Die Here maak vir Homself 'n volk klaar

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Lukas 1
Preek Inhoud: 

15-12-91

LUKAS 1 : 13-17

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 95 : 1, 2
Wetslesing
Sing: Ps. 95 : 4, 5
Skriflesing: Maleagi 3:13 - 4:6, Lukas 1 : 1-25
Doopsformulier
Sing: Ps. 105 : 5
Gebed
Kollekte
Sing: SB. 2 : 3, 4, 5
Tekslesing: Lukas 1 : 13-17
Prediking
Sing: SB. 2 : 1, 2
Dankgebed
Sing: Ps. 128 : 3, 4
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

waaroor het die ou priester Sagaria, dink u, gebid? Wat is die gebed waarvan die engel Gabriël sê: "moenie vrees nie, Sagaria, want jou gebed is verhoor"? Ons lees dit maklik vanuit die vervolg: "... jou gebed is verhoor, en jou vrou Elisabet sal vir jou 'n seun baar en jy moet hom Johannes noem" (vs. 13). Ons ken die hartseer van getroude mense wat kinderloos bly: hulle bid en bid vir jare om die seën van 'n kindjie. So was ook die lewe, die hartseer van die egpaar wat die oorgangsleeftyd al verby is, van Sagaria en Elisabet.

Tog is dit nie waaroor die ou priester Sagaria daardie dag gebid het. Hy het mos as priester in die tempel gestaan: daardie een spesiale dag waarop hy uitgekies is om die reukoffer te kom bring. Die reukoffer is die een offer wat die gebed simboliseer, soos Ps. 141 sing: "Laat soos die geur van wierookbrande my bee wees voor u aangesig". In die reukoffer kom die gebede van die hele dag, ja, van die hele volk saamgebondel op die altaar. Die priester wat dié offer mag opdra aan die Here, staan regs van die altaar en bid. En buite, sê vs. 10, was "die hele menigte van die volk besig om te bid op die uur van die reukoffer". As die volk buite kniel, bid die priester namens hulle in die heilige. Hy bid vir God se seën oor die volk: vir alles wat nog fout is.

Dan, tydens daardie itense worsteling van die gebed, kom die engel van God en bring die begin van die heilig Evangelie. Ek mag vir u preek oor:

DIE HERE MAAK VIR HOMSELF 'N VOLK KLAAR

  1. die kind word voorberei (vs. 13-15)
  2. die generasies vind mekaar (vs. 16-17)
  3. die Here kom vir almal (Mal. 4:5-6).

1. DIE KIND WORD VOORBEREI (vs. 13-15)

Waarom word 'n persoon soos Johannes die Doper ons eintlik nie as 'n volwasse man die eerste keer voorgestel nie? Sy bestaan kry eers publiek waarde en werking wanneer hy geroep word en die woestyn intrek. Hy sou ook kon geroep geword het, soos dit met al die profete gebeur het. Dit is opvallend dat ook hy as 'n ongebore kindjie alreeds aangekondig word. By die Here Jesus verstaan ek dit: sy verwekking en geboorte is al die eerste begin van ons verlossing. Die Seun van God het mens geword, van die kleinste begin af. Dit kan by Johannes die betekenis nie wees nie.

Dat ook van hom sy verwekking en geboorte vantevore aangekondig word, kan dit beteken: eerstens hoe sorgvuldig God die volk inlig en klaarmaak, voordat Hy self in Jesus sal kom. Almal mag weet hoe ver God se voorbereidend werk terug gaan. Daarom mog Sagaria en Elisabet rondom die geboorte ook alles vertel. Maande swygsaamheid is die straf vir Sagaria se twyfel aan die woorde van die engel. Maande verberging is die kameraadskap van sy vrou om dit nie alleen uit te basuin nie. Maar rondom die geboorte mag alles vertel word: hoe die Here gekom en die kindjie al voor sy geboorte gekies het. Dan sal begin wat vers 14 sê: "hy sal blydskap en verheuging vir jou wees en baie sal oor sy geboorte bly wees". As Johannes opgroei en, later nog, aan die werk spring, sal alle mense kan weet: God self het hom gestuur ... om ons in te lig en klaar te maak. Johannes het toe mos "die doop van bekering tot vergifnis van sondes" verkondig.

Ek sien nog 'n tweede betekenis in die feit dat ook by Johannes die verwekking en geboorte aangekondig word. Nie net die volk word sorgvuldig voorgelig en so voorberei op die koms van die voorloper van Jesus, die voorloper self word sorgvuldig voorberei. "Wyn en sterk drank sal hy nooit drink nie": as 'n teken van toewyding en selfbeheersing. Daar sal nie een ander magtige invloed in sy lewe mag wees nie. Net die een invloed: "hy sal met die Heilige Gees vervul word". Hy moet oopstaan vir die Gees, sodat Hy oor die profeet, die mens kan beskik wanneer Hy hom benodig.

