Die gekruisigde Christus soek deur oop grafte die geslote harte in Jerusalem

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
1989-03-26
Teks: 
Matthéüs 27
Preek Inhoud: 

Ons het vanmôre 'n teks opgeslaan, broeders en susters, wat heelwat vrae oproep. Vrae waarop ons geen antwoord kry nie.

Want Mattheus vertel in ons teks iets heel besonders, 'n groot wonder: daar het by die sterwe van ons Here Jesus Christus aan die kruis grafte oopgegaan rondom Jerusalem, mense het uit die dood opgestaan en hulle in die stad vertoon....

Maar Mattheus vertel dit so sober, in 'n paar woorde, sonder verdere besonderhede, dat daar baie vrae oorbly:

Wie was die heiliges wat uit die dood opgewek is om op die opstandingsmôre in die stad in te gaan?

Het hulle geweet hoekom hulle so skielik in hulle liggame op aarde moes weerkeer?

As hulle eers op die paasmôre in Jerusalem ingegaan het, maar al dadelik na hul opwekking die grafte verlaat het, soos ons waarkynlik uit die Griekse teks moet opmaak, waar het hulle dan so lank gebly?

Hoe het hulle hul aan Jerusalem se inwoners vertoon? Is hulle herken en het hulle met mense gepraat en vertel waarom hulle uit die dood weergekeer het?

En wat het daarna met hulle gebeur? Het hulle na verloop van tyd opnuut gesterf? Of het hulle nog dieselfde dag weer verdwyn omdat God hulle na die rus van die hemel teruggeroep het?

Almal vrae!

Vrae waarop u egter vanmôre nie die antwoord moet verwag nie. Ons moet ons nuuskierigheid die swye oplê.

Want Mattheus het baie besonderhede uitgelos, om ons aandag op die hoofsaak te konsentreer. Hy rig die kollig nie op die heiliges nie maar op die heilige stad. Die heilige stad wat die Christus gekruisig het, ontvang van God 'n teken. 'n Paasteken wat bestaan in oop grafte.

Dis nie sonder rede dat Mattheus hier Jerusalem die heilige stad noem nie. Dit is die stad waar God van ouds gewoon het. Die stad waarin aanhoudend daaraan herinner is dat God sy volk sou verlos deur hulle sondes uit te delg. Jerusalem is 'n stad vol beloftes van lewe. Jerusalem is ook die stad wat die Skrif ken- die Skrif waarin aangewys is hoedat God diè verlossing sou bewerk; hoedat deur God die lewe gegee word.

Maar hierdie heilige stad het sy hart toegesluit toe die HERE sy Verlosser aan haar geskenk het. Jerusalem het die lank verwagte Messias verwerp en Hom nie geglo nie. Die heilige stad het op die beslissende oomblik die heilige Skrif dig gelaat en die lewe verwerp.

Hierdie stad word deur Christus gesoek, selfs nog as Hy aan die kruis sterf. Dan nog doen Hy 'n aanval op hulle geslote harte, deur hulle met oop grafte te konfronteer. En op die dag van die opstanding is Hy opnuut daar, met 'n tweede teken: lewendige dooies!

Dit is, broeders en susters, die boodskap van ons teks waarna ek vanoggend met u wil luister -al bly daar ook baie vrae oor.

Ek het die boodskap soos volg saamgevat:

DIE GEKRUISIGDE CHRISTUS SOEK DEUR OOP GRAFTE DIE GESLOTE HARTE IN JERUSALEM.

OORLEDE HEILIGES

  1. VERDWYN UIT DIE GRAF BY SY DOOD
  2. EN VERSKYN IN DIE STAD BY SY OPSTANDING.

Dit het skrik op skrik vir God se volk gewees op die Goeie Vrydag, gemeente.

Hoe sober Mattheus ook al met sy mededelings mag wees, sy kort aanduiding van wat gepasseer het, spreek boekdele.

Eers het daardie drie ure duisternis gekom, sodat skielik niemand meer 'n hand voor die oë kon sien nie. En dit in die middel van die dag, om twaalf uur in die middag met die son op sy hoogste stand! Dit het plotseling pikdonker geword sodat die hele lewe lamgelê is. Drie ure lank was Jerusalem aan diè ondeurdringbare, ja, verstikkende duisternis uitgelewer.

