Die Here keer terug na sy volk

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Jesaja 40
Preek Inhoud: 

PREEK OOR JESAJA 40: 1-5

LITURGIE:
Votum en seëngroet
SB. 22: 1-5
Gebed
L. Jesaja 40: 1-11
SB. 22: 6-8
Prediking
Ps. 102: 6, 9
Geloofsbelydenis
Ps. 102: 11
Gebed
Kollekte
Ps. 119: 15
Seën

Broeders en susters,

Ons teksverse eindig met die nugtere konstatering: "..... want die mond van die HERE het dit gespreek. "

Verstaan u wat Jesaja daarmee wil sê? Dit wat in hierdie verse aangekondig word, mag dalk ongelooflik klink, maar dit is nogtans 'n volkome geloofwaardige boodskap. Want die mond van die HERE self het dit gespreek. Wie durf dan nog te twyfel?

Kyk die volgende verse: dis met die Woord van die HERE nie soos met so veel mensewoorde nie. Mense beloof partymaal jou die mooiste goed, en hulle meen dit ook ernstig, maar hulle kan hul woord lank nie altyd nakom nie. Die mens is vlees. En alle vlees is soos gras, soos 'n blom in die veld. Die gras verdor sommer en die blom verwelk sommer. So val ook die mens sommer weg deur die dood. "En op daardie dag is dit met sy planne gedaan... ", soos die digter van Psalm 146 sê.

Maar God is geen mens nie, en sy woorde is geen mensewoorde nie. "Die Woord van onse God hou stand in ewigheid!"

Dus as onse God woorde van troos vir sy volk spreek, is dit geen leë woorde nie. Dan voeg Hy ook die daad by die Woord. Dan kan elkeen maar daarop reken dat Hy sy beloftes sal nakom, wil Jesaja maar sê.

Wie van ons twyfel nooit 'n keer aan die waarheid van God se Woord, broeders en susters? God praat in sy Woord, ook in ons teks, van 'n totale vergewing van alle sondes- maar daardie vreeslike sonde wat ék eendag gedoen het, of daardie bepaalde sonde wat ek steeds bly doen omdat ik daarmee maar nie kan breek nie, kan dáárvoor ook vergewing wees?

God beloof in sy Woord, ook in ons teks, dat Hy eendag die hele ellendige lewe nuut sal maak- maar ons sien mos nog niks daarvan nie? Sal dit regtig gebeur?

Ek mag vanaand vir u aanwys, gemeente, hoedat die Woord van die HERE inderdaad volkome betroubaar is. As ons vanaand net fokus op Jesaja 40, kan ek vir u aantoon dat onse God daar geen woord teveel gesê het nie. Hy hét woord gehou en ons kán mekaar troos met 'n ongelooflike troos wat Hy nie net deur sy kneg Jesaja aangekondig het nie maar ook deur sy eie Seun kom uitvoer het.

Ons hoor in ons teks hierdie troosboodskap:

DIE HERE KEER TERUG NA SY VOLK

  1. DIE SONDES WORD VERSOEN
  2. DIE WEG WORD BEREI
  3. DIE HERE SE HEERLIKHEID WORD GESIEN

1. In hoofstuk 40 begin daar duidelik 'n heeltemal nuwe gedeelte in Jesaja se profesieë.

In die voorgaande hoofstukke moes die profeet aan sy tydgenote in talle variasies die straf van God oor die sonde van sy volk aankondig: die verwoesting van Jerusalem en de verstrooiing in die ballingskap.

Ook toe alreeds het die profeet ook telkens die uitsig mag open op 'n versoening met God en 'n nuwe toekoms vir Jerusalem. Hy het selfs al in duidelike bewoordings die koms van ons Here Jesus Christus, die groot Verlosser vir God se volk aangekondig: die "takkie wat sou uitspruit uit die stomp van Isaï. Want 'n Kind is vir ons gebore, 'n Seun is aan ons gegee, en die heerskappy rus op sy skouer ern Hy word genoem: Wonderbare Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors".

Maar die hooftema van die eerste 39 hoofstukke is tog duidelik die aankondiging van God se oordeel oor die sondes.

Vanaf hoofstuk 40 verander egter die toonhoogte. Nou is die profeet in gedagtes deur die Heilige Gees verplaas na 'n situasie van eeue later. Die verwoesting van Jerusalem is klaar 'n feit en Israel ís verstrooi onder volkere van die magtige Babiloniese Ryk.