"Vervul wees met die Gees": wat stel jy jou daarby voor? Was jy al 'n keer so vervul? Nee, stel jou nie voor dat so 'n mens 'n permanente gevoel van opwinding moet hê nie; of dat net woorde vol geloof van sy lippe rol nie. Nee, die "vervul wees" is veral: dat God hom altyd beskikbaar gehou het om sy Gees spesiaal in hom te laat werk. Dit het altyd gebeur wanneer Johannes moes gaan preek en doop. En: in die gewone lewe moes hy van die toewyding getuig. God werk so op 'n spesiale wyse in sy profeet. Dit lyk egter ook baie op hoe Hy in u wil werk: met sy Gees die jou toewyding en jou mond kan gebruik. Wanneer Hy jou en wanneer jy jou gereed wil hou om vir die Here bruikbaar te wees.

By Johannes lees u nog die toevoeging: dit sal so wees "reeds van die skoot van sy moeder af". Ook hierin kom uit: God het die kind wat die Doper sou word, voorberei. Hy moes gevorm word, soos elke kind van gelowige ouers deur jare en jare gevorm mag word. Hy: om spesiaal die koms van die Here Jesus aan te kondig.

Die jare wat u kinders in u huis kry: ja, dit is belangrik dat u hulle oor die Here vertel. Maar die christelike opvoeding kry sy mooiste doel hierin: dat jy jou kinders so grootmaak dat die Here oor hulle kan beskik, soos en wanneer Hy dit wil. Nee, julle kindjie hoef nie 'n Johannes te word nie. Daar is ander mooi take in God se koninkryk, onder sy volk. Die Here maak, ook in u huis, ook met jou, vir Homself 'n kind klaar: 'n onderdeel van die volk wat soveel waarde het.

2. DIE GENERASIES VIND MEKAAR (vs. 16-17)

Daar is nog 'n trek in die vertelling wat op 'n besondere verkiesing van hierdie kindjie wys. Sy naam is, net soos by Jesus, deur God self gekies. "Jy moet hom Johannes noem". U weet dalk dat sy naam beteken: die HERE is genadig. Maar dit het niemand in die Griekse naam maklik kon hoor nie. Die Hebreeuse naam sou "Jochannan" gewees het. Nee, die betekenis van die naam speel geen spesiale rol nie. Wel die ander naam: "hy sal voor die Here uitgaan in die gees en die krag van Elia". 'n Nuwe Elia as 'n man wat God stuur: die verwagting was in die tyd van die nuwe testament lewendig. As Jesus sy dissipels later vra: "wie sê die mense is Ek?", dan het hulle gehoor dat daar gesê word: "Hy is Elia". Jesus self sal op Johannes wys en sê dat in hom die Elia-profesie vervul is. Johannes "sal voor die Here uitgaan in die gees en die krag van Elia". En ons dink terug aan hom: die profeet in sy mantel van kameelhare wat geen koning gevrees het nie, maar getrou die woorde van God oorgebring het. Elia: die simbool van die krag van die profete onder God se volk, die simbool van hoop ja, omdat daar 'n pad terug na God is. Ook vir die wat hulself nie altyd vir God beskikbaar gehou het nie.

Ons lees ook terug in ons Bybel: Mal. 4:5. "Kyk, Ek stuur julle die profeet Elia". En in vers 6 lees jy: "En hy sal die hart van die vaders terugbring tot die kinders, en die hart van die kinders tot hulle vaders". Vaders en kinders: dit sê die Hebreeus kort vir ouers en kinders. Pa en seun, ma en dogter: hoekom sou die hart van die een na die ander teruggebuig moet word? Wat is die probleem: is daar 'n tipe generasiegaping, omdat die ouers nie meegroei in die moderne tyd nie? Og, die mense van 'n volk wat nie meer eensgesind is nie, groei van mekaar weg. Dit gebeur maklik dat pa en seun, ma en dogter mekaar nie meer bereik nie. Dit lyk asof die een geslag 'n heeltemal ander lewenshouding het as die ander, vorige een. Dit is erger, wanneer op daardie wyse die volk van die HERE uiteengebreek word.

Die HERE God wil egter dit verhinder: dat sy Seun sou kom en nie 'n volk vind om Hom te ontmoet nie. As daar nie bande tusse mense is nie en die Here een-een sou moet ontmoet, watter lewe, watter ontmoeting sou dit wees? Watter uitstraling, watter gesamentlike genieting is daar dan nog?

Dink aan die waarde van 'n kerk wat eensgesind is vandag: jy kan die geloof van jou ouers leer, jy mag by hulle sien hoe dat hulle beslissings oor christelike lewe hanteer, jy mag die ouer generasie hoor bid en sien werk vir die Here. Saam mag julle vanuit die kerk die evangelie uitdra, saam die getuienis van 'n warme gemeenskap laat sien. In die gemeenskap mag ons mekaar troos en help, waarsku en onderwys. Wat bly daar van die sigbare, voelbare kant van die geloof oor, as daar nie eensgesindheid is nie? Hoe kan jy die jeug oor die kerk vertel, wanneer hulle die sigbare en voelbare dinge glad nie in die kerk ontmoet nie?

