Die omgekapte priesterstomp sal weer opbloei

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Sagaría 3
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SAGARIA 3: 8-10

LITURGIE:
L. Sagaria 3 & 6: 9-15
Ps. 118: 2, 11
Ps. 118: 14
Ps. 102: 6, 7, 8
Ps. 147: 1
Ps. 102: 9

Broeders en susters, seuns en dogters,

Die kersfees kom al weer vinnig naderby. In hierdie weke begin ons elke jaar weer alreeds gaandeweg konsentreer op die fees van die koms van ons Heiland in die wêreld.

In die kerk word adventspreke gehou. In die skool en by die huis begin die kinders versies en tekste leer wat met die geboorte van Christus te make het.

Een van diè tekste is die bekende woorde van Jesaja 11: 1: "Maar daar sal 'n takkie uitspruit uit die stomp van Isai en 'n loot uit sy wortels sal vrugte dra. "

Dis mos 'n pragtige omskrywing van die wonder van Kersfees: van die reusagtige boom van Isai, die vader van koning Dawid, het nog maar net 'n kale stomp oorgebly. Isai se geslag het deur Dawid, die jongste seuntjie wat die skape moes oppas maar toe deur God geroep is om sy volk op te pas, tot 'n indrukwekkende boom uitgegroei. Dawid se seun, Salomo was eendag die magtigste en wyste en aansienlikste koning op aarde.

Maar toe het ook al gou weer die neergang gekom. Die koningshuis van Dawid het sy rug op die HERE gedraai, God se volk nie meer mooi opgepas nie, maar dit tot 'n prooi vir die vyande gemaak. En toe het God in sy heilige toorn die groot boom omgekap sodat maar net 'n stomp oorgebly het. Israel en ook die huis van Dawid moes in ballingskap Babel toe gaan.

Maar dan mag Jesaja vertel dat dit nie die laaste, nie die einde is nie. Die kale stomp van Isai sal darem weer uitspruit. Daar sal skielik op daardie boomstomp 'n takkie, 'n klein lootjie uitspruit en dit sal opnuut tot 'n ontsaglike boom uitgroei.

Dawid se huis kry eendag 'n nuwe Koning. Sy begin sal baie onaansienlik wees, maar deur Hom kom darem vir God se volk die vrederyk terug, mooier nog as dit tydens Salomo was.

So mog Jesaja van die koms van die Here Jesus Christus profeteer: die groot Koning uit die huis van Dawid wat deur 'n wonder nuwe lewe en nuwe toekoms vir die stomp van Isai gebring het.

Ons teks van vanoggend, broeders en susters, is ook so'n pragtige kersteks. Ook hier, in Sagaria 3, lees ons van so'n takkie wat uit 'n omgekapte stomp uitspruit. In vs. 8 sê die HERE mos dat Hy "sy Kneg, die Spruit, sal laat kom". En daardie woord "Spruit" beteken omtrent dieselfde as takkie, of loot.

Maar die verskil met daardie bekende teks uit Jesaja 11 is, dat die Spruit in Sagaria 3 nie net die omgekapte koningsstomp weer tot bloei sal bring nie, maar ook die omgekapte priesterstomp.

Want God se Seun sou nie net as die groot Koning in die wêreld kom nie, maar ook as die groot Priester wat ons sondes by God moes versoen.

En so, as die nuwe lewenskragtige Spruit ook op die omgekapte stomp van Aäron, het die profeet Sagaria ons Here Jesus Christus sien kom.

Ons hoor dan ook in ons teks:

DIE OMGEKAPTE PRIESTERSTOMP SAL WEER OPBLOEI

WANT DIE HERE BELOOF VIR DIE PRIESTER-NA-DIE-BALLINGSKAP JOSUA:

  1. DIE PRIESTER VAN DIE NUWE VERBOND
  2. DIE TEMPEL VAN DIE NUWE VERBOND
  3. DIE VREDE VAN DIE NUWE VERBOND

1. Die profeet Sagaria het self tot die omgekapte stomp van Aäron behoort, gemeente. Ons ken hom veral as profeet, maar uit die boek Nehemia kan ons aflei dat hierdie Sagaria, die seun van Beregja, die seun van Iddo 'n afstammeling van die huis van Levi en Aäron was.