Maar nou mag die profeet daardie triestige en troostelose Israeliete as 't ware opsoek en in uitbundige bewoordinge die blye boodskap deurgee dat die straf nie die laaste is nie: die HERE sal Hom weer oor sy verbondsvolk sal ontferm, Hy sal na hulle sal terugkeer en die lewe weer tot 'n fees maak.

Daarom is die tweede gedeelte van Jesaja se profesieë wel "die Troosboek" genoem.

Jesaja val met die deur in huis in vers 1 van hierdie Troosboek: "Troos, troos my volk, sê julle God...... " Nou hoef nou nie langer van oordeel en verdoememis te praat nie. God stuur hom om sy volk te troos.

Hoor, hoedat Jesaja praat van "júlle God", broeders en susters! God draai nie langer sy rug op Israel nie. Hy wil weer hulle God wees en hulle mag weer sy volk wees. Die verbond word herstel. Jesaja, en watter profeet daar verder ook al mag wees (want die opdrag "Troos!" is in meervoud gegee), mag God se volk bemoedig dat die swaarkry einde se kant toe staan.

Maar dan verswyg die HERE nie waarmee alle ellende en swaarkry begín het nie. Kyk maar vs. 1 en 2: daar was skuld, sondes. Die ongehoorsaamheid en ontrou aan die HERE, wat Jesaja in die voorgaande hoofstukke keer op keer moes aanwys- dié het Israel se troostelose toestand veroorsaak.

Alle ellende en swaarkry is nie God se skuld nie. Dus die mens se eie skuld!

God het nie as eerste sy volk verlaat nie. Hulle het Hom verlaat, en toe het Hy hulle vir straf aan hulle eie paaie wat doodloopstrate sou blyk te wees, oorgegee.

God keer egter in genade na sy volk terug. En die profeet mag die harte van sy broeders en susters wat bewe van skaamte en skuldbesef, moed inspreek: "die skuld is betaal, God se volk het uit die hand van die HERE dubbel ontvang vir al sy sondes".

Dié woorde in ons teks maak dadelik duidelik, gemeente, dat Jesaja hier van 'n veel verder geleë toekoms praat as net die terugkeer uit die ballingskap.

Immers: het die Israeliete hul skuld by God vereffen deur die 70 jare ballingskap wat hulle gely het? ! Dit kan nie wees nie. Hulle het selfs daar in Babel en die ander stede van die Babiloniese Ryk hul skuld elke dag meer gemaak.

Die HERE sê in ons teks dat Jerusalem "dubbel ontvang het vir al haar sondes".

Dubbel- so was eendag die straf ook aangekondig deur die profeet Jeremia. Kyk maar Jerem. 16: 18: "Daarom sal Ek eers hulle ongeregtigheid en hul sonde dubbel vergelde omdat hulle my land ontheilig het.... ".

Daar is hele artikels geskrywe oor hierdie woordjie dubbel, broeders en susters. Pas dit wel by God se regverdigheid? Hy straf mos eerlik volgens die maat van die sonde? Hy sal tog nie swaarder straf as wat 'n mens verdien nie? !

Ons moet daardie woordjie egter verstaan teen die agtergrond van God se eie wette aan Israel. Ons lees in Exodus 22 'n hele aantal kere dat iemand wat op diefstal betrap is, dit wat hy gesteel het, dubbel moes vergoed. Die dubbele deel was bedoel as skadeloosstelling vir die tyd dat daardie gesteelde werktuig, of bees of donkie nie gebruik kon word deur sy regmatige eienaar nie.

Nou maar goed, Israel het sy God besteel. Hulle het Hom die liefde onthou waarop Hy reg het. Jare, eeue aanmekaar. As die HERE dan praat van 'n dubbele vergelding, handel Hy regverdig volgens sy wet. Hy eis 'n eerlike vergoeding.

Jesaja mag in ons teks vertel dat daardie dubbele vergoeding nou gegee is.

Maar was Israel se ballingskap voldoende om al die liefde wat hulle aan hul Verbondsgod onthou het, te vergoed? ! Ek sê weereens: dit kan nie wees nie!

