eers weer 'n slag na onsself kyk.

Is ons wel wat ons moet wees?

Ons noem onsself "Christene" - maar watter plek neem Christus in der waarheid in in ons lewe? Is ons lewe regtig "Christus", soos Paulus dit van Homself kon sê? Wil ons ons Heiland in álles navolg, ook as dit beteken dat ons ons kruis op ons moet neem?

Ons noem onsself "Gereformeerd", in onderskeiding van soveel mense wat hulleself ook Christene noem, maar na ons oortuiging nie ten volle uit die Woord van Christus leef nie.

Maar daardie naam kan sommer 'n gevaarlike naam word: 'n naam waarmee ons onsself gerusstel en tevrede voel asof ons beter sou wees as soveel ander Christene. Die naam Gereformeerd kan ons die veilige gevoel gee dat ons iets het wat ander nie het nie.

Dan vergeet ons egter dat daardie naam juis 'n oproep beteken om jou aanhoudend te reformeer, om voortdurend met die Woord van onse God en die Gereformeerde belydenis en erfenis besig te bly sodat ons al hoe duideliker verstaan wat die wil van God is, sodat ons al hoe meer ons lewe volgens God se goeie gebooie inrig, en sodoende al hoe meer vir die wêreld om ons heen kan beteken.

Op dié dinge gaan ons ons dus hierdie jaar ekstra besin.

Want alleen as ons ook regtig is wat ons onsself noem: Gereformeerd, kan daar van ons 'n belangrike invloed uitgaan in die veranderende Suid-Afrika van vandag.

Dan kan ons "sout" in ons samelewing wees.

As ons egter wel Gereformeerd genoem word, maar nie is nie, het ons waardeloos geword, werd om soos soutelose sout weggegooi te word.

So het ons Heiland mos self gewaarsku in die Skrifgedeelte wat ons vanoggend opgeslaan het.

Kom ek vat die boodskap daarvan soos volg saam:

'N LAWWE CHRISTEN IS SOOS LAF SOUT

  1. ONS KAN AS CHRISTENE WAARDEVOL WEES,
  2. MAAR ONS MOET WEL WAARDEVAS WEES
  3. ANDERS SAL ONS WAARDELOOS WORD

Laf sout, broeders en susters, is dit moontlik? !

Bestaan daar soiets: soutlose sout? Dit klink na 'n innerlike teenstrydigheid.

Sout wat nie meer sout is nie........ Is sout nie waardevas nie?

Nogtans praat die Here Jesus in ons teks van laf sout: sout sonder smaak.

Party uitleggers het daarom ywerige pogings gedoen om aan te toon dat dit inderdaad soms kan gebeur dat sout soutloos word. Hulle kom dan aandra met 'n baie ou storie van iemand wat in 'n soutdal in Kanaän 'n stuk afgebreek het wat nog wel soos sout gelyk het, wat die glans en die skilferagtige vorm van sout behou het, maar sy soute smaak geheel en al verloor het, waarskynlik omdat dit aanhoudend aan weer en wind, sonskyn en reën blootgestel was.

Ons gaan ons vanoggend met daardie probleem maar nie te lank besighou nie. Want dit is in elk geval duidelik dat ons Here 'n baie opvallende beeldspraak gebruik het, waarin Hy 'n baie uitsonderlike situasie voorgestel het.

Ja, volgens die oorspronklike Grieks het Hy 'n woord gebruik wat eintlik "dwaas word" beteken: sout wat dwaas word. Soutlose sout: die gedagte alleen al is dwaas!

Daarom lê daar in hierdie sterk beeldspraak 'n ernstige waarskuwing opgesluit vir lawwe Christene. Want dié bestaan wél! Christene wat hul krag en betekenis kwytraak; mense wat aan Jesus Christus wil behoort, maar na verloop van tyd nie meer kans sien om Hom in alles te volg nie.

Met die oog op sulke Christene het Jesus die gelykenis van ons teks uitgespreek.

Dit blyk as ons kyk na die verband waarin ons teksverse staan.

Dit lyk dalk op die eerste gesig asof die beeld oor die lawwe sout taamlik onverwags volg op die voorgaande verse. Is daar wel verband? Of het ons hier met 'n los uitspraak van die Here te doen, wat deur Lukas êrens in hierdie hoofstuk bygeplak is?

Daar is beslis wel 'n duidelike verband, gemeente.

Ons het in vs 25 gelees dat groot menigtes met die Heiland saamgegaan het op sy reis deur Kanaän. As u 'n oomblik saamkyk in hoofstuk 12, vs 1, sien u dat dit nie tientalle nie, maar duisende mense was.

