Die geskenk van die Gees word die wonder van die nuwe verbond

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Jesaja 44
Preek Inhoud: 

PREEK OOR JESAJA 44: 1-5

LITURGIE:
L. Jesaja 43: 15-44: 8
Ps. 126: 1, 2
Ps. 1: 1, 2
Ps. 92: 6, 7
Ps. 65: 2, 3, 7
SB. 14: 1, 2

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons het verlede week (onlangs) weer gedenk hoedat God die groot geskenk van die nuwe verbond aan sy volk gegee het: sy Heilige Gees.

Ons het vandag 'n Skrifgedeelte opgeslaan waarin God in die ou verbond die wonder van die nuwe verbond -sy Gees op alle vlees!_ reeds aangekondig het. Wat God aankondig, kom dus uit! Ons kan dit vandag orals in die wêreld sien. Selfs blindes kan dit tas.

Moet 'n slag daarop let, broeders en susters, hoe die HERE in hierdie hoofstukke van Jesaja telkens weer ons uitdaag om Hom maar na te reken as Hy iets voorsê het. Wat Hy sê, gebeur altyd. Sien byvoorbeeld die verse na ons teks, 44: 7: "Wie roep soos Ek -as daar een is, laat hom dit dan te kenne gee en aan My voorlê- vandat Ek die volk van die ou tyd af gegrond het? En laat húlle die toekomstige dinge en wat sal gebeur, te kenne gee. Hulle kan nie... Maar Ek- het Ek jou dit wat nou gebeur nie lank tevore laat hoor en te kenne gegee nie? ". En u kan ook maar kyk na hoofstuk 41: 26 en 27, waar die HERE vra: "Wie het dit te kenne gegee van die begin af, dat ons daar kennis van kan neem; of vantevore al, dat ons kan sê: Hy is reg? Ja, daar is niemand wat dit te kenne gee... As die Eerste sê Ek aan Sion: Hier is dit! En aan Jerusalem gee Ek 'n verkondiger van goeie boodskap".

So, gemeente, het die HERE destyds ook reeds deur sy profete as verkondigers van goeie boodskap die uitstorting van die Heilige Gees aangekondig. Want Hy het lankal daardie dag in gedagtes gehad, ja, na daardie dag uitgesien. Want die uitstorting van die Heilige Gees was nie net 'n geskenk van God aan sy volk nie- dit was ook 'n geskenk van God aan Homself. Deur die werking van die Gees sou naamlik die lewe op aarde weer opbloei. En as die deur die sonde verdorde lewe weer tot bloei kom en vrugbaar word, kan God eindelik weer die volle vreugde in sy skepping vind. Dié dag het God nog altyd bly soek.

Kom ons kyk hoedat dié dag in ons teks uit Jesaja 44 reeds deur die HERE aangekondig is en hoedat ons die vervulling van hierdie goeie boodskap vandag vandag in ons eie lewe en orals in die wêreld mag waarneem.

Ons hoor in ons teks:

DIE GESKENK VAN DIE GEES WORD DIE WONDER VAN DIE NUWE VERBOND

HIERDIE WONDER:

  1. BEWERK DIE VERNUWING VAN DIE KERK
  2. VEROORSAAK DIE VERMEERDERING VAN DIE KERK
  3. VRA DIE VERWONDERING VAN DIE KERK

1. Die HERE begin sy boodskap in ons teks met woorde wat ons vertroud op die ore val, gemeente. Na 'n uitbundige aanspraak waarmee Hy aandag vir sy boodskap vra, sê God vir sy volk: "Wees nie bevrees nie!".

Ons ken daardie woorde. Het Hy met dié woorde ook nie die koms van sy Seun in die wêreld ingelui, sowel aan Maria as aan die herders in die velde by Betlehem nie? "Wees nie bevrees nie". Met dieselfde woorde het Hy vervolgens die blye boodskap van Christus se opstanding ingelui: vir angstige vroue mog 'n engel sê: "Wees nie bevrees nie". Dié woorde markeer die belangrike momente op God se pad na 'n nuwe en beter verbond met sy volk. Dié woorde is blykbaar tiperend vir die nuwe verbond. God neem die vrees van sy volk weg- en daar was baie redes om te vrees: God het die reg om die hele lewe op aarde te laat doodgaan. Maar pleks daarvan verkondig Hy groot blydskap. Hy sal die lewe nie laat doodgaan nie, inteendeel, Hy sal die lewe tot nuwe bloei bring.