U onthou: Sagaria het geleef en geprofeteer in die dae na die Babiloniese ballingskap. Dae wat deur 'n gees van neerslagtigheid en moedeloosheid gekenmerk word. Die volk is deur die ballingskap geminimaliseer, die stad Jerusalem lê daar as 'n puinhoop, die kragte om die stad weer te herbou is feitlik te min, die Samaritane probeer by die regering in Babel bewerk dat die toestemming vir die herbou gekanselleer word.......

Is daar nog wel 'n toekoms vir God se volk op aarde??

Diè gees van moedeloosheid het algaande ook die priesters in die greep gekry. Hulle mog uit Babel Jerusalem toe terugkeer om die huis van die HERE te herbou. En hulle het dankbaar en vol goeie moed met die herstel van die fondamente van die tempel en die weer oprigting van die altaar begin. God het mos nuwe perspektiewe gegee. Jerusalem kry sy ou glorie terug. Sion sal weer 'n lof op aarde word.

Maar ook hulle het al hoe meer begin twyfel aan daardie nuwe perspektiewe. Daar was mos die een teleurstelling na die ander. Is daar nog wel 'n nuwe toekoms vir Jerusalem, vir God se volk?? Het dit nog wel sin om die tempel verder op te bou as Jerusalem tog 'n puinhoop bly en God se volk gaandeweg uitsterf? Waarom moet hulle nog erediens hou en lofoffers bring as, ten spyte van die terugkeer uit Babel, die einde van Israel naby is?

Ons kan daardie moedeloosheid verstaan, broeders en susters. En ons het so'n gees van neerslagtiheid al dikwels teruggesien in die kerkgeskiedenis. Na 'n kerkstryd wat tot reformasie gelei het byvoorbeeld: aanvanklik het die gereduseerde klompie mense wat aan die tirannie van dwaalleer en hiërargie ontkom het, vol ywer en entoesiasme aan die heropbou van hul kerklike lewe begin. Maar al gou het die terugslag gekom. Hulle het so baie mense en kragte verloor, hul kerklike lewe is ontluister en die toekoms so onseker. Die omstanders behandel hulle met spot en veragting.....

Hoe moeilik kan dit dan wees om as ampsdraers kragtige en gelowig leiding te bly gee!

In so'n situasie het die priesterseun Sagaria sy visioene ontvang. Die HERE skakel hom in om sy somber volkie te bemoedig en te stimuleer.

En in ons hoofstuk kom nou spesiaal die hoëpriester Josua en sy medepriesters in die kollig.

Die HERE het in die eerste visioene laat weet dat daar regtig 'n groot toekoms vir Jerusalem wag. Want ten spyte van al die sondes wat tot die ballingskap gelei het, is die liefdesywer van die HERE vir sy kerkstad nie gedoof nie. Hy sal al haar vyande vernietig. En die stad self word so groot dat daar geen mure meer rondom haar sal wees nie. Dis ook nie meer nodig nie want die HERE self sal 'n vurige muur rondom haar wees.

Maar dus moet ook die tempel nou weer opgebou word. Wat is mos Sion sonder 'n tempel?? Die tempel is mos die hart van Jerusalem? Die tempel met sy diens van versoening het Sion tot Sion gemaak, die woning van God by die mense. En as dus Jerusalem weer tot bloei wil kom, sal daar allereers weer 'n tempel moet kom. Daar moet die nuwe opbloei begin: by die offers vir die versoening van die sondes en die lofpsalms op die goedertierenheid van die HERE.

Daarom haal die HERE nou in Sagaria se visioene die omgekapte priesterstomp van Aäron in die kollig. Hulle glo nie meer in 'n toekoms vir die tempel nie. Maar die HERE sal vir hulle 'n riem onder die hart steek.

En hoor dan, gemeente, hoe dat die HERE is vs. 8 Josua en sy kollega-priesters noem: "wondertekens is hulle". Hierdie ampsdraers sien nog maar net wat alles verdwyn het, maar die HERE wil hulle oë oopmaak vir wat oorgebly het. Dis reg: met die verwoesting van Jerusalem deur Nebukadnesar het die HERE sowel die koningsboom van Dawid as die priesterboom van Aäron omgekap. Maar Hy het nie die stompe wat oorgebly het, ook uit die grond uitgeruk nie! Die stompe het bly staan. En dat daar vandag in die puinhope van Jerusalem en by 'n platgebrande tempel nog weer priesters is- dis 'n wonder! Want die priesters het ewe goed as die konings die verbond met God ontheilig en vertrap. Israel het die totale uitroeiing van koningskap en priesterskap verdien.