Dit was vir Christus seker maar 'n baie verblydende ding. Soveel volgeling wat hul werk gelos, hul ander belange net so laat lê het om met Hom saam te gaan en na Hom te luister. Dit is mos wat hy steeds gesoek het: navolgers.

Tog lyk dit asof die Here glad nie so bly is met al daardie mense nie. Dit lyk eerder asof Hy hulle wil afskrik, want, so het ons in vs 25 gelees: as Hy die groot menigtes sien, draai Hy Hom na hulle toe om en gaan baie ernstige dinge vir hulle sê! Woorde wat nie juis nooi om te bly saamgaan nie.

Die wat na Hom toe kom, moet wel bereid wees om sy eie Pa en Ma, vrou en kinders, broers en susters, ja, selfs sy eie lewe te haat. Dié sal 'n kruis moet dra.

En dan vertel Christus twee gelykenisse met die duidelike boodskap: besig eer jy begin!

Wil die Here liewer weer ontslae raak van daardie volgelinge? Voel Hy eintlik maar bra ongelukkig oor so 'n groot menigte?

Nee, Christus wil nie die mense wegstuur nie. Maar Hy wil hulle wel daarvan deurdring wat die gevolge is as 'n mens Hom wil volg. Almal moet mooi besef wat hulle doen en nie hul net uit oppervlakkige belangstelling of onbesonne entoesiasme by sy dissipelkring voeg nie.

Want om met Christus saam te gaan, is nie 'n plesierreis nie. Die Here is op pad Jerusalem toe en hy weet baie goed dat hierdie tog 'n kruistog sal word om die borgtog te volbring vir God se volk. Dit word 'n lydensweg waarop Hy haat, vervolging, gevangenneming en 'n vreeslike dood te wagte is.

Dit is die weg wat sy hemelse Vader aan Hom opgedra het: deur lyde heen na die heerlikheid toe.

'n Dissipel is egter nie groter as sy Heer nie. Elkeen wat Jesus se volgeling wil wees, moet Hom op hierdie pad volg. As hulle Christus gehaat het, sal hulle ook sy Christene haat. As hulle Christus vervolg het, sal hulle ook sy Christene vervolg. As hulle die Christus gedood het, sal hulle ook sy volgelinge doodmaak. Ook hulle pad loop deur lyde heen na die heerlikheid toe.

Dit moet elkeen goed oorweeg wat Christus se dissipel wil wees.

Dis nie genoeg om naloper te wees nie. 'n Mens moet bereid wees om 'n navolger te word. Jy moet letterlik alles, selfs jou eie lewe, wil prysgee om agter Christus te mag aangaan.

Die Here vat dit in vs 33, vlak bo ons teksverste, nog 'n keer onomwonde saam: "So kan dus niemand van julle wat nie afsien van al sy besittings, my dissipel wees nie. "

Dit maak jou egter nie armer as jy die groot stap doen en alles prysgee ter wille van Christus nie.

Inteendeel, dié wat alles wil opoffer om 'n dissipel van Christus te kan wees, word juis baie WAARDEVOL in hierdie wêreld. Dié word die sout van die aarde!

Kyk, so maak Christus die oorgang na die woorde van ons teks.

"Die sout is goed", sê Hy skielik. Maar Hy bedoel natuurlik dié wat bereid is om Hom in hierdie wêreld te volg.

Sout is iets moois! Het sout nie die aangename eienskap om suiwerend, reinigend, bederfwerend, maar ook smaakverbeterend te kan werk nie?

Wat is kos sonder sout? Vra 'n bietjie aan iemand wat 'n soutarme dieet moet gebruik!

En hoe sou mense vroeër, sonder yskaste, vleis en so meer langer as 'n halwe warme dag kon bewaar as daar nie sout was gewees nie?

Sout is baie waardevol. Onopvallend, maar so dat dit diep deurdring, doen dit sy bewarende en smaakverbeterende werk.

Maar 'n getroue volgeling van Christus is dus net soos sulke waardevolle sout. Wie bereid is om sy eie lewe te verloor, word in staat om ander mense se lewens te red. Want almal wat met hart en siel dissipel van Christus wil wees, raak dermate deurtrokke van die Gees van Christus dat hulle 'n suiwerende en bewarende betekenis kry vir die onsmaaklike en bedorwe wêreld waarin ons leef.

Ons gaan na Christus smaak!

U weet dit mos, broeders en susters, hoe 'n soutende werking u op u omgewing kan uitoefen?