In die tyd van ons hoofstuk was God sover dat Hy sy Seun wou uitstuur in die menslike lewe. Hy wou die een volk bereik, hulle red en klaarmaak. Daarom gaan vers 16 vooraf: die voorloper, Johannes "sal baie van die kinders van Israel bekeer tot die Here hulle God". Eers moes die gehoorsaamheid aan God herstel word deur bekering en daardeur sou daar eensgesindheid kom. Dan vind pa en seun, ma en dogter mekaar op die pad van die Here.

Ja, Lukas voeg toe: Johannes moes ook werk "om die ongehoorsames terug te bring tot die gesindheid van die regverdiges". Dit staan so nie in Maleagi nie. In Mal. word eers gesê "die harte van die vaders na die kinders" en dan "die harte van die kinders na die vaders". Wie is dan die ongehoorsames waarvan Lukas praat? Mens kan geneig wees om direk aan die kinders te dink, maar dit is fout. Die vaders is dikwels die wat fout was. Ons het daarvan gesing in Psalm 95: "verhard jul hart nie, soos weleer jul vaders wat - hoe dikwels weer! - nie op my wondermag vertrou het". Dit is dikwels die ouer generasie wat 'n verkeerde voorbeeld gee, wat in gewoontes vasgeroes is, wat dink dat hulle reg is. Maar dit is nie nodig om vas te stel wie die "ongehoorsames" en wie die "regverdiges" is nie. Ongehoorsame mense, of dit volwassenes of jongmense is, wil die Here terugbuig na Hom: dit is die bekering waar vers 16 van praat. Dan gebeur wat vers 17 beloof: dan vind mense van verskillende generasies mekaar in die een geloof, in die een volk van God.

3. DIE HERE KOM VIR ALMAL (Mal. 4:5-6)

Almal weet: die klein Johannes sou die groot man met die bynaam "die Doper" word. Die Here, die Heiland kom en Johannes het sy voorloper geword. Eerder in Maleagi vind u die profesie: "Kyk, Ek stuur my boodskapper wat die weg voor My uit sal baan; dan sal skielik na sy tempel kom die HERE na wie julle soek" (3:1). Die Here sal kom, sê God se belofte. Die gedagte aan die geboorte van ons Heiland wil jou ook ontroer. Elk babaatjie mag aan Hom herinner. Hy het gekom om heeltemal mens soos jy te word: so diep, so swak, so naby, so sterk.

In Maleagi se profesie is daar egter nie net troos en ontroerende woorde nie. "Kyk, Ek stuur my boodskapper wat die weg voor My uit sal baan" ... "maar wie kan die dag van sy koms verdra? En wie kan standhou as die Here self verskyn?". Dié strenge woord word gerig aan 'n volk wat verskeur is deur sonde en skade. "Dan sal julle weer die onderskeid sien tussen die regverdige en die goddelose, tussen die wat God dien en wat Hom nie dien nie" (3:18). Hierdie onderskeid moet wel gemaak word en dit maak seer, baie seer. Dit is mos 'n onderskeid binne God se een volk: die een word anders beoordeel as die ander. Ja, die Here kom vir ons almal. Die effek is egter verskillend: vir die een is dit pragtig dat die Here gekom het, vir die ander word dit agteraf 'n pynlike ding. As jy die Here nie nou alreeds ontmoet het nie.

Kyk, sê God met die stem van Maleagi (en ons hoor dit nog as ons Lukas lees): "Kyk, Ek stuur julle die profeet Elia ... voordat die groot en vreeslike dag van die HERE aanbreek" (4:5). Dit gaan vooraf aan die mooi teks: "En hy sal die hart van die vaders terugbring tot die kinders ...". Daar mag eensgesindheid en saam deel van die geloof kom, maar dit moet ook omdat die groot dag van die HERE kom. Want die woorde in Maleagi eindig so: ouers en kinders moet eensgesind (een volk) word, "sodat Ek nie hoef te kom en die land met die banvloek tref nie". As ons nie 'n volk wil wees nie, as ons nie sien hoeveel God daarvir gedoen het om 'n volk in hierdie wêreld te skep nie, was Johannes se werk en Jesus se koms verniet. As die volk uiteen val in losse mense, is die ban alreeds daar.

Die Here het vir almal gekom: om die evangelie te laat hoor. Dit geld honderd persent in die kring van die verbond: die Here Jesus is daar vir julle almal. Laat ons dan nie een van sy kinders vergeet nie. Hy werk aan 'n "weltoegeruste volk", sê die engel. Dit is 'n volk waarmee die Here kan werk, waarin die Heilige Gees kan woon. Dit is 'n volk waar elke man en vrou, elke seun of dogter belangrik is. Om Jesus ontwil,

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)