Wie kan al die sondes wat die mens in die loop van die eeue opgehoop het, nog ooit versoen? Wie kan die straf daarop dra en klaarkry? !

Daar is maar een Mens wat dit kon regkry. Dis is u en my Heiland, broeders en susters. Die Here Jesus Christus. Hy het volkome vir die skuld van God se hele volk van alle eeue betaal. Hy het uit die hand van die HERE dubbel ontvang vir al ons sondes. Ja, "sy dood is die enigste en volmaakte offer en voldoening vir die sondes. Sy dood is van oneindige krag en waarde, oorvloedig genoeg om die sondes van die hele wêreld te versoen", bely ons in die Dordtse Leerreëls, hoofstuk II, art. 3.

Jesja mog dus in ons tekshoofstuk alreeds die versoeningswerk van God se eie Seun in die vooruitsig stel. In die volgende hoofstukke word dit steeds duideliker. Kyk maar hoofstuk 43: 25: "Ek, Ek is dit wat jou oortredinge uitdelg, om My ontwil, en aan jou sondes nie meer dink nie". En nog duideliker in hoofstuk 53 waar Jesaja vertel van 'n Kneg van God wat in ons plek die sondes by God sal versoen: "Hy is ter wille van óns oortredinge deurboor, ter wille van óns ongeregtighede is Hy verbrysel. Die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom".

Die terugkeer uit die ballingskap het skaars verbetering in die verhouding tussen God en sy volk gebring. Die sondes het al gou weer die oorhand gekry.

Daar was sterker kragte nodig om dit moontlik te maak dat God weer kon woon by sy volk.

Hierdie Kneg vorm die geheim van die nuwe en beter verbond van God met ons. Kon dit nog ooit weer regkom tussen God en ons?

Nee, nie as dit van ons moes afhang nie. Maar daardie Kneg het gewys dat by God geen ding onmoontlik is nie.

So mog Jesaja alreeds God se volk in die ballingskap troos.

Maar so mag ons mekaar vandag dus nog veel meer vertroos. Want die skuld ís inmiddels volkome betaal en die skuld is dubbel vergelde aan die Kind Wie se koms in die wêreld ons hierdie week weer feestelik gedink.

Niemand hoef meer te twyfel dat daar vergewing vir ons sondes is nie.

Ek kan my voorstel dat die ballinge in Babel maar bra onseker gevoel het toe hulle Jesaja se trooswoorde gehoor of gelees het: hulle skuld was so groot; die verwoesting van Jerusalem en hul vertrooiing oor die uitgestrekte Babiloniese Ryk het so definitief gelyk. Dit kon mos nooit meer regkom nie! Toe God se profeet tot hulle hart gespreek het, het daardie hart van onsekerheid gebewe.

Maar wanneer God u vanaand aanspreek met sy trooswoorde, gemeente, hoef daar by u hoegenaamd geen twyfel meer te wees nie. U kan inmiddels weet: God het woord gehou. Ons vier hierdie week Kersfees. Wel, Christus se geboorte was immers die bewys dat God in ontferming na sy volk teruggekeer het om die verbond te herstel deur die sondes te versoen en deur die lewe weer te genees.

Dus mag die grootste sondaar onder ons weet: daar is vergewing vir my skuld. Dubbel en dwars verdien deur God se eie Seun.

2. Maar dan is dit natuurlik wel nodig dat ons ons skuld teenoor die HERE ook rááksien. Dat ons ons daaroor skaam. Dat ons nou heeltemal daarmee wil breek.

Daarom het die profeet Jesaja nie net die stem van die HERE verneem wat hom en ander profete opgedra het om sy volk te troos nie. Hy het vervolgens ook 'n ander stem gehoor en hy vra ons aandag ook daarvoor.

Daar is iemand wat in die woestyn oproep om vir die HERE die weg te berei noudat Hy laat weet het dat hy na sy volk sal terugkeer.

"In die woestyn" klink daardie stem. So het die lewe mos geword deur die straf van God oor die sondes. Doods en onvrugbaar. Die woestyn is die teenoorgestelde van die paradys. Die HERE het sy volk in 'n land laat woon wat oorloop van melk en heuning. Hulle het self 'n woestyn daarvan gemaak.

Maar lees dan mooi ons teks: wanneer die HERE na sy volk terugkeer, roep Hy hulle nie na Hom toe uit die woestyn uit nie. Hy kom juis na hulle toe daar in die woestyn! Dus moet daar, in die woestyn, die weg vir die HERE berei word.

