God se seun het gekom om alles reg te maak op aarde

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Matthéüs 3
Preek Inhoud: 

PREEK OOR MATTHEUS 3: 13-17

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 40: 8
Wetslesing
Ps. 40: 4 (Christus kon dit sê, ons mag dit sê as ons in Hom glo)
Gebed
L. Matth. 3 & Jes. 42: 1-4
Ps. 67: 1, 2
Prediking
Ps. 20: 6
Gebed
Kollekte
SB. 7: 4, 8
Seën

Broeders en susters,

Johannes het aanvanklik glad nie verstaan hoekom ook die Here Jesus gedoop moes word nie. Hy het selfs geweier om saam te werk.

Ons weet inmiddels wel waarom die Here Jesus wou hê Johannes moes Hom ook in die Jordaanwater onderdruk en doop. Mattheüs het dit uit Jesus se eie mond opgeteken: Dit was nodig sodat Jesus "alle geregtigheid kon vervul".

Ja, so staan dit in ons vertaling.

Maar wat beteken nou daardie woorde? Wat is "geregtigheid"?

Die oorspronklike woord wat Mattheüs waarskynlik in sy eerste, Hebreeuse, uitgawe van sy Evangelie gebruik het, kan ons ook met "reg" vertaal. Dis dieselfde woord as wat ons so pas in Jesaja 42 'n paar maal gelees het: die Kneg van die HERE is deur God aangestel en met die Heilige Gees gesalf om die reg na die nasies uit te bring.

Ons kan in Afrikaans met daardie klein woordjie reg baie mooi duidelik maak wat Christus bedoel het, toe Hy vir Johannes gesê het: Johannes, jy moet My ook doop, want so pas dit ons om alle geregtigheid te vervul.

Die woordjie "reg" het in ons taal naamlik meer as een betekenis, en dis met daardie Hebreeuse woord wat in die Bybel met geregtigheid vertaal is, presies dieselfde.

Ek kan sê dat ek reg het op iets: reg op respek van my kinders en my katkisante, reg om 'n motor te bestuur....

Ons praat ook van die Reg as ons die wette wat die owerheid vasgestel het, bedoel. Al ons regte as landsburgers is in wette vasgelê.

Maar ons gebruik die woordjie reg ook as ons sê: alles is reg. Of: alles sal reg kom. En dan bedoel ons: alles is in orde, alles is soos dit behoort te wees; en: alles sal weer goed kom.

In die Bybelse woord reg of geregtigheid kry ons dieselfde kombinasie van betekenisse. God het as ons Skepper en Vader regte. Hy het reg op die leifde van ons hele hart en siel, Hy het reg op die toewyding van ons hele verstand en al ons kragte. God het ook sy regte in 'n wetboek vasgelê: sy Verbondswet.

En as ons volgens daardie wette leef, as ons geregtigheid doen, as ons reg leef, ja, dan is alles reg op aarde!

U weet: as gevolg van die sonde leef ons vandag nie meer reg op aarde nie. Ons gee die HERE nie meer waarop Hy reg het nie. Inteendeel, ons vertrap dikwels sy regte. Dis dié dat daar baie in ons wêreld is wat nie reg is nie.

Maar dan sal u nou ook verstaan wat dit wil sê dat die Here Jesus Christus gekom het "om alle geregtigheid te vervul". Hy het gekom om, in ons plek, aan God se regte te voldoen. Hy het gekom om aan God te gee waarop Hy reg het. Hy het ook gekom om vervolgens ons weer te leer om reg te lewe, volgens God se regte soos Hy dit in sy Verbondswet vasgelê het.

Christus het gekom om sodoende alles weer eg reg te maak op aarde.

Dit alles impliseer Christus se verklaring aan Johannes in ons teks waarom Hy ook gedoop moes word.

Ek het daarom die boodskap uit hierdie Skrifgedeelte so saamgevat:

GOD SE SEUN HET GEKOM OM ALLES REG TE MAAK OP AARDE

TWEE DINGE VERTEL DIE TEKS DAARBY:

  1. HY MOES HOM KROM BUIG ONDER DIE SONDE VAN GOD SE VOLK
  2. HY IS OPGERIG DEUR DIE HULP UIT GOD SE HEMEL

1. In ons teks tree die Here Jesus eindelik uit die skemer waarin Hy omtrent 30 jaar geleef het, in die lig. Die werkwoord wat Mattheüs in vs 13 gebruik, benadruk dit. Ons vertaling vertaal swak: "Toe het Jesus.... na Johannes gekom". Volgens die oorspronklike Grieks skryf Mattheüs egter: "Toe het Jesus na vore gekom... van Galilea na die Jordaan, na Johannes toe". Mattheüs gebruik dieselfde woord as in vs 1 mbt Johannes die Doper. Jesus verlaat nou die stilte en tree in die openbaarheid.