Wat kon dit tog wees? Mens kon dit moeilik nog as 'n normale sonsverduistering beskou.

Nouliks het die lig weergekeer en het die mense heradem, of in die tempel het die priesters die skrik van hulle lewe gekry: terwyl niemand dit met 'n vinger aangeraak het, het plotseling die gordyn wat die Allerheiligste in die tempel afgesluit het, krakend in twee geskeur, van bo tot onder. Hoe kon dit nou sommerso gebeur? ! Nie 'n klein skeurtjie nie, nee, heeltemal stukkend.

En asof alles by mekaar moes kom, het op daardie selfde oomblik alles begin tril en skud en skok deur 'n aardbewing. Massiewe rotse rondom Jerusalem het oopgeskeur en alles het van sy plek geraak. Wat gaan aan, vandag??

Gòd het Jerusalem skrik op skrik besorg, gemeente. En dit het alles te make met daardie Man aan die kruis, effens buite die stad, met wie hulle so die spot gedrywe het.

Die wat nie wil hòòr nie, moet dan nou maar voèl dat alle spot met Hom misplaas, ja, gevaarlik is. God skud Jerusalem deur mekaar, noudat die gekruisigde Christus die laaste asem uitgeblaas het.

Want dit is die Christus, daar aan die kruis. En as Jerusalem dink sy dood beteken ook sy einde, dan laat God hulle dadelik agterkom hulle misgis hulle. Met die sterwe van Jesus van Nasaret het die rus nie in die stad weergekeer nie. Die gekruisigde Christus sal die gemoedere bly besighou, ook na sy dood. Hulle kry nog heelwat om te verwerk. God het nog meer in petto.

En dan vertel ons teks van daardie aangrypende wonder dat daar by die hewige aardbewing ook grafte oopgegaan het in die rotse rondom Jerusalem. En dat baie liggame van ontslape heiliges opgestaan het.

Toe alles deurmekaar geskud is, het die groot sluitstene van die grafte van hulle plek af weggerol sodat die grafte oop kom te lê het. Maar dit was meer as maar net 'n verklaarbare gevolg van die aardbewing. Want in party van daardie grafte het die dooies tot lewe gekom. Roerlose, lewenlose liggame, het sommer beweeg. Gebreekte en toe oë het oopgegaan, die sweetdoek is losgemaak, die strak linne weggehaal....

Ja, en dan kom onvermydelik die vrae by ons bo, broeders en susters:

Wie was dit wat hier uit die dood opgewek is?

Was dit mense wat al lanklaas gesterf het, of juis nie?

Mattheus laat ons volledig in die onsekere. Maar dit is aanneemlik dat dit mense gewees het wat nog nie so lank in die graf gelê het nie. Hulle liggame het daar nog gelê, het nog nie tot totale ontbinding oorgegaan nie. Daar is boonop nog 'n rede om aan te neem dat hulle nog onlangs gesterf het: hulle het hul twee dae later in Jerusalem vertoon. En dan lê dit mos voor die hand dat hulle ook herkèn is as mense wat in die graf behoort te lê. As hulle al baie jare gelede sou gesterf het, sou mos niemand hulle herken het nie.

Maar kom ons raai maar nie te veel nie en ons let op dit wat Mattheus wèl in ons teks vertel.

Dit was heiliges wat deur God weer aarde toe gestuur is. Nie in alle grafte het lyke tot lewe gekom nie. God het 'n keuse gedoen en alleen heiliges het Hy opgewek. Heiliges - geen mense sonder sonde nie, maar mense wat in die vergewing van sondes geglo het. Mense wat tydens hulle lewe na Israel se verlossing uitgesien en die Messias verwag het. Mense wat ook as sodanig bekend gestaan het. Mense wat in hulle belydenis die woorde geskryf het: Ek glo die vergewing van die sondes, die opstanding van die liggaam en 'n ewige lewe.

