Teen Jesus se gesamentlike dissipels het die duiwel geen kans!

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Lukas 10
Preek Inhoud: 

22-09-91

LUKAS 10 : 17-20

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 68 : 2, 3
Wetslesing
Sing: Ps. 68 : 8, 9 geestelike stryd waaroor ons lees
Skriflesing: Lukas 9 : 1-6; 10 : 1-16, Openbaring 12 : 7-12
Gebed
Kollekte
Sing: Ps. 43 : 1, 3
Tekslesing: Lukas 10 : 17-20
Prediking
Sing: SB. 39 : 3, 4, 5
Dankgebed
Sing: Ps. 91 : 6, 7
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

op watter maniere is die satan besig om die mense op aarde te kwel? Op watter wyse probeer Hy om die gelowiges op die pad van die geloof te keer? In die preek oor 2 Kor. 12 het ons iets daaroor gehoor. Die verrassing was egter: die Here gebruik die teenwerking van die duiwel om sy kinders te leer hoe om hul swakheid en kwetsbaarheid in Sy krag te dra. Vanmôre kyk ons hoe die Here Jesus sy dissipels terugontvang, nadat hulle in sy opdrag die Evangelie in die land verkondig het. Watter teenwerking het hulle van die satan ontmoet, terwyl hulle in diens van die verkondiging op pad was?

Die satan het in Israël baie mense gekwel. Waar die Here Jesus ook kom, is daar baie mense wat siek of besete is. Die duiwel het liggaamlike en sielkundige hindernisse in mense opgewerp: dit is hindernisse wat hulle verhinder het om die Evangelie van Jesus te hoor, om die wonders te beleef. Wie blind is, is van die hele gebeure uitgesluit. Wie doof is, kan glad niks hoor nie. Wie stom is, kan niks vra nie. Wie lam of siek is, kan nie saamstap om die Messias te ontmoet nie. Wie besete is, word deur 'n bose gees van die ontmoeting met die Here weggehou.

Dit beteken: binne die eie volk van God oefen die bose geeste 'n verbete terreur uit. Wat het van die koninkryk van God oorgebly? Nou kom Jesus met die evangelie van die Koninkryk! Sedert die dag is die duiwel opvallend aktief. Straatterreur rig homself teen afsonderlike mense. So is die bose geeste besig om orals die mense een-een te kwel. Een-een: is dit ook hoe die duiwel vandag besig is? Is dit sy strategie, sy straatterreur? Ek bedien u vanmôre die Evangelie:

TEEN JESUS SE GESAMENTLIKE DISSIPELS HET DIE DUIWEL GEEN KANS!

In dié geloof is

  1. Jesus se naam magtig (vs. 17),
  2. satan by name genoem (vs. 18-19) en
  3. jou naam veilig gestel (vs. 20).

1. JESUS SE NAAM IS MAGTIG (vs. 17)

Jesus is in ons hoofstuk besig met 'n groot offensief van verkondiging van die Evangelie. Al in hfd. 9 lees ons: Jesus het die twaalf apostels gereedgemaak en "hulle uitgestuur om die Koninkryk van God te verkondig en om siektes te genees". Blykbaar het die apostels selfstandig op pad gegaan. Nou, in hfd 10, volg 'n tweede aanvalsgolf. Die Here het "nou sewentig ander aangestel en hulle twee-twee voor Hom uit gestuur na elke stad en plek waar Hy self sou kom". Dit is 'n frontaanval oor die hele land.

Wie is die sewentig mense wat in opdrag van Jesus op pad gegaan het? Dit is in elke geval 'n groep wat die Here uit sy kring van dissipels uitgekies het. Hulle is op daardie stadium op presies dieselfde wyse "apostels" as wat die twaalf apostels dit is. Apostel beteken: uitgestuur, gesant. Later, na die hemelvaart van die Here, sal die twaalf werklik in besondere sin die 12 apostels wees. Nou, tydens Jesus se lewe, het Hy meer apostels: daar is 'n ruim kring van dissipels waaruit Hy kan kies, 'n ruim hoeveelheid leerlinge om uit te stuur!

Ook die getal sê iets: onthou u nog van Moses? Dié leier het op 'n stadium langs hom "sewentig oudstes" gekry. Hulle het saam met Moses vir die hele volk gesorg: veral in regspraak. Nou wys Jesus hoe Hy vir die hele volk wil sorg: orals moet die Evangelie van die koninkryk kom! Om die hele volk te kan bereik, skakel Hy sewentig apostels is.