Daar, in die woestyn, soos eendag die eerste verbond ook in 'n woestyn, die Sinaiwoestyn gesluit is, vind 'n nuwe ontmoeting en die sluiting van 'n nuwe en beter verbond plaas.

Eers wanneer die HERE daar in die woestyn sy volk eenmaal weergevind het, sal Hy hulle soos 'n Herder weer bymekaar maak om hulle met Hom saam te neem na die waterfonteine van die lewe toe. Daar in die woestyn sal Hy aan die herstel van die lewe begin werk.

Want die woestyn moet weer 'n paradys word. Dit sál weer 'n paradys word.

Die profeet Jesaja mog ook dit in sy Troosboek op verskeie plekke aankondig. Kyk byvoorbeeld 41: 18, 19: "Ek sal die woestyn 'n waterplas maak, sê die HERE, en die dor land waterbronne. Ek sal in die woestyn gee die seder, die akasia en die mirt en die wilde-olyfboom.... ".

Maar voordat dit so ver is, moet daar eers wel iets gebeur. Daar moet eers heelwat hindernisse opgeruim word. Daar moet heelwat oneffenhede gelykgemaak word. Ja, daar moet eers 'n pad aangelê word waarlangs die HERE tot sy volk kan gaan en hulle vervolgens met Hom kan saamneem.

As ons vandag hierdie gedeelte lees, kom onvermydelik die persoon en die werk van Johannes die Doper voor ons aandag. Hy was, so het hy dit self gesê aan die delegasie van die Fariseërs wat na hom toe gestuur was (kyk maar Joh. 1: 23)- hy was hierdie stem wat roep in die woestyn.

Hy het heel letterlik 'n woestyn as sy werkterrein gekies en die volk van God uit hulle huise en uit hulle stede uit geroep na die wildernis toe. Sodat hulle des te beter sou besef wát die lewe deur hulle skuld geword het. Johannes het God se volk opgeroep tot skuldbesef en konkrete bekering.

Want die HERE sou nou binnekort kan terugwees. Hulle kon Hom nou elke dag verwag, in sy Seun. Hy sou na sy volk toe kom, in die woestyn. Daar, in die woestyn, sou Hy sy verlossingswerk begin. En sy lewe op aarde sou eintlik steeds 'n woestynlewe bly: selfs geen kopkussing om sy kop op te laat rus nie! En hoe langer hoe meer van God en die mense verlate.

Maar so sou Hy die skuld van sy volk betaal en dubbel ontvang vir al hulle sondes. So sou Hy sy volk begin saamneem uit die woestyn uit na die nuwe paradys toe.

Dit was Johannes se taak om daarvoor te sorg dat die volk hulle HERE en Herder kon ontmoet. Dus het hy in die woestyn almal opgeroep om alle belemmeringe vir die komende ontmoeting op te ruim.

Ons weet uit Johannes se prediking, broeders en susters, dat g'n egte paaie deur 'n egte woestyn bedoel is nie. Die so'ndes moet weggedoen moet. Daar moet nou 'n hartlike bekering kom van alle struikelblokke in die omgang met die HERE. Daar moet 'n skuldbesef en skaamte groei en die begeerte om in 'n nuwe lewe met die HERE te mag verkeer.

Johannes het dit onderstreep met 'n onderdompeling van sy hoorders in die Jordaanwater. Daar moet nog baie vuiligheid van die mens afgewas word voordat hy in die Koninkryk van God kan ingaan.

Wie of wat was daardie vuiligheid af? Johannes? Daardie water?

Nee, Johannes het self klaar geweet: ek doop net met water, as 'n simbool. Maar Hy wat na my kom, sal julle met die Heilige Gees doop.

Die Heilige Gees van Christus self kan alleen die obstakels wat daar nog tussen God en ons oorgebly het, opruim. Net Hy kan die pad gelykmaak waarop ons met ons God en Herder kan saamgaan na die nuwe paradys toe. Net Hy kan dit bewerk dat dit weer sal wees: Hy ons God en ons sy volk. Ja, dat God weer by ons kan woon.

