Almal wat in God se feessaal wil ingaan, word deur Christus gestuur na die renbaan

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Lukas 13
Preek Inhoud: 

PREEK OOR LUKAS 13: 22-24

LITURGIE:
Votum en Seëngroet
Ps 81: 1, 4
Ps 81: 9, 11 voor die Wet
Ps 81: 15 na die Wet
Gebed
Skriflesing: Lukas 13: 1-9 en 22-31
Ps 27: 4
Prediking
Ps 119: 20
Huweliksformulier
Ps 19: 6 na die ja-woorde
Gebed
Kollekte
Ps 18: 14, 15
Seën

Broeders en susters,

Miskien is u effens teleurgesteld oor my tekskeuse vanoggend.

Daar word mos 'n huwelik bevestig vandag. En by 'n feestlike troue behoort mos 'n feestlik teks: 'n egte trouteks.

Maar wat het hierdie teks met 'n troue te doen?

Hierdie teks klink ook glad nie feestlik nie. Dit klink eerder ernstig, dreigend.

Wel, laat ek dit vir u sê: in die eerste plek het ek nie net vir vanoggend se bruidspaar 'n teks gekies nie, maar vir u almal. God wil vanoggend nie net met Michiel en Riemke praat terwyl ons toehoorders kan wees nie. Die HERE het 'n boodskap vir sy hele gemeente. Michiel en Riemke wóu ook juis graag in 'n gewone sondagse erediens trou, as die HERE sy hele gemeente bymekaar roep en aanspreek.

Ten tweede: is dit nie 'n misverstand om te meen dat troutekste per se feestlike tekse moet wees nie?

Ja, ons wil dit graag so hê!

Ons gevoel soek op so 'n dag nie 'n ernstige en indringende boodskap nie.

Maar die HERE hou in sy Woord nie altyd rekening met u gevoelens nie, broeder en suster. Dan sou Hy u nooit meer ernstig kon aanspreek nie!

Daar staan in God se Woord heel wat gedeeltes in verband met die huwelik, wat eerder waarskuwend as feestlik is.

Dit is naamlik nodig omdat ons nog op pad is na die egte fees toe.

Die groot Bruilof, die bruilofsfees van die Lam, lê nog voor.

En ook mense wat hier trou en feesvier, moet nie van daardie fees vergeet nie.

Hulle moet juis hul huweliksband gebruik om mekaar aan te spoor om in die feessaal wat wag, in te gaan. Hulle moet hul kinders saamneem op pad daarnatoe.

Ons praat i. v. m. 'n troue soms van 'n huweliksnessie.

Daardie woord roep die beeld op van twee mense wat by mekaar wegkruip en vere voel vir die wêreld rondom hulle.

'n Bruidspaar in 'n huweliksnessie is nie op pad nie.

Of ons praat van die huweliksbootjie. In daardie beeld is daar effens meer beweging, maar ook hierdie beeld het nog steeds 'n alte genoeglike konnotasie. Dit laat 'n mens dink aan twee jongmense wat êrens saam rondvaar in 'n plesierbootjie op die Roodeplaatdam of soiets.

In ons teksverse roep die Here Jesus 'n ander beeld op: Hy vergelyk ons lewe met 'n hardloopwedstryd, 'n marathon, sêmaar: die Comrades.

Die pad na die feessaal in die Nuwe Jerusalem is nie 'n genoeglike wandelpad nie, maar 'n moeilike roete wat ons in 'n rekordtyd moet probeer aflê.

Op dié pad het God ons almal geroep.

Op dié pad moet ook Michiel en Riemke na hul troudag bly hardloop. Voortaan as spanmaats wat mekaar help, ondersteun en bemoedig.

En daaroor gaan dit in ons teks vir vanoggend.

Kom ek vat die boodskap van hierdie teks so vir u saam:

ALMAL WAT IN GOD SE FEESSAAL WIL INGAAN, WORD DEUR CHRISTUS GESTUUR NA DIE RENBAAN

CHRISTUS

  1. WEIER OM ONS VOORAF TE INFORMEER OOR DIE AFLOOP
  2. MAAR HY WIL DAT ONS PRESTEER IN DIE WEDLOOP
  3. EN HY WAARSKU DAT ONS WORD GEDISKWALIFISEER AS ONS NIE HARDLOOP NIE

1. Dit was 'n serieuse en simpatieke vraag, broeders en susters, wat daardie man in ons teks vir die Here Jesus gevra het: "Is dié wat gered word, min? "

Hier was nou 'n keer iemand wat ánders op Christus se prediking gereageer het as die meeste mense in Israel.

