God het Simeon in lewe en in sterwe tot profeet van Israel se vertroosting gemaak

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Lukas 2
Preek Inhoud: 

LITURGIE:
L. Jesaja 49: 1-13
SB. 3: 2
SB. 5: 1, 2
Ps. 102: 6, 7, 9
Ps. 89: 6
Ps. 130: 3, 4

Broeders en susters,

Ons het aan die begin van hierdie diens net die tweede vers van Simeon se lofsang gesing. Ek het opsetlik nie die eerste vers laat sing nie.

U het daardie eerste vers reeds heelwat kere gesing, veral rond die Kersfees, maar is u wel bewus wat u dan feitlik sing? : "Neem nou maar, Heer, u kneg, soos U gesê het weg"?

Kán ons eintlik wel almal sommer dié woorde van Simeon se lied met hom saamsing?

Simeon kon so sing. Hy het 'n godspraak gekry dat hy eers sou sterwe nadat hy die Gesalfde, die Christus van die Here sou gesien het. En toe hy dus met die klein kind Jesus in sy arms gestaan het in die tempel in Jerusalem, het hy geweet: God het sy Woord gehou. Ek móg die Gesalfde van Hom aanskou. Maar dan is ek nou ook bereid om te sterwe. En hy het sy bereidheid om heen te gaan voor die ore van almal uitgesing.

Maar dat sy lied in die Bybel vasgelê is, beteken nog nie dat ons dit nou sommer almal kan nasing nie. Ons kan Simeon se lied eers nasing as ons Simeon se lewe nagevolg het. Ook ons kan eers sing " Neem my nou, Heer, maar weg", as ons net soos Simeon duidelik weet dat ons dienswerk hier op aarde klaar gedoen is. Want Simeon het eers die ontslag uit sy diens aanvaar toe hy geweet het dat sy taak ten volle gedoen was.

Kom ons kyk vanaand na daardie taak wat God aan Simeon gegee het.

Ons hoor in ons teks:

GOD HET SIMEON IN LEWE EN IN STERWE TOT PROFEET VAN ISRAEL SE VERTROOSTING GEMAAK.

  1. HY MOG NOG TYDENS SY LEWE DIE VERTROOSTER VERWAG
  2. HY AANVAAR, AS HY MOET STERWE, GETROOS SY ONTSLAG

1. Ons praat soos vanself van die "ou Simeon", gemeente. Ons aanvaar dat hy 'n ou man was, 'n hoogbejaarde grysaard.

Maar die Skrif sê nie dat hy oud was nie.

Dalk was hy nog glad nie so oud nie, maar het hy 'n ongeneeslike siekte gehad. Ons weet net dat sy liggaamlike toestand sodanig was dat hy enige dag kon sterwe. Maar as die dokter vir hom sou gesê het dat hy hom maar daarop moes voorberei dat enige dag die laaste vir hom kon word, sou Simeon geantwoord het: Nee dokter, ek sal nog nie sterwe nie. Eers moet die Gesalfde van die Here kom, eerder sal ek nie doodgaan nie.

Simeon kon so sê, omdat die HERE dit self deur die Heilige Gees aan hom laat weet het. Hy sou die dood nie sien, voordat hy die Gesalfde van die Here gesien het nie.

Die Bybel vertel dat Simeon 'n regverdig en vroom man was. Hy was een van die min gelowiges wat daar in Israel oorgebly het in daardie dae. Die Heilige Gees was op hom. In die grondteks staan daar feitlik: "en 'n gees, 'n heilige, was op hom". Daardeur word Simeon teenoor al die mense in Israel geplaas wat deur 'n onreine gees, 'n duiwelse gees, besete was. En u weet: daar was destyds talle van sulke mense. Simeon was anderste. Die Heilige Gees het sy lewe beheers, sodanig dat almal dit kon agterkom. Hy het nog ore gehad om te hoor wat die Gees tot God se kinders sê.

En daarom het hy volhardend " die vertroosting van Israel verwag".

