Koning Christus verdryf met Goddelik gesag die bose geeste

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Markus 1
Preek Inhoud: 

PREEK OOR MARKUS 1: 21-27

LITURGIE:
L. Matt. 5: 17-32 & 7: 28, 29
Ps. 70: 1, 2
Ps. 71: 14
Ps. 62: 1, 2, 3, 5
SB.28: 2, 4
Ps. 91: 2

Broeders en susters,

Eerder dié jaar het ik in twee preke nadruklik u aandag gevra vir die aanwesigheid van God se engele om ons heen in God se wêreld.

Duisend maal duisende en tienduisend maal tienduisende onsigbare geeste, knegte van die HERE van die leërskare, omring vanuit die hemel ons hier op aarde met God se sorg.

Al kan ons ook hulle nie sien nie, hulle is darem wel hier en ons mag reken met die realiteit dat hulle ons op die hande dra en in die rug dek.

Maar daar is nie net goeie engele nie, daar is ook heel gevaarlike engele! God se wêreld ken vanaf die sondeval naas die gehoorsame engele ook opstandige engele. Bose geeste wat deur die duiwel in sy rebellie teen God saamgesleep is en nou orals en op alle moontlike manier God se skepping probeer verwoes.

Ook hulle is onsigbaar, maar hulle is nie minder 'n realiteit in ons lewe as God se goeie engele nie, gemeente!

Soos ek in die eerdere preke m. b. t. die engele vir u gesê het: "U moet hulle sien! Hulle moet 'n lewende werkelikheid vir u wees", so moet ek vanmôre vir u sê: "U moet ook die duiwels sien! U moet ook met hulle bestaan rekening hou as 'n lewende werklikheid, ja, as 'n aanhoudende bedreiging in u lewe. U moet ook hulle in hierdie wêreld besig sien met hul verwoestende duiwelswerk. "

As daar Een is wat hulle besiggesien het, is dit wel ons Here Jesus Christus. Dis ook nie so verwonderlik nie, want Hy was juis aarde toe gekom om die stryd met die duiwel en sy ryk aan te bind. So gou Hy sy werk in Israel begin, sien ons Hom dan ook tot die aanval oorgaan. En sy frontale aanval dwing die bose geeste om uit hul skuilhoeke tevoorskyn te kom. Skreeuend en onder hewige verset moet hulle hul terrein prysgee.

Die geskiedenis in ons teks van vanoggend is 'n voorbeeld van so'n konfrontasie tussen die Koning van die Koninkryk van God en 'n soldaat van die ryk van die duiwel. Kom ons gaan luister na hierdie geskiedenis, sodat ons die gevaar van die bose geeste des te beter leer raaksien, maar ook des te meer ons onderwerp aan Koning Christus wat as enigste ons uit die heerskappy van die duiwel kan verlos.

Ons hoor in ons teks:

KONING CHRISTUS VERDRYF MET GODDELIK GESAG DIE BOSE GEESTE

Daar is drie elemente in ons teks wat daarby opval:

  1. 'N ONREINE GEES PROBEER CHRISTUS SE GESAG ONTKRAG
  2. CHRISTUS HANDHAAF SY GESAG MET MAG
  3. DIE OMSTANDERS BESPREEK CHRISTUS SE GESAG MET ONTSAG

1. Dit word sabbat in Kapernaüm. 'n Sabbat waar die meeste mense bietjie meer as gewoonlik na uitgesien het. Want hierdie week het Jesus van Nasaret met sy dissipels Kapernaüm toe gekom. Hulle gaan tuis by Simon en hulle sal dus ook wel kerk toe kom vandag. Sal Jesus die woord neem in die sinagoge? Kapernaüm se mense het al heelwat verhale oor Jesus se preke gehoor. Oral in die omgewing word daarvan gepraat. Dus stroom die sinagoge vol met nuuskierige mense.

En inderdaad: Jesus is aanwesig en dadelik as die diens begin het neem Hy die leiding. Alhoewel hy 'n vreemdeling in hierdie stad en in hierdie sinagoge is, wag Hy nie tot Hy gevrá word om iets te sê nie, maar vat Hy uit sy eie die boekrol en begin Hy die mense leer aangaande die Koninkryk van God. Met gesag. Hy mag dit. Hiervoor het sy Vader Hom na die aarde gestuur. Om met gesag die mense terug te roep na die lewe in God se Koninkryk. Juis die sabbat is die aangewese dag daarvoor. Die ware rus word mos alleen in die Koninkryk van God gevind.