As u in u gesinne in alles probeer leef volgens die styl en die wette van God se Koninkryk, soos dit byv. sigbaar word in die getal kinders, u omgang met mekaar as man en vrou, ouers en kinders, in u kleredrag en tydsbesteding, u taalgebruik en al die ander klein maar belangrike besonderhede - dan trek u die aandag van bure wat lankal vervreemd geraak het van God en sy diens. Daardie mense kyk met verwondering en heimlike afguns na u!

As u u op u werk nie daarvoor skaam dat u in bepaalde opsigte anders as die meeste ander is nie, kan dit sommer gebeur dat 'n kollega juis na u toe kom om sy persoonlike probleme in 'n vertroulike gesprek te bespreek.

Juis noudat daar in Suid-Afrika so veel verander en so veel mense daardeur onseker geraak het omdat hulle hul vastighede verloor, kan ons van veel betekenis wees.

Ons Gereformeerde Kleuter- en Laerskool kry skielik aantrekkingskrag ook vir mense buite die Gereformeerde Kerke en hulle kom al gou agter dat hierdie skole nie uit politiese motiewe nie, maar uit geloofsoortuiging, uit verbondsgehoorsaamheid gestig is en instandgehou word.

Maar ook ons seuns en dogters wat nie, of nie langer, Gereformeerde skoolonderwys kan ontvang nie, kan in die ander skole, op Tegnikon en die Universiteit, smaaklike sout wees temidde van jongmense wat lawwe praatjies verkoop en bedorwe lektuur lees.

En ek kan dieselfde sê van verpleegsters in die hospitaal en die koshuis, seuns in die weermag en by die polisie: as hulle uit die staanspoor vir hulle prinsipes uitkom, op 'n gewone, gesonde, reguit manier, sal hulle al gou waardering ontmoet en selfs 'n steun en toevlug vir ander kan word.

En laat ek tenslotte ook ons blad KOMPAS nog noem: as daardie blad op 'n duidelike, Gereformeerde manier rigting wys, kan dit ook buite ons kerk mense help om die regte spoor terug te vind. Dan sal dié blad ook buite ons kerke sy lesers vind.

Ons speel as dissipels 'n belangrike rol in God se wêreld!

2. Maar, broeders en susters, iets wat waardevol is, moet ook waardevol bly. Dit moet WAARDEVAS wees. (My tweede punt).

Daarop dring die Here juis aan in hierdie kort gelykenis.

Sout moet sout bly.

'n Christen mag nie laf word nie.

Ons moet Gereformeerde Christene bly in hart en niere. Waardevas. Mense wat nie tou opgooi sodra daar teëslag en teëstand kom nie. Ons moet juis dan konsekwent Christus se voetspore druk.

Eers dan is ons regtig sout.

Ons mag ons soutende krag nie verloor nie.

Dit kán egter gebeur as ons die swaarkry van die saamgaan met Christus onderskat het. Want weereens: daar word baie opofferings van ons gevra.

Dit mag so wees dat sommige bure en kollegas, sommige skoolmaats of medestudente, sommige vriende in die koshuis of die kaserne of polisiestasie, waardering vir ons kan opbring. Dit mag so wees dat sommige ouers van buite ons gemeente aansoek doen om ook hulle kinders na die Johannes Calvynskool te mag stuur. Dit mag miskien so wees dat daar ook mense van buite ons kerke inteken op ons blad KOMPAS.

Maar daar is baie meer mense wat hoegenaamd nie respek vir u het nie, maar ons, ons skooltjie en ons eie blaadjie maar net bespot.

Dit kan selfs gebeur dat jou eie Pa en ma, jou man of vrou, of broers en susters van jou, jou uitlag.

Dit is die keersy van die medalje.

Wie dissipel van Christus wil wees, riskeer daarmee rusie tot in sy eie familiekring en moet dalk teen eie man of vrou, eie ouers of kinders kies om agter Christus te kan bly aangaan.

En laat ons maar eerlik wees: soiets is nie maklik nie! So 'n offer sny diep in 'n mens se vlees.

Dit is selfs moontlik dat Christus die offer van daardie eie vlees vra, en dat ons gevangenskap, martelinge en die dood in 'n strafkamp ter wille van Christus te wagte is.

Dit kán alles die gevolge wees as ons Christus wil volg. Ons moet bereid wees om agter Christus aan 'n kruis op ons te neem. So 'n kruis is baie meer, iets heel anders as siekte, probleme en sterfgevalle, waaraan óns altyd eerste dink wanneer ons sê dat elke huis sy kruis het.

Nee, dit kan gebeur dat ons, net soos Christus, as belaglike mense tot skande gemaak word, te kyk gesit word, verneder en gemartel word, soos dit met Christus gebeur het toe Hy op Golgota opgehang is.

U moet hiervan bewus wees as u volgeling van Christus wil wees.