Hy het hom vasgeklamp aan die beloftes wat God herhaalde male deur die profete gegee het. Beloftes van ontferming, versoening van die skuld en herstel van die lewe. En watter profeet het duideliker van daardie vertroosting geprofeteer as die profeet Jesaja? (40: 1, 2: ) "Troos, troos my volk, sê julle God. Spreek na die hart van Jerusalem, en roep haar toe dat haar stryd verby is, dat haar skuld betaal is, dat sy uit die hand van die HERE dubbel ontvang het vir al haar sondes". Op daardie dag word al "die gebrokenes van hart verbind, word vir die gevangenes 'n vrylating uitgeroep en vir die geboeides opening van die gevangenis. Dan word 'n jaar van die welbehae van die HERE uitgeroep en kom God se wraak oor al sy vyande, om al die treurendes te troos" (61: 1, 2). "Ja, soos iemand wat deur sy moeder getroos word, so sal Ek julle troos", het die HERE deur die mond van sy kneg Jesaja gesê (66: 13). En dan, dan kom die paradys terug: "Want die HERE vertroos Sion. Hy vertroos al sy puinhope en maak sy woestyn soos Eden en sy wildernis soos die tuin van die HERE" (51: 3).

By die trooswoorde het Simeon geleef. Hy het daarmee opgestaan en daarmee bed toe gegaan. Hy het daardie beloftes van sy God onvoorwaardelik geglo. Geloof begin met eerbiedig luister, broeders en susters. Luister na dit wat God self gesê het. Dit telkens opnuut lees en oorweeg.

Alleen so het Simeon nie in sy verwagting verflou nie. En so het die Heilige Gees hom beheers. Het u gesien: dit staan tot drie keer toe in ons teksverse dat die Heilige Gees Simeon se lewe gelei het.

En vanweë daardie onverwrikbare geloof in sy beloftes het God hierdie man tot 'n spesiale profeet gemaak wat dit mog weet en vir elkeen mog vertel dat die Vertrooster van Israel nog tydens sy lewe gebore sou word.

En dan breek die dag aan dat die Gees Simeon na die tempel toe dryf om daar Josef en Maria raak te loop wat juis daar gekom het om aan Maria en Jesus 'n aantal voorskrifte van die wet te vervul. En Simeon wéét, sién sommer: hier, in hierdie babaseun, is die vervulling van God se beloftes. Nou sien ek met eie oë die Gesalfde van die HERE, en dus die heil wat God berei het.

Hierdie Kind is die reddingsmiddel waarmee God sy volk gaan verlos voor die oë van al die volke.

En luidkeels, vir so ver sy swak liggaam dit nog toelaat, sing Simeon van die vertroosting wat hy dus inderdaad mag sien, en selfs vashou. Hy sien in hierdie klein Baba sommer al God se beloftes wat hy so dikwels gelees het, tot vervulling kom. Nou breek eindelik God se verlossende lig deur in hierdie wêreld wat in die mag van die duisternis lê. Want nou sal die sondeskuld geboet word, sodat God Hom weer oor sy volk kan ontferm.

En dan sal ook die nasies uit die duisternis tevoorskyn kom.

Want Simeon het duidelik by Jesaja gelees, hoofstuk 49 dat God vir sy Gesalfde Kneg gesê het: "Dit is te gering dat Jy my kneg sou wees om net die stamme van Jakob weer op te rig en die gespaardes van Israel terug te bring. Ek het Jou gemaak tot 'n lig van die nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde".

Wanneer Simeon in aansluiting aan hierdie profesie van Jesaja volgens ons vertaling sing van God se lig "tot verligting van die nasies", broeders en susters, bedoel hy dat die nasies self na die lig toe sal kom. Soos Jesaja dit in hoofstuk 60 van sy profesieë aangekondig het: As Jerusalem se lig kom en die heerlikheid van die HERE oor die Godstad sal opgaan, sê Jesaja, "Kyk, nasies sal trek na jou lig, en konings na jou stralende opgang". Sien ook maar weer Jesaja 49, vs. 9: God se Gesalfde is deur God aarde toe gestuur "om aan hulle wat in duisternis is, te sê: Kom te voorskyn!".

Want deur Abraham se nageslag gaan God nou eindelik al die geslagte van die aarde seën.

En so ontvang God se volk Israel eindelik die heerlikheid waarvan Jesaja so dikwels gepraat het. "In plaas dat jy verlate en gehaat is sonder dat iemand daar deurtrek, sal Ek jou maak tot 'n ewige heerlikheid, 'n vreugde van geslag tot geslag" het God belowe (Jes. 60: 15). Dan vee God alle trane van die oë af, dan neem Hy alle moeite verdriet en geklaag weg. Dan kom daar 'n ewige vreugde.