Sulke heiliges het tot lewe gekom toe Christus gesterf het. God het hulle terug gestuur in die liggaam, tot 'n teken vir die heilige stad. Want God wou gaan skud aan die geslote harte in Jerusalem. Daarvoor het Hy grafte oopgemaak en het Hy heiliges daaruit laat gaan. Jerusalem was met die probleem van daardie Man aan die kruis nog nie klaar nie. God sou die heilige stad nog heelwat hoofbrekens besorg.

Maar het u gesien hoe omsigtig God te werk gegaan het, broeders en susters? Hy het die dooies wat Hy opgewek het, nie padlangs stad toe gestuur om daar orals rond te basuin dat Jesus van Nasdaret tog die Christus was en dat hulle die bewys van sy krag gevorm het nie. Nee, eers na die opstanding van Christus self kom hulle in die stad in.

En nou gee ons vertaling die indruk asof hulle ook eers toe uit die graf uitgegaan het en dus van Vrydag tot Sondag in hulle grafte gebly het, maar -soos ek in die Inleiding al gesê het- uit die Griekse teks moet ons opmaak dat hulle wel dadelik na hul opwekking die grafte verlaat het en tot die Paasmôre verdwyn het. Die Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling is op hierdie punt duideliker.

Vanaf die sterwe van Christus aan die kruis was baie grafte rondom Jerusalem plotseling leeg!

Moet maar probeer om u die situasie van Jerusalem se inwoners voor te stel: hulle het gedink die saak-Jesus van Nasaret is verby, toe Hy eenmaal aan die kruis gehang en gesterf het. Sy einde het darem gekom. Roemloos het Hy ten onder gegaan.

Maar hulle kry nie die kans om nou rustig en voldaan huistoe te gaan nie. Daardie onverwagse aardbewing besorg hulle nog 'n hele klomp werk. Want orals rondom die stad het die grafte in die rotse oop kom te lê en dit kan natuurlik nie so bly nie. Diè grafte moet so gou as moontlik weer reggemaak en weer gesluit word. Dit is mos môre Sabbat, die groot Sabbat in verband met die fees en dan moet hulle rein wees.

Dus gaan hulle gou die saak regmaak. So nodig word die lyke weer op hulle plek gelê en die sluitklippe weer voor die openinge gerol. Maar dan stuit hulle op die onverklaarbare probleem dat daar 'n hele aantal grafte lèèg is. Die lyke is weg! Nêrens te vinde. Wat kan dit wees!? En wanneer hulle spesiaal aandag daaraan gee watter grafte lees is, kom hulle agter juis diè grafte is leeg waarin mense behoort te lê wat oor hulle gelowige Messiasverwagting bekend gestaan het. Kan mens dit nog toeval noem? Juis vandag?

Verstaan u, broeders en susters, hoe God deur die probleem van die oop grafte en die verdwene heiliges die heilige stad onrustig wil hou en tot nadenke dwing?

Wat het gepasseer, vandag? Hulle het 'n Man uit die stad uitgebring, aan 'n kruis laat spyker en Hom bespot, van Wie hulle baie goed geweet het dat Hy Homself aan hulle gepresenteer het as die Christus, die Seun van God. Drie jare het Hy die aandag gevra vir sy opvallende boodskap. "Die brood van die lewe" het Hy Homself genoem. "Die lewende brood wat uit die hemel neerdaal. As iemand van hierdie brood eet, sal hy in ewigheid lewe!". Ja, Hy het voortdurend beweer Hy kon oor die ewige lewe beskik. "Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle: daar kom 'n uur, en dit is nou, wanneer die dode die stem van die Seun van God sal hoor; en die wat dit gehoor het, sal lewe. Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom 'n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan... " (Joh. 5: 24, 28).

Hulle kon dit in Jerusalem nog nie vergeet het nie. Aanhoudend het Hy hulle tot geloof opgeroep. Hy het ook daardie merkwaardige beeld 'n keer gebruik: "As die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen. Maar as dit sterf, dra dit veel vrug" (Joh. 12: 24).

Het al daardie woorde nou nie weer in hulle herinnering bo gekom nie? Het sy preke hulle gedagtes nie besig gehou nie?