Maar dan mag die woorde wat met Kers en Pase gebruik is, sekerlik ook op Pinkster toegepas word: "Wees nie bevrees nie!". Want vanaf Pinkster bring God mos die blydskap tot sy hoogtepunt. Na die versoenende werk van sy Seun deur sy geboorte, dood en opstanding, lei God nou immers sy verlossingswerk na sy hoogtepunt. Nou kan Hy besiggaan om alles op aarde nuut te maak. Nou giet Hy sy Gees uit om die lewe op aarde wat deur die sonde onvrugbaar geword het, orals weer te laat uitspruit, te laat groei en bloei.

Ja, so kondig die HERE in ons teks die wonder van Pinkster aan, broeders en susters:

God beloof om sy Gees te sal giet. Dít word die wonder van die nuwe verbond: God giet nou sy Gees op sy volk. Daardie woordjie dui daarop dat die HERE niks meer terughou nie. Die Heilige Gees word ryklik uitgestort, soos Paulus dit later in sy brief aan Titus uitdruk.

In die tyd van die ou verbond was die Heilige Gees ook onder God se volk werksaam. Dis natuurlik nie so dat die Gees eers op die Pinksterdag gekóm het nie. Maar onder die ou verbond was daar wel 'n terughoudendheid. Die Gees was slegs in 'n beperkte mate aanwesig. Hy het spesiale ampsdraers, soos 'n Moses, 'n Gideon, 'n Simson, 'n Samuel, 'n Dawid, 'n Jesaja vervul om God se volk by die HERE vas te hou of na die HERE terug te bring. Maar die sonde het Hom telkens teruggedryf. Telkens as hulle Hom bedroef en teëgestaan het, het Hy Hom weer moet terugtrek. Want die Heilige Gees van God is dermate sondegevoelig dat Hy nie kan woon daar waar terselfdertyd die sonde ook woon nie. Maar in ons teks beloof die HERE dus dat daar eendag 'n dag sal kom dat die sonde van God se volk definitief oorwin is en nie langer skeiding maak nie. En op dié dag sal die Heilige Gees in volheid oor almal uitgegiet kan word. Sodat almal sal vervul wees met die Gees. Sodat nie meer net spesiale ampsdraes nie, maar almal, jonk en oud, ook seuns en dogters, selfs boys en meidjies, as ampsdraers, as profete, priesters en konings hul God sal dien.

En dan sal eindelik die lewe op aarde weer opbloei, soos 'n dor en doodse vlakte tot nuwe lewe kom nadat 'n swaar bui daaroor uitgesak het.

Ja, daardie metafoor gebruik die HERE vir die uitstorting van sy Gees: die beeld van 'n reënbui. Dit is 'n beeld wat ons op heelwat plekke in die Ou Testament raakloop.

Sien byvoorbeeld Psalm 126 waarmee ons dié diens begin het. Dit is 'n Psalm waarin die wonderlike verlossing uit die ballingskap van Babel besing word. Die lewe het opnuut vir God se volk oopgegaan. Dit was soos 'n droom.

Maar die digter van Psalm 126 het al gou besef dat die verlossing uit Babel nog maar die begin van 'n nuwe lewe vir God se volk was. Daar moet nog baie meer gebeur. Want die sonde is in die lewe van God se kinders nog nie oorwen nie. Daarom bid Hy, alhoewel hy alreeds gesing het dat God die lot van sy volk verander het: "o HERE, verander ons lot soos waterstrome in die Suidland".

En dan dink Hy aan die vernuwende werk van die Heilige Gees. Soos 'n swaar reënbui die droë woestynland in die Suide van Israel (ons kan dit maar vergelyk met ons Karoo) in 'n paar dae in 'n bloeiende vlakte kan verander, so moet die Gees van God die deur die sonde uitgedroogde lewe weer tot nuwe bloei vir God bring.

Ja, bloei vir God. Want dit wil daardie beeld, ook in ons teks, van wilgebome by waterlope en dalk ook blomme wat tussen die gras uitspruit, sê. Ons lees hierdie beeldspraak al eerder by Jesaja, in hoofstuk 32: 15 e. v. en daar word dit baie duidelik dat die lewe deur die uitgieting van die Gees weer vir Gód begin bloei: Wanneer die Gees uit die hoogte uitgegiet word, "word die woestyn 'n vrugteboord en die vrugteboord self word 'n bos gereken". Maar, so lees ons dan direk daarna: "En die reg woon in die woestyn, en die geregtigheid hou verblyf in die vrugteboord".