En dus bring Jesus ook in Kapernaüm die mense terug onder die klem van die wet van God se Koninkryk: Hy praat, soos Hy ook op ander plekke gedoen het, van die waarde van God se wet ("Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die Koninkryk van die hemele"); Hy praat oor die betekenis van die gebod: "Jy mag nie doodslaan nie", oor die swaarte van die sewende gebod: "Elkeen wat na 'n vrou kyk om haar te begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg".......

Die mense in die sinagoge luister met toenemende verwondering. Jesus se hele optrede laat hulle baie verbaas raak. "Verslae", sê selfs ons teks. Hoe durf 'n mens so op te tree? !

En dan is hulle nog nie eens die meeste verbaas oor die wyse waarop Hy dadelik die woord geneem het nie. Dit is nog tot daarnatoe. Maar sy woorde sélf- dit is verstommend. Dit is 'n heeltemal ander manier van leer as wat hulle van die Skrifgeleerdes gewoon is.

Die toon van Jesus se onderwys val heeltemal uit die toon. Die Skrifgeleerdes beroep hulle vir enige uitspraak op Moses se wette en op die profete. Hulle kan slegs nasê wat God al vroeër deur dié knegte van Hom voorgesê het.

Maar Jesus praat hier sommer op eie gesag: "Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is....... Maar Ek sê vir julle..... " Dit klink aanhoudend in sy onderwys: "Ek sê vir julle... " Hy gaan selfs so ver dat aankondig dat Hy self by die laaste gerig mense sal aanneem of verwerp: "Dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!".

Dit klink asof die Koning van God se Koninkryk sélf in eie Persoon aan die woord is!

Algaande styg die spanning in die sinagoge van Kapernaüm. Onrustig begin hulle skuifel en onder mekaar fluister: Wie is hierdie Jesus? Het Hy dan regstreekse omgang met God sodat Hy mag praat asof God self in Hom hulle aanspreek? !

Maar dan skreeu daar skielik 'n stem deur die sinagoge: "Hou op! Wat het ons met U te doen, Jesus, Nasarener? Het U gekom om ons te verdelg? Ek ken U, wie U is: die Heilige van God".

Nou dat Christus as die Koning van die Koninkryk van die hemel opruk, gaan die duiwel in die teëaanval. Dis een van sy bose geeste wat al 'n hele ruk een van die sinagogegangers in besit geneem het, wat hier probeer om die ban waarin Jesus se onderwys die mense gebring het, te verbreek.

Hoor hoe geslepe en gevaarlik doen hy dit: hy probeer al dadelik om weer afstand tussen Jesus en die mense te skep. Wat het daardie Nasarener feitlik met hulle hier in Kapernaüm uit te waai? Laat Hy sy mense in Nasareth maar probeer beïndruk. Maar hier in Kapernaüm is hulle van die eerste die beste praatjiesmaker nie sommer onderstebo nie.

En dan probeer die bose gees heeltemal 'n wig indryf tussen Jesus en sy hoorders as hy sê: "Het U gekom om ons te verdelg? Ek weet wie U is: die Heilige van God? "

Dit lyk asof die bose gees hier 'n geloofsbelydenis uitspreek, maar in werklikheid wil hy die mense in Kapernam maar net waarsku. Sê nou hierdie Jesus praat inderdaad namens die Heilige God self- hulle het dan almal kon hoor dat Hy met veels te hoë eise na hulle toe gekom het. Hierdie leer lê 'n ondraaglike las op jou waaronder enige mens maar net sal beswyk! Die gesag van hierdie Jesus moet wel uitloop op dood en verdelging. Het hulle die dreiging van hel en verdoemenis nie in sy woorde hoor deurklink nie?

So probeer 'n handlanger van die duiwel Christus se gesag in Kapernaüm ontkrag. Deur gemene verdagmakings en deur twyfel te saai aangaande die goeie bedoeling van Christus se koms en werk.

U sien dus, broeders en susters, dat die bose geeste, as hulle 'n mens in besit neem, nie net so'n mens tot 'n pasiënt maak nie. Dit kan gebeur. Maar daar is dus ook duiwels wat 'n mens aanset om te laster en God se woord teë te praat; om allerlei verdagmakings ten aansien van die Evangelie te uiter en sodoende die mense onseker te maak of dit wel 'n goeie ding is om jou aan die wette van God se Koninkryk te onderwerp.