Het daar dalk 'n verband gelê tussen sy dood vanmiddag aan die kruis en daardie eienaardige feit dat baie grafte van gestorwe heiliges sommer leeg blyk te wees?

Jesus het hulle altyd na die Skrif terug verwys. "Dit is diè wat van My getuig", het Hy gesê (Joh. 5: 39). Daarin moes hulle maar nagaan of Hy regrig die Christus was, die Seun van God.

Moes hulle dit nie asnog gaan doen nie?

Die profesiè van Jesaja eens opslaan, byvoorbeeld by hoofstuk 26: "U dode sal herlewe, ook my lyk sal opstaan" het Jesaja geprofeteer: "Waak op en jubel, julle wat in die stif woon. Want u dou is 'n dou van die lig, en die aarde sal aan skimme die lewenslig teruggee". Het daardie hele hoofstuk by Jesaja nie oor 'n verlossing wat God Self moes bewerk, gepraat nie?

En het Jesaja ook nie geprofeteer oor die lydende Kneg van die HERE wat die sondes van God se volk sou versoen nie? "Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel. Die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op hom en die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom" (Jes. 53).

Het al dergelike profesië nou nog nie begin spreek nie, noudat die indrukwekkende dood van Jesus met sulke snaakse verskynsele gepaard gegaan het? Jesaja het mos ook gesê: "As sy siel 'n skuldoffer aangebied het, sal Hy nakroos sien.. ".

Waar het die heiliges bebly? Hoekom is hulle grafte juis vandag leeg gevind? Het hierdie Jesus dan tog nakroos gesien? Het Hy as sterwende koringkorrel dan tog dalk vrug gedra?

Ons lees nie by Mattheus, gemeente, dat Jerusalem se inwonders so ver met hulle gevolgtrekkings gekom het nie. Dat inderdaad die Skrif oopgegaan het. En vervolgens ook hulle harte.

Maar in elk geval het God die stad in onrus gehou. Hulle het geworstel met die eienaardige gebeurtenisse op die Goeie Vrydag. Dit blyk mos wel uit die reaksie van die Sanhedrin wat die volgende dag 'n klompie soldate by Pilatus vra om die graf van Jesus te bewaak. Jesus het al tydens sy lewe hulle voor raaisels geplaas. Maar by sy dood kom daar nog baie by.

2. God het baie geduld met die heilige stad gehad, gemeente.

Want Hy het 'n nuwe aanval op die geslote harte van haar bewoners gedoen, twee dae later, op die dag van Christus se opstanding. Die heiliges wat eers verdwyn het, verskyn nou in die stad en vertoon hulle aan baie mense, vertel Mattheus vervolgens in ons teks.

En weer het ons die neiging om allerlei vrae te vra, omdat die teks so weinig besonderhede vermeld.

Maar ons sal ook nou die bedoeling van God het hierdie wonderlike verskyning op Jerusalem se strate as die hoofsaak moet sien. God stuur heiliges wat uit die dood weergekeer het in die stad in as stille boodskappers van Christus se opstanding.

Ek dink nie hulle het gewoon weer na hulle ou huise toe gegaan en hulle vroeëre plek in die samelewing weer ingeneem nie. Hulle moes naamlik 'n skrikfunksie vervul.

Wanneer Mattheus sê hulle het aan baie mense verskyn, dan bedoel hy daarmee dat baie inwoners van Jerusalem hulle raakgeloop en herken het. Hoe 'n skrik en opskudding sal dit gegee het! Want probeer maar weer om u die situasie voor te stel: opeens loop jy iemand raak wat jy vroëer goed geken het, maar wat inmiddels lankal dood en begrawe is. Hoe sou u voel as u plotseling oupa en ouma Bron hier in Pretoria weer sou raakloop?

Die mense het ongetwyfeld hulle boeglam geskrik en gedink dat hulle gedroom het. Dalk het hulle hulself 'n keer stewig in die arm geknyp en verbaas agterom gekyk.

Maar hulle het die kans gekry om met hulle te gesels nie, want as hulle agterom gekyk het en die oorlede kennisse agterna wou gaan, was hulle skielik weer verdwene.

So was Jerusalem op die Paasdag vol sinjale van die Opstanding, gemeente.