Daar kom weer 'n lewe in gehoorsaamheid aan die wil van die HERE. God se wil word weer wet. Die Heilige Gees dra sy sondegevoeligheid op die mens oor sodat ook die mens die sonde begin haat en ontvlug. Die mens word weer van harte gewillig en bereid om voortaan vir God te lewe. Hy soek nie langer selfsugtig net homself nie, maar hy wil weer sy lewe vrugbaar maak vir sy God. Hy verstaan ook weer al hoe beter wát die HERE van hom vra.

En dít maak die lewe weer aangenaam en aantreklik. Vir God en vir onsself. Die seën van God kom terug oor die lewe, sê ons teks.

En kyk ook nog 'n slag in Jes. 32: 17: "En die werking van die geregtigheid sal vrede wees, en die voortbrengsel van die geregtigheid rus en veiligheid tot in ewigheid. "

"Rus, vrede, veiligheid"- alles woorde wat daarop dui dat die glans van die paradys op aarde terugkom! Die mense staan weer oop na God toe. Hulle staan ook weer oop vir mekaar. Hoogmoed, selfgesentreerdheid, afguns, haat en nyd verdwyn en in plaas daarvan word die lewe weer deur die liefde geregeer.

Broeders en susters, so'n opbloei van die lewe het die HERE altyd bly soek. En met dié doel het Hy na Christus se versoenende werk sy Heilige Gees op sy kerk uitgegiet.

En dan mag ons vandag in onsself en by mekaar die gevolge van die stortbui van die Gees opmerk. Allerlei sektes, Pinksterstromings, wil ons wysmaak dat ons die gevolge van die Gees in ons lewe moet soek in uitsonderlike gawes en kragte in die gemeente: die gawe van genesing van allerhande siektes, die gawe om in engeletale te kan praat, wat geen mens kan verstaan nie..... Maar God se Woord leer vir ons dat allereers die herstel van die gewóne lewe die buitengewone geskenk van die Gees van God is. Ons moet die Gees nie soek in uitsonderlike verskynsels nie, maar 'n oog kry vir die wonder van die gewone. Die Gees leer vir ons nie paradystále nie -ons kan tog niks daarmee doen nie- maar Hy herstel vir ons, ja: ín ons, die paradysléwe! Ons omgang met God en met mekaar word weer deur onbaatsugtige liefde beheers. Die vrug van die Gees is: liefde, blydskap, vrede, geduld met mekaar, vriendelikheid, goedheid, trou, sagmoedigheid, selfbeheersing... (Gal. 5: 22). Trou aan mekaar as man en vrou in die huwelik, ook as die karakters partymaal bots; offerbereidheid, ook in die gesinsbeplanning, die ontvang en grootmaak van kinders; geduld met mekaar, vergewingsgesindheid, jouselfs wegsyfer ter wille van die ander as kinders in 'n gesin; sagmoedigheid, selfbeheersing teenoor broeders en susters in die kerk as hulle houding 'n keer nie reg is nie; vriendelikheid, opregtheid, betroubaarheid in die omgang met jou medemense; ywer en nougesetheid in jou daaglikse werk- dit is die resultaat van die werk van Gods Gees. Daarin het God 'n welbehae. En daarin mag ons die begin van die ewige vreugde alreeds ervaar.

2. Maar dié vernuwende werk van die Heilige Gees bly nie net tot die kerk beperk nie. Dit word ook vanuit die kerk in die wêreld ingedra. Die Gees dryf God se volk met hul vernude lewe die wêreld in.

Want nie net 'n klein klompie mense in die kerk nie, maar die hele wêreld moet weer vir God in bloei kom te staan. Die hele aarde moet weer 'n paradys word en daar mag nêrens meer enige sonde oorbly nie. Daarom moet die volk van God met dhul herstelde paradyslewe die wêreld in.

Ook dit het die HERE al voorsê in Jes. 44. Ons lees in vers 5 dat na die uitgieting van die Gees op God se volk "die een sal sê: Ek behoort aan die HERE; en 'n ander sal die naam van Jakob uitroep; nog weer 'n ander sal op sy hand skrywe: Ek behoort aan die HERE, en hom met die erenaam Israel noem".