Simeon sien dit alles sommer kom wanneer hy na daardie klein Kind in sy arms kyk. Want hy kyk met geloofsoë. Sy oë is verlig deur die Woord van sy HERE. Hoe sou die lig van verlossing oor Israel deurbreek? Ook dit het Simeon by Jesaja gelees (hoofstyk 9): "Kyk, 'n Kind is vir ons gebore, 'n Seun is aan ons gegee, en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbare Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors". Simeon verkyk hom nie aan hierdie Kind nie. Hy vererg hom ook nie oor die eenvoud en nederigheid van hierdie Vertrooster vir Israel nie. Want hy weet dat die Gesalfde van God 'n nederige Kneg moés wees. 'n Kneg wat hom moes buig onder die skuld van God se volk om dit in hulle plek te dra en weg te dra. Hy sou verag en deur die mense verlaat word, 'n Man van smarte en bekend met krankheid, ja, soos een vir wie mens sy gelaat verberg. Maar Hy sou óns krankhede op Hom neem, en óns smarte- die wou Hy dra.

Josef en Maria het hulle verwonder oor die dinge wat Simeon van hul seuntjie gesê het, gemeente. Dit wás ook verwonderlik, dat iemand in die verlengde van 'n babaseuntjie so'n indrukwekkende perspektief kon sien.

Maar ons weet inmiddels dat Simeon geen woord teveel gesê het nie. Die sondeskuld is geboet, op Golgota. En van dié dag af hét God sy volk weer begin herbou. Saam met alle volke. Ons is self hier die bewys daarvan. Die Gesalfde Kneg van die Here het ook ons, van oorsprong heidenvolkere, uit die duisternis tevoorskyn geroep en in Sion ingelyf.

Ons mag in geloof ook alreeds baie meer as Simeon sien. Hy het maar net 'n babatjie soos alle ander babas gesien. "Maar ons sien vandag", sê die skrywer van die brief aan die Hebreeërs, "ons sien Jesus wat vanweë die lyde van die dood wat hy ondergaan het, met heerlikheid en eer gekroon is". Die Kind in Simeon se arms het Koning in die hemel geword aan Wie gegee is alle mag in die hemel en op die aarde. Ons is dus reeds baie meer getroos as Simeon.

Maar nog altyd is God se beloftes nie ten volle vervul nie. Ons ervaar wel alreeds die begin van die ewige vreugde in ons hart, maar die paradys is nog nie werklik terug nie. Dus bly daar vir ons nog profetewerk om te verrig: sing van wat alles ons vandag reeds mag sien, en van wat ons dus met nog meer sekerheid as Simeon mag verwag- die totale vertroosting wat eendag gaan kom.

Nee, God het nie vir ons belowe dat ons die dood nie sal sien voordat ons die nuwe Jerusalem sal sien nie. God het wel gesê dat die nuwe Jerusalem enige dag kan kom. Dit kan môre wees. Ja, vanaand nog.

Is u nog bewus daarvan, broeders en susters? Verlang u nog daarna? Laat u u lewe en u gebede daardeur beheers? Veroorsaak dit 'n voortdurende spanning en onrus in u lewe wat ook ander mense by u kan agterkom? Staan u regtig nog as profete en profetesse van Gods vertroosting in hierdie wêreld?

2. Simeon kon, toe hy in Jesus die Vertrooster van Israel gesien het, sing: "Neem nou maar, Heer, u kneg, soos U gesê het, weg". Hy was nou bereid om te sterwe.

Hy kon in vrede sterwe.

Hy het genoeg gesien. God se beloftes word vervul. Hierdie begin, hoe klein ook al, beloof 'n indrukwekkende vervolg. God sal wel aangaan, ook nadat Simeon heengegaan het. Noudat Hy sy Gesalfde in die wêreld gebring het, sál Israel se vertroosting 'n feit word. In dié sekerheid verlaat Simeon sy pos.

En sy gelowige aanvaarding van sy onslag is sy laaste profetedaad.

Maar Simeon moes nou ook sterwe, broeders en susters. Dit was die moeilike keersyde van die mooie godspraak wat hy ontvang het. As die Gesalfde van sy Here sou gesien het, sou hy ook die dood moet sien. Wanneer God sou begin om vir sy volk die lewe terug te gee, sou Simeon die dood moet sterwe.

In die verlengde van die koms van God se Kneg lê die opbloei van die lewe. Jesaja het in baie menslike woorde daarvan geprofeteer (65: 20): "Daar sal in Jerusalem nie meer kom 'n suigling van 'n paar dae of 'n grysaard wat sy dae nie vol uitlewe nie. Want 'n seun sal sterwe honderd jaar oud.... ". Maar hy mog ook reguit aankondig (25: 10): "God sal die dood vir ewig vernietig, en die Here HERE sal die trane van alle aangesigte afvee".