En weer tref ons die omsigtigheid waarmee die gekruisigde, maar nou opgestane Christus die heilige stad benader het.

Eers na sy opstanding uit die dood mag die al eerder opgewekte heiliges in Jerusalem binnekom. Hulle het op Hom moet wag. Maar noudat ook Hy die graf verlaat het, gaan Hy nie Self in die stad in om sy opstanding aan almal te bewys nie, maar Hy stuur heraute in sy plek.

Hy kon Jerusalem in een keer op die knieë gedwing het as Hy nou in al sy heerlikheid die poort sou binnegekom het. Pilatus, Herodes, die Sanhedrin, die volk, elkeen moes dan erken dat Jesus tog die Christus is, die Seun van God.

Maar Christus kies 'n ander pad. Hy stuur ander, wat ook uit die dood opgestaan het, na Jerusalem se strate en pleine om aan die geslote harte van sy bewoners te klop. Hulle moet glo!

Het Christus nie vir hulle die teken van Jona gegee nie? "Soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van 'n groot vis was, so sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees. "

Het die getuies voor die Sanhedrin in die nag van die gevangenneming nie daaraan herinner nie, dat Hy gesê het: "Ek kan die tempel van God afbreek en dit in drie dae opbou"?

Nou goed, hulle kon tel in Jerusalem. En dan moet hulle ook tel! So moet die geslote harte oopgaan.

Hulle moet terug na Moses en die profete. Eers dan sal hulle Jesus as die Christus gaan herken en erken.

Ons mag sê, broeders en susters, dat Christus deur die oop grafte alreeds voorbereidende werk vir die Pinksterprediking van die apostels gedoen het. Dan sal daar derduisende tot bekering kom wat na die wonderlike Goeie Vrydag en die geheimsinnige Paasdag nooit meer rustig geword het nie.

Maar ons moet terselfdertyd sê, dat vir baie, baie mense in Jerusalem die tekens op Goeie Vrydag en op die eerste Paasdag maar net verhardend gewerk het.

In die gelykenis van die ryk man en die arm Lasarus het Christus Abraham laat sê: "As hulle na Moses en die profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie al sou iemand ook uit die dode opstaan" (Lukas 16: 31). Die waarheid van hierdie woord het in Jerusalem sigbaar geword. Ten spyte van alle tekens het baie harte onverwrikbaar op slot gebly. En so het Jerusalem die oordeel oor hom gehaal.

Die grootste tekens kan naamlik die hart nie oopmaak nie, as nie die Woord geglo word nie. Dan werk daardie tekens maar net verhardend.

Dis hoekom vanaf Pase die tekens in Jerusalem al hoe minder geword het en die Woord van Christus toenemend kragtiger. Die Woord van die apostels, wat aan Jerusalem vanuit die Skrif bewys het dat die gekruisigde Jesus tog die Christus van God is en dat Hy daarom uit die dood opgestaan het. Die apostels het die lig van die Skrif oor die eienaardige verskynsels rond die Goeie Vrydag en Pase laat skyn. En wee elke Jerusalemmer wat dit nou nog nie wou glo nie!

Gemeente, ons vier Paasfees, vandag.

En u het uit ons teks kan leer: ons kan hierdie fees slegs by die oop Skrifte vier. Oop grafte gee nog geen Paasfees nie. Maar die oop Skrifte moet eers die harte oopmaak, anders sal dit nooit fees word nie.

Dis hoekom God die grafte na daardie uitsonderlike gebeurtenis in Jerusalem rond die eerste Paasdag nou vereers weer dig laat bly. Christus bring ons nie meer in verleentheid met oop grafte nie, maar soek ons geduldig met die oop Skrifte.

Maak dan u harte oop, so dikwels die Skrif vir u oopgaan. Want alleen so sal u die Lewe wat God gee kan begroet.

AMEN.

(26 Maart 1989, Pase, Pretoria, Johannesburg)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

Lees. Matt. 27: 33-54
Ps. 68: 1, 9
Ps. 68: 16
Ps. 146: 8 na die doop
Ps. 18: 2, 3, 4, 9, 10
Ps. 89: 6
SB. 23: 1, 2, 4