Die mense raak so vervul met die Heilige Gees dat die mond begin oorloop van dit waar hul hart van vol is. Ons mag die uitdrukkings in ons teks in elk geval tog wel so verstaan dat die mense openlik bely dat hulle die lewe buite hul self by die God van die verbond soek. Hulle praat publiek daarvan. Elkeen mag dit hoor en weet. Hulle roep dit selfs uit sodat almal dit wel moét hoor. Hulle skryf sonder skaamte oor hul God in boeke en blaaie. Hulle is selfs nie bang vir haat, teëstand en vervolging nie.

Dit wys vir ons die uitdrukking dat hulle op hulle hand skrywe: "Ek behoort aan die HERE". In ons vertaling staan dat hulle dié woorde met die hand skrywe, maar dié vertaling is nie so aannemelik nie. Natuurlik skryf jy met jou hand- waarmee moet 'n mens anders skryf? Die bedoeling van hierdie uitdrukking in vs. 5 word eerder duidelik as ons dit vergelyk met wat die Bybel sê in Openbaring 13. Daar kom 'n tyd dat die antichristelike magte so sterk geword het op aarde, dat elkeen, klein en groot, ryk of arm, vrymense en slawe 'n merk op hul hand en op hul voorkop moet dra. (Openb. 13: 16). En dan lees ons in vs. 17 dat niemand meer kan koop of verkoop nie, behalwe die wat die merk of die naam van die antichristelike mag dra. Daar kom dus 'n tyd dat niemand meer neutraal kan bly nie. Elkeen moet publiek kies: vir of teen God, en dié publieke keuse sal vir almal 'n duidelike, sigbare saak wees.

Nou maar goed, die HERE kondig in ons teks reeds aan dat sy kinders, vervul met sy Gees, die geloofsmoed sal hê om publiek daarvoor uit te kom dat hulle aan die HERE behoort. Hulle sal die naam van die antichristelike mag op hul hand weier, maar in plaas daarvan die naam van die HERE op hul hand skrywe.

Dwars teen die meerderheid van die mense in. En hulle sal van die HERE nie swyg nie. Selfs al word hul monde ook met geweld diggeslaan- die krag van die Gees sal dit weer oopbreek. Al kos dit hulle ook hul lewe. Hulle is bereid om trou te wees tot die dood toe. Want hulle het die paradyslewe weergevind en die begin daarvan alreeds ontvang. In die geskenk van die Heilige Gees.

Maar so'n moedige geloofsgetuienis bly nie sonder gevolg nie. So'n lewenshouding is meeslepend. Dit trek al hoe meer mense na die lewe by die HERE terug. Ja, die Heilige Gees dryf die kinders van die HERE met hul vol harte en hul monde wat daarvan oorloop, die wêreld in om al die volke na die HERE terug te roep. Want die belofte wat God alreeds aan Abram gedoen het, dat Hy eendag al die geslagte van die aarde weer sal seën, mag en kan nou tot vervulling kom.

Ook dié voorsegging in ons teks het inmiddels werklikheid geword, gemeente. Vanaf die Pinksterdag hét die Heilige Gees God se kerk vervul en met die publieke belydenis van hul geloof die wêreld in gedrywe. En in weerwil van baie verset, spot, laster, haat en vervolging het mense, vervul met die Heilige Gees, dit vir elkeen wat wou luister, uitgebasuin dat alleen by God die lewe goed is en weer goed kan word. Baie het hul geloofsgetuienis met die dood moet bekoop.

Maar orals waar hulle hul monde oopgemaak en in weerwil van baie lyding oopgehoú het, het hul blye boodskap aansteeklik gewerk. Deur hul openlike en volhardende belydenis het die Heilige Gees nuwe harte oopgebreek en vervul. En op dié wyse weer nuwe monde oopgebreek.... Tot vermeerdering van God se kerk.

Ook in u en my lewe het die Gees van God binnegebreek, broeders en susters. Ook óns lewe het Hy tog oopgebreek? U hart is tog ook dermate vervul met die blydskap van die nuwe verbond, dat u mond daarvan oorloop? U weet nou mos dat daar buiten God geen lewe is nie, maar dat by God die lewe tot ongekende bloei kan kom? U moét tog daarvan praat, dit verdervertel, ander tot dié paradyslewe roep? U is mos bereid om desnoods die lewe hiér te verloor om die egte lewe by God te behou? Sodat niemand u mond kan digmaak nie, maar u voor almal se ore die evangelie bly uitdra?