Iemand wat blykbaar verstaan het dat 'n mens nie sommer maklik die ewige lewe kan beërwe nie.

Daar blyk 'n opregte kommer uit sy vraag: Hoeveel mense haal die wenpaal, Here?

Hierdie vraer het iets van die erns van Christus se prediking verstaan.

Lukas lei hierdie vraag in deur te vertel dat die Here Jesus besig was met sy lááste preekreis deur Israel.

Die reisdoel was nou definitief Jerusalem.

Daar sou Hy as die Leidsman en Voleinder van die geloof sy eie wedloop end-uit loop; en daarby, ter wille van die vreugde wat Hom in die vooruitsig was, die kruis verduur (Heb 12: 2)

Dus het Hy nou in alle dorpe en stede waar Hy deurgetrek het, vir die leste maal gekom. Gevolglik het sy prediking oor die Koninkryk van die hemele die karakter van 'n ultimatum gekry.

Nog eenmaal het in Israel die eis geklink: "Bekeer julle, want die Koninkryk van die hemele het naby gekom. "

Kyk nog maar 'n oomblik na die begin van hoofstuk 13. Ons het dit saam gelees. Die Jode het wel baie geskrik van 'n paar skokkende gebeurtenisse waarby tientalle mense op 'n grusame wyse die lewe verloor het: deur Pilatus se soldate vermoor terwyl hulle in die tempel besig was om offers te bring; of bedolwe onder die puin van 'n toring wat onverwags omgeval het.

Vergelyk dit maar met die skokke wat ons hier in Suid-Afrika die laaste weke beleeft: eers die watervloed by Ladysmith, toe verlede week die verskriklike moddervloed in Merriespruit en terselfdertyd 'n mynramp.

Maar wie is geskok deur Christus se indringende prediking?

Daarom waarsku Christus die Jode nog eenmaal: "As julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom!"

En Hy illustreer hierdie dreigende woorde met 'n gelykenis oor 'n vyeboom wat jaar na jaar nie vrugte dra nie. So is Israel in God se oë. Maar nou word daarom die ultimatum gestel: die onvrugbare boom kry nog een jaar kans. As daar ook in daardie jaar nie vrugte kom nie, word hy uitgekap en in die vuur gegooi.

Maar kyk: nou is daar dus tog iemand wat deur daardie dreigende woorde begin nadink. Een wat homself begin afvra: Sal dit op die ou end maar 'n klein klompie mense wees wat gered word? En wat daardie vraag ook maar reguit vir Jesus vra.

Sy vraag beteken erkenning vir die Here Christus, gemeente! Want die vraag oor die getal wat gered word, stel jy nie sommer aan enigiemand nie. Hierdie man het blykbaar iets van Christus se mag, van sy goddelike afkoms gevoel.

Kyk met hoeveel ontsag hy Jesus aanspreek: "Here".

Blykbaar besef hy dat Jesus baie te sê het oor 'n mens se saligheid.

Uiteindelik is daar iemand wat begin besef dat 'n mens dus nie sommer vanself in die feessaal in God se Koninkryk sal ingaan nie - selfs nie as jy tot die uitverkore volk behoort en 'n kind van Abraham is nie.

Christus se aankondiging van die naderende oordeel laat hom wonder hoeveel gereddes daar aan die einde van die dag sal oorbly. Hoeveel mense mag die fees meemaak?

Sal dit maar 'n klein getal wees?

Hy uiter die opregte kommer van 'n meelewende kerklidmaat wat orals om hom heen die ongehoorsaamheid en onverskilligheid konstateer, ten spyte van soveel indringende oproepe tot bekering.

Hoe is dit met u, broeders en susters? Ken ú by tye ook daardie kommernis?

Leef die vraag van die man uit ons teks ook in ú hart?

Daarvoor sou ook vandag regtig wel rede wees.

Immers: hoeveel vrugte sien óns vandag op die Evangelieprediking?