En ook dit kan een van die dinge wees wat ons bo die hoof hang in 'n veranderende Suid-Afrika.

Maar juis dan moet dit blyk dat ons waardevaste sout is! As dit met ons gebeur moet ons ons soutende, bederfwerende krag nie verloor nie. Juis dan moet ons teëstanders, maar ook die omstanders, in ons lewe die smaak van Christus steeds proe.

Daarom moet u en ek mooi weet waaraan ons begin, as ons vir Christus kies. Ons moet by voorbaat die gevolge weet en aanvaar.

'n Entoesiastiese begin is maar net gevaarlik, as daar nie die diepe oortuiging is om ook vol te hou nie. 'n Alte ywerige begin sonder 'n weloorwoë diepgang, sal nie 'n lange vervolg kry nie as daar al gou moeites en offers opdoem.

Die wat hom by die kerk voeg in die verwagting dat sy lewe daar in rustige vaarwaters tereg sal kom; wie geloofsbelydenis aflê sonder om te besef dat almal wat Christus wil bely, ook bereid moet wees om vir Hom te ly in hierdie antichristelike wêreld - so 'n mens word deur Christus vergelyk met iemand wat 'n toring wil bou - 'n ooglopende onderneming!- maar na die fondasie gelê is moet hy die werk al staak omdat daar nie geld is om die bouwerk klaar te bou nie.

Of hy lyk soos 'n koning wat die dwase plan het om 'n oorlog te begin met 'n ander koning wat 'n twee keer so grote leër het - dis ook al so 'n saak wat almal se aandag trek.

So is die Christen wat na verloop van tyd laf word en dros as dissipel.

Hy vra daarvoor dat almal die spot met hom drywe.

Vir derglike afvallige Christene, of kompromie-christene wat die naam Christen nog wel bly dra, maar die krag daarvan verloën het, het selfs die wêreld maar min goeie woorde oor.

Dis egter nie die ergste nie. Dat 'n lawwe Christen vir die wêreld bespotlik word, is tot daarnatoe.

Want nou kyk ons nog 'n keer na ons tekswoorde: 'n lawwe Christen is soos laf sout. Nou ja, as soutloos sout is hy baie meer as maar net: bespotlik.

Laf sout is verwerplik!

3. Sout wat laf geword het, het WAARDELOOS geword (tenslotte nog my derde punt). Daarmee kan niemand meer iets aanvang nie.

Want g'n mens kan dit weer sout maak nie. Dit is juis die eienaardige ding van sout: dit werk orals op in, behalwe op homself. Sout kan homself nie soutmaak na dit eenkeer soutloos geword het nie. Jy kan dit maar weggooi!

Dit is selfs sinloos om dit op die land of die komposhoop te gooi. U weet, die meeste afval kan nog weer nuttig diens doen, selfs goed wat stink en vrot en skimmel word op die komposhoop nog weer waardevol en vrugbaar.

Maar laf sout - dit kan jy maar weggooi. Dit het waardeloos geword.

U verstaan seker wel, gemeente, in hoe 'n mate die waarskuwing om nie lawwe Christene te word nie, met hierdie beeld deur Christus verskerp is?

Die wat as dissipel ontrou word, verloor nie net vir ander sy reinigende en veraangenamende werking nie - dié raak ook self bedorwe.

Volgelinge van Jesus wat nie volhou nie, maar hul smaakmakende, suiwerende werking verloor, gaan self verlore!

Hulle is nog erger daaraantoe as die mense wat nog nie gesout is nie, maar dit nog kan word.

Húlle het mense sonder waarde geword.

Lawwe Christene kan niemand meer gebruik nie: die wêreld kan daarmee niks aanvang nie, ook die kerk nie, en selfs God nie.

God gooi hulle buitekant weg in die buitenste duisternis.

Die aarde moet mee deur ons, Christene, gered word. Maar ons is as Christene self reddeloos verlore as ons algaande ons krag en smaak verloor omdat ons opgehou het om al ons krag in Christus te soek.

Daarom benodig ons volgende week weer die Nagmaal, gemeente. Want niemand van ons kan uit sy eie smaaklike sout word of bly nie. Ons sal telkens weer eers die smaak van Christus moet proe in brood en wyn en ons deur Hom laat sout.

Ons kan eers die wêreld ingaan, as ons op 'n gereelde basis aan Christus se tafel aangaan.

'n Christen wees, Gereformeerd wees - dit begin met die vergewing van die bederf in ons eie lewe deur Christus se offer; en met 'n daaglikse vernuwing allereers by onsself deur Christus se Heilige Gees.

Laat ons daarom daar weer begin, broeders en susters.

En laat ons veral daarop besin hierdie jaar.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)