Eintlik moet God dus self die weg in die woestyn berei. So lees ons dit verderop in hierdie Troosboek van Jesaja ook telkens. Kyk u weer saam met my? Hoofstuk 43: 19: "Ja, Ek maak 'n pad in die woestyn... ".

En 49: 11: "En Ek sal al my berge tot 'n weg maak, en my grootpaaie sal opgevul wees... ".

Maar daar staan nogtans in ons teks dat Jesaja óók die oproep gehoor het aan die adres van God se volk sélf om vir die HERE die weg te berei. En Johannes die Doper het daardie oproep konkreet ingevul: "Wie twee kledingstukke het, moet meedeel aan hom wat nie het nie". Tollenaars moet nie méér invorder as wat voorgeskrywe is... Soldate moet niemand geweld aandoen of iets afpers nie...

Dis opvallend, gemeente. God self is dit eintlik wat alle hindernisse in die verkeer van Hom met ons opruim. Deur die Heilige Gees van Christus.

Maar tegelyk roep Hy ons en sit Hy ook ons aan die werk. So werk Hy. Deur ons aan die werk te sit. Hy bewerk by ons geen bekering asof ons stokke en blokke is nie, sê die Dordtse Leerreëls. Maar Hy maak ons aktief om self teen die sonde te stry, ons ou natuur dood te maak, met die wêreld te breek....

En nou kan u dus almal maar by u self nagaan, broeders en susters, of die HERE ook u in u sonde kom opsoek het om u saam met Hom na 'n nuwe lewe saam te neem.

Hoe kan u dit nagaan? Wel, as daar ook in u lewe so'n aktiewe stryd gevoer word teen alles wat u omgang met u Verbondsgod kan belemmer.

Daar kan uit u lewe ongetwyfeld nog baie weggedoen word wat die saamgaan met die HERE bemoeilik of selfs onmoontlik maak. Dit mag nie gebeur dat u gewoond raak aan die gebrokenheid van die lewe deur die sonde. Moenie die woestynsituasie aanvaar nie. Moet ook nie van 'n berg 'n molshoop maak nie. Bly die sonde as sónde beskou, as 'n onoorkoomlike hindernis. Bly daarom daarmee besig om u sondige natuur hoe langer hoe meer dood te maak deur die Gees van die gebed en heilige geloofshandelinge. Dit sal 'n goeie ding wees as u juis in hierdie dae, noudat ons Christus se eerste koms in die wêreld gedenk, met die oog op sy wederkoms weereens konkreet daaroor nadink en dalk ook maar opskrywe wat daar alles nog uit u lewe weggedoen moet word; dinge waaroor u sommer kan struikel op die pad met die HERE. U wil mos nie in die woestyn agterbly nie?

3. God is met ons op pad na 'n heerlike toekoms. Daarvan vertel ons teks uit Jes. 40 tenslotte: "En die heerlikheid van die HERE sal geopenbaar word, en alle vlees tesame sal dit sien... ".

U weet wat die Bybel bedoel met die heerlikheid van die HERE, gemeente. Ons het nog onlangs, in 'n serie preke oor God se verskyning aan Moses en Israel in die boek Exodus, daarvan gehoor.

Die heerlikheid van die HERE is die indrukwekkende teken van aanwesigheid, sigbaar in 'n oogverblindende vuurglans. U onthou nog: g'n mens kon hierdie ligglans regstreeks aanskou nie. Daarom het God dit afgeskerm deur 'n wolk. Net Moses het dié glans van meer naby mag sien, al was dit ook net die naglans nadat God aan Hom verbygegaan het. Dié glans was so groot, dat Moses se hele gesig daardeur blink geword het.

Deur hierdie heerlike liggloed het God vanaf die verbondsluiting in die Sinaiwoestyn sy klaarblyklike aanwesigheid by sy volk gewys. Hieraan kon elkeen weet: die HERE woon in ons midde.

Maar in later jare het dit al hoe meer onmoontlik geword vir die HERE om by hierdie sondige volk te bly woon. En die dag het gekom dat die profeet Esegiël die heerlikheid van die HERE uit die tempel en vervolgens ook uit Jerusalem sien verdwyn het. Die tempel het 'n verlate huis geword en Jerusalem 'n waardelose stad. Dit kon toe maar aan die brand gesteek word!