Dus kyk ons met gespanne verwagting. Wat sal Hy nou gaan doen? Hy is mos die Redder wat God aan sy volk gegee net. Hy is die groot seun van Dawid waarna die volk so lank al uitgesien het. Hy het Homself nog al die tyd op die agtergrond gehou. In Betlehem. En toe 'n hele ruk in ballingskap in Egipte. En toe in die agteraf gebied Galilea, in die onaansienlike dorpie Nasaret, ver van die hart van die ryk, Jerusalem.

Sal Jesus nou Jerusalem toe gaan? Sy pa Josef hom wou na die terugkeer uit Egipte al in Judea, in die omgewing van Jerusalem gevestig het. Uit die drie verskynings van 'n engel aan hom het dit baie duidelik geword dat Maria se seuntjie 'n groot taak sou kry in Israel as priester en koning. Maar dan moes Hy mos in Jerusalem wees, die stad van die tempel, die stad van Dawid.

Toe het die engel Hom egter eers na die stilte van Galilea gestuur.

Sal Jesus dan nou, noudat Hy inmiddels 'n volwasse man geword het en geskik om sy taak as Verlosser te gaan vervul - sal Jesus dan nou in die rigting van Jerusalem gaan?

Jesus kies egter 'n eienaardige pad. Hy laat Jerusalem links lê en begeef Hom na die woestyn om deur Johannes gedoop te word.

Ons staan verwonderd! Johannes se doop was mos 'n ritueel om die mense tot bekering te bring. Hy het hulle uit hulle stede uit na die woestyn geroep om daar tot inkeer te kom. Vervolgens het hy hulle in die Jordaanwater ondergedompel om daarmee vir hulle aan te dui hoe vuil hulle is vir God. Hulle moet van top tot toon skoongewas word. Hulle is so onrein soos die melaatse Naäman wat hom ook in die Jordaanwater moes was om weer rein te word.

Johannes se doop was 'n middel om God se volk tot berou en boetedoening oor hul sondes te beweeg. Hulle moes leer besef dat hulle sonder vergewing van hul sondes nie die Koninkryk van God kon binnegaan nie.

En hou kom Jesus en Hy wil ook deur Johannes gedoop word.

Maar Jesus benodig tog nie so'n doop van bekering tot vergewing van die sondes nie? Wil Jesus nou tou gaan staan met hoere en tollenaars, met skynheilige skrifgeleerdes en wrede soldate? Waarvan moet Hy Hom bekeer? Waarvoor moet Hy vergewing kry?

Dit is dan ook Johannes se eerste reaksie.

Johannes ken vir Jesus. Hulle is mos familie van mekaar. Johannes se ma Elisabeth is Maria se tante. Johannes het sonder twyfel ook van sy pa en ma gehoor watter besondere Kind sy kleinneef is. Jesus van Maria is die vervulling van al God se beloftes, die lig van God om te skyn oor die wat in duisternis en doodskaduwee sit; maar veral: die Redder wat die vergewing van die sondes vir God se volk sal bewerk. Toe Johannes die ander mense gedoop het, het hy daarom nadruklik na Jesus vooruitgewys. Johannes het net die voorbereidende werk van die heraut gedoen. Hy het net met water gedoop om die mense tot bekering te beweeg. "Maar Hy wat na my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie" het Johannes gesê. "Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur".

Maar moet Johannes Jesus dan nou gaan doop? ! Moet die kneg die Koning oproep tot bekering? U moet liewer my doop, sê Johannes. Daardie doop met die Heilige Gees wat U kom bring, dié moet ek van U ontvang.

Maar dis mos dwaasheid as ek U, die Seun van God self, sonder enige sonde, sou doop!