Die "orals" beteken hier: die sewentig dissipels word "voor Jesus uit gestuur na elke stad en elke dorp waar Hy self sou kom"! Dit is die Here wat op pad is deur die hele Israël! 'n Dorp kan nie so klein wees nie, of Jesus besoek ook dit. Dus: Jesus kies die simboliese getal van sewentig dissipels om te wys: ek wil vir die hele volk van Israël sorg.

Nou sien ons hoe planmatig die Here werk. Sistematies oorsien Hy die hele sendingveld van Israël. Elke groep getuies is twee-twee samegestel: vyfendertig teams het op reis gegaan. Vyf-en-dertig plekke kon teselfdertyd besoek word. Die Here sien sy plan duidelik voor Hom: Hy stuur sy teams uit "na elke stad en plek waar Hy self sou kom". Ons weet nie hoeveel dorpe hulle besoek het en hoe lank hulle op pad was nie. Dan kom die tweetalle egter terug, een-een. As so 'n team by die Here terugkom, het almal dieselfde ervaring: "Here, ook die duiwels onderwerp hulle aan ons in u naam!" (vs. 17). Dit is die uitstaande, gesamentlike ervaring: die naam van Jesus wat hul Heer is, is baie magtig. Hy is ook Heer oor bose geeste.

Daar is 'n verskil tussen die opdrag wat die Here aan die 12 apostels in hfd. 9 gegee het, en dié wat Hy aan die sewentig gee. Aan die twaalf het Hy "mag en gesag gegee oor al die duiwels. En Hy het hulle uitgestuur om die koninkryk van God te verkondig en die siekes gesond te maak" (9:1-2). Twee elemente hoor ons ook by die sewentig: verkondig die Evangelie en genees siektes. Die ander element ontbreek in die sendingopdrag vir die sewentig: naamlik dat die Here ook hulle mag gee oor die bose geeste. Dit lyk: daar is tog al 'n verskil tussen die 12 apostels wat so groot en beroemd geword het en die sewentig, die gewone dissipels. Tog het dit ook by die sewentig gewone dissipels gebeur: die bose geeste het hulle onderwerp! Dit was eenvoudig: hulle het die naam van Jesus saamgedra en dit was hul krag.

Onthou u nog wat ons uit die Evangelie oor Jesus self weet? Hy het baie bose geeste uit mense uitgedryf. Hulle het sy mag erken en dikwels skreeuend pad gegee. Een het geskree: "Wat het ons met U te doen, Jesus, Seun van God? Het U hier gekom om ons te pynig?" (Mt. 8:29). Hoor u die twee elemente: die bose geeste verbind die naam Jesus aan "die Seun van God". En: hulle wat die mense kwel, is bang dat hulle nou sal gepynig word. Die twee elemente hoor jy ook in wat Jakobus skryf: "Jy glo dat God een is? Jy doen goed; die duiwels glo dit egter ook en hulle sidder" (2: 19). Nou het die dissipels dit ook ervaar: "die duiwels onderwerp hulle aan ons in U naam". Die Here het Homself mos agter hulle gestel: "wie julle verwerp, verwerp My" (vs. 16). As mense in die naam van Jesus kom, gaan die Evangelie in die aanval. Dit is altyd 'n frontaanval: die Here spreek mense reguit aan. Hy betwis die duiwel elke mag.

Kom ons onthou dit: as Jesus agter jou aankom, is jy sterk! As jou woord as inhoud die sekerheid van God se Woord het, is jy in staat om die duiwel te weerstaan. Dit het dissipels ervaar wat in Jesus se diens uitgestuur is. Ek dink: ons mag dit op onsself toepas, altyd wanneer ons in diens van die Here die heil van ons naaste soek! Die "sewentig" wys op die groot kring dissipels wat Jesus rondom Homself versamel het. Kyk hoe groot is nou die kring van almal wat hul geloof in Hom bely! So dikwels as wat u saam in die diens van die Here besig is, mag u bewustelik die duiwel bestry! Twee-twee of gesamentlik staan ons sterk in sy naam.

2. SATAN IS BY NAME GENOEM (vs.18-19)

Hoe sterk is die satan nog? Na vers 17 sou jy kon dink: die mag van die bose word maklik gebreek. Die mag was baie sterk, as mens al die siektes en vorme van beseteheid sien, maar die Naam van Jesus het dit maklik oorkom. Nou sê die Here ook nog: "Ek het die satan soos 'n bliksem uit die hemel sien val" (vs. 18). Wat beteken dit?