Wanneer egter Jesaja mag aankondig dat die HERE genadig na sy volk sal terugkeer, omdat die sondes versoen is en die struikelblokke opgeruim sal word, mag hy ook laat weet dat die heerlikheid van die HERE weer sigbaar sal word. God kom weer woon by sy volk en die indrukwekkende bewys daarvan sal weer gesien word.

Ook wat dit aanbetref het die HERE woord gehou, broeders en susters. Die Seun van God was skaars as Mens onder die mense gebore of die heerlikheid van die HERE het weer sigbaar geword op aarde: 'n klompie herders naby Betlehem wat deur God uitgekies was om die eerste heraute van Christus se geboorte te mag word, was skielik 'n oomblik omring deur die oogverblindende ligglans van God se aanwesigheid.

Daardie skitterende openbaring van die heerlikheid van die HERE was daar maar net vir 'n oomblik. Toe die engele weer verdwyn het, het die goddelike ligglans ook verdwyn.

Die Seun van God self het op daardie oomblik, as die lydende Kneg van die HERE, geen gestalte of heerlikheid gehad dat 'n mens Hom sou aansien of begeer nie.

Eers toe sy dissipels Hom beter leer ken het, kon hulle sê: "Die Woord van God wat vanaf die begin by God was, wat self God was, het vlees geword en het onder ons gewoon: 'n onaansienlike mens, met 'n huis eers in Nasaret en later in Kapernaüm- maar óns het sy heerlikheid gesien, 'n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom".

Ook ons wat in Hom glo, het sy heerlikheid leer raaksien. Ja, ons word nou net soos die herders by Betlehem, deur die heerlikheid van die HERE omskyn. Nee, daardie lig skyn nie in ons oë nie, dit skyn in ons harte. Dit het die apostel Paulus duidelik gemaak in sy tweede brief aan die Korinthiërs, hoofstuk 3. Want die Heilige Gees, die Gees van die heerlikheid, woon en werk in ons harte.

Maar as die mense mooi kyk, kan hulle dit in ons lewe, ons doen en late, nogtans sién dat God weer by ons woon: omdat ons naamlik, soos Moses eendag, die glans van God se aanwesigheid in ons lewe weerkaats en na alle kante uitstraal.

Maar daarmee is die profesie van ons teks uit Jesaja 40 nog nie geheel en al vervul nie, broeders en susters. "En alle vlees sal dit sien" het Jesaja mos aangekondig. Daar kom 'n dag dat élkeen, vriend en vyand met sy eie oë wel moet sien dat God woon by mense, al is dit ook mense met 'n baie sondige verlede.

Daar kom 'n dag dat alle afstand tussen God en sy volk oorbrug is, dat die kerk die stralende middelpunt van die hele wêreld is en ons hele lewe sal straal van die blinkende aanwesigheid van God self.

Dit sal wees wanneer daar 'n nuwe Jerusalem deur God gebou is, daardie stad waarvan Jesaja vertel in hoofstuk 60 van sy Troosboek en wat later die apostel Johannes in sy visioene op Patmos ook mog aanskou, Openbaring 21: "Daardie stad het selfs die son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die heerlikheid van die HERE verlig hom en die Lam is sy lamp". Dan is daar niemand meer nie, selfs in die hel nie, wat nog aan hierdie skitterende bewys van God se aanwesigheid by sy volk kan verbykyk nie. Dan kan niemand meer daarvoor sy oë sluit nie. Want dan sal al God se kinders self in daardie ligglans straal soos die son.

Na dié stad en na dié dag sien ons uit met 'n sterke verlange.

Juis in hierdie dae waarin ons Christus se eerste koms in die wêreld gedenk.

Dit lyk soms asof dit in hierdie wêreld 'n al hoe groter woestyn word. Die mense maak deur hul goddeloosheid ook al hoe meer 'n woestyn daarvan. Kom dit nog ooit reg op aarde?

Maar ons vier mos hierdie dae dat onse God die fondament vir die nuwe Jerusalem inmiddels klaar gelê het. Ons sien mos in ons eie lewe en orals in hierdie wêreld dat Hy besig is om die burgers van daardie stad uit alle volke en rasse bymekaar te maak.

Wie durf nog te twyfel of die woestyn van vandag wel ooit 'n paradys gaan word?

Maar bowenal: die mond van die HERE het dit mos gespreek.

En wie glo nou nóg nie dat die Woord van onse God in ewigheid standhou nie?

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)