Nogtans hou Christus vol dat Johannes Hom ook moet doop. Moenie nou My jou samewerking weier nie, Johannes, sê Jesus. "Want so pas dit ons om alle geregtigheid te vervul". Ons moet saam in die Jordaanwater afdaal en jy moet my nes die ander mense onderdruk en as 't ware skoonwas van skuld. Dit is nou maar eenmaal nodig as jy en Ek wil saamwerk om alles weer reg te maak op aarde. Ek en jy wil mos God se Koninkryk nabybring waarin God weer ontvang waarop Hy reg het en waarin Hy daarom vir die mense die lewe ook weer regmaak.

"So pas dit ons... " sê Jesus. My wens om gedoop te word, lyk onvanpas. Ek besef dit. Nogtans pas dit so in die plan wat God met ons lewe het. So pas dit in die taak wat Hy ons opgedra het.

Waarom was dit dan volgens God se plan, broeders en susters?

Ons lees daardie selfde sterk uitdrukking ("so pas dit... ") in die brief aan die Hebreërs, hoofstuk 2. Daar staan daar met betrekking tot God self (vs 10): "Want dit het Hom betaam (gepas!)... as Hy baie kinders na die heerlikheid wou bring, om die Bewerker van hulle saligheid deur lyde te volmaak".

So was God se plan om ons te verlos: die Bewerker van ons saligheid moes self deur lyde heen. Hy moes die skuld van ons op Hom laai, en die straf daaroor dra.

Jesus het dit geweet. En daarom wou Hy ook, soos die ander mense, gedoop word.

Hy wou uit die staanspoor langs sy volk gaan staan. Toustaan met prostitute afpersers, met soldate en straatvolk.

Hy wou saam met hulle in die beklaagdebank voor God se regterstoel sit en saam met hulle sy kop buig onder die onnoemlike skuld.

Daarom wou Hy deur Johannes in die water ingeneem word en Hom krom buig, so diep dat Hy 'n oomblik onder die water sou verdwyn. Daardie simboliek beteken mos dat 'n mens as 't ware eers moet sterf om in 'n nuwe lewe te kan opstaan. Só diep wou Jesus buig. Om aan God se reg te voldoen. En om sodoende alles weer reg te maak op aarde. Hy het dit as sy lewenstaak gesien om te sterwe. Hy het gekom om Homself te offer vir die skuld van die volk. Om vir die volk weer versoening by God te verdien.

Hy wou dit so hê en Johannes mog dit nie weier nie. Want so wou God dit hê.

Die gedaante van die duif waarin God se Heilige Gees netnou op Jesus sou neerdaal, het onderstreep dat dít die pad was wat Jesus moes loop.

Die duif was in die Israel mos 'n offerdier. Slegs die rykere mense het skape en beeste kon offer. Die gewone mense het duiwe gevang en geoffer. Die Gees van God wat na die doop in die Jordaan op Jesus neerdaal, sal Hom in die rigting van sy offer dryf. Maar die duif daal eers neer en wys die rigting wanneer Jesus Self klaar daardie pad gekies het.

Want so alleen kan alles weer reg word op aarde.

Wanneer ons ons Heiland diep sien buig daar in die Jordaanwater, gemeente, kan ons self ook alleen nog maar buig vol skaamte en skuldbesef.

Daardie vernederende weg moes Hy dus loop om vir ons alles weer reg te maak hier op aarde. So groot was dus ons skuld by God, so swaar het ons Hom veronreg, dat sy Seun uit die hemel Homself tot op die vlak van veragtelike sondaars moes verneder.

En Hy wóu daardie vernederende weg loop, end-uit, tot die bitter einde van 'n kruisiging. So lief het Hy ons gehad. So lief het Hy sy Vader en die se verbondsregte gehad.

Wanneer ons daarna kyk en dit tot ons laat deurdring, kan ons inderdaad self ook alleen nog maar baie, baie diep buig.

U eie doop en elke nuwe doopsbediening wat u in die kerk meemaak, dwing u om na Christus se doop en dood te bly kyk, broeders en susters. Die doopwater wat nog steeds vloei, bly ons daaraan herinner dat ons self te vuil, te sondig is om in God se Koninkryk in te gaan. Maar dit herinner nou ook daaraan dat Iemand anders ons vuiligheid op Hom geneem en dit van ons afgewas het. God se eie Seun.