Maar moet Simeon dan nou nogtans sterwe?

Ja, want soos daar van Simeon se lewe 'n profetiese boodskap uitgegaan het, moet daar ook van sy sterwe 'n boodskap uitgaan. Simeon moet in sy sterwe duidelik maak dat met die koms van die Vertrooster die vertroosting nog nie dadelik daar is nie. Die Vertrooster moet die vertroosting eers nog verdien. Hy sal eers self die dood moet sterwe. Vir almal. Na 'n lewe vol lyde.

Simeon se gelowige volksgenote het natuurlik geweet van die godspraak wat hy ontvang het. En hulle het saam met hom na die koms van God se Gesalfde uitgesien. Waarskynlik het Simeon, as 'n goeie profeet, selfs aan heel wat meer mense van sy groot verwagting vertel. In elk geval het ook Lukas daarvan geweet. So was die nog steeds lewende Simeon 'n wandelende herinnering aan God se beloftes! Die onrus in sy lewe het aansteeklik gewerk op sy broeders en susters, en dalk ook op heelwat ander Israeliete.

Maar wanneer Simeon dan na vandag sterf, kan elkeen die gevolgtrekking maak, dat die Gesalfde van die Here, die Vertrooster van Israel, dus gekom het. Maar tegelyk moet elkeen vasstel dat daar in Israel feitlik nog niks verander het nie. Die vyande bly God se volk vertrap, die dood is nog altyd daar.....

'n Lewende Simeon was 'n bron van heilsame onrus in Israel. Maar 'n dooie Simeon sal 'n nuwe, heilsame onrus, deur Israel jaag. Elkeen word gedwing om opnuut die Skrifte op te slaan en te ondersoek wat God m. b. t. sy Gesalfde gesê het. Almal word gedwing om te kies of hulle ook 'n Kneg wat Homself eers onder die skuld van sy volk verneder tot in die dood toe, as hul Verlosser wil aanvaar. En so sal, soos Simeon self na ons teks aan Maria voorsê, "die gedagtes uit baie harte openbaar word".

Maar Simeon weet dat ook dit nodig is om God se volk vir die egte vertroosting ontvanklik te maak. En dus aanvaar hy getroos sy ontslag as dit die laaste profetiese diens moet wees wat hy aan sy Here kan bewys. Ja, Simeon gebruik in vs 29 daardie terminologie, broeders en susters: van die afdanking van 'n werknemer. Die HERE mag hom ontslaan as dit vir sy saak bevorderlik is. Simeon sal in vrede heengaan. Want hy wéét dat dit bevorderlik is vir die saak van sy Here.

God se profete kan dus selfs deur hul dood nog aan hul Here diensbaar wees, gemeente.

Ook u gelowige sterwe kan u laaste profetiese diens vir God wees. Ook u sterwe kan daaraan meewerk dat ander mense oor die egte vertroosting begin nadink en weereens die Skrifte daaroor nalees. Want wanneer u, wat getroos geleef het, nogtans moet sterwe, roep dit ook vandag nog die vraag op: watter troos was dit dan in u lewe? Dit moes dan meer gewees het as 'n voorspoedige en aangename lewe hier op aarde. Dit wás ook meer: u het geleef uit die troos dat die Gesalfde van God, Jesus Christus, met sy kosbare bloed vir al u sondes ten volle betaal en u uit alle heerskappy van die duiwel verlos het. U rykdom was die herstelde lewe met u hemelse Vader en die vergewing van al u sondes.

Die egte herstel van die lewe begin naamlik met vergewing, deur Christus verdien. En eers wie sy lewe lank die vergewing gesoek het, sal eendag ook die totale genesing ontvang.

In die troos kán ons sterwe, broeders en susters. Noudat ons Jesus die gesien het en deur Hom die vergewing van ons skuld by God, vernietig selfs die dood nie meer ons verwagting nie. God sal wel met sy werk bly aangaan, al moet ons ook heengaan.

Maar in die troos moét ons vandag ook nog sterwe. Want selfs ons sterwe kan 'n middel wees om ook ander mense tot hierdie troos in Christus te bring.

En eers as u daarvan bewus is, mag u as die tyd vir u ontslag aangebreek het, saam met Simeon gelowig sê:

"Neem nou maar, Heer, u kneg, u diensmaagd, uit hierdie lewe weg. Want my oë het u heil gesien. En dalk is daar ander mense wat deur my dood ook u heil begin raaksien".

AMEN.

(Pretoria, 30 Desember 1990)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)