Hoeveel resultaat lewer ons Evangelisasie- en Sendingwerk?

En wat is daar ook in ons eie gemeente nog baie ontrou en onverskilligheid.

Gereeld moet die kerkraad meedeel dat daar lidmate is wat hulle aan die kerk onttrek het. "Is dié wat gered word, maar min? "

Alhoewel hierdie man dus 'n vraag van opregte meelewe aan Christus vra, gee die Here vir hom nie 'n regstreekse antwoord nie.

Dit is opvallend in ons teks.

Christus weier om hierdie man te informeer omtrent die afloop van die stryd van die geloof.

Want, al het die man sy vraag ook hoe goed bedoel, hy vra nie die regte ding nie.

Ons moenie na die afloop informeer nie, maar selfs iets in die wedloop presteer.

2. Dit gaan die Here hom aan die verstand bring.

En nie net hierdie een man nie, maar terselfdertyd al die omstanders. Hierdie vraag bied vir Hom die geleentheid om elkeen wat in God se feessaal in wilgaan, weereens op te roep om die renbaan op te gaan.

"Stry hard om in te gaan!" lui Jesus se gebiedende antwoord.

U moet by die woord "stry" wat die Here hier gebruik, nie aan 'n oorlog dink nie, broeders en susters. Christus bedoel hier nie 'n geveg van man teen man nie, maar 'n wedstryd, 'n wedloop om die wenpaal te haal.

Die vraag na die afloop is 'n vraag van 'n toeskouer. So vra een wat op die paviljoen sit en toekyk, of een wat langs die pad staan en kyk.

Soiemand leef wel mee, hy voel hom wel by die stryd betrokke, hy wonder ook hoe die afloop gaan wees; maar hy neem nie self aan die stryd deel nie.

Christus stuur egter die vraer, en alle omstanders, ja, alle toeskouers, die hele paviljoen die baan op.

Moenie as 'n toeskouer staan en kyk nie, roep Hy ons toe. U moet self saamloop in hierdie wedloop.

Moenie staan en spekuleer oor die eindstryd van ander mense nie, maar begin u eie stryd. U eie prestasie word vereis.

Is dit nie inderdaad die gevaar wat ons bedreig nie, gemeente? Dat ons 'n houding van toeskouers aanneem in die stryd van die geloof?

'n Houding van gearriveerd-wees, van mense wat meen dat hulle self lankal oor die wenstreep gekom het en nou met belangstelling, of ook wel met 'n effense bekommernis toekyk hoe ander mense presteer.

Daar kan sommer 'n valse gerustheid oor ons kom. Ons kan onsself wysmaak dat ons darem gelowiges is en dús gered word. Ons behoort aan die kerk, ja, aan die regte kerk, aan die ware kerk volgens die belydenis. Ons neem elke Sondag deel aan die eredienste, en kyk 'n bietjie hoe vol is ons dienste, ook in die aande! Ons doen saam met die gemeenskaplike Bybelstudie, ons hou vir ons kinders Gereformeerde skoolonderwys in stand....... nou ja, met ons is dus niks verkeerd nie.

En vanuit hierdie posisie kyk ons dan na ander mense: na broeders en susters wat in die kerk nie so goed saamdoen soos ons nie, na lidmate wat hulle aan die kerk onttrek. Na ander Christene wat nie aan 'n Vrye Gereformeerde Kerk behoort nie. Na ons swart broeders en susters in die sendinggemeentes van Mamelodi en Soshanguve.

Ons is regtig bekommerd oor hulle!

Maar ons is hoegenaamd nie meer bekommerd oor onsself nie.

Maar dan verstaan ons nie meer wat die kerk is nie.

Die kerk is nie 'n huis waarin 'n mens al vanaf jou geboorte woon of waarin jy een of ander tyd kan binnestap en waar jy nou maar voldaan kan agteroorsit in jou bank nie.

Die kerk is soos 'n renbaan waarin elkeen sy uiterste bes moet doen om die prys te wen. Die prys, die kroon van die lewe, lê wel gereed - deur Christus vir u verdien - maar u moet eers die wedloop end-uit loop om daardie kroon in ontvangs te kan neem.