Maar God het in sy genadige liefde 'n stomp van die koningshuis laat oorbly, Serubbabel. En ook 'n stomp van die priestergeslag laat staan: Josua en sy broers.

Josua moet nie verslae na die puinhope bly kyk nie- hy moet verwonderd na homself en die anders priesters kyk. Hulle is darem weer hier! 'n Wonder van God se genade. 'n Blyk van sy onverdiende verkiesing.

Sagaria het in die begin van hierdie visioen gesien, gemeente, hoedat die Satan Josua probeer swartsmeer het by God. Was Josua nie 'n priester met vuil klere nie, onheilig en dus ongeskik vir die diens van die versoening? God het wel 'n paar priester uit Babel na Jerusalem laat terugkeer, maar is hierdie manne nou beter as die sondige priesters van voor die ballingskap?? En as dìt die verteenwoordiger van die volk by God moet wees, hoe sal dan die volk wees? !

Maar die HERE het die Satan in die pad gesteek. Hy het rêrig wel van Josua se sondes en tekortkomings geweet. Maar die Satan sal swyg, want die HERE het hierdie Josua soos 'n brandhout uit die vuur geruk. Al is hierdie mens ook glad nie verkieslik nie, nogtans het God hom gekies om die priesterdiens in Jerusalem voort te sit. Want die voortbestaan van die kerk hang nie af van die verkieslikheid van mense nie, maar van God se genadige verkiesing! En as God kies, sal Hy Self vir nuwe, rein klere sorg. Dan maak Hy 'n toekoms oop waar dit die einde moes gewees het.

Daarvoor moet Josua weer 'n oog kry. Daarvoor moet almal wat van Israel oorgebly en in Jerusalem weergekeer het, weer 'n oog kry.

Want dan word die wonder vir hulle ook 'n teken. 'n Veelbelowende waarborg. As God mos op so'n wyse die omgekapte stomp van Aäron laat staan het, moet dit ook weer uitspruit. Dan moet daar toekoms vir die priesterskap wees. Dan moet die priesterskap eendag sy vervulling kry in die groot Priester wat vir altyd die sondes van Sion sal versoen en Jerusalem weer tot 'n lof op aarde sal maak. "Kyk maar mooi na julle self wat as stomp van die boom van Aäron oorgebly het", sê daarom die HERE: "Ek sal my Kneg, die Spruit, laat kom!".

Israel het al geweet van die koms van hierdie Spruit. Jesaja het van Hom geprofeteer, en Jeremia: 'n nuwe Koning uit die huis van Dawid, wat God se volk vir ewig sal verlos.

Maar nou laat die HERE dus deur Sagaria weet dat hierdie Spruitjie op die omgekapte stomp van Dawid ook die omgekapte priesterboom sal volmaak. Die groot Koning wat sal kom, sal ook Priester wees. In hoofstuk 6 van Sagaria lees ons dit baie duidelik: "Kyk, daar kom 'n Man wie se naam is Spruit. Hy sal die tempel van die HERE bou en Hy sal majesteit verkry en sit en heers op sy troon. Ook sal Hy 'n priester wees op sy troon".

Die laaste loot uit die huis van Dawid sal deur die HERE ook as laaste loot op die stomp van Aäron geënt word. 'n Priester-Koning wat koningskap en priesterskap sal saamvoeg en deur sy offer vir die sondes God se volk eens en vir altyd bo alle ellende sal uittel.

Met die vooruitsig het die HERE sy volk en sy ampsdraers in die dae na die ballingskap bemoedig, gemeente. Hy wou weer woon by sy volk, kyk vs. 11 van hoofstuk 2. En dus kòn die misère van na die ballingskap nie die einde wees nie. Die vyande moes vernietig, maar dan moes allereers die ergste vyand oorwin word: die sonde. Daar moes 'n Koning kom wat allereers as Priester die sonde sou versoen deur die offer van sy eie liggaam. En so God se volk volkome sou verlos.

Josua en sy mense moet nie kortsigtig wees nie. Hulle moet maar na hulleself kyk. Dan kan hulle ook ver in die toekoms kyk. En dan sal hulle besef dat die herbou van die tempel beslis nie 'n sinlose besigheid is nie.