G'n mens kan dit uit homself nie.

Want in hierdie wêreld het God se naam 'n vloek geword. En sy kerk 'n bespotting. En enige mens is van nature te hoogmoedig om die lewe buite homself, by God en in sy kerk te soek.

Alleen die Heilige Gees kan eiewyse en hoogmoedige mense by God terugbring en in God se Israel inlyf en maak dat die kerknaam, ten spyte van baie veragting in hierdie wêreld, vir hulle 'n erenaam is, soos vs. 5 van ons teks dit sê.

3. Weet u nog wat daardie naam Israel beteken, broeders en susters? Dit is mos die naam wat Jakob na sy worsteling met God by Pniël ontvang het: "Hy worstel met God". Ja, hy worstel sodat God hom genádig sal wees! En sodat God uit genáde die lewe weer sal oopmaak, weer sal seën en weer sal laat opbloei.

Dit is 'n naam wat hoogmoedige mense klein van verwondering moet maak. Omdat dit ons aanhoudend aan ons opstand teen God herinner. En ook daaraan dat ons alleen nog maar van genade kan lewe.

Met dié naam spreek die HERE sy volk aan in die begin van ons teks. Jakob noem die HERE sy volk ook. Jakob- die naam van die bedrieër, wat alle reg op God se seën verspeel het en alleen danksy God se genadige verkiesing, en beslis nie weens sy eie gedrag nie, tog van God se verbondsseën mog lewe.

Ja, die HERE gebruik in die begin van ons teks heelwat woorde om vir sy volk die wónder van die verbond te beklemtoon. Die verbond is 'n wonder van genáde.

In die voorgaande gedeelte, 43: 22 e. v. het God sy volk aan die lange sondegeskiedenis herinner, wat alreeds met ons eerste vader begin het. Ons het God moeg gemaak met ons sondes en ongeregtighede.

Nogtans het ons met al ons sondes en ongeregtighede Hom nie kan ontmoedig nie. God wíl en sál die sonde op aarde vir altyd oorwin. Hy sál -sien 43: 25- die oortredinge van sy volk uitdelg en daar kom 'n dag dat Hy nooit meer daaraan sal dink nie.

Maar dit bly genáde!

Want waarom delg God ons oortredinge uit?

"Om My ontwil", sê die HERE.

Waarom bly die HERE hierdie sondige mense nog altyd as sy volk beskou?

Omdat die HERE hierdie volk nou maar eenmaal verkies het. Let op daardie woord in vs 1 en 2 van Jesaja 44. Hy het hulle geformeer, gemaak van die moederskoot af om sy volk, sy kneg te wees.

Hy het vanaf die begin 'n taak vir hierdie kneg gehad. God het vir Hom 'n volk uitgekies en geformeer wat op aarde weer moet groei en bloei tot sy eer. Die volk wat Ek vir My geformeer het, hulle sal My lof op aarde verkondig, sê Hy Self in vs. 21 van hoofstuk 43.

Alleen daarom kan die HERE terselfdertyd daardie ander naam vir sy volk gebruik: Jesurun, wat presies die teenoorgestelde van Jakob beteken: "Hy wat opreg, betroubaar is". God se volk is dit nie van homself nie. Maar so sal God sy volk máák. Ter wille van Hom self. Omdat die aarde weer in bloei moét staan ter ere van die HERE.

Daarom alleen het God op die ou end sy eie Seun tot 'n volkome versoening van al ons sondes opgeoffer.

Daarom alleen, gemeente, het Hy vervolgens ook sy Gees op ons uitgegiet.

Ons mag die gevolge van die uitstorting van God se Gees in ons eie lewe en orals op aarde opmerk. Die aarde begin weer groei en bloei en vrugte dra tot God se eer. Die kontoere van die nuwe paradys word alreeds sigbaar.

Maar dit is dus een groot wonder. 'n Wonder van God se goedheid.

En dus kan ons alleen maar baie ver-wonderd wees, nou en tot in ewigheid!

AMEN.

(Pretoria 3 Junie 1990)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)