Om as 'n kerklidmaat gebóre te word, of om jou as 'n belydende lidmaat by die kerk te voeg, beteken nie dat jy nou is waar jy moet wees nie. Dit beteken maar net dat ook jy geroep is om eendag in die feessaal te mag ingaan; dat ook jy in die renbaan geplaas is lei na die nuwe Jerusalem.

Maar jy sal nou 'n lewe lank moet hardloop.

En in hierdie stryd het jy genoeg aan jouself. Want die prestasie wat gevra word, is so hoog, dat jy glad nie die kans kry om op 'n afstand die prestasies van ander mense in oënskou te neem nie. Sorg maar dat jy self die wenpaal haal!

Natuurlik bedoel die Here Jesus nie dat ons ons glad nie om mekaar, om ander hoef te bekommer nie; dat ons ons in die kerk nie met iemand anders mag bemoei nie. Natuurlik bedoel Hy nie dat ons mekaar nie meer mag teregwys en vermaan omdat elkeen genoeg aan sy eie stryd het nie.

Ons moét na mekaar omsien en, indien nodig, mekaar aanmoedig, help en teregbring. Die Bybel wys daarop op talle plekke.

Dit mag egter nie gedoen word vanuit die houding van gearriveerdheid nie. Ons mag dit nie doen as toeskouers wat langs die kant staan om aanwysings te gee en kommentaar te lewer nie.

As ons ons om mekaar bekommer in die kerk, behoort ons dit te doen soos medestryders, spanmaats wat mekaar help en desnoods meesleep om die wenpaal te haal; wat wag op agterblywers en hulle weer bytrek, wat die spoed opvoer en mekaar betyds waarsku vir gevaarlike onderdele van die roete.....

So stry ons saam in God se renbaan.

Dit moet ook die ampsdraers steeds bly besef.

Aan die een kant mag hulle hulself beskou as die afrigters van die atlete in God se renbaan. Aan hulle is die versorging en begeleiding van die stryders opgedra.

Maar terselfdertyd is hulle self ewe goed deelnemers aan hierdie wedstryd.

Hulle moet as voorgangers self ook gaan en ook self presteer.

Hulle moet soos die apostel Paulus wees - 'n man wat baie ander aangemoedig het in hul geloofsstryd, maar tegelyk ook oor homself geskryf het: "Ek oefen my liggaam en bring dit onder beheer, sodat ek nie ander tot die styd oproep maar self nie kwalifiseer nie"

Paulus wat ook slegs danksy sy eie inspanning aan die einde van sy lewe kon sê: "Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig, ek het die geloof behou. Nou wag vir my die oorwinnaarskroon, die kroon van geregtigheid... "

Sowel van lidmate as van ampsdraers word die volledige inspanning gevra.

Want die roete wat ons moet aflê, is nie juis maklik nie!

Christus gebruik in ons teks, soos Hy wel meer gedoen het, die beeld van 'n klein, nou poortjie waardeurheen ons ons moet worstel voordat ons die oorwinningsfees kan saamvier.

Daardie nou poortjie dui aan, dat die pad na die feessaal nie 'n maklike pad is nie. Dit kos stryd, opofferings, selfverloëning om die wenstreep te haal.

Die wedloop van die geloof is 'n hinderniswedloop.

Daar is moeilike opdraande en gevaarlike afdraande, af en toe moet ons oor 'n gevaarlike smal rotslysie gaan.

Daarvoor moet 'n mens alles los wat 'n las is.

Miskien moet jy selfs wel jou hand afkap of jou oog uitruk en weggooi, soos ons in verlede Sondag se preek gehoor het.

  • Daardie alkohol wat jou blik vertroebel, en jou voete onvas maak;
  • daardie liefhebberye wat vir jou so belangrik is dat jy hulle wil saamsleep op pad na die feessaal toe, maar wat jou spoed gevaarlik vertraag en jou aandag aflei;
  • daardie vriende wat jou van die regte weg probeer aftrek en jou op hul paaie wil saamneem;
  • daardie gemaksug van jou dat jy maar die liefste gewoon langs die kant sit en toekyk;
  • ja, enige ding wat 'n verhindering vorm om ten volle op die pad wat voorlê te konsentreer - daarvan moet jy dadelik ontslae raak.

Ons benodig 'n heilige lewe. Sodat ons kan volhou as daar verleidings of swaar beproewings kom.