Was die satan dan in die hemel? Watter reg het die bose gehad om in die hemel in te kan kom? U onthou hoe die boek Job begin: die satan kom voor God se troon om Job aan te klaag. Ja, hy beskuldig Job daarvan dat hy bloot die HERE dien om daarvan beter te word. Dit is duidelik: die duiwel het 'n sekere reg om homself toegang tot die hemel te verskaf, gehad. Dit was ons, mense wat satan die reg gee. In ons sondes lê vir die duiwel 'n argument, 'n geldige rede om as aanklaer op te tree. Dit is iets om van te skrik: die duiwel het 'n plek in die hemel?? Ja, hy het 'n plek gehad. Die gevalle engel het in en uit geweet in die hemel. Nou sê Jesus: "Ek het die duiwel uit die hemel sien val!". Wanneer het dit gebeur?

Ek dink dit het feitelik op Golgotha gebeur. Nou al sien die Heiland profeties wat besig is om te gebeur: die val van die satan is besig om voltrek te word! Dit is besig, maar dit was nog nie heeltemal voltooi nie. Vlak voor Golgotha sê die Here vir sy apostel Petrus: "Simon, Simon, kyk, die satan het vurig begeer om julle soos koring te sif" (Luk. 22:31). Die aanklaer soek aanhoudend ruimte om die dissipels aan te val. Maar, sê die Here, "Ek het vir jou gebid dat jou geloof nie ophou nie". "Satan" se naam beteken letterlik: die teenstander. Hy is die teenstander van God en mense. Sy mag het die Heiland op Golgotha gebreek! "Ek het die satan soos 'n bliksem uit die hemel sien val": toe het die bose sy reg op toegang verloor. Christus het mos die aanklag van ons weg gevat. Dit is wat ons in Openbaring gelees het: "Nou het die heil en die krag en die koningskap vir Christus geword, want die aanklaer van ons broers is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag" (12:10)!

Uit die hemel: dit is pragtig! Onthou egter wat dit vir die aarde beteken! Die draak, sê Openbaring vervolgens, is op die aarde gewerp (12:13). Daarom "wees verheug, o hemele en die wat daarin woon", maar "wee die bewoners van die aarde, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het" (12:12). Soos 'n bliksem het hy neergestort én soos 'n bliksem beplan hy om die aarde te tref.

Nee, terwyl Jesus die pragtige berig oor die hemel meld, is Hy nie blind vir wat nou op aarde aangaan nie. Hy weet baie mooi hoe sterk die duiwel homself met al sy bose geeste gemobiliseer het. Hoe baie gevalle van siekte en beseteheid het Hy al ontmoet? Orals is die duiwel aktief om mense een-een van die Evangelie af te sluit. Nou stuur Jesus sy apostels twee-twee uit: om teen dié mag op te tree. Hulle hét ervaar hoe die naam van Jesus magtig is. Hy gee nou vir altyd dié belofte: "Kyk, Ek gee aan julle die mag om op slange en skorpioene te trap, en oor al die krag van die vyand; en niks sal julle ooit skade doen" (vs. 19). Slange en skorpioene is gevaarlike reptiele. Hulle byt onverwags en spuit 'n dikwels dodelike vergif in die bytplek in. Dit is middel van die satan om 'n mens siek en seer te maak.

Jesus bedoel dit egter duidelik oordragtelik: die slange en skorpioene, die duiwelse diere, is die bose geeste self. "Al die krag van die vyand", verduidelik Jesus. Die vyand is magtig, maar "niks sal julle ooit skade doen nie". Die teengif, die antidoot is mos Jesus self! Dié belofte kry die gewone dissipels, noudat die Here nie kan, nie wil ontken dat die duiwel op aarde besig is nie. Hy praat duidelik oor die bose, sodat u nie net so dwaas soos baie mense word deur die bestaan van die satan te ignoreer nie. Daarom bid die kerk, die wye dissipelkring van Jesus altyd nog: "Laat U koninkryk kom". Dit is: bewaar u kerk en laat dit groei! En vernietig die werke van die duiwel en elke mag wat teen U opstaan. Ons bid die bede wat Jesus self ons in sy naam geleer het.