Dit is vandag nog presies dieselfde. Oral waar met die gesag van Christus die Woord van God aan die mense voorgehou word, sorg bose geeste vir duiwelse teëspraak. Dan klink daar altyd stemme -en dit kom uit die mond van gewone medemense, dit kan selfs mense in die kerk wees- wat ons wil wysmaak dat die Bybel 'n te sware las op jou lewe lê. Dat jy in die diens aan die HERE geen lewe oorhou nie. Dat dit net hel en verdoemenis is wat in die kerk gepreek word.

Daardie stemme wek die indruk -net soos die bose gees in die sinagoge van Kapernaüm- dat hulle aan jou syde staan en die beste vir jou soek. Bekommerd vra hulle of ons nie vir onsself allerhande sielkundige probleme veroorsaak as ons so presies volgens God se gebooie wil lewe nie.

'n Bose gees kan selfs in jou eie hart so'n stemmetjie kansuis bekommerd laat suggereer dat die ouderlinge met hul aanhoudende vermaan jou in 'n dwangbuis wil sluit; of dat jy niks aan die preke het omdat hulle mos alle blydskap uit jou lewe wegneem. 'n Bose gees kan kerkjeug wysmaak dat hulle in vergelyking met ander jongmense maar 'n lastige lewe het.

So probeer duiwelse geeste nog altyd die gesag van die Koning van God se Koninkryk ontkrag.

2. Maar wat hulle ons probeer wysmaak is net leuens! Christus maak ons lewe hoegenaamd nie lastig nie, maar neem juis die laste van ons skouers af weg. Sy gesag is geen dwangbuis nie, maar 'n reddingsboei. Hy het nie gekom om ons met sy leer te verdelg nie, maar om te verlos.

In die sinagoge van Kapernaüm het Hy dit daarom vir almal duidelik gemaak.

Want wanneer daar na die afwerende geskreeu van daardie een Jood 'n angstige stilte val en almal gespanne afwag hoe dat Jesus sal reageer, kyk Christus daardie man stip aan en sê op rustige, maar gebiedende toon: "Bly stil en gaan uit hom uit!". De Here skreeu nie terug nie, Hy gebruik geen eksorsisme, geen beswerings en geheimsinnige formules om oor sy teëstander baas te word nie, Hy hoef nie met geweld van slaan en skop die duiwel te verja nie - net een rustige bevel is genoeg.

Op dieselfde oomblik gaan daar 'n siddering deur daardie man, hy val op die grond en begin angsaanjaend gil. Hy kry stuiptrekkings soos wanneer by die sterwe die gees die liggaam verlaat. Hier verlaat egter die bose gees 'n lewe wat deur hom jare lank beset was. Sodat daar nou geen dooie mens nie, maar juis 'n mens wat sy lewe weerkry, agterbly. Op gesag van Christus moet die duiwel sy slagoffer loslaat.

Want al gou kom die mens ook weer tot rus. Hy skreeu en skok nie meer nie, maar lê verbaas en verdwaas op de grond. Ander help hom aarselend oorend en 'n oomblik later sit hy as 'n bevryde mens op sy plek. Verwonderd en dankbaar, nie meer vol haat teen Jesus se prediking nie, maar vol verwagting nou.

Elkeen kan nou sien dat Jesus nie gekom het om te verdelg nie, maar om te verlos. Hy kom ons met sy prediking van die Koninkryk van God red uit die ryk van die duiwel. Want nie die heilige God nie, maar juis die duiwel maak die lewe onleefbaar. Hy fluister jou in dat jy sonder die strenge gebooie van die HERE veel vryer is. Maar in werklikheid maak hy 'n slaaf van jou. 'n Besetene wat blindelings gehoorsaam aan die onweerstaanbare drang wat jou beheers.

'n Bose gees, of selfs 'n hele aantal bose geeste maak jou 'n slaaf van jou seksuele hartstogte, of van die alkohol, of van geldsug en gierigheid, van hoogmoed en trots, van jou selfgesentreerdheid, van drif en wraaksug....

Is jy dan vry? Is 'n lewe waaroor die duiwel baas is, gelukkiger as 'n lewe waaroor God weer Koning is?

Elkeen kan dan vasstel dat die duiwel met sy bose geeste maar net ellende veroorsaak op aarde.

Die lewe word eers weer vry en bly as Jesus Christus u uit die heerskappy van die duiwel kom verlos en u terugroep na die lewe in God se Koninkryk, wat Hy deur sy oorwinning op die duiwel vir ons weer moontlik gemaak het.

Nee, die bevryding verloop nie maklik nie. Dit kan 'n moeisame proses wees. Want die bose geeste laat ons nie sommer los nie! Hulle sal hul tot die heel laatse bly verset. En tydens hul stuiptrekkings kan ons ons 'n verskeurde mens voel.