2. Josua ontvang selfs nog 'n extra waarborg dat daar beslis toekoms vir die priesterskap is. Want ons lees vervolgens in vs. 9 van ons teks dat die HERE 'n steen voor Josua neergelê het. Die verklaarders stem nie almal saam oor die betekenis van hierdie steen nie. Daar is uitleggers wat dink dat die HERE vir die hoëpriester Josua 'n edelsteen met 'n inskripsie gee wat in die goue plaat op sy tulband bevestig moet word. Ander uitleggers meen dat die HERE die steen op die borskleed van die hoëpriester bedoel, waarop die name van die 12 stamme van Israel gegraveer is.

Maar die aannemelikste verklaring is die wat 'n verbinding lê met wat ons in die volgende hoofstuk, vs. 7 lees. Daar word gepraat van die sluitsteen van die tempel wat deur Serubbabel by die voltooiing van die nuwe tempel ingepas sal word.

Terwyl die nuwe tempel nog feitlik heeltemal opgebou moet word - net die fondamente lê nog maar daar- oorhandig die HERE alreeds die sluitsteen aan die hoëpriester as 'n waarborg dat die bou beslis voltooi gaan word.

Die tempel moet weer herbou word. Want God benodig dit solank die Spruit sy priesterdiens nog nie verrig het nie. Tot die tyd moet die diens der versoening aangaan, moet die offerbloed bly vloei en moet die altare bly rook. Om die volk aanhoudend daaraan te herinner dat daar alleen versoening deur voldoening kan wees. Die tempel na die ballingskap nog onder die Ou Verbond moet so die vooruitwysing wees na die tempel van die Nuwe Verbond wat eendag deur die Gees van God uit lewende stene, mense (!) opgebou sal word.

Daarom sal hierdie nuwe gebou van klip in Jerusalem onder God se spesiale toesig staan. Ons teks sê in vs. 9: "Op die een steen is daar sewe oë". Die verklaarders wat aan 'n edelsteen op die tulband of die borskleed van die hoëpriester dink, meen dat diè steen 7 vlakke, 7 fasette gehad het. Maar opnuut gee die volgende hoofstuk die aannemelikste verklaring: in vs. 10 sê die HERE daar self dat daardie sewe "die oë van die HERE is wat die ganse aarde deurloop". Die God van die verbond sal die sluitsteen vir die nuwe tempelgeboutjie fyn dophou. Sy oë wat die ganse aarde deurloop, sal daardie gebou, hoe armoedig ook al in vergelyking met die tempel uit Salomo se dae, geen oomblik uit die oog verloor nie. Want vir Hom is hierdie nuwe tempelhuis die belofte van 'n beter huis eendag, 'n lewende tempel van mense waarin Hy vir altyd kan woon omdat die skuld uitgedelg is.

Dis hoekom die HERE op die sluitsteen, wat ook die gewelsteen sal word, 'n spesiale opskrif gegraveer het. 'n Veelbelowende opskrif. Daar is baie oor daardie opskrif gefantaseer, broeders en susters. Maar dit staan presies in ons teks. Die vertaling laat dit egter nie mooi uitkom nie. Ons sal so moet lees: "Kyk, Ek sal sy graveersel graveer, spreek die HERE van die leërskare, naamlik, of dubbel punt (in plaas van die woordjie en)"; en dan volg die woorde van die graveersel: "Ek sal die skuld van hierdie land in een dag uitdelg". Daardie woorde sal elkeen lees wat voortaan tempel toe kom en in die tempel moet diens doen. Daar moet nog altyd 'n stroom van offers gebring word om die skuld van die volk uit te delg. En die skuld word darem nie regtig uitgedelg nie. Want die bloed van bokke en bulle kan geen sondes van mense wegneem nie.

Maar eendag sal die offerstroom vir altyd mag ophou. Want deur een groot offer sal die HERE dan die skuld van sy volk eens en vir altyd uitdelg. Met die bloed van die Spruit wat sal kom, die Engel van die HERE wat in hierdie visioen Self sy koms en sy offer aankondig: ons Here Jesus Christus. Hy sal die werk van Aäron se priestergeslag afrond met die offer van sy eie lewe. Op die dag van Golgota- dan sal God die skuld van hierdie land vir altyd uitdelg.