Hoe nodig is dit dat ons aanhoudend daaraan herinner word. Want ons ken ons skuld by God nog so sleg. Ons is dikwels veels te hoogmoedig om Christus se diepe vernedering as ons redding te aanvaar.

Hoeveel mense sien net by ánder mense die sondes raak. En dan skinder hulle daaroor. Maar as jy met hulle oor hul eie sondes wil praat, vervies hulle hul, of hulle probeer met slim draaie die gesprek op 'n ander onderwerp kry.

Dit is een van die moeilikste gesprekspunte tydens 'n huisbesoek: om reguit te praat oor ons skuld teenoor die HERE wat ons nog elke dag groter maak. Dit is ook een van die moeilikste dinge om teenoor mekaar te moet erken en bely: dat ons gesondig het.

Kyk u wel voldoende na u Heiland, broeders en susters? Besef u wel voldoende dat Hy ook vir ú Homself moes en wou verneder?

2. Want vir Homself was 'n toustaan tussen die sondaars en 'n vernederende doop nie nodig nie. Dit het vir Johannes en almal wat ook gekom het om gedoop te word, meteens na Christus se doop ook duidelik geword.

"Nadat Hy gedoop was, het Hy dadelik uit die water opgeklim", vertel Mattheüs.

Ons moet nie oor daardie woorde heen lees nie. Al die ander dopelinge het nie dadelik weer uit die water gekom nie. Hulle moes daar in die water eers teenoor Johannes en voor God se aangesig hul sondes konkreet bely. Kyk maar vs 6. Ons weet uit wat Lukas vertel, dat Johannes ook met sy dopelinge gepraat het oor hoe hulle in die praktyk hulle bekering kon laat blyk.

Vir Jesus is so'n publieke skuldbelydenis en 'n besinning op 'n beter lewe nie nodig nie. Daar is by Hom geen enkele sonde wat Hy moet bely nie. En daar is niks wat Hy in sy lewe moet verbeter nie.

Hy het gekom om óns sondes op Hom te neem.

Daarom mag Hy as 'n sondelose mens die water verlaat.

Die hemel onderstreep dit. Want as Hy weer op die Jordaanoewer staan, gaan die hemel vir Hom oop. Nee, daar staan nie dat die hemele bo Hom oopgegaan het nie. Mattheüs skryf nadruklik dat die hemel vir Hom oopgegaan het. Jesus kan nie net in die hemel in kyk nie. Hy kan sommer in die hemel in gaan. God steek vanuit die hemel as 't ware sy arms na Hom uit. Hierdie mens is as enigste mens welkom by God. Omdat Hy as enigste mens sonder enige sonde is. Omdat Hy bereid is om ander mense se sondes op Hom te neem. "In Hom het Ek 'n welbehae", sê God.

Omdat die hemel egter weet dat Jesus vandag nog nie na die hemel sal terugkeer nie, kom die Gees van God uit die hemel na Hom op aarde toe.

Die Heilige Gees wás natuurlik al vanaf sy geboorte by die Here Jesus, broeders en susters. Dit is die Heilige Gees wat Maria oorskadu het en Jesus in haar skoot verwek het. En Lukas vertel later dat Jesus as Kind by Josef en Maria reeds sterk geword het in die Gees.

Wanneer die Heilige Gees nou nogmaals, in die gedaante van 'n duif, op Jesus neerdaal, moet ons dit sien as 'n sigbare hulp uit die hemel wat Jesus ontvang vir sy taak.

'n Moeilike pad lê voor. Die pad na die offer. Die pad van die vernedering tot in die hel vanweë ons sondes.

Indien Hy daardie pad net met ménslike krag moes loop, sou Hy dit nooit kon volbring nie. Die taak sou te swaar wees.

Jesus het dit ook besef. By Lukas lees ons dat, terwyl Jesus besig was om te bid, die hemel vir Hom oopgegaan en die Heilige Gees na Hom neergedaal het.

Jesus het as mens sy eie swakheid geken.

Maar Hy ontvang hulp uit God se hemel. Hierdie sondelose mens, wat die sondes van die hele wêreld op Hom wil neem en wegdra, word met goddelike krag gesterk.

'n Krag wat hom die weg van die offer op sal drywe, soos die simbool van die duif duidelik maak, maar wat Hom ook in staat sal stel om daardie offer volkome te bring.