U verstaan natuurlik wel, gemeente: dis nie so dat ons sélf die pad na God se Koninkryk moet baan nie. Daardie pad is klaar gebaan, deur ons Here Jesus Christus Self. Hy was op die oomblik van ons tekswoorde besig om man-alleen vir ons almal die wedloop te loop en sodoende die pad na die feessaal vir ons te baan.

Maar toe Hy sy loop end-uit geloop het, het God ons almal nie soos by towerslag dadelik in die feessaal geplaas nie. Nee, ons is nou ook die baan opgestuur om in Christus se voetspore te volg.

Niemand kan nou al sorgeloos wees nie.

Almal moet ons sorg dat ons hardloop.

Dat ons die wenstreep haal.

Voordat dit te laat is.

3. Ja, want ons het nie vir ewig die tyd nie.

Ook hierdie wedstryd ken 'n beperkte tydsduur, 'n sluitingstyd.

Dit lees ons tenslotte in ons teks: "Baie sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie. "

Moet dit nie so lees asof 'n deel van die gelowiges wat graag in God se feessaal wil ingaan, geen kans om te slaag het nie. Vir sommige Christene het hierdie woorde 'n beangstigende Bybelteks geword: al probeer jy ook hoe, jy kan nooit seker wees of God jou sal toelaat nie.

Maar dit is nie wat Christus hier bedoel nie. Ons moet vs 24 in samehang met vs 25 lees: 'n mens kan te laat kom!

Daar sal eendag nog heelwat van sulke laatkomers wees, mense wat veels te lank langs die kant na ander staan en kyk het, mense wat, toe hulle aan die wedstryd begin het, die swaarte van die baan onderskat het, mense wat gedink het hulle het tyd genoeg en daarom onderweg hul aandag veels te veel deur ander dinge laat aflei het...

Hulle sal net-nou ook wel graag die oorwinningsfees wil saamvier, maar hulle is te laat.

Daar is 'n sluitingstyd en wie te laat kom, word gediskwalifiseer.

Vir hulle geen oorwinningskrans en geen oorwinningsfees nie.

Dis die waarskuwings wat Christus gee aan elkeen wat hom vandag nog nie baie bekommer oor die wenstreep nie.

Niemand moet die afstand en die opofferings wat gevra word, te gemaklik opneem nie.

Julle, jongmense, moenie dink: dis dinge vir later, as ek ouer is. Dán sal ek my wel meer diepgaande besighou met die Bybel, die Kerk, die geloof en so meer. Maar nog nie nou nie. Ek wil eers jonk en vry wees.

U wat opgesluk dreig te word deur u besige werk moet nie dink: as dit oor 'n paar jaar 'n bietjie rustiger word, dan moet ek maar probeer om meer ruimte vir geloofsake te maak....

Want die wat so dink, riskeer dit om gediskwalifiseer te word.

Die sluitingstyd is mos nie vir ons almal dieselfde nie. Sommer onverwags kan die Here u uit die stryd neem. Vandag kan u laaste dag wees.

Dus moet u vandag hardloop asof dit al die laaste meters is.

Dié aansporing van Christus wou ek vanoggend aan u almal, maar ook spesiaal aan julle, Michiel en Riemke, saamgee.

Julle voeg vandag jul lewens saam in 'n huwelik.

'n Huwelik kán 'n belemmering word om die wenpaal te haal, waarsku die Bybel: Daar is mense wat nie in die feessaal van God ingaan nie want (kyk in die volgende hoofstuk, Lukas 14: 20): "Jammer, ek het 'n vrou getroud en daarom kan ek nie kom nie. "

Jou eie vrou, of jou eie man kan jou laat struikel op die weg na God se Koninkryk.

Die huwelik kan egter ook 'n wonderlike ondersteuning beteken in die

gemeenskaplike stryd om in God se Koninkryk in te gaan. 'n Getroude man en vrou kan mekaar baie help en versterk onderweg.

Begin so aan julle huwelik.

Maak van julle huweliksreis uit die staanspoor 'n stryd om in te gaan.

Dan sal vandag se fees al die voorsmaak wees van die komende fees.

Dan sal vandag se fees eendag sy vervolg kry in die bruilofsaal van die Lam in God se Koninkryk.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)