3. JOU NAAM IS VEILIG GESTEL (vs. 20).

Noudat die duiwel sedert Golgotha nog duideliker op aarde neergedaal het, wat beteken dit dan nog dat die hemel vry is? Ook daaroor sê die Here iets. Ons weet maar min oor hierdie sewentig manne. Daar is van hulle nie 'n naamlys, soos ons dit van die 12 apostels het nie. Ons vermoet wel dat Barnabas, die reisgenoot van Paulus, een van hulle was. Misskien ook Mattias en Josef, die tweetal uit wie die twaalfde apostel verkies is. Dit is blykbaar nie belangryk vir ons om die name te ken nie. Hulle was dissipels van die Here, soos u dit vandag mag wees. Is dit nodig om self bekend te wees? Nee, u name word dalk ook nooit beroemd nie. U is maar eenvoudige christene wat in diens van die Here lewe. U mag deur u lewensstyl getuig, u moet stry daarteen dat die duiwel in u lewe indring. En tog, op 'n manier is gewone name wel belangrik!

Die Here sê dit so: "Julle moenie daaroor bly wees dat die geeste aan julle onderworpe is nie, maar wees liewer bly dat julle name in die hemele opgeskryf is" (vs. 20). Laat ons daaroor dink: dit is tog wel 'n rede van blydskap, wanneer jy agterkom dat die bose swakker is as jy?? Ja, die Here ontken nie dat die ervaring van oorwinning op die duiwels belangrik is nie. Ons teks het so begin: "Die sewentig het met blydskap teruggekom en gesê: Here, ook die duiwels onderwerp hulle aan ons in u naam"! Dit was 'n groot verrassing: in Jesus se naam so sterk te kan wees! Net, oorskree nie jouself nie. Die bose geeste by ander mense oorwin is mooi, maar wat van jouself? Wees eerste bly dat jou naam veilig is! Die aanklaer, die satan is uit die hemel uitgewerp. Nou kan jou name in die hemel opgeskryf bly!

Die Bybel praat dikwels van "die boek van die lewe" waarin die name staan van wie God geroep het. Geroep: om te glo en te stry. Vir wie volhou in dié stryd, sê die Here: "Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie" (Openb. 3:5). Dat jy opgeskryf is in die hemele, is nie 'n rede tot sorgeloosheid nie. Dit kan wel 'n rede tot blydskap wees: ek is geroep om met Jesus saam te stry, Hy gee my krag! Selfs teen die bose kan ek in sy naam sterk wees en oorwin. Sterk wees ten behoeve van ander: dit is wat die sewentig dissipels mog wees. Hulle het die pad vir die koms van Jesus, die blye Boodskap skoongeveeg. Hulle mog begin om die bou van Christus se gemeente voor te berei. Jesus sê: laat jou erste blydskap wees dat jy self nie meer aangekla word nie, wanneer jy My bly volg!

Dán kan jy in Jesus se diens ook ten behoewe van ander mense teen die bose stry. Teen Jesus se gesamentlike dissipels het die duiwel geen kans! Twee-twee het die Here hulle uitgestuur om die Evangelie te verkondig en sy koms aan te kondig. Hulle mog voorbereidende werk doen: vertel van die Koninkryk wat so naby gekom het, siekes genees en bose geeste afskrik! Nee, ons kan as gesamentlike dissipels nie siektes genees nie. Ons mag egter tog baie doen: ook die kerk mag die Evangelie in al sy rykdom verteenwoordig en dit uitdra. 'n Gesonde en lewende gemeente skrik die bose geeste af. Nee, ons kan niemand die geloof gee. Christene mag egter wel baie voorbereidende werk doen. Twee-twee sê: saam staan in die diens van die Here. Jesus het mos gesê: "Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde" (Mt. 18:20). Die twee-twee is nie klein kringetjies, geisoleerde vriendskappe nie. Want die team is geskakel, onderling verbind. Vir die werk kan daar teams gevorm word, teams uit die een kring van dissipels van die Here.

Kom werk ons eensgesind vir die Here. Dan werk ons bewus ook teen die duiwel. Eensgesinde mense, teams van christene in allerlei verbande: mense wat dikwels besef hoe bly hulle is dat hulle name opgeskruf is in die hemel. Laat die blydskap ook in die kerk en onder mekaar merkbaar wees: dat jou naam vir Christus tel. Dat jy besef dat ook jy nog mense soek wat ook omwille van jou behoud saamstry.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)