'n Stem uit die hemel, God se eie stem, voorsien die tekens van 'n oop hemel en van die neerdaling van die Gees soos 'n duif, van kommentaar: "Dit is my geliefde Seun in Wie Ek 'n welbehae het".

Hierdie woorde herinner ons sterk aan dit wat ons in Jesaja 42 gelees het, gemeente. In Jesaja 42 presenteer die HERE mos sy Kneg, sy Uitverkorene in Wie sy sien 'n welbehae het en op Wie Hy sy Gees gelê het.

Daar is ook verklaarders wat aan 'n aanhaling van Psalm 2 dink, waar ons die HERE ook tot die groot Koning wat Hy oor sy berg Sion sal aanstel, hoor sê: "U is my Seun.. ".

Sonder twyfel is Christus daardie groot Koning van Psalm 2. Nogtans wonder ek of ons hier by Christus se doop in die Jordaan aan daardie Psalm moet dink. In die hele verband van daardie Psalm gaan dit naamlik oor die opstandige nasies en hul maghebbers wat nie wil buig voor die HERE en sy Gesalfde. Daardie agtergrond speel hier in Matt 3 egter glad nie 'n rol nie.

Gesien die woordkeus en die hele konteks is 'n herinnering aan Jesaja 42 minstens so aanneemlik.

God laat dit vir Johannes en alle omstanders weet dat hierdie Jesus die beloofde Kneg van Jesja 42 is. Hy hét so pas sy Gees op Hom gelê. En God ontsluier nou ook die geheim van hierdie Kneg. Dit is nie sommer 'n kneg nie. Dit is sy eie Seun!

Hy sal die reg op aarde grond, soos in Jesaja 42 aangekondig. Hy het dit mos so pas self vir Johannes gesê: "Dit pas ons om alle geregtigheid te vervul" Ons moet God se regte op aarde herstel, Johannes. Ons moet dit tussen God en sy volk weer reg maak en sodoende alles weer reg maak op aarde.

Hier is Hy, my Kneg, wat Homself sal beywer vir my reg, sê God. My eie Seun.

Hy is bereid om Hom krom te buig onder julle sondes. Maar daarom mag Hy reken op My hulp. Hy lyk nou so swak en kwesbaar. Maar, kyk na Jesaja 42: 4: "Hy sal nie uitgedoof of geknak word totdat Hy Hy my reg op aarde gegrond het nie. " Hy sal sy taak volbring en sy doelwit bereik.

Danksy Hom wórd alles weer reg op aarde!

Daardie stem het ook vir ons geklink, gemeente. Daarom het Mattheüs hierdie woorde vir ons op skrif vasgelê.

Ek het in my eerste punt gesê: noudat Christus Hom so diep vir ons wou buig, is daar alle rede vir ons om ons ook diep te buig in skaamte en skuldbesef.

Maar nou sê ek ook: omdat God vanuit die hemel sy Kneg vir sy taak opgerig het, mag u en ek ons tog ook oprig. God het die allerbeste Kneg gegee wat Hy kon gee. En God het Hom uit die staanspoor ondersteun met die krag van sy eie Heilige Gees. Om te waarborg dat hierdie Kneg eindelik sy reg op aarde sou herstel, eindelik alles tussen Hom en ons sou regmaak. Ja, sodat eindelik alles op aarde weer sou kon regkom.

As ons maar in Hom glo, ons aan Hom uitlewer, kom regtig alles reg. Al is u sondes ook hoe groot en u daaglikse bekering ook nog hoe swak -

Al lyk dit in hierdie wêreld en selfs in die kerk vanweë die sonde dikwels hopeloos en uitsigloos - alles sal reg kom.

Ja, daar het danksy Christus al baie reggekom. As u met belydenis van u sondes by Hom skuil as u Redder, ís dit vandag al weer reg tussen God en u. Dan is u sondes volkome vergewe. Dan staan die hemele ook vir u weer oop en strek God ook na u sy arms uitnodigend uit.

En dan sal die Heilige Gees wat op Christus neergedaal het, ook in u woon en u die krag verleen om weer al hoe meer reg te lewe vir God. U kan dan vandag al, ren spyte van baie sonde en ellende wat nog oorgebly het, ervaar dat Christus se Gees die lewe weer reg maak.

Wanneer daar danksy Christus al so veel reg gekom het vandag, sal dan nie eendag alles regkom nie?

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)