En dan kan die tempel van klip ook maar tot die grond toe afgebreek en platgebrand word. Dan mag die voorhangsel skeur van bo tot onder. Want daardie tempel het dan sy diens klaar gedoen. Dan sal die nuwe en laaste loot op die boom van Aäron die tempel van die Nuwe Verbond opbou uit lewende stene, mense waarin sy Heilige Gees kom woon.

En dan sal die Gees die lewe in Sion weer tot 'n fees maak, mooier nog as in die dae van Salomo.

3. Daarvan spreek die HERE in die laaste vers van ons teks: "Die dag kom dat julle mekaar sal uitnooi onder die wingerdstok en onder die vyeboom". Dit is bekende woorde wat herinner aan die tyd van vrede onder koning Salomo en wat vooruitwys na die dae van die vrederyk van Christus. U vind hierdie uitdrukking ook by die profeet Miga, 4: 4.

As die skuld van die volk uitgedelg is en die toorn van God gestil, as die versoening van die Nuwe Verbond bewerk is, kom die ganse lewe tot rus. Daar is geen vyandskap meer van buite wat die lewe bedreig nie. Want wie nog die volk van die HERE durf aanraak, raak sy oogappel aan, sien 2: 8. Daar is ook geen vyandskap meer van binne wat die lewe bedreig nie. Daarop wys die woorde in vs. 10: "Julle sal mekaar uitnooi onder die wingerdstok en onder die vyeboom". In volkome onderlinge vrede sal die kinders van God se volk saam geniet van die rus wat God gee. Diè wat saam versoen is met die HERE, sal hulle ook met mekaar versoen en voortaan onder mekaar in vrede saamlewe.

So, broeders en susters, het die HERE in die dae na die ballingskap sy volk en sy ampsdraers bemoedig. Met 'n veelbelowende vooruitsig.

Ons weet inmiddels hoe indrukwekkend die HERE sy beloftes vervul het. Die Priester-Koning hèt gekom, ons sal binnekort sy koms in die wêreld weer herdenk. Hy het die priesterdiens van Aäron vervul en met sy offer die skuld van God se volk vir altyd uitgedelg. En ons self vorm nou die tempel van lewende stene van die Nuwe Verbond; die gemeente vorm die Sion van die Nuwe verbond waarin die Heilige Gees die lewe alreeds tot 'n fees begin maak. Ons mag die begin van die ewige vrede alreeds geniet.

Ja, ons moet nog wag vir die volkome vervulling van al God se beloftes. Ons wag nou vir die dag dat die Nuwe Jerusalem neerdaal van God uit die hemel, dat die tent van God by die mense sal wees en Hy vir altyd by ons sal woon. Ons wag vir die dag dat God die trane van die oë sal afvee en daar geen dood meer sal wees nie, dat daar ook geen droefheid en geween en moeite meer sal wees nie omdat die eerste dinge verbygegaan het en God alle nuut gemaak het. Ons kan nog baie swaarkry.

Maar durf een van ons nog aan diè toekoms twyfel? !

Ons vorm nou mos self 'n wonderteken van daardie toekoms? Dat daar vandag nog 'n volk van God op aarde bestaan, dat daar nou orals op aarde lewende tempels vir God gevind word- is dit nie die oortuigende bewys dat God sy Sion nooit sal laat ondergaan nie? Die doop van 'n verbondskind in diè diens vanoggend- dit bewys mos dat die HERE 'n toekoms vir ons het!

Sy sewe oë wat die ganse aarde deurloop, die sewe Geeste wat voor sy troon is, hou ons fyn dop. En die Here Jesus in die hemel is vir God vandag die Sluitsteen van sy tempel wat Hom aanhoudend daaraan herinner dat daar nog beloftes uitstaande is. En u weet mos hoe dat vandag die inskripsie op hierdie Sluitsteen lui: Nie meer: "Ek sal die skuld op een dag uitdelg" nie. Maar: "Ek het die skuld van my volk op een dag uitgedelg" naamlik op die dag van Golgota. Daaraan herinner ons Koning en Priester in die hemel sy Vader nou aanhoudend as die Sluitsteen van die Nieu- Testamentiese Sion.

Wie van u durf dan nog pessimisties wees oor die toekoms van Sion?

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)