Ons ervaar dit telkens weer.

Wat kan dit 'n innerlike tweestryd kos om van 'n bose gees in jou lewe ontslae te raak.

Wat kan ouers op verset stuit as hulle hul opgroeiende kinders onder die gesag van Christus wil hou. Dan laat die bose geeste ons kinders dikwels hul protes uitskreeu en word daar in 'n laaste stuiptrekking soms met deure gegooi.

Wat moet ampsdraers partymaal 'n teëstand verduur as hulle 'n kind van God wat die bose geeste kans gegee het om in sy lewe huis te hou, in die naam van Christus terugroep na die onderwerping aan God se gebooie. Beskaafde mense begin dan sommer skreeu en skeld en dreig 'n enkel maal selfs om die broeders met geweld uit hul huis te verwyder.

Ons moet ons deur so'n geskreeu en geskeld, deur daardie gegooi met deure en 'n dreigende houding nie laat ontmoedig en afskrik nie, gemeente. Daardie heftige verset bewys alleen maar dat die bose geeste ontmasker en teruggedryf word. Die gesag van Christus is te sterk vir hulle. En dit kos nou eenmaal 'n moeisame stryd om 'n mens te verlos uit die mag van die duisternis en oor te bring in die Koninkryk van God.

Ons moet net nie terugskreeu nie, nie die bose gees deur 'n bose gees in onsself wil verja nie.

Dis genoeg om die Woord van God met rustige, maar terselfdertyd gebiedende gesag aan die ander te bly voorhou. Dit help nie altyd om te argumenteer nie. Bose geeste is nie gevoelig vir argumente nie. Bose geeste wyk net vir die bevél van geloof en bekering. Die prediking van God se Woord en die vermaan tydens 'n huisbesoek, die opvoeding van verbondskinders kan nie altyd alleen maar vriendelik wees nie. Dit moet partymaal ook kom met beheerste maar ook besliste vermaan, op gesag van Christus.

Slegs deur daardie gesag laat die bose geeste hulle verja.

3. Kapernaüm se mense is baie verbaas en deurmekaar as hulle die verlossende mag van Jesus sien. En wanneer hulle huis toe gaan het hulle heelwat om te bespreek. Hulle gesels druk onder mekaar: "Wat moet ons hiervan dink? Hierdie Jesus práát nie net met die gesag van God nie, Hy hét ook 'n groot gesag. Hy onderwerp dan sommer bose geeste aan sy gesag sodat hulle gehoorsaam 'n mens met rus laat".

Almal gaan met 'n groot vraag huis toe vandag. Wat is dit?

En hulle het nog meer ontsag vir die gesag waarmee Jesus van Nasaret optree.

Maar, broeders en susters, ontsag is nog geen onderwerping nie.

En al gou sal dit blyk dat daar by die meeste mense in Kapernaüm ook geen onderwerping aan die gesag van Christus kóm nie. Inteendeel, as Jesus na nog baie meer indrukwekkende tekens van verlossing toenemend op onderwerping aan Hom aandring, kom daar verwerping. En die bose geeste waarvan daar aanvanklik heelwat deur Christus uitgedryf was (sien vs. 32 en 33 na ons teks!), neem die terrein wat hulle eers moes prysgee, met des te meer geweld weer in besit.

'n Vryblywende diskussie oor wie of wat Jesus van Nasaret is, is nie genoeg om die bose geeste te verja en die lewe te verlos nie. Ook vandag is daar genoeg mense wat wel in 'n mate respek het vir die manier waarop in die kerk die gesag van die Skrif hooggehou word, en die erns waarmee ons probeer om aan die gebooie van God gehoorsaam te wees. Maar daarvoor gaan die duiwels nie op die vlug nie. Juis dan probeer hulle om des te sterker die lewe in hul ban te kry. Christus vra so'n ontsag dat ons ons aan Hom onderwerp.

Gemeente, ek het in die begin van hierdie preek gesê: u moet die bose geeste in u lewe as 'n gevaarlike werklikheid sien. U moet hulle besig sien met hulle verwoestende duiwelswerk.

Nou, aan die einde, sê ek: maar u moet allereers Christus sien,

die Koning van die ryk van God wat deur God aan ons gegee is om ons uit die heerskappy van die duiwel te verlos. As u Hom dankbaar aanvaar as u Koning en u gehoorsaam aan sy gesag oor u lewe onderwerp, hoef u vir geen bose gees te vrees nie.

AMEN.

(Pretoria 4 Maart 1990)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)